Serviços Personalizados
Journal
Artigo
Indicadores
Links relacionados
-
Citado por Google -
Similares em Google
Compartilhar
Tydskrif vir Letterkunde
versão On-line ISSN 2309-9070versão impressa ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.62 no.1 Pretoria 2025
https://doi.org/10.17159/tl.v62i1.138811
BOOK REVIEWS
Delia Rabie
Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika. ORCID: https://orcid.org/0000-0002-4477-6447; deliarabie@gmail.com
Marlise Joubert.
Gansbaai: Naledi, 2023.141 pp. ISBN 9781991256089.
Laatnageilande is Marlise Joubert se elfde digbundel. Benewens digkuns is Joubert bekend vir haar talryke oeuvre met gepubliseerde radiodramas, romanse, en kinderboeke. Volgens haar webtuiste,Ateljee.co.za, is sy ook bekend vir haar waterverfskilderye wat 'n intieme perspektief lewer met verskeie stillewes, landskappe en portrette. In 'n onderhoud met Nini Bennet-Moll verduidelik Joubert dat gedigte vir haar hoofsaaklik "iets [is] omgedagtes te orden en ervarings te verwoord" Sy sê dat sy "baie assosiatief en organies" werk en beide Van Zyl en Taljard beaam die nostalgiese, melankoliese en persoonlike aard van haar poesie. Laatnageilande is geen uitsondering nie.
Daar is, benewens die individuele temas wat in elk van die sewe afdelings voorkom, 'n oorkoepelende tegniek wat temas en styl verbind. Hierdie tegniek herinner aan Bibi Slippers se Fotostaatmasjien en Soekenjin: die tegniek van collage en pastiche. Dié tegnieke, wat dikwels eerder in die visuele kuns gebruik word, maar nou oorgedra word na die poësie, is subtiel en uiters toepaslik in laatnageilande. Terwyl 'n collage 'n kunswerk is waar verskillende uitknipsels saamgeplak word om 'n nuwe kunswerk te skep, is pastiche spesifiek die nabootsing van kunswerke. Die twee tegnieke verskil, maar word in laatnageilande op 'n interessante wyse verweef en saam benut.
Die eerste leidraad dat die tegniek van collage in Joubert se digbundel voorkom, is met die voorblad van laatnageilande Die voorblad is Jean Dryer se kunswerk Resettle 1 wat deel vorm van sy uitstalling humt white I hrandmt. Die collage beeld 'n gesiglose figuur in 'n trourok uit wat lyk asof dit uit herwinde plastieksakke bestaan. Die wit is in duidelike kontras met die swart agtergrond, en die figuur se ledemate bestaan uit dié van 'n ander foto wat op die agtergrond geplaas is. Benewens die voorblad, word die digbundel in sewe
afdelings verdeel waarvan elk voorgestel word met 'n aanhaling uit werke van ander digters, soos Abdellatif Laâbi (53), Sylvia Plath (73) en Breyten Breytenbach (111). Hierdie intertekste verbind die individuele afdelingtemas met die temas van ander digters, en dra by tot die assosiatiewe, persoonlike aard van Joubert se bundel.
Buiten vir die collagetegniek om afdelingtemas aan te meld deur die gebruik van interteks, het verskeie gedigte in die bundel ook hierdie assosiatiewe aard. Daar is tye waar daar direkte aanhalings uit ander digters se werke aangehaal word, maar dit is ook merkbaar dat daar dikwels 'n ritme, styl en woordkeuse benut word wat nabootsend is en dus die idee van 'n pastiche tegniek na vore bring. Ek dink spesifiek aan die gedig "Boom" (106) wat sterk ooreenkomste het met Ingrid Jonker se "Bitterbessie dagbreek" en die gedig "Niks om te verhaal nie" (60) wat ooreenkom met Koos du Plessis se "Skielik is jy vry"
As daar een gedig is wat uitgesonder kan word vir hierdie twee tegnieke, is dit "blue moon" (35) wat met die titel verwys na die liedjie met dieselfde titel deur Frank Sinatra. Die gedig open met "laatnag hang die sterre/ soos lemoene in die hemelboom" Terwyl die digter verwys na Sinatra met die titel, word die ritme, woordassosiasies en styl van Breyten Breytenbach in hierdie versreels toegepas. Daar word sodoende 'n samekoms van die collage- en pastichetegniek voorgesit.
Hoewel die digbundel ook 'n sterk humoristiese aanslag het, is hierdie gebruik van pastiche nie in die vorm van 'n parodie nie. Wat die collage- en pastichetegniek suksesvol maak, eerder as net 'n uitgeknipte samevoeging of parodie van ander mense se werke, is dat dit bydra tot die oorkoepelende tema van die digter-spreker wat probeer sin maak van haar laatjare. Die kwessies van vrouwees: hetsy in die rol van moeder, ouma, of huweliksmaat, sowel as die aktuele kwessies soos klimaatsverandering, die Covidl9-pandemie, wêreldoorloe soos dié in Oekrame, en eindelik ook geweld teen vroue en kinders, kan slegs verwoord en besin word met behulp van die werke van ander. In teenstelling met die titel laatnageilande, wat insinueer dat die digter-spreker alleen skryf, vind sy samesyn en berusting in die wereld van digkuns as geheel deur die werke van ander.
Laatnageilande open met die gedig in vrye vers "ek was haar woorde" (10). Die slotstrofes getuig dat hierdie digbundel Joubert se tematiek en assosiatiewe, organiese poesie gaan voortsit. In hierdie openingsgedig word die bundel gepersonifieer. Die digbundel self begin praat as die "ek" wat "haar", die digter, se "laatnageiland [...] uitspelstrand [en] segging" wil wees. Die gedigdra by tot idee dat daar sin gevind en gemaak kan word in kuns: hetsy in dié van ander, of in die uiters persoonlike proses van die skep van eie digkuns.
Laas tens is dit belangrik om klem te lê op die digter se gebruik van humor in die bundel. Dit word aangewend as 'n tegniek om lig en pouse te bring tussen die gedigte wat stadiger en swaarder is, veral waar daar oor aktuele kwessies gepraat word. In die gedig "handsak" (84) word die spreker se handsak vergelyk met 'n "skrotum en vergunning / asook die vrugbare uterus vir 'n gesin / om te voed, te klee, die toekoms in te stuur", en in "eens was sy 'n eier" (36) word die veroudering van die spreker vergelyk met die lewenssiklus van 'n hoender wat "byna [...] kentucky" word.
Die humor, soos die gebruik van pastiche en collage, is die tegniek waarmee Joubert uiteindelik haar gedagtes orden en haar help om haar ervarings te verwoord. Laatnageilande is besonder deurdink en van die voorblad tot op die laaste woord beplan, tot só 'n mate dat die leeservaring soortgelyk is aan dié van 'n eenheidsbundel met 'n sterk narratiewe lyn.
Geraadpleegde bronne
Bennett-Moll, Nini & Joubert, Marlise. "Laatnageilande: 'n onderhoud met Marlise Joubert." Litnet. 21 Aug. 2021. https://www.litnet.co.za/laatnageilande-n-onderhoud-met-marlise-joubert/. [ Links ]
Taljard, M. "Resensie: Grondwater (Marlise Joubert)." Versindaba. 3 Mrt. 2019. https://versindaba.co.za/2019/03/03/resensie-grondwater-marlise-joubert/ [ Links ]
Van Zyl, Stefan. "Resensie: Disteltyd (Marlise Joubert)." Versindaba 22 Apr. 2021. https://versindaba.co.za/2021/04/22/resensie-disteltvd-marlise-joubert/. [ Links ]












