SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número2Achmat Dangor (1948-2020)Reel Resistance: the Cinema of Jean-Marie Teno índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 no.2 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i2.17286 

BOOK REVIEWS

 

Ver in die wêreld

 

 

Samesteller: Frederik de Jager.
Kaapstad: Tafelberg, 2023. 223 pp.
ISBN 97806240895755.

Onder leiding van Frederik de Jager as samesteller van die versameling, bied Ver in die wêreld drie en twintig verhale-sommige fiksie, ander kreatiewe nie-fiksie- wat die lewe anderkant die waters onder die loep neem. De Jager, self 'n bekroonde kortverhaalskrywer wat ook al vir 'n hele aantal jaar in Griekeland woon, noem in die voorwoord dat die prosa in hierdie versameling ons laat sien dat "verskuiwing en vreemdelingskap ons dalk meer van onsself leer verstaan as inburgering" (11). Hierdie stelling resoneer waarskynlik by enige van die een miljoen of so Suid-Afrikaners wat in die laaste dekade hul koffers gepak het om te sien hoe dinge oorsee lyk, of diegene wat tans só 'n skuif oorweeg. Wat beteken dit om nie hier te woon nie? Wat verloor 'n mens as jy jou land verruil vir 'n ander, asook wat wen jy daaruit?

Die diversiteit van die vertelstemme teenwoordig, is merkwaardig. Skrywers wat tans in die buiteland woon of gewoon het, verteenwoordig veertien lande wat wissel tussen die ou bekendes wat om braaivleisvure gefluister word wanneer Suid-Afrikaners praat van emigreer (byvoorbeeld Australië, Nieu-Seeland, Kanada, Engeland en Amerika), tot die meer ongewone (byvoorbeeld Ysland en Kazakstan). Hieronder pronk bekendes in die Afrikaanse letterkunde wat al vir jare hul potlode oorkant die waters vlymskerp hou, inkluis Marita van der Vyver, Annemarié van Niekerk en Eben Venter.

Skrywers is in wese reisigers, terwyl reisigers ook graag die onbekende invaar met 'n pen byderhand. Waar sou die wereldletterkunde wees sonder Marco Polo se dertiende-eeuse beskrywing van sy avonture in Asië en die Verre Ooste? Die befaamde Venesiër se reisverslag-Book of the Marvels of the World (1300)-is egter nie nét 'n rekord van sy reise nie, maar 'n beskrywing van die wêreld soos hy dit ervaar het, bestaande uit verslaggewing, legendes, hoorsê en ook praktiese inligting ("The Travels of Marco Polo"). As sodanig word die reisnarratief nie net beklemtoon as 'n genre wat insig bied tot dit wat die leser moontlik nog nie (of nooit sal) ervaar nie, maar ook die genre bemagtig as een wat waarheid (of 'n bepaalde waarheid) vasvang. Dit is dan ook die geval met Ver in die wêreld.

Met die lees van hierdie bundel het ek die raakpunte tussen die prototipiese reisverhaal en die emigranteverhaal bepeins. Terwyl Ver in die wêreld waarskynlik onder die reisverhaalhoekie in jou naaste boekwinkel gevind sal word, is dit 'n sterker voorbeeld van emigranteliteratuur. Verhale wat oor die lot van die emigrant besin, voldoen aan al die tipiese kenmerke van die reisverhaal: 'n held of heldin bevind hom of haarself in die vreemde, kom te staan voor 'n struikelblok ('n positiewe óf negatiewe ervaring) wat die karakter dwing om bepaalde besluite te neem, en as sodanig sy/haar lot bepaal. In kort, 'n psigiese reis word deur 'n fisiese reis verbloem. Die verskil in die twee lê vanselfsprekend daarin dat die emigrant die onbekende aandurf met die doel om daar te vestig. Een so struikelblok is dan dat daar (waarskynlik) nie 'n retoerkaartjie is om te troos as dinge skeefloop nie. In 'n meer positiewe interpretasie van dié verhaalgegewe, kan dit ook beteken dat die tekort aan 'n retoerkaartjie sorg vir groot avontuur, die aanwins van kennis en die ervaring van 'n ander kultuur, maar tot die verlies van dit wat die karakter by die huis moes agterlaat. In alle opsigte word iets gewin, terwyl iets prysgegee word.

Vraagstukke omtrent aanpassing, verlies en wat uit die verhuising oorsee gewin kan word, is deurlopend in elk van die bundel se verhale teenwoordig. As sodanig voldoen hierdie verhale nie net aan die reisverhaal se doel in beskrywing van alles wat nie hier is nie, maar ook in die reisverhaal as memoir en filosofiese teks wat die subjektiewe ervaring in verhaalvorm giet. Daarteenoor, as voorbeelde van emigranteliteratuur, word die outeur of karakter se versterking van sosiale status (wat Bourdieu kulturele kapitaal sou noem) nie in hierdie verhale beklemtoon nie. Nee, hier word die held of heldin met die bloedige bokshandskoen van realiteit in die maag geslaan: die dollar en Euro kom maar net so ver, brood is duur, die weer is mistroostig, ruimte is maar min en huisies is knap, die verlange sit vlak in jou keel, jou taal is nie húlle taal nie, jy is nie deel van ons nie en word ook nie sommer die geleentheid gebied om in te pas nie. As sodanig verken die outeurs die waarheid-of waarhede-omtrent verplasing, naamlik dat die gras nie altyd groener is aan die anderkant nie, maar dat daar wel geluk gevind kan word. Hul stories hou rekening van wat dit is om aan een land te behoort, maar jouself vir watter rede ook pens en pootjies in 'n ander land te bevind.

Met die lees van die verhale is dit opmerklik dat 'n aantal kwessies universeel verken word. Die diversiteit van vertelstemme wys op allerlei maniere hoe hierdie uitdagings in verskeie kontekste in die oë gekyk word, maar nog meer hoe soortgelyke kwessies kreatief deur verskeie outeurs in hul unieke vertelstyle voorgestel word. Om in te pas is een so kwessie. Torr wys daarop dat 'n mens in Australië nie stroomop moet swem nie. As sodanig "onderdruk [jy] jou andersheid om in te pas" (28)-'n sentiment wat in ander verhale ook eggo. Van Niekerk se verhaal herinner dan weer dat alles nie noodwendig makliker is in 'n ontwikkelde land nie. 'n Blaasinfeksie en Nederland se gesondheidsorgsisteem, wat skynbaar nie vreeslik simpatie toon vir pyn nie, laat die verteller-protagonis huil "oor my land, my dokter, en alles wat vriendelik en maklik [in Suid-Afrika] was" (44). Die bundel in geheel bepeins temas betrekkende eensaamheid wat teenoor alleenheid gemeet word. Om alleen te reis kan vir groot rykdom sorg, met die voordeel dat jy jou eie ding op jou eie tyd kan doen. En tog is dit moontlik om in die mees pragtige, kosmopolitiese stede, omring deur duisende ander, eensaam te wees. Die tekort aan daardie retoerkaartjie voel in hierdie oomblikke soos 'n armoede wat die geleentheid en geluk van om daar te wees, oorrompel. Dan blyk dit dat om ongelukkig te wees by die werk ook dáár 'n realiteit is. Verder word die nou en hier gejukstaponeer met die toe en daar. Hiervolgens word die karakter/verteller se hede in die vreemde nie daadwerklik vergelyk met sy/ haar verlede in Suid-Afrika nie, wat gevolglik op 'n skaal van geluk-ongeluk gemeet sou word en die daar en toe moontlik telkemaal swaarder in gewig sou wees. Eerder word rekening gehou met van die verandering wat tyd inhou, insluitend die voordele wat die hier en nou beloof, ten spyte van die opofferings wat dit verg.

Vraagstukke rondom waarom 'n mens die pad vat, word ook onder die loep geneem. Ná 'n rewolwer op James Scott se vrou gerig is, en hulle emigrasie oorweeg, wonder hy wie so "ver gaan om te emigreer. Is ons 'n spul bekommerde mense wat nie met vrees vir die dag van môre kan saamleef nie? 'n Spul angsvarkies wat met soekende snoete 'n melk-en-heuning-tiet soek waaraan ons ons vir altyd kan vergryp? Is ons 'n onbetroubare spul? Mense wat hul ouers se hande los om vir hul kinders te sorg?" (76), maar hy kom tot die slotsom dat hy tog na enige plek sal verhuis waar hulle veilig voel (76). André-Pierre du Plessis skryf weer hoe 'n semester in New York skielik sewe jaar word. Sy rede daarvoor was skaamtelose bravade, "Ek wou wel iets aan myself bewys, en ek wou myself aan New York bewys" (86), maar ook omdat hy eenvoudig verlief geraak het op die stad, "op sy maniere, selfsugtigheid en stoere gewoonte om jou en miljoene ander te laat glo net jy maak saak" (86), al het hy nooit behóórt aan New York nie.

Daar is troos in die mens se aanpasbaarheid. Ten spyte daarvan dat Marita van der Vyver se protagonis, Janien, niks begeer nie en dat sy na jare saam met haar gesin in die historiese hart van Parys selfs al Frans lýk, is daar tog 'n "aanhoudende hunkering wat sy nooit met [haar man] sal kan deel nie" (46). Sy wonder of 'n "minnaar die holte diep binne-in haar kon vul?" (47). Sy het 'n geheim. Hoewel sy nie 'n kat in die donker knyp nie, kook sy in die middel van die nag skelm melkkos, wat haar na haar ouma laat verlang. Hierdie geheimpie oorweldig haar deur "herinnerings aan 'n tyd en 'n plek en 'n persoon wat sy verloor het" (50), maar dit bring tog vertroosting.

Verlies as tema word deurgaans gejukstaponeer met dit wat deur verplasing gewen kan word. James Scott se vriend herinner hulle byvoorbeeld dat hulle nie Suid-Afrika verloor nie, maar Australië by kry (77). Hy skryf: "Ons het almal die potensiaal om gewoond te raak aan die afwesigheid van die bekende. [...] Om betekenis in verlies te vind is om in die rouproses iets van onsself en die lewe te probeer leer. Enige verlies kan in 'n groeigeleentheid omskep word" (80). So ook ervaar diegene wat weer terugkeer 'n verlies van dit wat hulle daar gehad en ervaar het. André-Pierre du Plessis probeer byvoorbeeld "aan jou verduidelik, maar veel eerder aan myself, hoekom ek nie meer in New York woon nie" (86).

Ver in die wêreld is 'n insiggewende bundel wat, tipies van die reisnarratief, sorg vir groot leesplesier. Die verhale wys nie net op die realiteite wat ons tuis in die oë staar nie, maar ook dat vat-jou-goed-en-trek nie altyd so maklik is nie. Dan bied dit ook hoop vir diegene wat wel só 'n geleentheid kan aangryp. Met die lees van die bundel wonder ek minder of dit slaag in sy oortuigingswaarde, of die essays en verhale wat daarin saamgevat is my daarvan oorreed dat die lewe oorsee soveel mooier is as hier, of dat ek alle drome van moontlike emigrasie liewer moet laat vaar. Eerder is daar 'n besef dat die mensdom-"'n rustelose skepsel [...] begerig om elders te wees" (9)-ook maar net sy beste doen om sy plekkie onder die son te kry, ongeag dit hier of daar is. As ons stories soos hierdie kan lewer om uiting aan daardie ervaring te kan gee, dan is dit 'n baie goeie aanduiding dat Afrikaanse expat-literatuur 'n blink toekoms het.

Adean van Dyk

evdyka@unisa.ac.za
Universiteit van Suid-Afrika
Pretoria, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0002-0082-8129

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons