Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.20001
RESENSIES REVIEWS
Marius Crous
Nelson Mandela Universiteit Gqeberha, Suid-Afrika Marius.crous@rnandela.ac.za ORCID: https://orcid.org/0000-0003-0753-7700
Weerskyn.
Alwyn Roux.
Pretoria: Protea Boekhuis, 2024. 96 pp. ISBN 9781485315438.
Weerskyn is die debuutbundel van Alwyn Roux. Dié r bundel verskyn tien jaar nadat hy in 2014 as een van die digters in die versamelbundel Nuwe stemme 5 opgeneem is.
Anders as wat die gebruik is, lei die titelgedig van r Alwyn Roux se digbundel nie die teks in nie, maar is dit eerder die slotgedig van die bundel. Die gedig skakel met die titel, met sy betekenis van refleksie of afspieëling. Die implikasie is dat gedigte die werklikheid reflekteer, en andersom. Die twee komponente weer en skyn is rigtinggewend, want dit is veral die manipulerende digterspen wat sy interpretasie gee. Soms moet die digter egter, soos in die slotgedig "weerskyn" erken, dat "wolke kennelik as wolke"(88) bestaan.
Die slotgedig moet saamgelees word met die eerste gedig "teken" (9) aangesien dit dieselfde tema reflekteer. Hier is nou sprake van 'n "digtersfluit" wat "vermomde voëls / as voëls besing". Eweneens vat die slotreëls dit soos volg saam:
[...] Wat bly oor van voëls
in nabootsing? Ek seël die woorde dig en droom
van voëls wat kennelik vermom as voëls gesing het.
Aangesien die digproses sentraal staan, is dit sinvol om vervolgens die gedig "ars poetica"(76) te betrek. Kenmerkend van Roux se gedigte is die anaforiese inslag, soos ook in hierdie gedig waar elk van die strofes begin met "die versreëls spoel soos golwe strand", terwyl die vierde strofe net uit dié reël bestaan. Die skryfproses word hier gekoppel aan die waarneming van die natuur, die beskrywing van die strandtoneel-maar illustreer ook die digter se weergee of weerskyning van die oorspronklike, waar branders en golwe omgetoor word tot versreëls.
Die digterlike manipulering van dit wat waar-geneem word, kom ook ter sprake in "'n vreemdeling se graf" (10) wat begin soos volg: "Wonder of dié dag my iets gaan leer van jou skielike afsterwe / jy wat nog nie eens gedagte of gedigte was nie." Die vreemde dooie word vervolgens "in die gedig begrawe". Die gedig word met die volgende treffende slot afgesluit: "Ek het jou verbeel, ek het / elkeen van julle verbeel en die woorde het reeds ontbind."
Verganklikheid en sterflikheid staan sentraal in die bundel. Etlike verse word gewy aan die pa se afsterwe; die vaderfiguur wat ironies genoeg, die een was wat aan ander die doodsberigte moes oordra (28). Die angstigheid wat met hospitale geassosieer is tydens die inperkingsperiode vorm die kern van 'n sentrale gedig en die spreker besin of die aflaai van sy pa by die hospitaal soortgelyk is aan die bootvaart saam met Charon oor die Styx.
In kontras met die vader se dood is daar verse oor die nuutgeborene; die kind vir wie die spreker so lief is buite homself (87); hy beskryf sy liefde as iets soortgelyks aan "te buite gaan" (87). Ironies dat die doodsboot van vroeër nou "'n roeibootjie van die vaak" genoem word wat die kind in "wiegeliedjie vir Sebastian" (86) neem na "die land van slaap".
Eiesoortige liefdesverse kom ook in die teks voor, as 'n teenhanger vir dié oor die dood. Die liefde word beskryf as 'n spookagtige verskyning, 'n verskansing, maar ook 'n huiwerigheid by die spreker. Dit is trouens in die gedig "Huiwering" (31) wat ek die woord "broeknaai" geleer het.
Roux se gedigte het 'n intellektuele onderbou en tree intertekstueel in gesprek met Heidegger, met Opperman en Van Wyk Louw, en sommige is nadigtings van bekendes soos onder meer Louise Glück en Lucebert. Dit is beslis een van die sterker debuutbundels in Afrikaans en ek sien uit na waarheen Roux se volgende bundel ons gaan neem, "terug / met papier op reis terug" (56).












