RESENSIES / REVIEWS
Twyfelbos
François Loots.
Kaapstad: Human & Rousseau, 2025. 271 pp.
ISBN 9780798185202.
'n Paar jaar gelede verskyn Die kapokdokter (2022), François Loots se roman oor die historiese figuur dr. James Barry. Dit was myns insiens een van sy mees geslaagde romans, en dit het gevolg op 'n aantal ander ietwat minder geslaagde romans oor figure uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Loots se nuutste roman, Twyfelbos, speel soos sy voorganger in die Kaapkolonie van die negentiende eeu af, en fokus hierdie keer op die redelik obskure Sophia Truter, eggenote van regter John (Johannes) Truter. Nie veel is eintlik oor eersgenoemde se lewe bekend nie-die bekendheid van haar man ten spyt-en met enkele gegewens wat wel oor haar gewis is, blaas Loots lewe in hierdie figuur as die hoofkarakter van sy roman.
Soos Die kapokdokter verken Twyfelbos die sosiale en ekonomiese verandering aan die Kaap in die dekades ná dié streek deel van die Britse Ryk geword het. En, terwyl die roman 'n interessante blik bied op die Overberg gedurende hierdie tyd, is dit nie die fokus van die verhaal nie. Die ruimte dien meer as die agtergrond vir die verkenning van die karakters se identiteit, en as die toneel van 'n "outydse speurverhaal", soos die agterplat dit stel.
Sophia is 'n eiesinnige vrou wat haar moeilik tuis voel tussen vroue van 'n soortgelyke stand in Kaapstad. Hoewel die karakter aanvanklik nogal dwars aandoen, word sy deur haar isolasie genuanseerd aangebied, vol drif en twyfel, en dit is juis deur haar verhaal waar Loots vrae oor seksuele identiteit verken. In dié opsig bied Twyfelbos nie enige vernuwende perspektief nie, maar die intrige van Sophia se verhaal boei die leser minstens enduit.
Naas Sophia maak ons kennis met Mandel, 'n vryloper wat vir Sophia op haar plaas anderkant die Kleinrivier begin werk. Soos Sophia het Mandel ook iets waarvan hy vlug. Ofskoon die verkenning van Sophia se lewe (wat ook soms as terugflitse aangebied word), die leser redelik boei, was dit vir my met Mandel minder die geval. Terwyl Sophia se karakterontwikkeling en die uiteinde van haar verhaal redelik afgerond voel, was dit nie vir my dieselfde met Mandel nie. Hierbenewens word 'n paar newe-karakters (waarvan baie ook op werklike geskiedkundige figure gebaseer is) heel behendig deur die outeur aangewend om die Overbergse leefwêreld in te kleur.
'n Laaste prominente karakter, wat eintlik bepaald laat in die roman sy verskyning maak, is Jan Tesselaar, veldkornet in die distrik waar Sophia se plaas geleë is. Tesselaar is natuurlik ook 'n historiese figuur, en sy rol in die verhaal is verfrissend en heel anders as die swaarmoedigheid wat dikwels rondom Sophia hang. Op sy beste is die oomblikke met Tesselaar amper soos 'n soort krimi wat in die Kaapkolonie afspeel, en dit was 'n plesier om te lees hoe hy deur sy ondersoek poog om 'n moordsaak op te los. Had meer van die roman maar in hierdie styl ontvou!
Twyfelbos beweeg heen en weer tussen karakters, en met tye beweeg dit ook tussen Kaapstad en die Overberg (insluitend die wêreld van Caledon en Swellendam). Dikwels volg die leser letterlik hierdie bewegings van die karakters tussen die Kaap en die platteland, van een deel van die platteland na 'n ander, en weer van die platteland na die kus, te voet of te perd. In die vertelling word daar oorgegee aan lang beskrywings waar karakters dikwels en herhaaldelik hulle perde "toelaat" om "die krane [oop te draai]" (179). Hierdie uitdrukking sit nie baie gemaklik in die tyd waarin die roman afspeel nie, en dit raak naderhand nogal steurend om keer op keer te lees van nog 'n rit waartydens 'n karakter met hulle gemoed moet wroeg of introspeksie ervaar, of wat dien om die omgewing te beskryf. Hoewel die skrywer hierdeur die Overbergse omgewing mooi skets en sy karakters ontwikkel, rem dit die gebeure en dit is nie altyd duidelik waarom hierdie soort uitstel in die verhaal gebruik word nie. Inteendeel laat dit die roman langer voel as wat nodig is. Gelukkig is die prosa met tye heel mooi, en die herhalende rondgerits tussen verskillende ruimtes word gou weer vergeet, soos wanneer Tesselaar die harde werklikheid van die lewe van daardie tyd opsom: "Die dood trek 'n sluier, maar tot dan pak jy 'n wa, span die osse in en droom" (183). En ook: "Op die kaart van die plaas loop die grenslyn hier iewers, iewers tussen vermoede en moord, tussen skuld wat nie hare is nie en 'n ander se wraak" (226). Hierdie ietwat romantiese styl is kenmerkend van Loots se werk en dit hou waarskynlik vir baie lesers 'n bepaalde bekoring in.
Vir die belangstellende leser is daar voor in die boek 'n kaart, terwyl daar agter in die roman 'n kort historiese kontekstualisering van die karakters gegee word. Deur die klein biografiese opsommings van elk van die belangrikste karakters wys die skrywer waar die geskiedenis eindig en hy deur fiksie die karakters bygewerk het.
Twyfelbos is 'n onderhoudende verhaal en ek het dit geniet, maar dit het ongelukkig nie vir my dieselfde impak as Die kapokdokter nie. Met sy vele karakters word die temas in Twyfelbos dalk te uitgebreid en aspekte van die verhaal te langdradig. Dit is ook jammer dat die speurverhaalelement nie heeltemal so sentraal in die narratief staan soos 'n mens aanvanklik hoop nie. Desnieteenstaande is dit 'n goeie gewilde roman wat waarskynlik deur meeste lesers goed ontvang sal word.
Reinhardt Fourie
Universiteit van Suid-Afrika
Pretoria, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0003-1292-8140
