SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 número2AsylumBrand índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.57 no.2 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i2.8466 

BOOK REVIEWS
https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i2.8466

 

Die biblioteek aan die einde van die wêreld

 

 

Etienne van Heerden. Kaapstad: Tafelberg, 2019. 640 pp. ISBN 978-0-624-08921-6.

Die geskiedenis is altyd teenwoordig, lui die gesegde. Ook in die Afrikaanse letterkunde is hierdie sentiment te vinde. Etienne van Heerden se jongste roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019), delf in die resente geskiedenis om te wys dat ons nie van tyd en van ons verledes kan ontsnap nie. Die gevolg is 'n vuishou in die maag, 'n kruisboogpyl in die skouer.

Dit is 'n tyd van groot onrus in Suid-Afrika. Die Rhodes Must Fall- en Fees Must Fall-bewegings skud die land se universiteitskampusse. Denke oor dekolonisering, identiteit en agentskap word opnuut vanuit ons eie hoekie in die Globale Suide uitgedaag. Tot watter mate is ons verwesters én hoekom enigsins? Tot watter mate moet vir die verlede se sondes betaal word? Wie is daarvoor verantwoordelik en hoe maak ons diegene daarvan bewus? Sodanig lees die roman as 'n tydsdokument van die jare 2016-2018.

Hierdie gegewens vorm die basiese uitleg van die verhaal, maar hier word met die geskiedenis gepeuter. In die nawoord skryf Van Heerden dat die teks 'n ideeroman is, wat met historiese feite smous (640). Hierdie fiksionalisering van die geskiedenis word uit die perspektief van drie karakters vertel.

Ian Brand, "kick-ass lawyer" (30), weerspieël aanvanklik één idee van die moderne Suid-Afrikaanse wit man. 'n Blink, rooi Alfa, 'n kantoor wat oor Kaapstad uitkyk en 'n hart vir kuns, kennis en idees. Met eerste ontmoeting blyk Ian 'n liberalis te wees wat teen die denke van sy vader se generasie skop, maar wat dalk te gretig is om ander van sy oortuigings te oorreed. Ian loop 'n vertaalkursus aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy sy liefde vir en kommer oor Afrikaans graag met sy klasmaats en ruggraatlose, liberale Engelse dosent deel. Terwyl hy nog vasgevang is in sy eie verlede met gruwel-herinneringe van die Grensoorlog wat by hom spook, is hy bekommerd oor 'n toekoms waar Afrikaans se waarde as estetiese taal geminag word. As 'n ingeligte, hou hy sy vinger op die pols van die tydsgees so goed hy kan. As gevolg hiervan nader 'n groep regse besigheidsmanne hom om die regsimplikasies van gesigsherkenningstelsels vir sekuriteitslandgoedere- "[d]ie moderne ekwivalent van die ossewalaer" (35-6)-te ondersoek. Kunsmatige intelligensie as beskermer én kapitaal-"[d]ata is die nuwe olie" (71), argumenteer Ian. Kwessies rondom kunsmatige intelligensie en die vierde industríele revolusie word so verken. Etiek en moraliteit betreffende Orwell-agtige sisteme van dophou word realiteit met die lees van die roman te midde die koronaviruspandemie. Dit bou ook op temas wat gereeld in Van Heerden se oeuvre gevind word, insluitende identiteit, dekolonisering en globalisering.

In 'n oomblik van frustrasie stuur Ian 'n twiet die kuberruim in-'n twiet wat sy lewe verander en sy identiteit as oopkop-Afrikaner op die weegskaal plaas. Die vae lyn tussen die kuberwêreld en ons eie kom ook hiermee tot lig, wat kwessies rondom tegnologiese vooruitgang, vryheid van spraak en anonimiteit in sosiale media inlei.

Teenoor Ian staan Thuli Khumalo, dogter van 'n struggle-ikoon, wat haar kinderjare in Londen deurgebring het waar haar pa vir die ANC-tak gewerk het. Sy is struggle-adel, en as 'n uitgesproke leier van die Fees Must Fall-beweging is sy bekend as die nuwe Winnie Mandela. Sy is intelligent, hardegat, onverskillig en soms onberouvol (veral teenoor Ian, saam met wie sy in die vertaalklas is, as verteenwoordiger van alle wit mans), maar sy glo bowenal in vryheid. Vryheid vir 'n generasie nuwe Suid-Afrikaners wat die juk van kolonisering wil afgooi, asook vryheid van leuens en bedrog, al beteken dit vaderverraad. Te danke aan haar agterdogtige vasbeslotenheid kom sy agter dat haar pa-eens 'n kampvegter vir vryheid-by 'n korrupte komplot betrokke is. Gretig vir die waarheid, onderneem sy 'n reis na China waar sy skyn besig is met navorsing vir 'n skryfprojek, maar eintlik die korrupsieplot ondersoek. Kort voor lank word sy daarin vasgevang.

Haar wêreld van politiese stryd op universiteitskampusse is een waar 'safe spaces' begeer word, waar ruimtes van intellektuele debat met 'trigger warnings' gepaard moet gaan. Teenoor dit staan Ian se droom van 'n biblioteek aan die einde van 'n grondpad en 'n ruimte wat idees sonder skroom uitstal, waar taboes, sondes en verskille jou konfronteer.

Ian en Thuli blyk teenpole van mekaar te wees, wie se paaie onwaarskynlik in 'n nie-fiksionele wêreld sou kruis. Fiksie bied wel die moontlikheid om te sê (of te doen) wat anders nie gesê sou word nie. Hulle antagonistiese verhouding verleen 'n dualistiese balans tot die verhaal, waarin teenstrydige idees ondersoek word en wat die kontemporêre tydsgees onder die loep neem. Ten spyte van hulle verskille, dryf hulle mekaar, en dit verleen 'n byna kosmologiese ondertoon aan die roman.

Jerome Maarman, 'n arm bruin student, wat saam met Ian en Thuli in die vertaalklas sit, word weens sy sosio-ekonomiese omstandighede kwaadaardig by die Fees Must Fall-beweging betrek. Tog vind hy nie heeltemal 'n tuiste in Thuli se kamp nie, maar nog minder in Ian s'n. Sy stryd is meer emosioneel en hy word as 'n liminale figuur uitgebeeld. Hoewel die passasies wat aan Jerome toegeken is, minder is as die van die ander twee fokalisators, is syne die enigste eerstepersoonvertelstem. Anders as Ian en Thuli kan hy nie so maklik as 'n tipe saamgevat word nie-wat hom die mees interessante karakter van die drie maak. Sy verhaal voel wel nog onvolledig, maar die roman se oop einde kan dalk nog moontlikhede hiervoor inhou.

Rassespanning, witheid, kollektiewe en individuele skuld is verdere temas wat, soos in die res van die Van Heerden-oeuvre, ook hier benader word. Met die Black Lives Matter-betogings van Junie 2020 in die VSA en Engeland, bied die teks vele outentieke parallelle met die werklikheid.

Die roman bring ook die outeur se groter fiksionele spel tog lig, met die verskyning van Snaar Windvogel, oorspronklik uit In stede van die liefde (2005) en later Klimtol (2013). Dan word daar ook vlugtig in suggestie na Tian Kilian se manuskrip verwys wat metafiksioneel Die wêreld van Charlie Oeng (2017) word. So ook word China (nes in Die wêreld van Charlie Oeng) jukstaposisioneel teenoor Suid-Afrikaanse ruimtes geplaas, terwyl die Karoo weereens as mitiese ruimte aangebied word.

Van Heerden bewys dat fiksie 'n politiese daad is, dat dit taboes kan oopskryf en dat dit empatie aanwakker. In 'n post-feit samelewing argumenteer hierdie roman dat fiksie waarhede kan vasvang.

Hoewel uiters kreatief, vind ek hierdie nie Van Heerden se boeiendste roman nie, maar tog die roman met die meeste erns. Dit oortuig! Hierdie boek is definitief Van Heerden se gevaarlikste roman.

Adean van Dyk

adean.vandyk@spu.ac.za

Sol Plaatje Universiteit

Kimberley, Suid-Afrika

ORCID: https://orcid.org/0000-0002-0082-8129

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons