Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.20022
RESENSIES REVIEWS
Deelfontein (Nicole Jaekel Strauss)
Delia Rabie
Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika deliarabie@gmail.com ORCID: https://orcid.org/0000-0002-4477-6447
Deelfontein.
Nicole Jaekel Strauss.
Kaapstad: Queillerie, 2023. 384 pp.
ISBN 9780795802645.
Nicole Jaekel Strauss se Deelfontein (2023) is 'n historiese roman in drie dele wat oor verskeie generasies afspeel. In deel een en twee volg die leser die jong Engelse dokter, Oliver Glenville, se reise na die Karoodorp, Deelfontein, waar die Imperial Yeomanry Hospital tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog opgerig is. Die hospitaal beskik histories oor een van die wêreld se eerste x-straal masjiene, lopende, gefiltreerde water en terapeutiese saunas (Marais). Saans drink die personeel en dokters "glo sjampanje uit kristalglase [en] whisky met die soetste water uit die fontein" (16), hoewel dit vinnig duidelik word dat die hospitaal beslis nie 'n ruimte van jolyt is nie. Oliver word met sy aankoms
vereis om te opereer wanneer 'n trein vol gewonde soldate arriveer. Ná sy aankoms in Deelfontein wissel sy dae by die hospitaal af tussen verslae oor gewondes en beskrywings oor die milieu.
Dit is tydens een van sy stiller oomblikke tussen pasiënte in 'n operasieteater waar Oliver verlief raak op 'n skoonmaker, Klara Grootboom, wat omsien na haar sterwende pa in 'n klein hut op 'n plaas in die omgewing. Net soos die twee se verhouding vlam vat met die afsterwe van Klara se pa, besef Klara dat sy swanger is, en breek kontak met Oliver en die hospitaal. Die ellende van die kampe en die Verskroeideaardebeleid dryf Oliver om na Sjina te vlug, waar hy in deel twee van die roman trou en onder die mag van ondergrondse dwelmhandel moet uitkom en terug na Londen vlug. Die vertelling oor Oliver Glenville stop met sy terugkeer en die fokus in deel drie van die roman verskuif na die kunstenaar Klarissa Grootboom, wat meer as 'n honderd jaar later onverwags kennis maak met 'n halfniggie uit Londen. Oliver se agterkleindogters deel verhale oor die kennis wat hulle beskik oor hul grootoupa Oliver en hul grootmoeders se onderskeie lewens.
Gerda Taljaard-Gilson identifiseer in haar artikel "'n Ondersoek na die waarde van historiese fiksie: drie geskiedkundige romans in oënskou geneem" (2013) enkele belangrike funksies wat historiese romans verrig. Dit kan as identiteitsoeke funksioneer, 'n traumatiese geskiedenis verwerk, 'n bepaalde erkenning van aandadigheid uitbeeld, en as regstellende aksie van 'n versweë geskiedenis dien. Verder kan historiese romans ook 'n dokumenteringsfunksie inhou wat bepaalde mense, gebeure en gewoontes bewaar. In Deelfontein wil dit aanvanklik voorkom of die verhaal hoofsaaklik as dokumentering van die Suid-Afrikaanse Oorlog en die konflik tussen Afrikaanse boere en Engelse soldate dien. Dit word egter duidelik hoe verder die roman vorder, dat 'n dokumentering van die gebeure en konflik van die Suid-Afrikaanse Oorlog bloot as sekondêre funksie dien.
Die aanvanklike haak wat die leser intrek in die verhaal is die uitbeelding en beskrywing van die merkwaardige hospitaal wat die leser saam met Oliver vir die eerste keer ervaar. Daar word deurgaans verwys na Oliver wat sy reise dokumenteer met sy Brownie kamera. Hy maak byvoorbeeld 'n punt daarvan om "Leeuwen Kop en dan die Tafelberg" (19) te fotografeer. Ons maak ook kennis met bekende geskiedkundige figure soos Arthur Conan Doyle, wat "die saadjie in [Oliver se] onderbewussyn geplant het om [gebeure met mense] te dokumenteer" (94). Ons word ingelig van die daaglikse werking van 'n hospitaal in die middel van die Karoo, gebeure tydens die oorlog, die impak daarvan op die plaaslike gemeenskap, en die nagevolge van oorlog op beide soldate en die Afrikaanse boere.
Jaekel Strauss gaan egter verder as slegs blote dokumentering van die Suid-Afrikaanse oorlog. Deelfontein dien ook as regstelling van die narratiewe waarin die ellende van die wit Afrikaner se lyding tydens die oorlog op die voorgrond geplaas is, en funksioneer as uitdaging teen die gebruik van hierdie lyding as motivering vir Afrikanernasionalisme. Jaekel Strauss daag hierdie narratiewe uit deur ook, en hoofsaaklik, die leiding van die swart Ander tydens die oorlog ten toon te stel. Die leser word byvoorbeeld bekendgestel aan die swart kampe waar "daai kinders [...] gewoonlik nie eens [het] wat [wit kinders] vanoggend gehad het nie" (157). Deur die dagboek van Klara Grootboom te kontrasteer met die vertelling en belewenis wat die leser deur Oliver Glenville ervaar, word wat Taljaard-Gilson noem die Afrikaner se "heroïek van die verlede" gerelativeer en gedekonstrueer "as deel van die konfrontasie met die verwerking van skuld van die verlede".
Die dekonstruksie in Jaekel Strauss se roman is egter van so 'n aard dat dit nie slegs op die herskrywing van die wit Afrikaner se oorsprongsverhaal dui nie, maar ook feministies in aanslag is. Jaekel Strauss daag die aanname van tradisionele genderrolle uit deur byvoorbeeld vir Klara Grootboom 'n geweldige goeie jagter te maak. Klara se bravade en bevoegdheid met 'n geweer word gekontrasteer met Oliver wat "kiekies bo karkasse" (102) verkies. So ook is Oliver se Sjinese vrou Mei-Ling wat teenoor hulle dogter "glad nie moederlik optree nie" (208) en haar politieke ywer en ondersteuning van Mao Zedong (210; 221) 'n dekonstruksie en herbesinning van wat as selfsprekende tradisionele en geskiedkundige gendernorme aanvaar is.
Hoewel die sprong van meer as 'n honderd jaar volgens my opvallend en aanvanklik steurend is, is deel drie van die roman juis wat Jaekel Strauss se roman so geslaagd maak. Terwyl ons dikwels sukkel om te vereenselwig met Oliver, sy onvermoë om sy eie aandadigheid te aanvaar, en sy voortdurende ontvlugting, is Klarissa Grootboom die karakter wat geloofwaardig en besonders humoristies uitgebeeld word. Haar karakter toon die nodige kompleksiteit wat die leser in die laaste hoofstukke opnuut boei. Klarissa, die Kaapse kunstenaar wat in 2020 deur die Covid-19-pandemie leef, is die goue draad wat die geskiedenis en die impak daarvan op die Suid-Afrikaanse onderbewussyn en sosiale organisering uitbeeld. Haar soeke na identiteit, en die worsteling van die twee pole Afrikaner/Brits wat haar gevorm het, is wat hierdie roman uiters geslaagd maak. Jaekel Strauss se geskiedkundige roman kan gemaklik sit tussen Ingrid Winterbach se Niggie en P.G. du Plessis se Fees van die ongenooides, en herinner met die beskrywing van die Karoo en geeste met tye aan Etienne van Heerden se Die swye van Mario Salviati.
Geraadpleegde bronne
Marais, Chris. "Deelfontein Siding-Once a massive military field hospital in the karoo veld." Daily Maverick. 14 Mrt. 2023. https://www.dailymaverick.co.za/article/2023-03-14-deelfontein-siding-once-a-massive-military-field-hospital-in-the-karoo-veld/. [ Links ]
Taljaard Gilson, Gerda. "'n Ondersoek na die waarde van historiese fiksie: drie geskiedkundige romans in oënskou geneem." Litnet Akademies vol. 10, nr. 1, 2013. https://www.litnet.co.za/n-ondersoek-na-die-waarde-van-historiese-fiksie-drie-geskiedkundige-romans-in-oenskou/. [ Links ]












