SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue2BientangPieter Fourier Teatermaker-'n huldiging Fanie Olivier (red.). author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria  2024

    https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.19959 

    RESENSIES REVIEWS

     

    Kwaaiwater (Irna van Zyl)

     

     

    Elzette Steenkamp

    Onafhanklike resensent Kaapstad, Suid-Afrika elzette.steenkamp@gmail.com ORCID https://orcid.org/0009-0004-1884-329X

     

     

    Kwaaiwater.
    Irna van Zyl.
    Kaapstad: Human & Rousseau, 2023. 428 pp. ISBN 9780798183727.

    Speuradjudant Storm van der Merwe is terug in Irna van Zyl se jongste misdaadriller, Kwaaiwater. Lesers wat bekend is met hierdie geliefde karakter sal weet, daar waar Storm is, volg moord en intrige.

    Van Zyl draai sommer met die intrapslag die spanningswyser tot op die maksimum. Die verhaal begin op dag vyf van die aksie, waar Storm en oudpolitikus Emèl (vroeër bekend as Marie-Louisa) Botha saam met 'n selfmoordbomaanvaller in 'n hysbak in die ou Absa-gebou in Kaapstad vasgekeer is.

    Direk na dié senutergende openingstoneel flits die verhaal terug na dag 1. Dit is die eerste dag van Hermanus se heel eerste skrywersfees. Die Covid-inperkings is pas opgehef en Storm en haar span speel half-verveeld oppassers by die geleentheid. Dan daag die gewilde plaaslike skrywer Isa Du Bois nie op vir haar sessie nie. Haar liggaam word kort daarna in Kwaaiwater se Mosselrivier gevind. Isa ontvang al meer as 'n jaar dreigemente en het gevrees vir haar lewe. Moerdyk, Storm se oudkollega wat deesdae as 'n privaatspeurder en lyfwag werk, is gehuur om die skuldige vas te trek, maar kon nie sy werksgewer se dood verhoed nie.

    Teen die volgende dag het Storm steeds meer vrae as antwoorde. Is die moordenaar 'n jaloerse medeskrywer óf 'n vyandige resensent? Óf het haar man Stephanus uiteindelik genoeg gehad van haar buite-egtelike verhoudings? Daar is egter nie tyd vir selftwyfel nie, want die liggaam van nog 'n vrou word deur 'n vissersman ontdek. Hierdie keer 'n mooi, jong student met 'n gevaarlike deeltydse werk.

    Dan, 'n dag later, die derde slagoffer. Drie dae, drie vroue. Almal met 'n fietsketting verwurg. Skielik het Storm met 'n reeksmoordenaar te doen. Asof drie moorde nie genoeg is nie, wroeg Storm ook met 'n string persoonlike probleme. Was haar oorlede biologiese pa Lewis Witvoet regtig betrokke by staatskaping? Wat maak Whitey van Worcester, die man wat deur die polisie gesoek word vir die moord op Lewis, skielik in Hermanus? Kan sy en Moerdyk vrede maak? Én hoekom kan sy nie ontslae raak van haar kloppende hoofpyn nie?

    Met Kwaaiwater bewys Van Zyl weereens dat sy die kuns van die spanningsverhaal verfyn het. Kort, kragtige hoofstukke gee 'n vinnige pas aan en daar word vernuftig met tydswisseling gespeel om die spanning vol te hou.

    In Deel I wissel die storie vinnig tussen die eerste vier dae van die skrywersfees en die hysbaktoneel op dag 5. Terugflitse na vroeëre tydperke dra ook by tot die samehang van die storielyn en knoop 'n paar los drade uit vorige boeke in die reeks saam. Deel II neem ons terug na die ontknoping van die gyselaarsdrama in die hysbak, waarna die verhaal chronologies ontvou. 'Kwaaiwater voel soos 'n liefdesbrief aan Hermanus.

    Van Zyl neem die leser teen kronkelende kuspaadjies 1 uit, langs Grotto, Voëlklip en Langbaai se wit strande af, en maak sommer 'n paar draaie by bekende kuierplekke. Dié idilliese agtergrond is in sterk teenstelling met die gruwelike gebeure wat in die verhaal afspeel. Soos die titulêre Kwaaiwater se bedrieglike skoonheid wat teen hooggety gevare inhou, skuil daar ook maalstrome diep onder die samelewing van hierdie poskaartmooie kusdorp.

    Met 'n groep uiteenlopende, fynbeskrewe karakters, slim leidrade en speelse verwysings na 1 ander tekste, hou Kwaaiwater lesers op hulle tone. 'n Mens moet by tye mooi kophou, maar die beloning is 'n boeiende, senutergende roman wat die bedlampies tot laataand sal laat brand.

    Kwaaiwater is die vierde boek in van Zyl se Storm van der Merwe-reeks. Alhoewel die boek alleenstaande gelees kan word, sal lesers die ander boeke in die reeks Moordvis (2016), Gifbeker (2018) en Bloedsteen (2020) ook geniet.