Abstract
Die begrip dekolonialisering en verwante begrippe soos kolonialiteit, kolonialisme, dekolonialiteit en postkolonialiteit word gewoonlik met verwysing na die oorspronklike inheemse mense van voormalige kolonies in die Globale Suide gebruik, dus in verband met diegene wat op die een of ander manier sedert die laat 1400's aan die ontvangkant van kolonisering (en apartheid) was. Die vraag is of wit Afrikaanssprekendes op dieselfde manier kan dekolonialiseer as hulle landgenote wat voorheen onder kolonisering en apartheid deurgeloop het. Die ondersoek lei tot die gevolgtrekking dat wit Afrikaanssprekendes nie ten volle en sonder meer in staat is of sal wees om op presies dieselfde manier te dekolonialiseer as hul landgenote nie. Om hierdie rede word aanbeveel dat hulle 'n ander benadering tot dekolonialisering / dekolonialiteit sal volg, naamlik om te volhard met 'n eie unieke vorm van oorgrensdenke en met 'n strewe na sosiale gelykheid en wederkerigheid. Daar word ook aanbeveel dat hulle die uitvoering van hierdie twee stappe as 'n morele imperatief sal beskou omdat hulle dieselfde lot as hulle landgenote deel. Daarmee kan hulle meewerk aan 'n nuwe toekoms vir hulle land, die verdelingslyne van die verlede help oorbrug, begrip toon vir die sorge en moontlikhede van diegene aan die ander kant van die rasse-, etniese, kulturele en selfs geslags- en gendergrense, omgee vir diegene in nood, en 'n handreiking doen soos en waar nodig.
apartheid; dekolonialiteit; empatie; kolonialiteit; kolonialisering; kritiese oorgrensdenke; wit Afrikaanssprekendes
Abstract
The term decolonialisation and related terms such as coloniality, colonialism, decoloniality and postcoloniality are usually employed with reference to what the original indigenous inhabitants of former colonies in the Global South strive at after having attained independence from a colonial power. These terms normally refer to the striving of those who, in some way or another, have been on the receiving end of colonisation since the late 1400s. The phrasing of the title of this article is, therefore, somewhat unusual in that the phrase "white Afrikaans-speaking South Africans and Namibians" refers to people who can largely trace their origins back to Europe, mainly the Netherlands, France, Great Britain and Germany. The phrasing can be explained as follows: A clear line of distinction runs through Afrikaans-speaking South Africans and Namibians: on which side of the colonial and apartheid divide did different segments of this group find themselves during those eras (before 1990 in Namibia and before 1994 in South Africa)? Were they among those who identified as or were classified as "white" or "European" and thus benefited from colonisation and apartheid? Or were they among those labelled as "non-white," "non-European," "brown," or "black" - and therefore positioned on the disadvantaged side of the racial order imposed by those systems? The latter group is arguably in a position to decolonise / decolonialise in accordance with the widely accepted meaning of the terms decolonisation and decoloniality, namely to try to rid themselves of the lingering material and spiritual consequences of colonisation and apartheid. Many citizens belonging to this group still struggle - long after the end of classical colonisation and three decades after the abolition of apartheid - with the lingering condition known as "coloniality", that is, the colonialisation of their life and mental attitude or mentality. This is a condition that they, as formerly colonised, strive to get rid of. The other group of Afrikaans speakers, whites who historically benefited from colonialism and apartheid, arguably also suffer from a form of coloniality, a mindset or mentality that lingers on in their thinking and actions long after the end of colonisation and apartheid. Their form of coloniality is of a completely different type and impact. It is a form of coloniality that they, ideally, also would like to rid themselves of. They need to attend to their own form of decoloniality in view of the fact that they still today carry the stamp of being white or of European origin and, therefore, of people that unfairly benefited from colonisation and apartheid. Many of them feel that their presence in South Africa and Namibia is being tolerated by their compatriots because they have been citizens of the two countries for more than three centuries and, therefore, can no longer be regarded as colonists. They deem themselves to be economically active, and many of them possess highly needed skills. They have become full-blooded South Africans and Namibians, and hence they do not see themselves as settler-colonisers. The research question around which this discussion revolves is: Can and should the said group of white Afrikaans speakers decolonise in the same manner as their compatriots, and if so, how can they proceed with the task? The topicality of this issue has recently been underscored by the fact that some members of this group of Afrikaans speakers convened at the end of April 2024 to draft a statement on the basis of which they hoped to enter into a cultural treaty with the South African government. It is also this group of Afrikaans speakers that the leader of the Economic Freedom Fighters party, Mr Julius Malema, wooed before the April 2024 election. He described this group as follows: "Most Afrikaners have only one passport and are here ... The Afrikaners are here with us." Examination revealed that the formerly colonised could attempt to decolonialise themselves by applying the following four basic - and widely accepted - steps towards decolonialisation. They could persist with efforts at putting an end to the power imbalance that was characteristic of colonisation and apartheid. Second, they could persist with a peripheral perspective on life and existence, namely to think less from the Western centre and more in terms of previously colonised peripheries. In conjunction with this step, they could persist with critical cross-border thinking and de-linking. In the fourth place, they could persist with thinking inter-wovenly and pluriversally and, finally, they could continue with taking note of their own geo- and body politics. The examination of these widely accepted steps towards decoloniality revealed that the group of white Afrikaans speakers discussed above is, due to historical differences, not in a position to decolonise in exactly the same way as their formerly colonised compatriots. It is, therefore, recommended that they follow an adapted approach to their own brand of coloniality, namely to firstly develop, apply andpersist with their own, uniqueform ofcross-border thinking, and, secondly, to continue striving for social equality and reciprocity in society. They should see the execution of these two steps as a moral imperative because they share a common national fate with their compatriots. By persevering with these steps, they could make strong and unique contributions towards a new future for their country in collaboration with their fellow citizens. All South Africans /Namibians live in their country with a shared goal, namely to live together peacefully for the sake of a better future for all. They are being called upon to reach out across the divisive boundaries of the past, to show understanding for the concerns and possibilities of those on the other side of the racial, ethnic, cultural and even sex and gender divide, to care for those in need, and to lend a helping hand as and where needed -for the sake of a safe, peaceful and more prosperous future for all.
apartheid; coloniality; colonialisation; critical cross-border thinking; decoloniality; empathy; white Afrikaans speakers
Inleiding en probleemstelling
Die begrip dekolonialisering en verwante begrippe soos kolonialiteit, kolonialisme, dekolonialiteit en postkolonialiteit word gewoonlik met verwysing na die oorspronklike inheemse mense van voormalige kolonies in die Globale Suide1 gebruik, dus diegene wat op die een of ander manier sedert die laat 1400's aan die ontvangkant van kolonisering was. Wat in die titel van hierdie artikel staan, is dus ongewoon, aangesien die frase "wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners en Namibiërs" enersyds verwys na mense wat hul herkoms grootliks kan terugspoor na Europa, hoofsaaklik Nederland, Frankryk, Groot-Brittanje en Duitsland, maar in baie gevalle ook wel na voorouers van Afrika- en Asiatiese oorsprong. Die frase "Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners en Namibiers" verwys andersyds ook na bruin en swart Afrikaanssprekendes wat hul herkoms hoofsaaklik kan terugspoor na Khoi-San-voorouers en in baie gevalle ook voorouers van Afrika-, Asiatiese en Europese herkoms.
Daar loop egter 'n onderskeidslyn regdeur die groep Suid-Afrikaners en Namibiers wat hulself as "Afrikaanssprekend" beskou. Die vraag hier is: Aan welke kant het hulle hulle onderskeidelik bevind toe kolonisering en apartheid in volle swang was (dus voor 1990 in Namibië en voor 1994 in Suid-Afrika)? Die antwoord op hierdie vraag bring die volgende onderskeid: Diegene wat destyds as "blankes" of "Europeërs" geïdentifiseer het of is, was aan die een kant van hierdie lyn, die kant wat deur kolonisering en apartheid bevoordeel is. Daarteenoor staan diegene wat as "nie-blank", "nie-Europees", "bruin" of "swart" geïdentifiseer of geklassifiseer is en gevolglik aan die benadeelde kant van die koloniale en apartheids-verdelingslyn was (vergelyk Willemse, 2023:8). Hierdie onderskeid bring ons tot die slotsom dat die laasgenoemde groep, na die aanbreek van demokrasie (1990/1994), in beginsel kan dekolonialiseer volgens die gangbare betekenis van die woorde dekolonisering / dekolonialisering, naamlik om ontslae te raak van die steeds nawerkende materiële en geestelike nagevolge van kolonisering en apartheid. Volgens die literatuur, soos hier onder breedvoeriger beskryf, worstel baie van die laasgenoemde groep nog steeds, lank na die einde van kolonisering en drie dekades na die afskaffing van apartheid, met 'n sloerende geestestoestand bekend as kolonialiteit, dit wil sê, 'n gekoloniseerdheid van hul lewens- en geestesingesteldheid of mentaliteit - 'n toestand waarvan hulle as voorheen gekoloniseerdes graag ontslae wil raak (vergelyk afdeling 3). Die eersgenoemde groep (wit) Afrikaanssprekendes ly egter ook aan hul eie vorm van kolonialiteit - 'n geestesingesteldheid of mentaliteit wat nog lank na kolonisering en apartheid in hul denke en optrede bestaan - maar dit is van 'n heel ander aard en inslag. Dit is 'n vorm van kolonialiteit waarvan hulle ook, ideaal gesproke, ontslae moet probeer raak. Hierdie artikel handel oor die noodsaaklikheid en moontlikheid hiervan.
Ons aandag is, op grond van die voorgaande onderskeid, gefokus op die hoofsaaklik wit Afrikaanssprekendes wat voor 1990 (Namibië) en voor 1994 (Suid-Afrika) aan die dominante en bevoordeelde kant van kolonisering en apartheid gestaan het. Hulle dra tot vandag toe, meer as drie dekades na die oorgang na 'n demokratiese bedeling in hul land(e), nog die stempel dat hulle "wit" of "van Europese herkoms" is en derhalwe destyds deur kolonisering en apartheid bevoordeel is. Hul teenwoordigheid in Suid-Afrika en Namibië word aanvaar omdat hulle vir meer as drie eeue burgers van dié twee lande is en dus nie meer as koloniste beskou kan word nie. Hulle het geen ander vaderland nie. Hulle is ekonomies betekenisvol bedrywig en baie van hulle beskik oor gesogte vaardighede. Hulle het, nadat hulle die politieke mag verloor het, nie hulle onderskeie vaderlande verlaat om elders 'n heenkome te gaan soek nie. Hulle is volbloed Suid-Afrikaners en Namibiers respektiewelik; hulle sien hulself hoegenaamd nie as setlaar-koloniseerders, soos daar soms na die nasate van koloniste verwys word nie (vergelyk Almeida & Kumalo, 2018:15; Urrieta & Calderón, 2019:146; Velez & Tuana, 2020:367). Hulle is 'n groep landsburgers wat die "wit oorheersing- en bevoordeling-struktuur" wat kenmerkend van kolonisering en apartheid was, en wat hulle destyds as goed, billik en regverdigbaar beskou het, vir goed agtergelaat het (vergelyk Urrieta & Calderón, 2019:155, 161). Hulle staan in sommige kringe bekend as die "wit stam" van Afrika (Zille. 2021:33) en vorm 'n groot deel van die 7,5% en 8,0% wit inwoners van onderskeidelik Namibië en Suid-Afrika se bevolkings.
Soos genoem, is dit ongewoon om te vra of diegene wat voor 1990/1994 aan die uitdeelen bevoordeelde kant van kolonisering en apartheid gestaan het, ook behoort te dekolonialiseer, en dit kan doen. Die gangbare veronderstelling, aldus die literatuur met betrekking tot dekolonialisering, is dat dit hoofsaaklik die oorspronklike (inheemse) en benadeelde inwoners van 'n land of gebied is wat trag om te dekolonialiseer - om van kolonialiteit (soos hier onder beskryf) ontslae te raak. Hierdie artikel bring egter ook hierdie voorheen bevoordeelde Afrikaanssprekende groep onder bespreking op grond van die siening, soos verwoord deur Stein et al. (2020:1), dat akademiese ondersoeke rakende dekolonialisering "ruimte [skep] vir kritiese, selfrefleksiewe besinning oor die rol van sistemiese, historíese en voortslepende koloniale geweld". Die ondersoek waaroor hierdie artikel handel, het binne so 'n selfrefleksiewe ruimte plaasgevind, naamlik die ruimte waarin die hier bo beskrewe groep wit Afrikaans-sprekendes hulle tans bevind. Die aktualiteit van hierdie vraagstuk word onderstreep deur die feit dat sommige lede van hierdie groep Afrikaanssprekendes aan die einde van April 2024 byeengekom het om 'n verklaring op te stel met die oog op die sluiting van 'n kultuurverdrag met die regering (Sonnekus, 2024:1). Dit is ook hierdie groep Afrikaanssprekendes na wie se steun die leier van die Economic Freedom Fighters, mnr. Julius Malema, voor die April 2024-verkiesing gevry het. Hy het hierdie groep soos volg beskryf: "Die meeste Afrikaners het net een paspoort en is hier. ... Die Afrikaners is hier saam met ons" (Van der Westhuizen, 2024:8).
Die vraag of hierdie groep wit Afrikaanssprekendes behoort te (en kan) dekolonialiseer is nie 'n vraag wat ligtelik in en deur die lede van hierdie groep opgeneem (kan) word nie. Dit blyk daaruit dat 'n aansienlike getal van hulle (na raming tot dusver ongeveer een uit elke tien) oor die afgelope drie dekades tot die gevolgtrekking gekom dat hulle nie 'n toekoms hier te lande het nie en derhalwe geëmigreer het na lande waar hulle meer tuis gevoel het, waar hulle hul opleiding en vaardighede kon toepas en waar hulle meen hul teenwoordigheid en vaardighede nodig geag en gewaardeer word.
Die ondersoeksvraag wat in die lig van die voorgaande aan die orde gekom het, was: Kan en behoort wit Afrikaanssprekendes te dekoloniseer soos hul landgenote en, indien wel, hoe kan hulle dit doen?
Ondersoeksmetode
Om tot 'n antwoord op die ondersoeksvraag te kom is 'n ontleding van die beskikbare literatuur oor kolonialiteit en dekolonialisering gedoen. Deur die toepassing van die interpretivisties-konstruktivistiese metode is 'n aantal kerneienskappe van die dekolonialiseringsproses geïdentifiseer en daarna is bepaal in welke mate elkeen van hulle van toepassing is of gemaak kan word op die bedoelde groep Afrikaanssprekendes.
Soos gebruiklik in dekolonialiseringstudies is dit nodig dat ek as ondersoeker of skrywer van hierdie artikel my posisionaliteit openbaar. Ek is 'n cisgender blanke man (vergelyk Velez, & Tuana, 2020:366), lid van die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes, van die groep Namibiërs/Suid-Afrikaners wat voor 1990/1994 deur kolonialisme en deur apartheid bevoordeel is en tans as burger van my land betekenisvolle en potensieel waardevolle bydraes tot die samelewing probeer maak. Ek skryf dus nie vanuit 'n immigrante-, setlaar- of diasporiese oogpunt nie (vergelyk Velez & Tuana, 2020:367), maar as 'n landsburger, 'n binnestander van die groep wit Afrikaanssprekendes. My posisionaliteit is presies die teenoorgestelde van dié van iemand wat haarself identifiseer as 'n buitestander, soos Clara Keating (2019:141) wat oor kolonialiteit nadink vanuit haar posisie as dosent aan die Universiteit van Coimbra in Portugal. Omdat sy vanuit daardie gesigspunt skryf, is sy maar alte bewus daarvan dat sy die risiko loop om die "koloniale hersirkulering van kennis" (Keating 2019:141) voort te sit. Met hierdie artikel probeer ek hierdie risiko systap.
Konseptuele en teoretiese raamwerk
'n Kernbegrip in hierdie navorsing is kolonialiteit. Volgens Davies (2021:399) het die Peruviaanse sosioloog Aníbal Quijano hierdie term (begrip) in die 1990's geskep as 'n manier waarop die vraagstuk van dekolonialiteit benader en ondersoek kon word. Kolonialiteit verwys na die feit dat, hoewel kolonisering in die meeste lande van die Globale Suide formeel tot 'n einde gekom het met die verkryging van staatkundige onafhanklikheid, die voortslepende uitwerking daarvan nog die gees of die self (die mindset) van die voorheen gekoloniseerdes beheers (Urrieta & Calderón 2019:147, 149).2 Dit is as't ware 'n "gesedimenteerde3 geestestoestand", 'n "interne kolonialisme" (Fùnez-Flores & Jupp 2022:20; Keating 2019:142), 'n "transhistoriese uitbreiding van koloniale oorheersing en die voortsetting van die gevolge van kolonialisme in die huidige tyd" (Ndlovu-Gatsheni, 2019:202). Die ironie van die situasie val 'n mens op as Ndlovu-Gatsheni (2019:207) die metafoor van 'n rekenaar gebruik om die situasie te verduidelik: Die Westers-modernistiese metafisiese "empire" werk deur die "mental universe" van sy slagoffers binne te val, deur in die proses die harde skyf van die Afrika-geheue leeg te maak en te vernietig en dan, in die Afrika-denke en -mentaliteit, die sagteware van die Europese geheue en mentaliteit af te laai.4
Hierdie toestand word gekenmerk deur die nawerking van koloniale strukture soos sieninge oor mag, ontologie, epistemologie en die verweefdheid daarvan met "die kategoriale logika aangaande ras en geslag/gender" (Velez & Tuana, 2020:366, 367, 369). Volgens Keating (2019:142) skep kolonialiteit vir baie mense 'n "byna onoorkomelike epistemiese beperking", tot die mate dat hulle moeilik kan verander. Dit bly een van die probleme in die hedendaagse lewe wat in mense se mentaliteit "bly spook" (Ndlovu-Gatsheni, 2019:20).
Die begrip kolonialiteit dui op die magspatrone wat ontstaan het as gevolg van kolonialisme (en apartheid) en wat steeds ons begrip en belewenis van kultuur, arbeid, intersubjektiewe verhoudings en kennisproduksie bepaal (Maldonado-Torres 2007:243). Die toestand van kolonialiteit kan ook omskryf word as die sistemiese, historiese en voortslepende magsongelykhede tussen die dominante en die gemarginaliseerde gemeenskappe en hul maniere van dinge doen of laat (Stein et al., 2020:2). Om te dekolonialiseer beteken dat 'n mens sowel geestelike as materiële grense sal oorskry en sal besin oor sekere "koloniaal-gevestigde kategorieë", soos watter rol beheer en regering, taal, kennis en kennisverkryging en die plek en invloed van kennisstelsels in die samelewing speel (Vanyoro, 2019:1, 2).
Om die voorgaande redes, meen Fùnez-Flores en Jupp (2022:7), is dekolonialisering 'n onafgehandelde projek, terwyl De Lissovoy (2020:2) meen dat dit 'n onvoltooide kultureel-polities-epistemologiese projek is, en Urrieta en Calderón (2019:162) dat dit ter wille van sosiale geregtigheid behoort te geskied. Dit is ook vir baie van die lede van die bedoelde wit Afrikaanssprekende groep 'n onafgehandelde projek in die sin dat die magsverhoudinge, gebore in die koloniale tydperk en later dieper gevestig en gewortel tydens die apartheidsbedeling, dalk nog diep in hul geestestoestand en -ingesteldheid ingewortel is en moeilik uitgeroei kan word.
In Suid-Afrika en Namibië beteken kolonialiteit dat historiese verhoudinge en die samelewingsopset vandag nog die verloop van die alledaagse omgang en lewe bepaal. Dit is om hierdie rede dat lede van die voorheen benadeelde bevolkingsgroepe hulle steeds in woord en geskrif heftig verset teen of kla oor die Westerse oorheersing (hegemonie) en maniere van dinge doen (vergelyk Almeida & Kumalo, 2018:2 e.v.; Jantjies, 2021:18; Vanyoro, 2019:1, 2). Aan hierdie verset kan egter nie in dié artikel aandag gegee word nie. Aandag kan ook nie hier geskenk word aan die reaksie van diegene wat die blote idee van dekolonisering of dekolonialisering beskou as sinlose of ongegronde pogings om 'n einde te maak aan beproefde wit, Westers-modernistiese maniere van dink en doen nie (vergelyk Vickers, 2020:1-18; Murray, 2022: passim). Dieselfde geld vir diegene wat bloot nie daaraan dink dat dit nodig is om te dekolonialiseer nie of wat deur hul bevoordeelde status so verblind is dat hulle nie die noodsaaklikheid daarvan besef nie (Vanyoro, 2019:1).
Die waters rondom dekolonisering of dekolonialiteit word voorts sedert die einde van die Tweede Wereldoorlog vertroebel deur die feit dat die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes (en uiteraard ook alle ander inwoners van die twee lande, net soos die inwoners van die ganse Globale Suide) nie slegs moet reken met die nagevolge van die eerste golf van Europese kolonialisme sedert die 1490's nie, maar ook met die tweede golf daarvan in die vorm van die neokolonialisme voortspruitend uit die neoliberalisme (neokapitalisme) en die gepaardgaande globalisering. Sommige van die teoretici oor dekolonialiteit tref 'n onderskeid tussen hierdie twee vorme of fases van kolonialisme (soos De Lissovoy 2020:2); ander sien die twee golwe van kolonialisme as naatloos aaneenlopend en deureengeweef (vergelyk Ndlovu-Gatsheni, 2019:202 wat skryf oor 'n "transhistoriese uitbreiding van koloniale oorheersing"; ook Velez & Tuana, 2020:367 en Fùnez-Flores & Jupp, 2022:7-8, 19, 28). Daar kan ook nie binne die bestek van hierdie artikel aandag aan hierdie problematiek gegee word nie. Ons moet volstaan met die gedagte dat alle Afrikaanssprekendes (die bedoelde wit groep sowel as die ander) en ook die res van die inwoners van Namibië en Suid-Afrika op die een of ander manier te doen het met die trefkrag van beide hierdie kolonialiseringsgolwe.
Die mate waarin wit Afrikaanssprekendes in staat is tot dekolonialisering op grond van erkende dekolonialiseringsbeginsels en -uitgangspunte
Om te kan bepaal of die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes wel kan of behoort te dekolonialiseer is dit nodig om te verstaan wat dekolonialisering in wese behels, wat die hoofmomente daarvan is. 'n Begrip van die grondtrekke van dekolonialiseringsdenke stel 'n mens in staat om te besluit of diegene wat voorheen aan die bevoordeelde kant van kolonisering en apartheid in Namibië en Suid-Afrika gestaan het met hul voorheen benadeelde landgenote kan meedoen aan die proses van dekolonialisering. Die doel van dié oefening is om te bepaal of 'n dekolonialiseringstrategie wat deur denkers en aktiviste in die Globale Suide bedink en geformuleer is vir voorheen gekoloniseerdes (en diegene wat onder apartheid gely het) ook deur die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes eie gemaak en toegepas kan word. Die volgende is 'n kort oorsig van die hoofelemente van 'n tipiese dekolonialiseringstrategie. In elke geval word ook kortliks besin of dit haalbaar is vir die bedoelde groep wit Afrikaans-sprekendes om die stap met enige welslae uit te voer.
Probeer 'n einde maak aan die magswanbalans wat kenmerkend was van kolonisering en apartheid
Die gedagte hier is dat diegene wat voorheen onder kolonialisering en apartheid gely het, en tans nog aan kolonialiteit, in hul eie gemoedere 'n einde moet probeer maak van hul afhanklikheid van die ongelyke magsbalanse wat tipies was van kolonialisering en apartheid. Volgens Eboka (2022:1) is dit vir hulle belangrik om nie tevrede te wees met oppervlakkige en tokenistiese maatreëls in 'n poging om die koloniale en apartheidsmagsongelykhede te oorkom nie. Verandering moet uit die hart, uit die diepste wese van hulle wat voorheen onder magsongelykheid deurgeloop het, kom, onder meer deur - soos hier onder in meer besonderhede aangedui sal word - bewus te wees van hul eie gekolonialiseerde geo- en liggaamspolitiek en dit te probeer verander.
Ook die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes behoort te probeer om hul bestaande hoofsaaklik Westerse ingesteldheid aan te vul met kennis van die plaaslike Afrika-omgewing. Daarmee moet hulle probeer bydra tot die genesing van die "koloniale wond" (Mignolo, 2007:159). Die politieke bedeling waarin die bedoelde groep Afrikaanssprekendes hulle sedert die begin 1990's in hul onderskeie lande bevind, word alreeds gekenmerk deur 'n verskuiwing in magsewewig. Saam met hul ander wit landgenote het hulle met die aanbreek van demokrasie die politieke mag in hul lande verloor. Nou het dit vir hulle 'n kwessie van aanvaarding en die beste maak van die saak geword, aangesien hulle eintlik geen politieke mag meer oor het nie. 'n Mens sou kon sê dat die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes in dié twee lande hierdie stap tot dekolonisering reeds in 'n groot mate deurgevoer het en dat hulle steeds verder daaraan werk. Deur dit te doen dra hulle daartoe by dat 'n billike sosiaal-politieke bedeling in hul lande tot stand kom en dat hul rol en bydrae daartoe met verloop van tyd erken sal word.
Probeer 'n meer periferale perspektief ontwikkel
'n Tipiese Westerling is geneig om vanuit 'n Westers-Europees-Amerikaans-modernistiese sentrum (oriëntasiepunt) te dink. Dit is die verstek-oriëntasie van iemand met 'n lang Westers-Europese geskiedenis en agtergrond. Die dekoloniale uitdaging in hierdie verband is om ook te probeer dink vanuit die "periferie" - vanuit die huidige situasie waarin die inwoners van die voormalige kolonies en slagoffers van apartheid hulle (steeds) bevind (vergelyk De Lissovoy & Bailón 2019:92). Dít is 'n moeilike uitdaging, want soos hierdie twee skrywers aantoon, behoort 'n mens, indien jy wil dekolonialiseer, die beginpunt van jou denke of siening in die periferie te soek en te vind en dan vandaar af terug te beweeg na die sentrum. Om so te dink is presies die omgekeerde van die natuurlike denkwyse van die Westers-georiënteerde persoon. Dit is dan ook geen wonder nie dat Mignolo (2007:155) hierdie omskakeling bestempel as 'n radikale epistemiese skuif. Narayan (2017:13) verwys daarna as "revolusionêre interkommunale denke".
In praktiese terme beteken hierdie dekolonialiseringstap dat die lede van die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes die Westerse waardes wat hulle tot dusver as vanselfsprekend aanvaar en toegepas het, meer na die agtergrond sal skuif, ál meer sal luister na wat die voorheen benadeeldes dink en sê en sover as moontlik in ooreenstemming met hierdie nuwe kennis sal handel. Hulle moet leer om vanuit die periferale perspektief van die voorheen benadeeldes van die Globale Suide te dink en te handel. 'n Praktiese voorbeeld van so 'n denkskuif is die volgende: As 'n mens oor ontwikkeling dink, dan moet dit nie in die eerste instansie vanuit 'n Westers-globale neoliberale siening van die ekonomie wees nie, maar eerder soos die mense van die Globale Suide ontwikkeling sien, byvoorbeeld dat die mens nie die natuur en die omgewing ter wille van wins behoort uit te buit en te verwoes nie, maar dat die mens en die natuur in een web in mekaar ingeweef is; as die een skade ly, dan ly die ander een ook (vergelyk Grosfoguel, 2011:10; Raworth, 2022:115).
Hoewel dit vir die Westers-georiënteerde Namibiër of Suid-Afrikaner moeilik sal wees om hierdie aanpassing in denkoriëntasie te maak, skyn dit tog in 'n mate haalbaar te wees. Hulle behoort in staat te wees om kennis te neem van wat hul voorheen benadeelde landgenote oor sake van belang dink, self verder daaroor na te dink en hulself in die skoene van hierdie landgenote te stel. Dit sal hulle in staat stel om groter empatie met die omstandighede van hul landgenote te hê en in die toekoms sterker in hul belang te handel.
Probeer om kritiese oorgrensdenke en ontkoppeling toe te pas
Die vorige punt het reeds aan hierdie aspek geraak. Die lede van die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes behoort te poog om, soos beskryf, transformatief te dink, vanuit die periferie, vanuit die optiek van die voorheen benadeeldes. Dit verg, volgens Mignolo (2007:159), dat 'n mens die kuns van oorgrensdenke en ontkoppeling moet probeer bemeester. Dít is 'n groot uitdaging, want dit beteken dat iemand wat gewoond is om op tipiese Westersmodernistiese wyse te dink, dit wil sê, geneig is om kennis te ontwikkel wat sover as moontlik geverifieer, universeel, algemeen toepaslik, objektief, onbeliggaamd en ongelokaliseer is, moet leer om op 'n ander manier te dink, leer om oorgrensdenke en ontkoppeling toe te pas (De Lima Grecco & Schuster 2020:429). Kritiese oorgrensdenke is tipies van epistemologieë gebore uit die subjektiwiteite (die manier van menswees) van die mense wat nog onder kolonialiteit, soos hier bo beskryf, ly. Wat vir die Westerling in hierdie opsig uiters moeilik is om enersyds te verstaan en andersyds prakties in sy of haar daaglike lewe toe te pas, is die feit dat oorgrensdenke hoofsaaklik fokus op die "donker kante" van die Westers-modernistiese denke en leefstyl, onder meer die nadruk op rasionaliteit (vergelyk Mignolo, 2007:164). Oorgrensdenke moet, ideaal gesproke, lei tot nuwe en omvattender definisies van burgerskap, demokrasie, menseregte, menslikheid en ekonomiese verhoudinge, anders as wat Westerse neoliberale sieninge na vore bring. Grosfoguel (2011:27, 29) noem demokrasie as 'n voorbeeld van hierdie manier van dink: Demokrasie moet geherdefinieer word as die selfbestuur van al daardie gemeenskappe, skole, ondernemings, hospitale en ander instansies wat die sosiale lewe van mense beheer sodat sosiale gelykheid vergestalt kan word in alle aspekte van mense se sosiale lewe.
Die gedagte van ontkoppeling hou verband met oorgrensdenke. Mignolo (2007:16) verduidelik ontkoppeling só: Dit is om krities al op die rande van die dominante vorme van kennis, ekonomiese praktyke en politieke eise en sieninge te werk, en die doel van hierdie manier van werk is om deur gebruikmaking van die bestaande sosiale stelsel die verskynsel van kolonialiteit teen te werk. Indien 'n lid van die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes hom of haar wil besig hou met ontkoppeling soos Mignolo dit beskryf, beteken dit dat hy of sy eintlik subversief besig moet raak om sy of haar eie Westerse ontologiese, kosmologiese, epistemologiese en sosiale erfgoed te probeer ondermyn. Op die oog af skyn dít nie 'n realistiese eis aan die lede van hierdie groep te wees nie.
Probeer deureengeweef en pluriverseel dink
Die Westerse erfenis van die afgelope ongeveer vyf eeue kan nie weggedink word nie. Die probleem daarmee, aldus die voorstanders van dekolonialiteit, is dat dit gebaseer is op die veronderstelling dat dit die enigste geldige manier van dink en doen is en dat almal dit as verstekopsie behoort te aanvaar. Hierdie siening is egter nie aanvaarbaar vir diegene wat hulle beywer vir dekolonialiteit nie. Die oplossing vir hierdie dilemma lê, volgens denkers soos Ribeiro (2023:8) en Grosfoguel (2011:1, 7), in 'n verstandige kompromis tussen die beste van die Westerse manier van dink en doen en die beste van die denke en doen van die mense van die Globale Suide. Daar moet in albei hierdie kulture gesoek word na wat die beste sal wees vir die mense van die land (die voormalige kolonie) en vir diegene wat onder apartheid gely het. Alle inwoners van 'n betrokke land of gebied behoort dus betrokke te raak by die ontwikkeling van 'n pluriversele projek, 'n projek wat hulle verby Eurosentrisme en tegelyk ook verby Globale Suide-fundamentalisme (bv. 'n onrealistiese terugkeer na 'n geromantiseerde inheemse verlede) sal voer. Daar moet, aldus Grosfoguel (2011:19-20), aan die postkoloniale werklikheid gedink word as 'n deureengeweefde eenheid, 'n komplekse, oop stelsel, 'n verweefheid van allerlei hiërargieë, strukturele vlakke, alles binne een enkele historíese werklikheid, 'n nuwe eties-polities-pedagogiese projek gefundeer in 'n siening van die werklikheid as pluriverseel eerder as universeel. Ook hierdie dekoloniseringstap sal besondere insig en toewyding verg van die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes, aangesien dit hulle as't ware verplig om uit hul Westerse manier van dink en doen te beweeg en meer te probeer soos hul landgenote dink en doen.
Probeer kennis neem van die eie geo- en liggaamspolitiek
Kennis en kennisverkryging is altyd gesitueerd, word altyd ontwikkel vanuit die posisionaliteit van die persoon wat die kennis vorm of opdoen en dan daaroor praat. Om te dekolonialiseer is dit dus nodig dat 'n mens bewus sal wees van die eie posisionaliteit, dit wil sê, die konkrete, materiële afmetings van die epistemologie waarmee jy werk (Ali 2016:19). Daar is dus, aldus Grosfoguel (2011:4, 6), geen sprake van iets soos 'n "onbeliggaamde en ongelokaliseerde neutraliteit en objektiwiteit" as daar van kennisverkryging en van kennis gepraat word nie. Hierdie punt is van die uiterste belang indien 'n mens wil dekolonialiseer: jy moet bewus wees van die kolonialiteit van jou gees, soos hier bo beskryf. Indien 'n mens wil dekolonialiseer, moet jy dus verkieslik na 'n probleem kyk vanuit die geopolitiek, die liggaamspolitiek en die geogeskiedenis van die voorheen onderwerptes en benadeeldes - vanuit die perspektief van die inwoners van die Globale Suide en nie vanuit die optiek van die voorheen bevoordeeldes en magtiges nie (De Lima Grecco & Schuster 2020:443). Deur dit te doen kry 'n mens 'n beter begrip van die materialiteit, die sosiale konteks en die lokus van die kennis wat verkry word en op grond waarvan verder opgetree word. Ook in hierdie opsig lyk die uitdagings aan die lede van die bedoelde groep Afrikaanssprekendes baie omvangryk. Hulle behoort egter bewus te wees van hul eie posisionaliteit (soos dat hulle blank, van hoofsaaklik Europese afkoms, Afrikaanssprekend en dies meer is) en vanuit hul betrokke posisionaliteit te dink en te doen tot voordeel van almal in hul vaderlande.
Op grond van die voorgaande ontleding kan 'n mens moeilik anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes nie ten volle en sonder meer in staat is of sal wees om op presies dieselfde maniere te dekolonialiseer as hul landgenote nie. Omdat hulle dit nie soos hul landgenote kan aanpak en voltrek nie, word aanbeveel dat hulle 'n ander benadering tot dekolonialisering of dekolonialiteit sal volg. In die volgende afdeling van hierdie artikel beskryf ek kortliks wat ek meen die ander benadering kan wees.
Die verskillende aspekte van 'n nuwe benadering tot dekolonialisering of dekolonialiteit wat die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes kan oorweeg
Pas 'n eie vorm van oorgrensdenke toe
Hoewel dit op grond van die voorgaande ontleding en bespreking baie moeilik is of sal wees vir die bedoelde groep with Afrikaanssprekendes om te dekolonialiseer op die manier(e) wat dit deur, byvoorbeeld, die ander (voorheen gekoloniseerde) inwoners van die twee lande verstaan, nagestreef en gedoen kan word, is daar tog 'n manier om oor die grense na ander (landgenote) en hul belange en sorge heen te reik. Dit vereis 'n kritiese grensdenke of oorgrensdenke gekenmerk deur uitreike na die ander inwoners van die land en na die sosiaal-maatskaplike groepe waartoe hulle behoort. In sekere 'n sin is die grense tussen mense en groepe minder fisies as wat hulle geestelik (mentaal) is.
Dit is, volgens Fùnez-Flores en Jupp (2022:2), hierby belangrik om al die omstandighede en kontekste wat ter sake is (geopolities, kultureel, sosiohistories, eties, eties-polities en dies meer) van die inwoners van 'n land (stad, gebied) in ag te neem en nie om bloot kennis en teorieë op 'n Westers veralgemenende manier daaruit af te lei en te formuleer nie. Weems, (2016:5) stem met die opvoedingsfilosoof Richardson (2012:550) saam dat 'n mens in hierdie projek slegs kan slaag as 'n mens grensdenke toepas - miskien beter gestel, oorgrensdenke - wat daarop neerkom dat 'n mens as't ware transontologies dink oor die syn (die bestaan, die leefwêrelde van die "ander" inwoners van, in hierdie geval, Suid-Afrika en Namibië. Hierdie soort denke veronderstel dat 'n mens die ruimtes (leefwêrelde) van die ander mense in die land eerbiedig binnetree en probeer om hulle van binne uit beter te verstaan. Iemand wat hierdie grensdenke toepas se sieninge behoort dus nie gestroop te wees van die materiële aspekte van die dinge wat hy of sy probeer begryp nie (Fùnez-Flores & Jupp 2022:3). Kolonialiteit kan oorkom word deur sterk en sorgvuldig aandag daaraan te skenk op strategiese, magsbewuste, sosiaal aanvaarbare en konteksspesifieke maniere. Deur dit te doen kan 'n mens die Westers-/Europees-modernistiese maniere van dink en doen denaturaliseer (minder vanselfsprekend maak). Maar dan moet 'n mens ook waak daarteen om 'n ander hegemonie in die plek daarvan te stel (Stein et al. 2020:2).
Met die geestesingesteldheid wat pas beskryf is, kan die bedoelde groep wit Afrikaans-sprekendes steeds tot 'n mate gebruik maak van die geykte Westers-modernistiese manier van dink, naamlik om objektief-wetenskaplik, universalisties, veralgemenend van buite na menseen groepsverhoudinge in hul lande te kyk en dan op grond van hul waarneming dinge te sorteer, orden, klassifiseer en evalueer. As deel van hul oorgrensdenke kan hulle egter daarby ook kennis neem van die alternatiewe benadering tot die wetenskapsbeoefening wat uit die stryd om dekolonialiteit gebore is en dit by geleentheid as aanvullende wetenskaplike benadering gebruik. Waar die Westers-modernistiese wetenskapsbenadering en -beoefening primêr toegespits is op die verkryging van algemene, universele, wyd aanvaarde bevindinge aangaande die werklikheid, konsentreer die dekoloniale wetenskapsbenadering op kennis aangaande die unieke, die plaaslike, die praktiese, die materiële en die individuele van mense en hul omstandighede. Die twee benaderings kan mekaar so aanvul. Deur hulle sinvol te kombineer kry 'n mens 'n vollediger beeld van die werklikheid as wat elke wetenskapsbenadering op sy eie kan bied. Met so 'n nuwe geestes- en wetenskaplike instelling kan die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes meer empaties staan teenoor die lot van voorheen benadeelde landgenote, teenoor hul individuele (partikuliere) leefwêreld en omstandighede. Met hierdie benadering kan hulle hul "blindheid weens hul eie bevoorregte omstandighede"5 oorkom en deur middel van kritiese oorgrensdenke ook die omstandighede van ander raaksien en iets ter regstelling en verbetering probeer doen.
Streef na gelykheid en wederkerigheid
Die uitgangspunt hier is dat daar gelyke en gelykwaardige verhoudinge met al die ander mense en bevolkingsgroepe in die land gebou moet word, en dit kan slegs gedoen word op die grondslag van vertroue, wedersydse instemming, toerekenbaarheid en wederkerigheid (Ridley, 1996:215; Whyte, 2019:3-4). Waar daar sosiaal-maatskaplike en ekonomiese ongelykhede onder Namibiërs en Suid-Afrikaners bestaan, moet dit die hoof gebied word. Om dit te kan doen verg 'n verandering in geestesingesteldheid by die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes, naamlik om af te sien van (wetenskaplike) algemeenhede (universele stellings en uitsprake) oor die ander inwoners van hul land, om ontslae te raak van die "tirannie van die abstrakte universele" (Ndlovu-Gatsheni ,2019:215) en om hul landgenote te sien in hul praktiese situasies, omstandighede en selfs ellende. Daar moet, om 'n begrip uit die teorie van dekolonialiteit te gebruik, in die rigting van pluriversaliteit gewerk word, dit wil sê, verskillende maniere van dink en doen moet as aanvaarbaar geag word. Daarmee word erkenning gegee aan die menswees van "die ander". 'n Pluriversele wêreld is een waarin baie wêrelde naas mekaar bestaan sonder enige onderlinge hiërargiese verhouding.
Wat deur middel van hierdie nuwe geestelike ingesteldheid bereik moet word, is om te verhoed dat, soos Ndlovu-Gatsheni (2019:203) dit stel, twee sones van menswees of syn voortleef: die sone van menswees van voorheen bevoorregtes en die sone van menswees van die voorheen gekoloniseerdes of gekolonialiseerdes wat aan die ontvangkant van apartheid gestaan het.
Empatie 'n moreel-etiese imperatief
Om al voorgaande te doen is 'n morele imperatief gewortel in die gedagte dat alle landgenote eintlik een "familie" is, wat 'n gemeenskaplike menswees deel, waarvoor met deernis, ordentlikheid en in eie belang gesorg moet word (Ben-Porath & Smith, 2013:4; Patterson, 1999:349-351). Wat ook al gedoen word, moet in belang wees van 'n beter lewe vir almal in die betrokke land (Le Cordeur, 2021: 21). Per slot van rekening, soos Alexander (2010: 44) en Ben-Porath en Smith (2013: 10, 11, 104, 224, 261) raakgesien het, deel alle landgenote 'n enkele lot (a shared fate). Met die verloop van tyd het die lede van 'n bepaalde land (staat, gemeenskap) 'n gedeelde geskiedenis ontwikkel, en daarmee saam hopelik besondere verbintenisse met mekaar. Hierdie gedeelde verbintenisse moet gekoester word deur vir mekaar om te gee en te sorg. Miller (2013:236, 239) stel hierdie insig soos volg: Alle burgers van 'n land behoort verantwoordelik en toerekenbaar teenoor alle ander en hul belange op te tree. Na sy oordeel is dit moontlik vir die burgers van 'n land om so teenoor mekaar op te tree omdat hulle in konkrete interaksie, gekenmerk deur wederkerigheid en toerekenbaarheid, met mekaar verkeer. Deur dit te doen bevorder hulle bepaalde emansipatoriese praktyke, dinge en maniere van doen wat mense geestelik vry maak. Deur aandag te gee aan mikropolitieke belange in die gemeenskap en gesprek te voer kan 'n mens bydra tot die dekoloniale agenda (vergelyk Keating 2019:142, 143).
In die bedoelde groep Afrikaanssprekendes se worsteling met die vraagstuk van dekolonialiteit behoort hulle dus 'n benadering te volg wat gekenmerk word deur verdraagsaamheid teenoor hul landgenote, deur die akkommodering van al die uiteenlopende sieninge en standpunte oor eie en gedeelde vraagstukke en belange, deur 'n strewe na beter begrip vir ander en hul omstandighede, ideale en vrese, deur voortdurende bou en opbou van goeie gesindhede en deur die bou van nuwe verhoudinge met die oog op persoonlike en sosiale transformasie in die samelewing.
Probeer volhard met die nuwe benadering
Die gesprekke en verhoudinge met die ander bevolkingsgroepe in die twee lande moet voorts deurlopend en konteksspesifiek wees en hulle behoort te verander en aan te pas soos die omstandighede in die groter sosiale milieu verander (Stein et al., 2020:3). Soos Stein et al. (2020:4) in 'n ander konteks (nl. van die epistemologie) stel, behoort 'n mens te streef na stelsels en verhoudinge wat iewers tussen die waardes van die verskillende groepe in die land lê sonder dat daar enige sprake moet wees van mededinging (die een is beter as die ander), uitsonderlikheid (die een staan bo al die ander uit) of hegemoniesoekery (oorheersing van een oor die ander). Daar moet eerder 'n nuwe ekologie van waardes, gebruike, gewoontes en maniere van doen ontwikkel, waarin elke groep se waardes kontekstuele betekenis het en derhalwe onmisbaar, maar ook in sigself onvoldoende is vir benutting deur almal. In die proses behoort die voorheen verdronge waardes, kennis, taal en geskiedenis van die "ander" mense in die land weer na die oppervlak gebring te word en deur soveel as moontlik landsburgers erken, verstaan en aanvaar te word (Weems, 2016:5).
Werk in die rigting van 'n nuwe toekoms saam met medelandsburgers
Weems, (2016: 5) is van mening dat 'n mens wel langs die weg van liefde en hoop 'n nuwe toekoms vir almal kan skep. Met hierdie optrede kan 'n mens die raad van Spivak (2004:526) dat die nawerking van kolonialisme en die apartheidsbeleid ontwrig moet word, omseil. Die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes behoort op positiewe wyse hul nuwe - postkoloniale en post-apartheid - siening aangaande syn (die wese van dinge), die waarheid, die geskiedenis, kultuur en beskawing aan te wend om 'n beter begrip van hulself en hul landgenote op te bou. Hierdie benadering tot dekolonialiteit kom neer op 'n proses van geestelike en kulturele brugbou met ander landgenote.
Gevolgtrekking
Die benadering tot dekolonialiteit wat in die vorige afdeling van hierdie artikel geskets is, verskil sowel inhoudelik as kwalitatief van die dekolonialiseringsprogram wat die ander inwoners van die twee lande nastreef en volg, bloot omdat die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes aan die ander kant (die bevoordeelde kant) van die geskiedenis van die inwoners van Namibië en Suid-Afrika gestaan het, en na die koms van volle demokrasie nou ook weer aan "die teenoorgestelde kant" staan, en in sommige opsigte selfs gemarginaliseerd en benadeel voel. Weens die twee groepe se historiese posisies in die voor-demokratiese periode is dit verstaanbaar dat hulle twee inhoudelik en kwalitatief verskillende dekolonia-liseringstrategieë sal volg, dog met 'n gedeelde en gesamentlike doel: om vreedsaam saam te leef ter wille van 'n beter toekoms vir al die mense van hul onderskeie lande.
Dit het uit die ontleding van kolonialiteit hier bo en uit die daaropvolgende redenasie duidelik geword dat die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes in Namibië en Suid-Afrika inderdaad op 'n eie unieke manier ook kan en behoort te dekolonialiseer, dit wil sê, ontslae te raak van die geestes- en materiële bagasie van die koloniale verlede en die apartheidsverlede in hul lande. Omdat hulle destyds aan die bevoordeelde kant van die koloniale en apartheidsbedelings gestaan het, sal hulle die dekoloniseringsproses egter op 'n ander manier moet deurvoer en bestuur. Hulle staan tans voor die morele imperatief om oor die verdelende grense van die verlede tussen die verskillende bevolkingsgroepe in hul lande heen te reik, begrip te toon vir die sorge en die moontlikhede van diegene aan die ander kant van die rasse-, etniese, kulturele en selfs geslags- en gendergrense, om te gee vir diegene in nood en wat hulp benodig, en handreiking te doen soos en waar nodig.
References
- Alexander, H. 2010. Literacy and citizenship. In Raley & Preyer (eds). Philosophy of education in the era of globalisation. New York: Routledge. pp. 30-50.
- Ali, SM. 2016. A brief introduction to decolonial computing. XRDS: Crossroads, The AC Magazine for Students, 22(4):16-21.
- Almeida, S & Kumalo, SH. 2018. (De)coloniality through indigeneity: Deconstructing calls to decolonise in the South African and Canadian university contexts. Education as Change, 22(1):1-24.
- Ben-Porath, S & Smith, R.M. 2013. Varieties of sovereignty and citizenship. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.
-
Davies, A. 2021. On decoloniality: Concepts, analytics, praxis. Journal of Latin American Studies, 53(2):399-402. https://doi.org/10.1017/S0022216X21000274.
» https://doi.org/10.1017/S0022216X21000274 - De Lima Grecco, G. & Schuster, S. 2020. Decolonizing world history? A Latin American perspective. Journal of World History, 31(2):425-446.
-
De Lissovoy, N. 2020. Narrativas de Maestras(os) y normalistas en el giro decolonial. [Narratives of teachers and students in the decolonial turn]. TraHs No. 8. https://www.unilim.fr/trahs ISSN 2557-0633 (p. 2-4). [28 Maart 2024].
» https://www.unilim.fr/trahs - De Lissovoy, N. & Bailón, R O F. 2019. Coloniality. In Ford (ed). Keywords in radical philosophy and education. Leiden: Brill. pp. 83-97.
-
Eboka, T. 2022. Decolonising our pedagogical approach and improving outcomes for all students. Academia Letters, Article 5304. https://doi.org/10.20935/AL5304
» https://doi.org/10.20935/AL5304 - Fùnez-Flores, J. & Jupp, J. 2022. Decolonial discourse and practices: Geopolitical contexts, intellectual genealogies, and situated pedagogies. Educational Studies, 58(5/6):1-32.
- Grosfoguel, R. 2011. Decolonizing post-colonial studies and paradigms of political-economy: Transmodernity, decolonial thinking, and global coloniality. Transmodernity: Journal of Peripheral Cultural Production of the Luso-Hispanic World, 1(1):1-32.
- Jantjies, C. 2021. Dié 3 skryf oor wat hulle ken, maar nie hulself. Beeld, 21 Junie. (p. 18).
- Keating, C. 2019. Coloniality of knowledge, Ch'ixinakax utxiwa, and intercultural translation. Language, Culture and Society, 1(1):141-146.
- Le Cordeur, M. 2021. Wis ongelykhede só uit. Beeld, 6 Oktober. (p. 21).
- Maldonado-Torres, N. 2007. On the coloniality of being: Contributions to the development of a concept. Cultural Studies, 21(2-3):240-270.
- Mignolo, WD. 2007. Introduction: Coloniality of power and de-colonial thinking. Cultural Studies, 21(2-3):155-167.
- Miller, D. 2013. The idea of global citizenship. In Ben-Porath & Smith (eds.). 2013. Varieties of sovereignty and citizenship. Philadelphia: University of Pennsylvania Press. (pp. 227-243).
- Murray, D. 2022. The war on the West. London: HarperCollins.
-
Narayan, J. 2017. The wages of whiteness in the absence of wages: Racial capitalism, reactionary intercommunalism and the rise of Trumpism. Third World Quarterly, 1368012. https://doi.org/10.1080/01436597.2017.1368012
» https://doi.org/10.1080/01436597.2017.1368012 - Ndlovu-Gatsheni, SJ. 2019. Discourses of decolonization/decoloniality. Papers on Language and Literature, 55(3):201-226.
- Patterson, RN. 1999. No safe space. London: Arrow Books.
- Raworth, K. 2022. Doughnut economics. London: Penguin.
- Ribeiro, GL. 2023. From decolonizing knowledge to postimperialism. American Ethnologist, 2023:1-12.
- Richardson, T. 2012. Disrupting the coloniality of being: Toward de-colonial ontologies in philosophy of education. Studies in Philosophy and Education, 31:539-551.
- Ridley, M. 1996. The origins of virtue. London: Viking.
-
Sharma, BB. 2024. What are the differences between colonist, colonialist, and colonizer? https://www.quora.com/What-are-the-differences-between-colonist-colonialist-and-colonizer#:~:text=English%20words.,in%20favor%20of%20establishing%20colonies [29 Maart 2024].
» https://www.quora.com/What-are-the-differences-between-colonist-colonialist-and-colonizer#:~:text=English%20words.,in%20favor%20of%20establishing%20colonies - Sonnekus, S. 2024. Afrikaners: Ons is hier om te bly én te bou. Rapport, 21 April. (pp. 1-2.
- )
- Spivak, G C. 2004. An aesthetic education in the era of globalization. Cambridge: Harvard University Press.
- Stein, S, Andreotti, V, Susa, R, Ahenakew, C & De Souza, lM. 2020. Decoloniality and its discontents. Who decides? In whose name? For whose benefit? On Education. Journal for Research and Debate, 3(7):1-5.
- Urrieta, L & Calderón, D. 2019. Critical Latinx indigeneities: Unpacking indigeneity from within and outside of Latinized entanglements. Association ofMexican American Educators Journal, 13(2):145-174.
- Van der Westhuizen, G. 2024. Dis hoekom hy so baie van Afrikaners hou, sê EFF-leier. Beeld, 20 April. (p. 8).
-
Vanyoro, K P. 2019. Decolonising migration research and potential pitfalls: Reflections from South Africa. Pambazuka News, 17 Mei. https://www.pambazuka.org/print/100047?fbclid=IwAR3aEpzdPPr7609GMheJrOAgCYJOsqGnSM0aU0YS1zZX114mEvT6wuRj51 [18 Augustus 2019].
» https://www.pambazuka.org/print/100047?fbclid=IwAR3aEpzdPPr7609GMheJrOAgCYJOsqGnSM0aU0YS1zZX114mEvT6wuRj51 - Velez, ED & Tuana, N. 2020. Toward decolonial feminisms: Tracing the lineages of decolonial thinking through Latin American/Latinx feminist philosophy. Hypathia, 35:366-372.
- Vickers, E. 2020. Critiquing coloniality, "epistemic violence" and western hegemony in comparative education - the dangers of ahistoricism and positionality. Comparative Education, 56(2):165-189.
- Weems, L. 2016. Decolonial education at its intersections. In Peters (ed). Encyclopedia of educational philosophy and theory. Singapore: Springer Nature. (pp. 1-6).
-
Whyte, K. 2019. Too late for indigenous climate justice: Ecological and relational tipping points. WIREs Climate Change, 11(1):1-7. e603. https://doi.org/10.1002/wcc.603
» https://doi.org/10.1002/wcc.603 - Willemse, H. 2023. Rugby gewortel in die empaaier. Beeld, 20 September. (p. 8).
- Zille, H. 2021. #Stay woke go broke. S.l.: Obsidian Worlds.
Goedgekeur: 2024-09-08
Gepubliseer: Junie 2025
Johannes L van der Walt (Hannes), D.Ed., D.Phil., D.Ed. (Honoris Causa), is an Emeritus Professor of Philosophy and History of Education and former Dean of the Faculty of Education at the former Potchefstroom University. He is currently a specialist researcher at North-West University (South Africa), where he contributes to research and capacity-building programmes, including scholarly article writing seminars and courses on the philosophical foundations of science and education. He has authored eight textbooks and (co-)authored 240 peer-reviewed articles in nationally and internationally accredited journals. His research focuses on the philosophy and history of education, religion and education, and citizenship education.
1 Die term Globale Suide is problematies aangesien dit na groot gedeeltes van die aarde verwys en dit bring die gevaar mee dat die koloniale ervaringe en erfenisse van die mense in al daardie lande genivelleer (gelykgemaak, as eenders gesien en behandel) word (vergelyk Velez & Tuana 2020:371). Daarom, meen Fùnez-Flores en Jupp (2022:11), is die term eerder 'n metafoor vir die menslike lyding wat deur kolonialisme en kapitalisme oor die ganse wêreld veroorsaak is.
2 Dekolonialiseringstudies wentel om 'n hele aantal verwante begrippe. Om verwarring te voorkom word die volgende onderskeid in hierdie bespreking getref: Die term kolonis verwys na iemand wat sy of haar tuisland verlaat het om 'n inwoner (setlaar) in 'n kolonie van die moederland te word. Die term kolonialis het 'n omvattender betekenis: Dit verwys na die ideologie, beleide en praktyke wat te doen het met die vestiging en bestuur van kolonies. Kolonialiste is die praktisyns van kolonialisme en hul optrede behels die uitbuiting van die gekoloniseerdes en hul gebiede ter wille van die voordeel van die koloniserende moondheid. Hierdie term het 'n negatiewe konnotasie as gevolg van die historiese ongeregtighede, ongelykhede en lyding wat deur kolonialisme meegebring is. Die begrip koloniseerder verwys na 'n persoon of 'n entiteit wat die vorming van kolonies bestuur en bedryf (Sharma, 2024).
3 Velez en Tuana (2020:367, 368) gebruik 'n moeilik vertaalbare frase vir hierdie geestestoestand: "the deep imbrication of colonization". Hul gedagte is skynbaar dat kolonialiteit baie fasette van die lewe "oordek", onder meer die manier van kennisvorming.
4 Alle vertalings is deur die skrywer van die artikel gedoen.
5 Daar is natuurlik ook lede van die bedoelde groep wit Afrikaanssprekendes wat tans in haglike omstandighede woon. Die meer bevoorregtes moet ook in hul geval oorgrensdenke toepas en hulp verleen soos en waar hulle kan.
