Open-access vloei/stof

RESENSIES / REVIEWS

vloei/stof

Gilbert Gibson
Pretoria: Protea Boekhuis, 2025. 151 pp.
ISBN 9781485316015.

Die digter Gilbert Gibson se digbundel vloei/stof haal die kortlys vir die Hertzogprys vir Poësie in 2026. Talle van sy vorige bundels is al met literêre pryse bekroon, onder meer die Protea-prys vir beste digbundel vir Boomplaats in 2005, die ATKV-Woordveertjie vir Poësie vir oogensiklopedie in 2010 asook die Elisabeth Eybers-prys vir Poësie en SALA-toekenning vir Poësie in 2016 vir Vry-. Hy is dus 'n gerekende Afrikaanse digter met 'n herkenbare styl. Gibson is veral bekend as 'n digter wat hermetiese verse skryf. Hiermee word verse bedoel wat aspekte soos verdigting, klankstrukturering en taaleksperiment sentraal stel-hermetiese gedigte word voorts dikwels as uitdagend, akademies of ontoeganklik beskryf (sien ook Bonthuys 322-3).

vloei/stof is 'n lywige bundel wat naas 'n programgedig ("sou" 9) uit ses afdelings bestaan. Die motto speel met die titel van die bundel en die verskillende vorme/toestande van materie wat dit suggereer. Die programgedig "sou" dui op die kwessie van lewe, sterwe en nalatenskap. Hier kom die kwessie van die toestande van bestaan ter sprake met die Bybelse interteks wat geaktiveer word: "Stof is jy, en jy sal weer stof word" (Genesis 3: 19) asook God se belofte aan Abram: "Ek sal jou nageslag so baie maak soos die stof van die aarde. As iemand die stof van die aarde kan tel, sal jou nageslag ook getel kan word" (Genesis 13: 16). Hierdie verse skakel met die indrukwekkende voorblad van die bundel wat 'n goudagtige stof teen 'n swart agtergrond voorstel.

Ook die eerste afdelingtitel, "'n alternatiewe teorie oor 'n soutpilaar", hou verband met die genoemde Genesis-intertekste en die tema van verganklikheid, asook die bekende verhaal van Lot se vrou wat ondanks God se opdrag teruggekyk het na die vernietigde Gomorra en gevolglik in 'n soutpilaar verander het (Genesis 19: 26). Hierdie afdeling verken dan ook veral die liefdesverhouding tussen die spreker en sy beminde met talle gedigte wat aan die geliefde "jy" gerig word (sien onder meer "welsyn veg" 14, "op 'n stil" 15). Van die beelde in hierdie afdeling is ontoereikend, vergelyk byvoorbeeld: "Ek maak my mond 'n strandwolf / jou keel kom op soos 'n kadawer" ("vou" 16). Uit die slotreëls blyk dit wel helderder dat die spreker die liefkosing van die beminde gelykstel aan 'n strandwolf wat aan 'n lyk vreet: "konstrueer hoe my tande / oor jou nek se weerloos vou". Dit is 'n liggaamlike, byna anatomiese soort beskrywing wat kenmerkend is van Gibson se styl en dikwels in verband gebring word met sy nering as mediese dokter. Hoe geslaagd dit op 'n visuele vlak is (hoe kom die keel "op soos 'n kadawer"?), is ek onseker. Die verbintenis tussen liefde en vernietiging, soos ook die afdelingtitel suggereer, is egter op intellektuele vlak veel sterker uitgewerk. Die laaste vers in die afdeling, "soutpilaar" (27), vorm byvoorbeeld 'n interessante intertekstuele gesprek met Etienne van Heerden se bekende kortverhaal oor die Grensoorlog, "My kubaan". Die vers begin "ek't 'n kubaan" en eindig "ek't 'n kubaan ek't 'n onbekende gevaar / ek't 'n alternatiewe teorie oor 'n soutpilaar". Soos in Van Heerden se kortverhaal gaan dit in die vers oor die spreker se persepsie van die Ander-hier die geliefde as Ander.

Laasgenoemde vers vorm 'n knap oorgang na die tweede afdeling, "'n skrynwerker in funksie", waar nog verse uit 'n soldaatperspektief voorkom. Dié soldaatperspektief bied 'n blik op die Anglo-Boereoorlog in party verse, sowel as die Grensoorlog in ander. In die motto verwys Gibson na die anafoor en dit is dan ook 'n poëtiese tegniek wat hy veral in die eerste verse van hierdie afdeling, soos in "niks verdwyn" (31), "geskied" (32) en "bittering" (33), gebruik. Ook met ander digvorme word in hierdie afdeling geëksperimenteer- "gewag" (35) lees soos prosa-agtige poësie, in "keer" (39) funksioneer die hele gedig as 'n voetnoot, terwyl "aanpasbaarheid" (40) soos 'n soort genommerde lysie voorkom van wat die soldaatspreker sien. In die gedig "in altyd reeds" (41) vorm die bekende Psalm 121 'n interteks. Die eerste reëls lui:

nie elders na die berge nie

maar hier slaan ek my oë neer

oor die vlakte voor my hierdie keer

waar my hulp versuim

In gesprek met die ontreddering van die soldaatperspektief in die voorafgaande verse werk "in altyd reeds" goed. Ook die res van die verse in die afdeling wat skynbaar jeugherinneringe is, is sterk en wek helder beelde op-sien byvoorbeeld die openingsreëls van "onverwags" (44):

die bure se hek was oop plaaskinders deur

die beeste het tussen die mielies

die veewagter agternasit in arm-

dwaai oor lang treë en ingevoegde skouers

Sowel as die eerste reëls van "voordeel gee" (50):

ons speel rounders voor die meisiekoshuis hoë stemme

en

polgras tot ongelykte soek ons later die bal oorkant die

straat, om presies te wees onder tersia snyman se ma

se kar

tevergeefs.

Die afdeling "'n skielike wind het twee" bevat weer 'n aantal liefdesverse met die voornaamwoorde "ons" sowel as "jy" en "jou" (ook "ek" en "my") wat herhaaldelik voorkom om 'n soort mantra te vorm. Eksperimentering met digvorme (sien byvoorbeeld "doringdraad in vlos" 70 of "twee" 83) en Bybelse intertekste (let onder meer op die verwysing na Hooglied in "wat nog kom" 69) kom weer voor. Weer is daar beelde in sommige gedigte wat nie goed uit die verf kom nie, soos in die gedig "stadig" (66):

vanuit die krake in die muur

wat bloed van jou deurkosyne stroop

het ek die res van jou huis omgekoop

met beurtkrag en belasting

Klank word hier as bindmiddel gebruik (byvoorbeeld via b-alliterasie), maar die beeld raak by tye so vaag en gekompliseerd dat dit byna onvoorstelbaar is.

Nog twee belangrike aspekte wat in die bundel voorkom en vermelding verdien, is die uitbeelding van ruimte asook intertekstuele gesprekke met ander digters.

Daar is al vantevore in analises van Gibson se werk vermeld dat die Vrystaatse ruimte besonder sterk in sy werk figureer. Dit is weer die geval in vloei/stof. Reeds in die afdeling "'n skrynwerker in funksie" word landskappe vanuit die soldaatperspektief en kinderherinneringe treffend belig. Dit is ook die geval in die afdeling "agter my en agter my ooglede". Die afdelingtitel sentreer uiteraard weer die kwessie van kyk en perspektief maar ook herinnering-dit wat selfs met geslote ooglede opgeroep kan word. Die gedigte "daar" (109) en "hoe die gety inkom" (123) verwys spesifiek na die Vrystaatse ruimte. Die twee gedigte se vorm verskil ooglopend-een werk weer met genommerde reëls (soos 'n lysie) en die tweede met koeplette-maar in beide verse word die landskap werklik helder en oortuigend opgeroep. Ek haal aan uit laasgenoemde vers:

uit die bewegende bakkie wys jy waar die ou pastorie

die

winkel was, die poskantoor, die kroeg, die winburg-

klub,

die kerkhorlosie gekoeëlgat in die rebellie. jy vertel

jy het deur die dorp gestap, by die hoeke van

stropstrate

stof geasem, ingeleun teen die wind, op pad na die

munisipale swembad waar een van die bartlemans op

'n

dag met die induik iets op die bodem voel, en

opkomasem

weer af, die keer 'n lewelose kind omarm oor die rand

In hierdie vers is die ruimte onmiddellik visueel voorstelbaar vir enige persoon wat die Suid-Afrikaanse platteland ken. Daar is ook 'n knap suggestie van die versluierde tragedies wat afspeel op dorpies wat op die oog af vredig en veilig is.

Wat intertekstualiteit en die omdigtings van bekende Afrikaanse gedigte betref, is Gibson se gebruik van Bybelse verwysings reeds aangetoon. In die bundel kom ook eksplisiete gesprekke met digters soos Emily Dickinson ("dan terstond" 90; "vel en skaduwee" 91), Ernest Hemingway ("van mense" 89), T. S. Eliot ("voorsien" 92) en Wallace Stevens ("in die net daarna" 114) voor. Sien ook die intertekstuele verwysings na die werk van Breyten Breytenbach en Boerneef in "wuppertal" (148), na Ingrid Jonker in "en caledon" (149) asook na DJ Opperman in "dikker word as bloed" (150).

Laasgenoemde drie gedigte kom in die slotafdeling van die bundel voor, getitel "grafstil waardeur". Hierdie afdeling skakel siklies met die eerste afdeling aangesien die tema van sterflikheid, soos die afdelingtitel suggereer, weer sentraal staan. In hierdie laaste afdeling se verse word sterk liggaamlike beelde weer benut-sien "karamazof" (127), "woning" (128) en "insig te keer" (129). Die digter se loopbaanverwante kennis van die menslike anatomie het tot gevolg dat, soos in sy Vrystaatse landskapverse, die beelde in hierdie verse sinvol uitgewerk is. Dit vorm 'n sterk slotafdeling vir hierdie omvattende, verweefde digbundel.

Digte, hermetiese poësie word dikwels krities ontvang, net soos sogenaamde praatpoësie op die ander kant van die digspektrum. Dit blyk die soort digkuns te wees wat lesers (ironies genoeg net soos in die geval van praatpoësie) óf baie van hou óf met bepaalde voorbehoude lees. vloei/stof is by uitstek hermetiese digkuns wat met groot presisie uitgewerk is en verskeie klank- en betekenisassosiasies aktiveer. As vloei/stof binne die hermetiese raamwerk benader word, is dit oorwegend 'n geslaagde bundel wat diegene wat aanhangers van die hierdie soort verse is, sal boei. Vir die leser wat meer toeganklike poësie verkies, kan hierdie bundel leesuitdagings inhou wat by tye waarskynlik onoorbrugbaar is. Tog sou dit vir alle ernstige lesers van Afrikaanse poësie waarde inhou om van hierdie digbundel kennis te neem. Gilbert Gibson is een van die mees herkenbare stemme wat tans Afrikaanse poësie publiseer.

Marni Bonthuys

Universiteit van Wes-Kaapland
Kaapstad, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0003-1840-3513

Geraadpleegde bron

References

  • Bonthuys, Marni. "'n Vergelykende ondersoek na die toekenning van debuutpryse vir Afrikaanse en Nederlandstalige poësie, 1990-2009." PhD-tesis. U Stellenbosch, 2016. http://hdl.handle.net/10019.1/100342.
    » http://hdl.handle.net/10019.1/100342

Publication Dates

  • Publication in this collection
    02 Nov 2026
  • Date of issue
location_on
Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Department of Afrikaans, Tydskrif vir Letterkunde Association Tydskrif vir Letterkunde Association, Department of Afrikaans, University of Pretoria, Hatfield, Pretoria, Gauteng, ZA, 0002, Tel: +27 12 420 4075 - E-mail: tvl@postino.up.ac.za
rss_feed Acompanhe os números deste periódico no seu leitor de RSS
Ir para o topo