SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número4What does the Greek say? - Spotlight on translation problems the New Testament posesTranslators cross swords! Translation problems relating to the sword as a weapon in 1 and 2 Maccabees índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Resumen

ROSSOUW, Jannie. ' n Beraming van die jaarlikse persoonlike in-komste en jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021. Tydskr. geesteswet. [online]. 2023, vol.63, n.4, pp.903-920. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n4a8.

Hierdie artikel fokus op die jaarlikse persoonlike inkomste enjaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021. Met die oog hierop is Orania se sosio-ekonomiese opname, waarvan die veldwerk in 2021 afgehandel is en waarvan die resultate in 2022 gepubliseer is, tesaam met die besigheidsopname van 2022 ontleed. Die Orania Sakekamer reik koopbewyse uit wat bekend staan as die ora en wat op 'n een-tot-een grondslag gekoppel is aan die Suid-Afrikaanse rand. Die ora word afgekort deur middel van die simbool "φ". Ora-koepons sirkuleer as 'n wettige betaalmiddel in die dorp, teen φ1,00 gelyk aan R1,00. Aangesien inwoners van Orania verkies om bedrae in ora te benoem en nie die rand nie, word die navorsingsbevindings hier in ora gerapporteer. Die totale jaarlikse persoonlike inkomste van die inwoners van Orania in 2021 is op sowat φ300 miljoen beraam. Per capita jaarlikse persoonlike inkomste vir die 2 377 inwoners word dus op sowat φ125 000 beraam. Hierteenoor word die jaarlikse inkomste van huishoudings in Orania in 2021 op sowat φ200 miljoen beraam, wat heelwat laer is as die beraming vir jaarlikse persoonlike inkomste vir dieselfde tydperk. Hierdie verskil in ramings kan nie met bestaande opnamedata verklaar word nie. Die ramings van die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste word gestaaf deur die data wat verkry is uit die Orania-besigheidsopname. Die omset van sake-ondernemings in Orania in 2021 word op φ281 950 000 beraam en sake-eienaars het gerapporteer dat 51 persent van hul omset afkomstig was vanuit inwoners van Orania. Daar is sekere opnamefoute in die data, terwyl bykomende inligting nodig is om die ramings te verbeter. Inligting oor die huishoudelike besparing en persoonlike inkomstebelasting wat betaal word, sal die ramings kan verbeter. Inligting oor die netto betaling van belasting op toegevoegde waarde (BTW) deur sake-ondernemings sal ook hiertoe bydra. Bykomende inligting is onder meer nodig om Orania se bruto geografiese produk te beraam. Die gevolgtrekking kan nogtans gemaak word dat die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021 tussen φ200 miljoen en φ300 miljoen beloop het. Die beraming laat 'n marge van 50 persent, wat statisties groot is, maar bied nietemin 'n maatstaf waarvolgens toekomstige bevindings oor dieselfde onderwerp met mekaar en met die bevindings uit die verlede vergelyk kan word. Daar moet ook tot die slotsom geraak word dat die groeivlak van Orania se persoonlike en huishoudelike inkomste sedert 1991, toe dit vir alle doeleindes op nul gestaan het, beduidend is.

Palabras clave : Afrikaans; jaarlikse huishoudelike inkomste; jaarlikse persoonlike inkomste; ora (φ); Orania; verbruiksbesteding.

        · resumen en Inglés     · texto en Africano     · Africano ( pdf )

 

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons