SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.41 número1 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Journal

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Journal of Literary Studies

    versão On-line ISSN 1753-5387versão impressa ISSN 0256-4718

    JLS vol.41 no.1 Pretoria  2025

    https://doi.org/10.25159/1753-5387/19869 

    BOOK REVIEW/BOEKRESENSIE

     

    Antje Krog: An examined life / Antjie Krog: 'n Ondersoekte lewe, deur Louise Viljoen (redakteur)

     

     

    Marisa Botha

    Rhodes-universiteit, Suid-Afrika. m.botha@ru.ac.za; https://orcid.org/0000-0002-0200-5273

     

     

    2024. SA Akademie vir Wetenskap en Kuns/Protea. pp. 408

    ISBN 978-1-4853-1593-3

    Antjie Krog: 'n Ondersoekte lewe is 'n gepaste titel vir 'n huldigingsbundel oor een van Suid-Afrika se belangrikste literêre figure. Oor die afgelope 55 jaar deins Krog met elke publikasie nie weg van persoonlike refleksie nie. Elke boek, elke gedig, elke artikel, en elke toespraak is sonder vernis, openlik en eerlik - soms ook pynlik - en dus "kaalvoet"-bydraes soos sy al in haar eerste digbundel Dogter van Jefta (1970) geskryf het.

    Hierdie bundel, 'n huldiging van Krog, is die sestiende in die reeks van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat skrywers en digters vereer wat met die Hertzogprys bekroon is, en wat die Afrikaanse letterkunde oor dekades heen verryk het. Krog het al drie keer die Hertzogprys vir poësie verower, onderskeidelik in 1990, 2017 en 2023 vir Lady Anne (1989), Mede-wete (2014) en Plunder (2022).

    Louise Viljoen is die redakteur, en die aangewese persoon, wat die belangrike taak onderneem het om reg te laat geskied aan 'n huldigingsbundel vir een van Suid-Afrika se belangwekkendste stemme. Krog bied al vir dekades 'n grensverskuiwende perspektief op verskillende bemoeienisse in haar werk as digter, skrywer, joernalis en aktivis.

    Op die voorplat pryk 'n pragtige foto van Krog, en op die agterplat is 'n uittreksel uit die gedig "redekawel" uit Plunder wat netjies aansluit by die titel van die huldigingsbundel:

    ek wil gepor, gekneus en oopgeruk word

    deur ander maniere van dink ek wil

    beheer opgee, my uitkyk ontwrig, al

    my sekerhede moet skipbreuk ly ek

    wil in 'n deurlatende vel stap, my oorgee

    aan wat anderkant "ek is" leef -

    sonder dié permanente haag

    van mag en 'n pantser van blinde ekheid

    Daar is 'n goeie balans tussen bydraes van opkomende en gevestigde akademici in die boek. Buiten Viljoen, wat reeds genoem is, is die ander medewerkers Alfred Schaffer, Ihette Senekal, Maria Snyman, Danie Stander, Marlies Taljard, Jacomien van Niekerk, Karin van Marle en Andries Visagie.

    Verskeie belangrike aspekte van Krog se oeuvre word in die huldigingsbundel onder die loep geneem, soos die outobiografiese invalshoek in haar werk wat aan bod kom in die bydraes van Senekal en Taljard. Met 'n fokus op onderskeidelik Lady Anne en Mede-wete bied hierdie ondersoeke interessante leesstrategieë vir die interpretasie van die outobiografiese verse in Krog se vroeëre én latere digkuns. Dan is daar ook in ander bydraes die rol en toepassing van taal, postkolonialisme, vertaling, en interverbondenheid, om maar 'n paar fokusareas te noem.

    Die titel van die onderhoud met Alfred Schaffer, "Woede is eintlik altyd aanwesig", herinner aan die stem van "vintage-Krog" (Joan Hambidge se neologisme) wat in "3. visioen van 'n lessenaar" uit Otters in bronslaai (1981) verklaar het: "ek skryf omdat ek woedend is". Schaffer is self 'n digter en vertaler (ook van Krog-verse). Hy ken dus vir Krog en haar werk baie goed, en hierdie intieme kennis word duidelik weerspieël in hulle onderhoudende gesprek. Dié onderhoud, wat 26 bladsye beslaan en seker een van die omvattendste onderhoude met Krog is wat ek nog gelees het, bied 'n voëlvlug oor van die belangrikste kwessies wat deur haar werk aangeroer word. Krog se antwoorde op Schaffer se vrae bied diepsinnige aanhalings uit en verwysings na haar eie werk, maar verwys ook ruimskoots na die skryfwerk van intellektuele figure wat sy bewonder en waardeur sy beïnvloed is. Sy wei uit oor aspekte soos "wording", identiteit, haar mentors, en die verhouding tussen die estetiek en politiek, en sodoende werp sy lig op onder meer haar kreatiewe proses, medeskrywers, en hoe haar ervaring as onderwyser en joernalis haar skryfwerk beïnvloed het. Let wel dat Krog se reis na Timboektoe in 1999 was, en nie in 1989 soos dit verkeerdelik in die teks aangegee word nie (11).

    Louise Viljoen se hoofstuk is getitel "Die verruklike afhanklikheid van taal': Antjie Krog en 'n loopbaan in taal", en dit is byna dubbel die lengte van die ander bydraes in die bundel. Viljoen bied 'n oorsig van Krog se oeuvre, met 'n spesifieke fokus op haar verhouding met taal - veral haar moedertaal. Dié hoofstuk (en ook die afsonderlike voorwoord) getuig van Viljoen se diepgaande kennis van Krog se oeuvre, en dit bou voort op dekades se navorsing. Dit is deeglik, omvattend en insiggewend.

    In die hoofstuk "Vergestaltings van die outobiografiese spreker in Antjie Krog se Lady Anne (1989)" pas Ihette Senekal die narratologiese teorie van Susan S. Lanser toe op van Krog se werk. Senekal gebruik Lanser se model van verbondenheid en onverbondenheid om die outobiografiese spreker in Lady Anne te verken (vgl. Krog se verwysings na Lady Anne op bladsye 13, 19).

    In Karin van Marle se hoofstuk, "Amor mundi: Antjie Krog en Hannah Arendt se liefde vir die wêreld - oordeel, versoening en saamleef", word Arendt se boek Eichmann in Jerusalem (1963) op treffende wyse vergelyk met onder meer Krog se Country of My Skull (1998) en kyk Van Marle spesifiek na aspekte van oordeel, ontleer, saamweet en saamleef.

    In die opstel "Postkoloniale satire in enkele gedigte deur Antjie Krog en Ronelda Kamfer", bespreek Jacomien van Niekerk die uitbeelding van satire in drie gedigte: Krog se "Elke dag kan ek met jou maak asof jy myne is" uit Verweerskrif (2006) en Kamfer se "eviction notice" en "owners' response" uit grond/Santekraam (2011). Die vergelyking van die postkoloniale satiriese gedigte maak dit duidelik dat, benewens ander bevindinge, "Tafelberg verteenwoordigend is van koloniale naamgewing en appropriasie" (192).

    Die hoofstukke deur Maria Snyman en Marlies Taljard ondersoek albei aspekte van Mede-wete, maar hulle bied verskillende perspektiewe in hulle onderskeie interpretasies van hierdie bundel. In Snyman se beredeneerde hoofstuk, "Stansa my steen, laat die bot koppe lig skep: Antjie Krog se Mede-wete/Synapse gelees as 'n verregaande vermaaklike draakstekery met akademiese geletterdheid", word daar na verskeie verse uit die Krog-oeuvre verwys, maar dit is veral die gedigsiklus "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing" wat onder die loep kom en ontleed word vanuit 'n Derridiaanse perspektief. Hierteenoor fokus Taljard in haar interessante hoofstuk "'Geen vlerke stut meer . . .': geselekteerde gedigte in Antjie Krog se Mede-wete gelees as outobiografiese postsekulêre laatwerk" op aspekte van die spirituele, holisme en laatwerk, en hoe Krog poëtiese vernuwing bring aan kategorieë wat hulle relevansie verloor het in moderne tye "deur te fokus op die verbeelding van 'n groter geheel waarin plante, diere en mense interverbonde en interafhanklik van mekaar bestaan" (260).

    Danie Stander se hoofstuk "'op 'n derderangse verhoog vol swape en gierende grapsjasse': Antjie Krog se vertaling van Tom Lanoye se Koningin Lear" lewer 'n goeie bydrae tot die korpus artikels oor Krog se vertaalwerk, spesifiek haar genuanseerde vertaling van Lanoye se toneelstuk Koningin Lear, wat tot nou toe nie juis veel aandag van navorsers geniet het nie. Stander oorweeg verder ander voorbeelde van vertaling van Afrikaanse dramatekste soos dié van Shakespeare en verwys ook na Krog se versdrama Met die oog op more (2020).

    Andries Visagie se hoofstuk oor die "Interverbondenheid in Antjie Krog se gedigte vir kinders oor feetjies en fynbos", waarin hy verse uit veral Fynbosfeetjies (2007) en Vetplantfeetjies (2022) lees vanuit die perspektief van kritiese plantstudies, is nuut en verfrissend. Hy kom tot die gevolgtrekking dat "[d]ie neiging om plante slegs vir hulle praktiese waarde te instrumentaliseer [...] in die [besproke] gedigte teengewerk [word] deur die bevestiging van 'n netwerk van interverbondenhede en intra-aksies wat lei tot 'n besef van die dinamiese kompleksiteit van 'n saambestaan met plante" (322). Daar is nog redelik min akademiese navorsing oor Krog se kinderverse gedoen, en die hoop is dat daar verdere ondersoeke oor hierdie aspek van haar kinderpoësie onderneem sal word.

    Hierdie versameling artikels dek 'n wye spektrum van die belangrikste temas in Krog se omvattende oeuvre. Terselfdertyd is hierdie akademiese bydraes 'n aanvulling tot, en nie bloot 'n oorvleueling met vorige akademiese publikasies oor Krog nie. Ek dink veral aan Louise Viljoen se versameling kritiese beskouings oor Krog se oeuvre in Ons ongehoorde soort (2009) en Antjie Krog: An Ethics of Body and Otherness (2014) met Judith Coullie en Andries Visagie as redakteurs, sowel as die monografieë van Pieter Conradie met Geslagtelikheid in die Antjie Krog-teks (1996), Anthea Garman se Antjie Krog and the Post-Apartheid Public Sphere: Speaking Poetry to Power (2015) en Jacomien van Niekerk se 'baie worde': Identiteit en transformasie by Antjie Krog (2016).

    Die uitgesoekte bibliografie (325) wat saamgestel is deur Shané van der Merwe is 'n uitmuntende naslaanbron vir enige navorser met 'n belangstelling in Krog se werk. Benewens 'n uitvoerige lys van Krog se eie publikasies, is daar onder meer 'n lys van boeke, verhandelinge en proefskrifte, akademiese artikels, koerantberigte en resensies oor haar hele oeuvre. Dit is noemenswaardig dat al die internetskakels wat in die bibliografie verskaf word in September 2024 nagegaan is, wat die moontlike teleurstelling van enige dooie (d.i. onaktiewe) hiperskakels drasties sal verminder. Daar is ook 'n nuttige register agterin die boek.

    Die boek beskik oor 'n fotobylaag wat deur Krog van byskrifte voorsien is. Heelwat hiervan gee vir die leser insig in Krog se persoonlike ervaring van oomblikke en figure deur die jare. Dit verteenwoordig by wyse van skrywe 'n reeks episodiese momentopnames uit Krog se lewe waarin sy hoogtepunte met familie, medeskrywers, en kollegas vier.

    Die puik versameling essays in Antjie Krog: 'n Ondersoekte lewe is 'n waardevolle bydrae tot bestaande indringende akademiese navorsing oor hierdie digter en skrywer se werk.

     

    Verwysings

    Conradie, P. 1996. Geslagtelikheid in die Antjie Krog-teks. P. Conradie.

    Coullie, J. L., en A. Visagie, reds. 2014. Antjie Krog: An Ethics of Body and Otherness. Durban: University of KwaZulu-Natal Press.         [ Links ]

    Garman, A. 2015. Antjie Krog and the Post-Apartheid Public Sphere: Speaking Poetry to Power. Durban: University of KwaZulu-Natal Press.         [ Links ]

    Krog, A. 1970. Dogter van Jefta. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

    Krog, A. 2022. Plunder. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

    Van Niekerk, J. 2016. 'baie worde': Identiteit en transformasie by Antjie Krog. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

    Viljoen, L. 2009. Ons ongehoorde soort. Stellenbosch: SUN PReSS.         [ Links ]