Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.19978
RESENSIES REVIEWS
In die rede geval: Waarom die mens mites maak (Charl-Pierre Naudé)
Alwyn Roux
Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid-Afrika erouxap@unisa.ac.za. ORCID: https://orcid.org/0000-0003-4591-3746
In die rede geval: Waarom die mens mites maak.
Charl-Pierre Naudé. Gansbaai: Naledi, 2023. 516 pp. ISBN 9781776172979.
Charl-Pierre Naudé se doktorale tesis in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat is in boekvorm gepubliseer as In die rede geval: Waarom die mens mites maak (2023). Twee akademiese artikels, verwerk uit sy tesis, het dieselfde jaar in LitNet Akademies verskyn, wat Naudé se veelsydigheid as digter, romansier, vertaler, resensent en filosoof bevestig. Sy filosofiese werk het 'n sterk verband met sy kreatiewe werk, soos gesien in sy gedig uit In die geheim van die dag (2004): "Selfs die Goeie moet 'n oog kan toemaak. / En waar die Rede sluimer, word die Skone gebore". Naudé se teks bied 'n uitgebreide ontleding van Hans Blumenberg se Arbeit am Mythos (1979), bekend as Work on Myth (1990), om die vraag, "Waarom maak die mens mites?" breedvoerig te ondersoek.
Hoofstuk een bied 'n inleidende oorsig van die kernkwessies wat in die daaropvolgende hoofstukke ondersoek word. In die tweede hoofstuk, "Die skrik baar skatte", verduidelik Naudé (46) hoe die oermens sy oorspronklike natuurlike tuiste, geassosieer met "toegeweefde bosse", verloor het weens 'n traumatiese gebeurtenis (soos natuurlike seleksie of klimaatsverandering). Dit het die oermens gedwing om die oop ruimte te betree, wat oorlewing bemoeilik en aanpassing vereis het. Hierin verduidelik Naudé (65) aan die hand van Blumenberg hoe die vroeë mens se eerste konfrontasie met die "absolutisme van die realiteit" tot 'n toestand van intense onrustigheid gelei het, wat uiteindelik aanleiding gegee het tot die konsep van 'n meerdere mag en die ontstaan van gode. Hierdie proses van mitevorming, wat die mens se angs oor 'n onbekende bedreiging kanaliseer, word beskryf as 'n "daad van die denke", wat die basis vorm vir die ontwikkeling van funksionaliteit, metaforisering en "reokkupasie" (50). Vervolgens beskryf Naudé (51) twee pole van die oermens se bestaan: die gevaarlike ooptes en die veilige grot, waar illusies en magiese denke ontwikkel is om hierdie ooptes te oorwin. Volgens Blumenberg se teorie ondermyn hierdie perspektief die konvensionele skeiding tussen mite en rede, hoewel die funksionaliteit van elkeen verskil: mites bied geborgenheid, terwyl rede die werklikheid probeer verstaan sonder om in die mens se behoefte aan sekerheid te voorsien (71). Naudé wys op Blumenberg se verkenning van die werking van menslike denke, wat aan die een kant deel uitmaak van die miteskeppende modus van denke, en aan die ander kant van die rasionele modus van menslike denke.
In die derde hoofstuk, "Waarop kan die mens hoop?," wys Naudé hoe kennisvorming beide mitewerkend of teoreties, as vorms van redewerking, kan wees. Die fokus lê op betekenisvorming, wat "uit die situasie van primordiale angs gebore word en [...] 'n proses is wat afstand tussen daardie angs en die mens wil bewerkstellig" (77). Soos reeds genoem, is die belangrikste verskil dat "by mitewerking die behoeftes van die mens sentraal staan in die kennismodel, terwyl by teorie die mens en sy behoeftes aan die kantlyn staan" (79). Hierdie verskil word onder andere deur die Oedipus-mite verduidelik: die mite vergestalt die menslike situasie en dra lewenskennis oor, terwyl teorie streef na die manipulering van die werklikheid (80).
Vervolgens neem Naudé die leser op 'n filosofiese reis deur die geskiedenis van Westerse metafisika, van die antieke denke van Plato tot die moderne kritiek van Nietzsche, om die vraag te ondersoek waarop die mens kan hoop. Aanvanklik was die antwoord: op die gode se genade, wat gesien word in 'n wêreldbeskouing waar 'n afwesige God geen direkte belangstelling by die mens het nie. Met die verskuiwing na 'n teologie waar God wel betrokke is by die wêreld, bly die kernvraag oor menslike hoop dieselfde, maar die fokus skuif na die mens se vermoë om die werklikheid te verstaan en te beheer-"om meer oor die skepping te wete te kom" (101-2). 'n Belangrike aspek van die reokkupasieproses in hierdie konteks is dat die mens voortdurend sy angs oor die eksistensiële onbekende (die absolutisme van die realiteit) op 'n veilige afstand moet hou. Hierdie afstand maak dit moontlik vir narratiewe om die mens se begrip van sy bestaan te vorm en te struktureer (111). Dié proses ontwikkel deur "deurlopendheid (kontinuïteit) wat afwissel met afbrekings (diskontinuïteit)", wat ruimte skep waarin "die ongedinkte gedink kan word", terwyl die mens steeds 'n gevoel van bekendheid en sekerheid oor sy eie bestaan behou (117). Naudé (70) wys daarop dat daar egter in Nietzsche se werk "nie mitewerking wat as rede voordoen soos in Christelike dogma nie, maar redewerking wat mitewerking gebruik ten einde te redeneer" gevind word. Dit beklemtoon terselfdertyd Blumenberg se projek in Work on Myth, waarin gewys word dat hierdie twee denkmodusse intrinsiek met mekaar verweef is en mekaar nodig het.
In die vierde hoofstuk, "Betekenisgewing se oudste vorm", word geskryf dat een van die "vroegste vorms van die optekening van mite" die poësie was (132). Die funksie van die poësie was juis nie om die werklikheidsimpak van die verskrikking op te roep nie, maar om dit verminderd voor te stel (133). Hierin haal Naudé vir Rilke (soos vertaal deur H. J. Pieterse) aan, wat die ontsag uitdruk wat die "numineuse ervaring" kenmerk, terwyl die ervaring terselfdertyd op 'n sidderende afstand gehou word:
Elke engel is skrikwekkend. En nogtans, wee my,
sing ek tot julle, byna dodelike voëls van die siel,
en weet ek van julle. (135)
Naudé plaas klem daarop dat 'n aktiewe bestanddeel van mitewerking die Duitse woord Bedeutung is, wat in Afrikaans as "beduidenis", "veelseggendheid", "sinvolheid", "sinrykheid", "draagwydte" en "betekenis-volheid" vertaal kan word (136). Hierin bied mitewerking "weerstand teen die slytasie van tyd en faktore wat verstrooiing en uitwissing aanhelp" (137). Vervolgens stel Naudé (153) dat skrywers naby aan mitewerking leef, wat hy van toepassing maak op die poësie van onder andere Breyten Breytenbach, Robert Frost en Edward Thomas. Oor die slotstrofe van Frost se gedig "The Road Not Taken" merk hy op dat dit juis "die botsing tussen mitewerking en rasionele keuse" is wat die gedig goed maak, "want hoe kan gesê word dat die mymerende ou man in die laaste strofe [...] wel die beter weg ingeslaan het" (157):
I shall be telling this with a sigh
Somewhere ages and ages hence;
Two roads diverged in a wood, and I-
I took the one less traveled by,
And that has made all the difference.
In hoofstukke vyf en ses word die mitewerkende behoefte aan "die ander god" en die verskillende gedaantes van die ander god bespreek. Naudé (441) beskryf die soeke na ander gode, wat die heersende godheid uitdaag, as "'n oorgeërfde psigiese struktuur". In Eugène Marais se kortverhaal "Salas y Gomez" word die hoofkarakter Hendrik voorgestel as 'n voorbeeldige volgeling van Calvyn, maar met eienaardige (teologiese) wendings van sy eie, wat hom in 'n krisis tot 'n alternatiewe god-sy medemens- laat wend, omdat God in die hemel nie genader kon word nie. Daarna verbind hoofstukke sewe en agt, met die sewende hoofstuk getiteld "Die vergeefse projek", wat fokus op die strewe na die finale mite. Naudé (352) voer aan, ingevolge Blumenberg: "Namate die mens daarin slaag om homself van die afgrondelikheid van die werklikheid te verwyder deur middel van instellings en kultuur, versterk sy strewe om hom van die oerafhanklikheid van mites ook te bevry." Tog blyk dit 'n strewe te wees wat nooit ten volle bereik sal word nie-nie in die wetenskap nie, nie in die filosofie nie: "Die kenniskorpus wat voldonge sluit, bly uit."
Naudé se In die rede geval bied 'n uitdagende blik op die verhouding tussen mite en rede in die menslike bewussyn. Deur 'n noukeurige ontleding van Westerse metafisika, met toepassings op vele kontekste, insluitende die letterkunde en teologie, herinner Naudé lesers aan die steeds veranderende en interafhanklike verhouding tussen hierdie twee maniere van betekenisvorming. In 'n tydperk waar rasionaliteit dikwels voorgestel word as die oorheersende modus van denke, stel Naudé 'n noodsaaklike vraag: Kan ons herbesin oor die waarde van mites en hulle herwaardeer as 'n integrale deel van ons kulturele en intellektuele erfenis? Sy werk daag lesers uit om die rol van beide rede en mite in ons moderne wêreld te heroorweeg.












