SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue2Women in marriage: from word to image in Ousmane Sembene's XalaAchmat Dangor (1948-2020) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.60 n.2 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i2.16692 

BOOK REVIEWS

 

Ontaard

 

 

Pieter Odendaal.
Kaapstad: Tafelberg, 2023. 67 pp.
ISBN 9780624093930.

Om 'n tweede digbundel die lig te laat sien, is nie 'n maklike of eenvoudige taak nie. Soveel te meer as die digter se debuut so goed ontvang is soos Pieter Odendaal se asof geen berge ooit hier gewoon het nie (2018). Met die sterk poësie in sy tweede bundel, Ontaard, wys Odendaal dat hy wel hierdie uitdaging die hoof kon bied. Die gedigte gryp aan én spoor die leser tot nadenke aan. In Ontaard sit Odendaal 'n aantal temas voort wat reeds in sy eerste bundel teenwoordig is, maar verfyn en verdiep dit op vernuftige wyse. Herkoms, skuld, medepligtigheid, geestesongesteldheid, en die mens se plek in die werklikheid kom weer eens onder die loep, maar aan die hand van selfs meervlakkiger beelde en metaforiek.

Soos in sy debuutbundel besin Odendaal in Ontaard vanuit sy eie subjekposisie oor verskillende perspektiewe op die werklikheid Die onthutsende beeld op die buiteblad maak dit duidelik dat perspektief in die kollig staan. Wanneer 'n mens die bundel oopslaan en die voor- en agterblad saam bekyk, staar twee kobaltblou oë, omring deur rooi, geel en swart "wimpers" die leser intiem aan. Die foto, geneem deur die Duitse fotograaf, Jan Rosenboom, is 'n ekstreme nabyskootfoto van 'n springspinnekop se oë onder 'n mikroskoop. Op sy Instagramblad, nature.inspiring, waar die foto te sien is, verduidelik Rosenboom dat die pupilagtigheid van die oë 'n weerkaatsing van die kameralens is en dus nie werklik deel is van die anatomie van die spinnekop se oog nie. Die interessante gevolg is dat die foto gelyktydig die spinnekop én die fotograaf se perspektiewe weerspieël. Mens en insek kyk met dieselfde oë, en word op 'n manier een.

Hierdie verstrengeldheid wat perspektief betref, is een van die deurlopende temas wat in die bundel waargeneem kan word. Alhoewel die digter besef dat hy "nooit iemand anders / se diepste hierwees kan ken nie" (15), vind die strewe daarna om dinge vanuit iemand of iets anders se perspektief waar te neem en uit te druk, in gedig na gedig neerslag. In 'n aantal gedigte word so 'n iemand of iets anders self aan die woord gestel. So word 'n mynhoop byvoorbeeld in die gedig "anderkant" (21) personifieer sodat die leser insig kan kry in hoe 'n mynhoop moontlik daaroor kan voel dat hy uit "sy wieg" weggeruk, sy liggaam uitgehol en dongas van sy hart gemaak word. Die klippe en die maan huil saam terwyl gras oor die mynhoop groei. Hy verlang na 'n "onderaardse tuiste / anderkant ontginning" terwyl hy wag vir die masjiene om hom opnuut uit te kom grawe. In "stook" (40) weier die son om te huil oor 'n afgebrande New South Wales tydens die verwoestende 2019-brande in Australië. Die bome in die brandende woude is "eeueoue getuies / van reën" wat "sengskree meters hoog in die lug". Die woude is "longe" wat verkool buite "ons longe" terwyl die "ons" petrol in die kar gooi en strand toe gaan om te gaan slaptjips vreet. Steeds weier die son om te huil. In hierdie gedigte word empaties omgegaan met die perspektief van die natuur, maar die persoonlike perspektief is altyd teenwoordig om te wys op die mens se rol in en aandeel aan die verwoesting. Saam met ontnugtering en magteloosheid oor die mens se onnadenkende misbruik en uitbuiting (sien bv. ook "the greatest hunt in history", 22; "iep" 31; "die oorvol heuwels om Makhanda", 35; "wintersonstilstand", 44; "vlokkies", 45; en "honeymoon", 60), lees 'n mens 'n versugting raak dat dinge anders kon wees, dat "ons (...) die grond se boegoe en aalwyn kon wees" ("ontkom", 46).

Tog bestaan die natuur nie slegs in verhouding tot die mens nie. Odendaal se ekopoësie verval nooit in blote antropomorfisme nie, maar lyk eerder na pogings om werklik te luister deur stem te gee aan dit wat nie menslike taal het nie. Die magiese gedig "bergvergadering" (58) is 'n uitbeelding van hoe magtige bergreekse van regoor die aarde (die Himalajas, Alpe, Cordilleras saam met Kilimanjaro en Tafelberg, oftewel Hoerikwaggo) in Peru byeenkom om 'n brandoffer van huise en landerye te bring, saam te huil en te dreunsing. Die gedig herinner sterk aan die slotgedig van asof geen berge ooit hier gewoon het nie, "wegraak", waarin die nietigheid van die mens amper mitologies opgestel word teen die grootsheid van die gang van geologiese tyd.

Dieselfde introspektiewe ingesteldheid wat spreek uit Odendaal se ekokritiese gedigte is ook teenwoordig in sy gedigte wat handel oor die verlede, wat die spreker se eie verlede en herkoms insluit. Aandadigheid en 'n gevoel van onafwendbaarheid word verweef in gedigte waarin die spreker intiem besin oor sy eie herkoms. Die openingsgedig "riviermond" (9) kan waarskynlik saam met Odendaal se semi-outobiografiese drama, Droomwerk, gelees word. Die toneelstuk word deur die loop van 2023 by verskillende kunstefeeste op die planke gebring, en word beskryf as 'n verkenning van die digter se erfenis as wit Afrikaanssprekende man met beide 'n slawe- en Europese herkoms. In "riviermond" beskryf die spreker homself as "'n ontmoeting van waters / 'n samevloei van sout en vars" (9) aan die suidpunt van Afrika. Aan die een kant lê Kaapstad as nalatenskap van kolonialisme en aan die ander kant die see wat weier om "die skepe vol slawe en base" te vergeet. Een skip kom uit die noorde met 'n Willem Adriaan Odendaal aan boord, iemand wat in die spreker se selle "muteer". Nog 'n skip kom vanaf Madagaskar met die slaaf Diana aan boord. Uit die samekoms van hierdie twee mense, een slaaf en een baas, "spoel" Odendaals uiteindelik oor die land. Die gedig "teen pieter odendaal" (19) is 'n woedende poging van die spreker om hom los te maak van die aaklighede wat 'n naamgenoot die plaaswerker John Rampuru in die spreker se elfde jaar aangedoen het. Die naam word 'n simbool van wit bevoorregting aangesien die skuldige jare later rustig kan lê en droom oor "al die draad wat hy oor die land gaan span" terwyl John se lot lank reeds vergete is.

Ten spyte van die onomkeerbaarheid van die ongeregtighede van die verlede ("die verlede wat nooit end kry nie", 47), streef die digter klaarblyklik daarna om die traumatiese gevolge daarvan tot 'n mate te versag, of ten minste om berusting te kry oor sy eie voorgeslagte se aandeel daarin. Hy verwyder hom nie daarvan nie, maar probeer eerder boete doen. In die gedig "bainsvlei, mangaung" (11) bring die spreker 'n kruiwa vol grond ('n deurlopende en gelaagde motief in beide Odendaal se bundels) na sy oupa se graf en stort dit oor die graf uit in 'n simboliese en gewelddadige offerande ("rooi soos 'n veldslag") waarmee hy hoop op "'n hergeboorte van palms". Om homself leeg te spoel van die las van die verlede ("rhodes, milner, kruger"), ondergaan die spreker 'n tradisionele ritueel waarvan verslag gedoen word in die gedig "reiniging" (62-3), met die onderskrif "'n dagboek, in dankbaarheid". In die aangrypende gedig met die veelseggende titel, "die sorgvryste droom in jare oor pa" (65), droom die spreker dat pa en seun na 'n mislukte jagritueel 'n geskenk van "'n skare hadidas / flaminke pelikane papegaaie" ontvang, 'n "kweer kwilt" as simbool van versoening en aanvaarding.

Die gekompliseerde en stormagtige aard van liefde, beide wat familie en geliefdes (of "lovers" soos Odendaal in sy eerste bundel daarna verwys) betref, is te sien in gedigte waarin die leser die digter se verlange en hartseer kan vóél. Daar is gedigte wat handel oor ou vriendskappe ("ons wat agterbly", 27; "PS", 30), oor erotiese ontmoetings ("freelance muse", 48; "escape ethekwini, 49) en onstuimige verhoudings ("LION", 53). Die hartverskeurende gedig "welwillendheidsdag" (56) oor sibbeliefde gaan hierdie leser nog lank bybly. Die digter se uitbeelding en persoonlike ervaring van liefde en verlange oor kontinente heen vind neerslag in "LDR", (51), "die wêreld is wyd en vol verlange" (52), "god of war" (54) en "dis lente, jy is op pad" (55).

Die bundel hou hoofsaaklik ernstige temas voor en daar heers 'n algemene gevoel van swaartillendheid in die bundel, wat waarskynlik in verband gebring kan word met die idee van "solastalgie" waarna die bundel se eerste motto verwys. Solastalgie, of die gevoel van "homesick in jou eie huis" wees, soos een van die bundelmotto's dit beskryf, is 'n belangrike deurlopende tema in die bundel. In hierdie opsig is die bundeltitel, Ontaard, veelseggend.

Aan die een kant ontaard en verrot die mens moreel omdat ons ons eie huis vernietig. Ons raak al hoe meer ont-aard, al hoe meer los van die aarde, tot ons eie nadeel. Die verlange waarna solastalgie verwys, dui op 'n deeglike besef van hierdie ont-aarding. Die laaste drie gedigte in die bundel druk die strewe daarna om weer deel te word van die aarde egter op hoopvolle wyse uit. Die gedigte "fontein" (65), "ode aan lug" (66) en "die een se dood" (67) spreek van 'n versugting om op spirituele wyse die oë (of perspektief) van die natuurelemente water, lug en aarde aan te neem. Om einde ten laaste ongekompliseerd deel te raak van w alles wat bestaan, om werklik alles se perspektief w aan te neem; "om uiteindelik volkome te aard" (67, beklemtoning bygevoeg).

Janien Linde

janien.linde@nwu.ac.za
Noordwes Universiteit
Potchefstroom, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0003-2361-8957

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License