Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Journal of Literary Studies
On-line version ISSN 1753-5387Print version ISSN 0256-4718
JLS vol.40 n.1 Pretoria 2024
https://doi.org/10.25159/1753-5387/19947
BOOK REVIEW BOEKRESENSIE
Stiltes en stemme. 'n Huldiging van Karel Schoeman, deur Willie Burger (redakteur)
Geresenseer deur Renée Marais
Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika renee.marais@icloud.com https://orcid.org/0000-0001-7862-2270
2023. SA Akademie vir Wetenskap en Kuns/Naledi. 462 p. ISBN: 978-1-991256-46-1
Stiltes en stemme, onder redaksie van Willie Burger, is uitgegee in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks huldigingsbundels vir skrywers wat met die gesogte Hertzogprys bekroon is. Volgens voorskrif bevat Stiltes en stemme vakkundige artikels, 'n biografïese skets, foto's en 'n uitgebreide bibliografie. 'n Redakteurs-voorwoord lei die boek in, en inligting oor die medewerkers en 'n register sluit hom af.
Ses jaar na Schoeman se afsterwe is Stiltes en stemme 'n belangrike en tydige toevoeging tot die literatuur oor hierdie hoogaangeskrewe skrywer en sy uitgebreide oeuvre. Dit lok vergelyking uit met Sluiswagter by die dam van stemme (Burger en Van Vuuren, 2002), die enigste ander bundel oor Schoeman met beskouings deur verskeie bydraers. Stiltes en stemme fokus op Schoeman se romans (met uitsluiting van sy historiese publikasies) en biografiese besonderhede, en bevat minder, maar meer uitgebreide artikels. Dat Burger weer as redakteur opgetree het, is 'n wins.
Schoeman se niefiksie-uitgewer, Nicol Stassen van Protea Boekhuis, het die bibliografie in Sluiswagter tot 'n naslaanbron van onskatbare waarde vir navorsers uitgebrei. Stassen vul die algemene en historiese artikels en resensies deur Schoeman vir die periode voor 2002 grondig aan, dokumenteer die groot volume publikasies deur en oor Schoeman sedert 2002, en dui ook die heruitgawes en vertalings van Schoeman se werk aan.
Ria Winters se "kort biografie" (66 p.), "Die lang lyne in die lewe van Karel Schoeman", sit die belangrikste aspekte van sy lewe op grond van biografiese feite en sy skryfwerk helder uiteen. Winters, 'n historikus aan die Universiteit van Amsterdam, het van 2014 tot Schoeman se dood in 2017 uitgebreid met hom gekorrespondeer, aanvanklik oor sy historiese werk. Winters se navorsing oor Schoeman het sedertdien 'n boek, Reise met Schoeman (2020), verskeie vakkundige artikels, en 'n MA-verhandeling (2021, Universiteit van Leiden) opgelewer. Dié publikasies en haar bydrae in Stiltes en stemme getuig van omvattende navorsing in argiewe, ander bronne, en deur kontak met kennisse van Schoeman in Ierland, Europa, Brittanje, en Suid-Afrika. Haar "verfrissende benadering" tot Schoeman en sy werk (Viljoen 2020) en respekvolle hantering van intieme(r) besonderhede oor Schoeman, wek afwagting oor haar komende biografie.
Schoeman was kamera-sku. Die 14 foto's waarop hy verskyn, vul Winters se biografie goed aan. Naas treffende foto's deur Philip de Vos (en sy vertelling oor hoe hul geneem is) en die voorplatfoto deur Paul Alberts, is daar (danksy Stassen) ook, verrassend, ses nog onbekende foto's in besit van die Seminarium St. John Vianney opgeneem.
Johann Rossouw en Daniel Hugo se onderskeie bydraes lê verbande tussen biografiese gegewens en Schoeman se skryfwerk. In Rossouw se essay oor "die bekeringspirale van Karel Schoeman" dien die vertelling oor sy vriendskap met Schoeman (wat, tipies, skielik beëindig is) as stramien vir die uitwys van ooreenkomste in hul geesteslewe, waarin die beoefening van stilte 'n kerneienskap is (soos die bundeltitel Stiltes en stemme aandui). In Hugo se bydrae openbaar hy dat Schoeman die personasies in Die noorderlig (1975) op André P. Brink en Ingrid Jonker geskoei het. Hugo poneer dat Brink se venynige resensie bedoel was om potensiële lesers daarvan te weerhou om die roman te lees en die mense agter die karakters te herken.
Stiltes en stemme se fokus op vakkundige artikels oor Schoeman se romans (nie sy historiese publikasies nie) is geregverdig weens die veel groter aandag wat sy romans wat van 1984 tot 1998 gepubliseer is, ná 2002 by akademici ontlok het. 'n Ander land (1984) is vir my die waterskeidingsgroman wat Schoeman se oorgang van ontwikkelende na meesterlike romanskrywer verteenwoordig. Vier van die vakkundige artikels in Stiltes en stemme bespreek romans uit die latere, en twee artikels bespreek romans uit die vroeëre periode.
Al die artikels bied vanuit verskillende literêrteoretiese invalshoeke boeiende perspektiewe op die romans onder bespreking. Vanuit 'n literatuurwetenskaplike perspektief staan die insigte in Willie Burger se twee artikels voorop. In "Die aanspraak van stemme in Schoeman se drieluik" [verkorte titel - RM] argumenteer Burger dat Schoeman méér doen as om (soos dikwels uitgewys word) die stemme van randfigure in die samelewing aan die vergetelheid te ontruk. Deur te fokus op stemme, 'n verwaarloosde kategorie in die linguistiek en literêre teorie, lewer Schoeman in werklikheid op poststrukturalistiese literatuuropvattings kommentaar. Deur sy gerigtheid op "stem" eerder as op abstrakte betekenis wil Schoeman, binne die konteks van Wittgenstein se gewonetaalfilosofie, 'n ervaring, 'n reaksie, by die leser ontlok (p. 206). Deur hierdie inspeel op literatuuropvattings voldoen Schoeman, volgens Burger, aan Kundera se belangrike eis dat goeie roman(skrywer)s aan die "geskiedenis van die roman" moet help skryf (p. 8). In sy tweede artikel, oor die invloed en rol van Proustiaanse opvattings op Schoeman se romanbeskouing, sit Burger eers Marcel Proust se beskouing uiteen en toon hy vervolgens aan hoe Schoeman aansluit by wat Proust as die mees gewenste uitkoms van die lees van 'n roman beskou, naamlik dat die roman die leser tot optrede sal aanspoor deurdat hy die roman nie as kunswerk op 'n voetstuk sal plaas nie, maar dit sal internaliseer en daardeur tot optrede aangespoor sal word.
Met sy bespreking van (die plaas) Basterfontein in Hierdie lewe (1993) as heterotopiese ruimte (Foucault) bied Andries Visagie 'n interessante, nuwe perspektief op sowel dié roman as op die teorie oor ruimte. Vanuit hierdie invalshoek lees Visagie dié roman, met sy gemarginaliseerde vertelinstansie wat dinge waargeneem het wat sy as kind nie kon en as volwassene nie wou begryp nie, as 'n aktuele roman wat koloniale wanpraktyke aan die kaak stel op die vooraand van die oorgang na 'n demokraties verkose regering. Dié artikel, tesame met aspekte van Olivier se bydrae en Hugo se opstel, bied 'n korrektief op vroeëre tiperings van Schoeman as 'n skrywer van tradisionele, "nie-betrokke" romans in teenstelling met verskeie Sestigerskrywers se geëngageerde literatuur.
Francois Smith neem op verrassende wyse Schoeman se vierde roman, Spiraal (1968), in oënskou met 'n narratologies gefundeerde lesing (Bal, Genette, Chatman, Rimmon-Kenan) waarin hy aantoon hoe die kernaspekte van die roman se inhoud en styl reeds in sy openingsparagrawe opgesluit is. Synde sowel romanskrywer as akademikus, bied Smith belangrike insigte in eienskappe van Schoeman se skryfwerk en toon hy op oortuigende wyse dat 'n herlees van Schoeman se vroeë romans nuwe, voorheen onopgemerkte aspekte van sy romankuns na vore kan bring.
In hul artikel oor Die uur van die engel (1995) lig Chris van der Merwe en Cas Wepener die religieuse/geestelike dimensie uit, wat deurlopend, maar met wisselende intensiteit, as kode in Schoeman se oeuvre voorkom. Die mistieke ervaring, 'n kernelement in die Rooms-Katolieke Christelike geloof, staan in hierdie roman sentraal. Van der Merwe en Wepener fokus egter nie op Danie Steenkamp se mistieke ervaring nie, maar ondersoek, aan die hand van René Girard se opvattings oor skuld en onskuld, veroordeling en regverdiging, die konsep van die sondebok; en hoe daar uiteindelik ' n katarsis voortspruit uit die herkenning en belewing van die hele proses vanaf die veroordeling van die sondebok tot sy uiteindelike verheffing as/tot onskuldige.
Gerrit Olivier voer aan dat Schoeman reeds met Na die geliefde land (1972) en 'n Lug vol helder wolke (1967) 'n seminale bydrae tot die plaasroman gelewer het wat verder as net die Afrikaanse roman uitkring. Die artikel is 'n kragtoer: 'n elegante en weldeurdagte, erudiete besinning; 'n skerpsinnige, eie interpretasie van die plaasroman, sy aanloop en ontwikkeling, teen die agtergrond van kontekstuele veranderinge in sosiopolitieke en literêre opvattings en materiële omstandighede. Olivier neem ook die wêreldbeeld, literêre en ideologiese beskouings en doelwitte van prominente, invloedryke rolspelers in die Afrikaanse literêre sisteem (soos Elize Botha, N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, en André P. Brink) krities in oënskou.
Sekere van die menings en inhoud van die onderskeie bydraes in Stiltes en stemme lok verdere bespreking uit; 'n aanduiding van die geslaagdheid van hierdie publikasie. Die redakteur en die onderskeie bydraers het hul goed van hul taak gekwyt. Die inhoud van hierdie bundel bied (net soos die omvang van aspekte en tekste uit Schoeman se volledige oeuvre wat nog min of selfs geen aandag gekry het nie) klinkklare bewys van die rykheid van Schoeman se oeuvre en sy statuur as een van die grootste skrywers in die (Suid-) Afrikaanse letterkunde.
Verwysings
Burger, Willie, en Helize van Vuuren. Reds. 2002. Sluiswagter by die dam van stemme: Beskouings oor die werk van Karel Schoeman. Pretoria: Protea Boekhuis. [ Links ]
Schoeman, Karel. 1967. 'n Lug vol helder wolke. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau. [ Links ]
Schoeman, Karel. 1968. Spiraal. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau. [ Links ]
Schoeman, Karel. 1972. Na die geliefde land. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau. [ Links ]
Schoeman, Karel. 1975. Die noorderlig. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau. [ Links ]
Schoeman, Karel. 1984. 'n Ander land. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau. [ Links ]
Schoeman, Karel. 1993. Hierdie lewe. Stemme 2. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau. [ Links ]
Schoeman, Karel. 1995. Die uur van die engel. Stemme 3. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau. [ Links ]
Viljoen, Louise. 2020. "Verfrissende benadering tot Schoeman en sy werk." Rapport, 13 Sept. Geraadpleeg 23 Junie 2024. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/verfrissende-benadering-tot-schoeman-en-sy-werk-20200913
Winters, Ria. 2020. Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer. Pretoria: Protea Boekhuis. [ Links ]
Winters, Ria. 2021. "Karel Schoeman. An Afrikaans Voice in Africa. A Historical, Sociological and Linguistic Approach into the Life and Work of South African Writer Karel Schoeman (1939-2017)." MA verhandeling, Universiteit van Leiden.











