Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.20002
RESENSIES REVIEWS
Renée Marais
Universiteit van Pretoria. Pretoria, Suid-Afrika. renee.marais@icloud.com ORCID: https://orcid.org/0000-0001-7862-2270
Sluitstuk.
Johann Rossouw. Kaapstad: Umuzi, 2023. 185 pp. ISBN 9781415210031.
Sluitstuk is Johann Rossouw se derde roman. As akademikus is sy vakgebied die filosofie, spesifiek die werk van die Franse filosowe Foucault en Stiegler. Hy het verskeie Franse tekste in Afrikaans vertaal, en publiseer gereeld akademiese en verwante bydraes in vaktydskrifte, dagblaaie en op e-platforms.
Opvallende temas in Sluitstuk sluit eerstens mentor-en skrywerskap in, en tweedens die verwerking van verlies te midde van gevoelens van verwerping, verraad en selfs vergelding. Die romanstorie vertel hoe 'n jong aspirantskrywer (Markus Lourens) aan die grootste romanskrywer in Afrikaans (Rudolf Eksteen) skryf om sy bewondering vir sy jongste roman oor te dra en te vra of hy hom sal leer skryf. Tot sy verbasing lei dit tot 'n verdiepende vriendskap met persoonlike kontak, wat egter plotseling deur die groot skrywer beëindig word. Vervolgens gaan die aspirantskrywer na 'n Zen-tempel in Frankryk (wat die groot skrywer t vroeër onder sy aandag gebring het), waar hy as 'n Zen-monnik opgelei word. Vyftien jaar later keer hy na Bloemfontein terug en aanvaar 'n akademiese pos aan die universiteit. En dan, na dekades van geen kontak, nader die groot skrywer sy eertydse vakleerling en vra 'n herontmoeting aan, met verreikende emosionele gevolge.
Bostaande storie word vertel binne die raam van 'n onderhoud (drie jaar na die groot skrywer se selfdood) tussen die akademikus en 'n Nederlandse vrou wat navorsing doen vir die skryf van 'n biografie oor die groot skrywer. Tydens die onderhoud, wat regdeur die nag duur, word intieme en onthutsende onthullings deur albei gespreksgenote gemaak, gestaaf deur dokumentêre bewyse (insluitend briewe wat deur die akademikus bewaar is).
Reeds by die lees van die lokteks op die agterblad is dit duidelik dat Sluitstuk op ware gebeure en werklike mense gebaseer is, al word hul identiteit deur die gebruik van skuilname versluier. Die opdrag aan die slot van die boek bevestig dat Rudolf Eksteen eintlik Karel Schoeman is en die foto, twee bladsye verder, dat Markus Lourens eintlik Johann Rossouw, die skrywer van Sluitstuk, is. Irene Reynders is herkenbaar as Ria Winters, wat al in Reise met Schoeman (2020) oor haar biografiese navorsing verslag doen. Dit, saam met verifieerbare gegewens, en verskeie gepubliseerde artikels (so onlangs as 2023) deur Rossouw oor sy vriendskap met Schoeman, wek die indruk dat die gegewens in die roman waar moet wees. Dié aanname maak die onthullings in Sluitstuk des te meer onthutsend, omdat dit aspekte onthul wat Schoeman nooit aan die openbare klok gehang het nie, en omdat die leser die waarheid van die onthullings nie kan toets nie. Maar dan tree daar, minstens vir die leser wat belese is oor Schoeman, teen die einde van die roman inligting na vore wat wel kontroleerbaar is en feitelik onwaar blyk te wees.
Lesers raak dikwels ontstig deur literêre tekste met 'n opvallende vermenging van feite en fiksie. Min Afrikaanse skrywers het soveel opspraak as die kortverhaalskrywer Koos Prinsloo verwek weens sy onverbloemde inbedding, in sy fiksie, van feitelike gegewens en onthullende, kontroversiële persoonlike dokumente, soos outentieke foto's, briewe en dagboeke van en oor identifiseerbare, meermale nog lewende mense met wie die verteller/abstrakte outeur/konkrete outeur 'n intieme verbintenis gehad het. Gerrit Olivier beskryf insiggewend hoe Prinsloo met toenemende vaardigheid hierdie tegniek in sy vier bundels (1982-93) bemeester het, en sodoende 'n besondere veelvlakkigheid en samehang in sy oeuvre kon opbou. In sy vierde bundel lei dit tot 'n "oomblik van doodsaanvaarding" (1001), waarmee Prinsloo die outobiografiese lyn (of lewensreis) in sy oeuvre afsluit. Sluitstuk toon verskeie ooreenkomste hiermee in die vertelling van hoe Eksteen sy lewensreis afsluit en beëindig, al stem elemente van die gebeure in die doodstoneel aan die slot van die roman nie biografies met dié van Schoeman se dood ooreen nie (vergelyk Landman, asook persberigte wat ten tyde van Schoeman se dood verskyn het).
Die tegniek wat Rossouw in Sluitstuk volg, is dus eie aan 'n gevestigde tradisie in die Afrikaanse letterkunde. Lank voor T.T. Cloete in 1984 "die waarheid gelieg" het, het S.J. du Toit dit al in Di koningin fan Skeba (1898) gedoen. Abraham H. de Vries verklaar dat, wat stories betref, die verskil tussen waarheid en leuen, werklikheid en verdigsel, nie ter sake is nie. Koos Prinsloo integreer die werklikheid struktureel met die storie. Karel Schoeman skryf self verskeie biografiese romans waarin herkenbare en kontroleerbare biografiese feite by wyse van fiksie aan die leser oorgedra word, net soos in sy roman Titaan (2009). Sluitstuk staan in dié opsig egter die naaste aan Die noorderlig (1975) waarin, soos Daniel Hugo in Stiltes en stemme aandui, Francois en Estelle se storie eintlik dié van Ingrid Jonker en André P. Brink is, met die verteller Paul wat Karel Schoeman self verteenwoordig. Maar waar Brink met 'n venynige persoonlike aanval op Schoeman gereageer het, reageer Ria Winters in 'n 2023-onderhoud met Jaap Goedegebuure (Zuid-Afrikahuis) gelykmatig op die moontlikheid dat lesers Irene, haar 'dubbelganger' in Sluitstuk, se onthullings in die teks moontlik as die reine waarheid kan beskou.
Ten slotte: wat anders val in Sluitstuk op naas die vervlegting van waarheid en versinsel? Dat Rossouw hierdie roman nie uit sy mou geskud het nie, maar ses jaar lank daaraan gewerk en herskryf het (met insette deur verskeie kritiese lesers). Dat die roman vlot en boeiend lees. Dat dit stilisties goed versorg is (ondanks enkele Nederlandse taal- of spelfoute) en dat die styl inderdaad ooreenkomste met dié van Schoeman toon. Sluitstuk kan gelees te word as 'n raamvertelling, 'n Bildungsroman, 'n roman oor individuasie (Jung), en as 'n fiksionalisering van die lewe van Schoeman, Rossouw, en hulle vriendskap. Die lokteks tipeer Sluitstuk as 'n "elegiese roman"; die leser moet dus die versoeking weerstaan om dit as 'n wetenskaplik betroubare biografie te wil lees. Sluitstuk is veral ook 'n roman oor skrywerskap en oor skryf-dit wat Schoeman se hele lewe gerig het-en 'n interessante en verdienstelike toevoeging tot literatuur oor "Afrikaans se grootste romansier" (8).
Geraadpleegde bronne
Hugo, Daniel. "Die noorderlig. Karel, André en Ingrid." Stiltes en stemme. Karel Schoeman. 'n Huldiging, geredigeer deur Willie Burger. Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2023, pp. 284-7. [ Links ]
Landman, Willem. "Karel Schoeman: Sy laaste dae en wense." Wreed én mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling, saamgestel deur Tobie Wiese. Jonathan Ball, 2019, pp. 95-108. [ Links ]
Olivier, Gerrit. "Koos Prinsloo (1957-1994)." Perspektief en profiel: 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2, geredigeer deur H. P. van Coller. Van Schaik, 2016, pp. 991-1001. [ Links ]
Zuid-Afrikahuis. "Boeken uit het huis 20: Sluitstuk van Johann Rossouw." YouTube 26 Okt. 2023. https://www.youtube.com/watchv=PkK3ojrh6-M&list=PLOTzoSjEaqMt3ZaT7LMJUIfr9kD2BTzA5&index=1. [ Links ]












