Serviços Personalizados
Journal
Artigo
Indicadores
Links relacionados
-
Citado por Google -
Similares em Google
Compartilhar
Koers
versão On-line ISSN 2304-8557versão impressa ISSN 0023-270X
Koers (Online) vol.91 no.1 Pretoria 2026
https://doi.org/10.19108/KOERS.91.1.2618
ORIGINAL RESEARCH
'n Reformatoriese perspektief op die ouer se rentmeesterskaplike roeping tot die handhawing van ordelike kinderdisipline in Suid-Afrika
A Reformed perspective on parents' stewardship calling to uphold orderly child discipline in South Africa
Mr. Louis J OosthuizenI; Prof Johannes L van der WaltII; Prof Izak J OosthuizenIII
ILecturer. Self-directed Learning (SDL), Faculty of Education, North-West University, South Africa. louis.oosthuizen@nwu.ac.za. https://orcid.org/0000-0002-1760-4586
IIProfessor. Edu-HRight Research Focus Area, Faculty of Education, North-West University, South Africa. hannesv290@gmail.com. https://orcid.org/0000-0001-9243-5973
IIIProfessor. Edu-HRight Research Focus Area, Faculty of Education, North-West University, South Africa. Izak.Oosthuizen@nwu.ac.za. https://orcid.org/0000-0002-1193-4699
ABSTRACT
Children are a gift from God, entrusted to parents to serve as the child's primary educators and guardians. However, various forms of transgressions and misconduct among children are increasingly prevalent in contemporary society. It is a divine command and a parental responsibility to discipline their children. Yet, many factors and circumstances currently prevent parents from fulfilling their stewardship task and responsibility toward their children. Among these factors are the Western departure from Biblical values, high divorce rates, and fatherless households. Using the interpretivist-constructivist method, these factors are examined, and a description of parents' (caregivers') stewardship tasks and responsibilities is provided. The latter is grounded in principles such as parents being the child's primary educators; that correction and discipline should be exercised responsibly, that all interactions with the child should be grounded in a Scriptural child anthropology, and that parents should have a sound understanding of what education entails.
Keywords: children; conduct; discipline; education; parental obligations; parents; reformational view of the child; stewardship
OPSOMMING
Kinders is 'n geskenk van God wat aan ouers toevertrou is om as die primêre opvoeders en bewaarders van die kind op te tree. Verskeie vorme van oortredings en wangedrag is egter hedendaags aan die toeneem onder kinders. Dit is 'n Goddelike opdrag en verantwoordelikheid van ouers om hul kinders te dissiplineer, maar daar is tans heelwat faktore en omstandighede wat ouers verhoed om hul rentmeesterskaplig en verantwoordelikheid teenoor hul kinders na te kom. Onder hierdie faktore tel die Westerse wegbeweging van Bybelse waardes, hoë egskeidingsyfers en vaderlose gesinne. Deur middel van die toepassing van die interpretivisties-konstruktivistiese metode word hierdie faktore uitgelig en word 'n omskrywing van ouers (sorggewers) se rentmeesterstaak en -verantwoordelikheid gegee. Laasgenoemde is gefundeer in beginsels soos die feit dat ouers die primêre opvoeders van die kind is, dat tug en dissiplinering verantwoordelik behoort te geskied, dat alle handelinge met die kind in 'n Skriftuurlike kinderantropologie gefundeer behoort te wees en dat ouers 'n goeie begrip behoort te hê van wat opvoeding behels.
Sleutelwoorde: dissipline; gedrag; kinders; opvoeding; ouerlike pligte; ouers; reformatoriese kindbeskouing; rentmeesterskap; tug
1. Inleiding
Volgens Matteus 19:14 word kinders as waardevol geag, en in Psalm 127 word hulle selfs as 'n waardevolle geskenk van die Here aan ouers bestempel. Om hierdie rede word ouers reeds in Deuteronomium 6:3 opgeroep om hul kinders ooreenkomstig die "shema-beginsel" (Hoor, Israel ...-beginsel) op te voed. Voorts word ouers ook in hierdie vers opgeroep om die beginsel van die vrees van (eerbied vir) die Here en sy gebooie by hulle in te skerp wanneer hulle "in hulle huise sit", "op die pad is", "gaan lê" of "opstaan". Spreuke 22:6 sluit hierby aan met die perspektief dat die kind opgevoed behoort te word om die pad van geregtigheid te volg, sodat hy of sy, wanneer hulle oud is, nie daarvan sal afwyk nie. Dit blyk egter uit die hedendaagse bestaan van kinders dat allerlei struikelblokke in die weg van die opgroeiende jeug staan om hierdie ideaal in hul lewens te verwesenlik.
2. Probleemstelling en doel
Die nieverwesenliking van die beginsels wat hier bo gestel is, blyk uit al die vorme van wangedrag wat tans in ouerhuise / huise van oorsprong en in skole voorkom. Wangedrag onder Suid-Afrikaanse jeugdiges in sowel die breë gemeenskap as in die skole het in sommige gevalle die vlak van kriminaliteit bereik (Prince, 2024a:8). Prince verwys in hierdie verband na die toename in tienerswangerskap by skooldogters. In 2023 het 90 000 skooldogters swanger geraak. Hy meld verder 'n toename in rassewrywing in skole en die "toenemende geweld wat deesdae in Suid-Afrikaanse openbare skole voorkom". In sommige gevalle is selfs die veiligheid van onderwysers in die gedrang (Prince, 2024b:2). Opnames deur die Vereniging van Staatsamptenare toon dat die volgende kriminele oortredings in 2023 oor 'n tydperk van ses maande op skoolterreine plaasgevind het en by die polisie aangemeld is: 25 moorde, 42 pogings tot moord, 197 verkragtings en 577 aanrandings (Pieters, 2024:4).
Beukman (2024:10) vermoed dat hierdie vorme van wangedrag gewyt kan word aan ouers wat nie hul opvoedingstaak na behore nakom nie. Lourens (2024:1) is dit met hom eens; hy meen dat ouerlike versuim een van die redes kan wees waarom daar tans so 'n hoë misdaadsyfer op skoolterreine in Suid-Afrika voorkom. Hy meen voorts dat die hoë egskeidingsyfer in die land tot gevolg het dat ongeveer 49% leerders in enkelouer-gesinne grootword en dat, oorkoepelend gesien, al die voormelde faktore daartoe bydra dat ongeveer 71% van alle leerders gaandeweg moed verloor wat hulle skoolwerk betref, en dan nie hul skoolloopbane voltooi nie.
Hierdie toedrag van sake is nie prinsipieel regverdigbaar in die lig van die Skrif nie (vgl. Matt. 18: 6). Daar word van opvoeders (ouers, onderwysers, sorggewers) verwag om 'n gepaste morele voorbeeld te stel aan die kinders wat aan hulle toevertrou is (Broer, Van der Walt, Mampane, Mollo & Wolhuter, 2025:34; Barclay, 1975:177).
Die volgende navorsingsprobleem is op grond van die voorgaande agtergrondskets geformuleer: Wat is die oorsake van die feit dat ouers hul rentmeesterskaplike taak en verantwoordelikheid teenoor hul kinders nalaat of verwaarloos, en watter Skriftuurlike riglyne is van toepassing op ouers se rentmeesterskaplike handhawing van kinderdisipline? Die doel van die ondersoek was dus om, enersyds, vas te stel waarom ouers hul rentmeesterlike taak en verantwoordelikheid teenoor hul kinders verwaarloos. Andersyds was die doel van die ondersoek om te bepaal wélke rentmeesterskaplike verpligting daar op ouers se skouers rus om hul kinders ooreenkomstig die Woord van God te vorm en op te voed.
3. Ondersoekmetode
Hermeneutiek, 'n metateoretiese navorsingstegniek (Babbie & Mouton, 2010:30), vorm die grondslag van hierdie ondersoek. Die hermeneuse is in hierdie geval gedoen aan die hand van die konstruktief-interpretivistiese metode (Van der Walt, 2020: 66). Die toepassing van hierdie metode kom daarop neer dat inligting uit 'n uiteenlopende verskeidenheid inligtingsbronne bekom, ontleed en vertolk word ten einde verdiepte insig in die navorsingsprobleem te verkry.
Op grond van die versamelde inligting en die daarop gegronde interpretasies word 'n nuwe, oorspronklike teoretiese (wetenskaplike) benadering, geskoei op nuwe insigte en herinterpretasies, gekonstrueer (ontwerp). Van der Walt (2020:66) som hierdie prosedure soos volg op: "All facts are in principle subject to constant reinterpretation and a re-evaluation in a new framework".
'n Voorwetenskaplike, oftewel voorteoretiese ingesteldheid, is teenwoordig in die agtergrond van ons menslike bestaan en denke. Dit speel stilswyend 'n rol as ons navorsing doen (Anderson, 2024:13; Pollefeyt, 2020:119). 'n Skriftuurlik-reformatoriese benadering tot die onderwerp van rentmeesterskaplike opvoeding en dissiplinering vorm deel van die voorteoretiese ingesteldheid van die ondersoekers in die uitvoering van die ondersoek wat tot die skryf van hierdie artikel gelei het. Anders gestel, die inhoud van hierdie artikel is gefundeer in 'n reformatoriese denkraamwerk. Vanuit hierdie denkraamwerk is die verskillende fasette van die ondersoek benader: die oorsake van die verwaarlosing van ouers se rentmeesterskap teenoor hul kinders, en ouers se rentmeesterskaplike plig en verantwoordelikheid om hul kinders te dissiplineer.
Die res van die bespreking val in die volgende onderdele uiteen. Ten eerste word 'n kort oorsig gegee van die oorsake van die verwaarlosing van ouers se rentmeesterskapsopdrag, wat dan sosiaal-afwykende gedrag by hul kinders tot gevolg het.
Hierna vind 'n verheldering van 'n aantal kernkonsepte plaas. Dit word gedoen ten einde tot 'n besinning oor die rentmeesterskaplike verantwoordelikheid van ouers - ook van sorggewers en plaasvervangende ouers, soos grootouers - te kan oorgaan. Dit alles dien as aanvoorwerk vir 'n besinning oor die rentmeesterskaplike verantwoordelikheid van ouers (en ander sorggewers). Die bespreking word afgesluit met 'n terugkeer na die probleemvrae waaromheen die artikel wentel en 'n besinning oor die mate waartoe antwoorde op die probleemvrae gevind is.
4. Oorsake van die verwaarlosing van ouers se rentmeesterskapstaak en -verantwoordelikheid
Daar is verskeie oorsake vir ouers se verwaarlosing van hul rentmeesterskapstaak en -verantwoordelikheid. Die volgende is van die belangrikste:
4.1 Gebrek aan kennis van Skriftuurlike beginsels
'n Christelike godsdiensige ontwaking en daaropvolgende beskawingsgroei het aanvanklik hoofsaaklik in die Weste plaasgevind. Hoewel die Westerse Christelike lewens- en wêreldbeskouing tans nog 'n rol speel, is dit nie meer deurslaggewend in teorie en die (onderwys)praktyk nie. Volgens Gordon (2024:23) besit Westerlinge deesdae baie minder kennis van die Bybel as hul voorgelate. Navorsing toon dat 15% tot 17% van Millenniërs hul Bybels slegs een of twee keer per maand lees.
Kerklidmaatskap het ook in die afgelope aantal dekades in die Westerse wêreld gedaal, in die Verenigde State van Amerika tot slegs ongeveer 50% in 2020 (Jeremiah, 2021:97). Die daling kan onder meer toegeskryf word aan die liberale teologie wat deur sommige teoloë aangehang word. Hulle bevraagteken onder andere die Goddelikheid van Jesus Christus, sy opstanding uit die dood en ook die Skriftuurlike stelling van Johannes 14:6 dat die mens se redding en saligheid slegs in Christus te vinde is (Jeremiah, 2021:97). Die swak kerkbywoning en verwaarlosing van Bybelstudie, en die gevolglike ontoereikende kennis van Skrifbeginsels, het 'n nadelige invloed op die gedrag van die hedendaagse Westerlinge. Dit het onder meer gelei tot seksuele vryheid en losbandigheid: "Perhaps more than any other issue, the Bible's clear and unwavering stance on human sexuality has clashed with Western culture's insistence on tolerance at any cost" (Jeremiah: 2021:97). Hierdie vorm van morele vervlakking het ook in Suid-Afrika begin sigbaar word.
4.2 Enkelouergesinne
Die 2022-sensus het aan die lig gebring dat ongeveer die helfte (49,6%) van alle gesinne in Suid Afrika vaderloos is. Een van die redes hiervoor is die hoë egskeidingsyfer. By egskeiding word toesig en beheer van die kinders ingevolge die howe se egskeidingsbevele gewoonlik aan hul biologiese moeders toegewy s. Dit lei dan tot vaderlose huisgesinne (Adu-Okoree, Sedegah & Parku, 2020:24). In 'n gesin vervul vaders 'n belangrike rol deur tot kinders se beskerming en dissipline by te dra (Molongoana, 2015:iii). In 1 Timoteus 3:5 en 12 word gestel dat die man se gedrag van voorbeeldigheid moet getuig, dat hy "een [moet] wees wat sy huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou". Van diakens in die kerk word verwag om "manne van een vrou te wees en hulle kinders en eie huise goed te regeer".
Egskeiding hou negatiewe gevolge vir die kinders in. Clinton en Clark (2010:205) se navorsing het die volgende negatiewe gevolge na vore gebring:
In baie gevalle is gevind dat egskeiding aanleiding gee tot vroeë skoolverlating, swak skoolbywoning en verhoogde druipsyfers op skool en/of kollege. Dit alles lei later tot werkloosheid, 'n huiwering om self die huwelik te betree en dus tot 'n alleenloper-lewenswyse. Indien daar in 'n huwelik getree word, is daar 'n hoër neiging tot egskeiding, asook sosiale wanaanpassing.
Egskeidings word dikwels voorafgegaan deur heftige rusies in die huis. Dit het 'n negatiewe invloed op die kinders, en dit vertoon verkeerde gedragspatrone aan die kinders. Sulke omstandighede lei tot verhoogde spanning, angs en regressie, en dikwels ook tot verwarring, vrees, en 'n gevoel van onveiligheid, kwesbaarheid, verleentheid, onttrekking, oormatige afhanklikheid, en allerlei emosionele probleme soos woede-uitbarstings by die kinders.
Egskeiding lei meermale ook daartoe dat ouers skuldgevoelens teenoor hul kinders ervaar aangesien egskeiding die welsyn van kinders benadeel (Kalmijn, 2020:285-286). Dit laat sommige ouers probeer kompenseer vir die trauma van die egskeiding, ook in terme van die dissipline van hul kinders, met die gevolg dat kinders uit gebroke gesinne dikwels nie vir wangedrag getug word nie.
4.3 Ouerlose kinders
Khumalo, Xaba en Matekane (2023:230) is van oordeel dat kinders wat ouerloos grootword 'n groot behoefte aan aanvaarding en liefde het en dan neig om blindelings die geborgenheid van aanvaarding van enige persoon, portuurgroep of bende aan te gryp. Gevolglik leef hulle dan volgens die gedragstandaarde van daardie persoon of groep - sonder om die moraliteit, gedragspatrone of gerigtheid van die betrokke persone of groepering as maatstaf vir sy/haar keuse behoorlik te oorweeg.
4.4 'n Kultuur van geweld
Die feit dat ouers nalaat om hul kinders te dissiplineer, lei tot wydverspreide en ernstige wangedrag. In Suid Afrika het 'n kultuur van geweld gedurende die afgelope dekade of meer onder skoolkinders begin posvat (Sibanda, 2023:151). Toenemende geweld kom in skole voor: Skoolkinders maak hulle skuldig aan vorme van fisieke geweld, seksuele teistering en afknouery, onder andere kuberafknouery (Juan, Zuze, Hannan, Govender & Reddy, 2018:1). Hoewel hierdie gedrag hoofsaaklik vorme van leerling-tot-leerling-geweld is, is daar ook gevalle waar leerders onderwysers fisiek aanrand. In enkele gevalle het leerlings selfs moord gepleeg (Sibanda, 2023:151).
5. Die Suid-Afrikaanse wetgewing rakende kinder-dissipline
Suid-Afrikaanse wetgewing oor die afgelope drie dekades het moontlik ook 'n bydrae gelewer tot die groeiende wangedrag onder kinders. Ingevolge huidige Suid-Afrikaanse statutêre bepalings word die toediening van lyfstraf by skole sowel as by die huis verbied. Tradisioneel het die Suid-Afrikaanse gemenereg ouers toegelaat om hul kinders "redelike of matige tugtiging" toe te dien (Burton, 2008). In 2017 het die Gautengse hooggeregshof op grond van artikels 10 en 12(1)C van die Suid-Afrikaanse Grondwet (SA, 1996) beslis dat die toediening van lyfstraf by die huis ongrondwetlik is. Twee jaar later het die Konstitusionele Hof laasgenoemde uitspraak bevestig. In Julie 2018 het die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling 'n wysigingswetsontwerp gepubliseer wat die verbod op die toepassing van lyfstraf deur ouers of persone wat vir 'n kind sorg, bevestig. Die Departement het eerder die toepassing van positiewe dissipline aanbeveel (DSD, 2025). In die konstitusionele hofsaak van 2000, Christian Education South Africa v. Minister van Onderwys, het 196 skole, gebaseer op hul godsdienstige oortuigings, 'n versoek vir die herinstelling van lyfstraf in skole ingedien. Hul pleidooi is met koste van die hand gewys. Die Suid- Afrikaanse regsperspektief staan dus in 'n sin direk teenoor Skriftuurlike voorskrifte vir goeie kinderdisipline.
In die bostaande bespreking is 'n kort oorsig verskaf van die moontlike redes waarom ouers in die afgelope aantal dekades neig om hul rentmeesterskaplike taak en verantwoordelikheid teenoor hul kinders na te kom. Hiermee is die bedding voorberei vir 'n bespreking van die reformatoriese perspektief op hierdie taak en verantwoordelikheid.
6. Ouers se rentmeesterskaplike taak en verantwoordelikheid
6.1 Verheldering van enkele sleutelkonsepte
Die kernsleutelwoord in die oorblywende deel van hierdie artikel, rentmeesterskap, is 'n vertaling van die Griekse woord epitropos (vgl. Gal. 4:2; Matt. 20:8) wat in die Nuwe Testament gebruik word om na die bestuurder of versorging van 'n huishouding te verwys. Dit het dieselfde betekenis as die Anglo-Saksiese woord stewardship, wat uit die Oud-Engels stîweard (afgelei uit stig - herehuis) en weard (oppasser) afgelei is. Oorspronklik was die betekenis van "stewardship", net soos van "rentmeesterskap", om in beheer van 'n groot huishouding te wees. Die woord is mettertyd oordragtelik gebruik om ook die bestuur, verantwoordelikheid en veral die etiese sorg van dit wat aan 'n mens toevertrou is, te omvat. In die huidige geval verwys rentmeesterskap na die sorg van die kinders wat aan ouers en sorggewers toevertrou is.
Die woord "dissipline", 'n ander belangrike sleutelwoord in hierdie ondersoek, is afkomstig van 'n Engels-Franse woord wat op sy beurt van die Latynse disciplina afgelei is. In sy formaat as selfstandige naamwoord beteken laasgenoemde oorspronklik "volgelingskap". Later is die betekenis daarvan uitgebrei om die volgende te omvat: om gehoorsaam aan gesag te wees en selfs "bestraffing wat daarop gerig is om ordelike gedrag te bewaar" (Odendal, Schoonees, Swanepoel, Du Toit & Booysen, 2015:159). In klassieke Latyn het 'n leerder as 'n discipulus, volgeling, bekend gestaan, daarom is die volgelinge van Christus dissipels genoem.
In 'n breër verband sluit die konsep dissipline begrippe soos leer, opvoeding, tug, onderwys, ordening en selfs reëling in. Dissipelskap kan dus beskou word as die selfgerigte aanleer van lewensvaardighede. 'n Selfgerigte persoon aanvaar verantwoordelikheid vir selfontwikkeling en kan onafhanklik vir hom- of haarself dink en optree (Sukkamart, Pimdee, Leekitchwatana, Kongpiboon & Kantathanawat, 2023:5). Dit is dus belangrik dat ouers hul kinders dissiplineer. Die doel hiervan is om later - op grond van die ouer/opvoeder/versorger wat die voorbeeld gestel het en deur navolging van sodanige voorbeeld - gedissiplineerde, onafhanklike, volwasse burgers van die samelewing te word.
Die woord tug word in die Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal beskryf as die vorming van iemand se gees om gehoorsaamheid, orde en onderworpenheid aan gesag te verseker (Odendal et al., 2015:1107). Die Afrikaanse woord hou verband met die Nederlandse tug. Dié woord is afgelei uit die Oudnederlands tuht, wat op sy beurt uit die proto-Germaans tugtiz, om te trek, afgelei is. Dit het ongeveer dieselfde betekenis as die moderne Nederlandse woord tijgen, om te trek of te gaan, en die Middelhoogduitse woord zucht. Dit hou ook verband met die ouer Nederlandse woord tiegen, 'n toom (van 'n perd). Oorspronklik is die woord, soos in Spreuke 1:8, gebruik vir "opvoeding, lering, of onderrig", maar gaandeweg het die betekenis daarvan verskuif na "dissipline, orde" en selfs "straf" (Nederlandse Encyclopedie, 2025; Philippa, Debrabandere, Quak, Schoonheim & Van der Sijs, 2025). Hieruit is dit duidelik dat daar mettertyd 'n betekenisverskuiwing by die woord tug ingetree het. In hierdie lig gesien, word gedrag wat afwyk van die lering, onderwysing, opvoeding, leiding en/of teregwysing wat opvoeders in die algemene Afrikaanse spreektaal bied soos volg bestempel: ongedissiplineerde, ongehoorsame, wan-, asosiale of onaanvaarbare gedrag.
In huidige onderwyswetgewing word daar 'n onderskeid getref tussen "alledaagse" en "ernstige" wangedrag. Waar eersgenoemde die vorm van "blote" stoutigheid aanneem, dui ernstige wangedrag op gewigtige oortredings. Die wetgewing tref gevolglik 'n verskil tussen "algemene vorme" van wangedrag en "ernstige" wangedrag (Oosthuizen, Smit, Roos, Botha & Rossouw, 2020:149). Terwyl wangedrag algemeen is en selfs daagliks voorkom, sluit dit by geleentheid ernstige wangedrag in wat grens aan kriminele oortredings soos aanranding, geweld, diefstal, verkragting, strafbare manslag, en selfs moord en poging tot moord. Soos gemeld, is Prince (2024a:8) van mening dat wangedrag al in die ouerhuis ontspring omdat sulke gedrag nie in daardie konteks behoorlik en doeltreffend gehanteer word nie. Ouers het as rentmeesters, bestuurders en sorggewers van hulle huishouding die roeping van God ontvang om sy eiendom verantwoordelik te bestuur (Van Niekerk, 2024:1).
6.2 Ouers en sorggewers se rentmeesterskaplike verantwoordelikheid teenoor kinders
Ouers is die primêre opvoeders van hul kinders. As sodanig is hulle goed geplaas om 'n sterk invloed op hul kinders uit te oefen en om as rolmodelle by die vaslegging van aanvaarbare gedragspatrone by hul kinders op te tree (Ceka & Murati, 2016:61). Daar rus ook 'n verpligting op die ouers om hul kinders godsdienstig op te voed (Deut. 6:6-7). Volgens die Bybelse opdrag moet ouers dissipline onder hul kinders bevorder deur wangedrag teen te gaan, 'n onberispelike voorbeeld aan hul kinders te stel en te sorg dat hul kinders geestelike vorming ontvang deur kerkdienste by te woon.
'n Skriftuurlike kinderantropologie is ten diepste gefundeer in die gedagte dat kinders nie net vir die ouers kosbaar is nie, maar ook vir die Here. In die eerste plek is die kind geskep na die beeld van God, en hoewel daardie beeld deur die sonde geskend is, is dit nie vernietig nie (Malan, 1986:6). Kinders is voorts 'n gawe wat die ouers van die Here ontvang het (Ps. 127:3), en om baie kinders te hê is 'n besondere seën van die Here (Ps. 127: 3-5; Ps. 128). God vorm die kind op 'n wonderbaarlike wyse in die skoot van die moeder (Ps. 139:13-16), beskerm en onderrig die kind (Ps. 71:7, 17), en luister na kinders (Gen. 21:7). God is die Vader van die wese (Ps. 86:6; Hos. 14:4) en neem kinders aan (Ps. 27:10), beskerm hulle teen onderdrukkers (Ps. 10: 14, 18) en waak oor hulle (Sag 7:10). Om al hierdie redes verwag die Here dat hulle volkome voorberei en toegerus vir elke goeie werk (2 Tim. 3:16) sal wees. Opvoeding en onderwys is immers instrumente om kinders diensbaar aan God en sy koninkryk te maak (Malan, 1986:7).
Volgens Psalm 127 het ouers (en plaasvervangende ouers, soos sorggewers in die afwesigheid van die biologiese ouers) die verantwoordelikheid om die kinders wat die Here aan hulle geskenk het, nougeset en toegewyd op te voed. Die ouerlike plig om hul kinders te dissiplineer, word in Spreuke 23:13 bevestig waar ouers gewaarsku word om nie teregwysing van hul kinders te weerhou nie. Die ouerlike plig om kinders te tug, word in Spreuke 13:24 bevestig waar gestel word dat ouers wat nie hul kinders reghelp nie, hulle haat. Indien ouers hierdie opdragte versuim, word hulle persoonlik verantwoordelik gehou. 'n Voorbeeld van hoe 'n ouer verantwoordelik gehou word, word gevind in die verhaal van Eli. In Samuel 3:11 blyk dit dat sy versuim om sy seuns te dissiplineer 'n oordeel oor hom gebring het. God het vir Samuel gesê dat Hy Eli se familie vir ewig sou oordeel oor die sonde waarvan hy geweet het: Sy seuns het God gelaster, en hy het hulle nie getug nie. Daarom het God gesweer dat die skuld van Eli se huis nooit versoening sal kan doen deur brandoffers te bring nie. Dit is hieruit duidelik dat God ouers wat nalaat om hul kinders te dissiplineer persoonlik verantwoordelik hou.
7. Slotsom
Die voorgaande uiteensetting, bespreking en beginselstandpunt-inname het alles ten doel gehad om antwoorde op die gestelde navorsingsprobleem te vind, naamlik: Wat is die oorsake van die feit dat ouers hul rentmeesterskaplike taak en verantwoordelikheid teenoor hul kinders nalaat of verwaarloos, en watter Skriftuurlike riglyne is van toepassing op ouers se rentmeesterskaplike handhawing van kinderdissipline? Die volgende antwoord is gevind op die eerste deel van die navorsingsvraag. Ouers neig om hul rentmeesterskaplike verpligting teenoor hul kinders te verwaarloos weens 'n groeiende gebrek aan kennis van die Skrif, en bygevolg Skriftuurlike beginsels, en hiermee saam ook die toename in enkelouergesinne, egskeidings, ouerloosheid, 'n toenemende kultuur van geweld en tot 'n sekere mate ook die onlangse wetgewing in Suid-Afrika rakende kinderdissiplinering. Die versuim om Skriftuurlike beginsels te volg, het daartoe gelei dat baie ouers nie hul Goddelike opdrag uitvoer om kinders te dissiplineer nie.
Die bespreking het voorts die volgende antwoord op die tweede deel van die probleemvraag na vore gebring. Daar is 'n hele aantal direkte Skriftuurlike riglyne oor die dissiplinering en opvoeding van kinders wat ouers ter harte behoort te neem en in die opvoeding van hul kinders behoort toe te pas. Van hierdie riglyne behoort ouers, veral ouers met 'n reformatoriese lewens- en wêreldbeskouing, kennis te neem en toe te pas. Ouers behoort te verstaan dat hulle die primêre opvoeders van hul kinders is en dus die grootste trefkrag op hul kinders se vorming en opvoeding het. Hulle kan die taak nie byvoorbeeld oorlaat aan sekondêre opvoeders soos onderwysers en ander versorgers nie. Ouers behoort ook hul opvoedingsteorie en -praktyk in 'n Skriftuurlike kinderantropologie te fundeer, soos hier bo uiteengesit. Ten slotte behoort ouers ook oor 'n goeie opvatting te beskik van wat die dissiplinering en tug van hul kinders - ooreenkomstig die riglyne van die Skrif - behels en sodanige riglyne verantwoordelik toe te pas.
Rolverdeling van outeurs
i) Prof Hannes van der Walt was veral vir die filosofiese netwerk verantwoordelik sowel as die afronding van die artikel ii) Prof Izak Oosthuizen was veral by die juridiese gedeeltes betrokke (iii) Mnr Louis Oosthuizen was die algemene admin. touleier en het gedeeltes van die inhoudelike ingewerk.
Etieseklarings-nommer van die projek: NWU-01098-25A2
Verwysingslys
Adu-Okoree, B.I., Sedegah, D.D. & Parku, E. 2020. How do they cope: Traumatic impact of broken houses on the academics of the children living in the Ga East Municipality, Ghana. Journal of education, society, and behavioural science, 33(7):15-26. https://doi.org/10.9734/jesbs/2020/v33i730240 [ Links ]
Anderson, J.N. 2014. What's your worldview? Wheaton: Crossway. [ Links ]
Babbie, E. & Mouton, J. 2010. The practice of social research. Cape Town: Oxford University Press South Africa. [ Links ]
Barclay, W. 2019. The Gospel of Matthew. Vol. 2. Louisville: Westminster John Knox Press. [ Links ]
Beukman, B. 2024. Ouers eerstens verantwoordelik vir kind se gedrag. Beeld:10, 2 Augustus. [ Links ]
Broer, N.A., Van der Walt, J.L., Mampane, K.B., Mollo, N.T. & Wolhuter, C.C. 2025. Parental views of learner discipline at home or at school. Journal of educational research on children, parents & teachers, 6(1):30-48. [ Links ]
Burton, P. 2008. National school violence study. http://www.cjcp.org.za/admin/uploads/NSVS-final-internet-ready.pdf Date of access: 9 June 2025. [ Links ]
Bybel. 2020. Die Bybel. Bellville: Bybelgenootskap van Suid-Afrika. [ Links ]
Ceka, A. & Murati, R. 2016. The role of parents in the education of their children. Journal of educational practice, 7(5):61-64. [ Links ]
Clinton, T. & Clark, C. 2010. Counseling teenagers. Grand Rapids: Baker Books. [ Links ]
Christian Education South Africa v Minister of Education. 2000. SA 4:757 (CC). [ Links ]
Gordon, B. 2024. The Bible: A global history. London: Hodder & Stoughton. [ Links ]
Jeremiah, D. 2021. Where do we go from here? Nashville: Thomas Nelson. [ Links ]
Juan, A., Zuze, L., Hannan, S., Govender, A. & Reddy, V. 2018. Bullies, victims and bully victims in South African schools. South African journal of education, 38(1):1-17. https://doi.org/10.15700/saje.v38ns1a1585 [ Links ]
Kalmijn, M. 2020. Feelings of guilt in the family: The case of divorced parents. (In Mortelmans, D., ed. Divorce in Europe, (European studies of population, 21.) The Hague: University of Amsterdam. pp. 271-289.) https://doi.org/10.1007/978-3-030-25838-2_13 [ Links ]
Khumalo, J.B., Matekane, R. & Xaba, M.I. 2023. Understanding learner dropout through Maslow's hierarchy of needs: School management's dilemma in stemming the tide. (In Oosthuizen, I.J., Van der Walt, J.L. & Hove, L.M., eds. Stumbling blocks in the way of effective education in the global south. Potchefstroom: Axiom Academic Publishers. pp. 230-250. [ Links ])
Kotze v Kotze. 2003. SA 3:628 (T):630-631. [ Links ]
Lourens, O. 2024. Noodlyn vir onnies. Beeld:1, 4 Oktober. [ Links ]
Malan, C.J. 1986. Bybelse perspektiewe en relevante Skrifgegewens ten opsigte van opvoeding en onderwys. Potchefstroom: Departement Wetenskapsleer. (Werkwinkelstuk no. 2. [ Links ])
Molongoana, K.R. 2015. Experiences of father absence: The subjective accounts of young women who grew up without a father. Johannesburg: University of the Witwatersrand. (Dissertation- Master's degree) [ Links ]
Nederlandse Encyclopedie. 2015. Tucht. https://www.encyclo.nl/begrip/tucht Datum van toegang: 10 February 2026. [ Links ]
Odendal, F.F., Schoonees, P.C., Swanepoel, C.J., Du Toit, S.J. & Booysen, C.M. 2015. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Doornfontein: Perskor Uitgewers. [ Links ]
Oosthuizen, I.J., Smit, M.H., Roos, M.C., Botha, P. & Rossouw, J.P. 2020. Aspects of education law. Pretoria: Van Schaik Publishers. [ Links ]
Philippa, M., Debrabandere, F., Quak, A., Schoonheim, T. & Van der Sijs, N. 2025. Etymologisch woordenboek van het Nederlands. Tucht. https://www.etymologiebank.nl/trefwoord/tucht Datum van toegang: 10 February 2026. [ Links ]
Pieters, L.M. 2024. Talle verkragtings en moorde in skole skok. Beeld:4, 4 Desember. [ Links ]
Pollefeyt, D. 2020. Religious education as opening the hermeneutical space.Journal of religious education, 68:115-124. https://doi.org/10.1007/s40839-020-00105-7 [ Links ]
Prince, L. 2024a. Tienerswangerskappe: Meisies vasgevang in bose kringloop. Beeld:8, 16 Augustus. [ Links ]
Prince, L. 2024b. Geweld in skole word bedreiging, sê Sadou. Beeld:2, 7 Oktober. [ Links ]
Sibanda, S. 2023. Rethinking safety in today's schools. (In Oosthuizen, I.J., Van der Walt, J.L. & Hove, L.M., eds. Stumbling blocks on the way to effective education. Potchefstroom: Axiom Academic Publishers. pp. 151-177. [ Links ])
Sukkamart, A., Pimdee, P., Leekitchwatana, P., Kongpiboon, W. & Kantathanawat, T. 2023. Predicting student-teacher self-directed learning using intrinsic and extrinsic factors: A theory of planned behavior adoption. Frontiers in psychology, 14(1211594):1-15. https://doi.org/10.3389/fpsyg.2023.1211594 [ Links ]
Van Niekerk, A.C.J. s.a. Rentmeesterskap. Christelike elektroniese kernensiklopedie. https://www.eckeco.za/rentmeesterskap. Datum van toegang: 28 November 2024. [ Links ]
Van der Walt, J.L. 2020. Interpretivism-constructivism as a research method in the humanities and social sciences: More to it than meets the eye. International journal of philosophy and theology, 8(1):59-68. [ Links ]
Vine, W.E. s.a. Vine's expository dictionary of biblical words. Nashville: Thomas Nelson. [ Links ]
Correspondence:
louis.oosthuizen@nwu.ac.za
Published: 18 March 2026












