SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue2Discourses of transnational feminism in Marie du Toit's Vrou en feminist (1921) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.62 n.2 Pretoria  2025

    https://doi.org/10.17159/tl.v62i2.17782 

    RESEARCH ARTICLES

     

    Mens en klimaat soos uitgebeeld deur Katherine Graham en Abraham H. de Vries

     

    Human and climate in the work of Katherine Graham and Abraham H. de Vries

     

     

    Susan Meyer

    Medeprofessor in Afrikaans aan die Skool vir Taalonderrig, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit (NWU), Potchefstroom, Suid-Afrika. Sy is deel van die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in Suid-Afrikaanse konteks aan die Fakulteit Geesteswetenskappe van die NWU. E-pos: meyer.susan@nwu.ac.za. https://orcid.org/00-00-0002-7211-1530

     

     


    ABSTRACT

    This study is focussed on the experience of climate and how to live with it: with its effect on the physically perceptible and also on the imperceptible- the mental or psychological. The concept of climate is not based on natural and scientific facts exclusively. Following ecocritics who consider climate and climate change from a cultural angle, such as Alex Goodbody, Roger Fleming and Vladimir Jankovic, as well as Eva Horn and Solvejg Nitzke, I see climate as a cultural concept. This implies that I investigate the phenomenon of climate as related to experiences of an individual, social and cultural nature, indicative of how people react to climate, how they live in climate-oriented ways, and how they are influenced by climate. Through the lens of ecocriticism, Katherine Graham's debut novel, Reën vir Stofvlei (2023), and four short stories from an earlier era by Abraham H. de Vries are analysed to determine the effects of climate, as depicted in these texts, on the human body, state of mind and ways of thinking. The importance of this article lies in its formulation of a cultural perspective on climate and on extending research on the literary embodiment of geographical details of South Africa, focusing on the unique nature of Afrikaans ecocriticism. The human-climate association is key to an understanding of the human-nature dynamics in South Africa.

    Keywords: South African literature, Abraham H. de Vries, climate, ecocriticism, human-climate relationship, Katherine Graham.


     

     

    Inleiding

    Katherine Graham se debuutroman, Reën vir Stofvlei, is oorspronklik in Engels geskryf en, te danke aan Elsa Silke se vertaling, in 2023 in Afrikaans gepubliseer. Só neem die hooffiguur die plaasomgewing vanuit haar pa se bakkie waar: "Die veld lyk soos verskroeide aarde, asof 'n veldbrand hier deurgetrek het. [...] Dis nie vuur wat die gras in swart stokkies verander het nie, maar die stadige, ongenadige hitte van die son. Soos 'n oond waarin die aarde bak" (Stofvlei 39). Die vertellende "ek" in Reën vir Stofvlei is Gogga (Elsie Wahl), die jongste in 'n plaasgesin in die Pofadder-omgewing in die 1940's. Al wat Gogga ken, is hulle plaas, hierdie "stofkorrel op die uitgestrekte, leë vlaktes van die Boesmanland" (1). Op die ouderdom van tien jaar beleef sy hoe die plaas wat haar hele wêreld is, onder 'n verlammende droogte deurloop.1

    Droogtes, verwoestende veldbrande, oorstromings en veranderende weerpatrone as gevolg van klimaatsverandering is, net soos die Covid 19-pandemie, dringende bewusmakers van die omgewing waarin ons woon en werk, merk Dewald Koen (72) op in 'n resensie van die roman Decima (Eben Venter), wat ook in 2023 verskyn. Enkele jare tevore onderstreep die invloedryke Duitse ekokritikus Axel Goodbody (ii) in die redakteursbrief van Ecozon@-'n internasionaal geakkrediteerde vaktydskrif toegewy aan die veld van ekokritiek, wat later omskryf word-dat die pandemie se gevolge vir ons, desondanks die rampspoedige aard daarvan, van verbygaande aard mag wees en dat die langtermyn-effek op ons lewenswyse moontlik gering mag wees in vergelyking met dié wat klimaatsverandering op ons lewens kan uitoefen.

    Chakrabarty (201) en ander voer aan dat die humanistiese onderskeid tussen die geskiedenis van die mens en dié van die natuur verdwyn het met die koms van die Antroposeen (sien Chakrabarty 201). Op grond hiervan voer Goodbody (ii) aan dat ons 'n kultuurgerigte houding en benadering ("cultural approach") ons eie sal moet maak. Die mens sal sigself moet versoen met die idee dat klimaat nie slegs natuurfeite behels nie, betoog Goodbody (ii): by die konsep klimaat is ook sosiale en kulturele aspekte betrokke.2

    Hiermee word 'n argument ingelei wat aanvanklik geensins vreemd op die oor val nie. Dit is gebou op die uitgangspunt dat die koronavirus deure vir die menslike samelewing sou kon open, onder andere op psigologies en politiese vlakke, om denke toe te spits op die aard sowel as die omvang van die veranderinge-in terme van werk- en leefpatrone-wat nodig is om doelmatig en gepas met die werklikheid van ons planeetbedreigende klimaatkrisis om te gaan (i).

    Die uitbeelding van die gevolge van klimaatverandering, soos in Reën vir Stofvlei, is nie nuut nie. Die essensie van Goodbody (ii) se argument lê ook nie in die aankondiging van enige nuwe tendens nie. Die kern van sy argument lê wel in die kragtig bewoorde wegbeweeg van ons beskouing van klimaat as 'n uitsluitlik wetenskaplik begronde begrip wat met weerstoestande verband hou: "What is required is a critical review of the many different ways in which individuals and communities have perceived the weather, lived with it, and imagined alternatives, drawing on everyday practices, individual accounts, fictions and visual representations, as well as theories and narratives on the effects of climate on human bodies, mentalities and societies" (ii).

    Hier is 'n kernagtige onderskeid tussen die konsepte klimaat en weer nodig. Dié verskil word op die Amerikaanse National Aeronautics and Space Administration (NASA) se webblad as 'n verskil in tydsduur ("a measure of time") verklaar. Met weer word na die toestand van die atmosfeer oor 'n kort tydperk verwys, byvoorbeeld na reënbuie of 'n warm dag. Klimaat is hoe die atmosfeer oor relatief langer tydperke uitspeel, oftewel die gemiddelde weertoestande op 'n spesifieke plek oor 'n aantal jare (Stabinskyh, Zundel en Reeder 1).

    Teen die agtergrond van Suid-Afrikaners se diepgaande verbintenisse met grond en plaaslandskappe, op 'n gevarieerde wyse en vanuit verskillende perspektiewe uitgebeeld, asook binne die konteks van bestaande navorsing oor die natuurgegewe in die Afrikaanse prosa en poësie (Smith 215), rig ek my aandag op klimaat. Dan word klimaat egter nie verstaan as 'n term op die algemene weersgesteldheid van 'n streek geskoei en suiwer vanuit wetenskaplike perspektief te verstaan nie. Ek beskou klimaat as 'n begrip aanduidend van hoe mense klimaatgewys leef en klimaat beleef, as verbandhoudend met ervarings van individuele, sosiale en kulturele aard. Die belang van hierdie klimaatgefokusde ondersoek setel in die voortgesette belangstelling in die mens-natuurverbintenis wat tot die kern van die Suid-Afrikaanse prosageskiedenis behoort.

    'n Kultuurgerigte benadering tot klimaat behels die benutting van verskeie vorme van kennis oor klimaatbelewing wat opgesluit kan lê in histories verouderde, inheemse, ongesproke ("tacit") en fiktiewe wyses waarop sin gemaak word van klimaatervaring, veral van om sigself in klimaat te bevind ("making sense of being in climate") (Nitzke en Horn 2, oorspronklike kursivering).

    Hierdie studie, met Reën vir Stofvlei as eerste primêre teks, sal by historíese diepgang baat vind. Ter wille hiervan word die reeds uitgespelde kulturele benadering tot Graham se roman in my ondersoek gekombineer met 'n kultureel-gefokusde en klimaatgerigte herlees van literêre tekste ook uit die era rondom die draai van die eeu. Vir hierdie doel, tweedens ter wille van genre-afwisseling en derdens om die soeklig gefokus te hou op tekste gebaseer op dieselfde klimaatstreek, val my keuse op kortverhale uit die pen van Abraham H. de Vries. De Vries word as een van die meesters van die kortverhaal in Afrikaans beskou (Pakendorf 8; Van Zyl 1).3 In vele van sy verhale word 'n duidelike band en 'n bewuste assosiasie met die Wes-Kaap onthul-spesifiek met die Klein-Karoo, direk aangrensend aan die Noord-Kaap, waar die Boesmanland (Graham se romanlandskap) lê. De Vries self verwys só na hierdie stuk aarde: "Dis in die onvoltooide landskappe van die Klein-Karoo, van reëndae tot helwarm Februariedae, wat ek dink: dié greep op my het ek as kind al geken" (De Vries en Brink), en: "Ek ken die reuke en tekstuur, die mense en die klimaat van die Klein-Karoo" (Wasserman 8).

    Laasgenoemde sinne verraai duidelik iets van die verstaan van klimaat vanuit kulturele perspektief. Dié perspektief op "how people live climatically, how they become weathered" -aldus die ráák beskrywing van Mike Hulme (57)-glip as't ware soos 'n teoretiese 'handskoen' bo-oor die werk van Abraham H. de Vries. Dit dien om 'n vaste(r) greep op die herbeskouing en -waardering van sy verhale te kry.

    Enkele verhale uit De Vries se oeuvre is gekies om te illustreer hoe klimaat as geïntegreerd met liggaam, siel, sowel as kulturele en sosiale bestaan in die literêre (her)besinning oor De Vries se werk verstaan kan word. Hulle word uit verskillende bundels geneem: "Al die talent van hier rond" verskyn in Op die wye oop Karoo (2002), "Bouvalle" en "Die behoue huis" in Tot verhaal kom (2003) en "Woede" kom uit die bundel Verbeel jou dis somer (2009). Hierdie vier verhale is uitgekies ná 'n versigtige herlees van De Vries se kortverhaalbundels, hoofsaaklik om twee redes. Die sterkste motiverings vir my keuse is dat daar, ten eerste, in al dié verhale na die Klein-Karoo van De Vries se jeugjare teruggekeer word. Ten tweede kom in dié verhale 'n skerp fokus op klimaat voor, náás die aandag aan die "bestaansdilemmas" wat as tematies kenmerkend van De Vries se "ernstiger" verhale beskou word (Painter 9).4

    Wat Nitzke en Horn (5) as van uitstaande belang in ons huidige era beskou, is literêre benaderingsmetodes wat die teenwoordigheid van klimaatfaktore opspoor en die funksie van hierdie teenwoordigheid ontsyfer in tekste wat oënskynlik oor totaal ander kwessies handel. Hierdie riglyn is benut as direk van toepassing op my keuse van verhale uit De Vries se oeuvre.

    De Vries se kortverhale voeg nie slegs noodsaaklike diepgang op historiese en literêre vlakke tot die studie toe nie. Die gekose primêre tekste is ook geografies gesitueer in fisies aaneenskakelende streke met grootliks ooreenstemmende klimaatsomstandighede-'n geïntegreerde klimaat-'geheel'. Graham se roman is geïnspireer deur die landskap van die Noord-Kaap; De Vries se verhale deur die aangrensende Klein-Karoo. Die mens-klimaatbeeld wat te voorskyn kom uit die bestudering van verskeie tekste met oorvleuelende klimaatsituasies mag 'n antwoord bied, vanuit die suidelike punt van Afrika, ten opsigte van "how weather enwraps itself with landscapes, memory, the body, the imagination and routine practices in particular places" (Hulme 57). Hieruit, meen Hulme (57), is daar sin te maak van klimaat en klimaatveranderinge, en ontstaan die potensiaal vir die mens om "ontkoppeling" van klimaat, as 'n suiwer wetenskaplik gefundeerde idee, te beleef. Die waarde van hierdie ondersoek lê tereg dus in die nuwe literêre lewe wat ingeblaas mag word in 'n oeuvre wat oorbekend in die Afrikaanse letterkunde voorkom, naamlik dié van Abraham H. De Vries. In sommige verhale uit De Vries se pen lééf egter ook die uniek geformuleerde oortuiging van Nitzke en Horn (2): "Aesthetic representations, imaginations and imageries can [...] set local climate experiences, perceptions, and practices in relation to the knowledge and the news we get about the changing state of the atmosphere."

    Die doelwit vir my studie het duidelik geword. Dit moet egter vollediger geformuleer word om dit ook in die groter teoretiese raamwerk van ekokritiese literatuurteorie, die internasionale kritiese dissipline wat op die verhouding tussen die kunswerk, die mens en omgewings-/natuuraspekte as fokuspunt het, te plaas.5 Deur die lens van ekokritiek word Katherine Graham se debuutroman en die gekose kortverhale van Abraham H. de Vries krities benader om te bepaal op watter wyses 'n verskeidenheid van klimaatfaktore deur die karakters en gemeenskappe in die tekste ervaar word. Die vraag is hoe daarmee saamgeleef word-met die fisieke invloed daarvan, met die uitwerking daarvan op waarneembare en ook onwaarneembare (denk- en psigiese) wyses van bestaan. Daar word ook aandag geskenk aan hoe verbeelde alternatiewe vir bepaalde klimaatomstandighede mag ontstaan.

    Hierdie ondersoek betrek fiktiewe en verhalende weergawes van klimaat en die ervaring daarvan, asook historiese en outobiografiese vertolkings van wat Goodbody (ii), in sy kundige formulering, "the effects of climate on human bodies, mentalities and societies" noem. Die uitgebeelde mens-klimaatbelewings in die gekose werke word ondersoek by wyse van aandag aan die literêre vergestalting van alledaagse praktyke en belewings wat met klimaat verband hou. In hierdie tekste word dit meestal gevind in die vorm van individuele beskrywings en mededelings.

     

    Klimaat binne breër, kulturele konteks

    Die begrip klimaat vorm die grondbeginsel van klimaatwetenskap met al sy fasette.

    Wanneer daar vanuit 'n kulturele hoek na klimaat en klimaatsverandering gekyk word, word klimaat verstaan as 'n soort ervaring op grondvlak ("ground-level experience")-aldus Fleming en Jankovic (4) (oorspronklike kursivering). Hierdie tipe ervaring veronderstel 'n verbinding tussen klimaat en liggame, plekke en kulture ("connecting bodies, places, cultures ... " [4]). Die oortuiging dat klimaat nie slegs gegrond is in natuurfeite nie, oftewel dat klimaat ook beslag vind in sosiale en kulturele belewings sodat hierdie konsep op verruimde wyse ook oor 'n kulturele dimensie beskik, word deur Solvejg Nitzke en Eva Horn (1) ondersteun. Hierdie navorsers meen dit het tyd geword vir die herbeskouing en -waardering van die veelvuldige verhoudings tussen klimaat en liggame, gemeenskappe asook sosiale instellings, sowel as van die wyses waarop mense in hulle omgewings met die weer en weerpatrone saamleef.

    Mike Hulme (57) ondersteun hierdie standpunt op uitgesproke wyse: "Making sense of climate and its changes cannot be separated from how weather enwraps itself with landscapes, memory, the body, the imagination, and routine practices in particular places. Approaching climate this way demands an explicitly geographical and cultural interrogation of how people live climatically, how they become weathered."

    Breër begrip omtrent die wyses waarop klimaat waargeneem en geïnterpreteer is vóór en tydens die eras van globalisering en industrialisasie maak begrip vir hierdie konsep binne 'n kultuurgefundeerde konteks makliker. In vroeëre literêre analises is aanduidings van weer en klimaat dikwels afgemaak as niks méér nie as weerspieëlend van 'n wending in die verhaalintrige of van die protagonis se emosies. Die koms van die Antroposeen (oftewel die 'Era van die Mens') het verouderde, Westerse idees van tweedeling hokgeslaan: dié tussen menslike skepping en natuurskepping, tussen die plaaslike en die planetêre, tussen die kort tydperke van menslike geskiedenis en die gang van die aarde se geskiedenis (Horn en Bergthaller 9).

    Aanvullend tot die meetbare data, gemiddeldes en die verskeidenheid van gegewens oor die atmosfeer wat deur die natuurwetenskappe aan ons voorsien word, behels die verstaan van klimaat vanuit die hoek van die kultuur ("understanding climate culturally") die verdere inagneming van 'n enorme en heterogene hoeveelheid verskynsels en prosesse, waarvan Nitzke en Horn (1) enkeles noem. Hulle verwys na daaglikse gebruike wat met klimaat verband hou, na individuele mededelings en verslaggewing, na fiksie, mites en verhale, na waargenome atmosfeer en mondelinge, geskrewe en visuele voorstellings van klimaatbelewing, asook na gebruike in die argitektuur. Laastens word verwys na die narratiewe en die teorieë gekoppel aan die uitwerking van klimaat op die mens se liggaam, geestesgesteldheid en denkwyse, en op gemeenskappe. Nitzke en Horn (2) is van oortuiging dat kultuur- en mensgefokusde vertolkings van klimaat iets mag uitdruk van wat hulle noem: "the air from the 'inside', setting local experiences, perceptions and practices in relation to the knowledge and the news we get about the changing state of the atmosphere". Dié soort klimaatvertolking sou moontlik kon wees in verbeeldings-en estetiese produkte van wisselende aard (2).

    Nitzke en Horn se beskouing het eietydse relevansie wanneer dit verbind word met die pogings om besorgdheid oor klimaatverandering te stuur in die rigting van die besef dat dit 'n probleem van sowel individuele as kollektiewe belang is. Wanneer klimaat gereduseer word tot klimaatsverandering-as synde 'n sosiopolitieke, natuurwetenskaplike en tegnologiese probleem-word twee belangrike aspekte geïgnoreer. Die eerste is die ryk 'geskiedenis' van klimaat in terme van begrips- en voorstellingswyse. Ten tweede word die rykdom van wyses waarop klimaat waargeneem en waarop sin daarvan gemaak word-in ag genome die kultuurgerigte begripsverruiming van die konsep-buite rekening gelaat. So 'n redusering dra, volgens Nitzke en Horn (2), in 'n ruim mate by tot die onvermoë om klimaatverandering te beleef as 'n uitdaging waarby individue en samelewings self betrokke is. Die idee dat klimaat slegs 'n kwessie van globale gemiddeldes is, en dat klimaatverandering 'n langtermynproses is wat klimatoloë en ander wetenskaplike navorsers belangrik vind, ontneem ons die vermoë om klimaat te begryp as 'n dimensie van algemene menslike bestaan. Ons word eweneens die vermoë ontneem om daarby aansluiting te probeer vind. Nitzke en Horn (2) verklaar: "In order to truly understand the social, individual and affective dimensions of climate change, we first have to rediscover the cultural meanings of climate."

    'n Groeiende korpus navorsing in die geestes- sowel as sosiale wetenskappe is deesdae toegespits op die bevordering van die beskouing van klimaat soos Goodbody, Hulme, Nitzke en Horn-onder andere-dit verstaan. In 2020 verskyn 'n tema-uitgawe van Ecozon@, getiteld "Cultures of Climate. On Bodies and Atmospheres in Modern Fiction". Dit is gevul met die resultate van studies oor die kultuurgerigte vertolking van klimaat in verhalende literatuur, met verwysing na (onder andere) die beelde en figuurlike woordgebruik by wyse waarvan die vertolking van klimaat as eksklusief wetenskaplike en ook abstrakte begrip as't ware weerspreek word. Dit gebeur ten gunste van denke oor klimaat waar die kulturele die oorheersende rol in die verstaan en vertolking van klimaat speel, oftewel ten gunste van "understanding climate culturally" (Nitzke en Horn 1).

    Die oortuiging dat klimaat aan die mens se ervaring van plek en tyd gestalte kan gee, word vanuit 'n unieke hoek deur Roland Barthes onderskryf. Volgens Barthes is klimaatsomstandighede op waarneembare wyse afgedruk op individue se taalgebruik. In Urs Buettner se artikelbydrae tot Ecozon@ se reeds vermelde tema-uitgawe Cultures of Climate ondersoek Buettner die weer- en klimaatsbeskouings soos dit vervat is in Barthes se laaste siklus van lesings, "La Préparation du Roman". Buettner gee veral aandag aan Barthes se pogings om die literêre voorstellingswyses van weer en klimaat tipologies te orden.

    Barthes onderskei, onder andere, die tipe taalgebruik waarmee weer- en klimaatbelewings in literêre tekste gestalte vind by wyse van 'n sterk verwysingsfunksie. Hier word bedoel dat estetiese tegnieke gebruik word in 'n poging om klimaat- en klimaatverwante verskynsels in die fynste moontlike besonderhede weer te gee. Literêre meteorologie ("literary meteorology"), soos Barthes dit noem, verwys na die taalgebruik in literêre tekste by wyse waarvan daar aan die uniekheid van klimaat, en ervarings daarvan, gestalte gegee word (Buettner 40). 'n Ander literêre tegniek, meteopoëtika ("meteopoetics"), behels die práát oor klimaatsaspekte en -ervaring; hoe die beleefde invloed van klimaat in die taal(gebruik) óór klimaat ontvou (41). Aandag aan meteopoëtika het die doel om die kommunikatiewe dimensies en funksies van sulke dialoog bloot te lê en om die poëtiese funksie van taal te beklemtoon (41).

    Klimaatverandering is nie die enigste demonstrasie van die mens se aandadigheid aan die totstandkoming van die Antroposeen nie, herinner Nitzke en Horn ons in die inleiding tot bogenoemde uitgawe van Ecozon@. Hulle navorsingsbemoeienis met hierdie spesifieke kwessie word egter kernagtig en oortuigend gemotiveer:

    But it (climate change) is, we contend, particularly suited to the analysis of the complex environmental crisis we are facing from a cultural studies perspective, namely in its historical, aesthetic, ethical and social dimensions. Climate change, as well as climate as such, is neither merely cultural nor merely natural but a contact zone where human and non-human forms of life, natural environments, economies, and technologies are inextricably intertwined. (2)

    Letterkunde is, vir Nitzke en Horn (4), 'n ideale middel tot noukeurige aandag aan die verskynsels en effekte van klimaat. Die abstrakte en ontglippende aard van klimaat in die moderne, wetenskaplike sin van die woord kan in letterkunde omgekeer word en vergestalting vind in beelde, in figuurlike uitdrukkingsvorme en verhale waarby ons kognitief sowel as op emosionele vlak aansluiting kan vind (4).

    Wanneer verhaal- of ander kunswerke (byvoorbeeld films) op die onderwerpe van klimaatverandering en aardverwarming toegespits is, word na klimaatfiksie verwys. Die term cli-fi, die Engelse afkorting vir "climate fiction", is in 2011 deur vryskut-skrywer Dan Bloom gemunt. Bloom wys op die verwantskap tussen cli-fi en wetenskapfiksie (sci-fi): beide is gewortel in die realisme sowel as in die spekulatiewe. Elemente van klimaatfiksie is egter reeds herkenbaar in werke wat verskyn het voordat die term cli-fi bestaan het, byvoorbeeld Lear's Daughters, deur Marjorie B. Kellogg (1997). Kellogg steun op die kernagtige omskrywing van dié genre deur Theodora Sutcliffe: klimaatfiksie is verhalende skryfwerk wat ons omtrent die wêreld leer soos ons dit behoort te sien-'n planeet in die greep van 'n klimaatkrisis wat ons lewens ingrypend sal beïnvloed so lank as wat ons dit bewoon.

    Benewens letterkundige navorsing oor klimaatfiksie, kan 'n kultuurgefundeerde benadering tot klimaat ook baat by die analise van hoe klimaat funksioneer in tekste wat nie eksplisiet of sentraal met die onderwerp gemoeid is nie. Wat laasgenoemde betref, word 'n ander manier van lees voorgehou: die lees van fiksie op 'n wyse wat die tradisionele hiërargie tussen die agter- en voorgrondgegewe in 'n literêre teks uitdaag (Nitzke en Horn 4). Gegewens wat konvensioneel bloot as die ruimtelike situering in 'n roman beskou is, word nou die hooffokus in die ontleding van die teks. Amitav Ghosh (66) verduidelik: Soos wat persepsies van klimaat ontwikkel, vanaf die idee van 'n statiese, plaaslike agtergrond tot by die besef dat klimaat beslag vind in dinamies veranderbare, eerstehandse en intens persoonlike belewing, skuif die natuur en die kwesbaarheid daarvan algaande in die voorgrond.

    Die klimaat is ingesluit by 'n velerlei van natuurtoestande waarop die soeklig in my vroeëre navorsing val.6 Hierdeur is die weg gebaan vir die moontlikhede van 'n denkskuif, 'n wegbeweeg van denke oor klimaat as behorende suiwer tot die konteks van die natuurwetenskap, oftewel gemoeid met droë of vogtige lugtoestande en die hoogte van die kwik in die termometer.

    In die res van hierdie artikel verken ek die moontlikhede van hierdie denkskuif verder, deur Reën vir Stofvlei en geselekteerde verhale deur Abraham H. de Vries, tekste wat nie noodwendig beskou kan word as klimaatfiksie nie, te interpreteer met 'n fokus op klimaat.

     

    Reën vir Stofvlei (Katherine Graham) en verhale van Abraham H. de Vries

    Die ariede, westelike streke van Suid-Afrika is die tafarele wat in Graham en De Vries se woordkuns gestalte kry.

    Die Boesmanland (Graham se romanruimte) lê in die noordweste van hierdie streek en die Klein-Karoo (die heimat van die skrywer as verteller in De Vries se verhale) in die weste. Die Boesmanland strek vanaf Calvinia in die suide tot by die Oranjerivier in die noorde en ooste, grens aan Namakwaland in die weste en aan die Sak- en Hartbeesriviere in die ooste (Hogan). Gogga (in Reën vir Stofvlei) word groot in 'n landskap bestaande uit groot vlaktes wat deur enkele lae berge onderbreek word. Die Boesmanland word deur Hogan beskryf as een van die droogste gebiede in die land, en somertemperature in die Noord-Kaap kan baie hoog wees, met piektemperature wat dikwels die 30°C- tot 40°C-merk oorskry.

    Ladismith, De Vries se jeugomgewing, lê in die warm en droë vallei tussen die Swartberge en die Langeberge. Volmoed en Winkelplaas in Ladismith se omgewing, die plase van De Vries se geboorte en jeugtyd, is "die ruimte waarna hy telkens in sy skryfwerk terugkeer, en sy bemoeienis met die Klein-Karoo is "die doek waarop hy sy motiewe skilder", sê Kirby van der Merwe (11) in 'n resensie van Op die wye oop Karoo.7 Dié vallei lê in die sogenaamde reënskadu van die Swartberg wat die beweging van vogtige lug vanaf die Weskus blokkeer (Frandsen). In die verhale waarin De Vries hierdie stukkie Wes-Kaap van sy jeug (her)besoek, is die impak van hitte en wind-op hom sowel as op diegene wat dié streek saam met hom (her)besoek-opvallend. Die verhaal "Wind" begin só: "In Februarie 1990 [...] het die wind hier in die Klein Karoo gewáái: stormsterk, nukkerig, knaend. Droë neus, brandoë, stof in al wat holte is" (De Vries, Verbeel jou 72). In "Bouvalle" word na die effek van "wind en weer" op die talle ruïnes op onbewoonde plase verwys: "Dis asof [...] die hol klank van wind in die vertrekke vir die mure te veel word" (De Vries, Tot verhaal kom 17). In dieselfde verhaal word die ruïne van 'n ou skooltjie beskryf: "En dis juis as die wind so waai, [...] wat 'n mens jou [...] kan verbeel jy hoor die kinders se stemme op die wind van die speelgrond af aangewaai kom ... " (13).

    In "Die behoue huis" word die verteller se verblyf in Gamkaskloof in die Swartberge (oftewel "Die Hel", bekend vir sy versengende somertemperatuur), saam met 'n span wat radio-opnames van "die verhale van die Klein-Karoo se storievertellers" doen, tot verhaal gemaak. Die verhaalopnames in hierdie Gamkaskloof-omgewing roep herinneringe by talle van dié storievertellers op; byna almal van hulle het "meer op die hart gehad as waarvoor ons bande saamgebring het" (49).

    In die herinneringe wat tydens dié verblyf in die Swartberge verwoord word, is klimaatfaktore dikwels 'n liggaamlike belewenis, as't ware in die vroeëre bewoners van dié wêreld se fisiese en psigiese geheue ingeskroei. 'n Laataand-vertelling deur Antoon, ook 'n boorling van dié geweste, word deur homself tot stilstand gebring met die woorde: "Ek het nou iets oorgeslaan", asof dié kwessie onweglaatbaar belangrik vir die geheel van die vertelling is. Dan vul hy hierdie spasie-by sy luisteraars met afwagting gevul-met die volgende woorde in:

    In die hartjie van die somer steek daar party dae in die Klein-Karoo 'n ondraaglik warm, bedompige wind op dat jy skaars kan asemhaal. [...] dat dit vir jou voel asof die wind jou gesig en arms kan skroei. As ek [...] instap in sulke vlae op die werf, het dit vir my gevoel ek loop teen die wind vas, teen iets harders as wind, iets wat jou laat terugsteier. Dit was (daardie dag) asof daar van anderkant die huis se werf af so 'n wind kom en alles verskroei, alles laat verkrummel. G'n mens sal dit glo nie. (55, oorspronklike kursivering)

    Op dieselfde wyse ontstaan hitte- en droogteverwante beelde in Reën vir Stofvlei uit die skroei-effek van die son, en telkens is dié uitwerking op beide die liggaam en die gees waarneembaar. Gogga, wat as karakter gebaseer is op die karakter en ervarings van die skrywer se tante wat in die Pofadder-kontrei grootgeword het, beskryf in hierdie fiktiewe biografíese roman die "verskroeide aarde" en die swart "stokkie"-oorblyfsels van die gras, in hierdie "oond waarin die aarde bak" (Stofvlei 39) met verdwasing.8 Dit is die uitwerking van die voortslepende droogte op haar gesin wat vir Gogga die grootste ontsteltenis skep. Sou haar ouers moed verloor in die stryd met die Landbank, wat dreig om lenings "op te roep" omdat boere nie genoeg as paaiemente kan aanbied om die leningagterstand uit te wis nie (223), kom die plaas in die mark. Die faktor wat egter dreig om haar pa se moed werklik te breek, is die diere se lyding as gevolg van die hitte, wanvoeding en dors. Te swak om regop te bly, lê selfs lammers "op 'n hopie in die skaduwee van die bloekom" (176). Intelligente jong verteller wat sy is, beskryf Gogga hulle situasie in sekure besonderhede: "Die skaap sal vrek sonder water en dis die enigste rykdom wat ons het. Dít, en die plaas" (16). En: "'n Boer sonder 'n plaas is soos 'n klavierspeler sonder vingers. Jy is minder as niks" (163).

    As 'n punt van kritiek teen Reën vir Stofvlei betoog Hugo (2) dat die wêreldoorlog wat in die vroeë 1940's selfs op die platteland van Suid-Afrika die nuusgebeure oorheers het vir 'n meisietjie met Gogga se persoonlikheid groot kommer sou moes veroorsaak. Dit sou geld selfs al het oorlognuus die mense op plase eers láát bereik. "Tog word die oorlog net in die verbygaan genoem", sê Hugo (2). Teen dié kritiek sou egter maklik verweer gevind kon word met verwysing na die hoek waaruit die roman aangepak is. In die verhaaltitel word die prioritisering van die klimaatgegewe reeds uitgehef, en in Gogga se woorde word die invalshoek op die verhaalgebeure duidelik gemaak: "Die oorlog in Noord-Afrika tussen die Geallieerdes en die Duitsers is nog aan die gang, maar op ons plasie [...] woed 'n ander soort oorlog. 'n Oorlog om oorlewing" (Stofvlei 181). Die antagonis in hierdie verhaal is nie 'n dreigende oorlogsmag nie, maar 'n skrikwekkende droogte-geteken in terme van 'n lewensbedreigende weerpatroon: 'n droë wind, uitermatig hoë temperature, die afwesigheid van wolkbedekking en van enige vorm van vogneerslag.

    Dit is teen hierdie antagonistiese magte in wat Gogga probeer beur deur te veg vir wie en wat sy liefhet. Swak en dorstige diere op die plaas, selfs skilpaaie, word na haar "dierehospitaal" op die werf gedra; sy probeer haar ouma se groentetuin en selfs die paar sonneblomme en waatlemoene met skottel- en wasgoedwater aan die lewe hou. Mens en dier is in hulle lot saamgesnoer teen die droogte, die groot gelykmaker. Gogga se stryd is om alles wat nog leef, en veral haar desperate pa, "te laat aanhou en uithou" (179). Die mens se gees-spesifiek dié van Gogga se mense-word as die eintlike gevegsterrein blootgelê.

    In die onthulling van die oorheersende rol wat die geestesgesteldheid van mense in hulle saamleef met klimaat kan speel, word beaming gevind van Nitzke en Horn (12) se oortuiging: "Understanding climate culturally draws on [...] the theories and narratives on the effects of climate on human bodies, mentalities, and societies."

    Gogga se aandag op skool is verdeel. Deurgaans is daar die soeke na 'n belowende wolkie in die lug bo die klein skoolgebou, die versugting na reën en die bittere teleurstelling wanneer dit wegbly. Die wyse waarop klimaatbelewing in Reën vir Stofvlei uitgebeeld word-by Gogga as 'n geestesstryd tussen hoop en wanhoop- openbaar die invloed daarvan op geestesgesteldheid en denkwyse, asook op hoe klimaat beslag vind in die sosiale konteks van belewings.

    Toe sien ons dit: die mees volmaakte cumulonimbuswolk wat ek nog ooit gesien het. [...] Ons spring uit ons banke en bondel by die venster saam. [...] Die donker wolk marsjeer deur die lug soos 'n magtige kryger en trek hom tot sy volle hoogte op. [...]

    Die spanning is erg, soos elektrisiteit wat vonke skiet. Is dit die begin van die reënseisoen?

    Alle oë is op die donker wolk wat deur die lug storm. Dit móét tog reën bring, dink ek. Dit swel al hoe groter en weerligstrale klief deur die donker lug. [... ] Ons hou asem op. As die wolk net sy swaar vrag op die droë aarde sal loslaat. [...]

    Maar die wind los nie die wolk uit nie. Dit hap aan sy hakke soos 'n hond en stoot hom al hoe verder en verder noord. Daar is 'n knop in my keel terwyl ek kyk hoe die wolk kleiner raak op die stowwerige horison. "Die verdomde wind," prewel Meneer, en niemand gee eens om dat hy lelik praat nie. [...]

    Soos soldate ná 'n mislukte veldslag gaan ons terug na ons banke [...]. 'n Wolk van mismoedigheid hang in die vertrek, so dik soos die wolke wat net 'n paar minute gelede nog die lug vol was. (145-6)

    Die sterk beeldende aard en estetiese kwaliteit van hierdie voorstelling het besondere waarde, uit Nitzke en Horn (2) se oogpunt vertolk. Dit kan as vergestalting dien van hierdie navorsers se hoop op 'n uitweg uit die dilemma dat die mens, juis in die tyd wat sy verantwoordelikheid vir klimaatverandering op die skaal van ons wye planeet vir elke individu duidelik moet wees, hom as "ontkoppel" van klimaat beleef. Dít terwyl klimaat in ons konvensionele opset 'n eksklusief wetenskaplik gedefinieerde begrip is. Wanneer klimaat egter in terme van menslike lewens- en belewingsaspekte voorgestel word-soos in Reën vir Stofvlei gebeur-en waar klimaat in ons ondersoeke uit 'n kulturele hoek benader word, ontstaan die moontlikheid van en die aandrang op veel hegter mens-klimaat-konneksies (2).

    Dieselfde evokatiewe aard wat deur Anchien Conradie aan Reën vir Stofvlei toegeskryf word, daardie selfde helder uitgebeelde voorstellings en gewaarwordings uit die verbeelding of ervaring, kenmerk De Vries se verhaal "Woede" in Verbeel jou dis somer. By wyse van ingevoegde briewe in hierdie verhaal bied die verteller aan 'n vriend(in) grepe uit sy herinneringe aan Vadersgawe, die familieplaas in die Klein-Karoo wat hy geërf het (De Vries, Verbeel jou 17). Geïntegreerd met die fyn besonderhede oor die landskap en klimaat in die verteller se briewe (14, 17, 18 en verder) ontvang die leser daarvan ook besonderhede oor die "ouhuis" op die familieplaas-wat vir "vier geslagte lank al staande bly teen die strafste winde en die hardste stortreëns" (13). Op hierdie ou familiehuis is die tekens van die klimaat afgeëts: "Wind en weer het lappe pleister van die dik mure laat loskom, later het dit afgereën of afgewaai, die strooi en die klippe in die kleilae was toe onbeskut teen die seisoene en die rysmiere. [...] Agter die plafonriete was die maanlig van binne af sigbaar deur die gate in die plate van die sinkdak" (13).

    Die gestrooptheid van die semi-ariede gedeelte van die Wes-Kaap waar Vaderskraal en dié ou huis geleë is, vind in die beperkte woorde ter beskrywing daarvan neerslag/weerklank: "Karoo beteken droogte" (17). Op dié gegewe word in daaropvolgende briewe uitgebrei. "'n Mens ry [...] deur die wye, troostelose landskap van klippe en hitte en hoë wolke", word aan die leser vertel (18). Die verteller deel ook enkele gegewens oor Stefaans Cloete, 'n uitgetrede onderwyser wat saam met sy vrou "deur die hele land gery, uitgevra en oorgeslaap (het)" en uiteindelik besluit het om hulle te vestig in die omgewing van die verteller se erfplaas (20). Dié woning word beskryf met beklemtoning van die beskerming wat dit teen die ekstreme somerklimaat bied; die egpaar woon in "'n groot Karoohuis met drie luggate bokant die brandsolder, binneluike voor die vensters en 'n groot, swaar houtvoordeur" (20). In 'n brief van hierdie huiseienaar aan die verteller herroep eersgenoemde die tyd van hulle vestiging en die aanpassing by die harde klimaat; hy onthou hoe drome hulleself in hierdie tyd begin herhaal het, "almal van reën, reën hier in die Karoo, oral, in die veld, tussen koppies waar ek dwaal ... " (23). Dit is klimaat wat in hierdie verhaal aan die mens se ervaring van plek en tyd gestalte gee. Deur die vertellerstem word klimaat verhelder as 'n ervaring, intiem liggaamlik en persoonlik-soos Fleming en Jankovic (4) die aard daarvan beklemtoon-met 'n invloed op die mentale sowel as psigiese aspekte van bestaan, en met verbeelde alternatiewe verbind.

    Die droom as verbeelde alternatiewe belewingswyse, soos Goodbody (ii) daarna verwys, bied in "Woede" ontvlugting uit klimaatuitdagings wat groot eise, ook aan die gees, stel-vir beide die verteller en vir Stefaans Cloete. Met behulp van hierdie droombeelde word die ander kant van klimaatbelewing gestel-die teensy vir belewings soos dié van toeriste by stilhouplekke onder die karige skadu van peperbome (De Vries, Verbeel jou 19) en in "warm, kokende motors" by die vulstasies op dorpe in dié distrik (18). Uit die verteller se herinneringe kom daar, teenoor die bedreigende klimaatelemente, ook betekenisassosiasies van geborgenheid en beskerming na vore. Die verteller kon snags, as kind, in die "ouhuis" luister na die vertroudheid en "geselskap" van die wind: "Die wind het snags stemme nageboots, stemme en gelag" (14). Reëngevulde nagte kon die verteller in 'n belewenis van veiligheid en geborgenheid toevou: "As ek wakker geword het in die nag, het ek stil bly lê, asof "veilig [...] in 'n ark" (23). Sulke nagweer skep sintuiglike en emosionele ervarings soortgelyk aan Stefaans Cloete se drome oor reën wat deurtrek was van "die skerp geure van nat grond en bossies: boegoe, heuningbos" (23).

    In hierdie verhaal, waar die klimaat die fokuspunt van die uitgebeelde mens-landskapverwantskappe vorm, word die Wes-Kaapse vallei tussen die Swartberge en die Langeberge op gebalanseerde wyse met twee belewingskante verbind. Aan die een kant onthul "Woede" die dikwels onversetlike aard van die Klein-Karooklimaat, die plunderende wind en stortreën wat die pleisterlaag van die "ouhuis" se mure-waarmee 'n mensehand dit so goed as moontlik probeer verseël het-"afgereën en afgewaai" het (13). In dieselfde verhaal dra klimaat egter ook 'n betekenisassosiasie van genaakbaarheid en emosionele beskutting vir die mens. Die verteller skep vir ons 'n beeld van veiligheid in sy vertellings oor nagwind wat 'n gemeensaamheid daarmee saamdra, asof dit vertroude stemme "naboots" (14).

    Die verhaal "Al die talent van hier rond" in Op die wye oop Karoo sluit goed by "Woede" aan. Dit sou geld indien eersgenoemde verhaal eweneens benader sou word met aandag aan die wyse waarop die konsep van klimaat beslag kry by wyse van beelde en figuurlike woordgebruik, en uitgebeeld word met verwysing na die menslike liggaam, gees, sintuie en denkwêreld. In beide verhale word die felheid van die klimaat uitgelig, maar ook die kosbaarheid daarvan.

    In "Al die talent van hier rond" gebeur dit met behulp van 'n reeks klimaatbeelde en die assosiasies daarvan met 'n gewaardeerde en innig beleefde heimat. "Wat 'n mens ken, kyk jy maklik mis", bely die verteller in dié verhaal (De Vries, Wye oop Karoo 31). "As die donderweer vroegoggend al broei [...] dan raak die landskap vol geheime. Die donker wolke wat laag oor die koppies afsak, vee die son uit al die kleure weg [...] die bruin koppe lyk soos groot skilpaaie wat onder die strepe skaduwees [...] op pad is iewers heen" (31-2). Dié dinge wat 'n mens "maklik miskyk" met die opsteek van donderweer word in estetiese, beeldryke verwoording deel van die verhaal gemaak: die sintuiglike belewing, die besonderse atmosfeer geskep deur die spel van son en wolke, die weg-"vee" van kleure en die "geheime" in die skaduwees (31-2). Die indrukke op die verteller onderskryf dat hierdie aankoms van donderweer die sintuie sowel as die diepste mens betrek, naamlik die psige, waar die besef van 'n kosbare belewing agterbly. Wat tot hierdie intense aandag aan die opsteek van die donderweer aanleiding gee, is-ironies-'n buitestaander, 'n Italiaanse filmmaker wat na gepaste landskapstonele vir sy film soek. Dit is hierdie toneel met hierdie weersomstandighede wat die Italianer met sy kamera sonderling vind; "hy kon die klein kameratjie nie vinnig genoeg agter uit die kar uit kry nie, hy was bang die weer verander". Met sy "sinkplaat-Engels" verklaar hierdie filmmaker dat hy "so 'n toneel [...] nog nêrens in hierdie land gesien (het) nie [...]; nêrens op áárde nie! [...] Oe, bellissima, bellísima" (31).

    "Dis hier! Die reën! Uiteindelik!" word ook in Reën vir Stojvlei gejubel toe Gogga die klettergeluid op die dak van die skoolgeboutjie en die "dun straaltjies" wat teen die ruite afloop uiteindelik as reën herken.

    Die kinders storm deur toe [...] Na die reën toe-die wonderlike, heerlike reën, reguit uit die hemel! [...] Ek maak my oë toe en ruik die klam grond. Dis soeter as enige reuk wat ek my ooit kon voorstel.

    Die reën is letterlik soos musiek. Dis moeilik om in die klas te konsentreer, want 'n slagorkes van reën trommel op die dak. [...]

    Die volgende paar dae val die reën in vlae, soms hard en dringend, soms so sag en lig soos 'n baba se asem. (Stojvlei 295-7) Dae later, ná die tradisionele "dankdiens" en nadat daar Sondag as familie by 'n "feesmaal" aangesit is, kom die hele klein gemeenskap saam by 'n vlei "wat lyk asof dit myle aaneen strek": "Oom Gert, oom Danie en Pappie [...] duik in hulle kortbroeke in die water, spat mekaar nat en skree ... " (301-2). Die kinders volg: eers die seuns en dan die dogters wat tant Nettie se voorbeeld volg, hulle rokke oor hul koppe trek en in hulle frokkies baljaar. Ouma het kouse uitgetrek en staan met kaal voete in die water, maar Gogga se ma "lyk soos 'n filmster" in 'n nuwe baaikostuum wat op Pofadder gekoop is (301-2). Die draaipunt in die weersomstandighede is nie slegs 'n sintuiglike belewenis nie, dit bring die kulturele en sosiale hart van hierdie klein gemeenskap in beroering.

    Nitzke en Horn (5) maak voorspraak vir literêre analiseringsmetodes wat op klimaatfaktore fokus ook-en juis- in tekste wat nie oor klimaatkwessies as sulks handel nie. Dit blyk dat die mens-klimaatsituasie nie die sentrale tematiese gegewe in enige van die geselekteerde werke is nie. In Reën vir Stojvlei is hoop, familieverhoudings en die mens se veerkragtigheid die sterkste tematiese aspekte (Graham en Viljoen). Die skrywer self beskou die tema wat bó ander uitstaan as die keuse om dankbaar te wees, selfs in moeilike omstandighede. Sy benadruk: "It is the sense of the community rallying together which really amazes her (Gogga), the idea that you're not powerless against the difficulties that you face" (Graham en Viljoen). In De Vries se verhale figureer temas soos die toestand van menslike verlatenheid en verlange, die heimwee na geborgenheid en die raaisels van die menslike bestaan so sterk dat klimaataspekte en die ontrafeling van die funksionaliteit daarvan nog nooit in sy werk nagevors is nie. Die "verhaal" van mens en klimaat dra, in die subtiele teenwoordigheid en onderbeklemtoning daarvan, 'n sterk boodskap. Op implisiete vlak konfronteer dit ons met die werklikheid van 'n kosbaar bevinde klimaatsisteem en die prekêre situasie daarvan, wat direk verbind is met die welsyn van ons planeet-en eweneens ook van die bewoners daarvan.

     

    Slot

    "It is time to re-address and re-assess the multifold relations of climates, bodies, communities and their environment, as well as of individuals and their ways of living with the weather", dring Nitzke en Horn (1) aan. Op dié aandrang is gereageer by wyse van 'n kritiese analise van vyf verhalende tekste-vanuit 'n kultuurgefokusde denkraamwerk, en met die droë westelike en noordwestelike streke van Suid-Afrika as ruimtelike knooppunt tussen dié vier werke. Hulle bestaan uit Katherine Graham se onlangse roman Reën vir Stojvlei asook vier meer beleë verhale uit Abraham H. de Vries se pen: "Al die talent van hier rond", "Bouvalle", "Die behoue huis" en "Woede".

    In elk van hierdie werke staan klimaataspekte uit as liggaamlike ervarings, as grondvlakbelewings van alledaagse en sintuiglike aard. Die saamleef met klimaat word verder gekenmerk deur 'n spektrum van gemoeds-en gevoelsbelewings; deur effekte van intens individuele sowel as sosiale aard. Klimaat beïnvloed leefwyses en kleur belewings in, is gevind. Die waarnemings van die onderskeie vertellers in die roman en verkose verhale bewerk betekenisassosiasies van ongenaakbaarheid weens die oorheersende weersgesteldheid van droogtes, hitte, stof en somerson. Daarnáás word klimaat egter ook verbind met positiewe betekenissuggesties. In hierdie verhale word die felheid van die klimaat uitgelig, maar ook die kosbaarheid daarvan.

    De Vries se ondersoekte verhale, net soos Reën vir Stojvlei, wil terugpraat téén ervarings van verlies en vervreemding weens die manifesteringsvorms van die klimaatkrisis-soos hierdie gru-gebeure dikwels op ons verstaan van die meer-as-menslike wêreld inspeel. In Katherine Graham se roman en die uitgesoekte werke van Abraham H. de Vries word die aarde op 'n nuwe manier verklank; die suggestie is dat klimaat nie slegs in natuurfeite gegrond is nie. In die literêre werke wat ondersoek is, word hierdie idee 'omgekeer' en vind die begrip klimaat vergestalting in beelde, in figuurlike uitdrukkingsvorme en verhale waarby ons kognitief sowel as op affektiewe vlak aansluiting kan vind. In my ondersoek word die moontlikheid bevestig dat 'n vorm van 'herkoppeling' van klimaat met menslike lewensituasies en -belewings in letterkunde kan plaasvind. Ook dat individue, groepe of gemeenskappe 'n tans kosbaar gerekende vorm van (her)aansluiting mag beleef met klimaat as 'n onweerlegbare lewenswerklikheid.

     

    Erkenning

    Hierdie navorsing is deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS; Engels: NRF) van Suid-Afrika ondersteun (toekenningsnommer: 145671). Opinies en gevolgtrekkings is die outeur s'n, en kan nie noodwendig aan die NNS toegeskryf word nie.

     

    Aantekeninge

    1 Die jeugdige perspektief in dié roman blyk 'n besonderse bate te wees. Hoewel Hugo (2) na die roman verwys as "'n maklike lees [...] wat nie veel uitdagings aan die leser stel nie", is Phyllis Green oorrompel deur die kinderoë waardeur 'n ánder, boeiende prentjie van droogte gekry word, in die sin dat die roman verraai hoe kinders soms vir hul ouers se welstand verantwoordelik voel. Hugo is self oortuig van die waarde van dié jong perspektief: "Kinders is veronderstel om beskerm te word van grootmensangs oor dinge soos veevrektes en droogtes, maar die kinders op plase is blootgestel en uitgelewer aan dié tipe realiteite van die plaaslewe." Dat dit juis 'n kind is wat met soveel moed en optimisme leef, wat die droogte beveg tot die bitter einde, dra dus tot die trefkrag van Graham se roman by, is die gevolgtrekking waartoe ook Green in haar bespreking van Reën vir Stofvlei kom. Die roman sluit aan by die tendens van Afrikaanse volwasse historíese fiksie met 'n jong meisietjie as hoofkarakter-dink maar aan Irma Joubert se Gretl in Tussen stasies (2007) en Mentje in Mentje, kind van Pas-Opkamp (2017) en aan Mariël le Roux se Wilhelmina in Wilhelmina kampkind op Java (2007).
    2 Die natuurwetenskaplike verstaan van klimaat sluit in dat 'n klimaatsisteem van 'n landstreek bestaan uit vyf komponente: die atmosfeer (gaslae wat die planeet omring), die hidrosfeer (die water onder, op en bokant die aardoppervlak), die kriosfeer (ysoppervlaktes), die landoppervlak en die aarde se biosfeer (som van lewe wat daarop bestaan) (National Geographic). Weersomstandighede sluit 'n wye reeks verskynsels in: temperatuur, reën- of vogneerslag, wind, humiditeit, wolkbedekking, topografie (eienskappe van die aardoppervlakte) en plantegroei (National Centre for Atmospheric Science).
    3 In die voorwoord van Elke slot 'n weerbegin (2007), wat by geleentheid van De Vries se sewentigste verjaarsdag verskyn het, verwys die samesteller, Wium van Zyl (1), na dié skrywer as beide "meesterkortverhaalskrywer" en "kontreistorieverteller".
    4 De Vries se oeuvre kan as tweeledig beskou word, in die sin dat hy "twee oeuvres" uitgebou het, sê Human (8). Daar is De Vries se kontreiverhale uit die Klein-Karoo-"allesbehalwe oppervlakkige verhale", word deur Terblanche benadruk, maar wel "dikwels in komiese trant"-soos Rooikoos Willemse is soek (2006). En dan is daar sy "ernstiger" verhale, "altyd nog die kern van sy werk", met 'n ontginning van postmodernistiese teksaspekte en waarin dikwels 'n herbesoek en heraktivering van die omgewing van sy "ligter" verhale plaasvind (Terblanche). Motiewe wat in De Vries se werk die tema van bestaanskrisisse-dikwels eksistensieel van aard-ondersteun, is byvoorbeeld eensaamheid, heimwee na plekke van geborgenheid en maatskaplike kwessies soos geregtigheid en geweld. 'n Keur uit De Vries se "ernstige bundels" word aangetref in Die behoue huis, wat in 2011 verskyn het. Terblanche wys egter ook daarop dat Vries "soms glimlagstories as springplank gebruik na die groot temas van die wêreldletterkunde".
    5 Op die webblad van Ecozon@ word ekokritiek beskryf as die studie van die uitbeelding, in literêre tekste en ander kultuurprodukte, van die verhouding tussen die mens en alle ander natuurwesens ("earth beings") en hulle omgewings. Dit is die internasionale kritiese dissipline waarin die interaktiewe en interafhanklike verband tussen die kunswerk, die mens en omgewings- en natuuraspekte die fokuspunt is.
    6 Dit gebeur onder meer in die artikel "Die Kalaharimense in Willem D. Kotzé se Kalaharikind en Kalaharijoernaal: 'n outo-etnografiese verkenning met aandag aan identiteitsbeïnvloeding deur die natuur", waar tot die gevolgtrekking gekom word dat "afsondering, tydperke van droogtes, ondraaglike uiterstes in temperature en die intieme omgang met natuurelemente die Kalaharimense (van die 1930's tot 1950's) se kulturele identiteit-hulle leefwyse, lewenswaardes en -houdings, geloofsoortuiging en sosiale patrone-beduidend beïnvloed het" (209). Dieselfde gebeur wanneer ondersoek ingestel word na die invloed van die natuurlike omgewing op die identiteitskonstruksie van die "karretjiemense"-'n nomadiese gesin op hulle donkiekar-in Carol Campbell se vertaalde roman Karretjiemense (Meyer, "'Ons ís mense. My kinders hét gesigte.' Die natuurlike omgewing en die konseptualisering van die self in Karretjiemense (Carol Campbell)"). Ek ondersoek spesifiek "die aard en die omvang van die rol wat die natuurwêreld, en hulle belewenisse daarbinne, speel ten opsigte van die konseptualisering van die 'self' deur dié op die karretjie" (5). Hier word bevind: "Deur die gegewe van natuurmagte en klimaatsverandering [...] word 'n kragtige en interaktiewe teenwoordigheid aan die natuur toegeken. Die droër wordende landskap word 'n karakter op sigself deur die invloed daarvan op die plotontwikkeling en deur die direkte effek daarvan op die realisering van die 'self' by elke karakter [...] van die karretjiegesin" (15).
    7 De Vries is gebore op die plaas Volmoed in die distrik Ladismith. Hy is ook die eerste ereburger van dié dorp (Terblanche). In 'n onderhoud wat Chris Barnard met De Vries gevoer het, vertel laasgenoemde: "'Volmoed' is die naam van my geboortehuis. Ek het die ou plasie teruggekoop, sommer om daar te gaan sit en skryf, sommer om daar te loop leef tydens die vakansies. En oor ek die plek liefhet. Dis my baarmoeder: ek kom elke keer daar weg met 'n bietjie nuwe moed ..." (Terblanche).
    8 In 'n onderhoud met Louise Viljoen verduidelik Katherine Graham dat haar inspirasie vir Reën vir Stofvlei gekry is by haar eie familiegeskiedenis. Die karakters van Elsie Wahl (Gogga) en haar jonger sussie is grootliks geskoei op dié van Graham se tantes, twee susters wat in die 1940's op 'n skaapplaas in Pofadder se wêreld grootgeword het. Die skrywer het egter vrylik van haar artistieke vaardighede gebruik gemaak in die skep van die intrige en om die karakters hulle unieke aard te gee. Die teks is dus gebaseer op historiese, biografíese gegewens, gefilter deur die verbeelding en "oorwegend geënt op die verhalende prinsipes van die roman" (Graham en Viljoen).

     

    Geraadpleegde bronne

    Bloom, Dan. "Interview: Dan Bloom on CliFi and Imagining the Cities of the Future." Industry Dive. 2023. https://www.smartcitiesdive.com/ex/sustainablecitiescollective/interview-dan-bloom-clifi-and-imagining-cities-future/1037731.         [ Links ]

    Buettner, Urs. "Talking about the Weather. Roland Barthes on Climate, Everydayness, the Feeling of Being, and Poetics." Ecozon@ vol. 11, no. 1, 2020, pp. 27-42. DOI: https://doi.org/10.37536/ecozona.2020.11.1.3190.         [ Links ]

    Chakrabarty, Dipesh. "The Climate of History: Four Theses." Critical Inquiry vol. 35, 2009, pp. 197-222. DOI: https://doi.org/10.1086/596640.         [ Links ]

    Conradie, Anschen. "Stofvlei 'n evokatiewe teks." Netwerk24. 27 Mrt. 2023. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/stofvlei-n-evokatiewe-teks-20230326.         [ Links ]

    De Vries, Abraham H. Die behoue huis. Human & Rousseau, 2011.         [ Links ]

    _____. Op die wye oop Karoo. Human & Rousseau, 2002.         [ Links ]

    _____. Rooikoos Willemse is soek. Human & Rousseau, 2006.         [ Links ]

    _____. Tot verhaal kom. Human & Rousseau, 2003.         [ Links ]

    _____. Verbeel jou dis somer. Human & Rousseau, 2009.         [ Links ]

    De Vries, Abraham H. & André P. Brink. "ABSA Ketting: André P Brink gesels met Abraham H de Vries." LitNet. 21 Jul. 2006. https://www.litnet.co.za/absa-ketting-andr-p-brink-gesels-met-abraham-h-de-vries/.         [ Links ]

    Ecozon@. "About the Journal." 2023. DOI: https://doi.org/10.37536/ecozona.2023.14.1.         [ Links ]

    Fleming, Roger & Vladimir Jankovic. "Revisiting Klima." Osiris vol. 26, no.1, 2021, pp. 1-16. DOI: https://doi.org/10.1086/661262.         [ Links ]

    Frandsen, David. "Klein Karoo." Karoo-South Africa. 2019. https://www.karoo-southafrica.com/klein-karoo/.         [ Links ]

    Ghosh, Amitav. The Great Derangement: Climate Change and the Unthinkable. Chicago U P, 2016.         [ Links ]

    Goodbody, Axel. "Editorial." Ecozon@ vol. 11, no. 1, 2020, pp. i-iv. DOI: https://doi.org/10.37536/.2020.11.1.3663.         [ Links ]

    Graham, Katherine. Reën vir Stofvlei. Human & Rousseau, 2023.         [ Links ]

    Graham, Katherine & Louise Viljoen. "Reën vir Stofvlei: 'n onderhoud met Katherine Graham." LitNet. 16 Mei 2023. https://www.litnet.co.za/reen-vir-stofvlei-n-onderhoud-met-katherine-graham/.         [ Links ]

    Green, Phyllis. "Engelse skrywer maak diep vrede met haar Afrikaanse wortels." Netwerk24. 26 Apr. 2023. https://www.netwerk24.com/sarie/boeke/engelse-skrywer-maak-diep-vrede-met-haar-afrikaanse-wortels-20230426.         [ Links ]

    Hogan, C. Michael. "Succulent Karoo." Encyclopedia of Earth, geredigeer deur Mark McGinley. National Council for Science and Environment, 2014. http://editors.eol.org/eoearth/wiki/succulent_Karoo.         [ Links ]

    Horn, Eva & Hannes Bergthaller. The Anthropocene: Key Issuesfor the Humanities. Routledge, 2019.         [ Links ]

    Hugo, Trisa. "Stofvlei is eerder vir grootmense." Netwerk24. 23 Apr. 2023. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/boek-stofvlei-is-eerder-vir-grootmense-20230423.         [ Links ]

    Hulme, Mike. Weathered: Cultures of Climate. SAGE, 2017.         [ Links ]

    Human, Thys. "Verhale wat die leser aan die wonder hou." Rapport 1 Mei 2011, p. 8.         [ Links ]

    Kellogg, Marjorie B. "What is a cli-fi novel and what are some examples?" Writer's Digest. 20 Okt. 2021. https://www.writersdigest.com/write-better-fiction^what-is-a-cli-fi-novel-and-what-are-some-examples.         [ Links ]

    Koen, Dewald. "Decima van Eben Venter." Stilet vol. 35, no. 1, 2023, p. 72. https://hdl.handle.net/10520/ejc-stilet-v35-n1-a8.         [ Links ]

    Meyer, Susan. "Die Kalaharimense in Willem D. Kotzé se Kalaharikinden Kdaharijoernad: 'n outo-etnografiese verkenning met aandag aan identiteitsbeïnvloeding deur die natuur." Stilet vol. 2, no. 1, 2008, pp. 192-214. https://hdl.handle.net/10520/EJC109863.         [ Links ]

    _____. "'Ons ís mense. My kinders hét gesigte.' Die natuurlike omgewing en die konseptualisering van die self in Karretjiemense (Carol Campbell)." Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 54, no. 4, 2014, pp. 1-18. http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512014000400007&lng=en&nrm=iso.         [ Links ]

    National Centre for Atmospheric Science. "What causes wheather?" 2020. https://ncas.ac.uk/learn/what-causes-weather/.         [ Links ]

    National Geographic. "All About Climate." https://education.nationalgeographic.org/resource/all-about-climate/.         [ Links ]

    Nitzke, Solvejg & Eva Horn. "Cultures of Climate. On Bodies and Atmospheres in Modern Fiction: An Introduction." Ecozon@ vol. 11, no. 1, 2020, pp. 1-8: DOI: https://doi.org/10.37536/ecozona.2020.11.1.3639.         [ Links ]

    Painter, Desmond. "Bob Dylan van die Afrikaanse lettere." Die Burger 4 Apr. 2011, p. 9.         [ Links ]

    Pakendorf, Gunther. "Verwonder leser met verskeidenheid van temas in 'Nag van die clown.'" Die Burger 11 Jan. 1990, p. 8.         [ Links ]

    Smith, Susan. "Op weg na 'n eiesoortige Afrikaanse ekokritiek: 'n Ontleding van die gedigreeks 'werf' in die bundel Mede-wete van Antjie Krog." LitNet Akademies vol. 19, no. 1, 2022, pp. 205-30. https://www.litnet.co.za/op-weg-na-n-eiesoortige-afrikaanse-ekokritiek-n-ontleding-van-die-gedigreeks-werf-in-die-bundel-mede-wete-2014-van-antjie-krog/.         [ Links ]

    Stabinsky, Doreen, Trudi Zundel & Graham Reeder. "Klimaatsverandering, landbou en Afrika: Basiese inligtingsboek". Surplus People Project. 2011. https://spp.org.za/resource/?category=booklet.         [ Links ]

    Sutcliffe, Theodora. "Can novels save the planet? Cli-fi is giving it a go, writes Theodora Sutcliffe." The Times of Israel. 12 Dec. 2020. https://blogs.timesofisrael.com/can-novels-save-the-planet-cli-fi-is-giving-it-a-go-writes-theodora-sutcliffe/.         [ Links ]

    Terblanche, Erika. "Abraham H. de Vries (1937-2024)." LitNet. 25 Jan. 2022. https://www.litnet.co.za/abraham-h-de-vries-1937/.         [ Links ]

    Van der Merwe, Kirby. "Begaafde oerverteller se kragtoer. " Rapport 26 Mei 2002, p. 11.         [ Links ]

    Van Zyl, Wium. "Voorwoord". Elke slot 'n weerbegin, geredigeer deur Wium van Zyl. Departement Afrikaans en Nederlands, U Wes-Kaapland, 2007, p. 1.         [ Links ]

    Venter, De Waal."Waarom poësie in Afrikaans vertaal?" Versindaba 23 Okt. 2017. https://versindaba.co.za/2017/10/23/de-waal-venter-waarom-poesie-in-afrikaans-vertaal/.         [ Links ]

    Wasserman, Herman. "By De Vries word streekmilieu verhef tot menslik universele." Beeld 28 Des. 1998, p. 8.         [ Links ]

     

     

    Submitted: 25 January 2024
    Accepted: 23 July 2024
    Published: 6 June 2025