SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue3Towards an integrated theory of core concepts in educationFoucault and the question concerning enlightenment author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.53 n.3 Pretoria  2013

 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Moraliteitskritiek en tragiese bewussyn in die werk van Reiner Schürmann

 

Morality critique and tragic wisdom in the work of Reiner Schürmann

 

 

Marinus Schoeman

Departement Filosofie, Universiteit van Pretoria E-pos: marinus.schoeman@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

Aan die einde van sy boek Des Hégémonies Brisées uit die jaar 1996 (Eng. vertaling Broken Hegemonies, 2003) kom Reiner Schürmann tot die slotsom dat "ethics and morals" uit die domein van die filosofie verban moet word. Vir Schürmann is dit nodig omdat etiek en moraal naïef bly glo in die norme wat hulle trag om neer te lê. Om meer presies te wees, hulle kom nooit in die reine met die integrerende geweld ("integrative violence") van die wet nie, hulle merk nie hoe die wet van nature (noodsaaklikerwys) berus op 'n ontkenning nie. Etiek en moraal veronderstel, as hulle moontlikheidsvoorwaarde, dat die mens se lewe in laaste instansie normeerbaar is, dat daar een of ander eenduidige wetlike sfeer bestaan wat, in beginsel, dekking of sekuriteit verleen aan die menslike bestaan. Maar, soos wat Schürmann in die loop van sy betoog aantoon, berus etiek en moraal ten diepste op 'n ontkenning van die tragiese kondisie van ons menslike bestaan. Geen etiese of morele sisteem kan dit hanteer nie. Anders gestel: elke etiese stelsel sal, juis as artikulasie van 'n normatiewe orde, die onvermydelikheid van die tragiese dilemma "double bind" ontken deur die een of ander eenduidige domein van regsgeldigheid te poneer. Etiek en moraal glo in die beloftes van die wet, sy fantasmatiese (hersenskimmige) aanspraak dat dit die mens in staat stel om heer en meester te wees van sy situasie.
'n Leitmotiv in die werk van Schürmann is om insig te kry in die moontlikheidsvoorwaardes van die kwaad. Eenduidige wette en morele voorskrifte is, soos reeds genoem, volgens Schürmann gefundeer in 'n ontkenning van die tragiese. Wat hy dan verder byvoeg, is dat hierdie ontkenning juis een van die moontlikheidsvoorwaardes van die kwaad is. Wat Schürmann hier beweer, is iets paradoksaal gesien vanuit die oogpunt van die "natuurlike metafisikus in onsself', naamlik dat die stel van 'n wet as sodanig gereken moet word onder die moontlikheidsvoorwaardes van die kwaad. Om 'n wet of norm neer te lê maak die lewe leefbaar, maar dit skep tegelykertyd ook die voorwaarde vir die kwaad. Nogtans bring dit nie noodwendig die kwaad tot stand nie, en ewemin maak dit die wet sonder meer tot iets kwaad. Weliswaar suggereer dit dat die wet wesentlik feilbaar is, en dat geen gemeenskap wat daarop gegrond is ooit 'n volkome gemeenskap kan wees nie.
Soos Hannah Arendt betoog ook Schürmann dat dit nie die afwesigheid van of verlies aan waardes is wat die voorwaardes vir die kwaad skep, soos die moraliste ons keer op keer wil wysmaak nie, maar juis die stortvloed van waardes ("barrage of values"). Waardes, norme, en beginsels bied hulleself aan as die kuur wat die kwaad sal genees, maar vir Schürmann en Arendt verleng hulle juis die siekte wat hulle veronderstel is om te genees. Dit is hierdie insig in die wesentlike feilbaarheid van die wet (en die beloftes van lewe en sekuriteit wat dit aan ons voorhou) waartoe Schürmann ons oproep, eerder as oproepe om norme en waardes. Wat nodig is, is nie etiek en moraal nie, maar om jou oë oop te hou en die tragiese waarheid te erken dat wette en morele voorskrifte hulleself slegs kan handhaaf deur die ontkenning - waar nodig selfs deur die uiterste geweld - van alles wat die wet (en die gemeenskaplike waardestelsels) nie bereid is om te erken nie, naamlik singularisering, sterflikheid, en die nie-normaliseerbare gegewens van ons menslike bestaan.

Trefwoorde: Hannah Arendt, Reiner Schürmann, moraal, wet, die tragiese, tragiese wysheid, tranquilitas ordinis, Oedipus, nataliteit (geboortelikheid), mortaliteit (sterflikheid), die kwaad, singularisering


ABSTRACT

Towards the end of his book Des Hégémonies Brisées which appeared in 1996 (Eng. translation Broken Hegemonies 2003), Reiner Schürmann came to the conclusion that ethics and morals do not belong to (and should be banned from) philosophy. For Schürmann this is because ethics and morals remain naive about the norms they seek to posit. To be exact, they never come to grips with the integrative violence of law, they do not see how law necessarily entails a denial within its very structure. Ethics and morals presuppose, as the conditions of their possibility, that human life is finally normable, that some univocal field of law, in principle, covers and secures human life. But ethics and morals run aground on the tragic double bind. No ethical or moral system can handle an ultimate double bind. Put differently, every ethical system, precisely as an articulation of a normative order, will deny the ultimacy of the tragic double bind by positing some univocal domain of law. Ethics and morals believe the promise of law, its fantasmatic claim to provide human beings with the wherewithal to master the human condition.
A leitmotiv in the work of Schürmann, which he explicitly identifies as the guiding ambition of Broken Hegemonies, is to learn to comprehend the conditions of evil. Univocal law, Schürmann argues, is founded in tragic denial. What he then adds is that evil has (at least one of) its conditions in this denial. What Schürmann proposes, then, is something of a paradox from the standpoint of the "natural metaphysician in us", namely that among the conditions of evil, one has to name the act of positing law or moral prescriptions. Laying down law makes life liveable, but it also conditions evil. The conditions of life and the conditions of evil, therefore, must finally be "identical" - that is, inextricably joined - within law. Yet this neither makes evil necessary nor the law evil. Instead, it suggests the essential fallibility of law, that no common domain can really be common, that no community can ever constitute a perfect communion.
Schürmann will echo Hannah Arendt's concerns, noting that it is not the absence or loss of values that creates the conditions of evil, as the moralist in every age will simply assume, but precisely the "barrage of values". Values, norms and principles present themselves as the cure for evil, but for Schürmann and Arendt they keep alive the very disease they intend to cure. It is this recognition of the essential fallibility of the law (and its promises of life and security) that Schürmann would like to impress upon us, rather than incantations for norms and values. What is necessary is not ethics and morals, but keeping one's eyes open and recognizing the tragic truth that laws and morals maintain themselves at the cost of obliterating - if necessary, through extreme violence - the counter-law of singularization, mortality, the non-normalizeable.

Keywords: Hannah Arendt, Reiner Schürmann, morality, law, the tragic, tragic wisdom, tranquilitas ordinis, Oedipus, natality, mortality, evil, singularization


 

 

Aan die einde van sy boek Des Hégémonies Brisées (Eng. vert. Broken Hegemonies) kom Reiner Schürmann tot die slotsom dat "Ethics and morals no longer belong to [the proper domain of] philosophy" (2003:621; 1996:773). Begronding en artikulering van norme wat ons kan leer wat ons behoort te doen, en wie ons veronderstel is om te wees, vanuit watter perspektief ook al, is 'n taak wat veilig eenkant gelaat kan word: "As for the incantations of the right and the left, according to which 'we need norms' in order to understand, judge and act, the response of the phenomenologist has always been and should be that to learn how to think and do, Einsicht (perspicacity, inspection, circumspection...) suffices" (2003:21). Waarop ek hier graag nader wil ingaan is hierdie moraliteitskritiek - of, meer in die algemeen, 'n kritiek van normatiewe diskoerse - ten behoewe van Einsicht.

Die kritiek van die "morele wêreldbeskouing" het ongetwyfeld 'n lang geskiedenis. Die moderne weergawe daarvan loop vanaf Hegel se kritiek van die Kantiaanse Moraliteit, deur Nietzsche se Genealogie der Moral, tot Heidegger se Brief über den Humanismus. Alhoewel daar gewys kan word op verskeie analogieë of raakvlakke tussen hierdie moraliteitskritieke en Schürmann se verbanning van etiek en moraal uit die filosofie, is die saak wat vir laasgenoemde voorrang geniet in sy kritiek van normatiewe diskoerse, om presies te wees, die aard van die wet: "Who, in the last analysis, makes the law?" (2003:3; 1996:11). Dít is die onderliggende vraag van Broken Hegemonies - 'n vraag wat telkens op verskillende wyses aan die bod kom. Hoe kom dit dat die wet soveel prestige geniet? Is dit geregtig op hierdie aansien wat dit geniet? Wat doen die wet aan ons bestaan as mense? Teen watter prys gehoorsaam ons die wet? Vir Schürmann is hierdie wesentlike vrae, en tog word hulle nooit gevra binne die domein van etiek en moraal nie. Hoe uiteenlopend die verskillende etiese teorieë ook mag wees, hulle almal aanvaar of veronderstel eenvoudig die integriteit van die figuur van die wet.

Broken Hegemonies, daarenteen, aanvaar niks insake die wet nie. Die wet word trouens met wantroue bejeën, veral waar dit maksimaal gestalte kry in verskillende variasies van 'n sogenaamde wet van alle wette (the "law of laws"), of in diverse laaste normatiewe verwysingspunte ("ultimate normative referents") wat van tyd tot tyd in die Westerse denkgeskiedenis geheers het: "die Ene" by die Grieke, "die Natuur" by die Romeine, en die "Self-bewussyn" by die moderne denkers. Telkens was dit die een of ander ultieme wet wat voorgeskryf het hoe dinge moet verskyn om as waarlik reëel gereken te word of om hoegenaamd te verskyn. Schürmann se indrukwekkende behandeling van figure uit die geskiedenis van die Westerse filosofie is nie as sodanig vir ons doeleindes van belang nie. Wat egter wel belangrik is, is om 'n perspektief te probeer kry op die kwessie of vraagstuk wat hom gemotiveer het om so 'n monumentale werk aan te durf. En wat presies hierdie vraagstuk is, word heel duidelik uitgespel in die slothoofstuk van Broken Hegemonies waar Schürmann skryf: "The ambition to learn about the conditions of evil - conditions that are neither ethical nor moral, but phenomenological, has guided all the preceding analyses and reflections" (2003:621; 1996:773). In Broken Hegemonies wou hy dus lig werp op die voorwaardes waaronder die kwaad of die bose in ons wêreld te voorskyn kan tree.

Schürmann sê self dat "in reading an author, one must seek, first of all, the initial experience, namely, the experience that, before any other, roused him to think" (2003:13). Wat was daardie ervaring vir Schürmann? Klaarblyklik was dit die ervaring van die kwaad, en veral die gemak waarmee mense gedood word: "Putting the other to death is easily accepted when a fantasm has won the day and when it obsesses a collective field of vision" (2003:628). Hier sinspeel hy op die skandaal van die 6 miljoen wat sistematies uitgewis is tydens die Holocaust. En wat die skandaal nog erger maak, is hoe gemaklik ons daarvan vergeet: "The ease with which a whole age continues to graze, in spite of exterminations still alive in our memories and planetary asphyxiations already in our throats, gives grounds for perplexity" (2003:3). Om insig (Einsicht) te bekom in hoe dit so maklik geword het om dood te maak en te vergeet, beteken om rekenskap te gee van die voorwaardes waaronder 'n "fantasma" (hersenskim, waanbeeld) daarin kon slaag om beslag te lê op die blikveld van 'n kollektief, die "collective field of vision". Vir hierdie werk kom die "ethics and morals" van normatiewe diskoerse altyd te laat, want, meen Schürmann, sulke diskoerse verontagsaam die medepligtigheid tussen norme en die meganismes waardeur 'n kollektiewe blikveld in beslag geneem word. Anders gestel: wat normatiewe diskoerse nie raaksien nie, is presies die fantasmatiese aard van alle wette.

Die wet of wetgewing - wat volgens Schürmann die sleutelfunksie is van die politieke - is 'n buitengewoon ambivalente verskynsel. Aan die een kant maak wette ons bestaan leefbaar ("Outside the law, as we know, there is no life... Outside the structure of law, beyond the boundaries where some force of normativity is operative, mere brutality and chaos rule." 2003:21), maar aan die ander kant oefen die wet 'n omvattende geweld ("integrative violence") uit op die lewe. Die kritiek van die wet in Broken Hegemonies poog om hierdie dubbelsinnige rol van die wet duidelik te maak. In die geheel gesien is Schürmann daarop uit om die wet te ontluister of te ontmistifiseer. Die wet word voorgehou as gewortel in 'n ontkenning van die "tragic essence of being." En, so betoog Schürmann, "Beneath all law and obligation it is the tragic that legislates" (2003:347). Eerder as om nuwe norme af te kondig, of oues in ere te herstel, moet ons leer om die wet as fantasmaties te sien sodat ons kan herstel van sy ontkenning van die tragiese, en sodat ons kan leer om die tragiese lief te kry: "I will not conceal the fact that if there is an urgent task of thinking, it is, for me, to better know the tragic condition. To learn to love it" (2003:345).

Sy kritiese houding ten aansien van die wet maak egter nie van Schürmann 'n anargis nie. 'n Kritiek van die wet is nie dieselfde as 'n verwerping van die wet nie. Om die wet te verwerp sou naïef wees. Die wet maak immers lewe moontlik. En tog moet daar rekening gehou word met die tallose slagtings, moorde, martelings, gevangenisstrawwe, grondonteienings, internerings, koloniserings, segregerings, inkwisisies, ensovoorts - alles dinge wat gepleeg is in goeie gewete en in die naam van die wet. Ten minste behoort daar erkenning en begrip te wees van die wet se ambivalente werking. In die lig hiervan sou kritiek dan dui op die blootlegging van 'n bepaalde soort breuk of 'n teenspraak ("discord") tussen die wet - enige wet of verordening - en dit waarop die wet van toepassing gemaak word of wat sou ressorteer onder die wet. Kritiek beteken dan om die singuliere in beskerming te neem teen die oorweldigende prestige van dit wat as universeel en gemeenskaplik bestempel word. Kritiek toon aan hoe daar altyd iets is wat buite die skopus van die wet bly. Op 'n manier is daar altyd 'n oorspronklike, onuitwisbare en onontkenbare breuk of teenspraak tussen norm en genormeerde, 'n breuk wat nietemin deurgaans ontken word. Dit kan oor en oor gesien word in die geskiedenis van die ultieme normatiewe verwysingspunte ("ultimate referents") wat telkens in ons verlede gepromulgeer is. Inderdaad, onder elke tranquilitas ordinis breek daar een of ander tyd onenigheid en stryd uit (2003:613).

Belangriker by Schürmann is egter sy siening dat die wet gefundeer is in 'n ontkenning van die tragiese: "Tragic denial is necessary for the univocal law to be born" (2003:27). Dit is in die aard van die wet om so eenduidig of ondubbelsinnig as moontlik te wees. Die wet pretendeer om die ganse domein wat onder hom ressorteer te integreer, sonder enige uitsondering. Dit is die wet wat berus op die een of ander hoogste beginsel, die wet wat eksklusief die belofte van lewe aan ons voorhou. En dit is presies hier waar die wet sy integrerende geweld ("integrative violence") uitoefen: deur die ontkenning van die singulariteit van enigiets wat aan sy terme ontsnap, dwing dit eenvoudig dinge om in te pas. Dit onderwerp en reguleer alle denkbare gevalle of kontingensies. Nou, die probleem is egter juis dat die menslike bestaan onherroeplik kontingent en singulier is, en as sodanig, in Schürmann se terme, tragies. Schürmann verduidelik dit onder meer aan die hand van die Agamemnon-figuur uit die Griekse tragedie, Ephigenia in Aulis.

Schürmann interpreteer die tragiese omstandighede, waar die held onderwerp word aan goddelike gebooie wat met mekaar onversoenbaar is, as eksemplaries van die oorspronklike oertoestand waarin die mens se lewe gedompel is in 'n ewige stryd tussen geboortelikheid en sterflikheid ("natality and mortality"). Presies soos wat die tragiese held nie die twee goddelike gebooie op 'n enigsins koherente manier kan integreer nie, behalwe deur 'n ontkenning, so kan ook die geledinge van geboortelikheid en sterflikheid nie geïntegreer of met mekaar versoen word nie. Die menslike kondisie word bepaal deur 'n wet en 'n kontra-wet. Die tragedie is dat die twee nooit sover gebring kan word om saam te werk nie anders as deur 'n ontkenning.

Vir Schürmann staan nataliteit gelyk aan die lewensdrif. Dit is die oorsprong van alle begeerte en inherent daaraan is 'n drang tot maksimalisering. Dit soek nie alleen 'n leefbare lewe nie, maar 'n absolute lewe, maksimale beskerming, ensovoorts. As sodanig, meen Schürmann, "it steers straight into metaphysical theticism" (2003:19). Dit spoor ons aan tot die ponering van 'n ultieme wet van alle wette, 'n "hegemonic fantasm" wat in staat is om die menslike bestaan te begrond in 'n onwankelbare normatiewe fondament. Die regstreekse band tussen die wet en nataliteit is dan ook wat aan die wet so 'n groot gesag en aansien verleen. Die krag van die wet is in laaste instansie die krag van nataliteit oftewel die lewe self. As 'n ultieme gegewe van ons bestaan is nataliteit ononderhandelbaar (on-dekonstrueerbaar). Daarom sal die wet en wat dit ook al beloof aan orde en sekuriteit nooit ophou om 'n aantrekkingskrag uit te oefen op ons as mense nie, en op die "natuurlike metafisikus in ons." Hier het mens te make met fantasmas wat nooit hulle sjarme verloor nie.

Vir Schürmann is die menslike lewe egter nie slegs afgestem op die wet van nataliteit nie, maar eweneens op die kontra-wet van sterflikheid. En hier gaan dit om meer as die "Sein zum Tode" (Heidegger) van die menslike eksistensie, alhoewel dit ook deel daarvan uitmaak. As 'n ontologiese gegewe is sterflikheid 'n krag wat mens te eniger tyd kan oorval en hom kan ontruk aan die gemeenskap met ander mense en die betekenisvolle kontekste wat sin gee aan die lewe.

Sterflikheid is dit wat volgens Schürmann aanleiding gee tot "loss of love, home, and country, of health and life" (2003:625); "it leaves us alone, silent, strangers" (2003:19). As nataliteit die oorsprong is van begeerte, dan is sterflikheid die oorsprong van kontingensie, 'n laaste moontlikheid wat alle menslike ondernemings met ondergang bedreig. Ons sterflikheid dui op die wesentlike onberekenbaarheid van ons bestaan, ons uitgelewerdheid aan die skielike en die onvoorsiene - bo en verby enige techné en enige ekonomie. Juis daarom is sterflikheid, anders as nataliteit, iets wat "unheimlich", ongrypbaar is. Sterflikheid is en bly dit wat nog moet kom, 'n wesentlik toekomstige moontlikheid, maar nogtans een wat skielik op ons kan toeslaan sonder dat ons dit kon antisipeer. En daarby is dit, soos ook nataliteit, 'n ultieme en onontwykbare gegewe van ons menslike bestaan.

Om uitgelewer te wees aan sterflikheid is egter vir Schürmann nog geensins op sigself tragies nie. Die dood is weliswaar swaar, maar veel swaarder is die feit dat ons voortdurend moet leef tussen die twee onversoenbare teenpole van nataliteit en sterflikheid. Nataliteit is lewensbevestigend en spoor my aan tot handeling. Dit is 'n wet van die lewe wat ek nie kan ontwyk nie. Hannah Arendt sê dan ook van nataliteit dat "only the full experience of this capacity can bestow upon human affairs faith and hope" (1958:247). Maar sy aan sy met nataliteit is daar ook 'n ander wet van krag, naamlik dié van sterflikheid. Dit onderwerp my aan allerlei kontingensies: skielike en onverwagse gebeurtenisse, onderbrekings, siekte, vergeetagtigheid, kranksinnigheid, onvoorsiene gevolge, ouderdom en verval. Faktore soos hierdie kan eweneens nooit uitgeskakel word nie. Die tragiese sameloop van nataliteit en sterflikheid maak ons bestaan prekêr. Ons is nooit volkome in beheer of in besit van onsself nie: "[It] means that dispossession is always imminent, that full possession never happens" (1991:232). En dit is nie nodig om na Oedipus of Antigone of Agamemnon te gaan om die tragiese dilemma "double bind" van nataliteit en sterflikheid in byna enigiets raak te sien en te beleef nie.

Die tragiese kondisie beteken dat dinge altyd neig om te ontsnap aan ons pogings om hulle te begryp. Daar is altyd meer as waarop ons gereken het, 'n oorskot of surplus wat ons denke en ons verwagtinge te bowe gaan, want die verhoudings tussen mens en werklikheid is immers nooit volledig berekenbaar nie, en kan ook nooit volkome bevestig word nie. Hierdie surplus wat enige vorm van lewensbevestiging transendeer, val saam met die werk van die negasie, die nie-syn "[which is] more originary than being because it singularizes being into an event" (2003:619; 1991:232). Die woord "event" dui op die gebeurlikheid en kontingensie van die werklikheid: die werklikheid gebeur op 'n wyse wat haaks staan ten opsigte van enige ekonomie, of van die wet in die algemeen - dus verby geantisipeerde uitkomste en ook verby enige retrospektiewe pogings tot begrip daarvan. Vanweë die gebeurlikheid van die verstrengeling tussen nataliteit en sterflikheid is die menslike bestaan geworpe in 'n posisie sonder enige dekking deur 'n wet.

Ek het aan die begin verwys na Schürmann se verbanning van etiek en moraal uit die domein van die filosofie. Vir Schürmann is dit nodig omdat etiek en moraal naïef bly glo in die norme wat hulle trag om neer te lê. Om meer presies te wees, hulle kom nooit in die reine met die integrerende geweld van die wet nie, hulle merk nie hoe die wet van nature (noodsaaklikerwys) berus op 'n ontkenning nie. Etiek en moraal veronderstel, as hulle moontlikheidsvoorwaarde, dat die mens se lewe in laaste instansie normeerbaar is, dat daar een of ander eenduidige wetlike sfeer bestaan wat, in beginsel, dekking verleen aan die menslike bestaan. Maar, soos ons gesien het, etiek en moraal gaan ten gronde aan die tragiese dilemma "double bind". Geen etiese of morele sisteem kan dit hanteer nie. Anders gestel: elke etiese stelsel sal, juis as artikulasie van 'n normatiewe orde, die onvermydelikheid van die tragiese dilemma "double bind" ontken deur die een of ander eenduidige domein van regsgeldigheid te poneer. Etiek en moraal glo in die beloftes van die wet, sy fantasmatiese aanspraak dat dit die mens in staat stel om heer en meester te wees van sy situasie.

Ten slotte wil ek graag terugkeer na die vraagstuk wat Schürmann aandui as die leitmotiv van Broken Hegemonies, naamlik om insig te kry in die moontlikheidsvoorwaardes van die kwaad. Die eenduidige wet, so het Schürmann geargumenteer, is gefundeer in 'n ontkenning van die tragiese. Wat hy dan verder byvoeg, is dat die kwaad juis hierdie ontkenning het as een van sy moontlikheidsvoorwaardes. Wat Schürmann hier beweer, is iets paradoksaals gesien vanuit die oogpunt van "die natuurlike metafisikus in ons", naamlik dat die stel van 'n wet as sodanig gereken moet word onder die moontlikheidsvoorwaardes van die kwaad. Om 'n wet neer te lê maak die lewe leefbaar, maar dit skep tegelykertyd ook die voorwaarde vir die kwaad. Nogtans bring dit nie noodwendig die kwaad tot stand nie, en ewemin maak dit die wet sonder meer tot iets kwaads. Weliswaar suggereer dit dat die wet wesentlik feilbaar is, en dat geen domein van gemeenskaplik-heid ooit 'n volkome gemeenskap kan wees nie. Dit is 'n kwessie van "having one's eyes open as one traverses the public square, particularly the national".

Wat Schürmann tot nadenke stem, so het ons gesien, was sy waarneming dat "putting the other to death is easily accepted when a fantasm ... obsesses the collective field of vision" (2003:628). En waarom dit die geval is, is omdat die fantasmas in die naam waarvan daar doodgemaak word, gewortel is in die ontologiese gegewe van nataliteit: "The maximizations to which [natality] sweeps us away, kill" (2003:624). Fantasmas van die wet - dinge soos "die nasie", "ekonomiese vooruitgang", "ras", "vryheid", "nasionale veiligheid" - dien hulleself aan as lewens-bevorderlik. Om in die naam daarvan dood te maak word dan juis beskou as 'n vindikasie van die lewe, as presies dit wat goed is. Hoe anders sou mens die vreugde verklaar wat Agamemnon gevoel het toe hy sy dogter se keel afgesny het? Deur daardie moord plaas hy homself vierkantig binne die lewe van die gemeenskap, en wikkel hy homself los van die aanspraak wat sterflikheid op hom maak. Geweld in die naam van die wet is die fenomeen wat vir Schürmann kwel dwarsdeur die hele Broken Hegemonies.

Schürmann maak dit egter duidelik dat om dood te maak "in die naam van" een of ander wet, juis omdat dit sy fondament het in nataliteit, nooit sonder meer pervers is nie. Die kwaad waaroor dit vir Schürmann gaan, is nóg demonies, nóg radikaal, maar wel banaal. Schürmann sluit hier natuurlik aan by Hannah Arendt se opvatting van die banaliteit van die kwaad. In die slothoofstuk van Broken Hegemonies skryf Schürmann: "[O]ne has been able to speak of the banality with regard to exterminations. We have to understand this (Entendons) - evil becomes banal once a common focalization is exalted and singularization denied" (2003:628; 1996:781). Die hele Broken Hegemonies is 'n antwoord op hierdie "Entendons," hierdie oproep tot begrip.

Vir die etiek en die moraal is dit heel eenvoudig om die kwaad te diagnoseer: die kwaad tree in wanneer individue hulle eiebelang nastreef ten koste van die algemene belang, hetsy deur onkunde of doelbewus. Hierdie siening van die kwaad, waarin mens die stem van nataliteit duidelik kan verneem, kom eenvoudig nie in die reine met die eintlike kwaad nie, naamlik hoe die wet self 'n voorwaarde is vir die kwaad. Hannah Arendt, in haar Eichmann in Jerusalem, was die eerste om hierdie verband raak te sien en te probeer begryp. Arendt sluit haar hoofstuk getitel "The Duties of a Law-Abiding Citizen" af deur te wys op die paradoksale fenomeen van gewettigde kwaad ("lawful evil"). Sy stel dit soos volg:

And just as the law in civilized countries assumes that the voice of conscience tells everybody 'Though shalt not kill,' even though man's natural desires and inclinations may at times be murderous, so the law of Hitler's land demanded that the voice of conscience tell everybody: 'Thou shalt kill,' although the organizers of massacres knew full well that murder is against the normal desires and inclinations of most people. Evil in the Third Reich had lost the quality by which most people recognize it - the quality of temptation. Many Germans and Nazis ... must have been tempted not to murder, not to rob, not to let their neighbours go off to their doom ... and not to become accomplices in all these crimes by benefiting from them. But, God knows, they had learned how to resist temptation. (Arendt 2006:150)

Die bittere ironie wat Arendt hier probeer begryp, is dat Eichmann, wat gehelp het om miljoene Jode na hulle verdoemenis te stuur, streng volgens sy gewete gehandel het, en in die naam van die gereg. Hy het juis nie gehandel uit perverse of demoniese oorwegings nie. Eichmann vertoon die krag van die wet op so 'n kragtige manier dat dit 'n totaal omgekeerde wêreld tot gevolg het - 'n wêreld waarin die goeie die voorkoms aanneem van 'n versoeking wat weerstaan moet word. "In the Third Reich," skryf Arendt, "only the 'exceptions' could be expected to react 'normally'" (2006:27). En om hierdie rede is dit volgens Arendt eenvoudig dwaas ("question-begging") om te sê dat Eichmann na sy gewete moes geluister het (die "sedewet in hom"). Die ontstellende feit is dat dit presies is wat Eichmann gedoen het.

Arendt weier om sonder meer die integriteit van die gewete te aanvaar. Die gewete stem mens af op norme en waardes, op die domein van die gemeenskap, maar dit kom teen 'n duur prys wat betaal moet word. Nie lank voor haar dood nie, tydens 'n simposium in Montreal, het Arendt geantwoord op 'n punt van kritiek teen haar werk wat geopper is deur Hans Jonas. Jonas het gemeen dat as rampe soos die nasionaal-sosialisme vermy moet word, mense hulleself weer (of opnuut) moet verbind tot bepaalde hoogste waardes. In kort, ons het nood aan norme. Arendt het skerp van hom verskil:

And if you want to make a generalization then you could say that [in the Third Reich] those who were still very firmly convinced of the so-called old values were the first to be ready to change their old values for a new set of values, provided they were given one. And I am afraid of this, because I think that the moment you give anybody a new set of values . you can immediately exchange it. And the only thing the guy gets used to is having a 'bannister' and a set of values, no matter. [1979:314]

Hier is 'n tipe toutologiese dialektiek aan die werk, soos by verslaafdheid: soos die verslaafde steeds groter dosisse van die narkotika nodig het slegs om normaal te voel, so kan die waarde-gedrewe persoon ook nie dink en handel sonder die versekering en vooraf goedkeuring van waardes nie. 'n Afhanklikheid van waardes word geskep wat so 'n buitengewone mag uitoefen dat dit mens blind kan maak vir wat rondom hom gebeur, blind vir die soort wêreld wat besig is om te verrys in ooreenstemming met daardie einste waardes. Verknogtheid aan waardes kan volgens Arendt aanleiding gee tot onnadenkendheid. En wat Arendt in die besonder kwel, is die uitruilbaarheid van waardes binne hierdie toutologiese dialektiek. Na die ervarings met die Dritte Reich weet ons nou, sê sy, "that moral norms and standards can be changed overnight . [and that] those who cherish values and hold fast to moral norms are not reliable" (Arendt 2003:43). Schürmann sal ook Arendt se bekommernisse deel, en betoog dat dit nie die afwesigheid of verlies van waardes is wat die voorwaardes vir die kwaad skep, soos die moraliste ons keer op keer wil wysmaak nie, maar juis die oorvloed van waardes (2003:622). Waardes, norme, en beginsels dien hulleself aan as die kuur wat die kwaad sal genees, maar vir Schürmann en Arendt hou hulle juis die siekte aan die lewe wat hulle veronderstel was om te genees.

 

SLOT

Schürmann se Broken Hegemonies is daarop uit om die figuur van die eenduidige wet te ontluister deur aan te toon dat dit berus op 'n ontkenning van die tragiese omstandighede van ons menslike bestaan. Die lewensdrif oftewel nataliteit, soos Schürmann dit noem, is wat aanleiding gee tot die "natuurlike metafisikus in ons" wat laaste verwysingspunte ("ultimate referents") poneer in die naam waarvan die kwaad gesanksioneer word en dit wat singulier is vernietig word. Op die ou end is die Einsicht waarna Schürmann op soek was dieselfde as dié van die tragiese held wat insien dat die erkenning dat sterflikheid die laaste woord het die oomblik van waarheid is:

Tragedy always maps out something like a sweep of the eyes. The hero sees the conflicting laws, and - at the moment of tragic denial - then blinds himself toward one of them, fixing his gaze on the other. Cities and armies have lived, and live, thanks to a commander's blindness. Then an eye-opening catastrophe ensues, the moment of tragic truth. The vision of the double bind catches the eye (it literally bursts the eyes of Oedipus ...) and singularizes the hero to the point that the city no longer has a place for him ... Blindness is transformed from denial to recognition. Hubristic sightlessness is transformed into visionary blindness. Deprived of eyeballs, Oedipus sees. What? Tragic truth...". (2003:28; 1996:40)

Dít is dan die insig wat Schürmann stel in die plek van oproepe om norme en waardes. Dit kom ook neer op 'n neerlaag vir die hubris van die wet, die beloftes van lewe wat dit aan ons voorhou. Terwyl dit lewe beloof, bewerkstellig die wet uiteindelik die dood. En dit is geen esoteriese fenomeen nie, maar 'n konstante realiteit in die politieke sfeer wat deur die wet gekonstitueer is. Wat dus nodig is, is nie "ethics and morals" nie, maar om jou oë oop te hou: "Crossing through our public spheres, in particular the national, with one's eyes open, is seeing that they maintain themselves at the cost of obliterating - if necessary, through extreme violence - the counter-law that I shall call...the singularization to come" (1991:219). Ons moet die tragiese wysheid omhels en soos 'n Oedipus getransformeer word vanaf hubristiese sigloosheid tot visioenêre blindheid. Dit impliseer die erkenning van alles wat nataliteit - en dus die wet - nie bereid is om te erken nie: singularisering, sterflikheid, en die nie-normaliseerbare gegewens van ons menslike bestaan.

 

BIBLIOGRAFIE

Arendt, H. 1958. The Human Condition. Chicago: University of Chicago Press.         [ Links ]

Arendt, H. 1979. Hannah Arendt: The Recovery of the Public World, ed. M. Hill, New York: St Martin's Press.         [ Links ]

Arendt, H. 2003. Responsibility and Judgment, ed. J. Kohn, New York: Schocken.         [ Links ]

Arendt, H. 2006. Eichmann in Jerusalem: A Report on the Banality of Evil, New York: Penguin Classics.         [ Links ]

Schürmann, R.1991. Ultimate Double Binds. Graduate Faculty Philosophy Journal, 14(2) -15(1): 213-236.         [ Links ]

Schürmann, R. 1996. Des Hégémonies Brisées, Mauvezin: Trans-Europ-Repress.         [ Links ]

Schürmann, R. 1997. Symbolic Difference, trans. C. Wolfe. Graduate Faculty Philosophy Journal, 19(2) - 20(1): 9-38.         [ Links ]

Schürmann, R. 1997a. Symbolic Praxis, trans. C. Wolfe. Graduate Faculty Philosophy Journal, 19(2) -20(1):39-65.         [ Links ]

Schürmann, R. 2003. Broken Hegemonies, trans. R. Lily, Bloomington: Indiana University Press.         [ Links ]

 

 

Marinus Schoeman (MA Pretoria, DPhil Nijmegen) is 'n medeprofessor in Filosofie aan die Universiteit van Pretoria. In sy onderrig en navorsing spits hy hom veral toe op die geskiedenis van die moderne wysbegeerte, sosiale filosofie, etiek en strominge in die kontemporêre (hoofsaaklik kontinentale) filosofie. Op bykans al hierdie terreine het tientalle publikasies van hom verskyn in boeke en vaktydskrifte. Hy is lid van verskeie vakverenigings (nasionaal en internasionaal) en ook van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy dien op die redaksies van verskeie vaktydskrifte en ook op die redaksieraad van die gesaghebbende Leuvense Tijdschrift voor Filosofie. Prof. Schoeman beywer hom vir die uitbouing en verstewiging van bande met Nederlandse en Vlaamse universiteite en is 'n stigterslid van die Nederlands-Afrikaanstalige Wysgerige Genootskap.

Marinus Schoeman (MA Pretoria, DPhil Nijmegen) is an associate professor in Philosophy at the University of Pretoria. In his teaching and research he specialises in the history of modern philosophy, social philosophy, ethics and contemporary (especially continental) philosophy. He is the author of more than forty publications in scholarly journals and books. Prof. Schoeman is a member of several learned societies (national as well as international), including the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. He serves on the editorial boards of various journals, among others the esteemed Tijdschrift voor Filosofie. Prof. Schoeman endeavours to expand and strengthen ties with Dutch and Flemish universities and is a founder member of the Nederlands-Afrikaanstalige Wysgerige Genootskap.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License