Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.62 n.1 Pretoria 2025
https://doi.org/10.17159/tl.v62i1.138666
BOOK REVIEWS
'n Huldiging: Antjie Krog: 'n Ondersoekte lewe
Reinhardt Fourie
Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid-Afrika. ORCID: https://orcid.org/0000-0003-1292-8140; fourir@unisa.ac.za
Louise Viljoen (red.).
Pretoria: Protea Boekhuis, 2024. 408 pp. ISBN 9781485315933.
Naas N. P. van Wyk Louw en D. J. Opperman staan Breyten Breytenbach en Antjie Krog bekend as seker van die grootste digters wat Afrikaans al opgelewer het. Hoewel daar uit Krog se pen nog net twaalf digbundels verskyn het sedert sy gedebuteer het met Dogter van jefta in 1970, is haar poesie-uitset maar nog 'n bepaald klein deel van 'n groter, diverse oeuvre. Krog se digkuns en ander werk word uitstekend verken in Antjie Krog: 'n Ondersoekte lewe, onder redakteurskap van Louise Viljoen, waardeur Krog ook nou vereer word met 'n boek in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsreeks oor Hertzogpryswenners.
Hierdie teks is tot dusver een van die beste boeke wat in hierdie reeks afgelewer is. Onder die ervare hand van Viljoen, self een van die voorste kenners van Krog se werk, is hierdie teks 'n belangrike bydrae tot die navorsingskorpus oor die werk van hierdie belangrike digter, skrywer, vertaler, joernalis en openbare figuur.
Die boek open met 'n kort woord vooraf deur die redakteur, gevolg deur 'n insiggewende onderhoud wat met die digter gevoer word deur Alfred Schaffer. Die onderhoud getuig van Schaffer se uitstekende kennis van Krog se oeuvre, en terselfdertyd toon dit ook weer die belangrike (dog teesinnige) rol wat Krog volstaan as belangrike (Suid')Afrikaanse openbare intellektueel. Reeds in hierdie onderhoud vind die leser talie onderwerpe en diskoerse vanuit en oor Krog se werk en openbare beeld wat onder bespreking kom in die daaropvolgende hoofs tukke van die boek. Wat verál in die gesprek met Schaffer uitstaan, is Krog se perspektief op die outonomie van die digter/ skrywer. In aansluiting by die slotreels van die gedig "die vulgariteit van verse" in Plunder (2023)-"ek vysel taal soos ek wil / en fok juUe" (103)-spreek Krog haar telkens uit teen beperkinge op die vryheid van digters. Sy sê onder meer dat sy "wil skryf wat en soos ek wil" (28), dat sy vasskop "wanneer daar eise van buite aan my gestel word as digter" (15) en dat sy die eise self sal stel, terwyl sy ook wys op die "slagyster" van "gewildheid" en hoe dit die digter se werk negatief kan bemvloed (18). Uiteindelik maak sy ook 'n opmerking waarop jonger digters en skrywers gerus ag kan slaan: "Die oomblik as die publiek of die kritici 'n stem in my kop kry, sterf my gewete, dink ek" (30).
Die eerste akademiese hoofstuk van die teks is dié van Louise Viljoen, en is getitel "Die Verruklike afhanklikheid van taal': Antjie Krog en 'n loopbaan in taal" (37-100). Hierdie bydrae is weliswaar die langste van die agt akademiese stukke in die boek, maar dit is 'n ondersoek wat getuig van Viljoen se besondere kennis van Krog se werk. Nie net word Krog se dinamiese en ingewikkelde verhouding met taal goed hier vasgevat nie, maar dit word ook vir die leser duidelik waarom Krog se invloed op die Afrikaanse letterkunde veel verder strek as haar digkuns deurdat sy soos André P. Brink met 'n reeks vertalings (van allerhande tekssoorte en genres) hierdie letterkunde daadwerklik verruim het. Viljoen toon oortuigend in haar hoofstuk aan dat "Krog se hantering van taal [...] dus vreesloos [is], wars van wat veilig, aanvaarbaar of behoorlik geag word deur die samelewing" (88). Hierdie bespreking sal vir 'n geruime tyd geag word as een van die mees gesaghebbende stukke oor Krog se werk wat tot nog toe verskyn het.
In "Verges takings van die outobiografiese spreker in Antjie Krog se Lady Anne (1989)" skryf Ihette Senekal boeiend oor die komplekse verhouding tussen outografiese eienskappe van Krog en die digterlike verwerking (en bewerking) van hierdie elemente, waardeur die grense tussen digter en spreker opsetlik vervaag word (101-37). Hoewel daar dalk diegene is wat huUe verset teen die gebruik van 'n term soos digter-spreker-'n term wat by uitstek in ondersoeke oor Krog aangewend word-draf Senekal kritiek onderhoudend kaf met haar analise van die digbundel waarvoor Krog die eerste maal met die Hertzogprys vereer is. By hierdie soort benadering word daar nie in die slaggat van die intentional fallacy getrap nie: "[Die] ontleding en bestudering van outobiografiese tekste (gedigte) [het nie ten doel] om añeidings te maak of tot insigte te kom oor die skrywer se persoonlike lewe nie" (108). Eerder as wat outobiografiese gegewens "gesien word as 'n suiwer feitelike weergawe van die outeur se lewe", skryf Senekal, word dit beskou as "tekenend van die outeur se wêreldbeskouing en beeld van die self tydens die skryf van die gedig" (108). Vervolgens dui sy aan in 'n gedetailleerde ontleding van 'n aantal gedigte uit Lady Anne (met hier en daar verbande wat ook met ander bundels en gedigte van Krog getrek word) hoe relasionaliteit saam met die genoemde leesstrategie ryk interpretasiemoontlikhede vir die werk van 'n digter soos Krog kan oplewer.
Op haar beurt tref Karin van Μ arle 'n interessante vergelyking in haar hoofstuk, getitel "Amor mundi: Antjie Krog en Hannah Arendt se liefde vir die wereld-oordeel, versoening en saamleef" (138-63). Met Krog en Arendt se skrywes oor onderskeidelik (en onder meer) Suid-Afrika se Waarheids- en Versoeningskommissie en die verhoor van Nazi-bevelvoerder Adolf Eichmann lê hier ryke stof vir kritiese vergelyking, en dit is noemenswaardig dat die Krog-huldiging ook 'n bydrae van 'n navorser soos Van Marle ingesluit het, aangesien sy nie vanuit 'n streng literêre of literatuurwetenskaplike benadering skryf nie, maar eerder vanuit die benadering van die regsleer. Hoewel die vergelyking interessant is en die hoofstuk daardeur iets nuuts oor Krog se werk belig, is dit myns insiens 'n bietjie jammer vir die oordrewenheid van die slot waarin Krog en Arendt se beskouings beskryf word as "groter as wat in woorde vasgevat kan word" en dat dit "dit vir ons moontlik [maak] om dalk net aan wonderwerke te glo" (161). Sulke taalgebruik voel ontuis in 'n akademiese teks.
Die vierde hoofstuk se titel lui "Postkoloniale satire in enkele gedigte deur Antjie Krog en Ronelda Kamfer" (164-95). Hierin verken Jacomien van Niekerk 'n aantal postkoloniale satiriese gedigte van hierdie twee digters, en val die klem op die "wrang wyse [waarop] die spot gedryf word met koloniale opvattings" (165). Terwyl Van Niekerk se hoofstuk weens beperkte ruimte slegs op 'n handvol gedigte kan fokus, bestaan die geleentheid vir meer indringende en uitvoerige ondersoeke oor hierdie tematiek, soos die navorser ook aandui.
In die daaropvolgende hoofstuk deur Maria Snyman word daar, soos met Van Marle se bydrae, nog 'n minder gewone benadering tot Krog se werk gevolg. Die titel van Snyman se stuk is "Stansa my steen, laat die bot koppe lig skep: Antjie Krog se Mede-wete/Synapse gelees as 'n verregaande vermaaklike draakstekery met akademiese geletterdheid" (196-232). Ofskoon die hoofstuk iets aantoon van die reikwydte van die poesie, steun hierdie artikel op 'n lang rits bronne en is dit ook voorsien van 'n lang lys eindnote. Die navorser se styl is loslittig, maar die benadering voel met tye opaak. Hierdie bydrae verryk nietemin die diversiteit van die aanbod, al gaan dit nie noodwendig elke leser bemdruk nie.
Marlies Taljaard sluit met haar bydrae in sekere opsigte aan by die hoofstukke deur Viljoen en Senekal. In "'Geen vlerke stut meer ": geselekteerde gedigte in Antjie Krog se Mede-v/ete gelees as outobiografiese postsekulêre laatwerk" (233-64) tipeer Taljaard die bepaalde digbundel as "laatwerk [...] met outobiografiese kenmerke" (235). 'n Aantal gedigte word deeglik ontleed aan die hand van "[t]eoriee oor outobiografieasspirituelepraktyk [...],pos tsekularisme en ekopsigologie" (235-6), en die navorser toon aan hoe interverbondenheid en interafhanklikheid tussen alle lewende wesens sodoende deur die spreker(s) in die tersaaklike gedigte verken word.
Krog se rol as vertaler kry aandag in die hoofstuk, "'op 'n derderangse verhoog vol swape en gierende grapjasse': Antjie Krog se vertaling van Tom Lanoye se Koningin Lear'' deur Danie Stander (265-302). Hierdie hoofstuk open met 'n beduidende aanhaling van Krog: "The moment you translate, you start transforming self and others." Stander laat die lig val op Krog se bydrae tot Afrikaanse dramavertalings, en wys ook in sy stuk op Krog se unieke "vertaalpoetika", wat gekenmerk word deur "onsuiwerheid" (297). Verder voer Stander aan dat Krog optree as "transgressiewe en eksperimentele vertaler" wat as 'n "skrywerlike agent [...] latente (dikwels libidinale en ander veragtelike) impulse in die teks en in die samelewing uitlig, toelig, verhelder, en sodoende nuwe perspektiewe kanaliseer en vergroot" (297).
Andries Visagie sluit die huldiging af met 'n artikel wat handel oor 'n deel van Krog se oeuvre wat tot dusver beperkte aandag geniet het. In "Interverbondenheid in Antjie Krog se gedigte vir kinders oor feetjies en fynbos" steun die navorser op 'n benadering wat gevoed word met aspekte van die ekokritiek. Hierdeur toon Visagie hoe die digter se "poëtikale visie op interverbondenheid in haar feetjiegedigte aan kinderlesers oorgedra word" (304), en sodoende sluit ook hierdie hoofs tuk goed aan by aspekte van sommige van die voorafgaande bydraes. Hierbenewens bied Visagie se bydrae ook 'n interessante kontekstuahsering van hoe Krog se feetjiegedigte aansluit by tradisies in ander letterkundes, en hoe die digter ook innoveer deur juis op 'n unieke inheemse plantgroep soos fynbos te fokus. Wat seer seker ook met die lees van die laaste hoofstuk duidelik word, is dat daar 'n aantal mooi goue drade deur hierdie boek loop, en dit illustreer sodoende die beste eienskappe van hierdie huldigingsreeks en die waarde wat dit vir navorsers en algemene lesers kan inhou.
Antjie Krog: 'n Ondcrsoekte lewe volg 'n meer akademiese aanpak as sommige van die ander bundels in hierdie reeks. Die boek is goed versorg, en beskik ook oor 'n lang "uitgesoekte" bibliografie wat veral vir studente en navorsers goud werd is. Soos met ander aflewerings in die reeks, is daar 'n reeks mooi foto's van Krog in die boek ingesluit. Daar is natuurlik foto's van Krog saam met ander belangrike nasionale en internasionale literêre en kulturele figure, en ook politici, onder andere Breyten Breytenbach, André P. Brink, Tom Lanoye, Juhette Binoche, Johann Johl, D.J. Opperman, J.M. Coetzee, Nelson Mandek, Allan Boesak en Desmond Tutu. Hiernaas is ook meer persoonlike foto's van Krog saam met haar man en kinders, en haar ma, die skrywer Dot Serfontein.
Hierdie boek verteenwoordig 'n belangrike bydrae tot die literatuurstudie en -kritiek in Afrikaans, en die werk van 'n belangrike en invloedryke digter en skrywer word met verskeidenheid en diepgang daarin verken.












