Open-access Pentekostalistiese hermeneutiese modelle en die uitdagings wat teodisee stel

Pentecostal hermeneutical models and the challenges posed by theodicy

Abstract

Teodisee verwys na die uitdaging wat moeilike omstandighede en lyding aan mense stel wat kies om te glo in 'n God wat regverdig, almagtig, liefdevol en goed is. Hoe kan geloof in die bestaan van God, wat by magte is om enigiets te doen en lief is vir mense, versoen word met boosheid wat veroorsaak dat mense ly? Die artikel ondersoek die dilemma wat teodisee spesifiek aan Pentekostaliste stel. Die meeste glo die Bybel leer dat God gelowiges uit lyding red en hulle gesond en voorspoedig maak. Hoe reageer hulle op lyding? Die artikel bied dan 'n alternatief, gebaseer op die ontwerp van 'n hermeneutiek wat aansluit by hoe vroeë Pentekostaliste die Bybel gelees het. Dit beskou die essensie van God as 'n misterie wat buite mense se verwysingsraamwerk val en stel gelowiges in staat om sin te maak van lyding, onder andere deur op ander lydendes te konsentreer eerder as om slegs op hul eie omstandighede te konsentreer. Die artikel benut 'n vergelykende literatuurstudie vir die navorsing.

Teodisee; hermeneutiek; Pentekostalisme; regverdigheid van God; almag van God; God as liefde; lyding van onskuldiges; bose; wortels van boosheid; ervaringsmatig


Abstract

Theodicy refers to the challenge that difficult circumstances and suffering pose to people who believe in a God who is just, almighty, loving and good. How can belief in the existence of God, who can do anything and loves people, be reconciled with evil that causes people to suffer? Reflection on the Bible, determined by a specific hermeneutic angle, is a prologue to reflection on the challenges theodicy poses. This article examines the dilemma that theodicy poses to a Pentecostal hermeneutic, which traditionally subscribed to the teaching that divine healing continues in continuity with Jesus, the apostles, and early church practice. It also subscribed to prosperity theology, which teaches that prosperity is the inheritance of all believers. How do Pentecostals respond when believers are not healed after prayer or remain poor and unsuccessful? How do they tackle the challenges of theodicy questions if God promises that salvation includes deliverance from all struggles and suffering, but it does not materialise? When their theology is not realised in practice, they often attribute such suffering to God's retributive justice in response to human sin, to testing and discipline necessary for forming and developing believers ' character, or the result of a lack of faith, which places the blame on the shoulders of the believer. As a result, many believers struggle with guilt in addition to their suffering. This article offers an alternative based on the design of a hermeneutic that connects to early Pentecostal hermeneutics. The alternative hermeneutic concludes that believers cannot justify or explain what God does because God and the divine ways fall outside their frame of reference and will always remain a mystery as long as they are limited to the earthly dimension. The most that believers can do when they attempt to talk about God is to worship God as Creator and choose to selflessly and sacrificially become involved with the suffering of others. Believers are not called to gather information about God but to meet God through the Spirit, which necessarily leads to worship. The role of Christians is not to satisfactorily answer the challenges that theodicy poses to human logic, but to live out their vocation by reaching the lost world with God's love through tangible acts of love that help alleviate sufferers ' plight. Their primary response to evil, suffering and human sin is not to explain or justify the mysterious divine actions but to help bring about the kingdom through their acts of compassion for the needy and helpless. Instead of theorising about evil, Christians can spend their time wisely and add meaning to their lives by combating the roots of evil as far as they can do so effectively. Pentecostalist hermeneutics also offers the possibility that the Spirit can utilise Scripture to answer why a specific person suffers or bring an insight into the person's mind that comforts and encourages. It may also happen that the Spirit offers no answer. The theodicy remains an open question, and to survive with the open question of the theodicy means that believers are willing to suspend judgments until the dawn of the expected eschatological future. They keep themselves busy with realising the new age (kingdom) in the present reality; while praying for the new world to arrive, they spend all their energy to realise it in their world. Lastly, the puzzle of theodicy remains unsolved until the missing variables are inserted; this will only happen with the completion of the present world and the establishment of the new earth and heaven.

Theodicy; hermeneutics; Pentecostalism; righteousness of God; omnipotence of God; God as love; suffering of innocents; evil; roots of evil; experientially


Inleiding: Uitdagings van teodisee

"Teodisee" kom van twee Griekse woorde: "theos" (God) en "dikë" (reg en geregtigheid). Die Duitse filosoof-wiskundige G.W.F. Leibniz (1646-1716) het die term eerste gebruik om te verwys na die uitdaging waarvoor gelowiges te staan kom: om hulle moeilike omstandighede en lyding te regverdig, en terselfdertyd hul geloof dat God almagtig, liefdevol en goed is. Hy wou dit in die eerste plek vir lede van die huishouding van God verduidelik en formuleer die beslissende vraag aan die hand van Romeine 3:4 en Psalm 51:6: Hoe kan 'n God wat tegelyk almagtig, regverdig en welwillend is soveel lyding in die wêreld toelaat? (Welker 2019:280). Met ander woorde, hoe regverdig 'n mens God se regverdigheid en geregtigheid in die lig van die bestaan en invloed van die bose (Hick 1968:60)? Baie onskuldige mense, insluitend gelowiges, ly as gevolg van die verwoesting van natuurkragte, ernstige siekte, gestremdheid, die gevolge van konflik tussen state en individue, en so meer. Dit daag die geloof in 'n goeie God uit wat in staat is om reg te laat geskied en enigiets te doen wat Hy wil (Crenshaw 1983:1-16 brei verder hierop uit). Om 'n antwoord op die teodisee-vraagstuk te vind, moet teorieë ontwerp word wat poog om te verklaar waarom lyding en boosheid bestaan in 'n wêreld wat geskep is en regeer word deur 'n goeie en almagtige God.

Die vierde-eeuse VGE Griekse filosoof Epikurus was die eerste wat na ons wete die vraagstuk waarmee die teodisee worstel, geformuleer het:

• Is God (of die gode) gewillig om die bose te verhoed maar kan nie? Dan is God nie by magte om dit te doen nie.

• Is God in staat om die bose te verhoed maar nie gewillig nie? Dan is God kwaadwillig.

• Is God beide in staat en gewillig om die bose te verhoed maar doen dit nie? Dan weet ons nie waar boosheid vandaan kom nie (Castelo 2012:8).

Die vroeë Christelike apologeet Lactantius (250-325 GE) gebruik dieselfde argument:

• God wil boosheid afweer en wegneem, maar is nie by magte om dit te doen nie. Dit impliseer dat God swak is en dit bots met die Bybelse beeld van God se almag.

• Óf: God is inderdaad in staat om boosheid weg te neem, maar wil nie. Dit impliseer dat God kwaadwillig teenoor mense optree en dit stem nie ooreenkom met die Bybelse beeld van God as welwillend en liefdevol nie.

• Óf: God is nie gewillig of in staat om met boosheid weg te doen nie. Maar dan kan gelowiges God nie as hul God erken nie.

• Óf: God is beide gewillig en in staat om boosheid te vernietig. Dit is eie aan die aard van God, maar vanwaar kom al die boosheid dan?

Die dwingende vraag bly: Hoekom verwyder God nie boosheid wat lyding veroorsaak nie? (aangehaal in Welker 2019:280-281; kyk ook die bespreking van die trilemma deur Hume [1779]1990:108-9).

Die vraagstuk is dalk in ons tyd meer relevant met sosiale media en televisie wat daagliks video's en foto's van erge lyding oor die wêreld in mense se lewens indra, insluitend natuur-rampe, terroristeaanvalle, etniese en internasionale konflik, kanker by bekende sportsterre en filmpersoonlikhede, volksmoorde, en die voortdurende herinnering aan die gruwels van die twee wêreldoorloë en die Shoah. As gevolg van soveel lyding is daar 'n algemene skeptisisme onder mense oor God se bestaan. Dit word geverbaliseer deur die Nuwe Ateïsme wat die onmeetlikheid van onskuldige mense se lyding nie met die bestaan van God kan versoen nie (Hahn & Wiker 2008:9). Hierteenoor poog die teodisee om God, wat reg en goed optree, se bestaan met die effekte van boosheid in die wêreld te versoen (Nel 2022:21). "The task of theodicy is to interpret the reality of evil: to situate it within a meaningful theological matrix. Theodicy simply tries to explain evil." (Scott 2015:54)

Job se argumente oor sy lyding as gelowige wat God skynbaar gelate toelaat, is 'n goeie voorbeeld van die teodisee-uitdaging. In Job 21:7-16 vra hy hoekom die goddelose in vrede en voorspoed oud, ryk en vernaam word en vrolik feesvier sonder om hulle aan God en die Goddelike wil te steur terwyl hy as toegewyde gelowige sy eiendom en kinders op een dag en daarna boonop sy gesondheid verloor. Dit noop hom om te vra: "Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? Watter nut het dit om Hom te aanbid?" (v. 15).

'n Soortgelyke argument kom in 'n elfde- tot sestiende-eeuse VGE Babiloniese boek voor. Die gesprek tussen twee mans handel oor Goddelike geregtigheid. Die een man - geleerdes noem hom die "lydende party" - meen sy vroomheid en toewyding aan die gode baat hom niks omdat hy onophoudelik ly. Sy gevolgtrekking is:

... the plan of the gods is remote .. .The mind of the god, like the center of the heavens, is remote. Knowledge of it is very difficult; people cannot know it .. .Though it is possible to find out what the will of the god is, people do not know how to do it. (Lambert 1960:63-91)

Die Sumero-Babiloniese wereldbeeld verduidelik dat die mens wat piëteit deur gebede, gawes, offerandes en drankoffers aan die gode beoefen met goeie gesondheid en welvaart beloon word. Die lydende party verskil hiervan. Die "vriend" voer egter aan dat 'n mens deur jou piëteit insig in Goddelike wysheid bekom ten spyte van die onverstaanbaarheid van sommige Godsbesluite. Hy meen 'n mens word nie vir jou geregtigheid met rykdom en gesondheid beloon nie maar met Goddelike genade. Hy oortuig uiteindelik die lydende party, alhoewel albei saamstem dat dit moeilik is om die gode se welwillendheid teenoor mense te versoen met hul onskuldige lyding.

Anicius Manlius Severinus Boethius (477-524 GE), Romeinse senator-filosoof en konsul wat homself tot koning van Italië uitgeroep het, vra: Hoekom bestaan boosheid as die almagtige God regverdig is? Sy vraag weerklink veel later weer wanneer 'n aardbewing Portugal op 1 November 1755 skud en 'n beraamde 60 000 inwoners van Lissabon saam met talle geboue en huise wegvee. Die skudding gebeur tydens die erediens en die vermenging van godsdiensbeoefening en katastrofe gryp die kollektiewe verbeelding van Europeërs aan. Was die skudding 'n teken van God se wraak op die kerk? Indien nie, waar was God dan terwyl duisende Christene besig was met Godsverering toe die skudding hul lewe beëindig het? In Leibniz se woorde: Is ons wêreld die beste van alle moontlike wêrelde? Hieruit groei wydverspreide skeptiese realisme wat Voltaire (1756; 1977) in sy "Poem upon the Lisbon Disaster" verwoord het. Hy stoei veral met die kerk se "maklike" antwoorde, soos "Wat ook al gebeur, is reg omdat God dit wil." of "Moenie vrae vra nie; glo maar net!" Voltaire beweer dit is onmoontlik om die aard van fisiese boosheid te verduidelik en hy weier om die optimistiese fatalisme van die kerk wat alles aan Goddelike voorsienigheid toeskryf, te aanvaar. Dan betwyfel hy eerder die bestaan van God of dat God beide goed en almagtig is.

Die twintigste-eeuse Shoah en ander volksmoorde beklemtoon die dringendheid van die teodisee. Niemand betwyfel die bestaan van grootskaalse euwels nie, maar waar pas God in? Die teodisee daag geloof in God en tradisionele teïstiese begrippe uit.

'n Logiese analise van die teodisee lei tot die volgende proposisies:

Proposisie1: God bestaan.

Proposisie 2: God is goed.

Proposisie 3: God is almagtig.

Proposisie 4: Wydverspreide boosheid kom voor.

Hoe kan proposisies 2 en 3 met proposisie 1 versoen word as proposisie 4 proposisie 1 kwalifiseer? Of lê die probleem by proposisie 1? 'n Goeie God sal immers nie boosheid toelaat nie en 'n almagtige God sal dit verhoed. Of verskil menslike definisies van die eienskappe goed, boos en almagtig van Bybelse definisies daarvan?

Gottfried Leibniz (1646-1716) redeneer byvoorbeeld dat 'n goeie, almagtige God bestaan, maar dat goedheid in die breë gesien meer prominent as boosheid is omdat 'n oneindig goeie God die beste of mees optimale wêreld geskep het. Dit beteken die bestaande wêreld is die bes moontlike. Hy voeg by:

Thus, if the smallest evil that comes to pass in the world were missing in it, it would no longer be this world, which, with nothing omitted and all allowance made, was found the best by the Creator who chose it. (Leibniz 1990:128-9)

Dit impliseer dat boosheid noodsaaklik is in die geskape orde, daarom het God dit toegelaat. Boosheid bevorder goedheid op een of ander manier en dien Goddelike doelwitte, anders sou God dit nie toegelaat het nie (Castelo 2012:10). Dit laat Sharp (2014:874) opmerk dat gelowiges soms teodisee verklaar deur wat hy noem "imaginary face" - kognitiewe woordspel om 'n ander se reputasie te probeer red, verskonings wat uitgedink word om God te regverdig in die lig van die onregverdige lyding van onskuldige mense.

Sharp se empiriese navorsing toon dat sy respondente glo in 'n God wat almagtig en moreel volmaak is. Al sy respondente was slagoffers van fisiese en emosionele gendergeba-seerde geweld. Hulle het erken dat dit moeilik is om hul lyding met geloof in God te versoen en dat hulle God soms daarmee konfronteer of in God se bestaan twyfel. Tog behou hulle hul geloof ten spyte van akute lyding en ontwerp hulle intuïtief 'n teodisee wat die volgende drie soorte verduidelikings vir Goddelike betrokkenheid in hul lyding bied:

• Getrouheid aan die beginsel dat God aan die mens die vermoë skenk om vrye keuses te maak. Dit spreek God vry van menslike optrede wat deur ander veroorsaak is.

• God laat toe dat mense vir 'n groter goed ly, vir hul uiteindelike voordeel, al is dit op die oomblik onduidelik wat dit is.

• Iemand anders is te blameer vir onskuldiges se lyding, dikwels Satan of hulleself, sodat hulle God kan vryspreek (Sharp 2014:873-6).

Op dié wyse kan hulle steeds aanvaar dat God almagtig en moreel volmaak is (Sharp 2014:878). Respondente kry dit met ander woorde reg om verskonings te soek wat "personally resonant" is en "... thus more cognitively satisfying than abstract theodicean explanations for the existence of suffering." (Sharp 2014:879) Opsommend beteken dit dat God nie direk betrokke is by voorvalle van boosheid nie, daarom kan geloof in God se goedheid en almag gehandhaaf word. Maar dit beantwoord steeds nie die krities belangrike vraag waar boosheid vandaan kom nie (Castelo 2012:10).

In die teodisee-diskoers is dit uiteraard noodsaaklik om "God" te definieer. Is dit die deïstiese of teïstiese God wat verskillend deur Bybelse outeurs en filosowe geskets word? Macintyre en Ricoeur (1969:14) redeneer dat die God in wie talle hedendaagse mense hul geloof verloor het nie die Christelike God is nie maar 'n filosofiese godsbegrip uit die sewentiende eeu.

Ook "boosheid" as sentrale teodisee-element moet sorgvuldig gedefinieer word. Teoloë onderskei soms tussen metafisiese boosheid wat verwys na mense se belewenisse van lyding wat buite hul invloedsfeer val, fisiese boosheid wat verwys na alle vorme van liggaamlike en emosionele lyding en wat deels deur mediese ingryping en 'n gesonde lewenstyl hanteer kan word, en morele boosheid wat verwys na alle vorme van onreg waarvoor mense verantwoordelik is (Welker 2019:281).

In die geval van morele boosheid beweeg teodisee na antropodisee wat vra hoekom mense hul vryheid misbruik om moreel laakbaar en destruktief op te tree, soms ook teen hulself. Dit sluit egter nie die vraag uit hoekom 'n goeie God enigsins mense geskep het wat konsekwent kies om kwaad eerder as goed te doen nie.

Die volgende vraag is hoe Pentekostaliste die teodiseevrae beantwoord. In gevalle waar hulle voorspoedteologie aanhang, is hulle veronderstelling dat gelowiges van lyding gevrywaar is, alhoewel dit dikwels hul ervaring weerspreek. In ander gevalle veroorsaak hul unieke hermeneutiek dat hulle hul charismatiese ervarings Bybels verduidelik met verwysing na die Geestesdoop. Hoe reageer hulle dan op die uitdagings wat persoonlike lyding van onskuldige mense aan hul geloof in 'n goeie, almagtige God stel?

Ontwikkeling van pentekostalistiese hermeneutiek

Pentekostaliste aanvaar soos die meeste konserwatiewe Protestante dat die Bybel God se gesaghebbende, betroubare, foutlose woord is. Dit is deur God geïnspireer (geasem; 2 Tim 3:16) en is God se openbaring aan die mens. Op grond van die Goddelike oorsprong dien dit as die teken en instrument van God se gesprek met intelligente mense (Webster 2003:42). As woord van God is dit God se selfopenbaring en liefdevolle woord aan mense ("sacra scriptura est verbum Dei").

Pentekostaliste gebruik ook soos die Protestante eksegetiese beginsels om die Bybel te interpreteer. Dit sluit in dat elke teks se onmiddellike konteks in ag geneem moet word by die interpretasie daarvan, dat dit teen die agtergrond van die res van die teks en die Bybel gelees moet word, en dat dit in die lig van die historiese en sosiale konteks van die teks se taal, vooronderstellings en toespelings verstaan moet word vir sover dit moontlik is om dit vas te stel. Wat saak maak, is om in die teks sover moontlik te verstaan soos wat die oorspronklike ontvangers en luisteraars dit binne hul sosiale konteks verstaan het (Keener 2016:117). Die teks se spesifieke genre of literatuursoort en die onderskeie teologiese tradisies en ideologiese elemente moet ook in ag geneem word. Laastens moet die teks teen die agtergrond van die breë Bybelse narratief en skopus geïnterpreteer word.

Hoe Pentekostaliste die Bybel lees en verklaar, het in die loop van die eeu van hul bestaan verander. Vroeë Pentekostaliste het hul ervarings van die Geestesdoop en ander charismatiese ontmoetings as invalshoek gebruik om die Bybel te verklaar. Hul belewenisse ná die Geestesdoop het hul voorbegrip ("Vorverständnis") gevorm. Hulle het die teks benader as Geesvervulde mense wie se lewens indringend deur hul ervaring van die Geestesdoop verander is, en hul charismatiese ervarings beskou as herhalings van Bybelse presedente in Handelinge 2 en die vroeë kerk se geskiedenis. Die gevolg was dat hulle ander beklemtonings en betekenisskakerings daarin gevind het as Protestante en Rooms-Katolieke. Hulle het die teks so letterlik as moontlik gelees met die verwagting dat die Gees deur die teks aan die woord sou kom en dan het hulle die betekenis van die teks op hulle lewe en situasie toegepas. Dié beskouing verteenwoordig 'n eerste model wat Pentekostalistiese teoloë teen die einde van die eeu weer verder ontwikkel het.

'n Tweede model het sedert die veertigerjare van die vorige eeu ontwikkel, omdat die nuwe geslag Pentekostaliste alliansies met die "Evangelicals" gesluit het om van hul sektestatus te ontsnap. Hulle het verskeie van hul praktyke asook hul hermeneutiek dienooreenkomstig daarby begin aanpas. Hul eredienste het onder andere meer ordelik geword en hulle het die Bybel biblisisties-literalisties begin lees in aansluiting by hul vennote se kwasifundamentalis-tiese hermeneutiek. Hulle het egter steeds ruimte gelaat het vir buite-Bybelse openbarings wat meestal deur die "Evangelicals" verwerp is. Hul hermeneutiek ignoreer nou tot 'n mate die teks se sosiale en historíese konteks en hulle vind daarin 'n tydlose beskrywing wat hulle net so op hul eie situasie toepas. Elke woord het dieselfde gesag as 'n Goddelike waarheid, 'n direkte en volkome openbaring wat hulle los van die kulturele gebruike lees wat tydens die ontstaan van die teks die inhoud help bepaal het (Thiselton 2009:101). Dit pas die letter van die woord toe op alle mense en situasies sonder om individuele omstandighede in ag te neem (Kalu 2008:250, 253). In die proses stort die afstand tussen die oorspronklike Skrifkonteks en die leser se konteks ineen (Cartledge 2010:72). Opsommend verduidelik Evans (2012) biblisisme as 'n teorie waar die Bybel gelees word in die lig van sy "exclusive authority, infallibility, perspicuity, self-sufficiency, internal consistency, self-evident meaning, and universal applicability." Op grond van hul hermeneutiek verwerp baie Pentekostaliste derhalwe onder andere verassings, alle gebruik van alkohol en tabak, wetenskaplike teorieë oor die ontstaan van die heelal en ewolusie asook alle vorme van feministiese denke. Hul aarde is sesduisend jaar oud en het in ses dae ontstaan, en getroude vroue moet hul mans gehoorsaam (Cox 1995:76).

'n Verdere ontwikkeling sedert die tagtigerjare van die vorige eeu is Pentekostalistiese akademici se ontwerp van 'n nuwe hermeneutiek wat deels geskoei is op die beginsels van die vroeë Pentekostaliste. Hulle verwerp die literalistiese hermeneutiek van die meeste van hul tydgenote en poog om hul hermeneutiek te baseer op wat hulle meen die essensie van die beweging se etos en waardes is (McKinley 2001:159-71). Hulle definieer Pentekostalisme in lyn met Handelinge 2 en die vroeë kerk se belewenisse in terme van die persoonlike ervaring van die Geestesdoop en die gepaardgaande Geesvervulde lewe (Keener 2016:4). 'n Belangrike waarde is dat die Bybelse teks in gebed oordink word met die verwagting dat die Gees wat die teks oorspronklik geïnspireer het die betekenis daarvan sal verlig en die leser help met die toepassing daarvan soos die gebruik ook onder vroeë Pentekostaliste was (Nel 2019:74).

Pentekostaliste gebruik dus hul charismatiese ondervindings as konteks waarbinne die Bybel funksioneer om die teks te interpreteer. Die rigting waarin hulle die Bybel lees, is vanuit hul ervarings na die Bybel en terug na die praktyk van hul lewe (Lewis 2000:113-4). Die gevolg is dat hulle nie die Bybel vanuit die perspektiewe van vooraf gedefinieerde dogmatiese waarhede lees nie maar vanuit die siening en perspektief dat die Gees hulle lei en die Bybel benut om hul lewens in ooreenstemming met God se wil te transformeer (Cox 1995:304). Hulle is oop om die "stem van die Gees" te hoor terwyl hulle die teks lees, met die verwagting dat die Gees hulle insig sal gee in wat God in die huidige situasie vir hulle wil sê. As die teks nie verduidelik hoe dit in 'n ander situasie toegepas moet word nie, verwag hulle dat die Gees dit vir hulle sal doen deur insig in hul gedagtes te laat opspring.

The Spirit is active in the life of the whole church to interpret the biblical message in the languages of today. He actualizes the word of God by helping us to restate the message in contemporary terminology and apply it to new situations. The result is that salvation history continues to take effect in us. (Pinnock 1993:4)

Die Goddelike openbaring word dus in die lewe en ervaring van die kerk voortgesit.

Dit kan selfs gebeur dat sommige insigte nie direk aan die Bybelse teks ontleen word nie, maar aan insigte wat gelowiges aanvaar as God se wil. Hulle gehoorsaam die opdragte omdat hulle uit hul charismatiese ervarings geleer het dat dit God se stem is en dat hul gehoorsaamheid hul lewe verander. Om God in die Bybel te ontmoet, verander derhalwe hul denk- en gedragspatrone, reguleer hul besluite en stel parameters vir hul daaglikse lewe (Lewis 2000:116).

Vir Pentekostaliste is dit essensieel om "God se hart te hoor klop" eerder as om slegs by die letterlike betekenis van 'n teks vas te steek. Hulle beskou God nie as 'n gevangene van die Bybel nie en aanbid nie die Bybel nie. Hulle verwag wel om God te ontmoet terwyl hulle die teks bedink. Hulle beskou die Bybel as mensewerk wat die tekortkominge en swakhede illustreer wat alle menslike handelinge kenmerk, maar glo dat dit steeds deur die Gees as instrument van openbaring gebruik word. Daarom steek die Bybel ook nie mense se swakhede weg nie. Die Goddelike openbaring is ook nie beperk tot die Bybel nie, maar spreek steeds deur die natuur, gebeure, ander mense en direk deur insigte as die vrug van die werk van die Gees, alhoewel die Gees primêr die Bybel gebruik. Sommige lees die Bybel as 'n kognitiewe oefening. Pentekostaliste se Bybelleespraktyke is egter baie meer op emosie gebaseer, omdat dit op charismatiese ervarings met en deur die teks konsentreer.

Nog 'n implikasie is dat Pentekostalistiese hermeneutiek die interpretasie van die teks koppel aan die Gees wat die toepaslike waarhede daarin vir die leser oopbreek (Keener 2016:8). Die veronderstelling is dat enigeen die teks kan lees, maar slegs Geesvervuldes kan die woord van God daarin hoor, omdat dit noodsaaklik is dat 'n mens die salwing van die Gees moet ontvang om die verligting van die teks deur die Gees te kan ontvang. 'n Mens kan slegs van God hoor as die Gees God openbaar. God ontmoet mense in hulle "gees"; dit verwys na die Godgegewe vermoë om met God te kommunikeer, deur en bo die rasionele en wilsintuie verby. Die voorwaarde vir 'n Bybels-Goddelike openbaring in die lewe van die leser is dat die Gees aan die woord moet kom (Kalu 2008:250).

Wat beteken dit in die praktyk dat Pentekostaliste daarop aandring dat die leser op die Heilige Gees moet staatmaak om die teks te interpreteer? Dit beteken primêr dat die leser bewus is daarvan dat menslik-ontwerpte interpretatiewe metodes sekere beperkings het; om te verstaan wat God in en deur die teks vir die huidige leser wil sê, vereis immers Goddelike leiding en openbaring.

Arrington (1994:105) stel praktiese maniere wat by heersende Pentekostalistiese praktyke aansluit voor waarmee lesers hul afhanklikheid van die Gees vir teksinterpretasie kan beoefen. Heel eerste moet lesers hul eie denkvermoëns doelbewus aan die Gees se leiding onderwerp; dit impliseer dat die leesproses deel van die leser se gebed word. Dit is 'n voorwaarde dat die leser 'n openheid vir die Gees se getuienis moet ontwikkel om die Gees in staat te stel om menslike rede te gebruik en te transendeer om insig in die woord te ontwikkel. Die Bybel is nie 'n objek wat om interpretasie vra nie, maar 'n lewende woord wat hul lewe interpreteer. Interpretasie van die Bybel is dus slegs moontlik binne die konteks van gebed en aanbidding. Dit is omdat Pentekostaliste kennis van God nie as die produk van die bestudering van die Bybel beskou nie, maar van persoonlike ontmoetings met God. Die Hebreeuse woord "yāda" (om te ken) bevestig hul idee dat kennis van 'n ander persoon slegs kan ontwikkel deur ervarings in 'n verhouding met daardie persoon. Dit is nie bloot teoretiese kennis oor feite nie, maar bestaan uit die aktualisering van 'n persoonlike verhouding (Jones & Jones, 1993:112).

Pentekostaliste is nie primer geïnteresseerd in kennis wat in die Bybel voorkom nie; hulle lees die Bybel vanuit die begeerte om God te leer "ken" (Grey 2011:159). Dit hou ook implikasies in vir hoe hulle na die beoefening van teologie kyk; dit gaan nie bloot om die formulering van leerstellings nie, maar om die bestudering van die Bybel vanuit hul eie hoek. Hulle bely, soos Protestante, dat die Bybel die standaard vir lewe en praktyk is (Nel 2017b:2), maar druk hul leerstellings in terme van hul charismatiese belewenisse uit (Ellington 1996:34). Daarom is die vereistes vir doeltreffende teologisering 'n Geesvervulde lewe, aanbidding en luisterende gebed. Geloofsbelydenisse funksioneer nie by hulle nie, want die klem is op voortgaande, eerstehandse persoonlike en kommunale Godsopenbarings.

Ongelukkig lei dit noodwendig daartoe dat Pentekostaliste soms by 'n subjektivistiese interpretasie van tekste uitkom wat selfs tot dwaallering kan lei. Daarom is dit van kritieke belang dat hulle die twee dimensies - die ervarings-pneumatiese (of geestelik-charismatiese) en gesonde eksegetiese insigte - in balans hou. 'n Suiwer objektivistiese interpretasie van die Bybelse teks wat gebaseer is op kennis van die oorspronklike outeur se bedoeling is nie noodsaaklik nie; wat nodig is, is 'n interpretasie wat staatmaak op konsensus onder gelowiges binne dieselfde tradisie van antieke tot kontemporêre tye. Die ervaringsmatig-pneumatiese (wat altyd subjektief is) mag nie ten koste van die kognitiewe bydrae in die interpretasieproses oorspeel word nie. En verder moet die Bybel as objektiewe standaard bly geld; alle interpretasies moet steeds daaraan onderwerp word. Dit mag wel waar wees dat God steeds spreek en dat die Goddelike openbaring meer mag behels as wat in die Bybel staan, maar dit kan nooit weerspreek wat in die Bybel geopenbaar is nie. Dit is na alles dieselfde Gees wat die Bybelse outeurs geïnspireer het wat God ook nou openbaar (Archer 2012:148). Opsommend kan gesê word dit is noodsaaklik dat gelowiges hul interpretasie van die Skrif aan hul eie en die breë geloofsgemeenskap se interpretasie onderwerp.

Pentekostaliste poog om die wyse waarop die Nuwe-Testamentiese kerk gefunksioneer het, te herstel vir sover dit moontlik is. Hulle koppel die uitstorting van die Gees aan die voortgaande openbaring van Jesus aan sy vroegste dissipels. Daarom interpreteer hulle hul wêreld in terme van die Bybelse wêreld en deel hulle Jesus en die dissipels se wereldbeeld sover moontlik, gegewe die verskil in tyd en situasie. Hulle verbind en assosieer hul identiteit doelbewus met Bybelse karakters en dié se historíese ontmoetings met God. Omdat hulle aanvaar dat hulle in kontinuïteit met Bybelse tye leef, glo hulle dat dieselfde Gees hulle ook lei en God aan hulle openbaar soos in Bybelse tye. Hul charismatiese ervarings vorm steeds dikwels 'n essensiële element van hul byeenkomste. Wanneer hulle daaroor getuig, gebruik hulle ook Bybelse taal. Hulle smelt antieke en kontemporêre begripshorisonne saam sodat hul wêreld met dié van Bybelse karakters saamval, want hulle regverdig hul bestaan as die herstel van die vroeë kerk in moderne tye. Om Pentekostalisties te wees, is vir hulle immers om Gees-georiënteer en -gefokus te wees. In hulle taal impliseer dit voortdurende openbaring, teenoor die cessasionistiese tradisie wat by sommige Protestante voorkom (Jacobsen 2003:12). Hulle verwag om dieselfde charismatiese belewenisse te hê as Bybelse figure en span hul Bybelinterpretasie in om antwoorde op hul belangrike uitdagings te vind (Bultmann 1984:79). Dit impliseer dat die betekenis van die Bybelse teks verby die omvang van die outeur se bedoeling kan val of dat dit iets insluit wat die outeur nie ten volle gesnap het nie, byna op die wyse waarop Nuwe-Testamentiese outeurs soms tekste uit die Ou Testament aangehaal en toegepas het. Die Gees verduidelik dan 'n teks vir hedendaagse lesers op 'n nuwe en verfrissende manier wat 'n nuwe betekenis vir 'n nuwe konteks genereer. Dit bly egter belangrik om te onthou dat dit altyd in lyn met die Bybelse metanarratief moet wees (Lewis 2000:113).

Pentekostalistiese hermeneutiek beskou die Bybel as 'n getuienis van Godsopenbaring en nie die openbaring self nie. Dit veronderstel die beweging van die Gees en lei tot 'n woord wat hulle meen direk uit die hart van God kom. Wanneer die Gees aan die woord kom, word die Bybel die woord van God.

Hul siening van die Bybel en inspirasie verskil op verskeie maniere van Karl Barth s'n; tog deel hulle sommige elemente. Barth beklemtoon die menslike karakter van die Bybel; die skrywer se ervarings, styl en eiesoortige taalgebruik behels 'n menslike beperking wat nie oorkom kan word nie (Runia 1962:67). Barth (1957:508) haal Augustinus aan dat slegs menslike konsepte beskikbaar is om onuitspreeklike en onbeskryflike charismatiese geheimenisse te beskryf. Inspirasie het Bybelse outeurs wel in staat gestel om verstaanbaar van God te praat, maar hulle kon nie oor die essensie van God praat nie. Ridderbos (1955:126) verduidelik Bybelse getuies bied die "fruit of an apperception" aan wat beperk is omdat dit reproduksie verteenwoordig. God se woorde transformeer mense, maar wanneer dit deur mense uitgespreek word, bly dit beperk tot die potensiaal van menslike taal. Die gesag van die woorde berus by die Gees wat dit gebruik en spesifieke Bybelse woorde gesaghebbend maak (Land 1993:100, 106). Daarom is God se stem nie tot die Bybel beperk nie, maar kom dit ook voor in gesalfde prediking en lering asook charismatiese woorde en getuienisse (Albrecht 1999:229).

Die kort skets van ontwikkelinge in Pentekostalistiese hermeneutiek demonstreer dat dit noodsaaklik is om tussen twee modelle te onderskei wanneer besin word oor die konfrontasie daarvan met teodisee.

Pentekostalistiese hermeneutiek gekonfronteer deur teodisee

Laastens is dit nodig om die kwasifundamentalistiese hermeneutiek van Pentekostaliste te konfronteer deur 'n alternatiewe standpunt te formuleer. Hulle onderskryf tradisioneel die leer dat Goddelike genesing steeds plaasvind in kontinuïteit met Jesus, die apostels en vroeë kerk. 'n Groot aantal hedendaagse Pentekostaliste onderskryf ook voorspoedteologie wat leer dat voorspoed en welvaart gelowiges se erfenis is. Hoe reageer Pentekostaliste dan wanneer gelowiges nie na gebed gesond word nie of arm en onsuksesvol bly? Hoe pak hulle die uitdagings van teodiseevrae aan as God se belofte dat heil redding uit alle stryd en lyding insluit nie realiseer nie? Wanneer hul teologie nie in die praktyk realiseer nie, is die verduideliking dikwels dat dit die gevolg van 'n gebrek aan geloof is. Dit laai die blaam op die gelowige se skouers en talle gelowiges worstel as gevolg daarvan met skuldgevoelens naas hul eie lyding.

Soos reeds genoem, berus teodisee op die begrip van "God" (Surin 1986:4) terwyl die betekenis van "theos" mettertyd verander het. Die "god" in moderne teodisee is dikwels 'n deïstiese god. Wat is die verskil tussen die deïstiese en teïstiese god/God?

Deïsme is gebaseer op verligtingsidees wat vereis dat geloof redelik begrond moet wees. Die god van natuurlike godsdiens het nie 'n geskiedenis nie en kommunikeer nie met mense nie, maar was slegs vir die skeppende daad verantwoordelik en vereis nou dat mense eties geregverdig optree. Hierdie god het geen kenmerke soos liefde of goedheid nie, maar bestaan in menslike rede as lewensbeginsel.

Die Bybelse weergawe van die skepping, wonderwerke, profesieë, inkarnasie, uitstorting van die Gees en ander leerstukke pas nie by deïsme se respektabele, eerbare en lewensvatbare god nie (Castelo 2012:30). Die vereiste dat wat gelowiges glo (en wat die Bybel sê) rasioneel begrond moet wees, kan nie bloot met geloof in die Bybelse God versoen word nie. Die bestaan van die Bybelse God vloei uit 'n intuïtiewe sin van transendensie wat sommige/baie mense deel. Gelowiges aanvaar ook dat God in mense se lewens en omstandighede ingryp en dat Christus die Goddelike openbaring is.

Deïsme glo wel in die bestaan van boosheid, maar aanvaar nie dat dit 'n opponerende, gelyke mag teenoor goedheid is nie. Die meeste Pentekostaliste handhaaf ook nie 'n streng dualisme tussen boosheid en goedheid nie maar beskou God as die bron van alles, insluitend boosheid en bose magte. Verskeie Pentekostalistiese denkers oor teodisee stem nie hiermee saam nie. Hulle aanvaar dat boosheid apart van God bestaan, maar in God sy oorsprong het en dat dit finaal deur God oorwin en vernietig sal word. Dit sluit alle moontlikhede uit dat die bose ooit oor God sou kon triomfeer.

Hulle aanvaar ook God as Skepper se bestaan deur die keuse van geloof sonder om dit te probeer verduidelik of regverdig. God as bron van alles kan onderskei word van die skepping en leef buite die verwysingsraamwerk daarvan. God se geskiedenis met mense vloei uit die skepping van die mens as genoot vir God, terwyl die bestaan van God in die Vader, Seun en Gees relasionaliteit as 'n essensiële aspek van die bestaan van God beskryf. God se aard en essensie is liefde (1 Joh. 4:8); dit sluit vriendskap, lojaliteit en andergerigte diensbaarheid in en staan in teenstelling met die menslike aard wat spontaneïteit, tydelikheid, wispelturigheid en inkonsekwentheid insluit.

Die skepping, veral van die mens, dui aan dat God die Goddelike self wou uitbrei (Castelo 2012:35). Dat God mense na die Goddelike beeld skep, veronderstel onder andere dat mense 'n vrye wil het om God se toenadering te aanvaar of te verwerp; dit word weerspieël in Genesis 1:26 se mededeling dat die mens oor alles in die skepping heers. Uiteindelik moet God ook die Goddelike self tot 'n mate ledig om in 'n verhouding met mense te staan.

Pentekostaliste se Godsbegrip beskou die Heilige (wat totaal anders is en bestaan) as die Ewige. Beide terme benodig 'n teologiese definisie omdat dit na idees of eienskappe verwys wat buite die menslike verwysingsraamwerk val en derhalwe tegnies ondefinieerbaar is. Die beste woord om die Goddelike essensie te omskryf (teenoor die Goddelike ekonomie, wat in terme van Bybelse beskrywings en menslike ervaring beskryf kan word), is "misterie", die troefkaart as dit onmoontlik is om uitdagende vrae sinvol te beantwoord (Castelo 2012:19). Om van God buite ons verwysingsveld te praat, is om eie onkunde te bely.

Westerse besprekings se inleiding tot sistematiese teologie skop af met die algemene en spesifieke openbaring van God en skep die indruk dat dit moontlik is om God met menslike begrippe te omvat. Daarteenoor begin die Oosters-Ortodokse tradisie met 'n bespreking van "God as misterie", die onkenbare en onverstaanbare Bron van lewe. Pentekostalistiese teologiese pogings sluit dus nouer by Ortodokse as Protestantse spiritualiteit en teologie aan, veral vir sover dit die (on)kenbaarheid van God behels (kyk bespreking in Nel 2018:10-21).

"God" verwys na die entiteit wat radikaal transendent is, die "ganz Andere" wat in 'n dimensie en staat bestaan wat geen mens kan begryp nie en wie se essensie verby menslike begrippe of woorde gaan. Die enigste wat die mens kan doen, is om stotterend na te sê wat God sê. Die mens kan met vrymoedigheid oor die openbaring van God in die geskiedenis (energie) praat, maar 'n bespreking van God se essensie as bron van liefde, goedheid, skoonheid en waarheid gebruik noodsaaklikerwys menslike begrippe wat nie reg aan die Goddelike inkleding daarvan kan laat geskied nie.

As die Een wat teenoor die mens staan, is God egter nie vir die mens ontoeganklik nie, omdat engele, profete en Jesus die Goddelike openbaring deur die werking van die Gees vir die mens ontsluit. Daarom is Runia (1962:209) korrek in sy waardering van die eensydigheid in Karl Barth se vroeë, eksklusiewe klem op God as die volledig andere in kontras met mense. Barth het gepoog om 'n selfbewuste kontras met Schleiermacher en sy volgelinge se voorstelling van God as die god van filosowe te skep. Hy gebruik "diastasis" om goddellike (on)kenbaarheid te beskryf in teenstelling met die komplementêre konsep van analogie. Met sy klem op God se transendensie beklemtoon hy ook dat God na mense uitreik in die vorm van 'n mens en dat dit God se nabyheid/immanensie illustreer. Barth (1957:37) bevestig later dat "God shows and reveals who He is and what He is in His Godness not in the vacuum of a divine self-sufficiency, but genuinely just in this fact, that He exists, speaks and acts as partner." Mense vind God in Christus wat die mens se genoot en vriend word en in Christus vind mense ook wie hulleself is, die een vir wie Christus gely, gesterf en opgestaan het. Die verskil tussen Barth se vroeëre en latere sienswyses bestaan in 'n toenemende konsentrasie op Christologie (Runia 1962:209). Barth gaan so ver as om te beweer die hele skepping staan van begin tot ewigheid in die lig van God se genade in Christus, dat die doel en betekenis van die skepping "is to make possible the history of God's covenant with man, which has its beginning, its centre and its culmination in Jesus Christ." (Barth 2010:42)

Wanneer Pentekostaliste derhalwe oor God praat, behoort hulle versigtig te wees om hulle van selfbedrog en selfprojeksie te bewaar deur slegs te sê wat God oor die Goddelike self gesê het (Castelo 2012:19). Die beste wyse om oor God te praat, is eerder in aanbidding en stilte, gebore uit die besef van eie onvermoë om God in woorde te vervat. In elk geval is teologisering vir Pentekostaliste minder belangrik as die noodsaak om God te ontmoet en oor die geskiedenis van die Goddelike openbaring te besin. Die misterie wat God is, bewaar hulle van "easy talk" oor God wat maklik kan lei tot arrogansie en selfbedrog (verdere argumente in Nel 2017a).

Pentekostaliste besef ook dat hulle slegs met verwysing na God se goedheid oor boosheid kan praat, want boosheid is die afwesigheid van goedheid, die korrupsie daarvan in kontras met en in opposisie teenoor God. Dit is nie slegs 'n probleem wat aangespreek moet word nie, maar 'n tasbare entiteit wat teenoor die misterie van God se liefde en genade funksioneer. Boosheid is nie ewig of op enige manier noodsaaklik nie; dit is eerder 'n siekte, 'n korrupsie wat saamval met die toestand van anti-God wees. Dit is teenstand teen God se doel met die skepping en God se karakter en bestaan nie oor die lang termyn as lewensvatbaar nie (Castelo 2012:20).

God is ewig, noodsaaklik, ontologies onafhanklik van die skepping, transendent en alomteenwoordig. Daar word voorgestel dat Pentekostaliste aanvaar dat hul gebrek aan kennis oor God hulle noodsaak om dialekties oor Hom te praat. Hulle aanvaar ook dat God buigsaam en oop is vir nuwe ervarings. Dit beteken dat God nie die toekoms vooraf bepaal het nie en dat dit verrassings kan inhou, ook vir God. Dit is iets wat die meeste gelowiges nie sal aanvaar nie. Pentekostalistiese hermeneutiek bevestig dat kennis van God se essensie vanuit charismatiese belewenisse met die Gees kan kom, maar ontken dat dit tot vaste teologiese proposisies of dogmatiese stellings oor God kan lei, omdat God buite die menslike verwysingsraamwerk val en nie beskryf kan word nie. Die mens kan hoogstens iets van God se hart verstaan, maar mag God nie probeer vervat met woorde wat noodwendig essensieel antropomorfies is nie. In nadenke oor die teodisee lei dit, in Moltmann (1993:49) se terminologie, noodwendig tot voorlopigheid. Dit impliseer dat daar nie definitiewe, finale antwoorde kan bestaan in die poging om Goddelike geregtigheid en menslike lyding te versoen nie. Moltmann beklemtoon dan ook dat niemand die teodiseevraag kan beantwoord nie; lyding bly die oop wond van die lewe in ons wêreld.

Pentekostalistiese hermeneutiek bied verder die moontlikheid dat die Skrif 'n antwoord op 'n spesifieke persoon se teodisee kan bied, wat aansluit by hoe vroeë Pentekostaliste oor Geestesopenbarings gedink het. Of die Gees kan 'n insig(te) in die persoon se gedagte bring wat vertroostend en bemoedigend is. Dit mag ook gebeur dat die Gees geen antwoord bied nie; dan bly die teodisee 'n ope vraag en om met die ope vraag van die teodisee te oorleef, beteken dat 'n mens gewillig is om oordele op te hef tot die aanbreek van die verwagte eskatologiese toekoms terwyl ons ons besig hou met die realisering van daardie nuwe era (koninkryk) in die huidige werklikheid. Terwyl Pentekostaliste bid dat die nuwe wêreld sal aanbreek, spandeer hulle al hul energie om dit in hul eie wêreld te realiseer ("alreeds/nog nie" wat die koninkryk kenmerk; Ladd 1974:39-40; bespreking ook in Scholtz 2022).

Om tot die verlossing en genesing van die wêreld by te dra, vereis ook van gelowiges om sover moontlik die onderliggende oorsaak van die boosheid wat mense onderdruk, aan te pak. In Suid-Afrika dra armoede as gevolg van historiese apartheid, grootskaalse werkloosheid en ekonomiese ongelykheid tussen inwoners van die land by tot die lyding van miljoene mense.1 Ongeveer 49,2% van die land se mense lewe onder die boonste armoedegrens (https://www.statssa.gov.za/?p=12075 [11 April 2024]). Gelowiges hoef net verby bevoorregte woonbuurte na die plakkerskampe en krotdorpe te kyk wat die buitewyke van Suid-Afrikaanse stede en dorpe ontsier. Om die historiese, politieke en ekonomiese oorsake van ongelykheid aan te pak, vra van gelowiges dat hulle evangeliese standaarde in die politiek, ekonomie, gesondheidsorg en onderwys indra. Hauerwas (1990:51) verduidelik dat lyding nie 'n metafisiese probleem is wat filosofiese debatte vereis om 'n oplossing te vind nie, maar 'n praktiese en eksistensiële uitdaging wat dringend 'n reaksie vereis omdat mense besig is om te sterf.

Daar word voorgestel dat Pentekostaliste 'n filosofiese teodisee verruil vir 'n pastorale teodisee wat die priester- en profeetskap van gelowiges beklemtoon. Dit behels dat gelowiges onselfsugtig en empaties op konstruktiewe en liefdevolle wyse betrokke sal raak by die lewens en lyding van ander mense. Gelowiges gee soos hul Meester om vir mense in nood en dra onbaatsugtig by om hulle by te staan. Hulle konsentreer nie net op hul eie pyn en lyding nie, maar vind dat hul vrae daaroor God se aandeel daarin vervaag wanneer hulle mense met veel groter nood as hul eie bystaan en ondersteun. Deur 'n verskil in ander se lewens te maak, verhoog die sinvolheid van die gelowige se lewe wat nie deur lyding of boosheid ontwortel kan word nie. Hulle vind hul middelpunt buite hulself in gedeelde verbintenisse tot die koms van die koninkryk van God deur arm en lydende mense te ondersteun met die boodskap van God se genade en krag. Hul aandag is veral op die gemarginaliseerdes in die samelewing gerig; soos vroeë Pentekostaliste (en die vroegste kerk) kyk hulle met Christus se oë na alkoholiste wat hul gesinne misbruik, ontwortelde migrante wat nie in die gasheersamelewing verwelkom word nie, diegene wat verwerp word weens hul alternatiewe seksuele oriëntasie, werkloses, ens. Hulle help om die geloofsgemeenskap te verskuif na 'n omgee-gemeenskap deur die versoeking te weerstaan om namens ander te praat en die pyn van diegene wat met verlies sukkel weg te verduidelik. En hulle vermy maklike oplossings en antwoorde, soos: "God is in beheer, en dit sal uitwerk." of "Ek weet wat jy ervaar." Hulle waak daarteen om behoeftiges en lydendes te verontmenslik deur teenwoordig te wees en geduldig te luister terwyl hulle terselfdertyd die voorkombare oorsake van lyding as gevolg van menslike wreedheid of gevoelloosheid aanpak. Dit impliseer dat hulle hulself soms in ongemaklike en moeilike situasies kan bevind, maar as verteenwoordigers van die Gekruisigde wag hulle hoopvol op die finale herstel van die skepping.

Daar bestaan verskeie ander modelle wat nuttig kan wees vir Pentekostalistiese teoloë om hul insigte te toets. So byvoorbeeld bespreek Gregersen (2016a:1-12) die verhouding tussen God in die konteks van teodisee. Hy beklemtoon dat God se inkarnasie in Christus die beste model is om God se verhouding tot lyding en boosheid te verstaan (Gregerson 2013:251). Die inkarnasie betrek God direk by die pyn van 'n bestaan in die skepping waarvan lyding 'n integrale deel is (Gregerson 2016b:251). Dit is nie bloot 'n probleem wat opgelos moet word nie, maar 'n manier om die mens se verhouding met God te verdiep. Die solidariteit aan die kruis is die basis vir hoop te midde van lyding, omdat dit aantoon dat God by menslike lyding betrokke is. Soos prosesteoloë beklemtoon hy dat God deur die wêreld geraak word en by boosheid betrokke is, omdat God se krag relasioneel daarop reageer. Menslike en wêreldse lyding is met mekaar verbind binne 'n dinamiese heelal (lees ook kommentaar op Gregerson in Lenow, 2018).

Nog 'n bydrae wat vir Pentekostaliste nuttig kan wees, is dié van Peter Oord (2015). Hy beklemtoon dat God nie alwetend en onveranderlik is nie (Oord 2023:31). Alle dinge is nie vooraf bepaal nie. Volgens hom kan God nie lyding verwyder nie (Oord 2019). Inteendeel, God staan in 'n dinamiese verhouding met die wêreld en word ook deur die gebeure van die geskiedenis en die keuses van mense geraak. Menslike vryheid speel vir Oord die sleutelrol in die teenwoordigheid van kwaad en lyding, omdat die mens die vrye wil het om goeie of slegte keuses te maak. Soms lei die keuses tot lyding (Antombikums 2024:34). Alhoewel God nie die oorsaak van lyding is nie, is Hy direk daarby betrokke deur diegene wat ly te ondersteun. Kwaad is nie 'n direkte gevolg van God se wil nie; dit is eerder 'n uitkoms van die kompleksiteit van 'n vry skepping (Oord 2015:21). Dit kan die vraag oor die oorsprong van kwaad en lyding meer verstaanbaar maak. Hoop spruit uit die geloof dat God saam met die mensdom werk om die geskiedenis te vorm en lyding deels op te los. Die toekoms is nie vooraf bepaal nie en gelowiges leef met 'n hoopvolle visie op die uiteindelike verlossing (kyk Orr 2022 se kritiek op hierdie standpunt).

Ten slotte oortref die hermeneutiek wat teoloë ontwikkel het die kwasifundamentalistiese, literalistiese hermeneutiek wat die meeste Pentekostaliste benut om die uitdagings van teodisee te verklaar. Die nuwe hermeneutiek bied verrassende interpretasies, omdat dit na die hartklop van God in die teks luister eerder as om tekste wat in 'n ander wêreld, kultuur en taal ontstaan het rigied in die hedendaagse situasie toe te pas (of in te dwing).

Ongelukkig het teoloë se insigte baie min invloed op Pentekostaliste uitgeoefen en benut hulle steeds die kwasifundamentalistiese hermeneutiese model om die Bybel te benader, soos geïllustreer deur die wydverspreide gebruik van die 1933/1953-Afrikaanse vertaling en King James Bible (1611).

Sintese

Samevattend is die gevolgtrekking dat gelowiges nie in staat is om wat God doen te regverdig of te verklaar nie, omdat God en Goddelike weë buite hul verwysingsraamwerk val en altyd 'n misterie en raaisel sal bly - ten minste solank hulle tot die aardse dimensie beperk is. Die raaisel van teodisee bly onopgelos totdat die ontbrekende veranderlikes ingevoeg word, maar dit sal eers met die voleinding van die huidige wêreld en die vestiging van die nuwe aarde en hemel gebeur.

Nadenke oor die Bybel, bepaal deur 'n spesifieke hermeneutiese invalshoek, is 'n proloog tot besinning oor die uitdagings wat teodisee stel. Die meeste Pentekostaliste ondersteun waarskynlik Bybelse standpunte wat lyding wyt aan God se vergeldende geregtigheid in reaksie op menslike sonde of sien dit as toetsing en dissipline wat 'n voorwaarde is vir die vorming en ontwikkeling van gelowiges se karakter.

Die voorgestelde alternatiewe hermeneutiek gaan egter verder deur ook op God se karakter (essensie) en die openbaring van verlossing (energie) te fokus. Dit bestudeer die Bybel in terme van belewenisse van God se teenwoordigheid. Om dié rede kan teodisee-nadenke fassinerende nuwe maniere aanbied om oor God se rol in menslike en ander lyding te dink wat selfs verder as Bybelse voorbeelde strek.

Die meeste wat gelowiges kan doen wanneer hulle poog om oor God te praat, is om die Skeppergod te aanbid vir sy keuse om mense onselfsugtig en opofferend lief te hê. Gelowiges is nie geroep om inligting oor God te versamel nie, maar om God deur die Gees te ontmoet. Dit sal noodwendig tot aanbidding lei.

Die rol van Pentekostaliste is nie om die uitdagings wat teodisee aan menslike logika stel bevredigend te probeer beantwoord nie. Hulle moet eerder hul roeping om die "missio Dei" te dien, uitleef deur die verlore wêreld met God se liefde te bereik deur hulle tasbare dade van liefde wat lydendes se lot help verlig. Hul primêre reaksie op boosheid, lyding en menslike sonde moenie wees om die misterieuse, Goddelike handelinge te verduidelik of te regverdig nie, maar om die koninkryk te help verwesenlik deur hulle dade van medelye met behoeftiges en hulpeloses. In plaas daarvan om oor boosheid te teoretiseer, kan gelowiges hul tyd oordeelkundig spandeer deur die wortels van boosheid te bestry sover dit in hul vermoë is om dit effektief te doen.

References

  • Albrecht, DE. 1999. Rites in the Spirit: A ritual approach to Pentecostal/charismatic spirituality. JPTS 17. Sheffield, UK: Sheffield Academic.
  • Antombikums, AS. 2024. "The problem of evil: Does Open Theism have a better response?" Acta theologica 44(1):32-50.
  • Archer, KJ. 2012. Theological theodicy. Eugene, OR: Cascade.
  • Arlington, F.L. 1994. "The use of the Bible by Pentecostals." Pneuma, 16(10):101-07.
  • Barth, K. 1957. Church dogmatics I.2: The doctrine of the word of God. Translated by THL Parker. London: T. & T. Clark.
  • Barth, K. 2010. Church dogmatics The doctrine of creation. Translated by T.H.L. Parker. London: T. & T. Clark.
  • Bultmann, R. 1984. "The problem of hermeneutics." In S.M. Ogden (red.), New Testament mythology and other basic writings, 69-93. Philadelphia: Fortress.
  • Cartledge, M. 2010. Testimony in the Spirit: Rescripting ordinary Pentecostal theology: Explorations in practical, pastoral, and empirical theology. Farnham, UK: Ashgate.
  • Castelo, D. 2012. Theological theodicy. Eugene, OR: Cascade.
  • Cox, H. 1995. Fire from heaven: The rise of Pentecostal spirituality and the reshaping of religion in the twenty-first century. Cambridge, MA: Da Capo.
  • Crenshaw, JL. 1983. "Shift from theodicy to anthropodicy." In J. Crenshaw (red.), Theodicy in the Old Testament, 1-16. Philadelphia, PA: Fortress.
  • Ellington, SA. 1996. "Pentecostals and the authority of Scriptures." Journal of Pentecostal Theology 4(9):16-38.
  • Evans, RH. 2012. "The problem of biblicism." January 16. https://rachelheldev,ans.com/blog/biblicism-christian-smith-bible-impossible [11 April 2024].
    » https://rachelheldev,ans.com/blog/biblicism-christian-smith-bible-impossible
  • Gregersen, NH. 2013. "Deep incarnation and kenosis: In, with, under, and as: A response to Ted Peters". Dialog 52(3):251-262.
  • Gregersen, NH. 2016a. "Deep incarnation: From deep history to post-axial religion". HTS Theological Studies 72(4):1-12.
  • Gregersen, NH. 2016b. "The emotional Christ: Bonaventure and deep incarnation. Dialog 55(3):247-261.
  • Grey, J. 2011. Three's a crowd: Pentecostalism, hermeneutics, and the Old Testament. Eugene, OR: Pickwick.
  • Hahn, S & Wiker, B. 2008. Answering the New Atheism: Dismantling Dawkins ' Case against God. Emmaus Road.
  • Hauerwas, S. 1990. God, medicine, and suffering. Grand Rapids, MI: Eerdmans.
  • Hick, J. 1968. Evil and the God of love. London: Fontana.
  • Hume, D. [1779]1990. Dialogue concerning natural religion. New York: Penguin.
  • Jacobsen, D. 2003. Thinking in the Spirit: Theologies of the early Pentecostal movement. Bloomington, IN: Indiana University Press.
  • Jones, CB & Jones, JJ. 1993. "Yielding to the Spirit: A Pentecostal approach to group Bible study." Journal of Pentecostal Theology, 1:109-34.
  • Kalu, O. 2008. African Pentecostalism: An introduction. Oxford: Oxford University Press.
  • Keener, CS. 2016. Spirit hermeneutics: Reading Scripture in light of Pentecost. Grand Rapids, MI: Eerdmans.
  • Ladd, GE. 1974. The presence of the future: The eschatology of biblical realism. London: SPCK.
  • Lambert, WG. (red). 1960. "The Babylonian theodicy." In W.G. Lambert (red.), Babylonian wisdom literature, 63-91. Oxford: Clarendon.
  • Land, SJ. 1993. Pentecostal spirituality: A passion for the kingdom. Cleveland, OH: CPT.
  • Leibniz, G.W. 1990. Theodicy. Chicago, IL: Open Court.
  • Lenow, J. 2018. "Christ, the praying animal: A critical engagement with Niels Henrik Gregersen and the Christology of Deep Incarnation". International Journal of Systematic Theology 20(4):554-578.
  • Lewis, PW. 2000. "Towards a Pentecostal epistemology: The role of experience in Pentecostal hermeneutics." The Spirit and Church, 2(1):95-125.
  • MacIntyre, AC & P. Ricoeur, P. 1969. Religious significance of atheism. New York: Columbia University Press.
  • McKinley, J E. 2001. "What do I do with contexts? A brief reflection on reading biblical texts with Israel and Aotearoa New Zealand in mind." Pacifica, 14:159-71.
  • Moltmann, J. 1993. The Trinity and the kingdom: The doctrine of God. Translated by M. Kohl. Minneapolis: Fortress.
  • Nel, M. 2017a. "Pentecostal talk about God: Attempting to speak from experience." HTS Teologiese Studies/Theological Studies, 73(3):1-8.
  • Nel, M. 2017b. "The Pentecostal movement's view of the continuity of tongues in Acts and 1 Corinthians." Luce Verbi, 51(1) a2198. https://doi.org/10.4102/ids.v51i1.2198
    » https://doi.org/10.4102/ids.v51i1.2198
  • Nel, M. 2018. "Pentecostal spirituality in dialogue with early fathers of the Eastern Orthodox tradition: A question of continuity." Journal of Early Christian History, 8(2):1-26.
  • Nel, M. 2019. An African Pentecostal hermeneutic: A distinctive contribution to hermeneutics. Eugene, OR: Wipf & Stock.
  • Nel, M. 2022. God, suffering and Pentecostals. Eugene, OR: Wipf and Stock.
  • Oord, TJ. 2015. The uncontrolling love of God: An open and relational account of providence. Lisle, Ill: InterVarsity Press.
  • Oord, TJ. 2019. God can't: How to believe in God and love after tragedy, abuse, and other evils. Grasmere, ID: SacraSage Press.
  • Oord, TJ. 2023. The death of omnipotence and birth of amipotence. Grasmere, ID: SacraSage Press.
  • Orr, BJ. 2022. A classical response to relational theism: A Reformed Evangelical critique of Thomas Jay Oord 's Evangelical Process Theology. Eugene, OR: Wipf and Stock Publishers.
  • Pinnock, C.H. 1993. "The work of the Holy Spirit in hermeneutics." Journal of Pentecostal Theology, 1(2):3-23.
  • Ridderbos, H. 1955. Heilsgeschiedenis en heilige Schrift. Kampen, Netherlands: J.H. Kok.
  • Runia, K. 1962. Karl Barth 's doctrine of holy Scripture. Eugene, OR: Wipf and Stock.
  • Scholtz, JJ. 2022. "A critique of Ladd's 'already but not yet' view of the kingdom." KOERS - Bulletin for Christian Scholarship, 87(1). https://doi.org/10.19108/KOERS.87.1.2531
    » https://doi.org/10.19108/KOERS.87.1.2531
  • Scott, MS. 2015. Pathways in theodicy: An introduction to the problem of evil. Philadelphia: Fortress.
  • Sharp, S. 2014. "Monotheistic theodicy as imaginary face-work." Sociological Forum, 29(4): 873-92.
  • Surin, K. 1986. Theology and the problem of evil. New York: Blackwell.
  • Thiselton, AC. 2009. Hermeneutics: An introduction. Grand Rapids, MI: Eerdmans.
  • Voltaire. 1756. Candide. http://courses.washington.edu/hsteu302/Voltaire%20Lisbon%20Earthquake.html; [8 April 2024].
    » http://courses.washington.edu/hsteu302/Voltaire%20Lisbon%20Earthquake.html
  • Voltaire, FMA. de. 1977. Poem upon the Lisbon disaster. Lincoln: Penmaen.
  • Webster, J. 2003. Holy Scripture: A dogmatic sketch. Cambridge, UK: Cambridge University Press.
  • Welker, M. 2019. "Theodicy, creation, and suffering: Drawing on God's Spirit and love." In G. van den Brink, Van Staalduine-Sulman, E & Wisse, M. (reds.), The Spirit is moving: New pathways in pneumatology, 280-92. Studies in Reformed Theology 38. Leiden: Brill.

Ontvang: 2024-05-12
Goedgekeur: 2025-02-10
Gepubliseer: Junie 2025

Marius Nel is sedert 2016 'n navorsingsprofessor in Pentekostalistiese hermeneutiek aan Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Hy is sedert 1982 'n pastor van die AGS van SA en het doktorsgrade in Praktiese Teologie (Unisa), Kerkgeskiedenis (UP), Ou Testament (UP) en Nuwe Testament (Radboud) voltooi. Hy het 13 monogramme en 130 geakkrediteerde artikels gepubliseer.
Marius Nel has been a research professor in Pentecostal hermeneutics at the North-West University Potchefstroom Campus since 2016. He has been a pastor of the AFM of SA since 1982 and has completed doctorates in Practical Theology (Unisa), Church History (UP), Old Testament (UP) and New Testament (Radboud). He has published 13 monographs and 130 accredited articles.
1 Gemeet aan die algemeen gebruikte Gini-indeks het Suid-Afrika een van die hoogste ongelykheidsvlakke. Die boonste 20% besit meer as 68% van die inkomste (die mediaan is 47% vir soortgelyke ontluikende markte) en die onderste 40% besit 7% van die inkomste (die mediaan is 16% vir soortgelyke ontluikende markte) (https://www.imf.org/en/News/Articles/2020/01/29/na012820six-charts-on-south-africas-persistent-and-multi-faceted-inequality [9 April 2024].

Publication Dates

  • Publication in this collection
    31 July 2025
  • Date of issue

History

  • Received
    12 May 2024
  • Accepted
    10 Feb 2025
location_on
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Suid, Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Private Bag X11, Arcadia, Pretoria, Gauteng, ZA, 0007, Tel: +27 12 328 5082 - E-mail: publikasies@akademie.co.za
rss_feed Acompanhe os números deste periódico no seu leitor de RSS
Ir para o topo