SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.90 issue1Christian Religious Education and Integrity: a Case Study of Babock University, Nigeria"... Justification by faith" Calvin's grounds for the Reformation author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Koers

    On-line version ISSN 2304-8557Print version ISSN 0023-270X

    Koers (Online) vol.90 n.1 Pretoria  2025

    https://doi.org/10.19108/KOERS.90.1.2635 

    ORIGINAL RESEARCH

     

    A reform Approach to the Philosophy of Education in South Africa: Challanges for Now and for the Future /'n Reformatoriese Benadering tot die Opvoedingsfilosofie in Suid-Afrika: Uitdagings vir Nou en vir die Toekoms

     

     

    Prof Johannes L. van der Walt

    Emeritus Professor Faculty of Education Potchefstroom Campus North-West University South Africa. https://orcid.org/0000-0001-9243-5973

    Correspondence

     

     


    OPSOMMING

    Hierdie artikel beliggaam die outeur se perspektief op die ontwikkeling van die reformatoriese benadering tot die opvoedingsfilosofie in Suid-Afrika, vanaf die middel van die 19de eeu tot en met 2024. Dit begin deur die grondleggende werk van baanbrekersfigure soos professore J Chr Coetzee en HJJ Bingle uit te lig. Die oorsig volg dan die gestadigde agteruitgang van hierdie benadering vanaf ongeveer 1969, toe Suid-Afrikaanse opvoedingsfilosowe hulle toenemend na alternatiewe paradigmas soos pragmatisme, fenomenologie en postmodernisme begin wend het. Hierdie ideologiese skuif het gelei tot 'n afname in die invloed van die reformatoriese tradisie onder beide universiteitsdosente en studente. Deur op drie sleutelstudies te steun, elk met 'n unieke perspektief, spoor die artikel na hoe hierdie transformasie oor ses dekades ontvou het. Die koms van 'n volledig-demokratiese Suid-Afrika in 1994 wat tot grootskaalse hervormings in skool- en universiteitsopvoeding gelei het, het die wending na sekulêre humanisme verder versnel. As gevolg hiervan is die reformatoriese opvoedingsfilosofie in die praktyk na die privaat sfeer verplaas. Hierdie verwikkeling plaas die verantwoordelikheid op opvoedingsfilosowe in private hoeronderwysinstellings om die reformatoriese opvoedingsfilosofiese nalatenskap voort te dra waar vorige geslagte daarmee opgehou het.

    Kernbegrippe: fenomenologie; filosofie van die opvoeding; hoer onderwys; postmodernisme; pragmatisme; private hoeronderwysinstansies; reformatoriese benadering


    ABSTRACT

    This article examines the author's perspective on the development of the reformational approach to the philosophy of education in South Africa, from the mid-19th century through to 2024. It begins by highlighting the foundational work of early pioneering educationists such as Professors J Chr Coetzee and HJJ Bingle. The overview then follows the decline of this approach from around 1969, as South African philosophers of education increasingly turned to alternative paradigms, such as pragmatism, phenomenology, and postmodernism. This ideological shift led to a noticeable decrease in the influence of the reformational tradition among both university lecturers and students. Drawing on three key studies, each providing a unique perspective, the article traces the transformation that has unfolded over the last six decades. The establishment of a fully democratic South Africa in 1994, coupled with major reforms in school and university education, further accelerated the turn toward secular humanism. As a result, the reformational philosophy of education has effectively been relegated to the private sphere. This shift places the responsibility on philosophers of education within private higher education institutions to continue the reformational education philosophical legacy where previous generations stopped.

    Keywords: higher education; phenomenology; philosophy of education; postmodernism; pragmatism; private institutions of higher education; reformational approach


     

     

    Inleidend

    Die Fakulteit Opvoedkunde van die Noordwes-Universiteit in Suid-Afrika is vanjaar (2025) 90 jaar oud. As deel van die viering van die nege dekades van die bestaan daarvan is besluit om 'n boek oor die geskiedenis van die Fakulteit saam te stel. Ek het ingewillig om die hoofstuk oor die aanvangsjare daarvan te skryf, dit wil sê, die periode vanaf die heel eerste onderrig in die opvoedkunde aan die destydse Teologiese Skool op Burgersdorp en later Potchefstroom, vanaf omstreeks 1869 tot ongeveer 1973. Die navorsing vir die hoofstuk het aan die lig gebring dat professore J Chr Coetzee en HJJ Bingle van die destydse Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK), professor CK Oberholzer van die destydse Transvaalse Universiteitskollege (TUK), en andere soos professor CFG Gunter van die Universiteit van Stellenbosch en professor Jde W Keyter van die Universiteit van die Vrystaat baie moeite gedoen het om die opvoedkunde in die algemeen tot 'n selfstandige wetenskap relevant vir die omstandighede hier te lande te ontwikkel.

     

    Die kultuur-historiese agtergrond

    Dit was nie asof Coetzee en sy lewensbeskoulike medestanders met hul pogings om 'n reformatoriese opvoedkunde vir Afrikaanssprekende studente uit te werk met 'n heeltemal skoon lei begin het nie. Hulle kon immers 'n beginpunt vir hul nadenke oor die vakgebied in die geskrifte van Augustinus, Johannes Calvyn, Abraham Kuyper, Herman Bavinck, Jan Waterink, en andere kry. Wat op daardie stadium beskikbaar was, was volgens Coetzee egter nie geskik vir gebruik met onderwysstudente hier te lande nie (Coetzee, 1980). Om hierdie rede het veral Coetzee besluit om 'n nuwe en oorspronklike beslag daaraan gegee in die vier werke wat hy in die 1940's oor die destydse dissiplines van die opvoedkunde gepubliseer het. Aan die Universiteit van Pretoria het Oberholzer dieselfde met die publikasie van sy Prolegomena van 'n prinsipiële pedagogiek in 1968 probeer doen, en daarmee die weg vir die toepassing van die fenomenologie in die opvoedkunde in Suid-Afrika gebaan.

    Om die werk van Coetzee en ander reformatoriese opvoedingsfilosowe en hul voorgangers te verstaan, moet 'n mens die sosiopolitieke konteks daarvan in ag neem. Coetzee en ander Christelik-reformatoriese opvoedingsdenkers en hul voorgangers se bydraes tot die opvoedkunde van die tyd staan in die teken van die destydse Christelik-nasionale onderwysbenadering. Vanaf die Britse besetting van die Kaapkolonie in 1803 het die nuwe owerheid van die standpunt uitgegaan dat kommunikasie in die algemeen beter sou wees deur medium van Engels en dat Engels gevolglik die taalmedium in skoolonderrig moes wees (Wasserman, 2017:3). Hierdie benadering het later herleef in die vorm van die onderwysbeleid wat lord Alfred Milner en sy Direkteur van Onderwys, EB Sargant, ná die einde van die Suid-Afrikaanse Oorlog in die twee oorwonne Boererepublieke ingestel het. Engels is as onderwysmedium afgedwing, en die kurrikulum het 'n sterk Engelse imperialistiese partydigheid vertoon. Hierdie beleid is spoedig in blanke Afrikanerkringe teengewerk deur die toepassing van 'n Christelik-nasionale onderwysbeleid en deur die instelling van private skole deur die destydse Boereleiers (Giliomee, Mbenga & Nasson, 2020:326). Volgens Wasserman (2017:3) was die "sentrale gedagte" van die Christelik-nasionale onderwysbeleid dat die mensdom ooreenkomstig verskillende nasionale groepe onderskeibaar was, en dit het mettertyd die grondslag van die apartheidsbeleid ná 1948 gevorm. Die aanvanklike tentatiewe opleiding wat belangstellende onderwysers ná 1903 aan byvoorbeeld teologiese seminaries ontvang het, was om hulle toe te rus om in hierdie Christelik-Nasionale Onderwys (CNO)-skole onderrig te gee. Dit is op hierdie lewensbeskoulike en politieke grondslag wat Coetzee en sy medestanders voortgebou het.

     

    Twee aanvanklike oorsigtelike beskouings en evaluerings

    Om die werk van Coetzee, Bingle en die reformatoriese opvoedingsfilosowe wat ná hulle gevolg het in konteks te kan sien, en die nodige waardering daarvoor te hê, moet 'n mens kennis neem van twee oorsigtelike beoordelings van die stand van sake rakende die opvoedkunde. Hierdie beoordelings is onderskeidelik uit die pen van prof Ben C Schutte en sy opvolger, prof Jan H van Wyk. Schutte (1969:6) spreek so vroeg as 1969 al twyfel uit of die Christelike (reformatoriese) benadering tot die opvoedkunde nog steeds as "die mees dominante" in Suid-Afrika beskou kan word. Hierdie uitspraak volg kort ná die publikasie van Oberholzer se Prolegomena in 1968 waarin hy (in hoofstuk 7) die waarde van die fenomenologie as ondersoekmetode in die opvoedkunde te berde bring. Schutte het toe reeds raakgesien dat daar 'n hele aantal ander benaderings tot die opvoedkunde in die algemeen, en die opvoedingsfilosofie in die besonder, aan die ontwikkel was. ('n Mens moet hierby in gedagte hou dat Coetzee al in 1940 in gesprek getree het met die pragmatisme van John Dewey, waarna hy as die "moderne opvoeding" [Coetzee, 1940] verwys het.) Volgens Schutte was dit nie moeilik om met sienswyses af te reken wat direk teenoor die Christelik-reformatoriese benadering staan nie. Dit was egter nie eenvoudig om met sienswyses te reken wat in 'n sekere sin nog Christelik/Bybels is maar al sterk deur ander lewensopvatlike raamwerke gekontamineer is nie. Hy noem dan die volgende as voorbeelde van sulke benaderings in Suid-Afrika en ook elders ter wêreld: die Christelike eksistensialisme, die Christelike fenomenologie, die Christelike idealisme en die realisme. Ses jaar later bevestig prof HJJ Bingle hierdie indrukke (Bingle, 1975:75 e.v.).

    In 'n huldigingswerk wat aan prof J Chris Coetzee (Bingle, 1978) opgedra is, gee Van Wyk (1978:1-26) sowat 'n dekade ná dié van Schutte 'n omvangryke en diepgaande oorsig van die stand en ontwikkeling van die opvoedkunde in Suid-Afrika. Van Wyk was prof Ben C Schutte se opvolger as opvoedingsfilosoof aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) se Fakulteit Opvoedkunde. In die proses kontekstualiseer Van Wyk die bydrae van Coetzee teen die agtergrond van ander ontwikkelinge in die opvoedkunde. Hy verwys byvoorbeeld na die opkoms en beoefening van die fenomenologiese benadering, asook die aanpassings wat met verloop van tyd ook aan die fenomenologiese benadering gemaak is. Sulke aanpassings is onder meer deur prof Willem A Landman van die Universiteit van Pretoria aan sy siening van die opvoedingsgebeure gemaak. Van Wyk verwys in die proses ook na opvoedkundige bydraes uit die penne van nie-reformatoriese opvoedkundiges, onder andere uit die destydse Engelssprekende liberaal gesinde wêreld. Dit is uit hierdie oorsig van Van Wyk al duidelik dat 'n reformatoriese benadering op daardie tydstip lank nie meer die dominante benadering tot die opvoedkunde in Suid-Afrika was nie, ook nie meer aan die destydse Afrikaansmedium universiteite nie.

     

    Van Wyk se bydraes verleen stukrag aan dié van sy opvolger(s)

    Sowat twee jaar voor die publikasie van Van Wyk se oorsig en evaluering van die stand van die opvoedingsfilosofie in Suid-Afrika het ek as jong lektor tot die akademiese wêreld toegetree. Min kon ek weet dat prof Van Wyk, my mentor en promotor vir die doktorsgraad, die akademiese gemeenskap nog in daardie selfde jaar as die publikasie - 1978 - sou ontval, en dat Van Wyk se mantel op my skouers sou val. Omdat Van Wyk se omvangryke werk in die filosofie van die opvoeding op daardie tydstip nog grootliks ongepubliseer was, het ek - in samewerking met kollegas - die taak op my geneem om Van Wyk se akademiese nalatenskap te versamel, te orden en te publiseer (vgl. Van Wyk & Van der Walt, 1978; Van der Walt, Dekker & Van Wyk, 1978; Van Wyk, 1979). Op hierdie erfenis het ek en my kollegas wat van toe af saam met my die opvoedingsfilosofie aan die PU vir CHO beoefen het, voortgebou. Ek het saam met kollegas gepoog om die filosofie van die opvoeding (fundamentele opvoedkunde soos dit op daardie stadium bekend gestaan het) deur middel van publikasies verder te voer (vgl. Van der Walt & Dekker, 1978; Van der Walt, 1980; Van der Walt, 1980b; Van der Walt, 1980c; Van der Walt, 1983; Van der Walt, 1987; Van der Walt, 1988; Van der Walt, 1988b; Van der Walt, 1988c). Hierdie kollegas het, onder meer, die volgende persone ingesluit: proff Elise Dekker (later verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika [UNISA]), Marina van Loggerenberg (later verbonde aan die Randse Afrikaanse Universiteit, tans die Universiteit van Johannesburg), Willem Postma (die destydse PU vir CHO), dr. Jeannette Steyn (PU vir CHO), en nog later mnr Charles T Viljoen en me Julialet Rens (tans professor, PU vir CHO).

     

    Medestanders in die stryd om die bestendiging van die reformatoriese opvoedingsfilosofie

    Wat die beoefening van die reformatoriese opvoedkunde betref, was ek vir die grootste deel van my voltydse hoogleraarskap in die Filosofie van die Opvoeding (1980 tot 1994) bevoorreg om op publikasies en die akademiese samewerking van die volgende reformatoriese opvoedingsfilosowe te kon staatmaak: professore PG Schoeman (Grondslae en implikasies van 'n Christelike opvoedingsfilosofie, 1975; Aspekte van die wysgerige pedagogiek, 1979; Introduction to the philosophy of education, 1980; Wysgerige pedagogiek, 1983; Historical and fundamental education, 1985), OA Henning, HJ van der Linde en HJ Strauss van die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS). Voorts kon ek ook op die morele ondersteuning van kollegas verbonde aan UNISA soos professore EJ (Johan) van Niekerk, OJ (Ockie) van Schalkwyk, MJ (Thinus) Dreckmeyr en Henry JS Stone, asook prof PJ Heiberg (verbonde aan die destydse Universiteit van die Noorde) staatmaak.

    Ek het nie soveel van die sistematiek van die Wysbegeerte van die Wetsidee soos sommige van my kollegas in die opvoedingsfilosofie - veral aan die UOVS - gebruik gemaak nie. Tog is ek tot vandag toe nog baie dank verskuldig aan die beoefenaars daarvan vir die vormende invloed wat hulle op my werk en bydraes gehad het. Ek maak tot vandag toe nog gebruik van prof DFM (Danie) Strauss se boeke Inleiding tot die kosmologie (Strauss, 1979) en Philosophy: Discipline of the disciplines (Strauss, 2009). Ek maak ook van sy ander publikasies gebruik wanneer ek 'n standpunt of 'n sienswyse oor 'n opvoedings-, onderwys- of opvoedingsfilosofiese vraagstuk moet uitwerk. (Omdat die fokus in hierdie uiteensetting op die situasie in Suid-Afrika is, word die waardevolle bydraes van buitelandse reformatoriese denkers soos Harro van Brummelen, John van Dyk, Richard J Edlin, Stuart Fowler, Norman de Jong, Cornelius van Til, Gloria Stronks, en vele andere eenkant gelaat.) Vanuit die suiwer filosofie het prof Jan AL Taljaard van die destydse PU vir CHO ook belangrike bydraes tot die opvoedingsfilosofie gemaak.

     

    Die daaropvolgende drie dekades (1994-2024)

    Die sistematiese beoefening van die reformatoriese opvoedingsfilo-sofie begin die kreeftegang te gaan

    Die aanvangsdatum van my dekaanskap van die Fakulteit Opvoedkunde in 1994 het saamgeval met Suid-Afrika se oorgang na 'n volledige demokrasie. Wat die beoefening van die Filosofie van die Opvoeding aan die PU vir CHO betref, het dit spoedig geblyk dat daar nie meer 'n aptyt onder jonger kollegas was vir die beoefening van die dissipline vanuit die reformatoriese perspektief wat tot op daardie tydstip gangbaar was nie. Soos aan ander hoëronderwysinstansies hier te lande en ook elders ter wêreld was daar 'n soort postmodernistiese neiging weg van enige sistematiese benadering tot die opvoedingsfilosofie ten gunste van 'n meer algemene en sekulêre probleem- en grondslaggerigte benadering. In 2005 het ek my eie analise van die stand van die opvoedingsfilosofie toegevoeg tot dié van professore Ben Schutte (1969) en Jan van Wyk (1978). In my ontleding (Van der Walt, 2005:340-344) skryf ek die wending en vervlakking in die beoefening van die reformatoriese opvoedkunde aan minstens twee faktore toe: die inslag van die postmodernisme, en 'n soort "ekster"- / "stukkie-en-brokkie"-benadering tot die opvoedkunde soos deur die eksterne omgewing (destyds in die gedaante van Kurrikulum 2005) voorgeskryf en vereis. Ek kom aan die einde van die ontleding van die situasie, ondanks al hierdie wendinge, tot die volgende gevolgtrekking:

    Die verwysing na allerlei metafore uit die filosofie en die sosiologie van die wetenskap [in my ontleding van die situasie in 2005] het 'n mens in staat gestel om raak te sien hoedat die omstandighede vir die beoefening [van die opvoedingsfilosofie] ongunstig geraak het. Die tyd het egter nou aangebreek dat daar weer ernstig gekyk moet word na maniere om dit te laat herleef. Daar is soveel probleme op die terrein van opvoeding, onderwys en opvoedkunde, dat daar tans wel plek is vir die stelselmatige uitbouing van die opvoedingsfilosofie as 'n volwaardige wetenskap (Van der Walt, 2005:345).

    Hierdie oproep het egter grootliks op dowe ore geval. Die skrif was aan die muur: Die opvoedkunde, soos dit tot op daardie stadium aan histories-Afrikaansmedium hoëronderwysinstansies beoefen is, was aan die taan. Die belangrikste rede vir die ondergang daarvan was die feit dat blanke Engelssprekende opvoedkundiges soos Linda Chisholm, Penny Enslin, Shirley Pendlebury en Wally Morrow, asook swart opvoedkundiges soos Paul C Luthuli, NQ Nkabela en SMG Mahlomaholo dit as bevorderend van 'n Christelik-nasionale benadering tot die opvoeding en die skool se onderwys beskou het (vgl. Van der Vyver, 1969:278). Die aanstelling van opvoedkundepersoneel en -dekane wat ander lewensopvatlike en politieke akademiese gesindhede gehuldig het, of wat bereid was om hulle godsdienstig-lewensbeskoulike oortuigings tydens die beoefening van die wetenskap op die agtergrond te laat, was kenmerkend van die opvoedkunde sedert 1994. Ná 2000 was dit ook toenemend die geval, toe nuwe hoëronderwysinstansies deur samevoegings en -smeltings ontstaan het. Byna alle histories-Afrikaansmedium universiteite het van bestuur en personeelbesetting verander. Hierna het die behoefte aan 'n sistematiese opvoedingsfilosofie wat op 'n Christelike/reformatoriese grondslag gegrond is stadig maar seker, ook weens 'n verandering in die samestelling van die studentekorps, verdwyn.

    'n Toenemend sneller agteruitgang

    Sedert 2011 het ek nog 'n struikelblok op die pad van 'n reformatoriese/Christelike opvoedingsfilosofie raakgesien. Dit het behels dat heelwat navorsing in die opvoedkunde gepoog het om binne die breë raamwerk van die Curriculum and assessment policy statements: National curriculum statement (DBE, 2011) gesitueer te wees2,3. Die voorposen baanbrekersdenke oor opvoeding en onderwys4 van voor 1994 het in die proses op die agtergrond verdwyn. Daar het 'n sterk pragmatiese dimensie in die opvoedkundige denke ingetree, en miskien ook 'n sterker polities-reaktiewe en selfs konformerende dimensie in die vorm van reaksies op politieke besluite van die dag. Hiervan is die onlangse promulgering van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (BELA) (RSA, 2024) 'n goeie voorbeeld. Ek kan die vervlakking wat daar in die opvoedkunde in die algemeen en in die opvoedingsfilosofie in die besonder ingetree het, nie beter tot uitdrukking bring as wat 'n keurder onlangs opgemerk het na aanleiding van iets wat ek in 'n artikel geskryf het nie. Hierdie anonieme persoon het soos volg geskryf:

    There is a general resistance to the use of the public school system to teach on interfaith issues, because the government is supposed to be doctrinally and ideologically neutral. This is very different to the way education was used in the Apartheid era. The other problem is that there is a level of conflict between the Department of Basic Education (DBE) [sic] because they have been largely captured by very liberal elements. Their major ideological push is to infuse the education system with transgender ideology, commencing at pre-primary and primary school levels.

    Hierdie "soort" denke oor opvoeding en die opvoedingsfilosofie het ook deurgedring tot in die navorsing wat deesdae aan (Suid-Afrikaanse) universiteite gedoen word.

     

    Sprankies van hoop vir die toekoms: Die verskaffing van ruimte deur die huidige menseregtebedeling

    As dekaan vanaf 1994 tot 2000 kon ek nie voltyds aandag gee aan die uitbouing van die reformatoriese filosofie van die opvoeding nie, maar het nietemin daarmee volhard - tot vandag toe. Omdat die Noordwes-Universiteit waaraan ek die afgelope twee dekades as navorsingsgenoot verbonde is die beginsel van vryheid van godsdiens, mening en spraak eerbiedig, kon ek steeds voortgaan met navorsing en publikasies vanuit 'n reformatoriese perspektief. Ná my vervroegde aftrede in 2000 het ek met my navorsing op hierdie manier voortgegaan, maar my bydraes was uiteraard nie meer in die vorm van omvattende boeke oor opvoedingsfilosofiese vraagstukke nie. Ek het wel heelwat hoofstukke tot boeke bygedra en het ook 'n hele aantal tydskrifartikels hieroor geskryf, waarvan baie onmiskenbaar reformatories in hul inslag en skering is. (Weens 'n sameloop van omstandighede is die geleentheid my in 2024 gegun om weer 'n nuwe boek die lig te laat sien, in hierdie geval oor die reformatoriese benadering tot die navorsingsmetodologie [Van der Walt, 2024]).

    Ek is dankbaar om te kan meld dat daar tot op datum nog 'n publikasie-infrastruktuur bestaan wat die opvoedingsfilosoof wat vanuit 'n reformatoriese denkraamwerk navorsing doen en publiseer, kan gebruik. Dink byvoorbeeld aan die uitmuntende publikasiegeleenthede wat die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys in sy tydskrifte Roeping en riglyne en Tydskrif vir Christelike wetenskap (sowel Afrikaans- as Engelstalig) bied. Hierby moet ook die herlewing van Koers - Bulletin vir Christelike wetenskap vermeld word, wat oor die jare heen 'n belangrike publikasieplek vir reformatoriese navorsingsbydraes was, en nou weer is. Tydskrifte soos In die Skriflig, die Hervormde teologiese tydskrif en die International journal of religious freedom, laasgenoemde aan die Trinity Western University in Kanada gesetel, bied eweneens publikasiegeleenthede. Dieselfde kan gesê word van die Journal of research in Christian education en Christian higher education, twee tydskrifte wat in die VSA gesetel is en wat baie moeite met die publikasie van opvoedkundige navorsing vanuit 'n reformatoriese perspektief doen.

     

    Die uitdaging tans en vir die toekoms wat die beoefening van die reformatoriese opvoedingsfilosofie in Suid-Afrika betref

    Die oorhandiging van die aflosstokkie

    Dit is dan op hierdie punt waar kollegas verbonde aan onafhanklike of privaat hoëronderwysinstansies soos Aros, Akademia en die Cedar International Academy as die toekomstige draers en uitbouers van 'n reformatoriese opvoedingsfilosofie in Suid-Afrika na vore tree. Ek het in my betrokkenheid by hierdie drie, en ander soortgelyke instansies, gemerk dat hulle oor opkomende akademici beskik op wie die mantel van die reformatoriese opvoedingsfilosofie met vrug kan val.

    Diegene wat aan instansies soos die bogenoemdes verbonde is en wat hulle geroepe voel om hul tyd en aandag te skenk aan die uitbouing van die reformatoriese opvoedkunde waar ek en kollegas soos prof Pieter G Schoeman van die UOVS dit ná 1994 gelaat het, moet die tyd en die middele gegee word om verdere stukrag aan die opvoedingsfilosofie as vakgebied te gee. Anders gestel, hulle moet die aflosstok optel wat hulle voorgangers vanaf 1994 aan die openbare hoëronderwysinstansies laat val het, en verder daarmee hardloop.

    Hierdie artikel is 'n oproep aan hulle om op so 'n manier met die stokkie van die reformatoriese opvoedingsfilosofie te hardloop dat hulle dit op hul beurt effektief en met goeie gevolg aan die volgende geslag reformatoriese opvoedingsfilosowe sal kan oorgee.

    Die belangrikheid daarvan om die reformatoriese opvoedingsfilosofie nog verder stelselmatig uit te bou

    Ek herinner die opkomende geslag opvoedkundiges/opvoedingsfilosowe graag aan die volgende: Die baanbreker van die reformatoriese opvoedingsfilosofie in Suid-Afrika, prof J Chris Coetzee, het hierdie dissipline van die opvoedkunde nie om dowe neute as die belangrikste van al die opvoedkundedissiplines geag nie; dit gee rigting aan die beoefening van al die ander opvoedkundedissiplines en ook aan die praktiese opleiding van studente vir skoolonderwys. In sy beoordeling van die standhoudendheid van die opvoedingsfilosofiese arbeid wat Coetzee verrig het, het Van Wyk (1978:7) soos volg geskryf:

    Veral is dit ... sy Die eerste beginsels van die Calvinistiese opvoeding (1940) en sy Inleiding tot die Algemene Teoretiese Opvoedkunde (1944) wat riglyne neergelê het wat hulle relevansie vir alle tye sal behou. Sy Skrifgefundeerde siening van die Calvinistiese opvoeding (wese, doel, metode, inhoud, vryheid, gesag, tug) en van die opvoedingsinstellings (skool, ouerhuis, staat, kerk) en hulle onderlinge verhouding tot mekaar, sowel as sy skriftuurlike siening van die onderwysstelsel, bied perspektiewe vir alle tye en plekke.

    Coetzee (1980) self het tereg in 'n onderhoud die plek, doel en taak van die filosofie van die opvoeding soos volg gestel:

    Is daar enige wetenskap, enige opvoedkunde, wat beoefen kan word sonder 'n grondslag, sonder 'n uitgangspunt, sonder 'n fundament? ... (alle opvoedkundiges) het 'n beginsel waarop hulle hulle opvoedkunde grond. Ek kom terug op die feit: jy moet 'n fundament hê. Maar daarop moet jy 'n gebou oprig wat 'n struktuur is wat behoorlik aanmekaar gesit is, en daarvoor het die reformatoriese wetenskaplike die gewone metodes van die wetenskap nodig. Christelike opvoedkunde kan al die metodes gebruik wat ander wetenskappe gebruik, maar gebruik dit vir 'n bepaalde struktuur en vir 'n bepaalde doel. Daarin is ons [Christelike] opvoedkunde geregverdig maar ook anders as dié van andere.

    Andermaal 'n oproep aan opkomende opvoedkundiges, en veral opvoedingsfilosowe

    Die opkomende geslag opvoedingsfilosofiese denkers staan dus voor twee groot uitdagings. Die eerste uitdaging behels om, aan die een kant, binne die breë beginselraamwerk te bly dink wat Coetzee en sy navolgers bedink en ontwikkel het ("vir alle tye en plekke", soos Van Wyk dit gestel het). Die tweede uitdaging is om die uitdagings van die 21ste eeu op grond van daardie beginselraamwerk die hoof te bied. Hiermee word bedoel dat probleme soos die volgende aangepak moet word en dat beginselrigting hieraan gegee moet word: Wat is reformatoriese opvoedingsdenke en -filosofie in hierdie tydsgewrig waar studente met die 4IR en 5IR gekonfronteer word? 4IR verwys na tegnologie wat die mens ondersteun, byvoorbeeld kunsmatige intelligensie. Die 5IR verwys op sy beurt na die mens wat 'n masjien "word", onder meer deur die inplanting van rekenaarskyfies - 'n mens kan dan bloot "dink" aan iets, en dit verskyn op die rekenaarskerm, waarna die rekenaar dit prosesseer. Met hierdie nuwe verwikkelinge in ons omwêreld verskyn daar allerlei nuwe ontologiese, kosmologiese, antropologiese, kenteoretiese en etiese vraagstukke op die terrein van die opvoeding en onderwys - 'n vrugbare terrein vir opkomende opvoedingsfilosowe om vanuit 'n reformatoriese denkraamwerk dit te bedink.

    Ons staan nou by 'n nuwe keerpunt wat die opvoedingsfilosofie betref. In 1969 kon prof Ben C Schutte (1969:6) hom verheug in die feit dat die promulgering van wet 39 van 1967 (die Wet op die Nasionale Onderwysbeleid) Christelike onderwys as 'n saak van openbare belang vir alle blanke skole verklaar het. (Volgens hierdie wet moes alle skole lewensbeskoulik 'n Christelik-nasionale karakter dra.) Hierteenoor staan ons sedert die begin van hierdie eeu voor die werklikheid dat die "nasionale" sowel as die "Christelike" na die private sfeer terug geskuif is, soos voor 1967. Dit het nou andermaal van kernbelang geword vir Christelike onafhanklike skole, en vir private hoëronderwysinstansies soos wat hier bo genoem is, om die belange van 'n reformatoriese opvoedingsfilosofie verder te dra en te bevorder. Die situasie rondom Christelike onderwys en die beoefening van 'n reformatoriese opvoedingsfilosofie is vergelykbaar met dié van Afrikaans, soos deur Alida Kok (2024:16) van Akademia beskryf. Sy skryf oor Afrikaans:

    En hoe kan dit jou nie pla nie dat ons klein kultuurplaneet tans aan die lewe gehou word deur 'n paar gemeenskapsinstellings, merendeels in die noorde van die land? Afrikaans bestaan nou nog net in 'n klein media-landskap en in opvoedingsinstellings wat goeie skole, sommige eilande in openbare universiteite en Akademia in die private sektor insluit.

    Wat sy oor die status van Afrikaans geskryf het, is mutatis mutandis van toepassing op die status van Christelike onderwys en op die verdere uitbouing van die Christelik-reformatoriese opvoedingsfilosofie in ons land. Hierdie twee aangeleenthede het gaandeweg en sienderoë sedert 1994 'n geprivatiseerde taak en aangeleentheid geword.

     

    Slotopmerking

    Ons durf as reformatoriese opvoedkundiges en opvoedingsfilosowe nie hierdie taak verwaarloos nie. Stone (1978:171) het reeds aan die einde van die 20ste eeu gestel dat dit die voortdurende plig en taak van opvoedingsfilosowe is om oor opvoeding en onderwys te besin, wel in die lig van 'n konstante lewensbeskoulik-normatiewe ideaal, en dat

    hierdie ideaal nie in beginsel deur veranderinge in die samelewing geraak word nie, wel in sy gestaltegewing. Nuwe tye stel immers ook nuwe eise. 'n Vashou aan ou vorme van hierdie ideaal kan ewe skadelik wees as 'n beginsellose prysgawe daarvan in die gees van verandering. Daarom kan daar vanuit 'n Christelike oortuiging geen groter verantwoordelikheid vir die opvoedkundige navorser van nou opgelê word nie as die pedagogiese fundering van hierdie ideaal en die soek van toekomsmoontlikhede daarvoor in die lig van konstantheid en verandering.

    Hierdie woorde is vandag nog net so van toepassing as toe hulle die eerste keer neergepen is.

    die filosofiese (voorteoretiese) grondslae van die betrokke vakgebied, dit wil sê die opvoedkunde

    die teoretiese (wetenskaplike) grondslae van die opvoedkunde

    die vakfilosofie van die opvoedkunde en die grondvrae rakende die opvoeding: doel, inhoud, metode, moontlikhede, beperkings, ensovoorts

    die wetenskapsfilosofie van die opvoedkunde

    die navorsingsmetodologie van die opvoedkunde

    relevante vraagstukke wat met die opvoeding en die opvoedkunde verband hou - in die lig van die voorgaande (vgl. Schoeman, 1975, 1979; Van der Walt, Dekker & Van Wyk, 1978; Van der Walt & Dekker, 1978; Van der Walt, 1980c)

     

    References

    Biesta, G. 2025. De mythen van gelijke kansen. (In Van Putten, R. & Van der Zee, T., red. Onderwijs voorbij de meritocratie. Nijmegen: Radboud University Press. pp. 45-59)        [ Links ]

    Bingle, H.J.J. 1975. Persoonlike onderhoud met prof. J.L. van der Walt. Potchefstroom.         [ Links ]

    Bingle, H.J.J. 1978. Besinning en verantwoording. Durban: Butterworth.         [ Links ]

    Coetzee, J.Chr. 1940. Die moderne opvoeding: 'n Histories-kritiese studie. Pretoria:J.         [ Links ]

    Coetzee, J.Chr. 1980. Persoonlike onderhoud met prof. J.L. van der Walt. Pretoria.         [ Links ]

    Department of Basic Education (DBE). 2011. Curriculum and assessment policy statements: National curriculum statement. Pretoria: Department of Basic Education.         [ Links ]

    Giliomee, H., Mbenga, B. & Nasson, B. 2020. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Kok, A. 2024. Hoe skud jy Afrikaans af? Beeld, 1 Augustus:16.         [ Links ]

    Oberholzer, C.K. 1976. Prolegomena van 'n prinsipiële pedagogiek. Kaapstad: HAUM.         [ Links ]

    Republic of South Africa (RSA). 2024. Basic education laws amendment bill. Government gazette, Act No. 32 of 2024, 711(51258), 16 September.         [ Links ]

    Schoeman, P.G. 1975. Grondslae en implikasies van 'n Christelike opvoedingsfilosofie. Bloemfontein: SACUM.         [ Links ]

    Schoeman, P.G. 1979. Aspekte van die wysgerige pedagogiek. Bloemfontein: SACUM.         [ Links ]

    Schutte, B.C. 1969. Opvoedkunde aan die P.U. vir C.H.O.: 'n Toekomsblik. Koers, 37(1):5-8.         [ Links ]

    Stone, H.J.S. 1978. Ou en nuwe horisonne in die opvoedkundige navorsing. (In Bingle, H.J.J., red. Besinning en verantwoording. Durban: Butterworth. pp. 161-173)        [ Links ]

    Strauss, D.F.M. 1979. Inleiding tot die kosmologie. Bloemfontein: SACUM.         [ Links ]

    Strauss, D.F.M. 2009. Philosophy: Discipline of the disciplines. Grand Rapids: Paideia Institute Press.         [ Links ]

    Van der Vyver, G.C.P., ed. 1969. My erfenis is vir my mooi. Potchefstroom: Calvyn Jubileum Boekefonds.         [ Links ]

    Van der Walt, J.L. 1980a. Wetenskapsleer van die opvoedkunde. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

    Van der Walt, J.L. 1980b. Grondslae van die opvoedkunde. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

    Van der Walt, J.L. 1980c. Opvoedkunde as lewende wetenskap. Durban: Butterworth.         [ Links ]

    Van der Walt, J.L. 1983. Enkele irrasionalistiese strominge in die fundamentele opvoedkunde: Grepe uit die twintigste eeuse opvoedingsteoretiese beskouinge. Potchefstroom: Sentrale Publikasies, PU vir CHO.         [ Links ]

    Van der Walt, J.L. 1987. Strominge in die opvoedingsteorie. Hillcrest: Owen Burgess.         [ Links ]

    Van der Walt, J.L. 1988. Koerswysers vir praktiese opvoeding. (In Duvenhage, B., ed. Christelike perspektiewe op opvoeding en onderwys. Pretoria: SACUM. pp. 44-110)        [ Links ]

    Van der Walt, J.L. 1988b. Fundamentele opvoedkunde in drie dimensies. Hillcrest: Owen Burgess.         [ Links ]

    Van der Walt, J.L. 1988c. Drie metodes in die fundamentele opvoedkunde en die ontisiteit van opvoeding. Pretoria: HSRC.         [ Links ]

    Van der Walt, J L. 2005. Ses dekades opvoedingsfilosofie sedert J. Chris Coetzee - Waar staan ons vandag? Koers, 70(3):331-349. https://doi.org/10.4102/koers.v70i3.274        [ Links ]

    Van der Walt, J.L. 2024. Navorsing - 'n reformatoriese perspektief. Bloemfontein: VCHO.         [ Links ]

    Van der Walt, J.L., Dekker, E.I. & Van Wyk, J.H. 1978. Inleiding tot die Fundamentele Opvoedkunde: Deel I. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

    Van der Walt,J.L. & Dekker, E.I. 1978. Inleiding tot die fundamentele opvoedkunde: Deel II. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

    Van Wyk, J.H. & Van der Walt, J.L. 1978. Kosmosentriese opvoedings- en opvoedkundebeskouinge. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

    Van Wyk,J.H. 1978. Opvoedkundige denke in die Republiek van Suid-Afrika - strominge en teenstrominge: 'n Waardering. (In Bingle, H.J.J., red. Besinning en verantwoording. Durban: Butterworth. pp. 1-26)        [ Links ]

    Van Wyk, J.H. 1979. Strominge in die opvoedingsteorie. Durban: Butterworth.         [ Links ]

    Wasserman, J. 2017. Teaching social scienes. Goodwood: Oxford University Press Southern Africa.         [ Links ]

    Van der Walt,J.L. & Dekker, E.I. 1978. Inleiding tot die fundamentele opvoedkunde: Deel II. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

    Van der Walt, J.L. 1980. Opvoedkunde as lewende wetenskap. Durban: Butterworth.         [ Links ]

    Van Wyk,J.H. 1978. Opvoedkundige denke in die Republiek van Suid-Afrika - strominge en teenstrominge: 'n Waardering. (In Bingle, H.J.J., red. Besinning en verantwoording. Durban: Butterworth. pp. 1-26)        [ Links ]

    Van Wyk, J.H. & Van der Walt, J.L. 1978. Kosmosentriese opvoedings- en opvoedkundebeskouinge. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

    Van Wyk, J.H. 1979. Strominge in die opvoedingsteorie. Durban: Butterworth.         [ Links ]

    Wasserman, J. 2017. Teaching social scienes. Goodwood: Oxford University Press Southern Africa.         [ Links ]

     

     

    Correspondence:
    hannesv290@gmail.com

    Published: 10 October 2025

     

     

    1 Hierdie artikel is 'n verwerking van openbare lesings wat op 17 Oktober 2024 te Pretoria by Akademia se Fakulteit Opvoedkunde in Centurion en op 20 Maart 2025 by Aros in Montanapark gehou is.
    2 Enkele voorbeelde hiervan is: demokratiese waardes, gehalte van lewe, burgerskapsopvoeding, ongelykhede in die samelewing en die regstelling daarvan, sosiale geregtigheid, 'n suksesvolle lewe in 'n veranderende samelewing, die mens se verhouding met die omgewing, sosiale gesondheid, menseregte, kommunikasievaardighede, misdaad en geweld in die samelewing, loopbaankeuses, studievaardighede, lewenskeuses, en vele meer. Hierdie benadering is dus meer vraagstukgerig as wat dit vanuit 'n oorkoepelende filosofiese raamwerk ondersoek word.
    3 Om so vasgevang in die een of ander oorhoofse keurslyf te wees, is nie uniek aan die onderwys in Suid-Afrika nie. Biesta (2025:52) skryf heel onlangs soos volg oor die situasie tans in Nederland: "Een ding dat ... opvalt, is dat het beschikbare 'menu' in de achterliggende jaren steeds schraler is geworden. Van een gelijke kans op onderwijs en success in de volle breedte gaat het, onder andere also gevolg van de druk die systemen als PISA op definities van onderwijskwaliteit uitoefenen, om success in een steeds kleiner palet van vakken. Onder de noemer van 'basisvaardigheden' ... lijkt dit in Nederland inmiddels nog verder ingeperkt tot taal en rekenen (in een merkwaardige combinatie met burgerschap). Het is [een] verschraling die problematisch is
    4 As die filosofie van die opvoeding en die opvoedkunde behoort die opvoedingsfilosofie - ideaal gesproke - op 'n formele en sistematiese manier die volgende kennisterreine te oorsien, ontleed en ondersoek: