Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.18924
RESENSIES REVIEWS
Duifeling (Lize Albertyn du-Toit)
Andrew Sutton
Noordwes-Universiteit, Vanderbijlpark, Suid-Afrika. andrewstephensutton@outlook.com ORCID: https://orcid.org/0000-0001-8543-813X
Duifeling.
Lize Albertyn du-Toit.
Kaapstad: Human & Rousseau, 2024. 333 pp. ISBN 9780798184236.
"Die spieël bo die enamelkom wasem toe. Sara probeer iets van haarself sien deur die wasem. 'Wie is jy? Wat is jy Sara?-'n duif of 'n duiwel?" (252).
Lize Albertyn-du Toit bou voort op die storie-vertelling wat sy met haar debuutroman Die kinders van Spookwerwe (2019) aangebied het, en plaas in Duifeling weer die kollig op stories, karakters en omgewings wat reeds in haar debuut bekendgestel is. Die sterk visuele teenwoordigheid van die Karoolandskap, word reeds met die voorblad van Duifeling gesuggereer. Verder gee die donker skynsel wat oor landskap hang en die vrou in die verte, amper buite sig, 'n leidraad oor die romaninhoud.
In Duifeling verskyn die hoofkarakter Sara eendag op Rooiduin nadat sy uit Keimoes gevlug het. Sara se verhaal begin in Die kinders van Spookwerwe met 'n reeks traumatiese insidente, en nou probeer sy in Rooiduin 'n nuwe lewe skep. Sara bly by Kaaitjie, Piet en Kuikentjie aan huis. Sy skakel maklik in by die dorp, kry werk, maak vriende en vind 'n tuiste by die mense van Rooiduin. Sara tree op as 'n surrogaatmoeder wanneer sy Kuikentjie versorg, sy vind susterskap by haar vriendin Roos en die ander vrouens op die dorp, en later vind sy ook liefde. Alhoewel Sara aanvanklik aan die periferie van gemeenskapsgeleenthede staan, soos die Kersdagvieringe en later Soutman se begrafnis, tree sy met verloop van tyd na die sentrum van die dorp. Terselfdertyd is daar dreigende tekens dat die sentrum verkrummel. Sara sien armoede, siekte en mishandeling in die onderskeie gesinne in die dorp, asook in die huis waar sy tuisgaan. Piet is die "bangmaakding" in hulle huis (169) en Sara probeer in haar hoedanigheid as beskermengel van die huis sterk staan teen hom. Saam met die ineenstorting van gesinne en verhoudings, bly hoop en geloof in die dorp teenwoordig. Sara merk op: "Niks is meer reg nie, Herklaas, en daarom gaan alles weer regkom" (264). Terwyl sy die ander karakters bystaan in tye van swaarkry, leer sy jy moet met die verlede afreken. Sara leer dat God haar reeds vergewe het en voel later gereed om haar verlede af te sluit, want "[n]iks kan jou verlede verander nie" (136).
Die roman is nie 'n familiesage, liefdesverhaal of plaasverhaal nie, maar is eerder episodies gestruktureer met elemente van hierdie genres in elkeen van die kort hoofstukke. Om die beurt word die leser ook aan die verskeie gesinne (soos uiteengesit in die karakterlys) se unieke verhale bekendgestel. Een hiervan is !Guri-aos wat by die rivier bly soos die voorouers en dien as die "smeerouma" vir die dorp (79). Deur haar word verskeie Nama-volkselemente en uitdrukkings van die mense van die omgewing in die verhaal geïnkorporeer.
Duifeling se driedelige struktuur kan beskou word as 'n tipe raamvertelling, aangesien Deel 1 en 3 onderskeidelik op 12 Januarie 1985 en 13 Januarie 1985 afspeel. Deel 2 dien as vertelling van die gebeure wat drie jaar vantevore afgespeel het, asook die aanloop tot die twee genoemde datums. Dele 1 en 3 is kort en plotgedrewe. Deel 2 beslaan die meerderheid van die boek en is meer atmosferies van aard. In Deel 2 kry die titel betekenis en meerheid karakters en die landskap-waarop voortgebou word in Deel 3-word bekendgestel. Wanneer die verhale stelselmatig begin afsluit in Deel 3 kry die leser duidelikheid oor die gebeure van Dele 1 en 2, asook Sara se aandeel in Die kinders van Spookwerwe.
Onderliggend aan die roman is die waarde van menseverhoudings wat deur die troop van found family geskep word, en dit is veral die deurlopende ondersteuning tussen vrouekarakters wat die leser bybly. Hulle kuier, eet saam en leen die nodige vir mekaar. Korreltjie maak rokke vir die vroue en leer later ook vir Sara hoe om klere te maak. Spriet se huis staan altyd oop vir Sara en Kuikentjie. Hierdie tema is veral prominent wanneer die vroue die jong en swanger Hettie na ouma !Guri-aos toe neem om gesmeer te word, en later wanneer die vroue byeenkom om Kaaitjie by haar oorlede dogter se graf te ondersteun. Deur hierdie en ander tonele poog die skrywer om te wys eerder as voor te skryf wat goeie medemenslikheid en familie is, en die leser word aangemoedig om na te dink oor hierdie dorp se mense en hulle verhoudings.
Soos met Die kinders van Spookwerwe word die skilderagtige landskappe en natuur met merkwaardige poëtiese taalgebruik aangebied:
'n Lou reënasem stoot oor die droë landskap. Weerlig speel en dit grom in die swartblou wolke. Bliksemstrale gee vir mekaar swepe aan en daar word op klip geklap en vuur gespoeg. Herklaas ruik die swael. Weerligvingers wortel aarde toe asof hulle vir die water vooruit wys waar die droë lope lê. Toe val die eerste vet druppels op die sinkdak. (215)
Die merkwaardige prosa en aangrypende gebeure boei die leser vanaf daardie rampspoedige dag in Deel 1 tot by die stowwerige Rooiduin, en wys dat daar altyd 'n nuwe dag sal wees, want "Môre skyn die son weer" (137).












