Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
In die Skriflig
On-line version ISSN 2305-0853Print version ISSN 1018-6441
In Skriflig (Online) vol.59 n.1 Pretoria 2025
https://doi.org/10.4102/ids.v59i1.3173
ORIGINAL RESEARCH
'n Christelik-etiese metateorie vir vandag: 'n Klassiek-Gereformeerde perspektief
A Christian-ethical metatheory for today: A classic Reformed perspective
Jacobus M. Vorster
Unit of Reformed Theology and the Development of the South African Society, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa
ABSTRACT
The aim of this article is to contribute to the development of a metatheory of Christian ethics from the perspective of the classical Reformed Theological tradition. In contrast to the moral relativism advocated by modern liberal ethical patterns of reasoning, as well as the plea for an exclusive focus on divine command ethics characteristic of contemporary evangelicalism, this study proposes a biblical ethics determined by various contexts. These contexts include the cultural-historical context of Scripture, its canonical context, its congruent theological framework as well as the modern social context and a context of crisis. When all these contexts are considered, the Christian moral agent may discern moral norms through the implementation of the ethical theories of deontology, virtue ethics, and consequentialism. Christian ethics should therefore not be reduced to either moral relativism or sole divine command ethics.
CONTRIBUTION: Engaging Scripture within all its contexts and defining norms for modern social and crisis contexts leads to obedience to clear biblical norms, while also acknowledging the reality of adiaphora, the imperative to imitate the attitude of Christ, and living within the sphere of the freedom of a formed Christian conscience
Keywords: Classic Reformed Theological tradition; moral relativism; divine command ethics; cultural historical context of the Bible; canonical context of the bible; salvation history; revelation history; deontology; consequentialism; virtue ethics; Christian conscience.
Inleiding
Die metateorie vir Christelike etiek word deurgaans intens bespreek omdat begrippe soos Skrifbeskouing, Skrifhantering, hermeneutiek en sistematiese teologie steeds 'n dinamiese onderwerp in hedendaagse teologiese besinning is. Bretherton (2023:52) se onlangse inleiding tot die Christelike etiek vestig weereens die aandag op hierdie verskynsel. Hy betoog dat Christelike etiek moet fokus op Skrifverantwoording, maar dat daar vir normontwikkeling ook ander bronne bestaan soos die natuurwetenskappe, filosofie, kuns en geskiedenis. Daarby speel die sosiale konteks waaronder veral die politieke en maatskaplike omgewing ook 'n rol wanneer etici besin oor reg en verkeerd. Daar moet verder op gewys word dat ontwikkelings in die Bybelwetenskappe, soos die bevraagtekening van die eenheid van die Skrif en die ontkenning van deurlopende bybelse temas, baie nuwe vrae aan die metateorie van Christelike etiek stel. Verskeie huidige hermeneutiese teorieë, soos die hermeneutiek van suspisie, feminisme, postkolonialisme, bevrydingsteologie en ekoteologie, bied ook ingewikkelde uitdagings (kyk Goede & Vorster 2022).
Die toenemende ontkenning van die bo-kontekstuele en altyd geldende aard van die Skrif plaas die idee van die Skrif as 'normgewende norm' [norma normans] vir die etiek, sowel as vir kerkregering en prakties-teologiese dissiplines onder toenemende druk. Die vraag ontstaan of daar werklik duidelike, rigtinggewende en altyd geldende Skrifbeginsels bestaan wat op moderne etiese problematiek van toepassing is. 'n Goeie voorbeeld van hierdie denkrigting is die praktiese teoloog Dreyer (2008:502) se beskouing oor die huwelik en seksualiteit. Vanuit die hermeneutiek van suspisie betoog sy dat daar wegbeweeg moet word van die dubbele antropologie van 'manlikheid' en 'vroulikheid'. Volgens haar is hierdie dubbele antropologie kulturele en sosiale konstruksies en is dit inherent patriargaal. Daar moet beweeg word na 'n menslike samelewing waarin alle vorms van dehumanisering en degradering van mense op grond van hierdie dubbele antropologie met suspisie bejeën word. Om tot 'n 'outentieke humaniteit' vir almal te kom, moet daar wegbeweeg word van historiese sosiale patrone en menslike skeppings (soos die huwelik in die Bybel) (Vorster 2015). Sy oordeel dat die postmodernistiese filosofie juis dít doen deur aan te dui dat sosiale konstrukte, soos die 'bybelse huwelik', nie Godgegewe en onveranderbaar is nie (Dreyer 2011:5). Volgens haar sal die ideale situasie bereik word wanneer alle mense as gelyk beskou word en gelyke geleenthede het om gesonde lewens in die teenwoordigheid van God te leef (Vorster 2015). Soortgelyke argumente figureer al hoe meer op die teologiese terrein, en dit bring 'n rigtinggewende etiese koers in die moderne samelewing in gedrang - veral in 'n samelewing wat al hoe meer sekulariseer.1
Haar beskouing oor die huwelik is een voorbeeld van hoe die rol van bybelse teonome norms vandag in die liberale Protestantse teologie toenemend bevraagteken word, veral as gevolg van nuwere hermeneutiese teorieë wat vanuit die interpretasie van konsepte uit hedendaagse filosofiese besinning die teologiese hermeneutiek beïnvloed (kyk Rabens, Grey & Kamell Kovalishyn 2018). Liberale teologie binne die Gereformeerde tradisie aanvaar die Skrifkritiek in die sin dat die gedagte van die Skrif as die Woord van God verplaas word na die beskouing dat die Skrif menslike nadenke oor God verteenwoordig. Vanuit hierdie perspektief word kerngedagtes van die tradisionele konfessies soos hoë Christologie, eskatologie, teonome etiek en ander bevraagteken. Daar word dan gevra of bybelse etiese norms hoegenaamd nog van toepassing is op vandag se etiese vraagstukke. Moderne liberale etici pleit vir outonome norms wat deur middel van die rede en uit 'n inherente menslike sedelike bewussyn ontgin kan word. Sedert Fletcher (1966) se opspraakwekkende pleidooi vir situasie-etiek, waarin die situasie van die besluitnemer die norm bepaal, betoog liberale etici dat slegs die liefdesgebod in die Skrif eties-normatief is. Etiese handeling moet volgens hulle in elke situasie deur liefde gelei word sonder dat vaste norms vooraf bepaal word. Aangesien situasies verskil, kan etiese norms dus ook verskil. In dieselfde lyn van denke beskou die huidige aktuele besinning oor die historiese Jesus, met 'n beroep op 'n 'low Christology', Jesus se handelings in sy omgang met mense as die enigste basis vir etiese norms, terwyl die res van die bybelse etiese uitsprake as ontoepaslik beskou word. 'n Goeie uiteensetting van hierdie sienings oor Jesus word aangebied deur Welker (2015:55-103). Al hierdie rigtings word deur Geisler (2010:22 e.v.) getipeer as antinomianisme, en hy bespreek die standpunte van verskeie eksponente in hierdie verband. 'n Ander rigting, wat nie noodwendig 'n 'low Christology' impliseer nie, grond etiese handeling in die evolusionêre biologie wat volheid vind in die persoon van Jesus Christus. Van Huysteen (2008:492 e.v.) se siening is 'n belangrike eksponent hiervan.
Aan die ander kant van die teologiese spektrum, naamlik in evangeliese konserwatiewe teologiese rigtings, word etiese norms op absolutistiese wyse in die Skrif begrond. Hierdie rigtings betoog dat die Skrif duidelike beginsels vir alle etiese handeling bied en dat hierdie beginsels absoluut geld vir alle tye en omstandighede. Die Skrif moet letterlik gelees word en dien dan as 'n etiese handleiding - soos 'n gebruikershandleiding vir 'n masjien (Bretherton 2023:55). In die praktyk het hierdie benadering tot bybelse etiek reeds verskeie probleme opgelewer, soos die regverdiging van slawerny, doodstraf, kolonialisme, rassediskriminasie, grondbesetting, lyfstraf, die verontregting van vroue en vele ander. Ten spyte van jarelange kritiek binne teologiese diskussies, is hierdie rigting, net soos die liberale Protestantse teologie, steeds prominent teenwoordig in hedendaagse Christelik-etiese diskoerse - veral in die VSA.
In die lig van hierdie twee stromings binne die huidige Gereformeerde denke, is dit belangrik dat daar voortdurend oor die metateorie van Christelike etiek nagedink word.2 Hierdie artikel neem deel aan sodanige besinning en doen dit vanuit 'n Klassiek-Gereformeerde perspektief. Voortdurende besinning is immers deel van die Gereformeerde teologie se leuse reformata semper reformanda, wat daarop dui dat Gereformeerde teologie voortdurend moet reformeer om relevant en lewenskragtig te bly in nuwe omstandighede. Verskeie invloedryke Gereformeerde teoloë soos Kuyper (1898), Bavinck (1908) en later Barth (1948:34), en Moltmann (1999:120) het hulle teologie met hierdie leuse as dryfveer beoefen. Voortdurende Gereformeerde teologiese besinning moet egter nie vasval in óf absolute tradisionalisme óf algehele anti-tradisie en onbeperkte veranderingsdrif nie, maar kan ook die tradisionele heroorweeg, bevestig en, indien nodig, nuwe denke akkommodeer. In hierdie ondersoek na 'n eietydse Christelik-etiese metateorie in die lig van die Klassiek-Gereformeerde teologie, word die genoemde leuse van die gereformeerde teologie benut om vas te stel watter aspekte van hierdie metateorie steeds relevant is, en watter aspekte in die lig van nuwe denke aangepas of uitgebou moet word. In so 'n proses sal daar onvermydelik begin moet word met Skrifbeskouing, Skrifberoep en Skrifhantering, aangesien die Gereformeerde belydenisskrifte sedert die Reformasie die Skrifopenbaring van God as die uitgangspunt van die Christelike teologie, en dus ook van Christelike etiek, vooropstel.
Skrifbeskouing in die lig van die Gereformeerde belydenis
Die belydenis van wat 'n mens glo, is eie aan die kerk van Christus. So het die drie ekumeniese belydenisskrifte oor die triniteit van God reeds vroeg in die kerkgeskiedenis die lig gesien as getuienis teen dit wat die vroeë kerk as afwykings en dwalings getipeer het. Hierdie belydenisskrifte word vandag nog deur verreweg die grootste deel van die Christelike kerk onderskryf - selfs deur sommige charismatiese kerke wat hulleself as a-belydenisskrifte tipeer. Verskillende kerklike tradisies het ook eie belydenisse binne bepaalde kontekste ontwikkel om 'n eie geloofsidentiteit daar te stel. Só het talle Protestantse belydenisskrifte tydens die Reformasie ontstaan, waarvan sommige diepgaande en bepalende teologiese rigtings in hulle tradisies tot gevolg gehad het. Die Gereformeerde tradisie se belydenisgrondslag het veral beslag gekry in die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Dordtse Leerreëls en die Westminster Confession.3
Oor die rol van belydenisskrifte in teologisering moet twee sake vooraf duidelik gestel word. Eerstens, 'n belydenis het nie goddelike gesag nie, maar kerklike gesag. Die belydenisskrifte is norma normata [afgeleide norms], en alleen die Skrif is norma normans [normerende norm] (Potgieter 1990:57). Belydenisskrifte is belangrike kerklike dokumente waarop die geloofseenheid en identiteit van die kerk rus, maar dit kan nooit met die Skrif gelykgestel word nie. Die Skrif is onveranderbaar, maar die belydenis kan gewysig word indien dit bewys kan word dat dit teen die Skrifopenbaring indruis. Wysigings mag egter nie lukraak deur individue aangebring word nie, maar moet deur die kerk self op die kerkregtelike wyse wat kerke voorskryf, geskied. Tweedens moet die realiteit erken word dat belydenisskrifte die voorafverstaan [Vorverständnis] in die proses van Skrifondersoek bepaal. Belydenisskrifte dien dus as paradigma onderliggend aan Skrifondersoek.
Die filosoof Heidegger (1889-1975) het vroeg in die vorige eeu gewys op die rol van 'voorstruktuur' [Vorstruktur] in alle prosesse van interpretasie in wetenskapsbeoefening en in die verstaan van werklikheid en tyd (kyk Shionoya 2010:188). Sy argument dat interpretasie altyd voortvloei uit 'n Vorstruktur het groot invloed op hermeneutiek as wetenskap gehad - ook op die teologiese hermeneutiek. Hy het baie moderne denkers beïnvloed, waaronder die postmodernistiese wetenskapsleer van Kuhn (1970) asook Lyotard (1991), Gadamer (1979:258 e.v.) en Osborne (2006:407). Teenoor die anti-teologiese retoriek van moderniste ondersteun postmodernistiese denkers die geldigheid van teologie as 'n wetenskap, juis vanuit die besef dat alle wetenskap (en nie net teologie nie) paradigmagedrewe is, en dat die beroep op neutraliteit in wetenskapsbeoefening ongeldig is. Ten opsigte van Skrifverstaan wys Spykman (1996:121), Osborne (2006:29) en Fedler (2006:53) daarop dat nóg teologie nóg Skrifverklaring plaasvind in 'n lugleegte of sonder voorveronderstellings. Skrifverklaarders benader hulle onderskeie velde van ondersoek nie onaangeraak, onbevange, neutraal of objektief nie, maar vanuit 'n vooraf-ingenome oortuiging of stel beginsels. Hierdie 'voorverstaan' word gevorm deur die geloofsoortuiging, kerklike tradisie en selfs sosiale status van die Skrifverklaarder. In teologiebeoefening is die kerklike tradisie, soos vervat in die besluite van konsilies en belydenisskrifte, die paradigmas wat teologiese ondersoek dryf. Hierdie realiteit beteken egter nie dat die paradigma onaangeraak bly nie. Juis omdat die Skrif norma normans is, moet die tradisie (belydenis) telkens weer in die lig van die resultate van voortdurende Skrifondersoek heroorweeg word. Die verklaarder werk dus binne 'n soort hermeneutiese sirkel (kyk Grondin 2016:299-305). Die teks van die Skrif word vanuit 'n 'voorverstaan' (paradigma, tradisie) benader en ondersoek, maar daarna moet die 'voorverstaan' weer aan die resultate van die ondersoek getoets word. In hierdie proses is die resultate van ander ondersoekers wat vanuit ander paradigmas werk van baie groot belang. Ekumeniese Skrifondersoek is daarom baie belangrik. Daarop wys die Skrif self in Efesiërs 3:16-19.
In die Klassiek-Gereformeerde teologie, soos dit sedert die Reformasie ontwikkel het, het die konfessies as paradigma of 'voorverstaan' 'n belangrike rol gespeel - veral ten opsigte van die siening oor die gesag van die Skrif en wat daarmee saamhang. Met onlangse wetenskapsteorieë as uitgangspunt moet hierdie voorverstaan steeds as geldig beskou word, en nie sommer as verouderd of uitgedien afgemaak word nie. Van al die belydenisskrifte wat tydens en kort na die Reformasie ontstaan het, bied die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) die mees uitvoerige beskrywing van die Skrif as Godsopenbaring en die plek wat die Skrif in die geloof en lewe van mense moet inneem. In navolging van Calvyn se Institusie (Inst. 1.2.1.7), begin die belydenisskrif met die geloof in die bestaan van God as '… enige en enkelvoudige geestelike Wese wat ons God noem. God is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is' (NGB Art. 1). Daarna volg in Artikel 2 die bekende duplex cognitio - die wyses waarop God Homself aan die mens openbaar: deur die 'boek van die natuur' en meer in besonder die 'geskrewe Woord'. Die geskrewe Woord bevat die kanonieke boeke (Art. 4) wat onderskei moet word van die apokriewe boeke wat wel in die kerkgeskiedenis in omloop was (Art. 6). Vervolgens word die gesag van die 'heilige en goddelike Skrif' bely (Art. 3 en Art. 5), wat nie op kerklike gesag rus nie, maar op die getuienis van die Heilige Gees [testimonium Spiritus Sancti] en die selfgetuienis van die geskrewe Woord. Laasgenoemde is belangrik, omdat die selfgetuienis van 'n objek die beste bron van wetenskaplike ondersoek is. Laastens word die volkomenheid van die Skrif bely (Art. 7): dit bevat alles wat nodig is vir geloof en lewe, is verhewe bo alle menslike en kerklike geskrifte en waartoe mense niks kan en moet byvoeg nie. Christelike etiek as teologiese wetenskap moet daarom diep wortel in die Skrifopenbaring en oop wees vir die inwendige getuienis van die Heilige Gees in die hart van die gelowige. Al bogenoemde aspekte van die Skrif soos in die NGB bely, het deurslaggewende implikasies vir gelowiges se etiese handeling.
Grondliggend aan 'n Christelik-etiese metateorie is, na my mening, die tese dat alle etiese handeling diep ingebed is in die leer van die genade van God (Nullens 2017:5). Sy genade is universeel, herstellend en reddend van aard. Die mens kan nie deur etiese handeling die genade verdien nie, maar kan daarop reageer. God regeer, en die mens reageer. Die inleiding tot die afkondiging van die Dekaloog in Eksodus 20:2 beklemtoon die beginsel dat God eers verlos en dan eise stel. Dit is ook die karakter van die verbondsleer in die Ou Testament en die kern van die Nuwe Testamentiese leer oor mense se deelgenootskap aan die koninkryk van God (Kol 1:13). Die toesegging van genade, die oproep tot heilstoeëiening (geloof) en 'n godvrugtige dankbaarheidslewe is die goue draad wat deur die hele Skrifopenbaring loop - en dit is die grondliggende beginsel van Christelike etiek. Met bogenoemde prinsipiële uitgangspunte as vertrekpunt, word daar nou verder gefokus op die rol van teks, konteks en Skrifberoep as sleutelelemente in die metateorie van Christelike etiek.
Teks, konteks en Skrifberoep
Om die Skrifberoep ten opsigte van etiese handeling te verstaan, is dit nodig om die kontekste waarbinne God se openbaring plaasvind, te begryp. Die volgende vyf temas rakende die kontekste is belangrik:4
Die kultuur-historiese konteks
Die Skrif is God se woorde in mensetaal. Die oorspronklike taal moet daarom ontleed word volgens die reëls en instrumente van die leksikografie. Verskeie outeurs binne die Gereformeerde tradisie, soos Peels (1996:52-92) en Van der Belt (2006:328), benadruk steeds hierdie uiters belangrike vereiste (kyk ook Silva 1996:197-186; Osborne 2006:35-180). Taal is egter ook diep ingebed in 'n kultuurhistoriese konteks. Hierdie konteks sluit lewens- en wêreldbeskoulike kenmerke van 'n bepaalde historiese tydvak in. Mense leef nie in 'n vakuum nie, maar in 'n milieu wat wesenlik beïnvloed word deur die denke van die tyd en die omgewing waarin hulle hul bevind. Taal ontwikkel ook oor tyd. Hoe die lewe en kultuur van Israel daar uitgesien het, word op insiggewende wyse deur De Vaux (1988) in sy standaardwerk oor die kultuurgeskiedenis van Israel beskryf. Die sosiale agtergrond van die Nuwe Testament word ook in verskeie werke ontleed, en hierdie kennis word voortdurend bygewerk in die lig van nuwer wetenskaplike, historiese en argeologiese navorsing.
Die aktiwiteit van Skrifverklaring binne die Klassiek-Gereformeerde tradisie het altyd erns gemaak met die verstaan van die kultuur- en sosio-historiese konteks van die Bybelteks. Sake wat gereeld in gereformeerde kommentare oor Bybelboeke aan die orde kom, sluit in die datering van 'n teks, die taalvorms van die oorspronklike skrywer, grammatikale analises in die lig van antieke taalstrukture, die sosiale en lewenskonteks van die skrywer en die hoorders, asook die bedoeling van die skrywer vir mense in die bepaalde historiese konteks. Terme en segwyses uit die antieke kulture, byvoorbeeld die handel, die reg, sosiale lewe, literatuur en kulturele gebruike word deurgaans deur Bybelskrywers gebruik om die Woord van God aan lesers oor te dra. Om die Woord van God te verstaan, moet die uitlegger die taal en styl waarin dit verpak is, verstaan. Wat Paulus byvoorbeeld in Galasiërs 4:6-7 sê, naamlik dat die gelowige nie meer 'n slaaf van die sonde is nie, maar 'n kind van God en erfgenaam, sal die Bybelleser nie verstaan nie, tensy die sosiale agtergrond van slawerny in die Romeinse kultuur, en die regte van 'n kind en erfgenaam in daardie agtergrond, kultuurhistories ontleed word.
Die verstaan en gebruik van die kultuurhistoriese agtergrond is van groot belang in die ontginning van bybelse norms vir hedendaagse etiek, en was in die Gereformeerde tradisie altyd as belangrik geag (sien Vergeer 2020). Kulturele gebruike binne antieke kulture kan nie sonder meer as normatief vir vandag beskou word nie. Hier kan veral gedink word aan die talle sedelike en leefstylwette van die wetboeke in die Ou Testament. Hierdie wette gaan oor die heiligheid wat God van sy volk vereis, en die etikus moet vasstel hoe daardie heiligheid vandag uitgeleef en geïnterpreteer moet word (kyk Vriezen 1966:438-407). Ons kan byvoorbeeld nie vandag die oud-oosterse kleredrag, higiëne- en sabbatswette of gesinstradisies letterlik naboots nie, want so 'n a-historiese Skrifberoep kan tot kasuïstiek lei. Só 'n benadering word deur Antoun (2001:37) getipeer as 'Scripturalism', en deur Ritschl (1999:255) en Douma (1997:363) as 'biblisisme'. Die vraag is dus: Hoe moet die heiligheid, wat van Ou Testamentiese gelowiges verwag is, vandag gestalte kry? In hierdie proses is 'n deeglike verstaan van die kultuurhistoriese agtergrond van kardinale belang om die uiterstes van 'biblisisme' en 'n 'sola text'-benadering te vermy.
Erkenning van die noodsaak vir kennis en gebruikmaking van die kultuurhistoriese agtergronde van die Skrifopenbaring moet egter ook nie oorgaan in 'kontekstualisme' nie. Volgens hierdie benadering in die liberale protestantisme maak die sosio-historiese konteks van die bybelse teks dit onmoontlik om van 'n altyd-geldende etiese norm te praat. Norms kan slegs vir 'n bepaalde tyd en konteks geld, en kan selfs teenstrydig wees. Volgens hierdie denkrigting kan daar dus nie gepraat word van 'n bybelse etiek nie, omdat die teks nie uit sy konteks 'gelig' kan word nie. Wat in een konteks geld, kan nie sonder meer in 'n ander konteks toegepas word nie. Tussen die uiterstes van biblisisme en kontekstualisme moet die Skrifberoep in die etiek, met behulp van kennis van die kultuurhistoriese agtergrond van die ontstaan van die Bybelboeke, teonome etiese norms ontgin wat altyd toepaslik is vir 'n Christelik-etiese lewe in enige moderne konteks. Wat verder ook belangrik is, is die kanonieke konteks.
Kanonieke konteks
Die kanonieke boeke het elkeen 'n eie aard, gerigtheid en bedoeling, en benewens die kultuurhistoriese konteks waarbinne dit ontstaan het, moet hierdie aspekte in Skrifverstaan deeglik verreken word. Die datering van elke boek is belangrik om die historiese konteks na te speur en vas te stel wat die betrokke boek vir die volk van die Here in 'n bepaalde tyd wil sê. Studies oor die kanoniek dui aan dat elke boek 'n eie tema het met 'n unieke bydrae tot die geheel (Guthrie 1966:14 e.v.; Harrison 1970:201 e.v.). Die verskillende Bybelskrywers het ook van uiteenlopende genres gebruik gemaak, en elke genre vereis 'n eie benadering tot uitleg (Ricoeur 1981, hfst. 3; Osborne 2006:181-343; Kelsey 2009:135). Die historiese boeke, profetiese boeke, wetsboeke, wysheidsliteratuur, evangelies, sendbriewe en apokaliptiese literatuur verg elk 'n unieke wyse van lees en interpretasie.
Vir die ontwikkeling van teonome etiese norms is hierdie aspek van Bybelverstaan van uiterste belang. In die historiese boeke moet gegewens wat byvoorbeeld insidente van geweld beskryf, nie summier as voorskrifte beskou word nie. Die historiese feit dat die Skrif melding maak van slawerny en dit nie eksplisiet afwys nie, beteken nie dat die Skrif slawerny goedkeur nie. Daar moet dus duidelik onderskei word tussen deskriptiewe (beskrywende) en preskriptiewe (voorskrywende) materiaal. In die profetiese boeke moet die doel van elke profesie binne sy aanleidende historiese konteks en veral die implikasies van sy belofte vir lewensnormering verstaan word. Wysheidsliteratuur kan maklik in 'n letterlike sin verstaan en toegepas word, en daarom moet wysheidsuitsprake getoets word aan die dieper boodskap van die wysheidsboeke.
Die evangelies is vir verskillende gehore geskryf en belig die koms, werk, kruisiging en opstanding van Christus, elk uit 'n unieke hoek. Hierdie verskillende perspektiewe is essensieel vir die verstaan van evangeliese norms. Die sendbriewe van die apostels neem die spesifieke gemeentelike problematiek van die betrokke gemeentes in oënskou, en daar moet deeglik onderskei word tussen wat slegs op daardie gemeentes betrekking het en wat universeel bedoel is vir die kerk deur die eeue heen. Hierdie onderskeidings is nie eenvoudig nie, en lei vandag tot talle vrae en besprekings binne die etiese denke, soos byvoorbeeld: In watter mate is voorskrifte oor liturgie in die samekomste, plek van vroue, huistafels, menseverhoudings, seksualiteit en sienings oor owerheidsgesag normatief vir 'n hedendaagse samelewing?
In hierdie verband is gebruikmaking van die Gereformeerde hermeneutiese beginsel van Skrif met Skrifvergelyking [sacra Scriptura sui ipsius Scriptura] van groot waarde (kyk Coetzee & Goede 2022:25). Die deel moet altyd in die lig van die geheel van die Bybelboek en van die hele Skrif gelees word. In aansluiting hiermee moet ook gewys word op die openbaringshistoriese konteks.
Die openbaringshistoriese konteks
Sedert die Reformasie het die idee van die eenheid en geheelverband van die Skrif 'n belangrike rol in teologiebeoefening gespeel (vir 'n dogmatiese beskouing, sien Bavinck 1929:450, en vir Bybelwetenskaplike beskouings, kyk Brueggemann 1997; Guthrie, 1970; Westermann 1973). Verskeie benamings is in hierdie verband vir die eenheid van die Skrif gebruik, soos verbondsgeskiedenis, verlossingsgeskiedenis [salvation history], heilsgeskiedenis [heilsgeshichte], eksodusteologie, bybelse teologie en openbaringsgeskiedenis (sien bv. Barth 1961:136; Ciampa 2007:254; Cullman 1948:147; Reuman 2005:833). Die onderliggende uitgangspunt is dat die Skrif een groot narratief het waaruit kleiner narratiewe voortvloei en inhoudelik daarmee verband hou. Kelsey (2009:458-477) beredeneer hierdie uitgangspunt, wat hy as 'the wholeness of Scripture' tipeer.
In moderne Bybelwetenskaplike ondersoek word daar, as gevolg van tekskritiek en nuwe hermeneutiese teorieë, egter kritiese vrae gevra oor die gedagte dat die Skrif 'n teologiese eenheid vorm - en of daar regtig sprake is van 'n kongruente bybelse teologie. Moet daar nie eerder gepraat word van verskillende, selfs kontrasterende, teologieë nie? Vir die etiek beteken dit dan ook verskillende en kontrasterende etiese norme.5
Van der Kooi en Van den Brink (2017:554) oordeel egter, op goeie gronde en met verwysing na verskeie hedendaagse eksponente van die idee van 'n deurlopende bybelse narratief, dat hierdie teorie tans weer 'n produktiewe beweging in die hermeneutiese diskoers verteenwoordig. Die uitgangspunt van hierdie artikel val binne daardie beweging. Vir die vasstelling van altyd-geldende teonome etiese norms is hierdie narratief-teorie van wesenlike belang. Dit beteken dat 'n etiese norm wat eksegeties uit 'n bepaalde teksgedeelte of gedagte-eenheid ontgin word, eers aan die deurlopende narratief van die Skrif getoets word voordat dit as altydgeldend voorgestel kan word.
As voorbeeld kan verwys word na die argument van Cliteur (2010) dat die Skrif godsdiensgedrewe geweld en terreur propageer. Hy gebruik onder andere die Phinehas-verhaal in Numeri 25:1-18 as bewys vir sy stelling.6 Sy eksegese is geldig indien hy hom op 'n atomistiese wyse slegs op daardie een gedagte-eenheid beroep as bewys van sy stelling. Wanneer hierdie spesifieke historiese gedeelte van die Skrif egter gelees word in die lig van die volledige openbaring van God se liefdevolle en vrede-brengende koningskap, hou sy argument geen water nie. Die geheelnarratief van die Skrif gaan immers nie oor geweld nie, maar oor vrede en versoening.
Bright (1973:7) het in sy opspraakwekkende boek die stelling gemaak dat die idee van die koninkryk van God die hoofnarratief van die Skrif is. Die geskiedenis van Israel, die koms en werk van Jesus Christus, die vestiging en uitbreiding van die kerk onder die dinamiese leiding van die Heilige Gees, die voorgeskrewe lewenspatrone van die volk van God, hulle roeping en getuienis, hulle sekerheid en toekoms - dit alles word gedra deur God se koningskap wat 'n teenswoordige en toekomstige realiteit is. Dieselfde denkpatroon word ook deur Küng (1992:56) gevolg. Daar is egter ook ander narratiewe soos sonde, verlossing en dankbaarheid, die verbond wat familie- en sosiale verhoudings normeer (Vriezen 1966), die eskatologie wat hoop bring (Moltmann 1965), en bevryding uit verdrukking. Tog word al hierdie narratiewe op organiese en logiese wyse saamgebind in die oorsprong, geskiedenis, wese, reikwydte en toekoms van die koninkryk van God - wat reeds immanent teenwoordig is, maar nog in volheid sal kom. In wese word Christelike etiek genormeer deur die narratief van die koninkryk, waarin al die ander narratiewe saamvloei en betekenis vind. Christelike etiek is 'n etiek van die koninkryk van God, soos Van Wyk (2001:206, 214) met goeie gronde beredeneer.
Wanneer die etiek van die Skrif binne die raamwerk van die gedagte van die koninkryk beredeneer word, beteken dit dat die etiese tema deur die geheel van die Skrif belig moet word. Die teks word grammaties-histories ontleed, binne die kanonieke konteks geplaas, met ander Skrifgedeeltes vergelyk, en dan word die normatiwiteit daarvan bepaal vanuit die geheelperspektief, naamlik die koninkryksperspektief. Koninkryksetiek het dus 'n sterk deontologiese element; dit wil sê, dit het 'n beginsel- of normgedrewe aard. Die deurlopende denklyn in die Skrif bepaal die norm wat altyd geldig is.
Wanneer die deurlopende openbarings- en tematiese lyn nie 'n norm duidelik uit die konteks daarvan uitlig nie, word die toepassing daarvan 'n nie-essensiële, middelmatige saak oftewel adiaphora, soos die Christelike etiek dit tradisioneel erken het (Ulrich 1997:16). Essensiële, normgedrewe sake moet nie as adiaphora hanteer word nie, en adiaphora moet nie as altydgeldende norms hanteer word nie. Daar moet altyd gevra word wat in die sentrum van die Skrifopenbaring staan en wat op die periferie lê. Koninkryksetiek werk met deontologie, maar erken ook die bestaan van adiaphora. Deontologie verplig 'n etiese handeling; adiaphora word aan die gewete van die morele agent oorgelaat. Na my mening faal die liberale Gereformeerde teologie asook die konserwatiewe Gereformeerd-evangeliese teologie juis op hierdie punt. Vir die liberale teologie is die bestaan van deontologie onaanvaarbaar en vir die konserwatiewe evangeliese teologie is die bestaan van adiaphora onaanvaarbaar. Eersgenoemde werk dus met 'n relatiwistiese teologie, en laasgenoemde met 'n 'goddelike bevelsetiek' - waar vir elke probleem 'n teks voorsien moet word.
'n Goeie voorbeeld van hoe hierdie onderskeidings hanteer kan word, is die besinning oor Christelik-etiese norms met betrekking tot die huwelik en seksualiteit. Die historiese verhale van die Bybel beskryf die bestaan en samestelling van die patriargale, poligame huwelik en die gepaardgaande seksualiteit (De Vaux 1988:24). Tog word hierdie vorm van 'huwelik en seksualiteit' nêrens as norm voorgeskryf nie. Die skeppingsteologie, die heilsmomente van die Skrifopenbaring, die erkenning van menswaardigheid en die metafore van bruid en bruidegom bevestig die heteroseksuele, monogame huwelik as deontologiese norm, en seksualiteit word dienooreenkomstig beredeneer. Geen ander vorm van huwelik en seksualiteit word as norm voorgestel nie.
Om vas te stel wat deontologiese norms is en wat adiaphora is, is nie altyd 'n eenvoudige proses nie en verg deeglike en geduldige studie van die Skrif binne al die kontekste wat hierbo genoem is. In hierdie opsig is dit baie belangrik dat gelowiges met mekaar in gesprek bly, aangesien kerke al geskeur het oor norms wat as adiaphora hanteer word, en adiaphora wat as norms behandel word.
Eietydse sosiale konteks
Die hedendaagse sosiale konteks het ook 'n bewustelike of onbewustelike invloed op die etikus. Mense word diepgaande beïnvloed deur hulle omstandighede - hetsy deur sosiale status, werksomgewing, lewensomgewing, verhoudings, finansiële posisie, geslag, en so meer. Hierdie invloed van die eietydse sosiale konteks veroorsaak dat mense verskillende etiese vrae vra en, in die geval van Christene, antwoorde by die Christelike etiek soek. Die Vorverständnis, soos hierbo bespreek, speel in hierdie opsig ook 'n rol, aangesien dit onder andere deur die sosiale konteks beïnvloed word. In verskillende kontekste vra mense verskillende vrae. 'n Welvarende persoon vra byvoorbeeld ander vrae as 'n werklose behoeftige persoon, omdat die druk op hulle verskil. Manlike en vroulike persone kan verskillende vrae vra, voortspruitend uit verskillende lewenskontekste. Dieselfde geld vir ouers en kinders, bejaardes en jeug, asook werkgewers en werknemers. Die vrae word ook gevorm deur verskillende belewenisse, en lewens- en wêreldbeskouings. Wat vir een persoon aanvaarbaar is, is vir 'n ander onaanvaarbaar. Sulke kontraste kom op alle terreine van etiese besluitneming voor.
Een voorlopige opmerking kan hieroor gemaak word: Die Christelike morele agent moet waak teen die oorvraging van die Christelike etiek deur in alle kontekste te probeer om 'n 'goddelike bevelsetiek' af te dwing. Die sosiale konteks - en veral die huidige modernistiese en postmodernistiese konteks - lewer talle vraagstukke op wat nie altyd deur kasuistiese norms direk ondersoek word nie. Voorbeelde hiervan sluit in die nuwe etiese vrae vanuit die gesondheidswetenskappe, transhumanisme, robotika, ekologie en die inligtingsrevolusie, om maar enkeles te noem. Die uiteensetting van die Skrifgebruik hierbo wil nie voorgee dat daar gevestigde antwoorde vir alle moderne etiese probleme bestaan nie. 'n Metateorie van Christelike etiek moet ruimte laat vir hierdie kompleksiteite en alternatiewe weë ondersoek.
Die etiese teorie van 'deugde-etiek' (virtue ethics) kan in hierdie opsig nuttig wees. Etiese besluitneming gaan met 'n bepaalde gesindheid gepaard, maar gesindheid word ook gevorm deur lewens- en wêreldbeskoulike insigte en kom uiteindelik tot uiting in gesindhede wat van buite mense se ervaringsveld hulle besluitneming rig. Wat is dan die gesindheid van 'n Christelike morele agent? Hieroor is die Skrif duidelik: 'Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was' (Fil 2:5). Hierdie himne van Paulus lig vier kenmerke van die gesindheid van Christus uit.7 Wat is die gesindheid van Christus? Uit die himne kan vier sake afgelei word:
-
'Hy het homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem.' Hy het mens(lik) geword om met mense en vir mense te ly (Müller 1955:83; Floor & Viljoen 2002:99).
-
Ons kan Christus volg in sy medemenslikheid, sy solidariteit met verontregtes en armes, sy gesindheid van sorg, liefde, opoffering en medelye.
-
As 'n slaaf toon hy die diensknegsgestalte. Gelowiges moet dienaars wees na die voorbeeld van Christus.
-
Christus het homself verneder om 'n hoër doel te verwesenlik, en hy was in alles aan God gehoorsaam.
Hierdie elemente skets die gesindheid van Christus waarop die gesindheid van Christene in etiese besluitneming gebou moet word.
Christelike etiek is dus ook 'n deugde-etiek (virtue ethics), maar nie die beoefening van willekeurige deugde wat die vrug is van die menslike rede of van 'n ingeskape etiese bewussyn nie. Dit gaan om deugde wat gewortel is in die gesindheid van Christus. Hier betree ons die terrein van die pneumatologie. Die Gees van God en van Christus vervul gelowiges met gawes, sodat hulle die vrugte van 'n geesvervulde lewe kan dra. Die Heilige Gees wek, werk en versterk die deugsame lewe wat op die gesindheid van Christus gebou is - en hierdie deugsame lewe moet sigbaar word in die gelowiges se eietydse sosiale konteks.
Krisis konteks
Hoe moet Christelike etiek funksioneer in 'n konteks van krisis, soos byvoorbeeld 'n oorlog of 'n noodsituasie waarin morele konflikte aan die orde van die dag is - soos die wêreldbevolking tans weer beleef met die Russiese inval in Oekraïne en die oorlog van Israel teen Hamas? Moet leiers oorlog voer om vrede te herstel? Kan bedenklike verdrae gesluit word om konflik te vermy?
Mense word dikwels in noodsituasies met etiese besluite gekonfronteer waar die toepassing van een norm die toepassing van 'n ander negatief beïnvloed. Dit lei dan tot 'n botsing van pligte of 'n morele konflik. In sulke omstandighede voel Christene soms verplig om toegewings te maak en minder te doen as wat God van hulle verwag (McCormick & Ramsey 1978:70; Thielicke 1966:586). Verg noodsituasies inderdaad 'n noodetiek wat van teonome norms kan afwyk?
In die Christelike tradisie is daar deurgaans erkenning gegee aan die bestaan van 'n noodetiek wanneer 'n konteks van krisis dit vereis, en daar is verskillende aksente gelê op 'n etiek van kompromie. Bonhoeffer (1995:69, 126, 129-130, 252-253) het 'n waardevolle bydrae gelewer in sy beredenering van kompromie en sy waarskuwing teen goedkoop kompromie. Een riglyn vir 'n noodetiek wat gestel kan word en deel kan vorm van 'n eietydse Christelik-etiese metateorie is; dat op die waarde van die etiese teorie van konsekwensialisme gewys kan word. Dit beteken dat die morele agente die moraliteit van hulle handelings kan meet aan die uitkoms daarvan. Is daar 'n bedoeling wat moreel aanvaarbaar is - soos die strewe na vrede, versoening en geregtigheid? Kan die doel soms die middel heilig? Konsekwensialisme (of utilitarisme) laat ruimte vir die standpunt dat iets goed is as dit tot 'n goeie einde lei [all is well that ends well].
Konsekwensialisme as aanvaarbare etiese teorie in 'n krisiskonteks of noodsituasie kan egter, net soos deugde-etiek, nie lukraak en sonder ander gesigspunte as begrensing geloods word nie. Eerstens moet dit vasgestel kan word dat daar werklik sprake is van 'n noodsituasie dat noodetiek vereis word. Tweedens moet die doel wat met die handeling nagestreef word, aan goeie morele standaarde voldoen - met ander woorde: is die doel regverdig? Derdens moet die handeling sowel as die doel aan die vereiste van Christelike liefde voldoen. Die handeling en die doel mag nie slegs deur selfsug of blote pragmatisme gedryf word nie, maar moet getuienis lewer van 'n opregte strewe om die meeste goed vir die meeste mense te bewerkstellig
In hierdie verband is die rol van die gewete baie belangrik. Die gewete van 'n Christelike morele agent word voortdurend gevorm en geslyp deur die prediking in die kerk, gemeenskap met medegelowiges en persoonlike Skrifstudie, en kom veral te pas wanneer beslissing gemaak word in krisismomente. Waar die toepassing van goed gefundeerde norms nie sonder meer toegepas kan word nie, dien die Christelike gewete as morele kompas om Christelike etiek te navigeer.
Gevolgtrekking
Moderne teologies-etiese besinning ossilleer tussen die uiterstes van 'goddelike bevelsetiek' en die relativering van alle norms. In die lig van hierdie twee stromings binne die Gereformeerde teologie vandag, is dit belangrik dat daar voortdurend besin moet word oor die metateorie van Christelike etiek. Hierdie artikel wil tot so 'n besinning bydra vanuit 'n Klassiek-Gereformeerde perspektief, en die volgende bevindings word aan die hand gedoen:
-
Die bron vir Christelike etiek is die Skrif. Met hierdie beginsel in gedagte, moet daar vasgehou word aan die realiteit dat nóg teologie nóg skrifverklaring in 'n lugleegte plaasvind of sonder voorveronderstellings geskied. In teologiebeoefening is die kerklike tradisie - soos vervat in die besluite van konsilies en belydenisskrifte - die paradigmas wat teologiese ondersoek dryf. Hierdie realiteit beteken egter nie dat die paradigma onaangeraak bly nie. Juis omdat die Skrif norma normans is, moet die tradisie (belydenis) telkens in die lig van die resultate van voortdurende Skrifondersoek heroorweeg word.
-
In die Klassieke Gereformeerde teologie, soos dit sedert die Reformasie ontwikkel het, het die konfessies as paradigma of 'voorverstaan' 'n belangrike rol gespeel - veral ten opsigte van die siening oor die gesag van die Skrif en alles wat daarmee saamhang. Met onlangse wetenskapsteorieë as uitgangspunt, moet hierdie voorverstaan steeds as geldig beskou word en nie sommer as verouderd of uitgedien afgemaak word nie.
-
In etiese besinning speel verskillende kontekste 'n rol en beïnvloed die vorming van Christelik-etiese norms. Hierdie kontekste sluit die kultuur-historiese, kanonieke en openbarings-historiese kontekste van die Skrif, asook die eietydse sosiale en krisiskontekste. Wanneer hierdie kontekste in ag geneem word, kan daar geargumenteer word dat die bybelse etiek primêr deontologies van aard is - met verrekening en erkenning van adiaphora, maar ook met ruimte vir deugde-etiek, konsekwensialisme en die rol van die gewete, na gelang van die sosiale en krisiskonteks.
Erkennings
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel op onvanpaste wyse kon beïvloed nie.
Outeursbydrae
J.M.V. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.
Befondsingsinligting
Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.
Databeskikbaarheidsverklaring
Die outeur verklaar dat alle data wat hierdie navorsingsartikel en bevindinge ondersteun, in hierdie artikel en literatuurverwysings beskikbaar is.
Vrywaring
Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.
Literatuurverwysings
Antoun, R.T., 2001, Understanding Fundamentalism: Christian, Islamic and Jewish Movements, Altamira Press, Oxford. [ Links ]
Barth, K., 1948, Kirche für die Welt. Die Botschaft von der freien Gnade Gottes, W. Kohlhammer Verlag, Stuttgart. [ Links ]
Barth, K., 1961, Church dogmatics (vol IV, pt 2): The doctrine of reconciliation, T&T Clark, Edinburgh. [ Links ]
Bavinck, H., 1908, The Philosophy of Revelation: The Stone Lectures for 1908-1909 at Princeton Theological Seminary, Legare Street Press, Hungerford Bookshop, Hungerford. [ Links ]
Bavinck, H., 1928, Gereformeerde Dogmatiek, volume 1, Kok, Kampen. [ Links ]
Beeke, J.R. & Ferguson, S.B., 1999, Reformed confessions harmonized with an annotated bibliography of reformed doctrinal works, Baker Books, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Bretherton, L., 2023, A primer in Christian Ethics, Christ and the struggle to live well, Cambridge University Press, Cambridge. [ Links ]
Bright, J., 1973, The kingdom of God: The biblical concept and its meaning for the Church, Abington Press, New York, NY. [ Links ]
Brueggemann, W., 1997, Theology of the Old Testament: Testimony, dispute, advocacy, Fortress Press, Minneapolis, MI. [ Links ]
Calvyn, J., 2008, Institutes of the Christian Religion, transl. H. Beveridge, Hendrickson, Peabody, MA. [ Links ]
Ciampa, R.E., 2007, 'The history of redemption', in S.J. Havemann & P.R. House (eds.), Central themes in biblical theology: Mapping unity in diversity, pp. 254-308, Baker Academic, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Cliteur, P., 2010, The secular outlook, In defence of moral and political secularism, Wiley Blackwell, Chicester. [ Links ]
Coetzee, A.J. & Goede, H., 2022, 'Reformed hermeneutics in South Africa: Its presuppositions, principles, nuances and value', in H. Goede & N. Vorster (eds.), Christian Hermeneutics in South Africa, vol. 8, p. 13-37, Reformed Theology in South Africa Series, AOSIS, Cape Town. [ Links ]
Cullmann, O., 1948, Christus und die Zeit, Die uhrchristliche Zeit und Geschichtaufassung, Evangeliscer Verlag, Zürich. [ Links ]
De Vaux, R., 1988, Ancient Israel: It's life and institutions, transl. J. Mchugh, Darton, Longman & Todd, London. [ Links ]
Douma, J., 1992, Verantwoord handelen, Kok, Kampen. [ Links ]
Douma, J., 1996, The Ten Commandments, P & P, Philipsburg, MT. [ Links ]
Dreyer, Y., 2008, 'The "sanctity" of marriage - An archeology of a socio-religious construct: Mythological origins, forms and models', HTS Teologiese Studies 64(1), 499-527. https://doi.org/10.4102/hts.v64i1.10 [ Links ]
Dreyer, Y., 2011, 'Women's spirituality and feminist theology: A hermeneutic of suspicion applied to patriarchal marriage', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(3), Art #1104, 5. https://doi.org/10.4102/hts.v67i3.1104 [ Links ]
Fedler, K.D., 2006, Exploring Christian Ethics, Biblical foundations for morality, Westminster John Knox Press, Louisville, KY. [ Links ]
Fletcher, J.F., 1966, Situation Ethics, The new morality, Westminster, Philadelphia, PA. [ Links ]
Floor, L. & Viljoen, F., 2002, 'Die Christus-himne in Fillippense: Soteriologies en Eties', In die Skriflig 36(1), 91-104. [ Links ]
Gadamer, H., 1979, Truth and method, transl. G. Brodin & J. Cumming (eds.), Seabury, New York, NY. [ Links ]
Geisler, N.L., 2020, Christian Ethics, Contemporary Issues and Options, Baker Academic, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Goede, H. & Vorster, N., 2022, Christian Hermeneutics in South Africa, vol. 8, Reformed Theology in South Africa Series, AOSIS, Cape Town. [ Links ]
Goldingay, J., 2018, 'The two Testaments as an ethical resource', in V. Rabens, J. Grey & M. Kamell Kovalishyn (eds.), New approaches to biblical ethics, Brill, Leiden. [ Links ]
Grondin, J., 2016, 'What is the hermeneutical circle?', in N. Keane & C. Lawn (eds.), The Blackwell Companion to Hermeneutics pp. 299-305. Blackwell, Oxford. [ Links ]
Guthrie, D., 1970, New Testament introduction, Tyndale Press, London. [ Links ]
Harrison, R.K., 1970, Introduction to the Old Testament, Tyndale Press, London. [ Links ]
Hays, R.B., 1997, The moral vision of the New Testament: Community, cross, new creation: A contemporary introduction to New Testament ethics, T&T Clark, Edinburgh. [ Links ]
Kaiser, W.C., & Silva, M., 1992, An Introduction Biblical Hermeneutics, Zondervan, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Kelsey, D.H., 2009, Eccentric existence, a theological anthropology, vol. 1, Westminster John Knox Press, Louisville, KY. [ Links ]
Küng, H., 1992, The Church, Burns & Oates, Kent. [ Links ]
Kuyper, A., 1898, Calvinism: Six stone lectures, T& T Clark, Edinburgh. [ Links ]
Long, P., Longman, T., Muller, R.A., Poytress, V.S. & Silva, M. (eds.), 1996, Foundations of contemporary interpretation, Zondervan, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Lyotard, J.F., 1991, The post-modern condition: A report on knowledge, Manchester University Press, Manchester. [ Links ]
McCormick, R.A. & Ramsey, P., 1978, Doing evil to achieve good, Loyola University Press, Chicago, IL. [ Links ]
McGrath, A.E., 1997, Christian Theology, An Introduction, Blackwell Publishers, Oxford. [ Links ]
Moltmann, J., 1965, Theologie der Hoffnung, Untersuchungen und Bergründung und zu den Konquenzen eiener Christliche Eschatologie, Chr. Kaiser Verlag, Munchen. [ Links ]
Moltmann, J., 1999, 'Theologia Reformata et Semper Reformanda,' in D. Willis & M. Welker (eds), Towards the future of Reformed theology: tasks, topics, traditions, pp. 120-135, Eerdmans, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Müller, J.J., 1955, The Epistle of paul to the Philippians and to Filemon, Eerdmans, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Nullens, P., 2017, 'Schriftgezag op het speelveld van de hermeneutische ethiek', In die Skriflig 51(3), a2138. https://doi.org/10.4102/ids.v51i3.213 [ Links ]
Osborne, G.R., 2006, The hermeneutical spiral: A comprehensive introduction to Biblical interpretation, IVP Academic, Downers Grove, IL. [ Links ]
Peels, H.G.L., 1996, 'Het Woord is leven - Over de Heilige Schrift', in G. Van den Brink, M. Van Campen & J. Van den Graaf (eds.), Gegrond geloof: Kernpunten uit de geloofsleer in bijbels, historisch en belijdend perspectief, pp. 52-92, Uitgeverij Boekencentrum, Zoetermeer. [ Links ]
Pieterse, A.C., 2015, 'Ecclesia Reformata semper Reformanda: A convergent approach to science and theology may reinforce Scriptural authority', Verbum et Ecclesia 36(1), Art. #1420, 12 pages. https://doi.org/10.4102/ve.v36i1.1420 [ Links ]
Potgieter, P.C., 1990, Skrif, dogma, & verkondiging, Nasionale Boedrukkery, Kaapstad. [ Links ]
Rabens, V., 2017, 'The Bible and ethics: Pathways for dialogue', In die Skriflig 51(3), a2138. https://doi.org/10.4102/ids.v51i3.2246 [ Links ]
Rabens, V., Grey, J. & Kamell Kovalishyn, M. (eds.), 2018, New approaches to biblical ethics, Brill, Leiden. [ Links ]
Reuman, J., 2005, 'Salvation history', in E. Fahlbusch, J.M. Lochmann, J. Mbiti, J. Pelikan, I. Vischer, G.W. Bromeley, et al. (eds.), The Encyclopaedia of Christianity, vol. 4, pp. 832-836, Brill, Leiden. [ Links ]
Ricoeur, P., 1981, Essays on biblical interpretation, transl. L.S. Mudge (ed.), SPCK, London. [ Links ]
Ritschl, D., 1999, 'Biblicism', in E. Fahlbusch, J.M. Lochmann, J. Mbiti, J. Pelikan, I. Vischer, G.W. Bromeley, >et al. (eds.), The Encyclopedia of Christianity, vol. 1, pp. 255-256, Brill, Leiden. [ Links ]
Silva, M., 1996, 'God, language and scripture', in V.P. Long, T. Longman, R.A. Muller, V.S. Poytress & M. Silva (eds.), Foundations of contemporary interpretation, pp. 197-286, Zondervan, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Spykman, G.J., 1995, Reformational theology: A new paradigm for doing dogmatics, Eerdmans, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Thielecke, H., 1966, Theological Ethics, vol. 1, Adam and Charles Black, London. [ Links ]
Ulrich, H.G., 1999, 'Adiaphora', in E. Fahlbusch, J.M. Lochmann, J. Mbiti, J. Pelikan, I. Vischer, G.W. Bromeley, et al. (eds.), The Encyclopedia of Christianity, vol. 1, pp. 16-17, Brill, Leiden. [ Links ]
Van der Belt, H., 2006, 'Autopistia: The self-convincing authority of scripture in reformed theology', PhD thesis, Faculty of Theology, Leiden University. [ Links ]
Van der Kooi, C. & Van den Brink, G., 2017, Christian dogmatics: An introduction, transl. R. Bruinsma & J.D. Bratt, Eerdmans, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Van der Watt, J.G. (ed.), 2006, Identity, ethics, and ethos in the New Testament, De Gruyter, Berlin/New York, NY. [ Links ]
Van Huysteen, J.W., 2008, 'Ethics and Christology - Rediscovering Jesus in Evolutionary History', Verbum et Ecclesia 29(2), 492-506. https://doi.org/10.4102/ve.v29i2.45 [ Links ]
Van Wyk, J.H., 2001, Etiek en eksistensie in koninkryksperspektief, Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom. [ Links ]
Vergeer, W.C., 2020, 'Die impak van die teologie van Dirk Postma op die Gereformeerde Hermeneutiek', In die Skriflig 54(2), a2563. https://doi.org/10.4102/ids.v54i2.2563 [ Links ]
Vorster, J.M., 2007, Christian attitude in the South African Liberal Democracy, Potchefstroom Teologiese Publikasies, Potchefstroom. [ Links ]
Vorster, J.M., 2013, 'Was Phineas a religious terrorist, In dialogue with Paul Cliteur', NGTT 54(1 & 2), 244-253. [ Links ]
Vorster, J.M., 2014, Christelike etiek in 'n sekulariserende samelewing, AOSIS, Kaapstad. [ Links ]
Vorster, J.M., 2015, 'Die Christelike huwelik - 'n sosiale konstruk of 'n verbondsgegewe?', In die Skriflig 49(2), Art. #1957, 10 pages. https://doi.org/10.4102/ids.v49i2.1957 [ Links ]
Vorster, J.M., 2020, 'Still plausible and intelligible? Towards a hermeneutic of congruent biblical theology for today', Scriptura 119(3), 1-14. https://doi.org/10.7833/119-3-1771 [ Links ]
Vorster, J.M., 2021, The Gift of Life, Towards an ethic of flourishing personhood, AOSIS, Cape Town. [ Links ]
Vriezen, T.C., 1966, Hoofdlijnen der Theologie van het Oude Testament, Veenman, Wageningen. [ Links ]
Westermann, C., 1973, Forschung am Alten Testaments: Gesammelte Studien, Band 2, Christliche Kaiser Verlag, München. [ Links ]
Yuichi Shionoya, Y., 2010, 'Hermeneutics and the Heidegger - Schumpeter Theses', The American Journal of Economics and Sociology 69(1), 188-202. https://doi.org/10.1111/j.1536-7150.2009.00702.x [ Links ]
Correspondence:
Koos Vorster
koos.vorster@nwu.ac.za
Received: 26 Mar. 2025
Accepted: 26 May 2025
Published: 10 July 2025
1 . Hierdie outeur het in 'n onlangse publikasie gewys op die toenemende invloed van Westerse sekularisme op die Suid-Afrikaanse samelewing en die druk wat dit plaas op Christelike etiek en spesifiek die rol wat bybelse sienings oor sosiale moraliteit in hierdie proses kan speel. Aandag word gegee aan 'n eietydse hermeneutiek vir Christelike etiek met verwysing na die relevansie van die natuurreg, die openbaring van God in die geskrewe Woord en 'n Christologie met klem op die transformerende Christus. Voorts word dan gewys op die transformerende betekenis van die dekaloog en die liefdesgebod (kyk Vorster 2014). In hierdie artikel word die argumente verder geneem en gepoog om 'n geloofwaardige Christelike metateorie verder te ontwikkel in antwoord op die sekularisering van Christelike etiek.
2 . Verskeie gesaghebbende outeurs het oor die afgelope drie dekades goeie bydraes in hierdie verband gelewer en aangetoon hoe etiek en hermeneutiek beredeneer kan word ten einde 'n geloofwaardige Skrifberoep vir moderne etiese problematiek aan te bied. In hierdie opsig kan verwys word na die bundel deeglike nagevorsde artikels onder redakteurskap van Van der Watt (2006) en die bydraes van onder andere Hays (1997), Nullens (2017), Rabens (2017), Rabens, Grey & Kamell Kovalishyn (eds. 2018). Sien veral die bydrae van Goldingay (2018). Hierdie outeur gee erkenning daaraan en wil vanuit 'n ander vertrekpunt 'n addisionele bydrae maak.
3 . Beeke en Ferguson (1999) het 'n baie bruikbare sinopsis van hierdie belydenisskrifte opgestel waarmee die kernsake van elke afdeling van die Gereformeerde belydenisskrifte tabelmatig uitgelig word. Hulle bydrae is 'n goeie hulpmiddel om die konfessionele begronding van Christelike etiek vanuit 'n klassiek gereformeerde gesigspunt aan te wys.
4 . Die bedoeling van hierdie deel is om op 'n kursoriese maar wel 'n tetiese wyse, die rol wat Skrifverstaan in die Klassieke Gereformeerde etiek, speel aan te dui. Daar word nie ingegaan op die veel besproke argumente van die historiese kritiek of die historiese paradigmas rakende Skrifverstaan en Skrifberoep nie. Goeie inligting in hierdie verband word gegee deur Kaiser en Silva, (1992) en Mc Grath (1997:181-235)
5 . In hierdie artikel word nie verder ingegaan op die debat oor die eenheid van die Skrif nie, want hierdie outeur het dit reeds gedoen in ander skrywes (Vorster 2020:1-14; 2021:7-11). Die leser wat vir verdere ondersoek daarin belangstel, kan die werk van Long, Longman, Muller, Poytress en Silva (eds. 1996) lees en kennis neem van die bronne waarna in hulle werk verwys word.
6 . Vir 'n reaksie op die publikasie van Cliteur (2010) kyk Vorster (2013:244-253).
7 . Hierdie outeur het in 2007 'n publikasie die lig laat sien wat handel oor hoe die gesindheid van Christus konkreet vergestalt kan word in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Liberale demokrasie. Vir 'n uitgebreide studie oor die himne van Filippense 2:5-11 (kyk Vorster 2007:13 e.v.) en veral die bronne wat daarin behandel word.












