SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.90 número1A plea for the criminalisation of stigma against ex-offenders in South AfricaBuilding resilient communities in the midst of shame, guilt, fear, witchcraft, and HIV/AIDS índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Journal

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Koers

    versão On-line ISSN 2304-8557versão impressa ISSN 0023-270X

    Koers (Online) vol.90 no.1 Pretoria  2025

    https://doi.org/10.19108/koers.90.1.2604 

    ORIGINAL RESEARCH

     

    Gelykheid as rewolusionêre begrip by die ANC en Groen van Prinsterer: 'n Tydige waarskuwing vir vandag?

     

    Equality as revolutionary concept with the ANC and Groen van Prinsterer: A timely warning for today?

     

     

    Paul J. MaritzI; Jan Adriaan SchlebuschII

    IIndependent. pjmaritz@gmail.com; https://orcid.org/0000-0002-2921-9220
    IIFakulteit Teologie, Departement Sistematiese en, Historiese Teologie, University of Pretoria, Pretoria, South Africa. adi.schlebusch@yahoo.com; https://orcid.org/0000-0001-8563-6478

     

     


    OPSOMMING

    Gelykheid Is sedert die ontstaan van die ANC 'n kernbegrip in die party se ideologiese raamwerk. Hierdie strewe na gelykheid kom duidelik na vore in verskeie sleuteldokumente, maar die vraag oor hoe die ANc gelykheid teoreties verstaan en in die praktyk toepas, bly kompleks en onvoldoende nagevors. 'n Ondersoek na hierdie bronne dui daarop dat die party gelykheid nie net in die klassieke sin van die woord, as gelykheid voor die reg, verstaan word nie, maar eerder as 'n rewolusionêre gelykheid wat beslag moet vind op sosio-ekonomiese gebied.
    Die ANC se konsep van gelykheid moet geplaas word binne 'n breër historiese debat oor die aard van gelykheid, wat sy oorsprong in die Verligting het. Hierdie rewolusionêre idee, met wortels in die denke van Jean-Jacques Rousseau en Karl Marx, is in diepte bekritiseer deur die Nederlandse staatsman Guillaume Groen van Prinsterer. Hy het gewaarsku dat hierdie soort gelykheid samelewingsverbande kan ondermyn, sosiale samehorigheid kan skade doen en eiendomsregte kan skend. Hierdie kritiek beklemtoon die belangrikheid daarvan om af te sien van 'n ideologiese raamwerk wat teenproduktief op samelewings inwerk, ten einde burgerlike vryhede en sosiale vooruitgang te beskerm - ook in Suid-Afrika se hedendaagse politieke konteks.

    Kernbegrippe: ANC; gelykheid; Guillaume Groen van Prinsterer; Nasionale Demokratiese Rewolusie.


    ABSTRACT

    Since its inception, the concept of equality has been a central tenet in the ideological framework of the ANC. This pursuit of equality is evident in various key documents throughout the party's history, but the question of how the ANC understands equality on a theoretical level, and how the party implements it in practice, remains complex and insufficiently researched. An examination of these sources indicates that the party does not merely understand equality in the classical sense of equality before the law, but rather as a revolutionary form of equality pertaining to the socio-economic sphere.
    The ANC's conceptualisation of equality must be situated within a broader historical debate about the nature of equality, which originated during the Enlightenment. This revolutionary notion, rooted in the thought of Jean-Jacques Rousseau and Karl Marx, has most notably been critiqued by the Dutch statesman Guillaume Groen van Prinsterer. He warned that this form of equality could undermine social bonds, damage societal cohesion, and violate property rights. His critique underscores the importance of rejecting an ideological framework that has historically proven counterproductive to societal development, in order to safeguard civil liberties and ensure socio-economic progress - also within South Africa's contemporary political context.

    Key concepts: ANC, equality, Guillaume Groen van Prinsterer; National Democratic Revolution.


     

     

    1. Inleiding

    Selfs 'n vluglees van die ANC se selfgegenereerde dokumente oor die afgelope 112 jaar maak dit aan die leser duidelik dat gelykheid nog altyd een van hul primêre ideologiese doelwitte was (ANC, 2024). Reeds in September 1919, met die verskyning van hul eerste grondwet, druk die SANNC (South African National Native Congress), die voorganger van die ANC, hul strewe uit as 'n strewe na "equitable representation of Natives in Parliament or in those public bodies that are vested with legislative powers or in those charged with the duty of administering matters affecting the Coloured races".

    1.1 Die ANC se volgehoue gelykheidstrewe

    'n Poging om alle verwysings na gelykheid in ANC-literatuur van 1912 af tot en met 2024 te katalogiseer sou 'n aparte stuk navorsing regverdig. Die doel hier is slegs om aan te toon dat hierdie strewe van sy aanvang aan af in die ANC se politieke filosofie teenwoordig was, en nooit getaan het nie. Oorweeg 'n mens die Vryheidsmanifes van 1955, dan word onder andere "Equal Rights"(The Freedom Charter, 1955) bepleit, asook "All Shall be Equal Before the Law" (ibid.), en later "All Shall Enjoy Equal Human Rights" (ibid.), en selfs nog later "Education shall be free, compulsory, universal and equal for all children." (ibid.) Dat gelykheid een van die sentrale doelstellings van die Vryheidsmanifes was, word verder deur die 1969 Strategy and tactics document (ANC, 1969) bevestig, as dit stel: "The response of the state towards the Congress of the People1 Campaign and the adoption of the Freedom Charter demonstrated its intention to crush what had previously been accepted as legitimate expressions for equality."

    Die Interim 1993-Grondwet (Department of Justice and Constitutional Development, 1994), wat die party se visie vir die komende demokratiese Suid-Afrika uitdruk, stel: "Every person shall have the right to equality before the law and to equal protection of the law," en vervolg verder (ibid.):

    This section shall not preclude measures designed to achieve the adequate protection and advancement of persons or groups or categories of persons disadvantaged by unfair discrimination, in order to enable their full and equal enjoyment of all rights and freedoms. (b) Every person or community dispossessed of rights in land before the commencement of this Constitution under any law which would have been inconsistent with subsection (2) had that subsection been in operation at the time of the dispossession, shall be entitled to claim restitution of such rights subject to and in accordance with sections 121, 122 and 123.2

    Die idee van gelykheid kom ook telkemale in die party se 2022-resolusies (ANC, 2023) na vore. Onder andere stel hierdie resolusies:

    This moment requires clarity of thought, firm conviction and courage, decisiveness as well as an unshaken commitment to the ideals that have inspired generations of South Africa's freedom fighters who sacrificed and suffered so that our country can be free, and our people can live as equals, with their human dignity fully restored.

    Hierdie keur van ANC-literatuur dien hul doel deur te bevestig dat gelykheid van meet af aan vir die ANC belangrik was. Dit laat egter steeds 'n kardinale vraag onbeantwoord, naamlik: Hoe verstaan die politieke party wat Suid-Afrika vir die afgelope 30 jaar regeer het die begrip gelykheid?

    1.2 Onduidelikheid by die aanwending van gelykheid as akademiese begrip

    In die teks van die ANC se 1955-Vryheidsmanifes mag 'n verklaring soos byvoorbeeld "All Shall be Equal Before the Law" "(The Freedom Charter, 1955) vir heelparty na die normale, tradisionele begrip gelykheid voorkom - gelykheid soos wat dit ten minste sedert die tyd van die antieke Atheners verstaan is. Die ikoniese generaal Perikles, wat gedurende die vyfde eeu voor Christus geleef het, stel dit soos volg in sy Begrafnisrede, wat in die tweede boek van Thucydides se Peloponnesiese Oorlog, verskyn:

    μέτεστι δέ κατά μεν τούς νόμους προς τα ίδια διάφορα πασι το ίσον3

    Een Engelse vertaling wat tans algemeen aanvaar word, is dié van Hammond (2009:91), waar Perikles se woorde soos volg vertaal word: "Our laws give equal rights to all in private disputes." Ten einde te verstaan wat presies met ίσον (gelykheid) bedoel word, is 'n vergelyking van die vertaalgeskiedenis nuttig, omdat gelykheid hier baie spesifiek betrekking het op τούς νόμους (tot die wette / van die wette4). Hobbes se 1843-vertaling interpreteer dit so: "Wherein, though there be an equality amongst all men in point of law for their private controversies" en Crawley se latere 1910-vertaling verskyn so: "If we look to the laws, they afford equal justice to all in their private differences". Dat daar drie verskillende vertalings van τούς νόμους is, eers as "law", toe as "justice", en later as "right", dra by tot kompleksiteit, maar die leser kan nietemin verstaan dat gelykheid in antieke Atene verstaan is as 'n gelykheid met betrekking tot regulasie, dus, dat daar in private kwessies na verskillende mense as gelyk, dit wil sê sonder vooroordeel, gekyk sal word in regspraak.

    Alhoewel hierdie artikel nie die gelykheidsbegrip van klassieke Atene as uitgangspunt neem nie, maar eerder 'n ryker en voller reformatoriese verstaan van gelykheid as gevalle skepsels voor die Skepper, gelyk in die sin dat ons "almal in sonde ontvang en gebore word" (Heidelbergse Kategismus, Sondag 3: Vraag en Antwoord 7), is dit nodig om kennis te neem van die klassieke tradisie waarop die ANC hul beroep en voorgee om na te streef, naamlik die van gelykheid voor die reg. Maar is hierdie klassieke gelykheid werklik dit waarna die ANC streef? Die lesers wat hulself met die ANC se beleidsdokumente besig hou, sal benewens die duideliker uitdrukkings van gelykheid wat bo vermeld is ook afkom op minder vanselfsprekende uitings van gelykheid. In die bogenoemde Vryheidsmanifes van 1955 staan onder andere, soos reeds vermeld is, ook: "Education shall be free, compulsory, universal and equal for all children." Heelwat Suid-Afrikaners onthou nog die vernietigende effek van 2015 en 2016 se #FeesMustFall-optogte, wat juis hierdie tipe gelykheid, dalk eerder 'n gelykheid van geleenthede, wou verwesenlik. Hoe presies lyk gelyke opleiding in alle skole en universiteite? Is dit haalbaar of selfs wenslik? Selfs belangriker: Is dit steeds gelykheid voor die reg, of word tradisionele gelykheid of gelykheid voor die reg as sulks verbreed ten einde hierdie skynbare gelykheid van geleenthede te akkommodeer? Dieselfde vrae kan natuurlik ook geopper word met betrekking tot die sosio-ekonomiese transformasie wat die ANC by wyse van sy Nasionaal-Demokratiese Rewolusie beoog om te verwesenlik, veral wat betref swart ekonomiese bemagtiging en die onteiening van grond sonder vergoeding.

    'n Soortgelyke onduidelikheid kom te voorskyn as die bogenoemde 1993-Interim Grondwet oorweeg word. Die aanvanklike bewoording in artikel 8 subartikel (1), wat lui: "Every person shall have the right to equality before the law and to equal protection of the law" (Department of Justice and Constitutional Development, 1994) blyk 'n logiese voorvereiste vir 'n funksionele beskawing te wees. Lees mens egter verder, dan stel subparagraaf 8.3.a:

    This section shall not preclude measures designed to achieve the adequate protection and advancement of persons or groups or categories of persons disadvantaged by unfair discrimination, in order to enable their full and equal enjoyment of all rights and freedoms.

    Waar artikel 8.1 meetbaar en herhaalbaar is, is artikel 8.3.a - soos Suid-Afrikaners oor die afgelope drie dekades ervaar het -oop vir uiteenlopende interpretasies, met die noodwendige gevolg dat daar dubbelslagtigheid by die konseptualisering van gelykheid volgens die ANC na vore kom. Waar artikel 8.1 dus 'n historiese tipe gelykheid voor die reg wil nastreef, besig 8.3.a hom met wat moontlik 'n tipe gelykheid van uitkomste genoem sou kon word. Wat hier bespeur word is nie meer gelykheid voor die reg as enigste gelykheidsbeskouing nie, maar die uitbreiding van gelykheid na nuwe lewensterreine. Hierdie gelykheid neig dus nader aan 'n "gelykheid van kondisie", 'n uitdrukking wat van 1835 af aan toenemend in gewildheid toegeneem het, veral nadat die Franse politieke denker Alexis de Tocqueville dit in daardie jaar gebruik het om die jong Verenigde State van Amerika te beskryf. Is die ANC se breër definisie van gelykheid maar bloot 'n uiting van demokratiese wortels, of steek daar iets anders hieragter?

    Die konseptualisering van gelykheid is nie 'n nuwe uitdaging nie, en verdeel politici en politieke wetenskaplikes al ten minste sedert die Verligting. In sy nou wereldberoemde essay Discours sur l'origine et les fondements de l'inégalité parmi les hommes, in Engels vertaal as Discourse on the origin and foundations of inequality among men, skryf die Switserse filosoof Jean Jacques Rousseau (1712 - 1778):

    If we follow the progress of inequality through these different revolutions, we will find that the establishment of laws and of the right of property was in its first stage, the institution of magistracies the second, and its third and last stage was the changing of legitimate power into arbitrary power (Rousseau, 1992:65).

    Vir Rousseau is die bron van arbitrare mag, en dus ook die oorsprong of wortel van tirannie, te vinde in die blote bestaan van ongelykheid - om dit selfs sterker te stel: Waar daar nie gelykheid is nie, word legitieme mag toenemend omvorm tot arbitrare mag. Rousseau sien ongelykheid dus as dinamies en spontaan-uitbreidend, en voorsien as teenwig 'n eweneens dinamies en uitbreidende gelykheid, wat ons voortaan rewolusionêre gelykheid sal noem. Teenoor Rousseau beskryf die Brits-Ierse filosoof Edmund Burke (1729 - 1797) die gelykheid wat filosowe soos Rousseau beoog as "that monstrous fiction, which, by inspiring false ideas and vain expectations into men [...] serves only to aggravate and embitter that real inequality, which it can never remove." Daarteenoor stel hy wat hy beskou as die "true moral equality of mankind[:] [...] to seek and to recognize the happiness that is to be found by virtue in all conditions" (Burke, 1790:53-54). Hy polemiseer teen Rousseau se gelykheid van uitkomste deur daarop te wys dat die rewolusionêre regering in Frankryk se heffing van ongelyke belasting waarvolgens welvarende burgers in die naam van hierdie gelykheidsideaal deurlopend buite verhouding meer moet betaal, lei tot "a new inequality [...] of the most oppressive kind" (Burke, 1790:333).

    Hierdie duidelik uiteenlopende interpretasies van gelykheid en die implikasies daarvan skyn die kalklig op hierdie begrip se kompleksiteit en veelsydigheid, en verfoei pogings tot 'n eenvoudige en eensydige konseptualisering.

    Twee denkers wat in die nadraai van die Franse Rewolusie prominent na vore tree en vir veral kernagtige bydraes tot die gedagte van gelykheid en die gesprek daar rondom verantwoordelik is, is Karl Marx (1818 - 1883), en Groen van Prinsterer (1801 - 1876). Marx is 'n sleutelfiguur in die ontwikkeling van die ANC se denke oor gelykheid en samelewing. Oorweeg mens maar net oudpresident Nelson Mandela (1994:74) se opmerkings in 1950 oor die invloed van Marxisme op sy denke, dan is dit reeds duidelik:

    Marxism's call to revolutionary action was music to the ears of a freedom fighter. The idea that history progresses through struggle and change occurs in revolutionary jumps was similarly appealing.

    Teenoor Marx staan sy tydgenoot Groen van Prinsterer. Waar Burke slegs met die rewolusie in Frankryk te make het, kon Groen5 die verdere ontwikkeling van rewolusie na Marxisme in sy leeftyd sien ontwikkel. In 'n brief aan die toekomstige eerste minister van Nederland, Abraham Kuyper, skaar Groen hom dan ook by Kuyper se kritiek teen die "dwaalweg" van Karl Marx (Groen van Prinsterer, 1874:516-517). Vir Groen was die gelykheidsideaal soos dit in Marx se denke na vore kom onversoenbaar met die owerheid se taak wat onder andere "bescherming aan alle klassen der maatschappij" behels (1875:745). Voordat die ANC se benadering tot gelykheid na regte ontleed kan word, is dit egter nodig om 'n maatstaf daar te stel, dus, om daardeur te bepaal watter risiko die rewolusionêre gelykheidsgedagte inhou. Dit is die mening van hierdie artikelskrywers dat min denkers hulself so skerp oor hierdie tema uitdruk as die bogenoemde Groen van Prinsterer, en daarom word sy werk hieroor diepgaande geraadpleeg.

    1.3 Navorsingsdoelwitte

    Dit is ons hipotese dat die ANC se verstaan van en bedoeling met die begrip gelykheid inderdaad 'n rewolusionêre gelykheid is, soortgelyk aan die tipe waarteen Groen van Prinsterer waarsku. Volgens hierdie modernistiese verstaan van gelykheid, wat veral ná 1950 onder die invloed van die Kommunistiese Party in Suid-Afrika te voorskyn gekom het, is alle vergestaltings van sosio-ekonomiese ongelykheid noodwendig die gevolg van een of ander vorm van institusionele diskriminasie, wat onder andere selfs ook die beginsel van gelykheid voor die reg kan insluit (Lephakga 2017:2). Hierdie verstaan van gelykheid as sosio-ekonomiese begrip in teenstelling met 'n regsbegrip is terug te vind in die rewolusionêre denke van Rousseau, maar dit het spesifiek neerslag gevind in die hedendaagse ideologie van die ANC via denkers soos Karl Marx, Vladimir Lenin, en Joe Slovo. Ten einde hierdie hipotese te bewys sal dit nodig wees om ten minste drie vrae grondig te beantwoord:

    a. Hoe verskil die klassieke begrip gelykheid van rewolusionêre gelykheid?

    b. Watter risiko's word histories deur die kritici van rewolusionêre gelykheid met hierdie begrip geassosieer?

    c. Kan die gelykheid wat die ANC nastreef as rewolusionêre gelykheid beskou word?

    Die beweegrede vir hierdie navorsing is die invloed van die ANC se beleidsrigting, en derhalwe die oorsprong daarvan, op die Suid-Afrika as geheel. Daarom fokus hierdie artikel op die filosofies-historiese ontwikkeling van die idee van gelykheid om sodoende die uitwerking van hierdie ontwikkeling op die hedendaagse politieke landskap te belig. Dit is nodig om te verstaan onder watter omstandighede state wat deur marxisme-leninisme beïnvloed is, voorheen onderdrukkend geword het, ten einde sulke foute nie te herhaal nie.

     

    2. Gelykheid by Groen

    Die beskouing dat die politieke lewe iets is wat op 'n natuurlike wyse histories ontwikkel as die vrug van die ontplooiing van organiese verbande soos die gesin en gemeenskap is 'n wesenlike kenmerk van Groen se Christelik-historiese politieke teorie (Groen van Prinsterer 1847:67). Die idees van die 18de-eeuse Franse Verligting, saamgevat in die bekende rewolusionêre slagspreuk "vryheid, gelykheid en broederskap," het hy daarom teengestaan as 'n poging om by wyse van abstrakte ideale die ontbinding en vernietiging van al hierdie organiese en histories-gewortelde sosiopolitieke werklikhede te bewerkstellig.

    In reaksie op die vergestalting van hierdie idees op Nederlandse bodem gedurende sy eie leeftyd bevorder hy dan ook wat hy beskryf as die "anti-rewolutionaire teengif" (Groen van Prinsterer, 1873:265).

    In sy beklemtoning van die historiese element as teenvoeter vir wat hy beskou as die rewolusionêre aard van die Verligtingsdenke lê daar natuurlik 'n bepaalde waardering vir die regsbeginsels van die klassieke oudheid opgesluit. In teenstelling met die tradisionele skolastieke denke beklemtoon hy egter tog dat hierdie waardering van hom juis begrond is in sy beskouing van die tradisionele aard van die goddelike openbaring self, eerder as in 'n bepaalde hoë agting vir die menslike rede. Hy skryf byvoorbeeld:

    Hoeveel, zegt men, was ook aan de wijsgeeren der oudheid bekend! Voorzeker; maar dit niet in dien zin, welke men er doorgaans aan geeft, natuurlijke Godsdienst geweest. Hunne gronddenkbeelden waren uit het traditionele geloof overgenomen, en hun hoogste wijsheid heeft hierin bestaan, dat zij het goud der oorspronkelijk geopenbaarde waarheid somtijds van het schuim der volksbijgeloovigheden en priestervonden wisten te ontdoen ... De vraag waarop het aankomt is niet of de heidense wijsgeeren eenig deel van de H. Schrijft hebben gezien, maar of hun kennis, door overlevering, uit dezelfde oorspronkelijke Openbaring voortgekomen is, waarvan de Heilige Schrift de opteekening en ontwikkeling bevat (Groen van Prinsterer, 1834: 18, 36-37).

    Hierdie unieke beklemtoning van die tradisionele of historiese element van die openbaringsleer laat Groen toe om 'n diepe waardering vir antieke Griekse denke te versoen met sy kenmerkend Reformatoriese verwerping van die rasionalisme en empirisme as in wese die epistemologiese ontkenning van menslike verdorwenheid, sowel as die goddelike soewereiniteit oor elke werklikheid soos dit dan ook beslag behoort te vind in die onderskeie lewenskringe, wat elk oor 'n eie gesagsfeer beskik (Groen van Prinsterer, 1872:279). In sy polemiek teen hierdie "rewolusie" oftewel die sosio-ontologiese uitgangspunte van die Verligting, beklemtoon hy daarom dan ook veral dat die gelykheidsidee in wese neerkom op 'n poging om op kunsmatige wyse hierdie organiese ontplooiing van elke lewenskring onder God se heerskappy by wyse van staatsvergrype te kelder:

    [...] de revolutie-begrippen [...] waarvolgens de meest uiteenlopende rigtingen, Liberalen, Radicalen, Socialisten, maar ook Doctrinairen en Conservatieven, van hetzelfde middenpunt uitgaan; voorbijzage van de natuurlijke en historische eigenaardigheid der dingen; ter zijde stellen van het staatsleven, van de Goddelijke wet; vorming en hervorming, schepping en herschepping van de maatschappij uit de willekeur der menschen; afgodische eerbiediging van de Staat als vereeniging van vrije, gelijke individuen, in wier naam de Vertegenwoordiging of het Bewind, onder de menigvuldigheid der vormen, altijd naar eigen goedvinden, met een centraliserend administratief beheer, over eigendom en regt, over lijf en ziel van Souvereine en magteloze bevolkingen beschickt. (Groen van Prinsterer, 1847:viii)

    Hierdie rewolusionêre gelykheidsideaal, soos dit in die praktyk beslag vind, het dus volgens Groen die noodlottige effek dat dit die indiwidu afskei van daardie organiese verbande waarbinne die mens by wyse van die goddelike voorsienigheid geplaas word en soos dit in die "natuurlijke en historische eigenaardigheid der dingen" vergestalt, en lei tot die atomisering en isolering van die indiwidu wat gevolglik nou as losstaande deel van 'n onsamehangende, magtelose massa weerloos staan teen die magsvergrype van 'n gesentraliseerde staatsmag, wat in die afwesigheid van hierdie samelewingsverbande die perke van die lewensterrein waartoe dit regmatig beperk is, toenemend oorskry. Losgeruk van hierdie organiese verbande wat as intermediêre beskermings- en behoueringsisteme vir elke indiwidu as lid van die samelewing sou dien, word die basiese regte en vryhede van die indiwidu met betrekking tot hul eiendom, persoon en oortuigings, dus juis deur die toepassing van hierdie idee van gelykheid geskend.

    Groen is geensins 'n teenstander van die beginsel van gelykheid voor die reg nie en meen dat dit 'n noodwendige eis van die beginsel van geregtigheid is. Hy meen egter dat natuurlike ongelykhede juis gekoester behoort te word as onmisbaar vir die ontplooiing van ware vryheid en die vooruitgang van 'n gesonde samelewing. Die rewolusionêre gelykheidsideaal ondermyn hierdie vooruitgang. Volgens Groen is dit veral eiendomsreg wat so 'n basiese voorvereiste is vir ekonomiese en maatskaplike vooruitgang wat die slagoffer van politieke gelykheid is:

    Er kan geen eigendom zijn dan voor zoo ver de Staat het vergunt. Het toelaten of weigeren van eigendomsregt is ter beoordeeling enkel van den Staat [...] en kan er enig middel, beter dan het Communisme en hetgeen men l'organisation du travail noemt, uitgedacht worden om de financiële ongelijkheid te doen ophouden, waardoor de strekking der politieke vrijheid en gelijkheid in zoo menig opzigt tegengewerkt en verlamt wordt? (Groen van Prinsterer, 1847:221-222)

    Hierdie inherente spanning tussen ware vryheid en die ideaal van rewolusionêre gelykheid figureer deurlopend sentraal in Groen se anti-rewolusionêre denke. Vir hom lei die modernistiese ideaal van gelykheid in die praktyk tot die vernietiging van ware vryheid:

    De algemeene gelijkheid is, evenzeer als de algemeene vrijheid, onbereikbaar. De menschen zijn niet vrij; integendeel ze zijn, door den aard en de ontwikkeling van zamenleving en maatschappij, in velerlei betrekking van gezag en ondergeschiktheid geplaatst. Verkondig de vrijheid en maak deze banden los; en de losbandigheid zelve zal het behoud van ware vrijheden onmogelijk en het ontstaan van willekeur en dwang onvermijdelijk hebben gemaakt. De menschen zijn niet gelijk: integendeel; ongelijk in krachten van ligchaam en geest, in neiging en karakter, in ijver, in moedbetoon, in volharding; en uit de gebeurtenissen en lotgevallen ontwikkelt zich het verschil in stand en rang en geldelijk vermogen, waarin zich, op velerlei wijs, de natuurlijke groei en bloei der maatschappij openbaart. Vernietig heden de uitkomsten dezer ongelijkheden, en morgen zal er op nieuw ongelijkheid bestaan. (Groen van Prinsterer, 1848:10)

    Vir Groen is die werklikheid soos verordineer deur die goddelike raadsplan van so 'n aard dat ongelykheid as 't ware 'n gegewe is wat die menslike samelewing nie kan ontsnap nie. Dit is omdat gesag in wese 'n noodwendige kernbestanddeel van enige samelewing vorm. Die idee van die sosiale kontrak soos geformuleer deur Rousseau het wel gepoog om hierdie realiteit te omseil deur die staat te begrond in 'n implisiete ooreenkoms van vrye, gelyke individue wat hul absolute vryheid prysgee ter wille van die daarstelling van 'n sosiopolitieke orde (Rousseau, 1762:33-34). Vir Groen (1847:273) kom dit egter bloot neer op 'n destruktiewe verwerping van die ware aard van die samelewing ten gunste van droombeelde wat geensins in die werklikheid begrond is nie. Juis daarom bewerk die gelykheidsbeginsel van die Verligting, deurdat dit deur die staat afgedwing word, die vernietiging van die natuurlike verhoudings en gesagstrukture wat wesenlik noodsaaklik is vir 'n samelewing bestaande uit sondige mense om te funksioneer. Soos wat daar byvoorbeeld in die gesin die noodsaak is vir ouergesag oor kinders en die hantering van 'n pasgebore baba as 'n vrye en soewereine indiwidu noodwendig tot daardie baba se dood sal lei, so kan die samelewing as uitbreiding op die gesin as mees basiese samelewingsverband nie sonder die gesagstrukture wat deur natuurlike ongelykhede daargestel is, sinvol funksioneer nie (Groen van Prinsterer, 1848:11).

    Enige poging van staatsweë om gelykheid van uitkomste te bewerkstellig deur weg te doen met daardie ongelykhede wat by wyse van 'n organiese, historiese ontwikkeling tot stand gekom het, sal daarom bloot lei tot 'n tirannie wat alle natuurlike vryheid vernietig. Soos later aangedui word, dien hierdie ook vir Suid-Afrika in 2024 as 'n voortydige waarskuwing. Vir Groen is die gevolg daarvan om af te sien van die tradisionele samelewingsverbande met hul gepaardgaande ongelyke verhoudings van gesag en onderdanigheid ten gunste van 'n groter staatsmag wat oor gelyke indiwidue heers, 'n weg tot despotisme en die vernietiging van alle ware vryheid (Zwaan, 1973:219; Van Vliet, 2008:296). Die liberale idee van gelykheid, gegewe sy rewolusionêre aard as anti-organiese abstrakte idee, loop daarvolgens noodwendig uit op die sosialisme met gepaardgaande vernietiging van eiendomsreg en die gesinstruktuur self (Groen van Prinsterer, 1848:43). Vir Groen (1847:405) word daar by wyse van die rewolusionêre "losmaking van velerlei banden [...] eene spanning tusschen rijken en armen geboren doen worden" en het tot gevolg dat die bevolking "meer dan te voren vatbaar voor de prediking van verderfelijke leerstellingen" soos "Communisme en Socialisme" is. Hy meen dat ons hierin "de stelselmatige voortzetting aanschouwen van het werk dat een Robespierre of een Babeuf onafgedaan liet; de poging om, door volledigheid der toepassing, de verwezenlijking van droombeelden, wier najaging reeds zoveel onheil gewrocht heeft, te bewerken." Dat Groen die Jakobynse gelykheidsideaal van die 18de-eeuse Franse Rewolusie logieserwys sien uitloop op die Marxisme het te make met sy waardering van idees as historiese dryfveer en wat hy beskou as die onafwendbare praktiese ontplooiing van die toepassing van daardie idees (Barnhoorn, 2011:247). Groen beskou hierdie gelykheidsideaal as 'n vrug van die verwerping van die goddelike openbaring in die Bybel en die natuur self, soveel so dat hy die oortuiging uitgespreek het dat die Europese beskawing van sy tyd noodgedwonge voor 'n keuse staan om óf te onderwerp aan die gesag van God se openbaring óf om te ly onder die verwoestende gevolge van hierdie gelykheid (Groen van Prinsterer, 1847:13).

    Later in sy loopbaan sou hy dan ook die universele gelykheidsideaal soos beliggaam deur die Marxisme beskryf as iets wat poog om die sosiale orde so radikaal te omvorm dat dit sou lei tot die volkome vernietiging van alle sosiale bande wat gemeenskappe op natuurlike wyses aan mekaar bind.

    Vir Groen kom die gelykheidsbeginsel neer op 'n kunsmatige homogenisering van 'n ryk en diverse werklikheid waarin elke natuurlike samelewingsverband vernietig moet word om sodoende die gesentraliseerde staatsmag in staat te stel om elke aspek van die werklikheid te probeer omvat by wyse van tiranniese magsvergrype. Soos hy dit stel: "Het individualisme loopt op Socialisme, en verwarring op dwang uit" (Groen van Prinsterer, 1872:36-37).

    Teenoor hierdie rewolusionêre gelykheid waarteen Groen waarsku as in wese in stryd met elke natuurlike en historiese ongelykheid wat in die goddelike wil en raadsplan gegrond is, spreek Groen (1848:24) homself wel duidelik uit ten gunste van die tradisionele of anti-rewolusionêre verstaan van gelykheid voor die reg.

    Hierdie idee van gelykheid voor die reg, wat gekomplimenteer word deur 'n besondere waardering en koestering van sosiopolitieke en sosio-ekonomiese ongelykhede as onmisbaar vir die florering van 'n gesonde samelewing, stel Groen juis lynreg teenoor die gelykheidsidee van die Verligting of Rewolusie waarteen hy deurlopend polemiseer. Teenoor die sogenaamde soewereiniteit van die mens wat die werklikheid probeer herskep na hul eie beeld stel hy die alwyse soewereiniteit van God wat in sy voorsienigheid ook ongelykhede verordineer waarmee Hy die samelewing so bestuur en struktureer dat dit vir almal ten goede meewerk.

    Wanneer die mens egter in opstand kom teen hierdie Godgegewe skeppingsorde en poog om dit by wyse van die gelykheidsideaal omver te werp, het dit noodwendig sosiopolitieke verval en agteruitgang tot gevolg (Groen van Prinsterer, 1848:113-4).

    In Groen se Reformatories-verbondsmatige beskouing van die werklikheid faal hierdie gelykheidsideaal dus noodwendig omdat dit in stryd is met die wese van die geskape realiteit soos gewil deur 'n almagtige God.

     

    3. Gelykheid by die ANC

    Verwysings na oudpresident Mandela se outobiografiese werke dien moontlik as 'n inleiding tot die ANC se denke oor gelykheid, maar is onvoldoende motivering vir die aanvanklike hipótese, weens ten minste twee redes. Die eerste rede is dat Marx se werke berug is vir hul ontoepaslikheid - 'n werklikheid wat tot 'n uiteenlopende reeks praktiese interpretasies van sy denke deur sy ideologiese nakomelinge gelei het. Onder hierdie interpretasies is ten minste drie van groot belang vir die ontwikkeling van politieke denke na Marx se dood: Die Leninisme, die Maoïsme, en die Stalinisme. Siende dat die ANC as Marxisties-Leninisties selfidentifiseer (Slovo, 1989:2), is dit nie nodig om 'n betoog en motivering hiervoor aan te bied nie. Ten einde navorsingsvraag c, soos wat dit gedurende die inleiding gestel is, te beantwoord, sal dit egter wel nodig wees om verder as hierdie selfbelydenis te gaan.

    3.1 Van Rousseau na Marx

    Wokler (2012:214) identifiseer Rousseau en Marx as die twee grootste invloede op moderne sosiale rewolusies, maar kritiseer 'n oorbeklemtoning van Rousseau se invloed op Marx. Alhoewel die jong Marx in 1843 'n studie van Rousseau se Contrat Social gemaak het (Wokler, 2012:215), word Rousseau in Marx se hele korpus slegs 22 keer aangehaal, en meestal, so meen Wokler, in die verbygang. Hierdie beweerde onderbeklemtoning van Rousseau se invloed op Marx is nie onbestrede nie. Levine wy 'n hele hoofstuk aan wat hy noem "Rousseauean Marxism". Hierin beskryf hy "Marxian communism is an essentially Rousseauean idea" (1993:159). Hierdie opmerking van Levine, wat direk teenoor Wokler staan, is daarop gebaseer dat sosialisme soos Marx dit verstaan het, gebou is op Rousseau se teorie van die Gemeenskaplike Wil, die welbekende Volonté Générale in die oorspronklike Frans. Marx se eie woorde blyk ten gunste van Levine se interpretasie te oordeel. Oorweeg byvoorbeeld Marx se 1843-artikel Zur Judenfrage, dikwels in Engels vertaal as On the Jewish Question, dan blyk dit duidelik waarom Wokler se onderbeklemtoning in twyfel getrek behoort te word. Marx haal Rousseau volledig aan as hy stel (Tucker, 1978:46):

    The abstract notion of political man is well formulated by Rousseau:

    "Whoever dares undertake to establish a people's institutions must feel himself capable of changing, as it were, human nature itself, of transforming each individual who, in isolation, is a complete but solitary whole, into a part of something greater than himself, from which in a sense, he derives his life and his being; [of changing man's nature in order to strengthen it;] of substituting a limited and moral existence for the physical and independent life [with which all of us are endowed by nature]. His task, in short, is to take from a man his own powers, and to give him in exchange alien powers which he can only employ with the help of other men."

    Every emancipation is a restoration of the human world and of human relationships to man himself.6, 7

    Die jong Marx neem by Rousseau nie maar net "passing citations" soos wat Wokler (2012:215) beweer nie, maar bou beide sy mensbeskouing (un tout parfait et solitaire) "a complete but solitary whole" en sy staatsbeskouing (un plus grand tout dont cet individu reçoive en quelque sorte sa vie et son être) "something greater than himself, from which in a sense, he drives his life and being" daarop. Hy neem Rousseau hier as absolute gesag.

    Dit mag nou tereg gevra word of hierdie invloed ook duidelik op Marx se gelykheidsbeskouing inspeel, siende dat dit juis hierdie begrip is wat in hierdie artikel ondersoek word. Op hierdie einste punt laat Marx homself weereens uit in Zur Judenfrage of On the Jewish question as hy die Grondwet van New Hampshire, die staat in die VSA, bespreek (Tucker, 1978:42). Gelykheid, deur hierdie grondwet gedefinieer as "the equal right to liberty" of selfs meer spesifiek "equality consists in the fact that the law is the same for all, whether it protects or punishes", is wel vir Marx onvoldoende, maar dit is sy wegspringpunt. Op Rousseau se idee van gelykheid bou hy sy idee van gelykheid - 'n ryker, burgerlike gelykheid wat verder strek as bloot gelykheid voor die reg (Ibid., 1978:44).

    3.2 Van Marx na Lenin

    Van sy lojaliteit aan Marx en Marx se idees, het Vladimir Lenin, vader van die Sowjet Unie, geen geheim gemaak nie. In "The three sources and three component parts of Marxism" verklaar Lenin (1963:23): "The Marxist doctrine is omnipotent because it is true. It is comprehensive and harmonious, and provides men with an integral world outlook irreconcilable with any form of superstition, reaction, or defence of bourgeois oppression," en later, "[t]he genius of Marx lies in his having been the first to deduce from this the lesson world history teaches and to apply that lesson consistently. The deduction he made is the doctrine of the class struggle" (Lenin, 1963:27). Dan vervolg hy (ibid., 28) deur te beweer:

    Marx's philosophical materialism alone has shown the proletariat the way out of the spiritual slavery in which all oppressed classes have hitherto languished. Marx's economic theory alone has explained the true position of the proletariat in the general system of capitalism.

    Lenin se waardering van Marx is absoluut. In sy The state and revolution (Lenin, 1964:420) identifiseer Lenin die doel van sy boek soos volg: "to re-establish what Marx really taught on the subject of the state". In hierdie boek besig hy hom met 'n diepgaande studie van Marx en Engels se werk in 'n poging om dit prakties en werkbaar vir die massas uit te druk. Vir Lenin(1964:422) is dit duidelik dat Marx voorskryf dat die staat eers verpletter moet word, waarna dit deur fases sal ontwikkel totdat dit uiteindelik "Hoë Kommunisme" bereik. In die vyfde hoofstuk van hierdie boek beskryf Lenin (1964:473) hierdie "Hoë Kommunisme" deur Marx se frase "From each according to his ability, to each according to his needs" prakties uit te bou. Nadat die klassestryd oorwin is (1964:477), sal daar formele gelykheid wees, maar formele gelykheid, wat vir Lenin die uitkoms van demokrasie is, is nie dieselfde as "werklike gelykheid" nie. Hy stel dit soos volg:

    But democracy means only formal equality. And as soon as equality is achieved for all members of society in relation to ownership of the means of production, that is, equality of labour and wages, humanity will inevitably be confronted with the question of advancing further, from formal equality to actual equality, i.e., to the operation of the rule "from each according to his ability, to each according to his needs". (Lenin, 1964:477)

    Vir Lenin is die tipe gelykheid wat Perikles, Burke en Groen van Prinsterer navolg dus nie net onvoldoende nie, dit is hoegenaamd nie werklike gelykheid nie. In Marx se uiteindelike strewe vind Lenin 'n tipe gelykheid wat absoluut is en oor alle lewensfere strek.

    3.3 Slovo en die erfgename van die Rewolusie

    Die oordrag van die rewolusionêre gelykheidsgedagte na Suid-Afrika is nêrens so duidelik nie soos in die werk van Joe Slovo (1926-1995). Met betrekking tot die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), waarvan hy tussen 1984 en 1991 die sekretaris-generaal was, skryf Slovo (1988:2):

    We do not claim that we have a monopoly of wisdom. But, equipped with the theoretical tool of Marxism-Leninism and the inheritance of an unmatched wealth of revolutionary experience, it is not immodest for us to assert that our Party is uniquely qualified to help illuminate the correct analytical path.

    Nie net sien Slovo die SAKP en hul bondgenote as die erfgename van hierdie "rykdom aan rewolusionêre ervaring" nie, hy is ook daarvan oortuig dat die mislukkings van die Sowjet-Unie nie aan Marx en Lenin toe te skryf is nie. In sy 1989-pamflet "Has socialism failed?" skryf Slovo (1989:8) die volgende:

    [...] we emphasise again that the fundamental distortions which emerged in the practice of existing socialism cannot be traced to the essential tenets of Marxist revolutionary science. If we are looking for culprits, we must look at ourselves and not at the founders of Marxism.

    Slovo se belangrikheid vir die ANC, van beide 1988 en 2024, is onder meer dat hy die gedagte van die Nasionale Demokratiese Rewolusie vir die eerste keer in die ANC-alliansie invoer. Die idee van 'n nasionale demokratiese rewolusie kom oorspronklik uit 'n toespraak wat Lenin in 1920 gelewer het, maar dit is vir die eerste keer in verband met Suid-Afrika gebruik in Slovo se 1969-weergawe van Strategy and tactics of the ANC. Slovo giet dus die werk van Marx en Lenin in sy visie vir die toekomstige Suid-Afrika.

    3.4 Verby interpretasie: Die ANC as voorhoede-party en doeners van gelykheid

    Die Marxisme-Leninisme kan dus nie net by die ontleding en diagnose van die samelewing se foute en die voorskrif vir verbetering bly nie, dit moet 'n realiteit word. In die geval van die ANC is dit duidelik dat hulle as voorhoede-party van hierdie visie 'n nuwe werklikheid probeer maak by wyse van hul beleidsvorming en algemene optrede. Soos Duvenhage (2024:325) dit stel: "Hiervolgens word radikale 'chirurgie' (politieke ingryping onder leiding van die voorhoedeparty, oftewel die ANC) beklemtoon in die totstandbrenging van 'n nuwe politieke, ekonomiese en maatskaplike orde". Hierdie "chirurgie" is die idees van Rousseau en Marx soos dit by Lenin en uiteindelik Slovo beslag vind.

     

    4. Groen se waarskuwing: Tersaaklik tot Suid-Afrika in 2024?

    Die kern van Groen se waarskuwing teen die rewolusionêre konseptualisering van gelykheid, soos wat dit in afdeling twee van hierdie artikel aangetoon is, lê daarin dat dit strydig is met die werklikheid as Godgegewe realiteit.

    Vir Groen is hierdie rewolusionêre gelykheidsideaal, soos dit beslag vind eerstens in die Verligtingsdenke van Rousseau en later in die Marxisme, nie alleen prakties onhaalbaar nie, maar ook in beginsel volledig onversoenbaar met wettige gesag en ware vryheid. Omdat dit geen vaste begronding in die transendentale, ewige goddelike wil of die afdruk van daardie wil in die werklikheid as godgegewe realiteit het nie, lei hierdie idee by wyse van die politieke bewindhouer se arbitrêre begronding in 'n denkbeeldige sosiale kontrak, uiteindelik tot tirannie en totalitarisme.

    Dit is opmerklik dat Lenin (1964:474) poog om hierdie utopiese werklikheidsbeskouing te verdedig deur hom op die toekoms te beroep. Die mens van die toekoms, dus die mens wat in hierdie "higher phase of communism" gaan leef, gaan nie "the present ordinary run of people" wees nie, hulle gaan 'n hoër tipe mens wees (1964:474), wat uiteindelik geen staat meer nodig sal hê nie. Wat vir Groen wensdenkery is sonder begronding in die realiteit, is vir Lenin 'n verdedigbare visie van die toekoms.

    Dit is veral Groen se oortuiging dat die ongelykheid tussen ekonomiese klasse, wat hy as onafwendbare realiteit beskou, eintlik in wese omhels, eerder as opponeer moet word, wat hom so radikaal onderskei van die voorstanders van die rewolusionêre gelykheidsideaal. Vir Groen (1848:24) is die "overvloed der rijken" geensins iets waaroor die staat besorg hoef te wees nie, maar juis onontbeerlik vir die "welvaart van den middenstand" en "waarborg [voor] arbeider en handwerksman." Juis hier staan Groen in direkte teenstelling met Rousseau se idee, waarmee hierdie artikel ingelei is, dat tirannie en arbitrare mag ongelykheid as bron het. In die naam van hierdie strewe na die uitwissing van ongelykheid is in die vorige eeu inderdaad ook dikwels onderdruk en vermoor.

    Waar Marx en Lenin dus 'n ideale, rewolusionêre mens visualiseer, losgemaak van die samelewingsverbande wat volgens hulle dien as struikelblokke op weg na die ideaal van universele gelykheid, beklemtoon Groen juis die noodsaak van verbande soos veral die gesin en uitgebreide familie, maar ook die plaaslike gemeenskap en volk, as noodsaaklike beskermingsmeganismes wat die indiwidu verskans teen die vergrype van gesentraliseerde en onbeteuelde staatsmag. In hierdie opsig is Groen se waarskuwing teen die gevare inherent aan rewolusionêre gelykheid, uiters tersaaklik vir Suid-Afrika in 2024.

    Waar 'n toewyding aan die gelykheidsideaal volledige onus op die staat plaas om natuurlike ongelykhede by wyse van ingrypings teen te werk en die staat homself dus op al hoe meer terreine laat geld - van onderwys tot gesondheidsorg - leer die praktyk vir ons in Suid-Afrika in 2024 dat hierdie tipe owerheidsingrypings dikwels oneffektief en selfs kontra-produktief is. Hier kan gedink word aan die huidige pogings om die land se grondwet te wysig om Suid-Afrikaanse burgers se basiese eiendomsregte te skend by wyse van onteiening sonder vergoeding (Jeffery, 2017:11).

    Laasgenoemde is niks minder nie as 'n letterlike vervulling van die tipe onreg waarteen Groen gewaarsku het die rewolusionêre begrip van gelykheid uiteindelik sal lei. Hierdie pogings van die ANC-regering om meer en meer in te gryp en die samelewing te probeer orden en herstruktureer volgens die rewolusionêre gelykheidsideaal lei inderdaad, soos Groen van Prinsterer reeds in die 19de eeu voorspel het, tot 'n aftakeling van burgerlike en ekonomiese vryhede.

    Ons hipotese dat die rewolusionêre gelykheidsideaal waarteen Groen van Prinsterer gewaarsku het in wese dieselfde ideaal is as wat deur die ANC aangehang word, blyk korrek te wees. Hierdie verstaan van gelykheid wat so dikwels, veral gedurende die 20ste eeu in kommunistiese lande, tot tirannie en verdrukking gelei het, het ook destruktiewe gevolge vir die Suid-Afrikaanse samelewing in terme van die inperking van burgerlike en ekonomiese vryhede.

     

    5. Eietydse vergestaltings van rewolusionêre gelykheid in Suid-Afrika

    Alhoewel hierdie artikel hoofsaaklik fokus op die historiese en filosofíese ontwikkeling van die ANC se gelykheidsbegrip, verdien die eietydse aanwending van hierdie denke in Suid-Afrika tog ook aandag. Oudpresident Thabo Mbeki het in sy befaamde "Twee Nasies"-toespraak (1998) 'n aangrypende beeld geskets van 'n land waarin 'n welgestelde wit minderheid en 'n arm swart meerderheid langs mekaar leef, maar feitlik in aparte ekonomiese wêrelde. Hierdie narratief van voortgesette ongelykheid tussen rasse dien as morele en politieke dryfveer vir die ANC se ekonomiese transformasie-agenda, insluitend swart ekonomiese bemagtiging en grondhervorming (Duvenhage, 2024:325). Die EFF, as erfgenaam van die breër bevrydingsbeweging, verskerp hierdie perspektief met sy pleidooi vir onteiening sonder vergoeding en die nasionale beheer van produksiemiddele (Malema, 2023). Hierdie hedendaagse verskynsels is nie maar net pragmatiese beleidsvoorstelle nie, maar eerder konsekwente uitdrukkings van 'n rewolusionêre gelykheidsbegrip wat ekonomiese verskille as die gevolg van 'n bepaalde historiese onreg interpreteer wat reggestel moet word. Die Rosa Luxemburg Stiftung (2023) verwys byvoorbeeld uitdruklik na Suid-Afrika as 'n "nation of two economies," en argumenteer dat strukturele ongelykhede voortvloei uit historiese ongeregtighede wat nog nie voldoende aangespreek is nie. In akademiese werk soos dié van Lephakga (2017), na wie se werk reeds vroeër in hierdie artikel verwys is, word dit beklemtoon dat ekonomiese ongelykheid onafskeidbaar verbonde is aan sistemiese diskriminasie en koloniale strukture. Soortgelyke standpunte kom ook na vore by Terreblanche (2018), wat wys op die volharding van wat hy beskou as ras-gebaseerde ekonomiese segregasie. Hierdie siening het tot gevolg dat klassieke begrippe van gelykheid voor die reg as onvoldoende of selfs misleidend beskou word, omdat dit nie die realiteit van ongelyke uitkomste en geleenthede in ag neem nie. Hierdie verstaan van gelykheid as 'n toestand waarin alle historiese ongelykhede aktief en doelgerig geneutraliseer moet word, het destruktiewe politieke strategieë soos radikale grondhervorming, die bevordering van swart eienaarskap in die ekonomie deur BEE, en die uitbreiding van staatsbeheer oor hulpbronne tot gevolg (Southall, 2016:59-61). Sodanige strategieë word dan ook dikwels voorgestel as onafwendbare stappe op pad na samelewingstransformasie. In die lig van Groen se waarskuwings is dit egter duidelik dat hierdie benadering alleen maar tot die uitbreiding van staatsmag lei en in die proses die regte en vryhede van burgers ondermyn (Jeffery, 2017:12; Groen van Prinsterer, 1848:43).

     

    6. Ten slotte

    Gegewe die belangrikheid van gelykheid vir die ANC, en gegewe die konseptuele komplikasies van die begrip, het hierdie artikel as primêre doel die ANC se idee van gelykheid probeer ontleed. Omdat die geskiedenis die rewolusionêre gelykheidsbeskouing as problematies bewys het, het hierdie artikel begin deur uit te wys wanneer en hoe gelykheid 'n politieke risiko kan inhou. Na afloop hiervan is die wortels van die ANC se gelykheidsdenke by sy bron gaan soek.

    Dit is, aan die hand van Groen van Prinsterer se werk, aangetoon dat daar in die politieke denke ná die Verligting, en veral ná die Franse Rewolusie, geensins meer eenstemmigheid oor die begrip gelykheid was, soos wat grootliks die geval was voor die Verligting nie. Hierdie is 'n belangrike punt, gegewe die feit dat dit dikwels nie vir die kieser duidelik is dat daar van een gelykeidsbeskouing na 'n ander beweeg word nie, soos byvoorbeeld in die Vryheidsmanifes en 1993-Grondwet die geval is. Die een is 'n formele gelykheid voor die reg, wat menswaardigheid raaksien, en 'n gelyke oordeel fel - dikwels klassieke gelykheid genoem. Die ander is 'n abstrakte ideaal vir 'n samelewing wat vir Groen nie net onwenslik nie, maar ook onwerkbaar is weens die feit dat dit nie met die werklikheid rekening hou nie. Wat veral vir die Suid-Afrikaanse samelewing van belang is, is nie net bloot die feit dat Groen die idee van rewolusionêre gelykheid verwerp nie, maar veral sy waarskuwing dat die strewe na hierdie tipe gelykheid in die praktyk uitloop op 'n owerheidstirannie wat die basiese eiendomsregte en vryhede van burgers skend.

    Groen wys uit dat die gevolg van Rousseau se gelykheidsgedagte, ironies genoeg, presies dit is wat hy aan die ongelykheid toe wou skryf, naamlik arbitrêre mag en selfs tirannie. Verder word die staat in die praktyk by wyse van hierdie ideaal in sodanige magsposisie geplaas dat dit alle weerstand teen hierdie vergrype na willekeur in die kiem kan smoor.

    Om af te sien van hierdie tipe ideologieë wat al vir dekades lank, ook in 'n verskeidenheid van vergestaltings en sosiopolitieke kontekste, teenproduktief op samelewings inwerk en daarom in wese as destruktief beskou behoort te word, is absoluut noodsaaklik vir die behoud van burgerlike vryhede en gepaardgaande sosiopolitieke en sosio-ekonomiese vooruitgang.

     

    Bibliografie

    ANC. 1969. Strategy and tactics. https://www.marxists.ora/subiect/africa/anc/1969/strateav-tactics.htm Date of access: 8 May 2024.         [ Links ]

    ANC. 2023. 55th National Conference Resolutions. https://www.anc1912.ora.za/anc-55th-conference-resolutions/ Date of access:23 May 2025.         [ Links ]

    ANC. 2024. A brief history of the African National Congress. https://www.anc1912.ora.za/historv/ Date of access: 18 Jul. 2024.         [ Links ]

    BARNHOORN, J.G. 2011. Amicitia Christiana: Da Costa en Groen van Prinsterer in hun briefwisseling. Apeldoorn: De Banier.         [ Links ]

    BURKE, E. 1790. Reflections on the revolution in France, and on the proceedings in certain societies relative to that event in a letter intended to have been sent to a gentleman in Paris. London: Dodsley.         [ Links ]

    DEPARTMENT OF JUSTICE AND CONSTITUTIONAL DEVELOPMENT. 1994. Constitution of the Republic of South Africa Act 200 of 1993. https://www.justice.aov.za/leaislation/acts/1993-200.pdf Date of access: Accessed 23 May 2025.         [ Links ].

    DUVENHAGE, A. 2024. Die fundamentele hervorming van die Suid-Afrikaanse staat - motivering en strategie. LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), 21(1):320-355. https://doi.ora/10.56273/1995-5928/2024/¡21n1b9        [ Links ]

    GROEN VAN PRINSTERER, G. 1834. Beschouwingen over staats- en volkenrecht, I: Proeve over de middelen waardoor de waarheid wordt gekend en gestaafd. Leiden: S & J Luchtmans.         [ Links ]

    GROEN VAN PRINSTERER, G. 1847. Ongeloof en revolutie - Eene reeks van historische voorlezingen. Leiden: S & J Luchtmans.         [ Links ]

    GROEN VAN PRINSTERER, G. 1848. Vrijheid, gelijkheid, broederschap: Toelichting van de spreuk der Revolutie. Den Haag: Roering.         [ Links ]

    GROEN VAN PRINSTERER, G. 1872. Nederlandsche Gedachten, tweede serie - IV. Amsterdam: Höveker & Zoon.         [ Links ]

    GROEN VAN PRINSTERER, G. 1873. Nederlandsche Gedachten: tweede serie - V. Amsterdam: Höveker.         [ Links ]

    GROEN VAN PRINSTERER, G. 1874. Schriftelijke nalatenschap: Briefwisseling 1808-1876. Den Haag: Martinus Nijhoff.         [ Links ]

    HAMMOND, M. 2009. Thucydides: The Peloponnesian War. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

    HEIDELBERGSE KATEGISMUS. 1563.         [ Links ]

    HEIDELBERGSE KATEGISMUS. 1563 (In Psalms. 1992. Die berymde Psalms en Skrifberymings. Potchefstroom: Die Deputate vir die Calvyn-Jubileumboekefonds.         [ Links ])

    HOBBES, T. 1843. Eight Books of the Peloponnesian War Written by Thucydides. Translated by T. Hobbes. London: Bohn.         [ Links ]

    JEFFERY, A. 2017. EED Is for real empowerment, whereas BEE has failed. Liberty: The Policy Bulletin of the IRR, 2(31):5-66.         [ Links ]

    LENIN, V.I. 1963. Lenin collected works. Volume 19. Translated from the Russian by B.A. Fineburg and J. Katzer. Moscow: Progress Publishers.         [ Links ]

    LENIN, V.I. 1964. Lenin collected works. Volume 25. Translated from the Russian by B.A. Fineburg and J. Katzer. Moscow: Progress Publishers.         [ Links ]

    LEPHAKGA, T. 2017. Colonial institutionalisation of poverty among blacks in South Africa. Studia Historiae Ecclesiasticae 43(2):1-15. https://doi.org/10.17159/2412-4265/2016/1273        [ Links ]

    LEVINE, A. 1993. The general will: Rousseau, Marx, Communism. Cambridge: Cambridge University Press        [ Links ]

    MALEMA, J. 2023. EFF policy speech: The future of economic freedom. Johannesburg: Economic Freedom Fighters.         [ Links ]

    MANDELA, N.R. 1994. Long Walk to Freedom: The Autobiography of Nelson Mandela. London: Little, Brown and Company.         [ Links ]

    MBEKI, T.M. 1998. "Two Nations Speech to Parliament" in: Umrabulo. Online. https://www.anc1912.org.za/wp-content/uploads/2021/07/Umrabulo-Issue-No.5-3rd-Quarter-1998.pdf Date of Access: 23 May 2025.         [ Links ]

    ROSA LUXEMBURG STIFTUNG. 2023. Still a nation of two economies. https://www.rosalux.de/en/news/id/51970/still-a-nation-of-two-economies Date of access: 7 Apr. 2025.         [ Links ]

    ROUSSEAU, J-J. 1762 [revised 1920]. The social contract and discourses. Translated from the French by G. Cole. Londen: Dent & Sons.         [ Links ]

    ROUSSEAU, J-J. 1992. Discourse on the origin of inequality. Translated from the French by D.A. Cress. Indianapolis, IN: Hackett.         [ Links ]

    SOUTHALL, R. 2016. The new black middle class in South Africa. Johannesburg: Jacana Media.         [ Links ]

    SLOVO, J. 1988. The South African working class and the National Democratic Revolution. Umsebenzi Discussion Pamphlet. Londen: SACP.         [ Links ]

    SLOVO, J. 1989. Has socialism failed? https://www.sacp.org.za/docs/history/failed.html Date of access: 8 May 2024.         [ Links ]

    TERREBLANCHE, S. 2018. Lost in transformation: South Africa's search for a new future since 1986. Johannesburg: KMM Review Publishing.         [ Links ]

    THE FREEDOM CHARTER. 1955. The Freedom Charter. https://www.sahistorv.ora.za/article/freedom-charter-1955 Date of access: Accessed 23 May 2025        [ Links ]

    THUCYDIDES. 1910. The Peloponnesian War. Translated by R.C. Crawley. London: J.M. Dent & Sons.         [ Links ]

    TOCQUEVILLE, A. de, 1838. Democracy in America. Volume 1. Translated by H. Reeve. London: Saunders and Otley.         [ Links ]

    TUCKER, R.C. 1978. The Marx-Engels reader. 2nd ed. New York, NY: Norton & Company.         [ Links ]

    VAN VLIET, W.G.F. 2008. Groen van Prinsterers historische benadering van die politiek. Hilversum: Verloren.         [ Links ]

    WOKLER, R. 2012. Rousseau, the Age of Enlightenment, and their legacies. Princeton, NJ: Princeton University Press.         [ Links ]

    ZWAAN, J. 1973. Groen van Prinsterer en de klassieke oudheid. Amsterdam: Adolf M. Hakkert.         [ Links ]

     

     

    Published: 31July 2025

     

     

    1 Die Congress of the People was die liggaam getaak met die skryf van die Vryheidsmanifes.
    2 Geen Afrikaanse weergawe van hierdie dokument kon aanlyn opgespoor word nie.
    3 'n Nie-amptelike Afrikaanse vertaling deur die artikelskrywers sou wees: Met betrekking tot die wette is almal gelyk in hulle private verskille.
    4 Genitief meervoud - dus tot of van die wette, na konteks.
    5 Dit is algemene praktyk binne die korpus literatuur oor Guillaume Groen van Prinsterer om bloot na hom as "Groen" te verwys.
    6 Marx se artikel is in Duits, maar hy haal Rousseau in Frans aan, dus is die onderskeid tussen Marx en Rousseau se werk in die oorspronklike duideliker.
    7 Alle beklemtoning is deur Marx self, ook van Rousseau se werk.
    Rolverdeling van Outeurs
    Paul Maritz het hoofsaaklik gefokus op die klassieke idee van gelykheid, sowel as die geskiedenis van die ANC, en spesifiek die ideologiese invloede wat tot hierdie party se gelykheidsbeskouing gelei het. Jan Adriaan Schlebusch het gefokus op die historiese ontwikkeling van die idee van gelykheid in die moderne era, met name in die aanloop tot die Verligting, sowel as in die nadraai van die Franse Rewolusie en die opkoms van Marxisme in die negentiende eeu, en veral Groen van Prinsterer se posisionering in hierdie verband. Die gevolgtrekkings ten opsigte van die waarde van Groen van Prinsterer vir Suid-Afrika vandag was die resultaat van die outeurs se gesamentlike interpretasie en toepassing van die primere bronne.