Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.18966
RESENSIES REVIEWS
Adele Vorster
Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Bloemfontein, Suid-Afrika. avorster@cut.ac.za ORCID: https://orcid.org/0009-0005-0705-9472
Al wat tel.
Irma Venter.
Kaapstad: Tafelberg, 2024. 373pp. ISBN 9780624094838
Die derde Ami Prinsloo-roman is op die rakke en dit kan dalk net gereken word as die beste een sover. Irma Venter het haarself deeglik as krimiskrywer gevestig, eers met haar S-reeks, en nou met die derde aflewering van haar huidige reeks. Eers was daar Minder as niks (2021), toe Die verkeerde vrou (2022) en nou Al wat tel (2024), weer met die joernalis van Nuus360, die gefolterde en aantreklike Ami, as hoofkarakter.
Dit is lekker om met die lees van die drie boeke Ami se groei as joernalis en as karakter te sien. Venter neem die leser geleidelik al hoe dieper onder haar vel in. 'n Motto van Nietzsche voorin Al wat tel suggereer 'n karaktereienskap van die enigmatiese Ami, een van haar grootste struikelblokke, die onvermoë om te vertrou: "Objection, evasion, joyous distrust, and love of irony are signs of health; everything absolute belongs to pathology".
Die voorblad van Al wat tel vang reeds die leser se aandag vas. In hierdie geval het ons duidelik 'n misdaadtoneel, maar aan die bokant is daar bome, 'n karakter wat stap, en die melodramatiese lokwoorde: "Net die sterkste sal oorleef". Die misdaadtoneel maak na die lees van die eerste hoofstuk reeds sin, maar die leser eers moet vorder tot na die halfpadmerk om behoorlik sin te maak van die boonste deel van die voorblad.
Die roman open in die middel van 'n binnegesprek wat die nuuskierigheid laat opvlam. Ami worstel met 'n weddenskap wat sy met haar byna-byna geliefde, Geo, gemaak het. Die leser word ook daaraan herinner dat Ami 'n voormalige Olimpiese vlinderslagkampioen is, iets wat deeglik in die vorige twee boeke ontgin is en iets wat Ami tot 'n groot mate bly definieer. Tydens haar gesprek met Geo, kry Ami 'n selfoonboodskap dat iemand voor haar nabygeleë gimnasium doodgeskiet is en sy is blitsvinnig op die toneel. Dit is nie net sy wat groot belangstelling toon nie, die Valke is ook reeds daar. Dit moet dus 'n BBP wees wat geskiet is.
Hier begin al die tergende vrae: Was dit 'n sluipmoord of wou die sogenaamde Rolex-bende net die man se indrukwekkende horlosie steel? Wie is die jong, blonde vrou op die toneel en waarom is haar lewe gespaar? Hoekom lyk dit of 'n speurder op die toneel iets in sy sak druk?
Dit kom vinnig aan die lig dat die oorledene 'n gesiene sakeman is. Hoe meer Ami delf, hoe meer raak sy oortuig dat hierdie nie net nog 'n gewone moord is nie. Sy kruis boonop paaie met 'n Duitse joernalis wat besig is om grusame gebeure kort anderkant die grens, in Mosambiek, te ondersoek. Kan daar 'n verband tussen hierdie skynbaar uiteenlopende voorvalle wees?
Ami staan soos gewoonlik nie terug nie en binnekort is haar lewe in groot gevaar. Sy word deur die Valke se woordvoerder gewaarsku: "Die fight vir die siel van hierdie land is besig om lelik te raak. Luister na my en los hierdie storie. Nou dadelik (106)." Dit skrik natuurlik nie vir Ami af nie. Sy is nie 'n gevoellose joernalis nie, maar sy kan 'n storie soos 'n bloedhond beetkry. Sy dink: "Dalk is dit die sinisme en paranoia wat na 'n paar jaar posvat. Die feit dat die mensdom jou eenvoudig nie meer kan verras nie en jy presies weet waartoe jou medesterflinge in staat is (114)."
Wat in hierdie roman gebeur, daag egter selfs Ami se sinisme uit. Die storie kring wyer en wyer uit: van die dood van die sakeman na geldwassery na brutaliteit in die wreedste graad. Ami bly deurgaans nouliks op die spoor van die ontwikkelende storie, maar sy weet dit is iets wat vertel móét word: "Een wat sy al die pad na die bitter einde gaan volg, maak nie saak wat nie" (171).
Die tweede helfte van die roman beweeg blitsvinnig en die leser belê in Ami se welstand en wil hê sy moet oorleef. Die titel begin al hoe meer sin maak: "Dis soos die Olimpiese Spele. Sy moet eenhonderd persent gefokus wees. Al wat nou saak maak, is om heel anderkant uit te kom. Dis wragtig al wat tel" (283).
Ami se medekarakters gee verdere kleur aan die verhaal. Die data-analis, Geo, en sy kuberkraker-suster, Sarah, help met inligting wat Ami nie andersins sou verkry nie. Die feit dat Sarah Ami nie voor haar oë kan verdra nie, sorg vir broodnodige humor. Die fotograaf, Jules Koopman, met 'n tatoeëermerk van 'n Meksikaanse skedel op haar rug, voel ook na 'n egte karakter.
Dit is voorts Venter se vermoë om die bekende en onbekende te vermeng wat die roman geloofwaardig laat voel. Sy daag wel soms die leser se realiteitsbelewing uit, maar min dinge verbaas 'n mens nog in ons misdaadvose land. Hierdie feit benut Venter ten volle en einde ten laaste skep die roman 'n gevoel van tevredenheid, en terselfdertyd 'n gewaarwording dat maklike oplossings nie moontlik is nie.
Venter het 'n wenresep beet wat weereens nie teleurstel nie. Sy trek met 'n vaardige skrywershand al die toutjies bymekaar soos wat die verhaal tot 'n einde kom, maar altyd sonder om die leser te verveel. Al wat tel is beslis ook meer as net 'n misdaadroman-daar is baie stof tot nadenke. Mag Ami nog lank haar stories jaag én aanhou verslag lewer, want soos sy sê: "Dis nie my werk om mense te kry om my te like nie. Ek moet net seker maak dat almal se stories gehoor word. Dis al wat tel" (355).












