Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.19945
RESENSIES REVIEWS
Die man wattie kinnes vang (Nathan Trantraal)
Terrence R Carney
Universiteit van Suid-Afrika Pretoria, Suid-Afrika carnetr@unisa.ac.za ORCID: https://orcid.org/0000-0001-8922-5668
Die man wattie kinnes vang.
Nathan Trantraal.
Kaapstad: Kwela Boeke, 2024. 64 pp. ISBN 9780795710995.
Naas sy bydraes as essayis en digter tree Nathan Trantraal ook as skrywer en illustreerder van grafiese romans op. In dié hoedanigheid werk hy saam met sy broer aan die Afrikaanse en Engelse tekste Stormkaap: Drome kom altyd andersom uit (2008), Coloureds (2010), All Rise: Resistance and rebellion in South Africa (2021), en Crossroads (2022). Met Die man wattie kinnes vang vertel Trantraal as enkelouteur en -illustreerder die verhaal van Damian de Jong, 'n skrywer wat die verhale van werklike reeksmoordenaars wil fiksionaliseer. Die leser stap saam met hom terwyl hy ondersoek instel na die gebeure rondom die moorde op bruin laerskoolseuns en die berugte stasiemoordenaar wat mettertyd daarvoor geboet het. Damian sukkel egter om die kloutjie by die oor te bring, want 'n aantal van die gegewens maak nie volkome sin nie, soveel so dat daar twyfel ontstaan oor die regmatige arrestasie van die (fiktiewe) beskuldigde, Winston Davids.
Deur die storie van Winston Davids (oftewel Norman Simons) te vertel, betree Trantraal 'n gevestigde tradisie binne grafiese romans, naamlik die skep van kronieke oor bekende reeksmoordenaars.
Dink hier aan My friend Dahmer (John Backderf), Bible John (Grant Morrison en Daniel Vallely), Did you hear what Eddie Gein done? (Harold Schechter en Eric Powell) en Torso (Brian Bendis en Marc Andreyko) wat die ware gebeure rondom sowel die moorde as die ontstaan van die moorddadige figure belig. Dikwels probeer dié romans ook die menslike kant van beide die moordenaars en die speurders wat op hulle jag maak, verken. Sommige verhale, soos die prysenswaardige From Hell (Alan Moore en Eddie Campbell), vervleg feit en fiksie op meesterlike wyse om 'n uiters spekulatiewe teks oor 'n moordenaar daar te stel. Vir my lê Trantraal se teks tussenin-dit beywer om 'n indruk van die gebeure rondom die stasiemoorde te gee en poog om die menslike kant van alle betrokkenes te belig. Terselfdertyd gebruik hy ware gebeure om 'n storie te versin en omtrent die arrestasie en identiteit van die stasiemoordenaar te spekuleer. As sodanig tree Trantraal se roman goed tot die gesprek toe.
Die man wattie kinnes vang is egter nie bloot 'n gruvertelling oor 'n beweerde reeksmoordenaar nie. In die bestek van ongeveer 40 bladsye hanteer die roman aansienlik meer. Trouens, die roman handel tot 'n mindere mate oor die stasiemoorde en meer omtrent die verhale daarrondom. Reeds op die titelblad sien lesers 'n beeld van 'n skilpop; 'n aanduider dat die teks uit verskillende lae bestaan. Om die verhaal van die moordenaar te verstaan, benodig 'n leser meer inligting aangaande die mense wat direk deur die moorde geraak is: hulle omstandighede, uitdagings en vrese. Om die mense te verstaan, asook die hantering van die speurtog, moet 'n leser die invloed van die politieke bestel begryp. Benede hierdie lae is daar ook die verhaal van die hoofkarakter, sy ervaring as laerskoolseun en sy blik op gebeure en die uitwerking wat dit op sy naastes gehad het. 'n Soortgelyke blik word aan die vermeende reeksmoordenaar se kinderjare afgestaan. Lesers kan selfs die feite rondom die moorde as matrjosjkas beskou; om die skuldige vas te trek, moet saakgelastigdes (en lesers) die poppie afskil om die oënskynlike waarheid te bereik. Trantraal lê voorts intertekstuele verbande met Andrei Tsjikatilo, die sogenaamde Slagter van Rostof wat meer as 50 moorde gepleeg het en waarvan die meeste kinders was. Daar is verskeie ooreenkomste met Simons, soos die feit dat Tsjikatilo 'n onderwyser was, sy slagoffers weggelei en verkrag het, en dat ander soms vir sy misdade beskuldig is. Deur die ooreenkomste met Tsjikatilo uit te wys, lê Trantraal die verbande tussen die apartheidsregime en die sosialistiese bestel van die Sowjetunie behendig bloot. Al twee sisteme bied vermoedelik 'n korrupte teelaarde vir figure soos Simons en Tsjikatilo, en belangriker nog 'n stelsel waar misdaadbekamping waarskynlik om die stelsel self handel en nié om die slagoffers nie.
Die roman kan bowendien op taal- en literêre vlak as gelaag beskou word. Hoewel die intertekstuele proloog in Engels verskyn, word die res van die verhaal in Afrikaans vertel. Die Afrikaans is veelsydig en weerspieël sowel Trantraal se eiesoortige vorm van Kaaps as ander variëteite van Kaaps en Standaardafrikaans. Só dui Trantraal die uiteenlopendheid van die taalgemeenskap aan en verleen terselfdertyd 'n geloofwaardigheid aan karakters.
Behalwe vir die ooglopende taalsosiologiese belang, is 'n kognitieftaalkundige perspektief op honger as konseptuele metafoor ewe interessant: die metafore HONGER IS BEGEERTE en HONGER IS MOTIVERING staan voorop. Reeds in die proloog word die maag van sameswering beskuldig, die verdraaier van mense tot monsters. Mense wat honger ly, word deur hul mae voorgesê. Dié metafore kom deurlopend voor, soms voor die hand liggend en soms subtiel: 'n honger vir kos, 'n honger vir aanvaarding, 'n honger om raakgesien te word en 'n honger vir geregtigheid. By tye word die honger gestil, maar meestal nie. Dieselfde geld vir die motivering van die moorde en die vastrek van die verdagtes.
Die roman bied ook 'n metapoëtikale wyse om van gedigte te praat. Die karakter, Damian, bekla die feit dat hy 'n boek wil skryf, maar dat die teks telkens as gedigte na vore tree. Hy wil nie gedigte skryf nie, want digkuns is miteskepping en taksidermie. Hy sê (28):
Jy hal die insides vannie ding yt, stuff it.
Jy hallie hart yt, die guts en organs en
replace it met foam. Jy behou nettie coat
vannie dier, die resemblance van nature,
sit glas oë in sy kop. Jy pose it, en ammal
kô verby en admire it vi hoe lifelike it is.
Hoewel Damian digkuns aan dierstoppery gelyk stel, gaan die beeld van die matrjosjka nie verlore nie. Die implikasie is wel dat die digter die skilpop met nuwe inhoud volprop maar nog steeds as die oorspronklike skilpop voorhou. Vir Damian bied gedigte nie 'n manier om die verhaal van kinders te vertel wat sonder seën of waardigheid begrawe is nie. Damian se siening verklap dus iets omtrent die plek en funksie van digkuns. Ironies kom 'n aantal gedigte in die roman voor, wat aandui dat Damian homself ondermyn.
As grafiese roman slaag die teks redelik goed. Die geskrewe teks is intelligent en kompleks en komplementeer die meegaande strip. Die geskrewe teks word geensins deur die grafika gedra nie (wat soms die geval by stripverhale is). Diegene wat egter meer uit die afbeeldings van grafiese romans put, sal nie teleurgestel wees nie. Die onderskeie karakters se leefwêrelde word kleurvol uitgebeeld, met ag vir historiese en kontemporêre uitbeeldings. Só vang Trantraal twee periodes in Suid-Afrika noukeurig vas-die tyd van die moorde vóór 1994, en tydens Damian se ondersoek in 2022. Die kleurgebruik is ook opvallend. Agtergrondkleure kom sag voor, wat die st grafiese uitbeelding bedrieglik onskuldig laat voorkom. Die roman bevat ook verskillende visuele simbole wat af nie noodwendig eksplisiet deur die teks verklaar word en nie. Naas die skilpop is daar vlinders, speelgoed en 'n verwysing na die veerman van die Styxrivier. Hoewel kort, is die roman klaarblyklik ryk aan stof. tr
My punte van kritiek sluit in dat sommige karakters jonger lyk as wat hulle veronderstel is om te wees. Die twaalfjarige Andrei Tsjikatilo lyk nader aan vyf, en speurder Wakefield lyk byna twintig jaar jonger as haar vermoedelike vyftigs. En hoewel dié grafiese roman by verre nie die enigste is wat spekulatief met ware gebeure omgaan nie, skep dié soort spekulasie wel 'n gevaar dat die verhaal tot sameswerinsgteorie gr verlaag kan word. Nietemin, Die man wattie kinnes vang is 'n welkome bydrae tot die genre in Suid-Afrika oor die algemeen en Afrikaans in die besonder.












