SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.30 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.30 no.2 Bloemfontein Dec. 2010

 

Het ons te gou weggekyk? Nuwe belangstelling in die hemelvaart en sessio van Jesus

 

Did we look away too soon? New interest in the ascension and sessio of Jesus

 

 

C.W. Burger

Dr.C.W.Burger, Direkteur Ekklesia, Teologiese Fakulteit, Universiteit van Stellenbosch. E-pos: cwbu@sun.ac.za

 

 


Trefwoorde: Hemelvaart, Sessio, Teenwoordigheid, Afwesigheid.


ABSTRACT

In the last decade, after years of neglect, quite a number of interesting books about the Ascension and Sessio of christ were published. One thinks especially about the contributions of Farrow, Dawson, Redding and Burgess. The aim of the article is to have a closer look at the publications, to ask for reasons for the new interest and to question progress in the discussion about the two themes evaluatively.

Keywords: Ascension, Sessio, Presence, Absence.


 

 

1. HEMELVAART - 'N VERWAARLOOSTE TEMA

Hoewel die hemelvaart en die sessio van Christus reeds vroeg 'n vaste plek in die klassieke belydenisse van die kerk soos die Niceanum en die Apostoliese Geloofsbelydenis (AGB) gekry het, het die twee temas daarna nie altyd die aandag gekry wat hulle verdien nie.

In die Vroeë Kerk het 'n hele paar teoloë goeie aandag daaraan gegee - veral Ireneaus, en ook Origenes en Augustinus (vgl. Farrow 1999) - maar daarna is die twee leerstukke in teologiese refleksie en ook in die prediking van die kerk afgeskeep. In die afgelope twee tot drie eeue het die situasie nog verder versleg. Boeke wat in dié tyd oor die tema gepubliseer is, kan 'n mens feitlik op jou een hand tel.1

In die gereformeerde wêreld het die prentjie vir baie dekades effe beter gelyk. Doug Farrow (1999: 176) eer calvyn vir die wesenlike rol wat die twee leerstukke in sy denke en teologie gespeel het. Ook in die teologie van John Knox het dié leerstukke en veral die hoëpriesterskap van Christus 'n sentrale rol gehad. Ons sien dit ook in die meeste gereformeerde belydenisskrifte van die tyd. In die Heidelbergse Kategismus word byvoorbeeld uitvoerig aandag gegee aan die werklikheid en die betekenis van Christus se hemelvaart en sessio. In die eeue ná die Reformasie sou hierdie beklemtoning egter ook taan.

 

2. NUWE BELANGSTELLING IN DIE LAASTE DEKADE

Gegewe die eeuelange verwaarlosing was dit verblydend om in die laaste tien jaar 'n hele paar uitstekende studies oor die hemelvaart en aspekte daarvan te sien. Die veelbesonge studie van Farrow - Tom Wright noem dit 'n magistrale werk (2007: 120) - was die eerste om te verskyn, met die ander drie studies so 'n vier, vyf jaar later. Burgess reageer direk op Farrow, maar die ander twee teoloë se studies het redelik onafhanklik van Farrow s'n ontwikkel. Benewens die vier boeke wat uit en uit op die hemelvaart fokus sluit 'n paar ander publikasies sterk by die tema aan.2

In al die publikasies word verwys na J G Davies se Brompton-lesings van 1958 wat onder die titel He Ascended into Heaven: A Study in the History of Doctrine gepubliseer is en wat 'n standaardwerk oor die hemelvaart geword het. Deurentyd word ook verwys na twee ander twintigste-eeuse teoloë wat weliswaar nie monografieë oor die tema geskryf het nie, maar in wie se werk die Hemelvaart van Christus 'n belangrike rol speel. Hulle is Karl Barth en Tom Torrance. Al die outeurs wie se werk hier bespreek gaan word, is sterk deur die denke van Barth en Torrance beïnvloed. Hierdie twee gereformeerde teoloë is waarskynlik verantwoordelik vir die feit dat ons hierdie nuwe vlaag van belangstelling in die betekenis van Christus se hemelvaart en sessio het.

Barth se aandag aan die hemelvaart is 'n onafwendbare konsekwensie van die uitgangspunt wat hy vir sy teologiese projek geformuleer het, naamlik om altyd weer by Jesus te begin. In die proses kon hy nie anders as om aan alle fasette van Jesus se heilswerk - ook die hemelvaart - nougesette aandag te gee nie. Daarom is hy een van die min teoloë van sy tyd wat eksplisiet die voortgesette inkarnasie van Christus bely en aan die hemelvaart en die sessio 'n eie betekenis naas die opstanding gee. Van die aangrypendste en belangrikste hoofstukke in Barth se Dogmatics in Outline, is die een wat handel oor die twee temas. Daar koppel Barth die besondere belang van die hemelvaart en die sessio aan die feit dat dit die enigste deel van ons belydenis oor Christus is wat in die teenswoordige tyd geformuleer is (1966: 124-128)!

Torrance, 'n student van Barth, het in sy boek Space, Time and Resurrection(1976) 'n uitvoerige hoofstuk gewy aan die hemelvaart. In sy ander publikasies - in besonder Royal Priesthood (1995) en The Mediator (1983) - is dit ook duidelik dat die hemelvaart van Christus 'n belangrike rol in sy teologiese denke speel. Hy gaan plek-plek selfs verder as Barth en meen veral dat Barth nie genoeg gemaak het van Christus se priesterskap aan die regterhand van die Vader nie.

 

3. FARROW

Ascension and Ecclesia, die boek van Farrow wat in 1999 verskyn het, was die eerste in die reeks van nuwe publikasies oor die hemelvaart. Hoewel min kritici saamstem met alles wat Farrow sê, het feitlik almal baie hoë waardering vir sommige van sy beklemtonings (vgl. Burgess 2004: 1, 135-161). Daar is veral waardering vir die dapper vanselfsprekendheid waarmee Farrow teen die modernistiese kritiek in eenvoudig die werklikheid van die hemelvaart van Christus en die betekenis daarvan vir die kerk aanvaar. Daar is ook waardering vir die feit dat 'n kundige teoloog vandag aan die hemelvaart 'n sentrale plek in sy teologisering wil gee (vgl. o.a. Webster 2003: 440 e.v.). Die grootste waarde van die werk wat Farrow gedoen het was waarskynlik om vir ons 'n goed gedokumenteerde en boeiende oorsig te gee oor hoe verskillende teoloë deur die eeue die hemelvaart verstaan en geïnterpreteer het.

Die aanleiding vir die skryf van die boek was nie nuuskierigheid oor die hemelvaart nie, maar Farrow se besorgdheid oor die kerk (vgl. die opskrif van sy eerste hoofstuk "Thinking about the church" - Farrow 1999: 1-14). Na sy mening sit die kerk van ons tyd met groot identiteitsprobleme omdat die kerk onseker geraak het oor Jesus, die Een wat die kerk gestig het. Die onsekerheid gaan oor twee vrae. Eerstens is daar by baie onsekerheid oor die vraag wie Jesus is. Die vraag is duidelik geïdentifiseer en baie word daaroor geskryf. Die tweede vraag is ewe ernstig vir die kerk, maar word nie so helder herken nie. Dit is die vraag waar Jesus is. Dit is nie moeilik om te sien hoe hierdie vraag Farrow by die hemelvaart uitbring nie. 'n Goeie speurder, skryf hy, begin altyd sy soektog by die plek waar die subjek laas lewend gesien is (Farrow, 1999: ix)!

Soos die titel aandui, is Farrow se verklaarde intensie in die boek om die betekenis van die hemelvaart van Christus vir die ekklesiologie na te speur. Farrow is diep bekommerd oor die kerk en meen dat die rede vir die kerk se ongeloofwaardige lewe en getuienis gesoek moet word in die kerk se onwilligheid om die werklikheid van die hemelvaart te aanvaar en met die regte afwagting op Christus se wederkoms te leef.

Farrow skryf oor die hemelvaart nie omdat hy bekommerd is oor die kerk se ervaring van Christus se afwesigheid nie, maar juis omdat hy dink dat die kerk verkeerdelik met te veel presensie probeer leef. Farrow is bang vir 'n kerk wat te voortvarend is en te selfversekerd leef, 'n kerk wat sy verleentheid oor sy Heer se afwesigheid probeer wegsteek en doodleef - selfs vir homself en sy eie lidmate (bv. Farrow 1999: 11). Farrow is van oordeel dat ons eers reg oor Jesus en sy verlossing kan begin dink as ons die werklikheid van die hemelvaart erken: Christus is nie nou by ons nie! Die werklikheid van die hemelvaart beteken dat ons moet verstaan en erken dat Jesus-tyd en ons menslike tyd by die hemelvaart geskei het en in twee verskillende bane begin loop het (vgl. Farrow 1999: 7). Die rede vir die kerk se krisis is dat ons hierdie werklikheid nie wil aanvaar nie en op allerhande verskillende maniere probeer om daarvoor te kompenseer.

As ons die werklikheid van Jesus se afwesigheid aanvaar, kan ons begin kyk na die maniere waarop Hy vir ons oorlewing en vir ons geloofsgetuienis voorsiening gemaak het. Vir Farrow lê dit in twee geloofswerklikhede. Eerstens lê dit in die nagmaal en in Christus se beloofde teenwoordigheid in die "eucharistiese gemeenskap" (Farrow 1999: 1-4). Die nagmaal is die gelowiges se hoop en behoud in hierdie lewe. In die nagmaal kom die lewende Christus ons tegemoet en kan ons Hom ontmoet. Daarom is die regte orde vir Farrow dat die eucharistie die kerk konstitueer en nie die kerk die nagmaal nie. Dit beteken dat ons op geen manier Christus en die kerk te gemaklik kan gelykstel nie. Christus is nie in die eerste plek te vind in die kerk nie. 'n Groot deel van Farrow se betoog in die boek is teen kerke en teoloë wat op een of ander manier meen dat die verhoogde Heer sonder meer gevind kan word in (of selfs gelykgestel kan word met) die kerk. Vir hom is dit die fout wat die kerk telkens maak dat ons dink dat 'n lewe met die kerk gelykgestel kan word aan 'n lewe met die verhoogde Heer.

Die tweede geloofswerklikheid wat die kerk troos en waarmee ons daagliks moet leef, is die verwagting van Christus se wederkoms (Farrow 1999: 265). Christus is naby - nie in die eerste plek in 'n ruimtelike sin nie, maar in die sin van tyd. Van Farrow se probleme met die beter teoloë in die geskiedenis van die kerk (soos calvyn) is dat hulle Christus se hemelvaart in vertikaal-ruimtelike terme probeer verstaan het (Farrow 1999: 78). Een van die belangrikste kwessies wat in die praktiese lewe van die kerk reggestel moet word, is dat die verwagting van Christus se koms herstel moet word. Van die slegste tye in die geskiedenis van die kerk was volgens Farrow (1999: 272) juis die tye toe die kerk effektief die verwagting van 'n nuwe tyd prysgegee het en maar begin leef met die voorhande werklikhede van ons menslike tyd en wêreld.

Een van die punte waar Farrow (1999: 229) se aansluiting by Barth gesien kan word, is sy onverbiddelike verbintenis aan Jesus en sy unieke geskiedenis. Hy is wars vir enige poging om oor Jesus en die heil in veralgemenende terme te dink en meen dat dit telkens die dood in die pot vir die kerk en die teologie was - beginnende by Origenes. Van die belangrikste uniekhede van die Jesus-geskiedenis waaraan ons moet vashou, wat ons moet omhels en wat ons weer moet leer vier, is die kerk se belydenis van Jesus se liggaamlike hemelvaart en sy voortgaande inkarnasie. Vir Farrow raak die regte verstaan en belydenis van hierdie deel van Jesus se geskiedenis en identiteit amper 'n toets van die kerk se identiteit en getrouheid aan die evangelie.

Nadat hy in die tweede hoofstuk teenoor die liberale teologie probeer aantoon dat die werklikheid van die hemelvaart veel beter in die Skrif genoteer is as wat soms voorgegee word, kyk hy in die middelste deel van die boek na wat die kerk deur die eeue met dié deel van sy belydenis gedoen het. Dit is 'n boeiende verhaal wat Farrow met passie vertel. Die held van die verhaal is sonder twyfel Ireneaus wat met sy rekapitulasie-teorie daarin slaag om reg te laat geskied aan al die elemente van die Bybelse verhaal (Farrow 1999: 44-85). Hy het veral waardering vir die manier waarop Ireneaus nie net aan die hemelvaart 'n wesenlike plek in die Jesus-verhaal gee nie, maar spesifiek ook die voortgesette inkarnasie van Christus as van kardinale belang vir die verlossing verstaan. In die derde hoofstuk behandel hy Origenes (Farrow 1999: 89-106) en Augustinus (Farrow 1999: 106-129) se standpunte en die nadraai van hulle denke in die Weste en Ooste. Beide dié twee groot teoloë kom minder goed daarvan af. Origenes sukkel met die liggaamlike hemelvaart en praat heeltyd van 'n "ascension of the mind". Augustinus gee wel aan die Hemelvaart 'n vaste plek, maar sukkel (a.g.v. Plato se invloed op sy denke?) met die verhoogde Jesus se liggaamlikheid. Na hulle gaan dit van kwaad na erger, en veral in die Westerse Kerk word die werklikheid van die verhoogde, afwesige Heer heeltemal prysgegee en neem die kerk feitlik volledig die plek van Jesus in.

In die vierde hoofstuk bespreek Farrow - onder die opskrif "Where is Jesus?" - die Reformatoriese nagmaalstryd oor die presensie van Christus. Hy het groot probleme met Luther se gelykstelling van Christus se presensie in die tekens met God se alomteenwoordigheid (Farrow 1999: 174). Hy is veel meer positief oor calvyn (Farrow 1999: 175-180) en het veral waardering vir die feit dat hy nie probeer wegstuur van die liggaamlike afwesigheid van Jesus nie en 'n goeie balans probeer hou tussen afwesigheid en teenwoordigheid. Hy is ook positief oor die manier waarop calvyn verklaar dat die Gees die Een is wat gelowiges met Christus verbind - "not as a substitute for Jesus, but as a link to Him" (Farrow 1999: 176).

Na Farrow se mening loop die verhaal ná calvyn sterk afdraand. Hy kyk na die standpunte van Kant, Schleiermacher, Hegel en 'n reeks ander resenter teoloë maar vind weinig meer as 'n "discourse on the Dead christ" (Farrow 1999: 180). Hy eindig darem weer sy oorsig op 'n effens hoër noot met Kierkegaard en Barth, maar hy het ook voorbehoude oor beide van hulle. Hoewel hy groot waardering vir van Barth se standpunte en veral vir sy onverbiddelike verbintenis aan Jesus Christus en sy unieke geskiedenis (Farrow 1999:241) het, meen hy dat Barth se teologie uiteindelik te staties is om aan die werklikheid en steeds ontvouende drama van die hemelvaart reg te laat geskied (Farrow 1999: 247). Dit sou 'n student van Barth, Thomas Torrance, wees wat hierdie swakheid helder raakgesien en 'n korreksie aanbeveel het (Farrow 1999: 265).

Farrow se boek is werklik in meer as een opsig 'n indrukwekkende en meesterlike werk. Hy vertel 'n boeiende verhaal en doen dit op 'n uiters onderhoudende manier. Hy verwerk 'n magdom informasie en daar is onteenseglik veel te leer uit die boek, maar uiteindelik bevredig sy antwoorde nie. Die grootste probleem het te doen met sy eensydige klem op die nagmaal as die "enigste oplossing" vir die probleem van Christus se afwesigheid (vgl. Webster 2003: 444 en Burgess 2004: 136). Terwyl ek die kritiek deel, is daar 'n tweede probleem wat na my mening eintlik groter is. Farrow protesteer in die boek teen kerke wat te veel presensie soek. In die proses fouteer hy na die ander kant en eindig met 'n afwesige Heer wat ons in die nagmaal hoogstens troos met 'n klein voorsmakie van sy komende teenwoordigheid. By Farrow is daar amper net afwesigheid - soveel so dat die NT-getuienis oor die teenwoordigheid van Christus en oor sy voortgaande werk in ons werklikheid en tyd amper nie gehoor of vertrou word nie. Dit verklaar ook sy ongemaklikheid met calvyn en Barth. Hy gee ander redes daarvoor, maar ek is van oordeel dat die huiwering te doen het met sy (korrekte) aanvoeling dat beide calvyn en Barth se teologie meer positief en vreugdevol is omdat hulle ook aan die werklike presensie van Christus deur die Gees in ons wêreld wil vashou.

 

4. REDDING

Hoewel Redding se boek Prayer and the Priesthood of Christ in the Reformed Tradition vier jaar ná Farrow se boek verskyn het, bevat dit geen verwysing na Farrow se werk nie. Redding kom uit 'n ander tradisie as Farrow en het via 'n ander roete by die hemelvaart uitgekom. Redding is 'n Presbiteriaan wat binne die Skotse gereformeerde tradisie werk en veral by die werk van die twee Torrance broers, Tom en JB, aansluiting vind.

Verskeie artikels van JB Torrance oor die verhoogde Christus se rol in ons erediens en aanbidding (gepubliseer in Worship, Community and the Triune God of Grace), is die direkte aanleiding vir Redding se studie. Torrance (1996: 20) meen dat die meeste kerke vandag in hul erediens eintlik unitaries dink en handel - wat beteken dat liturgie en gebed uitsluitlik iets is wat deur ons gedoen word. Omdat unitaries gedink word, is daar nie plek vir die bemiddelende priesterwerk van Christus nie. Hieruit formuleer Redding (2003: 3) die sentrale vraag agter sy studie:

What difference would a proper doctrine of the priesthood of christ make to the christian conception of worship and prayer? It is with that question, especially as it pertains to liturgical prayer that this book is concerned.

In die eerste hoofstuk verduidelik hy die ontstaan van die probleem aan die hand van studies van Jungmann en Tom Torrance. In die Vroeë Kerk was daar 'n baie duidelike liturgiese patroon wat uitgedruk is in die formule dat ons tot die Vader, deur die Seun en in die Gees bid (Redding 2003: 14). Dit het prakties beteken dat daar nie in die eerste plek tot Jesus gebid is nie, maar dat Jesus as ons Hoëpriester 'n bemiddelende rol in die erediens en gebede van die gemeente gespeel het. Op 'n manier was Jesus in die erediens nie voor ons langs die Vader nie, maar langs ons as ons Broer - die Een wat ons en ons gebede verstaan en dit oorbid in sy eie Naam.

Die situasie begin ironies genoeg verander na die konsilie van Nicea waar Athanasius die stryd teen Arius wen en die Godheid van Christus helder erken en bely word. As die dogmatiese onduidelikheid opgeklaar word, kom daar heel onverwags liturgiese probleme (Redding 2003: 16). Met die sterk klem wat Nicea op die Godheid van Jesus Christus lê, gebeur dit outomaties dat Jesus binne die Triniteit nader aan die Vader skuif. Dit het die onbedoelde konsekwensie vir die erediens dat Jesus verder wegskuif van die gemeente en dat sy bemiddelende priesterwerk in die erediens stelselmatig 'n kleiner en kleiner rol begin speel. Die uitdrukking dat ons tot die Vader, deur die Seun en in die Gees bid, word minder gebruik en 'n mens hoor al hoe meer dat daar tot die Vader, die Seun en die Gees gebid word. Hierdie skuif het die konsekwensie dat erediens en gebed meer en meer mensewerk word wat ons moet doen. Selfs die bemiddelende funksie word deur mense oorgeneem: In die katolieke tradisie is dit Maria, die heiliges of die priester, en in die protestantisme gewoonlik die vrome of talentvolle predikant (Redding 2003: 20; sien ook opsommende argument, 70-72).

In die res van die boek vertel Redding die interessante verhaal van die Skotse kerk se bemoeienis met die saak. Die Skotse kerk het deur die eeue 'n veel sterker klem as ander kerke, ook ander gereformeerde kerke, op die hemelse priesterskap van Christus gehad. Dit begin natuurlik by calvyn, maar John Knox het Christus se priesterwerk eintlik nog sterker beklemtoon, soos wat 'n mens onder andere in sy werk oor gebed agterkom. In hoofstuk 2 vertel hy dié deel van die verhaal en verduidelik die standpunte van calvyn, Knox en craig (Redding 2003: 73-136). In die derde hoofstuk word die ander kant van die verhaal vertel: hoe die Westminster-tradisie en die sogenaamde federal Calvinism die stokkie laat val het omdat hulle nie die aard van Christus se plaasvervangende mensheid en priesterskap goed verstaan het nie (Redding 2003: 137-188).

Die held van die Skotse verhaal - vir die Torrances en vir Redding - is die miskende John McLeod campbell, wat destyds vanweë sy standpunte oor die versoening sy status verloor het (Redding 2003: 189-220). Dit was egter sy helder verstaan van die vrye genade en veral van Christus se voortgaande priesterskap wat latere geslagte tot 'n herwaardering van sy werk sou bring. Hoewel campbell duidelik was oor die finaliteit en genoegsaamheid van Christus se offer aan die kruis, het hy geglo dat Christus se voortgaande hoëpriesterskap beteken dat die offer steeds op 'n kontinue basis lewend en brandend gehou word voor die Vader as 'n durende herinnering aan die prys wat betaal is.

His offering is not confined to the offering of his life at calvary two thousand years ago. Rather, it is deemed to continue in heaven. Christ is the one, true worshipper in whom, with whom and through whom... the church's own meagre offerings of praise and thanksgivings are joined, perfected and offered to the father (Redding 2003: 202).

Redding verskil van Farrow daarin dat hy minder oor die hemelvaart praat en meer oor die voortgaande werk van die verhoogde Christus aan die regterhand van die Vader. Hy stem wel saam met Farrow dat die werk moeilik te bedink en reg verstaan kan word as ons nie vashou aan die voortgaande inkarnasie en die dubbele middelaarskap van Jesus nie.

It is the basic contention of this book that when the vicarious humanity and the mediatorial role of christ are obscured, then the affirmation that stood at the centre of the Reformation, sola gratio, is radically undermined and prayer and worship are inevitably recast in a Pelagian mould (Redding 2003: 297).

 

5. DAWSON

Gerrit Scott Dawson, 'n Presbiteriaanse predikant in die VSA, se boek Jesus Ascended -The Meaning of Christ's Continuing Incarnation het in 2004 verskyn en bevat wel verwysings na Farrow se werk. Ten spyte van die verwysings het 'n mens nie die indruk dat Farrow se werk hom grondig beïnvloed het nie. Daar is raakpunte met Farrow se argument, maar nes Redding is Dawson ook besig met 'n eie problematiek en program. Soos die titel van die boek aandui, fokus hy sterk op die betekenis van die Hemelvaart vir die kerk en veral op die belangrikheid van die voortgaande inkarnasie van Christus (vgl. die sub-titel van die boek). Die twee temas is wel ook sentraal by Farrow, maar die groot verskil is dat Dawson dit meer tipies gereformeerd probeer uitlê.

Nes Farrow, begin Dawson by die kerk (Dawson 2004: 13-26), maar hier is dit duidelik 'n gemeentepredikant wat aan die woord kom. Daar is talle direkte en indirekte verwysings na die gemeentelike lewe (vgl. o.a. Dawson 2004: 18-21, 22-23). Aan die einde van die boek gee hy ook materiaal wat in die gemeente gebruik sou kon word (Dawson 2004: 185-203). Sy groot bekommernis is dat die kerke van die Weste heeltemal verstrik geraak het in die wêreld en die wêreldse gees van ons tyd. Die eerste hoofstuk, waarin hy die probleem bespreek, dra die titel "The World is too much with us".

In die eerste deel van die boek doen Dawson baie moeite om sy lesers te oortuig van die belangrikheid van die hemelvaart en spesifiek van Christus se voortgesette inkarnasie. Hy doen dit met uitvoerige verwysing na die situasie van die Vroeë Kerk. Hy roep 'n veelheid van vroeë christelike teoloë op as getuies: Ireneaus, Athanasius, Augustinus, die Kappadosiërs, chrysostemos, Hilary, Efraim, ens. In die eerste deel van die boek beredeneer hy drie punte. Hy probeer eerstens aantoon dat Jesus se hemelvaart 'n kerndeel van sy werk (en identiteit) was omdat dit met sy koningskap en verheerliking te doen het (hoofstuk 3). In hoofstuk 4 gaan hy verder en probeer wys dat feitlik al die groot teoloë Jesus se hemelvaart as 'n voortsetting van sy inkarnasie verstaan het. Derdens is dit juis die voorgesette inkarnasie wat van die hemelvaart van Jesus en sy verheerliking 'n publieke waarheid maak (hoofstuk 2). Hy is baie bedug vir 'n vergeesteliking van die hemelvaart wat van Jesus se koningskap 'n privaatsaak maak met geen implikasies vir die publieke lewe nie.

In die tweede deel van die boek vra hy dan wat die implikasies hiervan vir die kerk en die lewe van die kerk is. Hy beklemtoon veral twee aspekte. Die invloed van die Skotse tradisie (met name die Torrances, Milligan, Swete en ook Andrew Murray) slaan duidelik deur in sy beklemtoning van die hemelse priesterskap van Jesus aan die regterhand van die Vader (Dawson 2004: 117-141). Hy sluit aan by die Skotse argument oor die voortdurende offer en intrede van Christus (Dawson 2004: 132 e.v.) en pleit nes Redding dat ons in ons erediens en gebede sterker rekening sal hou met die werk van Christus.

Die tweede belangrike konsekwensie van die hemelvaart vir die kerk, lê daarin dat dit van ons "citizens of a far country" maak (Dawson 2004: 143 e.v.). Omdat ons deur die Gees en die geloof met Christus verenig word en omdat ons lewe saam met Christus in God verborge is, kan ons harte nie in hierdie wêreld rus vind nie. Hierdie is 'n belangrike hoofstuk in Dawson se boek, want hier formuleer hy die antwoord vir die kerke se probleem soos wat hy dit in die eerste hoofstuk beskryf het. Ons kom vryer van hierdie wêreld en die gees daarvan as ons weet dat ons harte eintlik aan 'n ander Een en aan 'n nuwe tyd gebind is.

Hoewel die argument in hierdie hoofstuk naby aan Farrow se klem op die aanvaarding van Christus se afwesigheid in ons wêreld kom, is dit nie presies dieselfde nie. Die probleemformulering is bykans dieselfde: Farrow se besorgdheid oor die identiteit van die kerk en die soeke na wat hy "meer presensie" noem, lê baie naby aan Dawson se formulerings oor wêreldgelykvormigheid in die eerste hoofstuk. Beide praat ook oor die spanning tussen twee wêrelde waarmee die kerk bereid moet wees om te leef (Dawson 2004: 151). By Dawson is die tussentyd en die regte soort lewe in dié tyd egter meer van 'n positiewe saak as by Farrow. Dit is nie bloot 'n wagtyd waarin daar nie veel positiefs kan gebeur nie. Dit is 'n tyd waarin die kerk bewustelik geroep word om nou hier op aarde te leef as hemelse burgers. Dit is waaroor die lewe deur die geloof nou gaan. "Spiritually, christ Jesus brings us there so that we may live here in the power and joy of heaven"(Dawson 2004: 183).

Die verskil met Farrow slaan ook deur in die manier waarop Dawson dink gelowiges dit moet doen. Dawson erken ook die wesenlike belang van die nagmaal as 'n plek waar ons met Christus verenig word en in ons geloof versterk word. In lyn met die gereformeerde tradisie, gee Dawson egter 'n baie sterk plek aan wat hy ons "spiritual ascension" noem, naamlik ons gelowige erkenning en vashou aan ons posisie in Christus (Dawson 2004: 163 e.v.). Hy werk sterk met Ef. 2:4-6 en Kol. 3:1-3 waarin gesê word dat ons saam met Christus aan die regterhand van die Vader sit en leun op Augustinus, calvyn, Milligan en ook Andrew Murray se interpretasies van wat dit vir ons beteken. In hierdie hoofstuk - wat ten nouste saam met hoofstuk 5 wat oor die vereniging met Christus handel, gelees moet word - slaan sy gereformeerde wortels sterk deur.

In die laaste paragrawe skryf hy:

Taking our place with christ in heaven through the means of grace does not save us from conflict or suffering. Indeed our sorrow will exceed that of those who are ignorant of how deeply the thorn of death has sunk into humanity. ...But adjusting our expectations can be an immense help. We do not expect this world to be our home, for our home is with christ in heaven. We do not demand to win here, for the victory celebration awaits us there. Nevertheless, we are not without joy even amidst the most heart-breaking pangs of compassion. Those who live in growing awareness of their union with the ascended, incarnate Jesus have access to the deepest wells of joy, joy which arises from the very depths of the mirth of God (Dawson 2004: 181).

 

6. BURGESS

Andrew Burgess, ook 'n Nieu-Seelandse predikant nes Redding, se boek The Ascension in Karl Barth is 'n doktorale studie wat hy in Oxford onder die Barth-kenner John Webster gedoen het. Die boek het ook in 2004 verskyn, maar hier is dit duidelik dat Farrow se werk deurentyd in die oog is. Daar is baie waardering vir Farrow, soos wat Farrow ook vir Barth gehad het, maar veral in die dialoog-gedeelte waarin hy Farrow se standpunt oor Barth se werk onder oë neem (Burgess 2004: 135-161), spaar hy Farrow nie. Tog wil die boek in die eerste plek bloot Barth se standpunt oor die hemelvaart so getrou moontlik verduidelik. 'n Nadeel van die boek is dat Burgess nie voorgee om alle beskikbare materiaal in KD te dek nie, maar sterk konsentreer op I, 2 en III, 2 (2004: 35).

In die eerste deel van die boek probeer Burgess gewoon om Barth se standpunt weer te gee. Hy begin met 'n hoofstuk oor die struktuur van Barth se teologie (Burgess 2004: 9-22) voordat hy by die leerstuk van die hemelvaart kom (Burgess 2004: 23-52). In die derde en vierde hoofstukke gee hy aandag aan die hemelvaart en die kerk en die hemelvaart en die gelowige. In die tweede deel van die boek gaan hy in dialoog met drie ander persone wat oor die hemelvaart geskryf het, nl. Tom Torrance, Farrow en Robert Jenson.

Een van die redes waarom Barth anders as ander teoloë van sy tyd goeie aandag aan die hemelvaart gegee het, het gewoon te doen met sy sterk konsentrasie op Christus. Al die teoloë wie se standpunte hier bespreek word - Farrow inkluis - het groot waardering vir hierdie uitgangspunt van Barth en sluit baie sterk by hom aan. Omdat Barth in die eerste plek 'n konfessionele teoloog was, het hy geen probleem gehad om die hemelvaart en ook die voortgaande inkarnasie van Christus te bely nie. Konfessionele teologie is baie versigtig vir 'n universalistiese interpretasie van Christus en sy werk soos wat ons dit vind by teoloë wat te hard probeer om by filosofiese strominge van die tyd aansluiting te vind. Konfessionele teologie weet ons behoud is om voortdurend vas te hou aan die partikularisme van die Christusverhaal en -openbaring en dit te probeer verstaan so goed as wat ons kan.

Burgess maak veel van Barth se stelling dat die hemelvaart ons ook help om die tye waarin ons leef, te begryp (Burgess 2004: 2). Ons is nou in 'n baie besondere tussentyd waarin Christus die kerk by sy plan intrek en tyd gee vir die sending, vir geloof en vir genade. Om dié tye te verstaan, beteken veral ook om die balans tussen afwesigheid en presensie reg te begryp (sien Burgess 2004: 5, 15, 19, 54). Farrow eer Barth daarvoor dat hy die werklikheid van Christus se fisiese afwesigheid nie probeer ontken of wegverduidelik nie en veronderstel dat Barth se standpunt oor dié saak na aan sy eie is. Tog meen ek dat sy verskille met Barth meer hiermee as met ander kwessies te doen het. Barth weet nie net van afwesigheid nie, maar ook van presensie en van unieke geleenthede wat daarmee saamkom (Burgess 2004: 150-153).

Die geleenthede het te doen met die feit dat Hy in die nuwe tyd wat Hy skep, ruimte maak vir die kerk en die gelowiges om sy getuies en medewerkers te wees (Burgess 2004: 52 e.v.). Dit gee aan die tussentyd 'n eie, unieke aard en gewig. Dit is ironies dat Barth wat teologies weier om aan die kerk die sentrale plek te gee wat dit soms in die Katolieke, Ortodokse en selfs in die Anglikaanse tradisie het, die tyd tussen hemelvaart en die wederkoms die tyd van die kerk kan noem! In lyn met sy klem op die sending en verkondiging, gee hy aan die woord en prediking 'n veel groter sentrale plek as Farrow. Burgess (2004: 65 e.v., 136-140) toon oortuigend aan dat hierdie onderbeklemtoning van die rol van die Woord een van die gapende (en eintlik onverstaanbare) swakhede in Farrow se werk is.

Hoewel die tussentyd die tyd van die kerk genoem kan word, is dit nie net die kerk en die gelowiges wat in dié tyd werk nie. Dit is die groot verrassing van die evangelie. Selfs wanneer dit lyk of Hy weg is, is Christus by ons en is dit sy voortgaande werk as verhoogde Middelaar wat die verskil maak tussen lewe en dood. Een van die sterkste aspekte van Barth se hemelvaartsteologie is die manier waarop hy nie net vashou aan die teenwoordigheid van Christus te midde van sy fisiese afwesigheid nie, maar ook Christus se werksaamheid in dié tyd helder bely.

In Barth we find a tremendous emphasis on Jesus as the living and active Lord of the church, of christians and indeed of the whole cosmos, (Burgess 2004: 5)

- selfs ook in die tyd tussen hemelvaart en wederkoms.

 

7. KONKLUSIE

Hierdie nuwe belangstelling in die leerstukke van die ascensio en die sessio moet as 'n baie positiewe ontwikkeling gesien word. Dit is merkwaardig dat die gesprek feitlik terselfdertyd van verskillende kante af aan die gang gekom het. En dit is nog meer merkwaardig dat daar so 'n hoë mate van koherensie is in die basiese standpunte wat deur hierdie vier teoloë, ingeneem word

Eerstens is dit interessant dat al vier die outeurs baie sterk konfessioneel werk en beide die historiese werklikheid en sonder lang redenasies die belangrikheid van die hemelvaart en die sessio aanvaar. Hulle is kennelik nie onbewus van die vrae wat vanuit 'n moderne wêreldbeeld gevra word nie, maar sien dit nie as genoegsame rede om die werklikheid van die hemelvaart te betwyfel nie.

Tweedens is die hemelvaart belangrik omdat dit 'n wesenlike deel van die geskiedenis van Christus is. Ons kan Jesus nie sonder sy hemelvaart en sessio verstaan nie. Farrow waarsku saam met Barth dat dit katastrofiese gevolge vir die kerk en teologie kan hê as ons te gou sou wegkyk van Jesus en die laaste deel van die Jesus-verhaal vergeet. Almal van hulle is bedag op die moderne teologie se neiging tot universalisering as dit by die verlossing kom en glo dat die kerk in sy verstaan van Christus eerder in die ander rigting moet beweeg - wat beteken dat ons aan die uniekheid en die detail van die Jesus-geskiedenis baie goeie aandag moet gee.

Derdens is dit opvallend dat al die skrywers in 'n mindere of meerdere mate fokus op die voortgaande inkarnasie van Jesus en dit feitlik as 'n sjibbolet vir die regte verstaan van die hemelvaart sien. Die belangrikheid van die voortgaande inkarnasie word vanuit verskillende hoeke gemotiveer - dit is 'n wesenlike deel van die dubbele middelaarskap van Christus, 'n onontbeerlike komponent van Jesus se priesterskap aan die regterhand van die Vader en van die heel diepste grond van ons verlossing en hoop.

Vierdens: Terwyl al vier die teoloë sal erken dat daar in die tussentyd met beide die afwesigheid en die presensie van Christus rekening gehou moet word, verskil hulle oor die vraag waar die klem moet lê. Terwyl Farrow die werklikheid van die afwesigheid van Christus sterk beklemtoon en probleme in die kerk wyt aan 'n onwilligheid om dit te erken, is Dawson en Burgess meer positief oor die unieke geleenthede vir die kerk en die gelowige in hierdie tussentyd. Dit sal goed wees as hierdie gesprek voortgesit kan word. Die vraag waar Jesus is, is amper net so belangrik as die vraag wie Jesus is - vir die teologie, en dalk nog meer vir die kerk en die gelowiges.

Laastens ruk hierdie debat ook weer die vraag oor hoe ons oor God se werksaamheid in die geskiedenis moet dink, na vore. Dit het te doen met die kwessie van teenwoordigheid en afwesigheid waarna bo verwys is, maar neem dit nog 'n tree verder. In die gereformeerde teologie is daar tradisioneel nie net klem gelê op die teenwoordigheid van die verhoogde Christus by ons nie, maar ook op sy voortgaande werksaamheid as Profeet, Priester en Koning. Hierdie motief speel 'n belangrike rol by Barth, Dawson en Redding. Hopelik kan die nuwe debat ook lei tot 'n ernstiger gesprek oor hoe Christus ook ná sy hemelvaart steeds in die kerk en in die wêreld aan die werk is.

 

BIBLIOGRAFIE

Barth, K. 1966. Dogmatics in Outline. London: SCM Press.         [ Links ]

Burgess, A. The Ascension in Karl Barth. Hampshire: Ashgate Publishing.         [ Links ]

Davies, J.G. 1958. He ascended into Heaven: A Study in the History of Doctrine. London: Lutterworth Press.         [ Links ]

Dawn M. 2000. The call to be formed and transformed by the Spirit of the Ascended christ in M. Dawn & E. Peterson (eds.), The Unnecessary Pastor, (Grand Rapids: Eerdmans), pp. 139-182.         [ Links ]

Dawson, G.S. 2004. Jesus Ascended:The meaning of Christ's continuing Incarnation. Phillipsburg: R&R Publishing.         [ Links ]

Farrow, D. 1999. Ascension and Ecclesia: On the significance of the Doctrine of the Ascension for Ecclesiology and the Christian Cosmology. Edinburgh: T&T Clark         [ Links ]

Purves, A. 2004. Reconstructing Pastoral Theology: A Christological Foundation. Louisville: Westminster John Knox Press.         [ Links ]

Purves, A. 2007. The Crucifixion of Ministry. Downers Grove: IVP Books.         [ Links ]

Redding, G. 2003. Prayer and the Priesthood of Christ in the Reformed Tradition. London: T&T Clark.         [ Links ]

Sleeman, M. 2007. The ascension and heavenly ministry of Christ in S. Clark (ed.), The Forgotten Christ (Nottingham: Apollos), pp. 140-190.         [ Links ]

Torrance, J.B. 1996. Worship, Community and the Triune God of Grace. Downers Grove: IVP Books.         [ Links ]

Torrance, T.F. 1976. Space, Time and Resurrection. The Handsel Press.         [ Links ]

Torrance, T.F. 1983. The Mediation of Christ. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

Torrance, T.F. 1995. Royal Priesthood. London: T&T Clark.         [ Links ]

Webster, J. 2003. Review of Ascension and Ecclesia. Journal of Theological Studies, 54(1), April: 440-445.         [ Links ]

Wright, T. 2007. Surprised by Hope. London: SPCK.         [ Links ]

 

 

1 Die enigste volwaardige monografie oor die onderwerp wat tussen 1950 en 1998 verskyn het, was die boek He Ascended into Heaven van J.G. Davies.
2 Vgl. die studies van Purves (2004, 2007), James Torrance (1996), Dawn (2000) en Sleeman (2007).