Abstract
Plekskepping het wêreldwyd aan momentum gewen, maar in Suid-Afrika ontbreek 'n plaaslik aangepaste proses om beplanners, beleidmakers en ge-meenskappe te help om die potensiaal daarvan te benut, veral in histories gemarginaliseerde dorpsgebiede. Met vinnige verstedeliking en groeiende sosio-ruimtelike ongelykhede is daar 'n dringende behoefte aan innoverende, konteks-sensitiewe ontwikkelingsbena-derings. Hierdie artikel ondersoek plek-skepping as 'n strategie vir volhoubare stedelike ontwikkeling en gemeen-skapsbemagtiging in Suid-Afrikaanse townships, met spesifieke fokus op Marabastad in Kroonstad (Vrystaat). Hierdie gebied is verteenwoordigend van die strukturele en ruimtelike uit-dagings waarmee talle gemeenskappe in die land te kampe het. Die studie is gegrond op plekmaakliteratuur uit beide die Globale Noorde en Suide, wat 'n verskuiwing toon van statiese, produkgebaseerde benaderings na dinamiese, deelnemende prosesse. Hierdie verskuiwing vorm die basis vir die verkenning van vier kerndimensies van plekskepping, naamlik fisies, so-siaal, ekonomies en sielkundig, soos dit in die Suid-Afrikaanse konteks voorkom. Kwalitatiewe data is ingesamel deur onderhoude, waarneming en deelnemende metodes, en tematies ontleed. Die bevindinge dui op duidelike ge-leenthede vir gemeenskapsbetrokken-heid, ekonomiese aktivering, kulturele erkenning en ruimtelike transformasie. Gegrond op hierdie insigte stel die artikel 'n vyffase-plekmaakproses voor wat aangepas is vir township-kontekste: gemeenskapsoriëntasie en -gronding; kontekstuele verkenning; identifisering van intervensies; strategiese beplanning en ontwerp, sowel as implementering en instandhouding. Hierdie proses beklemtoon aktiewe deelname, die waarde van plaaslike kennis en vaardigheidsontwikkeling. Dit bied 'n aanpasbare en herhaalbare raamwerk vir die mede-produksie van inklusiewe, lewendige en veerkragtige stedelike ruimtes.












