SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número4What does the Greek say? - Spotlight on translation problems the New Testament posesTranslators cross swords! Translation problems relating to the sword as a weapon in 1 and 2 Maccabees índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.4 Pretoria Dez. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n4a8 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

' n Beraming van die jaarlikse persoonlike in-komste en jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021*

 

An estimate of the annual personal income and annual household income of Orania in 2021

 

 

Jannie Rossouw

Besoekende professor: Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: jannie.rossouw@wits.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel fokus op die jaarlikse persoonlike inkomste enjaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021. Met die oog hierop is Orania se sosio-ekonomiese opname, waarvan die veldwerk in 2021 afgehandel is en waarvan die resultate in 2022 gepubliseer is, tesaam met die besigheidsopname van 2022 ontleed.
Die Orania Sakekamer reik koopbewyse uit wat bekend staan as die ora en wat op 'n een-tot-een grondslag gekoppel is aan die Suid-Afrikaanse rand. Die ora word afgekort deur middel van die simbool "
φ". Ora-koepons sirkuleer as 'n wettige betaalmiddel in die dorp, teen φ1,00 gelyk aan R1,00. Aangesien inwoners van Orania verkies om bedrae in ora te benoem en nie die rand nie, word die navorsingsbevindings hier in ora gerapporteer.
Die totale jaarlikse persoonlike inkomste van die inwoners van Orania in 2021 is op sowat
φ300 miljoen beraam. Per capita jaarlikse persoonlike inkomste vir die 2 377 inwoners word dus op sowat φ125 000 beraam.
Hierteenoor word die jaarlikse inkomste van huishoudings in Orania in 2021 op sowat
φ200 miljoen beraam, wat heelwat laer is as die beraming vir jaarlikse persoonlike inkomste vir dieselfde tydperk. Hierdie verskil in ramings kan nie met bestaande opnamedata verklaar word nie.
Die ramings van die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste word gestaaf deur die data wat verkry is uit die Orania-besigheidsopname. Die omset van sake-ondernemings in Orania in 2021 word op
φ281 950 000 beraam en sake-eienaars het gerapporteer dat 51 persent van hul omset afkomstig was vanuit inwoners van Orania.
Daar is sekere opnamefoute in die data, terwyl bykomende inligting nodig is om die ramings te verbeter. Inligting oor die huishoudelike besparing en persoonlike inkomstebelasting wat betaal word, sal die ramings kan verbeter. Inligting oor die netto betaling van belasting op toegevoegde waarde (BTW) deur sake-ondernemings sal ook hiertoe bydra. Bykomende inligting is onder meer nodig om Orania se bruto geografiese produk te beraam.
Die gevolgtrekking kan nogtans gemaak word dat die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021 tussen
φ200 miljoen en φ300 miljoen beloop het. Die beraming laat 'n marge van 50 persent, wat statisties groot is, maar bied nietemin 'n maatstaf waarvolgens toekomstige bevindings oor dieselfde onderwerp met mekaar en met die bevindings uit die verlede vergelyk kan word. Daar moet ook tot die slotsom geraak word dat die groeivlak van Orania se persoonlike en huishoudelike inkomste sedert 1991, toe dit vir alle doeleindes op nul gestaan het, beduidend is.

Trefwoorde: Afrikaans; jaarlikse huishoudelike inkomste; jaarlikse persoonlike inkomste; ora (φ); Orania; verbruiksbesteding


ABSTRACT

Orania is situated on the southern bank of the Orange River in the Northern Cape Province of South Africa. The closest towns are Hopetown, 43 kilometres to the north-west, Vanderkloof, 49 kilometers to the south-east, and Petrusville, 51 kilometers to the south-east. Orania is about 160 kilometres south of Kimberley.
A unique aspect of Orania is that all inhabitants speak Afrikaans and are of the white population group. All business activities, education, social interaction and religious activities are conducted exclusively in Afrikaans. It is therefore described as an Afrikaner cultural enclave.
Research on various aspects of Orania has been undertaken and published, but none to date has estimated the level of total economic activity in the town. This article addresses this gap in extant literature by focusing on the annual personal income and the annual household income of Orania in 2021, as based on data collected for the most recent sosio-economic and business surveys that had been completed for the town in December 2021 and early in 2022, respectively.
At the time of these surveys, Orania'spopulation comprised 2 377 people, of which 1 635 were 20 years and older, and thus regarded as receiving of some sort of income. Simultaneously, Orania comprised 649 households and 220 businesses. The survey results are very complete, reporting data for 712 individuals of 20 years and older (43,5 per cent of the universum), 572 households (88,1 per cent of the universum) and all 220 businesses in Orania. Survey results with such a high response rate are uncommon.
The Orania Sakekamer [chamber of commerce] issues vouchers linked on a one-to-one basis to the South African rand, known as the ora. The latter is abbreviated as
φ and circulated as the legal tender in the town, at a rate of φ 1,00 equals to R1,00. Given the preference among Orania's inhabitants to refer to amounts in ora, rather than in rand, this article reports the research findings in ora, rather than in rand.
Based on an analysis of the survey data, the total personal annual income of Orania's residents in 2021 was estimated at some
φ 300 million. Per capita personal annual income for the 2 377 inhabitants was therefore estimated at some φ 125 000. This is about 20 per cent larger than South Africa's gross domestic product per capita of R102 982 in 2021. These results seem plausible, as Orania does not have an unempoyment problem, while South Africa's unemployment rate in 2021 exceeded 30 per cent.
In contrast, the annual household income of households in Orania in 2021 was estimated to be some
φ 200 million. This is considerably lower than the estimate for personal annual income for the same period. The difference in estimates cannot be explained in terms of the existing survey data. It can only be ascribed to differences in the interpretations of the questionnaires at the time of collecting the data.
The estimates of annual personal income and annual household income show some correlation with the survey data obtained from the Orania business survey. Turnover of business enterprises in the town in 2021 is estimated at
φ281 950 000, and business owners reported that 51 per cent of their turnover was generated by residents of Orania.
There are some survey discrepancies as evidenced by the data, and additional information is needed to improve the estimates. Information on household savings and personal income tax paid will help improve the validity of the estimates. Information on net payment of value added tax (VAT) will also cause enhancement of their validity. In addition, more information is necessary to calculate Orania's gross geographic product.
The conclusion must nonetheless be drawn that the annual personal income and annual household income of Orania in 2021 amounted to between
φ200 million and φ300 million. The estimate leaves a margin of 50 percent, which is statistically considerable, while it nonetheless provides a benchmark for future comparison in research on the same subject. Finally, the fact that Orania'spersonal and household income grew to this level from virtually nothing in 1991 must be given its due: it is impressive.

Key words: Afrikaans; consumption expenditure; annual household income; annual personal income; ora (φ); Orania


 

 

1. Inleiding1

Orania is geleë op die suidelike oewer van die Oranjerivier in die Noord-Kaapprovinsie van Suid-Afrika. Die naaste dorpe is Hopetown, sowat 43 kilometer ver in 'n noordwestelike rigting, Vanderkloof, sowat 49 kilometer ver in 'n suidoostelike rigting, en Petrusville, sowat 51 kilometer ver, ook in 'n suidoostelike rigting. Orania is sowat 160 kilometer suid van Kimberley. Figuur 1 dui die ligging van Orania in Suid-Afrika aan. Dit blyk dat die dorp naby aan die middelpunt van die land geleë is.

 

 

'n Unieke aspek van Orania is dat al sy inwoners Afrikaanssprekend van die wit bevolkingsgroep is. Alle besigheidsaktiwiteite, onderwys, sosiale interaksie en godsdienstige aktiwiteite geskied uitsluitlik in Afrikaans. Dit word gevolglik as 'n Afrikaner-kulturele enklave beskryf. Wirz (2008:i) beskryf die dorp as 'n "(s)elfstandige Afrikaner Gemeenskap in die Noord Kaap (sic)."

Orania is een van talle voorbeelde van 'n eenheidstaat waarbinne bevolkingsgroepe na eie belange en uiteindelike onafhanklikheid streef. Ander bekende voorbeelde is die provinsies Montana, Vidin en Vratsa binne Bulgarye (sien byvoorbeeld Daily Sabah, 2018), Vlaandere binne België (sien byvoorbeeld Charlemagne, 2020), Transylvanie, Banat en Székely Land binne Roemenië (sien byvoorbeeld Internet Archive: The Wayback Machine 2013), die inwoners van Baske, Galisië, Katalonië en Navarre binne Spanje (sien byvoorbeeld Newton, 2017) en Skotland binne die Verenigde Koninkryk (sien byvoorbeeld The Economist, 2018). Orania kan egter nie met hierdie streke of gebiede vergelyk word nie, weens wesentlike verskille soos:

(i) die aantal inwoners, wat baie kleiner is as die bevolking van enige van die streke of gebiede waarna hier bo verwys word;

(ii) die feit dat sekere van die streke of gebiede wat gemeld word, voorheen onafhanklik was;

(iii) die feit dat sekere van die streke of gebiede wat gemeld word, voorheen deel gevorm het van ander lande; en

(iv) die streke en gebiede waarna hier bo verwys word, die grootste gedeelte van 'n homogene bevolkings- of taalgroep omvat, terwyl Orania se bevolking 'n baie klein persentasie van Suid-Afrika se Afrikaanssprekendes vorm.

Voorts is Orania ook binne die Suid-Afrikaanse konteks baie kleiner as streke of gebiede binne ander lande wat onafhanklikheid of insluiting by ander lande nastreef. Twee voorbeelde illustreer hierdie aspek. Binne België is die Vlaamse bevolking sowat twee keer so groot as die Walloniese bevolking en is Vlaandere verantwoordelik vir sowat 58% van die bruto binnelandse produk (BBP) van die land (Cendrowicz, 2017). In die geval van Spanje, maak Katalonië se bevolking 16% van die totale bevolking uit, met 'n bydrae van meer as 20% tot Spanje se BBP.

Orania het 'n eie struktuur van openbare vakansiedae en volg nie Suid-Afrika se nasionale kalender ten opsigte hiervan nie. Die dorp handhaaf godsdienstige vakansiedae wat met feesdae in Suid-Afrika ooreenstem, byvoorbeeld Kersdag. Ander vakansiedae wat geld, is Majubadag (27 Februarie), Stigtingsdag (6 April), Bittereinderdag (31 Mei), Taaldag (14 Augustus) en Heldedag (10 Oktober) (Boshoff, 2020:192-201). Voorts is die naam van 'n vakansiedag op 16 Desember in Orania Geloftedag en nie Versoeningsdag soos dit bekend staan in die res van Suid-Afrika nie (Boshoff, 2020:201).

Senekal (2021:529) verduidelik dat Orania se aanvanklike oprigting in die 1960's niks te make gehad het met 'n Afrikanerenklawe of 'n volkstaat vir Afrikaners nie. Die dorp is in die 1960's gestig en opgerig om werknemers en hul gesinne van die destydse Departement van Waterwese te huisves. Hierdie mense was werksaam op die kanaalskema vir besproeiing uit die Vanderkloofdam (destyds die P.K. le Roux-dam). Vanderkloof by die Vanderkloofdam is aangelê vir die personeel wat aan die dam gewerk het (Wirz, 2008:1).

Nadat die Departement se projek voltooi is, het Orania ontvolk en is die dorp deur die Departement te koop aangebied. Dit is toe onder leiding van dr. Carel Boshoff aangekoop met die gedagte dat 'n volkstaat vir Afrikaners gevestig sou word (Boshoff, 2012). Die eerste persone wat dié gedagte onderskyf het, het hulleself in Februarie 1991 daar gevestig (Senekal, 2021:533). Die dorp is op 13 April 1991 aan die publiek bekend gestel en huise is vanaf daardie datum verkoop aan Afrikaners wat die ideale van 'n volkstaat onderskryf (Wirz, 2008:1). Volgens Wirz (2008:3) is Orania nie 'n plek waar apartheid beoefen word nie, maar waar Afrikaners hul eie werk verrig. Die beginsel dat Afrikaners hul eie werk verrig, staan op Orania bekend as selfwerksaamheid.

Hoewel Orania as een dorp beskryf word, bestaan dit uit verskillende woonbuurte. Figuur 2 toon die dorpsuitleg aan en dui die belangrikste woonbuurte, geografiese bakens, monumente, museums, skole, openbare ontspanningsterreine en so meer aan.

 

 

Navorsing oor verskeie aspekte van Orania is reeds onderneem en gepubliseer (Boshoff, 2012; Boshoff, 2020; De Klerk, 2014, Joubert et al., 2022; Senekal, 2019; Senekal, 2021; Wirz, 2008). Geen navorsing is egter tot op hede gedoen oor die vlak van totale ekonomiese bedrywighede in die dorp nie. Die bydrae van hierdie artikel tot die akademiese literatuur oor Orania is te vinde in die feit dat daar 'n gebrek aan gepubliseerde navorsing oor die omvang van ekonomiese bedrywigheid in Orania is. Die bestuur van Orania is van voorneme om die inwonertal van die dorp tot 10 000 te laat groei (De Klerk, 2014). Hierdie oogmerk moet egter deur beramings van inkomstevlakke en sakebedrywigheid in die dorp ondersteun word, wat 'n eerste stap is vir 'n verdere projek om Orania se bruto geografiese produk (BGP) te bereken.

Hierdie navorsing spreek hierdie leemte in die literatuur aan deur te fokus op die bruto jaarlikse persoonlike inkomste en bruto jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021, en op besigheidsinkomste in dieselfde jaar. Bruto jaarlikse persoonlike inkomste is 'n beskrywing van die totale jaarlikse inkomste wat al die inwoners van Orania verdien. Cambridge Dictionary (S.j.(b)) beskryf dit as " ... money earned by a person over a particular period of time", in hierdie geval 'n jaar. Dit is die basis waarop individuele persoonlike inkomstebelasting bereken word, wat beskryf word as "(p)ersonal income tax is the money you pay to government from your salary or wages" (Western Cape Government S.j.).

Hierteenoor word bruto jaarlikse huishoudelike inkomste bereken op die inkomste van 'n huishouding, wat bestaan uit die gesamentlike inkomste van al die individue in daardie huishouding. Cambridge Dictionary (S.j.(a)) beskryf 'n huishouding as "(a) group of people, often a family, who live together". Terwyl persoonlike inkomste dus op 'n individuele vlak meet, meet huishoudelike inkomste gesamentlik vir diegene wat saam woon. In beide gevalle impliseer "bruto" dat die inkomste gerapporteer word voor enige aftrekkings soos byvoorbeeld persoonlike inkomstebelasting.

Data wat ingesamel is oor die dorp se jongste sosio-ekonomiese en besigheidsopnames is hiervoor aangewend. Omdat ramings hier ter sprake is en nie die berekening van eksakte syfers nie, is dit nodig om sekere aananmes te maak. Waar toepaslik, word hierdie aannames duidelik uitgespel.

Die struktuur van die res van die artikel is soos volg: Afdeling 2 oorweeg bestaande literatuur oor Orania. Afdeling 3 bespreek die beperkings wat geld ten opsigte van die berekening van Orania se bruto geografiese produk. Afdeling 4 bied 'n oorsig van die ora (φ) as geldeenheid. In Afdeling 5 word Orania se jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste beraam. In Afdeling 6 word verbruiksbesteding in Orania beraam en die gevolgtrekkings volg in Afdeling 7.

 

2. Literatuuroorsig

Die geskiedenis van Orania en die ontwikkeling van die dorp sedert die vestiging van die volkstaatsgedagte word deur verskillende outeurs beskryf. In sy outobiografie bespreek Boshoff wat die leidende rol gespeel het rondom die aankoop en vestiging van die dorp, die ontwikkeling daarvan tot sy huidige formaat: dit wil sê, met betrekking tot die tydperk ná die aankoop (2012:384-389). Ná die dorp met die oogmerk van 'n volkstaat aangekoop is, is die eerste eiendomme op 13 April 1991 aan voornemende kopers beskikbaar gestel. Die aankoop van die dorp is in November 1991 opgevolg met die aankoop van die plaas Vluytjeskraal 272, wat rondom Orania geleë is.

Me. Annatjie Boshoff, die suster van dr. Carel Boshoff, se outobiografie bespreek ook die ontwikkeling van Orania sedert 1991 (Boshoff, 2020). Sy beskryf haarself as die "sesde intrekker van Orania" (Boshoff, 2020:iv). In haar outobiografie (Boshoff, 2020) beskryf sy verskeie aspekte van die ontwikkeling van Orania sedert sy in 1991 daar ingetrek het. Die stigting van die Afrikanervolkswag in 1984 was volgens haar die eerste tree in die rigting van die ontwikkeling van Orania in sy huidige formaat (Boshoff, 2020:103-104). Die Afrikanervolkswag het so ver terug as 1984 reeds onder meer ten doel gehad om 'n streek in Suid-Afrika te vestig waar Afrikaners hulself kan regeer.

Op sy beurt fokus Senekal (2021) op die ontstaansgeskiedenis van Orania vanaf die tyd toe dit deur die Departement van Waterwese gevestig is. Hy bespreek ook die ontwikkeling van die gedagte daaraan om 'n Afrikanervolkstaat in Suid-Afrika te vestig. Dié gedagte is volgens hom vir die eerste keer deur die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-Aangeleenthede (SABRA) geopper (Senekal, 2021:529). SABRA het in 1964 'n studiekomitee op die been gebring om die gedagte aan "blanke groeipunte" te ondersoek (Senekal, 2021:529). Die destydse voorsitter van SABRA, dr. Gerrit Viljoen, het in 1972 voorgestel dat die moontlikheid van 'n volkstaat ondersoek moet word (Senekal, 2021:529).

In sy omvattende artikel oor Orania, hanteer Senekal (2021) 'n wye verskeidenheid literatuurbronne oor Orania, soos blyk uit die feit dat hy meer as 200 bronne in die artikel se bibliografie meld. Senekal (2021) kan geraadpleeg word vir 'n oorsig van beskikbare literatuur oor Orania, wat gevolglik nie hier herhaal word nie.

De Klerk (2014) lig Orania se bevolkingsgroei sedert 1991 toe en bespreek die visie om die dorp tot 10 000 of meer inwoners te ontwikkel. Aangesien die dorp se bevolking sedert 1991 gegroei het met gemiddeld sowat 10 persent perjaar, is die oogmerk van 10 000 inwoners nie onrealisties nie, maar waarskynlik eers bereikbaar oor 'n dekade of twee.

Om vir die groei in die inwonertal voorsiening te maak, is ekonomiese ontwikkelingsplanne saamgestel en gepubliseer. Die mees onlangse planne is getiteld Ontwikkelingspyplynprojekte (S.j.) en Orania ekonomiese ontwikkelingsplan 2015. Hierdie bronne maak onder andere voorsiening vir die ontwikkeling van meer woon- en besigheidserwe.

Volgens Wirz (2008:5) word ontwikkelingsbesluite in Orania en die uitvoering daarvan ten opsigte van die volgende twee maatstawwe beoordeel:

(i) Dit moet ekologiese volhoubaarheid bevorder.

(ii) Dit moet die gemeenskap se strewe na ekonomiese selfstandigheid stap vir stap bemagtig.

Senekal (2021) sluit ook die groei van die mediaberiggewing oor Orania in, asook die dorp se bevolkingsgroei, die ontwikkeling en vestiging van die ora as plaaslike geldstelsel en die spanninge wat van tyd tot tyd tussen die dorp se leiers voorgekom het. Senekal (2021) bespreek verder sekere suksesse en mislukkings rondom die dorp se ekonomiese ontwikkeling.

Hy identifiseer voorts sekere onderwerpe waaroor verdere navorsing gedoen kan word, byvoorbeeld die Orania Spaar- en Krediet Koöperatiewe Bank (OSK Koöperatiewe Bank), die rol van toerisme en mediese dienste in die dorp se ontwikkeling en naskoolse opleiding (Senekal, 2021:545). Sy artikel bespreek egter nie die vlak en omvang van ekonomiese bedry-wighede in Orania nie en dui ook nie die behoefte vir sodanige navorsing aan nie.

Joubert et al. (2022) ontleed die OSK Koöperatiewe Bank teen die agtergrond van die rol wat koöperatiewe banke en koöperatiewe finansiële instellings in die Suid-Afrikaanse ekonomie vervul, wat dus een van die onderwerpe dek wat deur Senekal (2021:545) vir verdere navorsing uitgestip is. Joubert et al. (2022:827) bevind dat die OSK Koöperatiewe Bank 'n beduidende positiewe impak op Orania het: in "2019 was daar ongeveer 550 geregistreerde eiendomme in Orania, terwyl die OSK Koöperatiewe Bank 306 van hierdie eiendomslenings op sy boeke gehad het (dus sowat 55 persent)." Voorts voel hierdie navorsers dat daar steeds heelwat ruimte vir verdere akademiese navorsing oor Orania is en meld veral die noodsaak van navorsing oor " ... die grootte van die Orania-ekonomie self (...), byvoorbeeld om die bruto geografiese produk en die verandering daarvan oor tyd te bereken. Laasgenoemde kan dien as 'n belangrike verwysingspunt (delertal) wanneer veranderlikes oor tyd ontleed word" (Joubert et al., 2022:827). Hierdie artikel fokus juis hierop.

 

3. Berekening van Orania se bruto geografiese produk

Die BGP word op diesefde wyse as die BBP van 'n land bereken, maar slegs vir die betrokke gebied, in hierdie geval Orania. BBP-berekeninge is 'n omvattende proses en BBP-syfers word as die beste ramings gepubliseer, en nie as wetenskaplike en akkurate berekenings nie. BBP-syfers is tot 'n dekade ná die publikasie daarvan steeds aan hersiening en herbasering onderworpe.

Mohr et al. (1988:20) beskryf die beraming van die BBP as 'n aanduiding van die " ... totale waarde van alle finale goedere en dienste wat gedurende 'n tydperk in die ekonomie geproduseer word. 'Bruto' beteken dat geen voorsiening vir waardevermindering gemaak word nie en 'finale goedere en dienste' word gebruik om dubbeltelling te vermy." Die BBP kan volgens die produksiemetode, die inkomemetode en die bestedingsmetode bereken word (Mohr, 1998:21).

Die produksiemetode beraam die toegevoegde waarde wat die verskillende sektore bydra tot die BBP of BGP, soos die geval mag wees (Mohr, 1998:22). Die formule wat gebruik word, is soos volg:

waar

BWPU = bruto waarde van produksie-uitset; en

WIV = waarde van intermediäre verbruik in produksieprosesse.

Die inkomemetode beraam die BBP of BGP op grond van die inkome wat die verskillende produksiefaktore verdien (Mohr, 1998:21). Die formule wat in hierdie geval gebruik word, sien soos volg daaruit:

waar

TNI = totale nasionale inkome (inkome binne die gebied), naamlik huur, salarisse en winste;

VB = belasting op verkope, naamlik verkoopbelasting en belasting op toegevoegde waarde; D = depresiasie; en

NFIB = netto faktorinkomste van die buiteland (buite die gebied), met ander woorde inkomste wat deur produksiefaktore buite die land of gebied verdien is.

Die bestedingsmetode raam die BBP of BGP op grond van die besteding van die onderskeie sektore in die ekonomie (Mohr, 1998:23). Die formule wat gebruik word, is soos volg:

waar

V = verbruiksbesteding deur huishoudings;

I = investering;

O = owerheidsbesteding; en

NU = netto uitvoer uit die land/gebied.

Hierdie vergelyking vir die BBP is in Engels as die gross domestic product (GDP) baie bekend. Die afkorting is GDP = C + I + G + NX, waar C consumption expenditure (verbruiksbesteding deur huishoudings) is, I investment (investering) is, G government expenditure (owerheidsbeste-ding) is en NX net exports (netto uitvoer) is.

Omdat dieselfde aanwyser gebruik word, behoort die drie formules dieselfde resultate te gee. Gevolglik kan vergelykings (1), (2) en (3) aan mekaar gelyk gestel word, soos hieronder in vergelyking (4):

'n Ontleding van die drie metodes vir die berekening van die BBP of BGP in vergelykings (1) tot (3) of soos in vergelyking (4) toon dat daar te veel ontbrekende inligting is om die BGP van Orania met die beskikbare inligting te bereken. Op die oog af is die meeste inligting vir die berekening van die BGP kragtens die bestedingsmetode beskikbaar.

Selfs volgens die bestedingsmetode kan Orania se BGP egter nie met beskikbare inligting en data bereken word nie. Huishoudelike en persoonlike inkomste, toegelig deur die omset van sake-ondernemings, is tans die enigste aanwysers van ekonomiese bedrywigheid op die dorp. Die dorpsraad van Orania moet dus die omvang ekonomiese en sosiale opnames uitbrei om in die toekoms inligting vir navorsing beskikbaar te stel ten einde die dorp se BGP te bereken.

Die eerste stap in die proses waarvolgens Orania se BGP beraam moet word, is om die dorp se jaarlikse persoonlike inkomste enjaarlikse huishoudelike inkomste in ora (φ) te bereken. Orania se verbruiksbesteding word vervolgens ook bereken. Vooraf, egter, een of twee belangrike notas oor dié geldeenheid. Transaksies in Orania vind in ora en in rand plaas. Trouens, dit sal 'n oortreding van Artikel 17(1) van die Wet op die SA Reserwebank (1989) wees om nie rand vir transaksies te aanvaar nie. Hierdie Artikel van die Wet bepaal dat randnote tot enige bedrag as finale vereffening van enige transaksie in Suid-Afrika aanvaar moet word.

 

4. Die ora (φ)

Volgens Senekal (2021:536) kan die eerste planne om 'n eie geldeenheid vir Orania te vestig, teruggevoer word na die jaar 2002. Wirz (2008:8) sê dat die gedagte aan 'n eie geldstelsel vir Orania die eerste keer geopper is " ... deur prof Johan van Zyl, 'n konsultant in ekonomiese ontwikkeling, tydens 'n konferensie van die Orania Beweging in 2002 in Orania".

Die ora is vir die eerste keer op 29 April 2004 uitgereik en in omloop geplaas (Wirz, 2008:8). Dit was aanvanklik in denominasies van φ10, φ20, φ50 en $100 beskikbaar (Wirz, 2008:8), maar 'n $200-koepon is intussen bygevoeg. Volgens Joubert et al. (2022:824) was daar teen 2019 " ... na raming ora ten bedrae van sowat R1,5 miljoen in omloop".

Die ora word nie 'n "geldeenheid" genoem nie, maar staan bekend as 'n "koepon" of "koopbewys" (Wirz, 2008:8). Die rede hiervoor is dat die Wet op die SA Reserwebank in Artikel 14(i) bepaal dat "(d)ie Bank die alleenreg (besit) om in die Republiek banknote en munte uit te reik of te laat uitreik ... " (Wet op die SA Reserwebank 1989). Om na die ora as 'n geldeenheid te verwys, sou dus 'n oortreding van die Wet op die SA Reserwebank wees.

Die ora word op grond van 'n een-tot-een verhouding met die Suid-Afrikaanse rand uitgereik. Ora-koepons word verkoop vir rand, wat in reserwe gehou word. Die ora word deur die Orania Sakekamer gedruk en in omloop geplaas, maar word deur die OSK Koöperatiewe Bank geadministreer en uitgereik en, ná gebruik, uit omloop onttrek (Joubert et al., 2022:824).

Die voordele van 'n eie geldeenheid in die vorm van koepons word soos volg deur Senekal (2021:536) opgesom:

Kontant in omloop word deur ora-koepons verteenwoordig en nie deur die rand nie.

Die rand wat vir die ora-koepons betaal is, word in reserwe gehou as 'n voorwaardelike verpligting teenoor die ora in omloop, maar verdien rente vir die Orania Sakekamer.

Koopkrag word binne Orania gehou, want die ora-koepons sirkuleer slegs in die dorp.

Gebruik van die koepons ondersteun die plaaslike lewering van dienste.

Ora-koepons kan net in Orania bestee word en is daarom veiliger as ander vorms van kontant.

Joubert et al. (2022:824) bespreek sekere aspekte van die ora-koepons. Agterop die koepons is advertensieruimte wat aan plaaslike besighede in Orania verkoop word om die drukkoste van die koepons te dek (Joubert et al., 2022:824). Die koepons het sekerheidseienskappe om vervalsing aan bande te lê, byvoorbeeld fluoresserende eienskappe wat slegs onder UV-ligte sigbaar is (Joubert et al., 2022:824). Elke koepon het ook 'n unieke nommer.

In Orania se dokumentasie, rekords en navorsingsverslae word bedrae en transaksies aangedui in ora en nie in rand nie. Teen hierdie agtergrond, soos dit reeds genoem is, word ora en φ in hierdie navorsing gebruik.

 

5. Orania se jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste

Die Orania Sosio-Ekonomiese Opname (2022) verskaf omvattende inligting oor verskeie aspekte van die inwoners van Orania. Dié inligting bied besondere insig oor die stand van Orania. Vergelykings wat oor tyd heen strek met betrekking tot opeenvolgende opnames verskaf 'n goeie grondslag vir die beplanning van die dorp se ekonomiese ontwikkeling. Die gepubliseerde inligting is hier gebruik vir die beraming van die jaarlikse persoonlike enjaarlikse huishoudelike inkomste, maar die onderliggende opnamedata is ook op 'n vertroulike basis aan die outeur beskikbaar gestel sodat die gehalte van die beraming verder verfyn kon word. Die data wat ontleed word, is in 2022 gepubliseer, maar die onderhoude deur middel waarvan data versamel is, is hoofsaaklik in November en Desember 2021 afgehandel, terwyl 'n klein restant in Januarie 2022 afgehandel is (e-poskorrespondensie met mnr. G Snyman).

Die Orania Sosio-Ekonomiese Opname (2022) stel die totale inwonertal van die dorp teen die einde van 2021 op 2 377 en die totale aantal huishoudings op 649. Hierdie syfers word in hierdie artikel gebruik, want die bruto persoonlike inkomsteberaming en bruto huishoudelike inkomsteberaming word onder meer op grond van dieselfde opname gemaak. Die Orania Sosio-Ekonomiese Opname (2022) meld dat Orania 'n " ... gemiddelde jaarlikse huishoudelike groeikoers van 9,9% vir die tydperk tussen 2014 en 2021" ervaar het. Die bruto persoonlike inkomste en bruto huishoudelike inkomste in Orania wat in hierdie artikel bereken is, moet as die syfers vir die einde van 2021 beskou word, want die veldwerk vir die opname is grootliks teen daardie tyd afgehandel.

Die ouderdomsverspreiding van Orania se 2 377 inwoners word in Tabel 1 getoon.

 

 

Tabel 1 weerspieël 1 635 inwoners van Orania wat 20 en ouer is en dus deel van die werkende arbeidsmag kan wees of inkomste kan verdien, insluitende pensioene en opbrengs op beleggings. Voorts toon Tabel 2 die werksprofiel van Orania se inwoners van werkende ouderdom soos dit deur die Orania Sosio-Ekonomiese Opname (2022) aangeteken is.

 

 

Tabel 3 reflekteer die hoofbron van inkomste van 572 huishoudings wat op die betrokke vraag in die opname gereageer het.

 

 

Figure 3 en 4 toon die maandelikse persoonlike inkomste van individue en maandelikse huishoudelike inkomste in Orania.

 

 

 

 

Die onverwerkte data toon dat die opname vir 572 huishoudings in Orania voltooi is. Dit wil sê, sowat 88 persent van 649 huishoudings in Orania is betrek by die opname. Uit die onverwerkte data blyk dit dat geen data oor persoonlike inkomste ingesamel is nie ten opsigte van 134 huishoudings. Inkomstedata is dus vir 438 huishoudings beskikbaar (76,5 persent van totale huishoudings).

Dit is onduidelik of die respondente in die 134 huishoudings waar geen data aangeteken is nie, werklik geen inkomste gehad het nie en of hulle verkies het om nie die betrokke inligting bekend te maak nie. Hierdie aspek kan by wyse van aanname op een van twee maniere hanteer word:

(i) Hierdie respondente het verkies om geen data te verskaf nie: dié opsie lyk waarskynlik.

(ii) Hierdie respondente het geen inkomste gehad nie: dit is onwaarskynlik dat 23,4 persent van die huishoudings in Orania geen inkomste het nie.

Die aanname is dus dat persoonlike inkomstedata ten opsigte van die inwoners in 438 huishoudings (sowat 76,5 persent) in Orania beskikbaar is, terwyl 134 huishoudings verkies het om geen data beskikbaar te maak nie. In sommige van die huishoudings wat inligting bekend gemaak het, was daar meer as een persoon wat inkomste verdien, ongeag die bron van die inkomste.

Die inkomste van individue word in die navorsingsdata volgens inkomste-intervalle gerapporteer en die gemiddeld van hierdie intervalle word vir die ontleding gebruik. Met betrekking tot inkomste groter as φ204 801 is 'n inkomstevlak van φ205 000 gebruik. Dit is egter duidelik dat daar sekere datafoute in die opnamedata is, byvoorbeeld:

(i) In een geval weerspieël die opnamedata die maandelikse persoonlike inkomste in een betrokke huishouding groter as φ204 801 vir die hoofbroodwinner en φ102 401 tot φ204 800 vir die eerste volwassene (afgesien van die hoofbroodwinner). Die maandelikse totale huishoudelike inkomste is egter as φ60 001 tot φ80 000 gerappor-teer. Hierdie syfers is duidelik onversoenbaar.

(ii) In 179 gevalle is die totale maandelikse persoonlike inkomste van die volwassenes in 'n huishouding hoër of laer as die totale maandelikse inkomste vir dieselfde huishouding. Hierdie probleem kan hanteer word deur (a) maandelikse persoonlike inkomste met maandelikse huishoudelike inkomste te versoen, of (b) maandelikse huishoudelike inkomste met maandelikse persoonlike inkomste te versoen.

(iii) Wanneer maandelikse persoonlike inkomste met maandelikse huishoudelike inkomste versoen word, moet eersgenoemde in 114 gevalle afwaarts en in 65 gevalle opwaarts aangepas word.

(iv) Wanneer maandelikse huishoudelike inkomste met maandelikse persoonlike inkomste versoen word, is die teenoorgestelde natuurlik waar: In hierdie geval moet maandelikse persoonlike inkomste in 114 gevalle opwaarts en in 65 gevalle afwaarts aangepas word.

(v) Soos hier onder verduidelik word, beloop die omvang van hierdie aanpassing 9 persent, maar albei inkomstesyfers voor en na aanpassing word gerapporteer.

Ten spyte van die moontlike datafoute is die inligting soos dit gerapporteer is, gebruik vir 'n eerste beraming van die maandelikse persoonlike inkomste. Die data toon dat 712 volwasse individue maandelikse inkomste gerapporteer het en dat dit gewissel het van 'n laagste interval van φ1 tot φ400 per maand tot die hoogste groter as φ204 801 per maand. Gegrond op die gemiddelde van die intervalle het hierdie 712 individue 'n totale maandelikse persoonlike inkomste van φ11 790 986 gerapporteer. Vir 712 respondente impliseer dit gevolglik 'n gemiddelde persoonlike maandelikse inkomste van φ16 560.

Ten tye van die opname was daar 1 635 inwoners van Orania wat ouer as 20 was en wat in die een of ander vorm 'n inkomste kon verdien. As die berekende gemiddelde persoonlike maandelikse inkomste van 712 inwoners as 'n verteenwoordigende steekproef beskou word, terwyl daar aanvaar word dat alle inwoners 'n inkomste verdien, impliseer dit 'n totale maandelikse persoonlike inkomste van φ27 076 210 (φ11 790 986/712 x 1 635) en dus 'n totale jaarlikse persoonlike inkomste van φ324 914 530. Jaarlikse persoonlike inkomste van φ324 914 530 impliseer per capita jaarlikse persoonlike inkomste van φ136 691 (φ324 914 530/2 377) gesien in die lig van Orania se totale aantal inwoners (2 377), ongeag ouderdom, ten tye van die sensus.

Soos dit reeds genoem is, is daar egter datafoute in die onderliggende opnamestof. Nadat aanpassings gemaak is om die maandelikse persoonlike inkomste met maandelikse huishoudelike inkomste te versoen, word die maandelikse persoonlike inkomste van 712 inwoners wat in die opname ingesluit is, op φ10 730 368 per maand beraam, dit wil sê, sowat 9 persent laer. Dienooreenkomstig word die jaarlikse persoonlike inkomste 9 persent laer op φ295 672 222 beraam, terwyl per capita jaarlikse persoonlike inkomste dan beraam word op φ124 389.

Bruto maandelikse huishoudelike inkomste is in die onverwerkte data gerapporteer vir 441 huishoudings in Orania. Die maandelikse inkomste van hierdie huishoudings beloop volgens die opnamedata φ10 777 613. Die Orania Sosio-Ekonomiese Opname (2022) raam die aantal huishoudings ten tye van die opname op 649 wat weer eens beteken dat data vir sowat 68 persent van huishoudings aangeteken is. Dit verteenwoordig 'n besondere groot steekproef vir enige data waar beramings vir 'n universum gemaak word. Op grond hiervan word die maandelikse huishoudelike inkomste in Orania op φ15 860 931 (φ10 777 613/441 x 649) beraam. Die jaarlikse huishoudelike inkomste word dus op φ190 331 179 beraam.

Om die bruto maandelikse huishoudelike inkomste met die bruto maandelikse persoonlike inkomste te versoen (die teenoorgestelde proses as wat hier bo beskryf is), moet eersgenoemde met 9 persent opwaarts aangepas word. Na hierdie aanpassing word die bruto jaarlikse huishoudelike inkomste dus op φ209 155 142 beraam.

In 'n poging om die verskil in beramings toe te lig, is die bestedingsdata van die 456 huishoudings wat in die opnamedata gerapporteer word, ontleed. Die maandelikse besteding van hierdie huishoudings word gerapporteer as ¢5 273 889. Aangepas vir 649 huishoudings, word dit beraam op φ7 509 039 (φ5 273 889/456 x 649) per maand of φ90 072 472 per jaar. Hierdie syfer korreleer swak met die berekende persoonlike of huishoudelike inkomste. Die indruk is dat huishoudelike besteding ondervermeld is in die opname. In 'n poging om die dataverskil tussen inkomste en uitgawes te verklaar, moet toekomstige sosio-ekonomiese opnames ook vrae oor huishoudings se persoonlike besparing (diskresionêr en kontraktueel) en persoonlike belastingverpligting insluit.

Op grond van hierdie ontleding word die jaarlikse persoonlike inkomste van die inwoners van Orania op sowat φ300 miljoen perjaar beraam. Hierteenoor word die jaarlikse huishoudelike inkomste op sowat φ200 miljoen beraam. Hierdie ramings kan in die vervolg verfyn word as die vrae in die opnamevraelys uitgebrei word, soos aanbeveel word. Die beraming verskaf 'n maatstaf deur middel waarvan toekomstige opnamedata met mekaar vergelyk kan word asook met die ramings uit die verlede. Voorts is bevind dat die opnamedata nagegaan moet word om foute uit te skakel voordat dit vir verslagdoening verwerk word.

 

6. Verbruiksbesteding in Orania

Die Orania Besigheidsopname (2022) rapporteer die omset van ondernemings in Orania. Voorts gee dit 'n aanduiding van die besteding wat geskied onder Orania se inwoners in die dorp teenoor besteding van persone van buite. Die Orania Besigheidsopname (2022) rapporteer data wat verkry is deur middel van 220 vraelyste wat deur sake-eienaars voltooi is. Boshoff (2020:360-361) rapporteer die bestaan van 63 besighede in Orania teen 2003.

Volgens die vraelyste is 51 persent van die kliënte van Orania se sake-ondernemings in die dorp woonagtig. Tabel 4 weerspieël die gemiddelde jaarlikse omset van sake-ondernemings in Orania in 2021.

 

 

Omdat omset-intervalle gerapporteer word met die uitsluiting van omsette bo φ10 000 000 en kleiner as φ500 000 per jaar, is die gemiddelde van elke interval vir berekeningsdoeleindes gebruik. Die berekenings word in Tabel 4 vervat. Vir 'n omset bo φ10 000 000 per jaar is φ15 000 000 per jaar gebruik. Vir 'n omset wat laer is as φ500 000 per jaar is 'n omset van φ400 000 per jaar vir berekeningsdoeleindes gebruik. Op grond hiervan word die omset van sake-ondernemings in Orania in 2021 op sowat φ281,9 miljoen (φ281 950 000) beraam.

Sekere datafoute kan geïdentifiseer word in die Orania Besigheidsopname (2022):

(i) Ondernemings (sewe in totaal) waarvan die jaarlikse omset as "φ500 000 001" tot φ10 000 000 aangedui word. Gegewe die wyse waarop omset-intervalle vir ondernemings aangedui word, lyk dit op die oog af asof die omset in werklikheid φ5000 001 - φ10 000 000 in hierdie sewe gevalle is.

(ii) 'n Handwerkonderneming waarvan die omset aangedui is as φ500 000 001 tot φ10000 000 perjaar (dit het betrekking op een van die sewe ondernemings hier bo). Selfs 'n omset van φ5 000 001 - φ10 000 000 per jaar lyk in hierdie geval onwaarskynlik.

(iii) 'n Somatologiese onderneming waarvan die omset groter as φ10 000 001 per jaar aagedui word. 'n Omset op hierdie vlak lyk onwaarskynlik.

Die Orania Besigheidsopname (2022) rapporteer nie die BTW wat ondernemings op Orania betaal nie. Die aanbeveling is gevolglik dat die opname uitgebrei word om sodanige betalings in te sluit. Dit sal nuttige inligting verskaf oor die ekonomiese waardetoevoeging wat op Orania plaasvind.

 

7. Gevolgtrekkings

Hierdie artikel bied 'n eerste beraming van Orania se jaarlikse persoonlike inkomste enjaarlikse huishoudelike inkomste. Jaarlikse verbruiksbesteding word ook toegelig om jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste in perspektief te plaas. Die beraming van die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste is net die eerste tree in 'n proses waarvolgens Orania se BGP uiteindelik bereken kan word.

Jaarlikse persoonlike inkomste in Orania teen 2021 word op sowat φ300 miljoen per jaar beraam. Hierteenoor word die jaarlikse huishoudelike inkomste teen 2021 op sowat φ200 miljoen beraam. Ten spyte van die groot marge tussen die twee ramings, bied dit 'n maatstaf vir toekomstige inkomsteberamings in Orania. Die groei in Orania se persoonlike en huishoude-like inkomste sedert 1991, toe dit vir alle doeleindes nul was, is beduidend.

Met die oog daarop om toekomstige beramings van jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste te verfyn, word sekere wysigings, uitbreidings en verbeterings aan die opnamevraelys en verwerking van die opnamedata aan die hand gedoen:

(i) Opnamedata moet in die vervolg nagegaan word voordat enige samevattende verslae opgestel word.

(ii) Maandelikse persoonlike inkomste en maandelikse huishoudelike inkomste moet tydens opnameprosesse gekorreleer word.

(iii) Waar persoonlike of huishoudelike inkomstedata ontbreek, moet aangedui word of die respondente geen inkomste het nie of verkies het om nie hul inkomste te rapporteer nie.

(iv) In die vervolg moet opnames ook vrae oor huishoudings se persoonlike besparing en persoonlike belastingverpligtings insluit.

(v) In die vervolg moet die besigheidsopname 'n vraag oor BTW-betalings insluit.

Les bes word voorgestel dat Orania se jaarlikse persoonlike inkomste enjaarlikse huishoudelike inkomste in die vervolg ná elke sosio-ekonomiese opname beraam word. Die voordele van so 'n benadering is die ontwikkeling van 'n databasis wat kan dien as 'n maatstaf vir toekomstige vergelykings, terwyl beter beramings ook moontlik sal wees weens aanpassings in die vraelyste, soos dit hier bo aanbeveel word. 'n Proses deur middel waarvan data nagegaan word voordat dit vir publikasie verwerk word, moet ook geïmplementeer word.

 

BIBLIOGRAFIE

Sekondêre bronne

Boshoff, A. 2020. Van ossewa tot in Orania: Een lewe - en meer. Orania: Die Vryheidstigting.         [ Links ]

Boshoff, CWH. 2012. Dis nou ek: 'n Outobiografie. Pretoria: Lapa uitgewers.         [ Links ]

Cambridge Dictionary. S.j.(a). Household. https://dictionary.cambridge.org/dictionary/english/household [Internettoegang op 1 November 2023].         [ Links ]

Cambridge Dictionary. S.j.(b). Personal Income. https://dictionary.cambridge.org/dictionary/english/personal-income [Internettoegang op 1 November 2023].         [ Links ]

Cendrowicz, L. 2017. How economics explains Belgium's rifts. The Brussels Times. 17 November. https://www.brusselstimes.com/45009/how-economics-explains-belgium-s-rifts [Internettoegang op 10 Oktober 2023].         [ Links ]

Charlemagne (skuilnaam vir 'n kommentator). 2010. An artificial kingdom moves closer to its end: Splitting Belgium will be a mess, but that is where this is going. The Economist. 14 Junie. https://www.economist.com/charlemagne/2010/06/14/an-artificial-kingdom-moves-closer-to-its-end [Internettoegang op 10 Oktober 2023].         [ Links ]

Daily Sabah. 2018. Separatists in northwest Bulgaria seek autonomy or to join Romania. 6 Januarie. https://www.dailysabah.com/balkans/2018/01/06/separatists-in-northwest-bulgaria-seek-autonomy-or-to-join-romania [Internettoegang op 10 Oktober 2023].         [ Links ]

De Klerk, F. 2014. Orania - Van dorp tot stad: 'n Nuwe strategie. Orania: Orania Beweging.         [ Links ]

Henley, J. 2017. How important is Catalonia to Spain? The Guardian. 2 Oktober. https://www.theguardian.com/world/2017/oct/02/catalonia-important-spain-economy-greater-role-size [Internettoegang op 10 Oktober 2023].         [ Links ]

Internet Archive: The Wayback Machine. 2012. Transylvanian separatist video emerges. 13 Augustus. https://web.archive.org/web/20121013073003/https://politics.hu/20120813/transylvanian-separatist-video-emerges/ [Internettoegang op 10 Oktober 2023].         [ Links ]

Joubert, F, Laäs, A, Laäs, A, Rossouw, J & Vermeulen, C. 2022. 'n Perspektief op Orania se OSK Koöperatiewe Bank Beperk. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 62(4):812-829.         [ Links ]

Mohr, PJ. 1998. Economic indicators. 4e uitgawe. Pretoria: Unisa Press.         [ Links ]

Mohr, PJ, Van der Merwe, C, Botha, ZC & Inggs, J. 1988. Die praktiese gids tot Suid-Afrikaanse ekonomiese aanwysers. Johannesburg: Lexicon Uitgewers.         [ Links ]

Newton, C. 2017. Which other regions want to secede from Spain? Aljazeera. 27 Oktober. https://www.aljazeera.com/news/2017/10/27/which-other-regions-want-to-secede-from-spain [Internettoegang op 10 Oktober 2023].         [ Links ]

Ontwikkelingspyplynprojekte. S.j. Publikasie van Orania Bestuursdienste. Beskikbaar by Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy.         [ Links ]

Orania Besigheidsopname. 2022. Voorberei deur Urban-Econ Development Economists (Pty) Ltd. Beskikbaar by Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy.         [ Links ]

Orania Ekonomiese Ontwikkelingsplan. 2015. 25 Mei. Voorberei deur Urban-Econ Development Economists (Pty) Ltd. Beskikbaar by Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy.         [ Links ]

Orania Sosio-Ekonomiese Opname, 2022. Voorberei deur Urban-Econ Development Economists (Pty) Ltd. Beskikbaar by die Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy.         [ Links ]

Senekal. B. 2019. 'n Netwerkontleding van die instellingsnetwerk op Orania. LitNet Akademies (Ekonomiese en Bestuurswetenskappe). 10 Oktober. https://www.litnet.co.za/n-netwerkontleding-van-die-instellingsnetwerk-op-orania/ [Internettoegang op verskeie datums].         [ Links ]

Senekal, B. 2021. Die eerste 40 jaar van Orania. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(2):526-551.         [ Links ]

The Economist. 2018. Scottish nationalists want to take back control. 11 Oktober. https://www.economist.com/britain/2018/10/11/scottish-nationalists-want-to-take-back-control [Internettoegang op 10 Oktober 2023].         [ Links ]

Western Cape Government. S.j. Personal income tax. https://www.westerncape.gov.za/service/paying-income-tax [Internettoegang op 1 November 2023].         [ Links ]

Wet op die SA Reserwebank, No 90 van 1989, soos gewysig.         [ Links ]

Wirz, H. 2008. Dr Heinz Wirz met die Ora Geldstelsel van Orania. Privaat publikasie deur dr Heinz Wirz. Edenvale.         [ Links ]

Persoonlike onderhoude, persoonlike dokumentasie en ander persoonlike bronne

Besoeke aan Orania.

E-poskorrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. F. de Klerk, besturende direkteur van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy.

E-poskorrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. G. Snyman, dorpsbestuurder Orania.

Persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. J. Kemp, 'n joernalis van Pretoria FM wat in Orania woonagtig is.

Internetbronne

https://af.wikipedia.org/wiki/L%C3%AAer:Orania_Kaart.png

https://m.facebook.com/oraniabeweging/photos/die-kaart-van-orania-wat-vandag-opgesit-is-dit-vervang-die-ou-kaart-en-help-beso/1089752297766912

 

 

Ontvang: 2023-04-21
Goedgekeur: 2023-10-29
Gepubliseer: Desember 2023

 

 

 

Jannie Rossouw is 'n besoekende professor by die Wits Besigheidskool aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy het aan die einde van 2020 uitgetree as tussentydse hoof van die Wits-Besig-heidskool en was voorheen by die Suid-Afrikaanse Reserwebank en by Unisa werksaam. Hy dien as lid van die Oudit- en Risikokomitee van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl. Hy was ook 'n raadslid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die ondervoorsitter van die Akademie se Oudit- en Risikokomitee.
Jannie Rossouw is a visiting professor at the Wits Business School of the University of the Witwatersrand. At the end of 2020, he stepped down as interim head of the Wits Business School. He was previously employed at the South African Reserve Bank and at Unisa. He serves as a member of the Audit and Risk Committee of the Afrikaans Language Museum and Monument in Paarl. In addition, he was a board member of the SA Academy of Science and Arts and the vice-chairman of its Audit and Risk Committee.
* Die outeur bedank die Orania Dorpsraad en die Orania Ontwikkelingsmaatskappy vir data en vir hulp met hierdie navorsing. Die outeur het 'n vertroulikheidsooreenkoms met die Orania Dorpsraad geteken voordat sekere opnamedata vir navorsingsdoeleindes beskikbaar gestel is. Die navorsingsresultate word op 'n wyse aangebied wat verseker dat die vertroulikheidsooreenkoms nie verbreek word nie. Enige foute of weglatings bly egter die outeur se verantwoordelikheid.
1 Die artikel weerspieël die persoonlike siening en mening van die outeur en moet nie aan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Universiteit van die Witwatersrand of aan enige organisasies in Orania toegeskryf word nie.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons