REDAKSIE / EDITORIAL
Groetwoord Prof Ina Wolfaardt-Gräbe: Terugblik op 'n dekades lange betrokkenheid by die Tydskrif vir Geesteswetenskappe
Inleidend - nasionale en internasionale toeganklikheid
Terugskouend op my termyn as redakteur van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) besef ek dat die werk aan TGW-sake beslis veeleisend, maar tegelykertyd bevredigend was - veeleisend in die sin dat namate die tydskrif gegroei het, dit al hoe meer van my tyd in beslag geneem het, maar bevredigend omdat hierdie voortdurende betrokkenheid by 'n vakwetenskap-like tydskrif verrassend bevredigende resultate opgelewer het en dít ten spyte van 'n toenemend Afrikaansonvriendelike navorsingsomgewing. Trouens, een van die grootste struikelblokke waarvoor die redakteur van 'n Afrikaanstalige vaktydskrif te staan kom, is die volgehoue druk op Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal sedert 1994.
Desondanks het die TGW die afgelope twintig jaar gegroei tot 'n gesogte en gerespekteerde afsetpunt vir hoëvlaknavorsing in Afrikaans. 'n Nasionaal geakkrediteerde tydskrif wat reeds in die tagtigerjare van die vorige eeu deur die destydse Departement van Nasionale Opvoeding gesubsidieer is, is dit in die nuwe bedeling in 2009 deur ASSAf (Academy of Science of South Africa) geherevalueer en as 'n uitvloeisel daarvan genooi om op SciELO (Scientific Electronic Library Online) se platform geïndekseer te word. Dit was 'n belangrike geleentheid tot groei vir die TGW, aangesien alle toekomstige uitgawes, nie net in gedrukte vorm nie, maar ook aanlyn beskikbaar gestel sou word, met die voorneme om vorige jaargange van die tydskrif ook stelselmatig te digitiseer. Voorheen het Sabinet die reg verkry om, naas talle ander tydskrifte, ook die TGW digitaal beskikbaar te stel, maar wel teen betaling van voorheen slegs gedrukte materiaal.1
In 2017 het die TGW 'n besondere mylpaal bereik deurdat SciELO bekendgemaak het dat, van die ongeveer 70 Suid-Afrikaanse tydskrifte op hulle platform, die TGW in die tydperk 2007 tot 2017 onder die 10 mees gelese en mees gesiteerde vaktydskrifte ressorteer. Sedertdien is die aanvraag na navorsing wat in die TGW tereggekom het, ook bevestig in kennisgewings wat ASSAf aan redakteurs uitstuur na aanleiding van maandelikse verslae wat van Crossref ontvang word en waarin aangedui word "...which of all the ASSAf DOIs resolved the most the previous month". In April 2024 is byvoorbeeld aangedui dat 'n TGW-artikel die tweede meeste trefslae (922 teenoor die 931 van die mees gelese artikel) ontvang het;2 dit is opgevolg met 'n kennisgewing oor die Junie-statistiek, waarin André Wessels se artikel eerste (1 312 trefslae) en 'n artikel van nog 'n outeur, Charlene du Toit Brits, sesde (318 trefslae) geplaas is.3
SciELO, as die ASSAf-ondersteunde internasionale indeks,4 hou dus bepaalde voordele vir die TGW in: nie net is alle artikels sedert 2008 gratis aanlyn beskikbaar nie, maar nie-Afrikaanssprekende lesers kan, terwyl die PDF in Afrikaans gevolg word, terselfdertyd luister na 'n gelyktydige tolking uit 'n taal van hul keuse, waaronder Engels, Nederlands, Duits, Frans, Italiaans en enkele Afrikatale. Hierdie bykomende digitale beskikbaarheid het uiteraard die potensiële trefwydte van navorsing wat in die TGW gepubliseer is, beduidend uitgebrei.
Benewens die onteenseglike voordeel daarvan om deel van die SciELO-groep te wees,5word die TGW ook reeds sedert 2009 geïndekseer in die Social Sciences Citation Index van Thompson in die VSA en in Elsevier se Scopus in Nederland. Gegewe die status van hierdie twee indekse in die VSA en Europa is die internasionale sigbaarheid wat dit meebring, besonder waardevol vir die nasionale en internasionale aansien van die TGW.6
Die huidige status van die TGW kan gekontekstualiseer word deur my termyn as redakteur die afgelope 24 jaar (2001-2024), in perspektief te plaas deur onder meer te let op bepaalde akademiese, administratiewe en talige uitgangspunte van die vorige 40 jaar (1961-2000) waarop voortgebou kon word.7 Die Tydskrifvir Geesteswetenskappe bestaan reeds sedert 1961 en in 2011 kon Pieter Kapp, na aanleiding van die oorspronklike betekenis van die woord "akademie" as "'n plek van intellektuele besinning en aktiwiteite en van 'n waardering en bevordering van skeppende werk", besin oor die Tydskrif se "vyftig jaar diens aan die geesteswetenskappe" (Kapp, 2011:461).8 In 2019, in 'n terugblik op die 110-jarige bestaan van die SA Akademie, is bevestig dat die kerntaak van die Tydskrif steeds omskryf kon word as die publikasie van gehaltenavorsing in die geesteswetenskappe in Afrikaans.9 Die volgende redaksionele uitgangspunte het myns insiens bygedra tot die (voortgesette) publikasie van hoëvlaknavorsing in die TGW: enersyds 'n klem op gehalte en die gepaardgaande kundige beoordeling van enige bydrae as 't ware sonder aansien des persoons (en tans dalk ook veral sonder inagneming van enige NNS-gradering of dergelike erkenning); andersyds 'n klem op spanwerk, wat die samewerking en interaksie tussen kundiges uit verskillende dissiplines behels het ten einde akademiese uitmuntendheid (professionele taalversorging daarby inbegrepe) sowel as administratiewe doeltreffendheid te verseker. Hierdie hoofbedryfskomponente van die TGW word vervolgens van nader beskou.
Die Akademiekantoor en die administrasie van die Tydskrif
Verskillende administratiewe modelle om die Tydskrifte bedryf, is deur die Akademie beproef: 'n voltydse publikasiebeampte in die Akademiekantoor (SATNT en TGW); 'n ineengevlegte model van redakteurs- en administratiewe pligte (TGW) en uitkontraktering aan eksterne manuskripbestuurders soos AOSIS (African Online Scientific Information Systems) en later Medpharm (SATNT).
Publikasiebeampte in die Akademiekantoor
Ná meer as twee dekades van samewerking, kan mens nie anders as om die deurslaggewende rol van die Akademiekantoor uit te sonder nie - die selfgemotiveerde, toegewyde personeel wat die kantoor beman, is en bly steeds volgens my waarneming die spilpunt vir die suksesvolle beplanning en uitvoering van opeenvolgende akademierade se idees en inisiatiewe. Dit geld by uitstek ook vir die administrasie en bedryf van die twee vaktydskrifte, die Suid-Afrikaanse Tydskrifvir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) en die Tydskrifvir Geesteswetenskappe (TGW).
Selfs voordat ek in 2001 versoek is om die redakteurskap van die TGW oor te neem, het die Tydskrif al 'n trotse reputasie gehad as 'n vaktydskrif wat gereeld en veral betyds verskyn. Om hierdie prestasie na behore te beoordeel, moet 'n mens onthou dat dit vermag is lank voordat tegnologiese ontwikkeling die administrasie, oftewel manuskripbestuur in hedendaagse jargon, vergemaklik het. Outeurs moes artikels in triplikaat per landpos aan die Akademie-kantoor lewer - een kopie vir rekordhouding en twee vir versending aan keurders; bowendien moes die SA Akademie se publikasiebeampte enige en alle korrespondensie tik en per landpos versend. En tog kon mev. Lily Pretorius jare lank toesien dat die TGW vier keer perjaar gedruk en per pos versend word aan onder meer intekenare en pligbiblioteke (nasionaal en inter-nasionaal). Sy het pligsgetrou die hele proses, van die ontvangs en verdere hantering van artikels tot die publikasie daarvan, in 'n netjiese, leesbare handskrif opgeteken in 'n A4-hardebandboek. Dat die Akademiekantoor daarin kon slaag om die TGW van 1961 tot en met 2000 driemaandeliks gereeld en betyds in gedrukte vorm aan intekenare en ander belang-hebbendes beskikbaar te stel, is des te merkwaardiger as in aanmerking geneem word dat die heersende tendens in die akademiese omgewing eerder was dat die akademiese vaktydskrifte gereeld laat verskyn het. 10
Een van die publikasiebeamptes wat mev. Pretorius ná haar aftrede opgevolg het, mev. Lanie van Kradenburg, kon die hele stelsel elektronies herorganiseer en die administratiewe proses sodoende aansienlik vergemaklik en bespoedig. In samewerking met die Akademie-kantoor het V&R Drukkers gesorg vir die finale produk. Trouens, danksy Elzabé Vosloo se onberispelike rekord van betroubaarheid was dit moontlik om die prestasie van 'n vakwetenskaplike tydskrif wat gereeld vier keer per jaar betyds verskyn, tot op hede te handhaaf.
Ineengevlegte model
'n Unieke model, waarvolgens akademiese en administratiewe funksies deur die hoofredakteur behartig word, is vervolgens beproef. Gegewe die TGW se eksponensiële groei behoort dit duidelik te wees dat hierdie model suksesvol was.
Hoe het dit gebeur en wat is die voor- en nadele van hierdie model?
Die aanleiding was 'n toevallige sameloop van omstandighede: Die destydse HUB wou meer bekostigbare maniere om die tydskrifte te bedryf ondersoek en as nuutafgetredene het ek tyd gehad om iets anders te beproef. Die voor- en nadele van die model sal telkens ter sprake kom in verdere onderafdelings oor sowel die administratiewe as die akademiese komponente daarvan.
Ná die vertrek van Lanie van Kradenburg in 2007 wou prof. Jacques van der Elst, toenmalige Hoof- Uitvoerende Beampte van die Akademie, vasstel of dit moontlik sou wees om kostebesparing teweeg te bring deur nie weer 'n voltydse publikasiebeampte aan te stel nie. Hy het my daarom versoek om die administrasie van die twee tydskrifte "as eksperiment" vir ten minste een jaar te behartig. Hierdie "eksperiment" het omtrent drie jaar geduur vir albei tydskrifte, totdat die SATNT 'n tyd lank aan AOSIS toevertrou en daarna na Medpharm oorgeplaas is. Sover dit die TGW betref, het die "eksperiment" egter tydens my termyn as redakteur voortgeduur, en kon ek gelukkig Lanie van Kradenburg se elektroniese stelsel sonder te veel inspanning benut tot en met die afhandeling van die nuutste temanommer in Maart 2025.
Danksy goeie samewerking met Elzabé Vosloo van V&R Drukkers en ook met die nodige ondersteuning van die Akademiekantoor kon die administratiewe verpligtinge redelik pynloos aangepak en uitgevoer word.
Vir die TGW se internasionale indeksering is die gereelde en tydige verskyning van die tydskrif onontbeerlik. Deesdae is so iets al makliker haalbaar weens die ontwikkeling en verfyning van die tegnologie, asook die feit dat die elektroniese weergawes onmiddellik versend kan word, maar toe ek aanvanklik as redakteur aangestel is, moes Elzabé nog die galeiproewe by my laat aflewer11 en sy en Marietjie Botha, vorige finansiële beampte in die Akademiekantoor, het selfs een jaar kort duskant Kersfees by die hoofposkantoor tougestaan om toe te sien dat die gedrukte kopieë van die Desembernommer betyds in onder meer die VSA en Nederland besorg word.
Ondersteuning vanuit die Akademiekantoor bly steeds onontbeerlik vir die voortgesette publikasie van die TGW. Benewens allerlei administratiewe take, soos die hantering van bladgeldfakture12 en die versending van outeurs se komplimentêre kopieë van die gedrukte TGW vier keer per jaar (deesdae is Hanlie Willemse daarvoor verantwoordelik), kan mens steeds in enige denkbare krisis staatmaak op die bereidwillige bystand van Akademiepersoneel. Een voorbeeld uit talle: Tydens die onlangse afhandeling van gasredakteurs Nerina Bosman en Wannie Carstens se lywige temanommer oor Afrikaans as amptelike taal, moes ek dr. Annelise de Vries, die huidige HUB, op 'n Saterdagoggend van Wildernis af skakel toe ek skielik nie internettoegang gehad het nie. Sy het mnr. Neels du Plooy (clicksupport) in die hande gekry en hy het my telefonies gekontak, die probleem "afstandelik" opgelos en weer die volgende oggend (Sondag ofte nie) verduidelik hoe ek die internetprobleem as 't ware permanent kon pypkan. Nodeloos om te sê: Daarsonder sou selfs Elzabé die haas onmoontlike moes vermag om die Maart 2025-nommer steeds betyds by wyse van spreke "op die rakke te hê".13
Afgesien van die gereelde verskyning daarvan, het die TGW ook geleidelik toegeneem in volume. Terwyl die omvang aanvanklik weens kosteoorwegings beperk is tot 80 bladsye per uitgawe, met ander woorde 320 bladsye per jaargang, kon die TGW veral sedert 2007 geleidelik groei: In 2011, met die viering van die Tydskrif se 50ste bestaansjaar, was die totale aantal bladsye reeds 778 - dít onder meer weens 'n lywige temanommer van 323 bladsye ter herdenking van dié 50-jaarmylpaal. Die Tydskrif het steeds bly groei en sedert 2016 word 'n gemiddeld van 1 000 bladsye per jaargang gehandhaaf; dit wissel van tussen 700 en 800 bladsye in sommige jare (2019, 2022, 2024) tot 1 037, 1 410 en 1 421 bladsye in meer produktiewe jare (2020, 2021, 2023).
Verskeie redes kan waarskynlik aangevoer word vir hierdie verrassend positiewe uitkoms indien die steeds toenemende druk op Afrikaans as wetenskapstaal in ag geneem word. Belangrik is eerstens dat, omdat prof. Jacques van der Elst 'n beduidende borgskap van die Louis Hiemstra Trust kon bekom vir die druk van die twee tydskrifte, die beperking op die aantal bladsye weggeval het. Verder het die steeds harmoniese samewerking met die Akademiekantoor en V&R Drukkers, met inbegrip van tegnologiese ontwikkelinge wat administratiewe take vergemaklik en bespoedig het, die hantering van 'n veel substansiëler aanbod van bydraes moontlik gemaak.
Alles in ag genome, is ek egter van mening dat dit juis die ineengevlegte model is wat deurslaggewend was in die opgang van die TGW as 'n gerespekteerde afsetpunt vir hoëvlaknavorsing in Afrikaans. Die ineenstrengeling van administratiewe en akademiese verantwoordelikhede wat normaalweg geskei word, maar vir ongeveer twee dekades in een persoon gesetel was, het beslis vrugte afgewerp. Trouens, 'n mens sou die interaksie tussen akademiese en administratiewe verpligtinge kon interpreteer as wedersyds verrykend: Enersyds het die akademiese inspuiting in administratiewe take moontlik gelei tot 'n groter bereid-willigheid by akademiese rolspelers (outeurs, keurders, gasredakteurs en redaksielede) tot samewerking, aangesien versoeke, probleme, aanbevelings en voorstelle deurgaans persoonlik, sonder 'n administratiewe tussenpersoon, gekommunikeer kon word; andersyds het my grondige kennisname van en groter begrip vir die aard en omvang van administratiewe verpligtinge ook my redakteurstake ten goede gekom. Veral my ekstraredaksionele verpligtinge ten opsigte van sowel die manuskripbestuur as die finale kontrole van die taalversorging en proeflees, het my in staat gestel om nie alleen te waak oor die gehalte van die eindproduk nie, maar ook om die akademiese beplanning vir die langer termyn veel effektiewer uit te voer.
Eksterne manuskripbestuurders: AOSIS en Medpharm
Nadat die administrasie van die SATNT vir ongeveer drie jaar deel gevorm het van die ineengevlegte model wat vir die TGW gevolg is, het prof. Kobus Eloff, die toenmalige redakteur van die SATNT, versoek dat die Akademie oorweging skenk aan 'n aanlyn manuskrip-bestuursmodel. Hy was van mening dat, gegewe die nasionale en internasionale fokus op oop toegang en oombliklike gratis beskikbaarstelling van navorsing, so 'n model die SATNT se aansoek om internasionale indeksering sou kon bespoedig. Daar is voorts oorweeg om dieselfde model vir die administrasie van die TGW te beproef en dr. Pierre de Villiers het tydens 'n voorlegging by die Akademiekantoor op 23 Mei 2013 voorgestel dat die manuskripbestuur van die TGW ook aan AOSIS toevertrou moes word.
Hierdie vergadering is bygewoon deur verteenwoordigers van die Akademiekantoor (die HUB, dr. Dionë Prinsloo, en die finansiële beampte, mev. Marietjie Botha), asook verteen-woordigers van die Akademie se twee vaktydskrifte, naamlik die SATNT (proff. Kobus Eloff en Kobus Maree) en die TGW (proff. Jacques van der Elst en Ina Wolfaardt-Gräbe). Soos reeds genoem, is die SATNT se manuskripbestuur in daardie stadium reeds deur AOSIS behartig en dr. De Villiers het in sy voorlegging benewens 'n uitvoerige verslag oor die diens aan die SATNT ook 'n voorstel ter tafel gelê dat die bestuur en administrasie van die TGW vanaf 2014 deur AOSIS oorgeneem word. Dit het die volgende implikasies vir die TGW ingehou:
• Die tydskrif sal nie meer kwartaalliks in gedrukte vorm verskyn nie, maar artikels sal deurlopend elektronies beskikbaar gestel word sodra die keuringsproses afgehandel en die goedgekeurde artikel finaal geredigeer is.
Voordeel: Onmiddellike elektroniese publikasie van individuele artikels.
Nadeel: Gedrukte formaat verskyn slegs een keer per jaar en is nie lesersvriendelik nie.
• Die administrasie van en beheer oor kopie word deur AOSIS hanteer, insluitende: ontvangs van artikels, hantering van alle aspekte van die evalueringsproses (uitstuur van manuskripte aan keurders en terugvoering aan outeurs) en redigering van goedgekeurde artikels.
Voordeel: Die Akademie hoef nie vir hierdie funksies afsonderlik te begroot nie.
Nadeel: Gehaltebeheer van alle aspekte van die Tydskrif berus nie meer by die redakteur nie, maar word deur 'n buite-instansie bestuur, of ten minste gemedieer.
Tydens die bespreking is daarop gewys dat AOSIS ongetwyfeld 'n doeltreffende diens aan die SATNT gelewer het deur aansoek te doen om internasionale indeksering vir laasgenoemde te bekom. In my hoedanigheid van redakteur van die TGW het ek egter daarop gewys dat die Tydskrif reeds sedert 2009 op toonaangewende internasionale indekse soos Thompson Reuters (VSA) se Social Sciences Citation Index en Elseviers (Nederland) se Scopus geïndekseer is en bowendien die bykomende voordeel van gratis aanlyn inkorporering op SciELO, ASSAf se voorkeurindeks, geniet.
AOSIS se aanbod om ook die TGW se manuskripbestuur te behartig, is op grond van bogenoemde motivering nie by die Akademieraad aanbeveel nie. Hierdie saak het egter daarna in die loop van 2014 ook op die agenda van 'n Raadsvergadering van die Akademie gedien, waartydens dr. De Villiers sy versoek om die TGW se manuskripbestuur oor te neem persoonlik op die Raadsvergadering gestel het. Ná indringende bespreking is besluit om te volstaan met die aanbeveling van die komitee om nie die TGW ook na AOSIS oor te plaas nie.
Akademiese gehalte
Die akademiese komponent vereis spanwerk tussen verskeie rolspelers - van die redakteur en redaksielede, tot gasredakteurs, keurders en outeurs. Afsonderlik en gesamentlik is dit die hoofverantwoordelikheid van die verteenwoordigers van elk van hierdie komponente om te waak oor die gehalte van hoëvlaknavorsing in Afrikaans:
• Die akademiese statuur van die redaksie verleen gesag aan hulle toesigrol -vakspesialiste in eie reg, is daar benewens agt ontvangers van pryse vir die beste artikel(s) (Esther Greeff/Jacques van der Elst en ATKV) ook ses Jan H Marais-pryswenners in die redaksie;
• die publikasie van verskeie temanommers, of ook afdelings binne uitgawes, getuig van die beduidende bydrae van gasredakteurs tot die opgang van die TGW ten opsigte van sowel kwantiteit (omvang) as kwaliteit (gehalte);
• 'n uitgebreide en uitgesoekte keurderspaneel, dikwels aanbeveel deur redaksielede of ander kundiges wat spesialiste op 'n bepaalde terrein voorstel, sorg vir insigryke, konstruktief-kritiese verslae, wat uiteindelik uitmond in meestal substansieel bygewerkte bydraes; en
• gevestigde sowel as ontluikende navorsers wat steeds óók in Afrikaans publiseer, regverdig die bestaansreg van die TGW as vakwetenskaplike tydskrif vir hoëvlaknavorsing in Afrikaans.
Op grond van die samewerking tussen bogenoemde rolspelers, kon die doeltreffende administrasie van die TGW geëwenaar word deur akademiese gehalte - vandaar byvoorbeeld Pieter Kapp se positiewe oordeel oor die TGW se "vyftig jaar diens aan die geesteswetenskappe" (2011:461-471). Soos blyk uit sy navorsing, het die totstandkoming van die Akademie se twee tydskrifte gevolg op 'n 1960-raadsbesluit "... om die naam Fakulteit Taal, Lettere en Kuns na Fakulteit Kuns en Geesteswetenskappe te verander en om terselfdertyd met sy gesaghebbende Tydskrif vir Geesteswetenskappe en die Tydskrif vir Natuurwetenskappe in 1961 te begin" (Kapp, 2011:463). Hy lys die redakteurs, oftewel voorsitters van die redaksie, tot 2011 en merk op dat daar slegs een manlike redakteur was. Dit is 'n gegewe wat steeds geld, soos blyk uit die lys van redakteurs van 1961 tot op hede: prof. PJ Nienaber (1961-1969), prof. Elize Botha (1970-1976), prof. Edith Raidt (1977-2000), prof. Ina Wolfaardt-Gräbe (2001-2024) en prof. Nerina Bosman (2025 - ...).
Die redaksiebeleid het uit die staanspoor die waarde van gehalteartikels vooropgestel, soos gerapporteer in die notule van die heel eerste redaksievergadering van die TGW op 29 Oktober 1960:
... [daar is] in beginsel besluit dat die tydskrif net in artikels van akademiese meriete belangstel en [daar] is uit die staanspoor bepaal dat elke artikel aan twee keurders voorgelê sou word. Indien hulle nie saamstem nie sal 'n derde keurder as arbiter aangewys word. Keurders sou £1 vir hulle werk ontvang - skrywers sou geen vergoeding kry nie. (Kapp, 2011:463)
Die beginsel dat slegs artikels "van akademiese meriete" geplaas word en dat elke artikel onderwerp moet word aan 'n kritiese lees deur ten minste twee keurders, geld steeds vir die TGW.14 Bykomend hierby word keurders soms versoek om die krities-konstruktiewe aanbevelings in keurdersverslae uit te brei tot 'n meningstuk of selfstandige artikel ten einde debat oor verskillende uitgangspunte aan te moedig. Hierdie uitvloeisel van genuanseerde en insigryke keuring, naamlik dat toekomstige navorsers toegang het tot verskillende standpunte (dié van sowel die outeur as van een of meer keurders), stimuleer kritiese denke oor byvoorbeeld kwessies soos terminologie en teoretiese uitgangspunte met betrekking tot bepaalde tendense binne dissiplines. So byvoorbeeld is kommentaar op artikels oor padbouprojekte (2019), ekologie en letterkunde (2018) en Brexit en die nagevolge daarvan (2019) saam met die artikels geplaas. Soos reeds genoem, volg die TGW hiermee die heersende internasionale tendens om deur die gelyktydige publikasie van artikels en substansiële keurdersverslae navorsers onmiddellik aan verskillende gesigspunte oor bepaalde denkrigtings bloot te stel. Dit ondersteun terselfdertyd die huidige uitgangspunt van die TGW om debat en diskoers oor enige en alle belangwekkende vraagstukke - benader vanuit verskillende dissiplines, of bekyk vanuit verskillende invalshoeke van dieselfde dissipline - aan te moedig. In hierdie verband is die debat oor staat en samelewing met politieke kommunitarisme as fokus (2016 en 2017), sowel as die onlangse diskoers oor die (on)versoenbaarheid van godsdiens en wetenskap (2023 en 2024) meer uitgebreide voorbeelde van die inkorporering van teenoorstaande standpunte.
Uit die voorgaande behoort dit duidelik te wees dat die voortgesette lewensvatbaarheid van die TGW afhang van die betrokkenheid van sowel outeurs as keurders - sonder voldoende bydraes deur die talle outeurs wat hulle navorsing óók aan die TGW toevertrou, sou die Tydskrif vanselfsprekend geen bestaansreg hê nie; en sonder die aandeel van kundige keurders wat ten koste van hulle eie navorsing tyd inruim om kritiese kommentaar te lewer op die werk van medenavorsers, sou die gehalte van bydraes nie gewaarborg kon word nie. Verreweg die belangrikste uitkoms van die interaksie tussen outeurs en keurders is juis dat artikels wat uiteindelik geplaas word, sonder uitsondering bygewerk kon word na aanleiding van keurdersverslae. In die praktyk lei hierdie proses van konstruktief-kritiese lees deur twee of meer kundige keurders, die gevolglike bywerking van bydraes aan die hand van keurders-kommentaar en die herlees (soms herkeuring) daarvan meestal tot een van die volgende: i) publiseerbare artikels deur gevestigde navorsers kan uiteindelik as uitstekende artikels geëvalueer word en selfs in aanmerking geneem word vir een of meer van die jaarlikse pryse vir die beste artikel wat in 'n bepaalde jaar in die TGW gepubliseer is; en ii) die bydraes van ontluikende navorsers word soms eers ná twee jaar deur keurders as "goed/uitstekend" - en dus publiseerbaar - bevind (dit is meesal artikels wat uit die betrokke outeur se M- of D-studie voortspruit en wat in samewerking met die promotor voorgelê word).
Navorsing in en oor Afrikaans: Individuele bydraes en temanommers
Artikels wat in die TGW teregkom, kan breedweg onderskei word as navorsing in Afrikaans teenoor navorsing oor Afrikaans. Waar navorsing oor Afrikaans hoofsaaklik toegespits is op Afrikaanse taal- of letterkunde, of ook die belangrikheid van Afrikaans as onderwys- en wetenskapstaal, betrek navorsing in Afrikaans in beginsel alle dissiplines in die geesteswetenskappe. Gegewe die spanning en onsekerheid oor die voortbestaan van Afrikaans as onderwys- of wetenskapstaal, is die belangrikheid van navorsing oor Afrikaans verstaanbaar. Daarenteen blyk die veerkragtigheid van Afrikaans as wetenskapstaal juis uit navorsing oor aktuele samelewingsvraagstukke wat steeds in Afrikaans aangebied word.
'n Vakwetenskaplike tydskrif wat geléés sal word, moet, benewens akademiese gehalte, ook navorsingsbydraes aanbied wat relevant en aktueel is. Gegewe die interdissiplinêre aard van die TGW, is die artikels oor verskillende temas en vanuit verskillende kennisgebiede nie noodwendig tersaaklik vir alle navorsers nie.15 In teenstelling met spesialisvaktydskrifte laat die diverse bydraes in TGW-uitgawes dikwels 'n diffuse indruk van losstaande menings. Om daardie rede het 'n temanommer oor die Anglo-Boereoorlog,16 met prof. Fransjohan Pretorius as gasredakteur, onmiddellik my belangstelling as leser gewek. Ek het dus hierdie praktyk in die TGW verder gevoer en telkens, wanneer dit nodig was om bydraes te werf, gereeld op gasredakteurs gesteun om spesiale temanommers saam te stel.
Individuele artikels is normaalweg die uitvloeisel van gespesialiseerde navorsing deur een outeur, of hoogstens twee of drie outeurs, terwyl temanommers die resultaat van kritiesvergelykende besinning oor geteikende onderwerpe of vakdissiplines deur meerdere kundiges uit 'n bepaalde vakgebied, of selfs verskillende dissiplines behels. Hiervolgens kan onderskei word tussen twee tipes temanommers: Aan die een kant word spesialisonderwerpe vanuit meerdere gesigspunte binne 'n bepaalde dissipline belig, terwyl kernprobleme in die samelewing aan die ander kant vanuit verskillende vakdissiplines beredeneer word. Tot die eerste groep behoort byvoorbeeld die huldigingsuitgawes oor Stefans Grové deur musikoloë, en oor TT Cloete en NP van Wyk Louw deur letterkundiges, literatuurwetenskaplikes, taalkundiges en digters; ook die temanommers oor drama, die byderhandprojek (gedigte in brailleskrif, gemonteer op beeldhouwerke, ten einde gesiggestremdes en blindes in staat te stel om die tekste te enigertyd "byderhand" te hê) en ontlaering deur letterkundiges en literatuurwetenskaplikes. Ingeslote hierby is ook die werk van Afrikaanse taalkundiges en taalwetenskaplikes in onder meer die uitgawes oor Afrikaanse werkwoorde en werkwoordkonstruksies, die ondersoek na meertalige leksikale items (opgedra aan Nerina Bosman), die huldeblyke aan Ernst Kotze as meestertaalkundige en poliglot, die besinning oor die aard en voortbestaan van Afrikaans, asook die bestekopname van die herdenkings van die 90-jarige bestaan van die Taalmonument of die 100-jarige bestaan van die Taal- en die Letterkundekommissie van die Akademie deur sowel taal- as letterkundiges, of, les bes, die mees onlangse temanommer oor Afrikaans as amptelike taal.
Daarenteen word temas soos samelewingsprobleme en kwesbaarheid in die samelewing, filosofie as aktualiteitsanalise (opgedra aan Marinus Schoeman), die herdenking van die nalatenskap van Hegel, die rol van universiteite, digitalisering van die media, of die 2020-Bybelvertaling benader vanuit verskeie vakdissiplines, van filosofie en politieke wetenskap tot kommunikasiekunde en teologie/godsdienswetenskap.17 Dit is waarskynlik geregverdig om te konstateer dat dit die inisiatief en toewyding van talle gasredakteurs is wat beduidend daartoe bygedra het dat die TGW algaande kon uitgroei tot 'n gerespekteerde afsetpunt vir spesialisnavorsing oor interessante en aktuele temas.18
Afrikaans as wetenskapstaai
'n Tweede saak wat van meet af as kernuitgangspunt in die TGW geld, is die keuse van die taalmedium. Hieroor merk Kapp (2011:464) op dat die TGW van die begin af onomwonde besluit het om slegs artikels in Afrikaans of Nederlands te plaas, vergesel van 'n kort opsomming in Engels, terwyl die SATNT ook artikels in Engels ontvang het, vergesel van 'n opsomming in Engels, Frans of Duits. Alhoewel 'n langer en vollediger Engelse opsomming ("Abstract") ter wille van groter internasionale blootstelling tans vir TGW-artikels vereis word, geld die bepaling van publikasie in uitsluitlik Afrikaans of Nederlands steeds. Trouens, bogenoemde genotuleerde besluite op 'n redaksievergadering in 1960 verteenwoordig 'n kernuitgangspunt vir publikasie in die TGW, naamlik: Die bevordering van gehaltenavorsing in Afrikaans met die gepaardgaande uitbouing van Standaardafrikaans as wetenskapstaai in hoëvlaknavorsing.
Dat die instandhouding en verdere uitbouing van Standaardafrikaans geensins 'n vanselfsprekende gegewe is nie, blyk uit die toenemende druk op Afrikaans as wetenskapstaai sedert 1994, wat onvermydelik gelei het tot 'n drastiese afname in wetenskaplike publikasies in Afrikaans. Hierdie gegewe is reeds in 2005 deur middel van 'n statistiese analise deur Johann Mouton19 aangedui en pas weer bevestig in die jongste temanommer van die TGW, waarin verskeie aspekte van Afrikaans - óók as wetenskapstaal - indringend ondersoek word.20
Dit gaan egter nie slegs om die aantal Afrikaanse artikels wat steeds in vakwetenskaplike tydskrifte teregkom nie, maar ook om die agteruitgang van die taal. Tydens 'n strategiese sessie van die Akademieraad in 2012 is reeds kommer uitgespreek oor die gehalte van Afrikaans as wetenskapstaal. Afgesien van die gegewe dat al hoe meer Afrikaanssprekende navorsers in Engels publiseer, is 'n leemte ten opsigte van die skepping van Afrikaanse vakterminologie geïdentifiseer: Omdat daar skynbaar nie tred gehou is met nuwe ontwikkelings in verskeie dissiplines nie, is daar dikwels 'n neiging om die Afrikaanse term so na as moontlik aan die Engelse ekwivalent te hou. Alhoewel hierdie praktyk moontlik kommunikasie tussen vakgenote bevorder, geskied dit nietemin ten koste van die gebruik van Afrikaans in sy sogenaamde "hoëvlakfunksies". Ten einde hierdie probleem te ondersoek, is daar op 'n Akademie-raadsvergadering in 2013 besluit om 'n werkgroep saam te stel om die gehalte van Afrikaans as wetenskapstaal, by name in die geesteswetenskappe, daadwerklik te bevorder. Daar is aanbeveel dat die werkgroep saamgestel word uit sowel taalspesialiste as kundiges uit verskillende dissiplines en dat die redaksie en redaksionele adviesraad van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe formeel by daardie inisiatief betrek word. Daar is verder pertinent daarop gewys dat ten einde moontlike stagnering (of selfs verswakking) van Afrikaans op tersiêre vlak te voorkom, oplossings gevind moes word om die moontlikhede van Afrikaans vir alle vakgebiede deurlopend te ontgin.21
In 'n artikel met die veelseggende titel "Moet 'n mens Engels ken om Afrikaans te verstaan?" het Tom McLachlan die volgende probleem uitgelig, wat myns insiens ook (miskien verál) betrekking het op wetenskapstaal:
Nog gevaarliker [as die gebruik van Engelse woorde in Afrikaanse gesprekke en onderhoude in die openbare media] is die inkleding van wesenlik Engelse segswyses in Afrikaanse woorde, waardeur die skyn van Afrikaansheid gewek maar idiomatiese Afrikaans verdring word.22
Dit is juis op grond van bogenoemde standpunt dat ek Tom McLachlan uitgenooi het om as taaladviseur in die redaksie van die TGW te dien.
As die belangstelling in aktuele navorsingstemas van die TGW 'n veelgelese vakwetenskaplike afsetpunt gemaak het, is die respek wat die TGW as Afrikaanse vaktydskrif kon bereik, te danke aan talle taalpraktisyns wat moet toesien dat die vereiste van vooraftaalver-sorgde tekste nagekom word. Hierdie vereiste is reeds in 2007 deur prof. Jacques van der Elst ingestel toe dit geblyk het dat te veel van die publikasiebeampte se tyd deur taalversorging in beslag geneem word. In die praktyk behels taalversorging voordat artikels aan die TGW voorgelê word, dat ten minste die basiese skryfwyseriglyne in die AWS gevolg word. Bykomend hiertoe het Tom McLachlan se toetrede tot die redaksie - benewens sy interessante en insigryke Taalrubrieke - daartoe gelei dat talle outeurs wie se tekste deur hom onder hande geneem is, kon getuig van die waarde wat helder formulering vir die kommunikasie van gesofistikeerde navorsing inhou. Dr. Johann Beukes, een van die mees bekroonde TGW-outeurs,23 het hom tydens die oorhandiging van een van die ATKV-pryse in Nederland soos volg uitgelaat oor Tom McLachlan se hulp om die betrokke artikels persklaar te maak:
Een van de grote uitdagingen waarvoor ik me geplaatst zie, ook weer bij deze twee artikelen, is om een Afrikaans vakjargon over de middeleeuwen te ontwikkelen dat niet direct uit het Nederlands komt, maar dat wel het Germaanse karakter van het Afrikaans als taal in bescherming neemt. Het Nederlands is coulanter ten aanzien van het Engels en latinismen dan het Afrikaans. Bij mijn manuscripten moet de eindredacteur ervoor waken dat ik de Latijnse begrippen niet klakkeloos ver-Afrikaans, maar dat ik creatief te werk ga in deze prachtige jonge taal, die wordt gevoed door het Nederlands maar die ook getogen is in Zuid-Afrika.
Hy het verder opgemerk dat die prys vir hom "'n werklik bemoedigende en inspirerende erkenning" is van die werk wat hy in Middeleeuse filosofie doen om daardeur by te dra tot die skep van 'n grondige vakregister vir die dissipline in Afrikaans. Hierdie uitspraak verteenwoordig myns insiens die beste moontlike uitkoms van gesofistikeerde navorsing wat gerugsteun word deur professionele taalversorging.
Die Akademieraad
Niks van bogenoemde vordering sou moontlik gewees het sonder die ondersteuning van mense in besluitnemingsposisies wat moet sorg vir onder meer die ekonomiese volhoubaarheid van navorsingsprojekte soos die TGW nie. Deur die jare het verskeie persone in die Akademieraad toegesien dat inisiatiewe betreffende die TGW deurgevoer en die Tydskrif volhoubaar bedryf kon word. Ek sonder graag enkele persone uit: wyle prof. Jacques van der Elst, wat tydens sy termyn as HUB borgskappe vir die druk van die Akademie se tydskrifte by die Hiemstra Trust kon beding en ook allerlei alternatiewe vir die bedryf van die tydskrifte bedink het, byvoorbeeld die ineengevlegte model vir die TGW. Ook prof. Oppel Greeff, vorige voorsitter van die Akademie, op wie se ondersteuning en goeie advies ek altyd kon staatmaak. Die Esther Greeff-prys (later hernoem tot die Jacques van der Elst-prys), wat toegeken word vir die beste artikel wat in die betrokke jaar in die TGW gepubliseer is, kon in 2012 op my versoek ingestel word nadat prof. Oppel Greeff aangebied het om die prys te borg.
Interaksie van die redakteurs met die Akademieraad
Die vaste redakteurs van die twee Akademie-tydskrifte is ex officio-lede van die Raad en kan dus voortdurend sake van belang onder die aandag van die Raad bring. Ek sonder graag twee tersaaklike besluite uit:
Hier bo is reeds verwys na AOSIS se aanbod om die TGW se manuskripbestuur oor te neem. Op 'n Raadsvergadering in 2014 moes die waarde van die ineengevlegte model van redakteurs- en administratiewe verpligtinge opgeweeg word teen die voorgestelde aanlyn model vir die tydskrifte in die AOSIS-stal. Enkele aspekte wat op die vergadering bespreek is, word hier onder genoem:
AOSIS se mening:
Dr. Pierre de Villiers was van mening dat aanlyn publikasie veel beter was as die praktyk wat deur "ou styl"-tydskrifte gevolg is. Volgens hom was dit "werklik betef' om 'n enkele "rollende" (lees: lopende) uitgawe per jaar uit te bring. Die hele jaargang (volume) word as 'n enkele uitgawe hanteer en artikels word gepubliseer sodra hulle gereed is. Aan die einde van die jaar word 'n enkele gedrukte bundel gebind en versprei aan die intekenare of lede wat dit gratis ontvang.
Wat internasionale indeksering betref, het hy voorts verduidelik dat die indekseerders bloot ingelig word dat die tydskrif oorgeskakel het na 'n enkele lopende uitgawe (in die geval van die TGW dus een gedrukte weergawe in plaas van die gebruiklike vier). Daarna is gereelde publikasie van artikels (weekliks, maandeliks) die enigste maatstaf. Hy het bygevoeg dat die vereiste "kopskuif" om vele uitgawes te staak, goed gewerk het by SATNT, wat voor 2011 vier uitgawes per jaar gehad het.
In my hoedanigheid van redakteur van die TGW het ek aangedui dat die vier uitgawes per jaar verkieslik is, veral betreffende spesiale uitgawes, waar dit belangrik is dat enkelartikels saamgevoeg word binne 'n groter samehangende tema. Ek het ook daarop gewys dat al hoe meer tegniese bepalings toegepas moet word om te verseker dat enkelartikels opspoorbaar sal wees in die digitale ruimte, soos byvoorbeeld DOI's en ORCID's. Bowendien was daar 'n kernverskil tussen die twee bedryfsmodelle sover dit die handhawing van die gehalte van artikels betref: digitale, lopende publikasie fokus op hoe snel 'n spesifieke artikel deur die hele proses gevoer kan word, van ontvangs tot die digitale publikasie daarvan. In die TGW-stelsel gaan dit egter om hoe goed die eindproduk is wat digitaal of in druk verskyn en minder om hoe snel die prosessering daarvan afgehandel kan word.
Ek het ook genoem dat die TGW myns insiens voldoen aan die SA Akademie se tweeledige doelstelling van die bevordering van die wetenskap en die bevordering van Afrikaans. Juis die ineengevlegtheid van die TGW-model lei daartoe dat die redakteur (in samewerking met die redaksie) behoorlik beheer kan uitoefen oor die gehalte van artikels, sowel as die aard en gehalte van keurderskommentaar. Outeurs en keurders het algaande besef dat die beginsel van keuring sonder aansien des persoons so konsekwent moontlik toegepas word en het hul vertroue in TGW-prosesse trouens herhaaldelik bevestig.
Agterna beskou, sou die groei van die TGW, veral sedert 2016, met 'n gemiddeld van 1 000 bladsye per jaargang, in elk geval nie volhoubaar gewees het indien gebruik gemaak is van AOSIS se dienste nie, aangesien laasgenoemde se koste per bladsy tans R1 500 beloop. Gegewe die uiteindelike onbekostigbaarheid daarvan, was hierdie onderhandelde besluitneming deur die Akademieraad wel in belang van die voortgesette groei van die TGW.24
'n Tweede bedinging was veel makliker. Nadat die TGW in 2015 'n tweede temanommer oor TT Cloete uitgegee het, het ek versoek dat die artikels van die twee temanommers (ter herdenking van onderskeidelik sy 85ste en 91ste verjaardag) saamgevoeg word in 'n monografie wat die Akademie kon bemark.25
Hierdie publikasie het soveel positiewe kommentaar ontlok dat die Akademieraad besluit het om te begin met 'n huldigingsreeks gewy aan Hertzogpryswenners. Sedertdien het eers prof. Jacques van der Elst en tans prof. Karen de Wet as reeksredakteurs hierdie reeks tot een van die prestige-publikasies van die Akademie uitgebou.26
Slotopmerkings
Terugskouend op my dekades lange betrokkenheid by die TGW kan ek ten slotte onomwonde sê dat die belangrikste rede vir die sukses van die TGW myns insiens te danke is aan die interaksie met en samewerking van verskeie rolspelers wat, soos hier bo genoem, individueel en gesamentlik toegesien het dat die TGW nie net kwantitatief groei nie, maar ook as 'n gerespekteerde afsetpunt vir gehaltenavorsing in Afrikaans gevestig word. Trouens, ek sal die kommunikasie met en toegeneë samewerking van sóveel rolspelers mis - van die kernredaksie tot keurders en van uitgelese akademici tot magister- of doktorale studente wie se begin as akademiese navorsers dikwels ingelei is deur 'n artikel wat in die TGW geplaas is. Onlosmaaklik "verstrengel" hiermee, is daar vanselfsprekend ook my voortdurende kommunikasie met Tom McLachlan oor taalsake. Afgesien van akademiese rolspelers, sal ek beslis ook die jarelange samewerking met Akademiepersoneel en veral Elzabé Vosloo van V&R Drukkers mis. Ek moet hier ook op persoonlike vlak erkenning gee aan die ondersteuning van my eggenoot -sonder sy geduld met die alewig teenwoordige "woordorrel" (lees: skootrekenaar) selfs tydens vakansies, of sy belangstelling in byvoorbeeld die jaarlikse simposiums van die Akademie ('n vorige HUB het opgemerk dat hy tereg 'n aangetroude Akademielid is), sou ek heel waarskynlik nie byna twee dekades lank kon volhou met wat begin het as 'n eenjarige eksperiment nie.
Ten spyte van die hier bo gesketste suksesverhaal, is die ineengevlegte bedryfsmodel vir die TGW nietemin nie langer volhoubaar nie. Behoorlike gehaltebeheer oor 'n veel omvangryker aanbod van artikels het algaande moeiliker doenbaar, indien nie onmoontlik nie, geword. Daarvan getuig Nerina Bosman en Wannie Carstens se temanommer Afrikaans as amptelike taal 1925-2025: Besinning en viering. Hierdie omvangryke temanommer van 528 bladsye verteenwoordig reeds in die Maartuitgawe meer as die helfte van die gehandhaafde 1 000 bladsye per jaargang sedert 2016. Wannie en Nerina kon gelukkig steun op die noukeurige administratiewe bystand van 'n leergierige en entoesiastiese student, Zarike Gouws. En tydens die laaste proeflees, nadat Tom ook reeds bepaalde artikels op versoek moes taalversorg, kon ekself reken op veral Nerina se saamlees van die finale produk. Die Akademieraad se besluit om die administratiewe, die akademiese en die talige komponent van die ineengevlegte model weer te skei, was dus onafwendbaar. Dat só 'n stap juis noodsaaklik geword het weens die volgehoue groei van die TGW kan waarskynlik beskou word as onafhanklike bevestiging van die positiewe uitkomste van die ineengevlegte model.
Sonder dat dit vooraf so beplan is, het die maandelange samewerking met Nerina en Wannie aan hulle temanommer terselfdertyd vir Nerina gedien as inlywing in die "binnewerkinge" van die TGW. As nuut aangestelde hoofredakteur van die TGW kan sy nou ingeligte besluite oor die voor- en nadele van die ineengevlegte model neem en besin oor wat daarvan behou moet word (byvoorbeeld persoonlike kommunikasie met rolspelers) en wat liefs oorgelaat moet word aan manuskripbestuurders (ontvangs van artikels en die proses van keuring tot gereedmaking van elektroniese en gedrukte publikasie).
Een aspek waaroor ekself bekommerd bly, is die gehalte van Standaardafrikaans. Dit sou erg jammer wees indien die Akademieraad, deur die finale taalversorging van TGW-artikels deel te maak van die verantwoordelikhede van die nuut aangestelde hoofbedryfsbeampte, daardeur die samewerking van ervare taalpraktisyns sou ontbeer - laasgenoemde se vermoë om kreatief om te gaan met spesialiskennis is immers herhaaldelik bevestig. Hopelik sal die Akademie eerder gestand doen aan sy "versiende beleid" en steeds optree "as pleitbesorger vir spesiale versorging van en aandag aan Afrikaans se hoër funksies as wetenskapstaal" (Kapp, 2011:470).
Ina Wolfaardt-Gräbe
Junie 2025
LYS VAN TEMANOMMERS: 2011 - 2025
2025: Bosman, N & Carstens, W. Afrikaans as amptelike taal 1925-2025: Besinning en viering. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 65(1) (Maart).
2024: Diskoers: Godsdiens en Wetenskap. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 64(2) (Junie): Naudé, Charl-Pierre. Mening oor die debat wetenskap en God.
Dreyer, J & Van der Walt, K. Kommentaar op Spangenberg, I. 2023. Die Bybel, die Christelike geloof en die natuurwetenskappe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 63(4). doi.10.17159/2224-7912/2023/v63n4a11.
Stoker, Henk. (On)bevooroordeelde benaderings tot die bevindings van wetenskaplike ondersoek: 'n Reaksie op die geloof-wetenskap-diskoers.
Repliek: Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 64(3) (September):
Spangenberg, Sakkie. Repliek op die artikel van Henk Stoker, die reaksie van Johan Dreyer en Kobus van der Walt en die mening van Charl-Pierre Naudé.
Linde, J & Burger, B. Ontlaering. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 64(4) (Desember).
2023: Dreyer, J & Van der Walt, K. Geloof en wetenskap. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 63(2) (Junie).
McLachlan, T en Wolfaardt-Gräbe, I. Vir Ernst - meestertaalkundige, poliglot, kollega, vriend. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 63(3) (September).
Spangenberg, Izak. Die Bybel, die Christelike geloof en die natuurwetenskappe. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 63(4) (Desember).
2021: Van Coller, Helena. Godsdiens en die reg. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(1) (Maart).
Duvenage, Pieter. Hegel - 250 jaar later. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(3) (September).
Pilon, Suléne. Meervoudige leksikale items en ander talige kwessies: Opstelle opgedra aan Nerina Boshoff. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(4-1) (Desember).
2020: Keuris, Marisa. Drama en teater: Vertalings en verwerkings. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(1) (Maart).
Blaauw, Derick & Schenck, Rinie. Kwesbaarheid in die Suid-Afrikaanse samelewing (vervolg). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(1) (Maart).
Johl, Ronél. NP van Wyk Louw: Opstelle vir 'n oorgangstyd. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(2) (Junie).
Van Rooy, Herrie & Van der Merwe, Christo. Opstelle oor die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(4-1) (Desember).
2019: Blaauw, Derick & Schenck, Rinie. Kwesbaarheid in die Suid-Afrikaanse samelewing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 59(4) (Desember).
2018: Van Coller, Hennie. Kontrastiewe en komparatiewe perspektiewe op die Afrikaanse en Nederlandse taal- en literatuurstudie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(2) (Junie).
Fourie, Pieter. Media in die era van digitale kommunikasie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(4-1) (Desember).
2017: Hofmeyr, Benda. Filosofie as aktualiteitsanalise: Die diagnostiese en kritiese funksie van die filosofie. Ter ere van Marinus Schoeman. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(1) (Maart).
Van Coller, Hennie & Bosman, Nerina. Die Taal- en Letterkundekommissies van die Suid-Afrikaanse Akademie: 1917-2017. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2-1) (Junie).
2016 Van Rooy, Bertus. Afrikaanse werkwoorde en werkwoordkonstruksies. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(1) (Maart).
Kotzé, Ernst & Pretorius, Fransjohan. Oor monnemente gepraat: Afrikaans se eerste neëntig jaar. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(2-1) (Junie).
Duvenhage, André. Universiteite: Is die kantelpunt bereik? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(4-1) (Desember).
2015 De Beer, CS. Voorwaardes vir 'n gesonde samelewing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55( 4) (Desember).
2011 Wolfaardt-Gräbe, Ina. Herdenk 50 jaar. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(4) (Desember).
Lys van pryswenners: 2012-2024
ATKV-SA-prys
2012: Louise Viljoen
2013: Hein Viljoen
2015: Fanie de Beer
2016: Helize van Vuuren
2017: Nerina Bosman
2019: Cilliers van den Berg
2020: Pieter J Fourie
2021: Casper Lötter
2022: Helize van Vuuren en Ernst Kotzé
2023: Johann Beukes en Jenni Lauwrens
2024: Johann Beukes
Esther Greeff/Jacques van der Elst-prys
2014: Danie Goosen
2015: Fanie de Beer
2016: Helize van Vuuren
2017: Nerina Bosman
2018: Cilliers van den Berg
2019: Phil van Schalkwyk
2020: Helize van Vuuren
2021: Bert Olivier
2022: Helize van Vuuren
2023: Johann Beukes
2024: Johann Beukes
1 Tans het Sabinet aanlyn weergawes van die TGW sedert 2001 beskikbaar, terwyl SciELO se materiaal terugwerkend gedigitiseer is tot 2008. Sabinet betaal jaarliks 'n honorarium aan die SA Akademie vir materiaal wat teen betaling aan gebruikers verskaf is.
2 Die volledige verwysing is: "Die Suid-Afrikaanse Vloot se sogenaamde omstrede nuwe fregatte: Hulle eerste dekade van diens, 2004-2014", deur André Wessels; die artikel het in TGW 55(2), Junie 2015 verskyn.
3 Die volledige verwysing is: "Uitdagings by die implementering van Inligtings- en Kommuni-kasietegnologie vir die Setswanasprekende Gevorderde Onderwys Sertifikaat (GOS) Afstandstudent aan die Noordwes-Universiteit" deur Charlene du Toit Brits; die artikel het in TGW 55(3), September 2015, verskyn.
4 Waarskynlik te danke aan die huidige regering se BRICS-affiniteite; die SciELO-indeks is gesitueer in Brasilië.
5 Die TGW is byvoorbeeld nie onderhewig aan die vereiste van ASSAf dat artikels afkomstig van een instansie nie 25% van die totale aantal artikels in enige uitgawe mag oorskry nie. Dit is een van die maatreëls waardeur navorsing in Afrikaans toenemend ontmoedig word.
6 Behalwe SciELO, Web of Science/Web of Knowledge (Thompson Reuters) en Scopus word die TGW ook geïndekseer in onder meer Crossref, Ebsco, Openalex en Sudoc, asook in Wikipedia Af en Wikidata.
7 Vorige terugblikke is onderneem toe die 50-jarige bestaan van die TGW in 2011 en die 110-jarige bestaan van die SA Akademie in 2019 gevier is.
8 Kapp se bydrae verskyn in die Desember 2011-nommer van die TGW - 'n spesiale uitgawe om die 50-jarige bestaan van die tydskrif te gedenk.
9 Kyk my taksering van die TGW in die gedenkboek, Hede, Verlede, Toekoms, uitgegee deur die SA Akademie onder redakteurskap van Jacques van der Elst, destydse HUB van die SA Akademie.
10 Afhangende van die aard van administratiewe ondersteuning wat aan redakteurs aan tersiêre instellings gebied is, het die norm gewissel van laat tot baie laat publikasie - in die reël moes outeurs maande, of selfs 'n jaar of langer wag voordat hulle bydraes gepubliseer is.
11 Elzabé onthou hoe 'n vorige redakteur, prof. Elize Botha, altyd die hersiene galeiproewe persoonlik by die drukkery besorg het.
12 Bladgeld is met ingang van 2025 deur die Akademieraad afgeskaf.
13 Die elektroniese kopie is reeds teen die einde van Maart op alle tersaaklike elektroniese platforms beskikbaar gestel. Enkele kopieë van die gedrukte tydskrif kon selfs op 3 April tydens die afskeidsgeleentheid vir die uittredende en verwelkomingsgeleentheid vir die nuwe redakteur by die Akademiegebou uitgedeel word.
14 Wat die vergoeding aan skrywers of keurders betref, het selfs die aanvanklik toegestane vergoeding aan keurders jammer genoeg intussen weggeval, maar die moontlikheid van dergelike vergoeding, vir die onontbeerlike funksie van keurders om oor die gehalte van artikels te oordeel, word tans weer deur die Akademieraad oorweeg.
15 Ek onthou nog hoe ek dit selde die moeite werd gevind het om die TGW behoorlik te bekyk wanneer die jongste vaktydskrifte by akademiese departemente in Unisa gesirkuleer is - dit was belangriker om kennis te neem van die jongste navorsing in vaktydskrifte wat my spesialisterrein gedek het.
16 Dit het in 2000 verskyn aan die einde van prof. Edith Raidt se termyn as TGW-redakteur.
17 In my bydrae tot die 2019-gedenkuitgawe word 'n tabel verskaf van die getal individuele bydraes en temanommers wat in die tydperk 2012-2019 aan bepaalde vakgebiede gewy is.
18 Vir verdere besonderhede, raadpleeg die lys temanommers aan die einde van die artikel.
19 Afrikaans as wetenskapstaal. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45(3) (September).
20 Bosman, N en Carstens, W. 2025. Afrikaans as amptelike taal: Besinning en viering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 65(1), Maart 2025.
21 Jammer genoeg is hierdie inisiatief nooit verwerklik nie.
22 McLachlan, T. 2013. Moet 'n mens Engels ken om Afrikaans te verstaan? Blog. http://www.fak.org.za/blog/moet-n-mens-engels-ken-om-afrikaans-te-verstaan.
23 Die ATKV-SA-prys is al meerdere kere deur Johann Beukes verower vir artikels wat in verskeie vaktydskrifte verskyn het: in 2020 (artikel in LitNet), 2022 (artikel in Verbum et Ecclesia), 2023 (2 artikels in die TGW), 2023 (verdere artikel in LitNet) en 2024 (artikel in die TGW). Hierbenewens het hy ook die Jacques van der Elst-prys vir die beste artikel in sowel 2023 as 2024 ontvang. Vir verdere besonderhede, raadpleeg die lys wenners aan die einde van hierdie artikel.
24 Op grond van die bespreking van sy voorlegging op die raadsvergadering in 2014, het die HUB, dr. Dionë" Prinsloo, aan dr. De Villiers laat weet dat die Raadsbesluit van September 2013 geld tot 2016.
25 Cloete, TT. 2015. Met die digterpraat. Pretoria: SA Akademie. (Redakteurs: Bernard Odendaal, Hein Viljoen en Ina Wolfaardt-Gräbe). Op die agterplat is verduidelik dat die titel, wat resoneer met 'n bundeltitel, Met die aarde praat verskillende, en inderdaad soms uiteenlopende, sienings van hoe Cloete se poësie gelees kan word in die vooruitsig stel, waardeur daar as 't ware "met die digter" déúr sy poësie "gepraat" kan word.
26 'n Lys van gepubliseerde bundels verskyn op die agterblad van die Maart 2025-temanommer. Vir verdere besonderhede kan mev. Melanie Rens by die Akademiekantoor gekontak word (
