Serviços Personalizados
Journal
Artigo
Indicadores
Links relacionados
-
Citado por Google -
Similares em Google
Compartilhar
Tydskrif vir Letterkunde
versão On-line ISSN 2309-9070versão impressa ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.62 no.1 Pretoria 2025
https://doi.org/10.17159/tl.v62i1.138705
BOOK REVIEWS
Om my kastele in Spanje te sloop
Janien Linde
Noordwes Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. ORCID: https://orcid.org/0000-0003-2361-8957; janien.linde@nwu.ac.za
Jaco Barnard-Naudé.
Kaapstad: Human & Rousseau, 2024. 85 pp. ISBN 9780798184540.
Die oplossing vir 'n probleem, en die regte manier om 'n vraag te stel, is volgens Anton Chekhov twee heeltemal verskillende dinge. Net laasgenoemde is die kunstenaar se plig. Die verse in Jaco Barnard-Naudé se debuutbundel om my kastele in Spanje te sloop (2024) het my hieraan laat dink. Die gedigte neem naamlik keer op keer 'n vraende, ondersoekende ingesteldheid ten opsigte van die menslike kondisie aan, nie met die oog om antwoorde te verskaf nie, maar in 'n poging om nuwe, kunstige maniere van dink oop te skryf.
Die bundel open met as motto twee vrae van die Britse romansier John Galsworthy: "Of what do we moderns dream? What are our castles in Spain?" Met hierdie vrae word 'n aantal deurlopende temas en onderwerpe wat in die bundel na vore kom, aan die orde gestel. In die eerste plek is daar die vraag oor waaroor die moderne mens, en spesifiek moderne kunstenaars, droom en kuns maak. Daar is immers niks nuuts onder die son nie, met die gevolg dat die moderne digter kan voel dat die impuls om te dig tog niks waardevols kan oplewer nie. Die tweede vraag belig die eerste verder: wat is die ideale wat moderne mense vir hulself stel? Of wat namens huUe gestel
word? Wat is die ideale waarna moderne digters streef? Is daardie ideale navolgenswaardig, of bloot illusies wat eerder stelselmatig afgebreek moet word? Die digter ondersoek hierdie vrae deur nadenkend om te gaan met kuns en die daad van kunsmaak. Hy doen dit deur poetiese gesprekke aan te knoop met verskillende bekende kunstenaars en kunswerke. Daar word in die bundel verwys na beeldende kunstenaars so uiteenlopend as Picasso, Bruegel, Miró, Goya, Velazquez, Duchamp, Vermeer, Andy Warhol, Julian Stanczak en Basquiat. Dan is daar ook intertekstuele gesprekke met denkers, skrywers en digters soos Antonin Artaud, Daniel Dafoe, Denis Diderot, Hannah Arendt, Michel Foucault, Nietzsche, Žižek, Simone de Beauvoir, Sylvia Plath en Ted Hughes. Afrikaanse digters soos Eybers, Opperman, Van Wyk Louw, Sheila Cussons en Loftus Marais word ook by die verwikkelde intertekstuele gesprek betrek. Die onderliggende vraag bly deurentyd: wat sê kuns oor die werklikheid, en watter rol speel die individuele kunstenaar?
Die sterk introspektiewe draad wat deur die bundel loop, word in die tweede motto met Sigmund Freud se verwysing na die afbreek van sy eie (lug) kastele in Spanje, ingelui. In gedigte wat verwys na Freud ("unbewust" (13); "Freud aan Fliefe, 23 Maart 1900" (51); "Freud-museum, Londen" (83)) en Lacan ("Opperman avec Lacan" (59)) raak dit duidelik dat die digter welbekend is met die psigoanalitiese proses, en dat hy die poetiese potensiaal daarvan ten volle ontgin. Om jou kastele in 'n proses van psigoanalise te sloop, beteken om vraend te staan ten opsigte van die reahteit wat jy van jou (genetiese, digterlike, filosofiese, kunstige, ekologiese, ens.) voorouers geerf het. Dit is 'n pynlike en bloedige proses, wat jou "ontsaglik armoedig" (51) kan laat. Die slotgedig van die bundel, "Freud-museum, Londen" (83), laat die leser met die nugter gedagte dat die proses om eie kastele te sloop nie sommer 'n maklike proses is nie, en dat die Groot Wiggelaar (Freud) vir seker nie alles hieroor geweet het nie. Die bundel kan in geheel getipeer word as 'n queer terugskrywing na die 'ouerfiguur' (sien bv. "unbewust" (13)), maar dit verval nie in ekkerigheid of sinisme nie. Daar is eerder sprake van 'n benuttig van die geleentheid om die kastele "weer van voor af op te bou" (51), al is dit 'n moeisame proses.
Wat is die digter se rol in hierdie opsig? Die eerste gedig in die bundel kan gelees word as 'n tipe skadeloosstelling: al wat die digter eintlik kan doen, is om te fnuik met woorde. Hy fnuik die leser en hy fnuik homself "die denke dig / gefnuik" (9). Die maak van kuns, soos gedigte, is "alewige oeverblindery" (38). Dit kan maar net tot 'n mate opbou en troos. Soos Barnard-Naudé dit in die poëtikale strofe uit die gedig "Spanje, Auden" (27) stel:
[...] ompoesie te skryf ís nie ambulansdryf
want dis gister, vandag en more in een
dit snel te liulp, maar demp nie die bloed nie
dit mop op, maar laai nie in nie, nee
dis helende wond en oop gral
dis die skitter van dooie sterre en absoluut onaf.
Alhoewel daar dus nie sprake is van idealisme in die bundel nie, kan daar tog 'n toekomsgerigtheid aangevoel word. Poësie het dalk nie die krag om probleme op te los nie, maar dit kan belangrike vrae stel. Dit kan bestaande idees herbesoek en herskryf, uitgediende mites afbreek, en nuwes maak. Voorbedde wat die omvang van hierdie proses uitbeeld, is "Spanje, Auden" (27), "Sylvia praat terug" (34), "Mars-Velazquez" (36), "Aesopus-Velazquez" (38), "Plato maak seker" (54), "skoppensboere" (75), "Opperman avec Lacan" (59), "Björn Czepan (1979-2010)" (60) en "'J'ai perdu mon Eurydice'-Gluck" (.65). Die nuwe, herskrewe 'mites' is nie bedoel as antwoorde op die moeilike vrae van menswees nie, maar dit kan wel as (versigtige) rigtingwysers beskou word.
Daar kan derhalwe 'n duidelike sensitiwiteit vir die mag van taal en woorde in die bundel aangevoel word. Woorde het krag en kan wapens wees. Heelparty gedigte in die bundel wys hoe mense mekaar met woorde seer kan maak, maar ook dat woorde krag het om te skep, teenkanting te bied en ook om te troos. Woorde, veral in die vorm van poësie, is veelvlakkig en het meervoudige potensialiteite. Verskeie van die gedigte kan beskryf word as pogings om die trauma van wat dit is om te leef, in woorde om te sit. In die sesde afdeling van die bundel is daar tragiese verhale van kindertrauma aan die hand van ouers wat self getraumatiseer is. Sien byvoorbeeld "Lí defeewse. Radio Suid'Afrika, 1989" (69), "Mamma is nie meer 'n" (70), "oordrag" (71), "'die huisgesin' maak dit nie" (72) en "sekwense aan my pa" (76-9). Dan is daar verskeie gedigte waarin die nagevolge van liefdesteleurstellings beskryf word, bv. "o, my geliefde Spanjaard" (17), "Marilyn Privata" (21) "Victoria Stasie-vaarwel" (26), "Boodskap van 'n vriend-Miró" (31) en "tuis ná 28 dae" (80). Almal het trauma, en trauma, en die onbewuste, is moeilik om te verwoord.
Hiermee worstel die digter deurentyd: om aan te hou om woorde te soek om die skynbaar onsêbare dinge wél te sê, of ten minste indringende vrae te vra daaroor, selfs al beteken dit dat die pogings aan kritiek onderwerp word. Dit beteken nie noodwendig dat die trauma verwerk is nie, maar wel dat dit in woorde vasgelê is. Dat die proses om onreg miskien eendag te begryp en te transendeer, met 'n kwashaal, 'n woord of 'n versreël kan begin. Dit herinner aan Mariene van Niekerk se veelseggende woorde uit die bundel Kaar. "naas binnehuisversiering is poesie ook 'n wapen".












