SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.91 número1A practical explanation of ethics as a good corporate governance principle in South Africa and New Zealand - A case studyHIV and me: The perception of children aged 10-12 living with HIV, and their expectations for adulthood índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Journal

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Koers

    versão On-line ISSN 2304-8557versão impressa ISSN 0023-270X

    Koers (Online) vol.91 no.1 Pretoria  2026

    https://doi.org/10.19108/KOERS.91.1.2630 

    ORIGINAL RESEARCH

     

    Die Heidelbergse Kategismus as 'n Geloofsbelydenis en die Voortrekker-Gelofte van 1838: Die toespraak van Paul Kruger op 16 Desember 1886

     

    The Heidelberg Catechism as a confession of faith and the Voortrekker Covenant of 1838: The speech of Paul Kruger on 16 December 1886

     

     

    Piet J. Strauss

    Navorsingsgenoot. Departement van Historiese en Konstruktiewe Teologie, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Suid-Afrika. https://orcid.org/0000-0002-5324-8363

    Correspondence

     

     


    ABSTRACT

    Various sources believe that the correct commemoration today of the Covenant of 16 December 1838 in Natal by the Voortrekkers should be a Christian and religious event: a religious event as part of life in its entirety, aimed at the honour of God. President Paul Kruger - the last president of the Boer Republic in the old Transvaal (1883-1900), namely the South African Republic (Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR)) was a supporter of this conviction about the covenant's consequences.
    He started his speech on 16 December 1886 at Paardekraal, Krugersdorp, with a reference to question 1 in the Heidelberg Catechism. He urged his audience, as Christian believers or Christian Afrikaners who normally commemorate the Vow, to dedicate their lives as a whole as an answer in obedience to their redemption in Christ.
    Kruger saw the reformed confessions of the church of which he was a member as beliefs that influenced life in its totality. In his 1886 speech, he also addressed problems in his republic. However, he appealed to his people to behave as Christian citizens of this republic. This view of Kruger is supported to this day by many Christian Afrikaners and Afrikaner institutions.


    OPSOMMING

    Verskeie bronne huldig die oortuiging dat die korrekte viering vandag van die Gelofte van 16 Desember 1838 in Natal deur die Voortrekkers 'n Christelike en godsdienstige gebeurtenis behoort te wees: 'n godsdienstige gebeurtenis as deel van die lewe in sy geheel, wat op die eer van God gerig is. President Paul Kruger - die laaste president van die Boererepubliek in die ou Transvaal (1883-1900), oftewel die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) - was 'n voorstander van hierdie oortuiging oor die gevolge van die verbond.
    Hy het sy toespraak op 16 Desember 1886 by Paardekraal, Krugersdorp, begin met 'n verwysing na vraag 1 in die Heidelbergse Kategismus. Hy het sy gehoor, as Christelike gelowiges of Christelike Afrikaners wat in die reël die Gelofte herdenk, aangespoor om hul lewens in geheel aan God toe te wy as 'n antwoord in gehoorsaamheid aan hul verlossing in Christus.
    Kruger het die gereformeerde belydenisse van die kerk waarvan hy 'n lid was, beskou as oortuigings wat die lewe in totaliteit beïnvloed. In sy toespraak van 1886 het hy ook daadwerklik op probleme in sy republiek gewys. Hy het egter sy mense aangespoor om as Christelike burgers van hierdie republiek op te tree. Hierdie siening van Kruger word tot vandag toe deur baie Christelike Afrikaners en Afrikaner-instellings ondersteun.


     

     

    1. Inleiding

    Stephanus Johannes Paulus Kruger (Krüger, 1976:464) was 'n simbool van die Boere of Afrikaners van die 19de eeu. Kruger was van 1883-1900 die staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), oftewel die Transvaal (die ZAR van 1852-1902). Jan Smuts, wat as staatsprokureur onder Kruger in die ZAR gedien het, skryf ná die president se afsterwe op 14 Julie 1904 in Clarens, Switserland, aan Emily Hobhouse: "He typified the Boer character both in its brighter and darker aspects and was no doubt the greatest man - both morally and intellectually - which the Boer race has so far produced." (Bergh, 2017:7)

    Op 10 Oktober 1925, 'n eeu later, voeg dieselfde Jan Smuts in 'n toespraak ter herdenking van Kruger se geboortedag die volgende by:

    Sy edelheid en reinheid was nie maar uiterlik nie, maar ... gewortel in die diepe onsienlike diens van die verlede. Paul Kruger was 'n mistikus, sy innerlike lewe was met God in alle opregtheid en nederigheid en sy uiterlike handeling was slegs die uitdrukking van daardie dieper sielslewe. 'n Reiner, opregter, eerliker karakter het ek nooit in my lewe ontmoet nie. (Bergh, 2017:7-8)

    Die bekende Kaapse politikus JH Hofmeyr (alombekend as "Onze Jan"), wat soms van Kruger verskil het, noem hom "one of South Africa's greatest sons" (Bergh, 2017:8). 'n Biograaf van Paul Kruger, DW Kruger, stel dit soos volg: "As 'n Boer was hy 'n tipe van sy tyd en hy bly vir sy eie volk ... een van die grootste Afrikaners van alle tye." Kruger word in die laaste dekades van die 19de eeu 'n kampvegter vir die Afrikaner en 'n simbool van sy volk se "hardnekkige eksklusiwiteit" (Krüger, 1976:475).

    Die vrae wat in hierdie artikel gevra word, is die volgende: Hoe het Kruger as 'n Boer of erkende Afrikaner na die Gelofte by die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 gekyk, en watter voorbeelde het hy nagelaat van hoe 'n herdenking van die Gelofte ingeklee behoort te word? Geloftefeeste wat op die Gelofte van 1838 gerig is, is juis bekend as Afrikanerfeeste (Froneman, 2015:126, 129; Grobler, 2007:215). Die werk van JS Bergh (2017) en JS du Plessis (s.a.) dien as primêre bronne in dié verband. Daar is ook heelwat oor Paul Kruger geskryf, wat verdere insigte bied en die vergelyking van verdere gevolgtrekkings moontlik maak.

     

    2. Paul Kruger: 'n Eenvoudige en bekwame gelowige

    Ingevolge artikel 8A van die Dordtse Kerkorde verkry Paul Kruger in die destydse Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) die bevoegdheid om as predikant op te tree. Dié bevoegdheid wat aan hom verleen is, dien as illustrasie van Kruger se bekwaamheid as leier en sy vermoë om konsekwent Christelik vanweë sy opvoeding, agtergrond en kerklike betrokkenheid te leef. Na aanleiding van sy geskiktheid wat in kerkverband getoets is, kon hy hierna die amp van 'n bedienaar van die Woord sonder enige formele teologiese opleiding in gereformeerde gemeentes beklee (vgl. Kruger, Du Plessis & Spoelstra, 1966:82). As 'n deurwinterde gereformeerde het Kruger oor 'n bogemiddelde kennis van die Heilige Skrif en die Drie Formuliere van Eenheid as gereformeerde belydenisse beskik. Die Drie Formuliere is 'n formulering van die eenheid van die gereformeerde geloof in die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls. Dit gaan in hierdie geval om kennis wat Kruger uit die hoof in preke, redevoerings en kerklike debatte kon oproep. Du Plessis verwys na De Vos Hugo wat vertel van die "genadewerking van Gods Gees in die hart van hierdie eenvoudige man" en die "dapperheid van 'n ongeletterde man" om hom in "'n verligte eeu" as 'n selfstandige denker tussen geleerde regters en staatslui te onderskei (De Vos Hugo in Du Plessis, s.a.:151).

    Talle voorbeelde staaf Hugo se opmerking. Naas ander sake wat daagliks op die agenda van die Volksraad van die ZAR voorgekom het, is daar ten minste twee sake wat die president se insig, skerpte en woordvaardigheid sou toets. Die eerste saak vir Paul Kruger, wat slegs drie maande lank skoolgegaan het, is sy poging om 'n universiteit (naskoolse opleiding) in die ZAR te vestig sodat die "toekomstige voormanne van ons volk" die "Heer mag vrees en liefhê" (Kruger aan Kuyper 5:02:1891, vgl. in Bergh, 2017:158-160; 195). Hiervoor het hy professore uit Christelike Nederland gesoek wat vir die studente 'n voorbeeld kon wees.

    Sy besluit hieroor is sigbaar in korrespondensie met Abraham Kuyper van die Vrije Universiteit in Amsterdam. Die Vrije Universiteit was 'n universiteit met 'n uitgesproke Christelike karakter, en Kuyper was 'n medestigter en leier van neo-Calvinistiese gereformeerdes in Nederland (Strauss, 2008:634). Kruger het waarskynlik ook uit Kuyper se insigte geput. In 'n beleidstuk van Kuyper se Antirevolutionêre Party uit 1879, Ons programma, bely Kuyper, soos Kruger kort daarna, die "ewige beginsels van Gods Woord" op alle lewensterreine (Du Plessis, s.a.:118). Daarmee ploeg die Boerpresident met Kuyper se neo-Calvinistiese kalwers. Hy soek hierdeur ook aansluiting by gereformeerdes in Nederland wat bande met die Dordtse Sinode van 1618-1619 gehad het. In dié opsig staan hulle in dieselfde kerklike tradisie as die Doppers, en hulle soek ook as skakel vir die stigting van 'n Christelike universiteit in die ZAR dien. In die tweede saak ontslaan president Kruger vir hoofregter JG Kotzé in Februarie 1898 per brief vanweë die regter se houding oor sy gesag en bevoegdheid as regter ten koste van die gesag van die Volksraad (Bergh, 2017:413). Dit kom voor asof die president in beide gevalle homself handhaaf en nie sy agting en respek in die lig van sy beeld as 'n bekwame staatshoof inboet nie.

    Teen hierdie agtergrond raak 'n besluit van die Volksraad van die ZAR oor die herdenking van die Gelofte van 1838 Paul Kruger direk. Ná die Eerste Vryheidsoorlog teen Brittanje (1880-1881) besluit die Volksraad in Julie 1883 dat die Gelofte van 16 Desember 1838 elke vyf jaar deur 'n gesamentlike fees in die ZAR herdenk sal word. In Julie 1883 was die Gelofte van 1838 én die Slag van Majuba op 27 Februarie 1881 as die einde van die Eerste Vryheidsoorlog vir onafhanklike burgers van die ZAR ou nuus. Die gesamentlike fees sou onderskeidelik op 16 Desember 1886, 1891 en 1896 by Paardekraal gehou word. Hiervoor is president Kruger as spreker genader. Volgens hierdie staatshoof was die doel van die fees "om mekaar ... te herinner aan ons geloftes ... dit bekend te maak aan ons kinders en kindskinders sodat die herinnering aan dié dag by die nageslag lewendig sou bly ..." (Du Plessis, s.a.:32, 44, 49, 56, 83, 93, 132; Bergh, 2017:98, 100, 221, 382). Die Volksraad het Paardekraal gekies as plek vir die gesamentlike feeste moontlik weens die volgende rede: Dit was dieselfde plek waar die Boere in 1880 kort voor die Eerste Vryheidsoorlog die herstel van die onafhanklikheid van die ZAR afgebid het, prinsipieel op dieselfde basis as die van die Gelofte van 1838. In 1880 het die Boere verklaar dat hulle nie sou rus voordat die Here - wat die onafhanklikheid van die Transvaal aan die Boere geskenk het - dit ná die Britse anneksasie in April 1877 sou herstel nie (Grobler, 1980:105).

     

    3. 'n Kortlikse beskrywing van die Gelofte van 1838

    Om die houding van Paul Kruger oor Geloftefees na aanleiding van die gebeure in Natal op 16 Desember 1838 en sy inkleding daarvan as spreker by Paardekraal op 1886, 1891 en 1896 te beoordeel, is 'n verantwoordde standpunt van historiese en prinsipiële faktore nodig. Die skrywer hiervan se standpunt oor die Gelofte van 1838 is elders uitvoerig gestel en gemotiveer. Van Jaarsveld gaan onsorgvuldig en slordig met Sarel Cilliers se weergawe om. Cilliers se verhaal praat van 'n gelofte in gebed want juis deur gebed praat jy met God. As 'n ouderling van formaat het hy dit geweet (Strauss, 2024:821-824). Die standpunt sluit aan by die besluit van die Algemene Sinode van 1990 van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) oor dié saak. Hierdie besluit is geneem in die aandskemer van apartheid met 'n aanvoeling vir die bedeling wat ná 1994 in Suid-Afrika sou intree én in die lig van die gevolge wat dit vir 16 Desember as 'n jaarlikse feesgeleentheid sou inhou (Strauss, 1994; 2001; 2021)1.

    Die drie sake wat in die Gelofte van 1838 aan die Here belowe is en sy antwoord daarop staan sentraal in die viering van hierdie Gelofte. Dit spreek vanself dat die inhoud van 'n gelofte wat aan die Here gedoen is met die betrokkenes se redes vir die gelofte én sy gevraagde antwoord daarop, die fees of herdenking van die gelofte bepaal. Dit is des te meer die geval as die beloftes in die gelofte die aard van die viering insluit en aan die Here met die aflegging van die gelofte oorgedra word.2 Volgens Cilliers in breë teksverband vind die aflegging deurgaans in 'n gebed of 'n direkte aanspreking van die Here plaas. By die ongegronde kritiek wat op Cilliers gelewer is, kyk ons ook na die Gelofte van 1838 wat in 'n gebedsvorm afgelê is.

    Die drie gesaghebbendste bronne oor die aard en inhoud van die Gelofte van 1838 is waarskynlik die een van Cilliers: Die eerste aflegging hiervan het op Sondag 9 Desember 1838 by Wasbank plaasgevind, en in 1876 is dit in Cilliers se joernaal gepubliseer. Vergelyk Cilliers volledig in Gerdener (1925:112-132), asook Andries Pretorius as bevelvoerder van die Wenkommando by Bloedrivier in 'n brief op 23 Desember 1838 aan die bestaande TrekkerVolksraad in Pietermaritzburg3 en Jan Bantjes as sekretaris van Pretorius én die Wenkommando met sy joernaal oor die tog, wat Bloedrivier insluit, van die kommando.4 Hierdie drie manne was na aan die bevel van die Wenkommando en was goed ingelig oor die besonderhede van sy bewegings. Daarby skryf beide Pretorius en Bantjes met vars geheues kort ná die aflegging van die Gelofte. Die Gelofte van 1838 was, volgens alle aanduidings, 'n hoogtepunt in Cilliers se lewe sodat hy die essensie daarvan goed onthou het. As hierdie drie bronne dus oor 'n stelling oor die Gelofte van 1838 saamstem, moet dit waar of naby daaraan wees (Strauss, 2001:821-822, 832-834).

     

    4. Die aard van die Gelofte van 1838

    4.1 Die mees gesaghebbende bronne

    Vir die aard van die herdenking van die Gelofte van 1838 gebruik die drie eksponente verskillende woorde. Cilliers praat in sy voorafverduideliking op 9 Desember in sy joernaal wat in 1876 verskyn oor hierdie gebeurtenis soos wat hy dit onthou. (Hierdie voorafverduideliking is woordeliks in Gerdener, 1925:112-132 opgeneem en is deur WS van Ryneveld gewaarmerk, naamlik dat hulle dit "als een verjaardag en een dankdag zoals een Sabbat in Zijn eer zal doorbrengen".) Daarmee proklameer hy nie 'n ekstra Sondag elke jaar buite die beskikking van die Here nie. Hy "speel" nie 'n skeppingsgod nie, maar dui eerder hiermee aan in watter gees die fees of herdenking moet plaasvind. Hierdeur verkry Geloftedag dieselfde status as kerklike feesdae soos Goeie Vrydag en Kersdag. Dit gaan egter nie hier oor 'n mensgemaakte ekstra Sondag nie, maar 'n vrywillige viering in die gees van 'n Sondag of, soos Cilliers dit in die term van die tyd stel, 'n sabbat,5 'n soort viering waarmee gelowiges hulle kan vereenselwig. Hierdie weergawe van die teks is sedertdien wyd aanvaar en benut. Die Afrikaanse bewoording van WEG Louw is op 7 Februarie 1962 deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vir gebruik by feeste aanvaar. Op sy beurt praat Pretorius van 'n dag wat aan die Here gewy en met danksegginge gevier word (Strauss, 2001:827). Bantjes maak gewag van 'n dag wat tot eer van die Here gevier word en Cilliers, naas sy "zoals een Sabbat", verwys na 'n "verjaar- en dankdag", asook 'n "bid- en gedenkdag" (Strauss, 2001:827-828).

    4.2 Primêr: 'n Gelofte met 'n godsdienstige karakter

    'n Semantiese ontleding van dié drie tekste toon dat hulle woorde rakende die aard van waarom die Geloftefees gaan, verskil. Hulle standpunte oor die saak uit 'n kerklik-godsdienstige of kerkhistoriese hoek stem egter ooreen. In al drie die tekste word die Gelofte van 1838 en die aard daarvan as primêr godsdienstig of as diens wat aan God gerig is, bestempel. Ons kom later terug na Paul Kruger se instemming hiermee. Boonop kom die Algemene Sinode van 1990 van die NG Kerk óók tot die slotsom dat 'n fees rondom die Gelofte van 1838 'n godsdienstige fees moet wees of dat die godsdienstige aspek in die viering daarvan - let wel - voorrang moet geniet (NG Kerk, 1990:560-561).

    Skerp kritiek teen Cilliers kom van die historikus FA van Jaarsveld. Sy kritiek gaan nie oor die aard van Geloftefees of dit wat van die Here afgebid is nie, maar hoe betroubaar Cilliers se teks van die Gelofte van 1838 vir 'n gebruik op feeste is. Van Jaarsveld se lees en vertolk van Cilliers is self egter nie betroubaar nie. Hierdie toestand spruit waarskynlik uit die feit dat hierdie historikus die Voortrekker en sy godsdienstige omgewing nie goed verstaan of geag het nie. Van Jaarsveld het dit teen die gedagte dat Cilliers se weergawe van die Gelofte van 1838 met "Myne broeders en medelandgenoten ..." begin, terwyl geloftes aan God deur gereformeerdes gewoonlik in gebed of direk aan die Here self afgelê is, 'n gebruik wat deur beide Pretorius en Bantjes beaam word. Van Jaarsveld (1979:48) noem Cilliers se teks 'n "onbetroubare herinneringstuk". Volgens hom spreek Cilliers nie die Here in gebed aan nie, maar sy landgenote. Uit die drie weergawes wat genoem is, is Cilliers ook die enigste een wat na "zoals een Sabbat" verwys. In hierdie verband toon Van Jaarsveld aan dat Cilliers se weergawe wat op sy geheue gebaseer is op losse skroewe staan (Van Jaarsveld, 1979:48; Snyman & Barnard, 1992:118).

    Ons het egter daarop gewys dat Cilliers hierin praat van dit wat in hierdie stuk uit sy eie verhaal aangehaal word, naamlik die Gelofte van 1838 wat in 'n gebed afgelê is. Daarom dat Cilliers die Wenkommando by die eerste aflegging op 9 Desember 1838 by Wasbank meedeel dat hulle hier voor die God van hemel en aarde bymekaar is "om een belofte aan Hem te beloven". Selfs historici moet erken dat iemand direk met die Here moet praat - wat anders as deur 'n gebed? - as hulle aan hom persoonlik 'n belofte wil doen.

    Cilliers (volledig in Gerdener 1925:122) voer in sy joernaal aan dat hy die Wenkommando eers oor die erns en inhoud van die Gelofte ingelig het: "hier staan wij thans voor een heilige God van hemel en aarde om een belofte aan Hem te beloven." Daarna het hy 'n beroep op hulle gedoen om met hom te deel in die openbare gebed wat hy sou doen. Toe het hy sy hande na die hemel opgehef om te bid "in de naam van ons allen" (vgl. die standbeeld van Cilliers wat die aflegging van die Gelofte van 1838 voor NG Kerk Kroonstad voorstel). Hierdie sinsnede kom ooreen met sy woorde 'n bladsy vroeër. Hier sê hy dat daar besluit is dat hy sal voorgaan by die aflegging van die Gelofte teenoor die Here "in de naam van allen ...". (Cilliers in Gerdener, 1925:122).

    Weer impliseer Cilliers se bewoording 'n direkte aanspreking van die Here of 'n gebed. Die Gelofte van 1838 is volgens hom verder "elk avond" in 'n gebed bevestig by die drie plekke in die laer waar godsdiens gehou is (Cilliers in Gerdener, 1925:122).

    Verder vertel Cilliers dat hy die aand ná die Slag op 16 Desember 1838 sommige Trekkers moes maan teen menslike selfverheffing na "de belofte in onze gebeden aan onze Heer" én die - gevolglike - oorwinning oor Dingaan se impi's (Cilliers in Gerdener, 1925:125). Dat die Gelofte van 1838 in 'n gebed afgelê is, bevestig Cilliers opnuut in 'n brief aan dominee Van Broekhuizen van Kroonstad6 op 14 Februarie 1866 (De Jongh, 1987:32) waarin hy meld dat die Gelofte in 'n gebed afgelê is. Andries Pretorius sowel as Jan Bantjes vertel dat die Gelofte van 1838 in 'n gebed aan die Here gedoen is (Strauss, 2001: 823).

    4.3 Twee ander gekoppelde beloftes

    Die Gelofte van 1838 deur die emigrante-Boere is dus in 'n gebed gedoen. Dit word gestaaf deur die belangrikste bronne. 'n Teks met die bewoording by die eerste aflegging het nie bewaar gebly nie en is skynbaar ook nie neergepen en vir algemene gebruik verskaf nie. Wat die aard van hierdie fees moet wees, moet daarom afgelei word uit woorde wat in die drie gesaghebbendste bronne gebruik is. Dit is 'n dag met 'n Sondagkarakter of "zoals een Sabbat"; 'n godsdienstige feesdag; 'n dank- en biddag; 'n dag wat aan die Here met godsdienstige aktiwiteite gewy word; 'n dag wat tot eer van die Here gevier word; en 'n dag waarin hulle wat met die fees assosieer juis belowe om hulle volle lewe vir die Here te gee of om dit op 'n godsdienstige wyse aan die Here te wy (Strauss, 2001:821-831).

    Deur 'n kerk in die middelpunt van 'n nuwe gemeenskap in Natal te vestig waarin alles op die eer van God gerig word, of deur die nuwe gemeenskap rondom 'n kerk te vestig, word die uitleg van die nuwe woonplek, stad of dorp in sy geheel gekoppel aan die eer van God. Die kerk as die middelpunt van die gemeenskap wat die emigrante-Boere in 1838 beoog het, simboliseer dat hierdie gemeenskap in alles wat hulle doen op die eer van God gerig is. Hierdie uitleg is ook 'n simbool in ouer stede en dorpe in Suider-Afrika wat uit 'n Voortrekkerinisiatief of die gereformeerde tradisie ontstaan het.

    In hierdie gemeenskap is 'n kerk die middelpunt met 'n toring wat na bo wys, wat simbolies daarop dui dat die kerk op die eer van God van hemel en aarde - soos Cilliers dit in sy weergawe van die Gelofte van 1838 uitdruk - gerig is. Jan Bantjes se uitbeelding van 'n dag waarop God geëer word, weerspieël elemente van die neo-Calvinistiese tradisie in Nederland, waarin die hele lewe op die eer van God gerig is. Om voorbeelde hiervan te noem: In hierdie tradisie word die ware kerk gekenmerk deur die Bybelse geloof, die staatsoverheid deur die najaging van geregtigheid aan alle mense in sowel die binne- as die buiteland, en die huwelik en gesin deur liefde en trou (Strauss, 2010:125-130.) Hierdie gevolg uit die Gelofte van 1838 impliseer dat die vestiging van die emigrante-Boeregemeenskap in Natal in die visier van die Gelofte van 1838 was en dat dit nie vergeet is nie.

    Die aard van die jaarlikse viering van die Gelofte van 16 Desember 1838 is ook gekoppel aan twee ander sake wat aan die Here belowe is. Afgesien daarvan dat die dag met 'n godsdienstige klem gevier word, belowe die Voortrekkerkommando aan die Here in 'n destyds ontwikkelde Natal - in Westerse terme - dat hulle vir Hom 'n huis of 'n kerk sal bou waar dit Hom behaag. Verder belowe hulle ook dat hulle die viering van die dag aan "onzen kinderen zal zeggen, dat zij met ons erin moeten delen, tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten" (Strauss, 2001:828-831). Anders gestel: Hulle belowe ook die bou van 'n fisiese kerk in hul soms wilde, ongetemde land en die betrekking van die nageslag, wat by die beveiliging van die bestaan van hul voorouers sal baat, by die Gelofte van 1838 se onderhouding.

    Uit die Gelofte van 1838 blyk dit dat daar na die toekoms van die gemeenskap omgesien word, aangesien daar belowe word om 'n kerk vir 'n belydende Christelike gemeenskap te bou. Dit word aangevul deur die nageslag uit eie wil of oortuiging7 by die saak te betrek (Cilliers in Gerdener, 1925:68). Anders gestel: As die saak waarom dit gaan ons nageslag oortuig, wil ons hulle ook by die herdenking van die Gelofte van 1838 betrek. Ons doen dit op goeie gronde as ons, en hulle, ons in alles aan die enigste God van hemel en aarde wy. Kortweg is dit ook wat die Gelofte van 1838 impliseer: om ons in alles met ons hele lewe aan God te wy. So iets vra van ons en ons nageslag 'n gemeenskaplike geloof en 'n geslag op geslag se oorgawe aan gehoorsaamheid in die volle lewe aan die God van hemel en aarde - om die sprekende term van Cilliers te gebruik.

    Dit is teen hierdie agtergrond dat staatspresident Paul Kruger genader is om by die gesamentlike Geloftefees van die ZAR te Paardekraal in die laaste twee dekades van die 19de eeu op te tree. Die vraag is: Hoe het hy as 'n leidende Afrikaner aan 'n fees van die Gelofte van 1838 beslag gegee? Hoe het hy sy toespraak by hierdie geleenthede ingeklee? As gevolg van die omvang van hierdie redes word daar op sy toespraak van 16 Desember 1886 gekonsentreer.

    4.4 Binding?

    Deur "onzen kinderen" en "opkomende geslachten" (Cilliers in Gerdener, 1925:68) te noem, bring Cilliers se weergawe van die Gelofte van 1838 die immergroen vraag na vore: Hoe is buitestaanders wat nie in die Wenkommando van Desember 1838 was nie by die herdenking van die Gelofte van 1838 betrek? Interessant genoeg is daar niks in die bewoording van die drie belangrikste bronne wat impliseer dat daar sprake was van dwang of dat dit in stryd was met die gewetes van diegene wat by die herdenking betrokke was nie.

    Pretorius wou die Gelofte van 1838 alleen laat aflê "indien allen wel wilden" (Bantjes, 1839:6). Hiermee kies hy prinsipieel dieselfde standpunt as Cilliers wat die Gelofte van 1838 van individuele instemming afhanklik maak. Sowel Cilliers as Pretorius werk dus by die aflegging met die instemming van hulle wat die Gelofte aanvaar, af én wil herdenk. Beide berig dat die Gelofte uiteindelik met "algemeen toestemming" afgelê is (Bantjes, 1839:6; Cilliers in Gerdener, 1925: 66-67). In onlangse tye neem die Algemene Sinode van 1990 van die NG Kerk ook dié standpunt in. Die Sinode noem dit 'n morele binding. Sy kommissie wat die saak voorberei het, oordeel dat "niemand 'n ander mens deur 'n gelofte kan bind nie" (NG Kerk, 1990:116). Slegs hulle wat deur die saak waarvoor die Gelofte staan, aangespreek voel, word (moreel) deur die Gelofte van 1838 bind (NG Kerk, 1990:560).

    Wat in die debat oor die aanvaarding van die Gelofte van 1838 selde aandag kry, is die reëling deur Sarel Cilliers met die Wenkommando, wat hy voor die eerste aflegging daarvan op 9 Desember 1838 deurgegee het. Cilliers het gesê dat hy dit "dadelik aan die begin ... duidelik gemaak het ..." as daar iemand was, wat nie die gelofte wou doen of dit nie later wou hou nie, moes hy hom van hierdie plek (Wasbank) waar die gelofte afgelê word, "verwyder ..." (Cilliers in Gerdener, 1925:66). As motivering het Cilliers Dawid se woorde uit Psalm 50:14 gebruik: "Ik stelde het voor wat David zegt, doet belofte maar betaal zijde Heer, het is beter dat wij niet beloven en niet betaal." (Cilliers in Gerdener, 1925:66-67) Cilliers (in Gerdener, 1925:67) lig egter uit dat niemand hierna van die Wenkommando "weggegaan" of hulself verwyder het nie.

    Ná die aflegging van die Gelofte van 1838 het die aanwesiges uit "een mond" die woord "Amen" ná voorganger Cilliers se gebed herhaal en sodoende hul instemming met die Gelofte in 'n openbare gebed betuig, volgens die voorbeeld van 1 Korintiërs 14:16-17. Hiermee bevestig Cilliers twee kwessies rondom die Gelofte van 1838: Dit het 'n morele binding en dwing nie instemming af nie, én dit is in 'n gebed aan God belowe of afgelê.

    Volgens beginsels vir literêre hermeneutiek moet 'n saak in sy verband gelees en vertolk word en verhelder 'n vergelykende studie van verhalende literatuur of argumente die betekenis van woorde (vgl. Cilliers in Gerdener, 1925:66-67). In hierdie debat het sommige historici - soos uitgewys - hierin gefaal.

     

    5. Paul Kruger

    5.1 Paul Kruger, die Heidelbergse Kategismus, die Gelofte van 1838 en 'n gehoorsame lewe

    Paul Kruger se begrip van die fees van die Gelofte van 16 Desember 1838 blyk uit sy toespraak by Paardekraal op 16 Desember 1886, 1891 en 1896.8 Hoewel hy hierdie fees as 'n godsdienstige fees hanteer, beklemtoon hy dit opnuut in 1896. In hierdie omskrywing bevestig hy die hooflyne van die aard, inhoud en betekenis van die Gelofte van 1838: die belofte om die Here God te dien in alles of volgens die Calvinisties-gereformeerde soli deo gloria te dien.

    My broers en susters, staan daarbij stil dat die fees 'n godsdienstige fees is om God te dien en geen mens nie. Alle menslike roem is uitgesluit [ook roem oor die oorwinning van die emigrante-Boere oor die Zoeloes by Bloedrivier op 16 Desember 1838, PS], want daar wil die [menslike, PS] natuur maar heen. Hier is geen mense- [nie], maar Godsverering (Bergh, 2017:386).

    Wat Kruger met sy opvatting bedoel, is dat die nakoming van die Gelofte van 1838 deel uitmaak van 'n lewe van dankbaarheid aan God vir sy verlossing. Dit vorm die derde deel van die antwoord op vraag 1 van die Heidelbergse Kategismus, wat daarop wys dat die uitlewing van die Gelofte uit 'n hele lewe van gehoorsaamheid aan God spruit. Vir Kruger val die kollig van 16 Desember 1838 daarmee op die eer van die Here en nie op die mens nie. Vir hom lê die godsdienstige inslag van die Gelofte van 1838 in die feit dat alles in die lewe diens aan die God van hemel en aarde (Cilliers se woorde) moet wees. Die lewe in sy geheel moet met sy besonderhede godsdiens of diens aan God wees, in die sigbaar georganiseerde kerk én die ander fasette van die mens se bestaan. Kruger se verstaan van die betekenis van die Gelofte van 1838 is dat die drie beloofde sake in die Gelofte van 1838 deel uitmaak van die Christelike lewe. Wat hom betref, is God se ingrepe in die 19de eeu by gevegte soos Bloedrivier en Majuba bakens van die Heer se genade vir gelowige Afrikaners en dié wat met hulle in die saak verenig is. Die onafhanklike ZAR is 'n geskenk vanuit die genade van die Here aan sy inwoners (Bergh, 2017:99).

    Vir Kruger lê die kern van die onderhouding van die Gelofte van 1838 daarin om die Here as die God van hemel en aarde (Hy is immers volgens Deuteronomium 6:4 die enigste God van alles! - PS) te bely en sy ingrepe in die lewe van die mens as sy voortdurende verlossende genade te beleef. Sy skoolopleiding van slegs drie maande kon Kruger nie terughou van 'n goeie begrip van die Christelike geloof nie. Dit gaan vir hom om die Bybel en die Heilige Gees, wat die mens tot geloof in God lei, so te verstaan dat dit in die lewe as 'n omvattende offer aan God manifesteer. Hierdie offer word deur die gelowige aan die Here as dank vir sy verlossing gebring, en 'n beskrywing hiervan word ook in Romeine 12 vers 1 en 2 aangetref.

    As 'n godsdienstige fees was Geloftedag 1838 oor die Here se verlossing uit die hande van hul Zoeloe-vyande vir die emigrante-Boere die rede vir 'n fees van dankbaarheid. 'n Lewe van dankbaarheid moes egter nie net in die vorm van praat bevestig word nie. Dit moes ook in 'n lewe van gehoorsaamheid sigbaar wees (NG Kerk-Uitgewers, 1982:65-76 vir die Kategismus oor God se wet en gebed). By die Geloftefeeste te Paardekraal op 16 Desember 1891 en 1896 laat Paul Kruger ook die Nederlandse weergawe van die berymde Psalm 25:2 sing: "Heer, ai, maak mij Uwe wegen door Uwe woord en Geest bekend ..." (Bergh, 2017:222, 383). Vir die president beslaan die weg of weë van God vir die mens dus uit al die aspekte van sy bestaan op aarde.

    Dit is dus nie verbasend dat Paul Kruger as 'n belyer van hierdie gereformeerde belydenis sy rede op 16 Desember 1886 by Paardekraal met antwoord 1 van die Heidelbergse Kategismus begin nie. Hierdie belydenis word deur sommige gereformeerdes die "Troosboek" genoem. Vraag 1 van die Kategismus begin met die sentrale lewensvraag: "Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?" (NG Kerk-Uitgewers, 1982:39). Die implikasie is dat "jy" as mens uit hierdie troos voluit moet lewe en in alles na God se eer moet soek - soos deur Jan Bantjes in sy joernaal van die Wenkommando aan die Gelofte van 1838 gestel.9 Dit is juis die Kategismus wat gebed en gehoorsaamheid aan die beginsels vir die hele lewe op die tien gebooie in, onder meer, Eksodus 20 fundeer. So 'n lewe word saamgevat in die sentrale, omvattende liefdesgebod van Deuteronomium 6 en Matteus 22. Die antwoord op vraag 1 van die Kategismus oor hoe mens dankie sê vir die Here se genadige verlossing is om uit dankbaarheid die wet en die gebed - met "Die Onse Vader" as voorbeeld - in 'n verhouding tot God uit te leef. Daarmee verbind Paul Kruger die begrippe die "eer van God" en om "die dag aan God te wy" aan 'n lewensomvattende gehoorsaamheid aan God, soos in die Kategismus bely. Hierdie oortuiging kom uit 'n verlede van geloftes aan God met 'n Nederlandse agtergrond en is op die Groot Trek in boeke van die Nederlandse "oude schrijvers" gelees. Die Trekkers het dit saamgeneem in die wakis (Strauss, 1994:36-37; 2001:815-821).

    5.2 Kruger en Paardekraal op 16 Desember 1886

    In sy toespraak van 16 Desember 1886 (volledige toespraak woord vir woord in Bergh 2017:98-105) sê Paul Kruger met oortuiging

    Op hierdie dag het ons ook hier as broers en susters saamgekom om ons geloftes te betaal, maar indien dit nie van harte geskied nie, wat sou dan van ons geloftes word? Ons het immers niks anders as ons opregte dankbaarheid om voor die Here te bring nie ... slegs die wat in benoudheid verkeer het en die groot Redder uit die nood leer ken het, kon weet wat dankbaarheid is. Hy wat nooit in nood was nie en nooit die Verlosser daaruit leer ken het nie, hy wat sy eie diepe ellende nie ken nie, ken geen verlossingswerk nie. Diesulkes kan nie om verlossing roep nie en ken geen dankbaarheid nie en voel dus ook geen behoefte om hulle dankbaarheid uit te druk nie ... Die wat ... weet hoe 'n mens sy gelofte moet betaal, kan dit uit die geskiedenis van Israel sien hoe God daardie volk uit sy druk verlos het ... van geslag tot geslag (Bergh, 2017:99).

    Wat Paul Kruger in aansluiting by ons verhaal oor die Gelofte van 1838 sê, is dat die hele lewe om die Here God draai en dat daar vir die verlossing van 'n mens deur die Here uit sy hart dankie gesê moet word. Dit beteken dat 'n gelofte aan God uit die hart moet kom én, les bes, dat net die een wat sy ellende reg ken, weet hoe afhanklik die mens van God se genade en verlossing is. 'n Mens sien uit die geskiedenis van Israel dat God sy verbondskinders telkens uit hul "druk" verlos: van ouer tot kind en geslag tot geslag (Bergh, 2017:99). Dit is bekend dat Kruger in God se handelinge met Israel as sy sondige maar uitverkore volk ook lyne van die optrede van die Here teenoor die Afrikaner sien. 'n Rede hiervoor is dat byna alle Afrikaners in Kruger se tyd belydenis van geloof of hul Boerematriek gedoen het om belydende lidmate van God se gelowige kerk te wees (vgl. Bergh, 2017:101; Strauss, 2001:831).10 As 'n gemeenskap van gelowiges met hul gedoopte kinders kon die Wenkommando, met vrou en kind, hul tydelik in meer gevestigde laers in Natal huisves (Strauss, 1994:32; 2001:831). Gevolglik kon almal by die aflegging van die Gelofte van 1838 betrek word, en so is die "opkomende" geslagte dan ook ná Bloedrivier jaar na jaar by die herdenking van die Gelofte betrek.

    In sy toespraak op 16 Desember 1886 by Paardekraal beklemtoon president Kruger in die kern daarvan dat die Boere niks anders by die fees kan doen as om "ons opregte dankbaarheid ... voor die Here te bring nie" (Bergh, 2017:99). Kruger koppel sy boodskap van 16 Desember 1886 dus aan die derde deel van antwoord 2 van die Heidelbergse Kategismus. Vraag 2 is: "Hoeveel dinge moet jy weet om in die troos van antwoord 1 salig te kan lewe en sterwe?" Deel 3 van antwoord 2 is "hoe ek God vir so (sy) verlossing dankbaar moet wees". Vir hom as 'n inwoner van die ZAR as 'n Boererepubliek was Geloftedag nou 'n "driedubbele feesdag" (NG Kerk-Uitgewers, 1982:39). Die "heerlike verlossing" van God vir "ons Boere" was in 1837 by Vegkop "uit die hande van die bloeddorstige Moselikatsi" en sy Matabele, uit die hande van die impi's van Zoeloekoning Dingaan by Bloedrivier op 16 Desember 1838 en uit die grypende imperialistiese kloue van Brittanje met sy "Rooibaadjies" by Majuba op 27 Februarie 1880. Geloftedag rondom die Gelofte van 1838, soos opnuut aan die Transvaalse klipstapeling van 16 Desember 1880 by Paardekraal voor die Eerste Vryheidsoorlog gekoppel, kom nie uit die voorspoed van die Voortrekkers nie, maar uit die benoudheid van Voortrekkerharte. Die sake wat hier gedenk word, dui op die albestier van God rondom 16 Desember (Bergh, 2017:100, 102-103). Die dank vir die verlossing van God van almal wat by die fees teenwoordig is, moet wys in hulle "opregte betaling van die gedane geloftes" (Bergh, 2017:100). Om die erns van die punt te onderstreep, haal die president Psalm 39:13 en 14 aan. Hierdie verse bepaal dat Gods genade by geloftes aan Hom sowel as sy straf op ontrouheid in die beloftes aan Hom vasstaan (Bergh, 2017:100).

    5.3 Die godsdienstige karakter van die Gelofte van 1838

    Omdat die Here met Christen-Afrikaners as 'n deel van sy uitverkore Nuwe Testamentiese volk, soos met Israel as sy uitverkore Ou Testamentiese volk, werk, kan mense volgens Kruger beweer dat hy as president te veel klem op godsdienstige punte lê. Daar is in beginsel egter 'n verband "tussen die geskiedenis van Israel en dié van ons volk ... [Daarom] as mense ... van die goeie rigting afdwaal en nie doen soos God in sy Woord geopenbaar het nie, dan kan ons ons geloftes nie betaal nie" (Bergh, 2017:101).

    Vir Paul Kruger staan 16 Desember opgeteken as die datum van die Voortrekkers se verlossing in Suidelike Afrika nadat die Trekkers God aangeroep en sy Woord gehoorsaam het. Hy vervolg: "... daaruit sou blyk hoe genadig die Here God met ons gehandel het en sou 'n mens sien dat ons na sy bevele moes handel om as volk genade in Sy oë te vind". Paul Kruger kry hierdie opvatting syns insiens uit sy omgang met die geskiedenis van Israel in die Ou Testament (Bergh, 2017:102).

    Volgens Kruger wil hy as president die Here dien "soos Hy Hom deur sy Woord en Gees aan die menslike geslag geopenbaar het, om daarna te handel en wandel". Hierdie uitgangspunt hou ook verband met die politieke geskiedenis van die ZAR en werp lig op hoe alle mense die Here God moet dien. Volgens die aantekeninge van die persoon wat die president se toespraak neergeskryf het, het president Kruger hierna die vestiging van "dié Gods ryk op aarde bespreek, vanaf die eerste mensepaar en hulle sondeval", daarna Gods regverdigheid op Sinai, sy barmhartigheid in die "persoon van die Paaslam en die krag van Sy Gees op die Pinksterfees ..." (Bergh, 2017:101). Dit gaan by die Gelofte van 1838 volgens die president om God se ryk waarin Hy alles vir almal in letterlik alles is. Toewyding aan God beteken dus vir die president 'n wyding van die hele lewe aan God. Die ware toewyding aan God is 'n Woordbepaalde antwoord op Gods Woord.

    Omdat die geskiedenis van sy volk soveel ooreenkomste met dié van die Israel van ouds toon, wys Kruger daarop dat die Here Israel in hul verdrukking deur Farao gelei het. Daarom het Israel die Here aangeroep, en Hy het geantwoord deur sy magtige arm te toon. "Solank Gods Woord gehoorsaam is, solank het Hy ook in genade op Sy kinders neergesien, maar net so kragtig was Sy tug ..." (Bergh, 2017:102). Vir Paul Kruger is die geskiedenis van Israel, soos die van die Christen-Afrikaner, vol van God se genade en tug, maar ook vol van die gelowiges se gereelde ongehoorsaamheid en inkeer.

    Samevattend voer president Kruger aan dat die fees van die Gelofte van 1838'n herdenking van die verlossing van sy volk - die gelowige Afrikaners - uit die mag van hul vyande is en dat 16 Desember as 'n datum van hul verlossing aan die Here gewy moet word. Soos 'n onafhanklike en vrye ZAR is hierdie verlossing 'n genadegawe van God (Bergh, 2017:102). Tussen 1838 en die Britse anneksasie van die ZAR in April 1877 het die Boere hul Gelofte van 1838 vergeet en van die Here afgedwaal. Daar was onderlinge twiste, opstand teen die regters van die volk én van die regters teen die volk. Die volk het Gods Woord en hul geloftes vergeet en "al meer afgedwaal totdat God hulle weer moes tugtig ...". Die Britse anneksasie was 'n stap deur 'n groot en "magtige (Britse) koninkryk" wat "ons vryheid, ons eersgeboorte reg" van ons weggeneem het. Die "benoudheid" het swaarder en sterker geword totdat ons by hierdie klipstapel by Paardekraal bymekaar gekom het om "ons te verootmoedig en voor God se aangesig (weer in gebed, PS) te verneder". Die Here "sou ons in benoudheid en die opregtheid van ons harte verhoor". Hy het uit sy genade ons verenig en gesterk en ons vryheid deur onder meer Majuba aan ons teruggegee. God het die Boere deur sy eie hand gelei en gered. Die Regering van die ZAR wou verhoed dat diegene in Transvaal hul Geloftes van 1838 en 1880 aan die Here nalaat, en daarom is daar op die vyfjaarlikse fees by Paardekraal besluit. Die Here sal die Afrikaner in sy onderhouding van sy geloftes beskerm deur sy "heilige Hand" en "geeneen" van sy vyande sal iets teen hom kan uitrig nie. Hulle sal magteloos in hul woede wees (Bergh 2017:104).

    Een punt wat die president in hierdie tyd bekommer, is die gevolge van die ontdekking van goud in 1886 aan die Rand. Die stroom van goud in die ZAR kan "ons tot afgodery en 'n wêreldse genot op Geloftedag verlei ..." (Bergh, 2017:104). Paul Kruger bly egter gebonde aan sy mense, want "ek het u met my hele hart lief, wees ook vir my lief in die gees van die Here en laat ons sorg dat ons ons nie aan wêreldse sake oorgee nie" (Bergh 2017:105).

    Die inoefening van vaardighede soos die hantering van wapens en perde kan handig wees in tye van nood en gevaar. Inoefening moet egter se gebruik word om geld te maak nie. Mense moet immers nie hul hele lewe aan aardse genot of afgodery as 'n teenpool van die Gelofte van 1838 wy nie. Die Regering van die ZAR het ook besluit om as aansporing meer kruit vir gewere beskikbaar te stel. In sy toespraak blyk dit dat Kruger gekant is teen alle vorme van dobbelary en dieremishandeling. Sulke dinge is nie feestelik nie, "maar ... ydele uitspattigheid waarvoor God ons sekerlik sou straf" (Bergh 2017:105).

    Die president glo dus aan die eer en toewyding van die volle lewe van die gelowiges - ook gelowige Afrikaners - aan God as een uitvloeisel van die Gelofte van 1838. Vir hom is deelname aan die Geloftefeeste 'n faset van die Christen-Afrikaner se hele lewe van gehoorsaamheid - 'n omvattende Bybelse opdrag - aan God. Die beloftes van die Gelofte van 1838 gaan volgens Kruger oor algehele gehoorsaamheid aan God met "hart en siel en al jou kragte". As dit in ag geneem word dat die Gelofte van 1838 deur die emigrante-Boere in Natal onder die invloed van die "oude schrijvers" uit die Nadere Reformasie beïnvloed is, verklaar dit die gereformeerde elemente in die Gelofte van 1838 gedeeltelik. Onder hierdie skrywers is daar bekendes soos Wilhelmus à Brakel wat deur Pretorius en Cilliers geraadpleeg is (Strauss, s.a.:38-42). Voorbeelde van gereformeerde trekke is die inleidende woorde van die Gelofte van Bloedrivier, naamlik "hier staan wij voor ... een heilige God van hemel en aarde". Hier word die soewereiniteit van die Here oor sy hele skepping verwoord en die belofte van die Gelofte wat die hele lewe van die mens - binne kerk en gemeenskap - aan die eer van God verbind of toewy.

     

    6. Slot

    Paul Kruger praat op 16 Desember 1886 by Paardekraal dus uit 'n gereformeerde agtergrond met die gereformeerde Troosboek, die Heidelbergse Kategismus, as sy belyde vertrekpunt. Daarmee seëvier die dapperheid van hierdie ongeleerde man in 'n verligte eeu weer in die openbaar.

    Vir Kruger was gehoorsaamheid aan God 'n lewensomvattende gewyde offer aan die Here God, en vir gereformeerde Christen-Afrikaners sluit 'n lewe van gehoorsaamheid hul nakoming van die fees van die Gelofte van 1838 in. Die uitlewing van die Gelofte gaan onder meer oor die handhawing van God se gebooie en die jaarlikse viering daarvan op 16 Desember. So word dit 'n godsdienstige fees van 'n hele lewe wat aan God gewy is.

    Vir Paul Kruger was sy lewe as staatspresident en Christen-Afrikaner 'n geïntegreerde eenheid waarin die verskillende aspekte mekaar komplementeer en nie bots nie. Vir hom was die nakoming van die Gelofte van 1838 'n uitvloeisel of gevolg van gereformeerde Christenskap. Om die Gelofte van Bloedrivier in 1838 na te kom, was vir hom ook 'n deel van sy eietydse Dopper- én Christen-Afrikaner wees.

     

    Verwysingslys

    Bantjes, J. 1839. De uitgewekene Boeren te Port Natal. De Zuid-Afrikaan: 6, 14 Junie.         [ Links ]

    Bergh, J.S. 2017. Paul Kruger - toesprake en korrespondensie van 1881-1900. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

    Cilliers, S.A. 1925. Joernaal as aanhangsel I. (In Gerdener, G.B.A., red. Sarel Cilliers, die vader van Dingaansdag. Kaapstad: Samuel Griffiths. pp. 112-132.         [ Links ])

    Debatte in die Volksraad. 1951. Dele 74-76. Johannesburg: Unie van Suid-Afrika.         [ Links ]

    De Jong, O.J. 1987. Geschiedenis der kerk. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

    Du Plessis, J.S. s.a. President Kruger aan die woord. Bloemfontein: Sacum.         [ Links ]

    Froneman, J.D. 2015. Die Kerkbode en die viering van Geloftedag 1910-2010. Stellenbosch theological journal, 1(10):125-150. https://doi.org/10.17570/stj.2015.v1n1.a6        [ Links ]

    Gerdener, G.B.A. 1925. Sarel Cilliers, die vader van Dingaansdag: Lewenskets van die grote voortrekker. Kaapstad: Samuel Griffiths.         [ Links ]

    Grobler, J.F.H. 1980. Paardekraal: Eensydige herstel van die onafhanklikheid. (In Van Jaarsveld, F.A., Van Rensburg, A.P.J. & Stals, W.A., reds. Die Eerste Vryheidsoorlog 1880-1881. Pretoria: HAUM. pp. 103-116.         [ Links ])

    Grobler, J.E.H. 2007. Uitdaging en antwoord: 'n Vars perspektief op die evolusie van die Afrikaners. Pretoria: Grovier.         [ Links ]

    Krüger, D.W. 1976. Kruger, Stephanus Johannes Paulus. (In De Kock, W.J., red. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek I. Kaapstad: Tafelberg. pp. 464-475.         [ Links ])

    Kruger, L.S., Du Plessis, H.L.M., Spoelstra, B. & Spoelstra, T.L. 1966. Handleiding by die kerkorde van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

    Ned. Geref. Kerk (NG Kerk). 1990. Handelinge van die Algemene Sinode van 1990. s.l.: s.n.         [ Links ]

    NG Kerk-Uitgewers. 1982. Ons glo ... Die drie formulere van eenheid en ekumeniese belydenisse. Wellington: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

    Snyman, S.D. & Barnard, S.L. 1992. Gedagtes oor Geloftedag. Acta theologica, 12(2):113-119.         [ Links ]

    Strauss, P.J. 1994. Geloftedag in die 'nuwe' Suid-Afrika. Bloemfontein: Druforma.         [ Links ]

    Strauss, P.J. 2001. Nogeens: Die agtergrond, inhoud en implikasies van die Gelofte van 1838. Hervormde teologiese studies, 57(3 & 4):814-834. https://doi.org/10.4102/hts.v57i3/4.1849        [ Links ]

    Strauss, P.J. 2008. Kuyper, Abraham. (In Gaum, F., red. Christelike Kern-ensiklopedie. Wellington: Lux Verbi. p. 634.         [ Links ])

    Strauss, P.J. 2010. Kerk en orde vandag. Bloemfontein: Sun Media. https://doi.org/10.18820/9781920383213        [ Links ]

    Strauss, P.J. 2024. Paul Kruger oor die Gelofte van 1838: Was hy in die kol? In die Skriflig, 58(1):814-834. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3100        [ Links ]

    Van Jaarsveld, F.A. 1979. Die evolusie van apartheid en ander geskiedkundige opstelle. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Venter, C. 2008. Cilliers, Sarel Arnoldus. (In Gaum, F., red. Christelike kern-ensiklopedie. Wellington: Lux Verbi. pp. 178-179.         [ Links ])

     

     

    Correspondence:
    straussp@ufs.ac.za

    Published: 26 March 2026

     

     

    1 Froneman (2025:126, 129) beweer dat apartheid saam met 'n volksideologie of volksgodsdiens van Afrikaners gekom het. Dit is by Geloftefeeste gevoed is en móés met die nuwe bedeling in 1994-1996, met sy akte van menseregte en nuwe politiek, die doodsklok hoor lui het.
    2 Volgens Cilliers (soos na verwys deur Gerdener, 1925:67-68) vir die term "belofte" vir die Gelofte van 1838 wat hy op Sondag 9 Desember 1838 op Wasbank by die Wenkommando van Bloedrivier in detail aankondig. Die kommando is volgens Sarel Cilliers hier om "een belofte aan Hem (ons "heilige God van hemel en aarde)" te beloven."
    3 Dit word op 16 Februarie 1839 in De Zuid-Afrikaan gepubliseer.
    4 Dit verskyn 14 Junie 1839 in De Zuid-Afrikaan.
    5 As die Regering van die Nasionale Party in Suid-Afrika in 1952 bepalings van die "sabbatswetgewing" in die land op 16 Desember van toepassing maak en die dag wettlik tot Geloftedag herdoop, skep hulle volgens die betrokke minister nie 'n mensgemaakte ekstra "sabbat" nie, maar dui hulle aan watter karakter aan die fees gekoppel moet word (Debatte in die Volksraad: Dele 74-76:10435-10438.)
    6 Cilliers was ná die gebeure in Natal gedurende die 1860's ouderling in die NG Kerk Kroonstad (Venter 2008:179).
    7 "Ons sal hulle vertel dat hulle met ons daarin moet deel" - hulle deel juis daarin as hulle met hart en siel daarbij betrokke raak. - PS.
    8 Toesprake verbatim in Bergh (2017: 98vv; 221vv; 382vv)
    9 Vgl. NG Kerk-Uitgewers, 1982:39, 65-76 oor die tien gebooie en gebed in die Heidelbergse Kategismus.
    10 By die emigrante-Boere in 1838 in Natal was kerk, staat en volk in 'n eenheidsgemeenskap betrokke by die uitlewing van die Gelofte. Dit het gegaan om gelowige Afrikaners wat onder leiding van 'n ouderling hulself vir 'n militêre operasie, eie aan die staat, voorberei het (Strauss, 2001:83.1).