Open-access Stinkhout

RESENSIES / REVIEWS

Stinkhout

Philip Rademeyer.
Pretoria: Protea Boekhuis, 2025. 94 pp.
ISBN 9781485316091.

Stinkhout deur Philip Rademeyer debuteer in 2024 by Momentum Aardklop en het 'n langer speelvak as meeste ander nuutgeskrewe Afrikaanse dramas. Na opvoerings by onder meer die KKNK, die Fairtree Atterbury Teater in Pretoria, die Suidoosterfees in Kaapstad en die Toyota Stellenbosch Woordfees word dit weer by Aardklop opgevoer in 2025. Teaterresensente beskryf die toneelstuk as "meesterlik" (Ohlson), "die grootste triomf in Suid-Afrikaanse teater vir die jaar" (Rademeyer), "an astonishingly beautiful play" (Sassen), en Stinkhout wen die 2025 ATKV-Woordveertjie vir 'n dramateks.

Die toneelstuk begin by die hereniging van Gert met sy oudste seun, Louw. Hulle sien mekaar vir die eerste keer in nege jaar-Louw het teruggekeer uit Londen vir sy jonger broer, Schalkie, se begrafnis. Schalkie is op 32 dood aan komplikasies van verslawing. Die tyd net voor en na die begrafnis word deur drie terugflitse verbreek en so word sekere gebeure uit Louw en Schalkie se kinderdae aan die gehoor gewys. Die gehoor sien dus ook vir Louw en Schalkie as kinders en tieners, Gert as jonger man, en Gert se pa, Oupa. Al hierdie karakters word wel deur slegs twee spelers vertolk. Volgens die karakterbeskrywing is hierdie 'n doelbewuste besluit "om die verbintenisse en ooreenkomste tussen die familielede te wys, asook om oorerflikheid en trauma oor generasies heen te suggereer" (8). Die ander sentrale karakter, Gert se oorlede vrou, verskyn nooit op die verhoog nie. Die gehoor leer haar ken deur die karakters se gesprekke oor haar, en die blywende trauma wat haar selfdood jare gelede veroorsaak het.

Die stuk raak dus die temas van verlies, depressie, selfdood en verslawing deur die lens van 'n pa-en-seun-verhouding aan. Dit sluit aan by ander Afrikaanse dramas, soos "Toutjies en Ferreira" (2018) en Kaburu (2008) in die uitbeelding van die emigrasie van 'n jonger geslag, asook "Saad" (2007) en Melk & Vleis // Bloed & Bodem (2019), in die karakters se verbintenis met grond. Die kombinasie van soveel swaar en gelaaide temas en die uitruil van rolle maak egter van Stinkhout 'n onnodig veeleisende teks.

Volwassenes wat kinders uitbeeld slaag selde. Hoewel Frank Opperman en Wilhelm van der Walt uitstekende vertonings gelewer het, beproef hierdie konvensie die vrywillige opskorting van ongeloof tot die uiterste. In haar resensie van 'n opvoering by die Toyota Stellenbosch Woordfees, skryf Marina Griebenow dat hierdie keuse van Rademeyer nie volgens haar werk nie:

Dit breek die spanningslyn, tot jy as gehoorlid die

keuse maak om dit maar so te aanvaar - by gebrek aan

'n ander opsie. Die skuld kan nie voor die deur van

die akteurs gelê word nie. Dis aan hulle ondervinding

en vaardigheid te danke dat die gehoor uiteindelik

daarby berus en hulle aan die verhaal oorgee. 'n Mens

kan nie anders nie as om te wonder of daar nie 'n beter

oplossing is nie.

Wat die uitbeelding van kinders in hierdie geval nog meer steurend maak, is dat dit baie moeilik is om kinders wat verlies verwerk voor te stel.

Verder is al die karakters en motiewe nie duidelik afgerond nie. Die stuk speel byvoorbeeld af op 'n plot wat beskryf word as "vervalle" (11) en "waarop daar fokol aangaan," volgens Louw (28). Gert word beskryf as "verslons" (11). In 'n toneel uit die verlede tussen hom en sy pa, leer die gehoor dat hy sy "regte job kwyt" is en "as 'n arbeider op 'n plaas" werk (41). Ook in die hede werk Gert as voorman vir sy buurman wat stelselmatig al die omliggende kleinhoewes opkoop. Wanneer Louw na skool universiteit toe gaan, sê Gert verwytend: "Hy's mos te grênd vir dié plek" (40). Die indruk wat hierdeur geskep word, is dat Louw sy armoedige omstandighede ontsnap. Dit word versterk deur Louw se voorstel in die hede dat Gert die waarde van die grond moet verhoog deur gewasse te plant (29). Hierdie indruk strook nie met die idee dat die plot "familiegrond" (29; 30) is wat "al geslagte lank in [hul] familie" (50) is nie. Die drama blyk dus om twee gevestigde motiewe onbedoeld te verwar: die sogenaamde "armblanke"-motief, soos onder meer gesien in Siener in die Suburbs (1971), en die plaasromanmotief, soos byvoorbeeld gesien in Donkerland (1996), "Saad" (2007) en Melk & Vleis // Bloed & Bodem (2019).

Ook toon Louw 'n onrealistiese mate van selfinsig vir iemand wat beskryf word as "[a]fgestomp, met onderdrukte emosies en herinneringe" (8). Hy verduidelik byvoorbeeld aan sy pa waarom dit vir hom vreemd voel om na nege jaar terug te wees op die plot: "As jy lanklaas in 'n plek was, doen jou subconscious allerhande toertjies om sin te maak daarvan" (49). Hy verduidelik ook sy oorweging om terug te keer as volg: " … Ek's middel dertigs, en dele van my lewe is baie solid, maar ander … Hierdie plek is al geslagte lank in ons familie. Daar's 'n verbintenis. Iets verby feite en logika" (50).

Gert se aantyging aan die einde van die drama dat Schalkie se dood aan Louw se afwesigheid te wyte is, behoort 'n klimaks in Louw se karakterontwikkeling te wees. Die verhoogaanwysings stel immers: "Louw het nog altyd skuldig gevoel hieroor. Om dit hardop te hoor, ruk hom" (90). Louw se afwesigheid en die invloed daarvan op Schalkie word egter dwarsdeur die drama opgehaal (23; 27; 49; 50; 53; 56; 83). Louw se karakter kry dus nie kans om deur middel van 'n duidelike opbou en genoeg variasie te ontwikkel nie.

Desnieteenstaande word ongemaklike oomblikke by tye baie goed uitgebeeld. Louw word byvoorbeeld tydens 'n argument met sy pa soos volg beskryf: "Louw weet hy's besig om kinderagtig te wees. Hy wil jammer sê, maar kan nie die woord 'jammer' vir sy pa sê nie" (52). Hierdie verhoogaanwysing gee die akteur vryheid om die nuanses in die karakters se verhouding uit te beeld sonder om dit woordeliks uit te spel en meer sulke oomblikke sou Louw se karakter helderder uitgebeeld het. Die ritme van die dialoog en die manier waarop dit op sleuteloomblikke deur die geblaf van 'n hond onderbreek word, ondersteun effektief die spanningslyn in die drama en dit is jammer dat hierdie spanning belemmer word deur die terugflitstonele.

Stinkhout se sukses as produksie is grotendeels te danke aan die vertolkingsvernuf van die twee oorspronklike spelers. Hoewel die uitruil van rolle nie lastig is tydens die lees van die teks nie, word die leser steeds gelaat met wollerige motiewe en karakters waarvoor daar nie vergoed word deur goeie toneelspel nie.

Geraadpleegde bronne

References

Publication Dates

  • Publication in this collection
    02 Nov 2026
  • Date of issue
location_on
Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Department of Afrikaans, Tydskrif vir Letterkunde Association Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Hatfield, Pretoria, Gauteng, ZA, 0002, Tel: +27 12 420 4075 - E-mail: tvl@postino.up.ac.za
rss_feed Acompanhe os números deste periódico no seu leitor de RSS
Ir para o topo