SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue2Of Motherhood and Melancholia: Notebook of a Psycho-ethnographerBientang author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria  2024

    https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.19049 

    RESENSIES REVIEWS

     

    Hemel en aarde en ons (Zirk van den Berg)

     

     

    Rickus Ströh

    Noordwes-Universiteit, Vanderbijlpark, Suid-Afrika. Rickus.Stroh@nwu.ac.za ORCID: https://orcid.org/0000-0001-8388-6983

     

     

    Hemel en aarde en ons.
    Zirk van den Berg. Kaapstad: Queillerie, 2024. 214 pp. ISBN 9780795802683.

    Hemel en aarde en ons is Zirk van den Berg se elfde Afrikaanstalige roman, en reeds op die voorblad word sekere kodes van dié roman se inhoud, maar ook die plek daarvan in die skrywer se oeuvre, geaktiveer. Die voorblad pronk met 'n treffende foto, geneem deur Van den Berg self, van 'n blik vanuit 'n verweerde vensterraam in 'n verlate huis op die spookdorp, Kolmanskop.

    Met die eerste oogopslag sluit hierdie roman aan by die skrywer se sogenaamde Duitswes-trilogie, met Siegfried Bock as hoofkarakter. Die leser kom wel vinnig agter dat daar met hierdie roman 'n ander blik op die verlede geplaas word, naamlik die vlietende rykdom van die dorp met sy diamantdelwery-en die mense wat hierdie dorp bewoon het. Die titel, wat weens goeie uitlegwerk, die voorbladfoto eggo (die woorde "hemel" en "aarde" is só geplaas om hulle semantiese verwysings te weerspieël) is 'n belangrike sleutel in die ontsluiting van die inhoud van die roman. Dit plaas enersyds fokus op die ruimte en andersyds fokus op die karakters in die verhaal, die "ons".

    Die verhaal speel, soos reeds genoem, in Kolmanskop af, asook in Lüderitzbucht. Die eersgenoemde dorpie en omliggende woestyn word as simbool aangewend vir die verganklike aard van die mens (die "ons" in die titel) en hul doen en late. In die roman se openingsparagraaf word die vergelyking getref tussen die woestynruimte en die mens se geheue: "Die vervloënheid bly my by, die samehang ontgaan my. Daar is 'n sifting ter sprake, diamant uit die duinesand, die eiening van waarheid, die saamsnoer van mense en gebeure in plek en tyd. [...] Gewaarwording verskyn uit die spookdorp van die geheue, verdring die hede. Die onmiddellikheid van herinnering. Só was dit toe ..." (7).

    Met hierdie eerste paragraaf begin die eerste-persoonsverteller, wat vir 'n groot gedeelte van die roman nie bekend aan die leser is nie, met 'n raamvertelling en keer terug na die vroeë 1900's, na 'n tyd waar vroue en mense van kleur min tot geen regte of seggenskap gehad het nie, en waar 'n rassistiese en chauvinistiese bestel aan die orde van die dag was. Die mynbestuurder, Hans-Peter Kranz is in die besonder 'n voorbeeld hiervan. Iemand wat gesag afdwing by sy onderdane by die myn, sy huis en by uitstek die hele dorpie. Hierteenoor staan die hoofkarakter, dokter Alexandra Stackelberg. 'n Vrydenkende en intelligente vrou wat deur die mynbestuurder aangestel word as die dorp se dokter, én om die nuutste x-straalmasjien te gebruik om diamantdiewe te vang. Van den Berg skep 'n genuanseerde karakter wat beslis die stereotipe van daardie jare uitdaag-hy gebruik byvoorbeeld Eugène Delacroix se skildery La Liberté guidant lepeuple (Vryheid lei die mense) (1830) as interteks om vir Alexandra te beskryf: "Haar figuur is die soort wat, vaandel in die hand, dalk met ontblote bors, 'n skare moet lei in die soeke na 'n ideaal-vryheid dalk, nie skoonheid nie" (10).

    In haar werk as geneesheer is daar 'n insident waar een van haar pasiënte sterf en sy haarself in 'n morele dilemma bevind-waar sy moet besluit wat die grense is tussen reg en verkeerd, tussen hemel en aarde.

    Die agterbladteks bestempel die roman as 'n "veelvlakkige whodunit met 'n konseptuele kinkel". Die tradisionele whodunit-roman (soos die werk van Christie en Doyle) is komplekse verhaal- of plotgedrewe speurfiksie waar 'n moord gepleeg word. Die res van die roman word dan gewy aan 'n speurderagtige karakter wat die moordenaar identifiseer en sy of haar motiewe vasstel. In die geval van Hemel en aarde en ons word die identiteit van die moordenaar sowel as die vermoorde eers aan die einde van die roman bekendgemaak (hoewel mens reeds op p. 15 lees van 'n man wat vermoor word). Ook wie die ek-verteller is, bly tot aan die einde van die teks 'n geheim. Dit is hierdie spanning wat die leser noop om verder te lees en die ander karakters te leer ken-elkeen met sy of haar eie goeie motivering om die moord te gepleeg het. Vir die skerp leser word daar deurgaans in die roman leidrade gegee, wat aan die einde gebruik kan word om 'n eie afleiding te maak oor wie die ware moordenaar is. Kan die skuld by die individu gelê word? Van den Berg laat dit oor aan die leser: "Ons is almal eenders. In 'n klein dorpie soos Kolmanskop versmelt individuele identiteit maar alte gou in die kollektiewe bewussyn" (24).

    Daar is wel enkele dinge wat kwel in terme van hierdie roman. Die besluit om nie die verhaal in hoofstukke te verdeel nie, maar eerder gebruik te maak van paragrawe waar die eerste woord in hoofletters 'n nuwe gedeelte aandui, is hinderlik. Die leser raak wel mettertyd gewoond aan die ritme van die verhaal met die afwisseling van vertellers en perspektiewe. Dit dra moontlik by tot die oproep van 'n verlede en die fragmentering van herinneringe. 'n Stilistiese vreemdheid is die keuse om Kolmanskop se Afrikaanse naam te gebruik, maar eerder die Duitse "Lüderitzbucht" (vir Lüderitzbaai).

    Bogenoemde kwelpunte is egter nietighede in 'n andersyds pragtig geskrewe roman wat die leser terugneem na 'n deel van die Namibiese geskiedenis en dit vervleg met meditasies oor medemenslikheid, relasionaliteit en verganklikheid (203-4).