Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.19981
RESENSIES REVIEWS
'n Huldiging. Digter van die kwiksilwerwoord: Ina Rousseau (Daniel Hugo, red.)
Amanda Marais
Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika alourens@sun.ac.za ORCID: http://orcid.org/0000-0003-4617-5458
'n Huldiging. Digter van die kwiksilwerwoord: Ina Rousseau.
Daniel Hugo (red.). Pretoria: Naledi, 2023. 337 pp. ISBN 9781991256447.
Hierdie huldigingsbundel vir Ina Rousseau, Hertzog-pryswenner vir 'n Onbekende jaartal (1995), spreek van deeglik oorwoë keuses deur die samesteller. Dit volg die konvensies vir hierdie reeks oor Hertzogpryswenners deur akademiese sowel as nie-akademiese bydraes in te sluit, maar oorhoofs bied dit veral 'n volronde blik op Rousseau en haar werk.
Ina Rousseau is by die leserspubliek (maar waarskynlik ook onder akademici) veral as digter bekend. Hiernaas was sy ook kortverhaalskrywer en vertaler-feite wat dalk nie so algemeen bekend is nie. Bernard Odendaal, outeur van die akademiese bydrae oor haar as literêre vertaler, erken ruiterlik hoe hy "onkant betrap" (220) is deur hierdie faset van haar werk. Sy geskakeerde blik op haar verskillende vertalings dien egter die doel om haar rol en posisie binne die literêre sisteem meer volledig te verreken; terselfdertyd slaag hy uitstekend daarin om aan te dui hoe kinder- en jeugliteratuur-wat onder andere deur Rousseau vertaal is-oor die afgelope twee dekades 'n al hoe sterker posisie in die sisteem begin inneem het.
Haar kortverhaalkuns word belig in Francois Smith se ondersoek van enkele gebundelde verhale sowel as die enkele bundel, Soutsjokolade (1979). Smith slaag daarin om reeds vanuit eersgenoemde sekere kenmerke van haar kortkuns aan te toon, maar die lesing van laasgenoemde bied 'n insiggewende omlyning van die belangrikste temas: karakters se blindheid vir hulle eie foute en magtelose posisies; versmade vroue se verknegting en hulle pogings om via offergawes van velerlei aard hulle identiteitsloosheid te beveg. Diegene wat nie met Rousseau se prosa vertroud is nie, sal beslis deur hierdie bydrae geïnspireer word om die verhale te wil lees.
Fanie Olivier se resepsieondersoek betreffende Die verlate tuin (1954), is 'n behendige naasmekaarlees van resensies en 'n vergelyking van uitsprake deur 'n handvol bekende resensente van destyds. Hy slaag uitstekend daarin om sekere lyne te trek, en wys byvoorbeeld op Ernst van Heerden en S. Ignatius Mocke wat die bundel onderskeidelik bestempel as "'vroulike' verse" (43) en waarin "vrou-wees" sentraal staan (47), en wys terselfdertyd op die afwesigheid van sodanige tipering deur Ernst Lindenberg.
Hein Viljoen se bydrae oor Rousseau se laaste bundel, 'n Onbekende jaartal (1995), gee kortliks aandag aan die (uiteindelike) verering van hierdie digter deur die toekenning van die Hertzogprys in 1996. Ek reken dit is belangrik dat hy Réna Pretorius aanhaal wat in 2016 hierdie laat erkenning as "'n leemte in ons bekroningsisteem" (74) bestempel, asook Brink wat reeds in 2003 skryf dat sy "nog skaars na haar werklike waarde in Afrikaans geskat is" (75). Wat volg, is 'n uitstaande voorbeeld van die toepassing van die stipleesmetode om vier gedigte uit die bundel te ontleed, en waarna dosente hulle studente gerus kan verwys.
Die verhouding tussen Ina Rousseau en Peter Blum in 1950, en die intertekstuele proses wat tussen hulle onderskeie werke ontstaan het, is die interessante onderwerp van Tania Colyn se bydrae (gebaseer op haar doktorale studie aan die UK met die titel "Tussen mentors en minnaars"). Sy betrek ook die aspek van genderrolle, alhoewel dit my indruk is dat dit ietwat los van die res van die bespreking staan, soos ook blyk uit die strukturele inrigting van die bydrae wat aanvanklik genderrolle in Rousseau se werk beskou, en dan eers oorgaan na die biografiese agtergrond van die twee digters en hulle verhouding. Die bespreking van die gedigte wat na aanleiding van die verhouding (en die einde daarvan) tot stand gekom het, is wel boeiende leesstof.
Op akademiese vlak is daar hier en daar van Colyn se argumente of aannames wat verfyning verg, soos byvoorbeeld die uitspraak dat "Rousseau se werk [...] moontlik nie sterk aan[sluit] by die konsep van die 'feminine écriture' [sic] nie, omdat daar nie 'n sterk feministiese draad deur haar oeuvre loop nie" (127). Cixous se écriture feminine is nie noodwendig gekoppel aan 'n feministiese ingesteldheid nie, en slaan eerder op 'n soort vloeibare, kreatiewe taal wat op die marges van die Lacaniaanse simboliese orde sigbaar raak, en ook heg aan die vroulike liggaam verbind is. Interessant genoeg reken Rousseau juis in "Welwitschia Bainesii" (Rousseau 48) af met die "barbaarse taal", waarskynlik behorende tot die simboliese orde, en suggereer 'n vloeiende taalvorm as alternatief.
Die terrein van genetiese teksondersoeke is die konteks vir Shané Kleyn se bydrae (gebaseer op haar magisterstudie aan die US) oor die diachroniese voorkoms van variante in Rousseau se poësie. Sy bied naamlik 'n variante-apparaat aan wat die drukgeskiedenis van 253 gedigte objektief kon registreer, sodat 'n volledige beeld gebied word van alle veranderinge wat die digter mettertyd aan die aanvanklike gedrukte weergawe (die editio princeps) gemaak het. Akademiese asook nie-akademiese lesers behoort hierdie noukeurige speurtog na Rousseau se voortdurend slypende hand-'n eienskap wat dan ook deur verskeie bydraes beklemtoon word-baie insiggewend te vind.
Die invloede van Rousseau op Johann de Lange is die onderwerp van Daniel Hugo se akademiese bydrae. Deeglike stiplees en netjiese verbandlegging word hier gesien, en die leser kan aan die hand van 'n heerlik praktiese benadering besef watter invloed sy op hierdie belangrike digter se digterskap gehad het.
Wat die akademiese bydraes betref, is dit opmerklik dat die samesteller 'n baie goeie balans handhaaf tussen gevestigde en jonger navorsers. Terselfdertyd is die akademiese bydraes almal hoogs leesbaar, en gaan nie mank aan swaarwigtige formulerings nie. 'n Mens wonder wel waarom slegs vyf van die sewe akademiese bydraes aan portuurbeoordeling onderwerp is.
Rousseau as vertaler van poësie word belig deur Hugo se bydraes oor onderskeidelik haar Engelse vertalings van haar eie gedigte, asook vier versvertalings wat sy uit Italiaans onderneem het-wat my beslis verras het.
Erika Terblanche se oorsig oor Rousseau se lewe en werk lees hoogs onderhoudend. Haar persoonlikheid word geteken deur byvoorbeeld aanhalings van haar uitsprake, sommige heel vermaaklik, soos wanneer Rousseau oor haar kort rukkie in die onderwys opmerk dat sy "glad nie 'n onderwyseres [was] nie, maar dat sy en die leerders wel "meer pret gehad [...] [het] as enigiets anders" (13). Die digter se beskeie aard word baie goed belig deur haar aan te haal as dat sy in haar jeug gereken het "dat dit op die een of ander wyse onbetaamlik is om 'n vers te publiseer. So asof 'n mens daarmee wil pronk" (16).
Die foto's van Rousseau was vir my besonder genietlik, nie net omdat dit 'n blik op haar familie en gesinslewe bied nie, maar ook omdat dit haar uitbeeld, enersyds as jong vrou in allerlei stylvolle uitrustings van die jare veertig tot vroeë sestigs en andersyds as ouer vrou in 'n tekstuurryke uitrusting saam met Uys Krige, en sodoende ook hierdie faset van haar persoonlikheid belig.
Literatuurliefhebbers wat die boek nog nie aangeskaf het nie, kan dit gerus op die lysie vir die Kerskous plaas.
Geraadpleegde bron
Rousseau, I. Versamddegedigte 1954-1984. Kaapstad: Human & Rousseau, 1984. [ Links ]












