Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.19929
RESENSIES REVIEWS
Die lewe is 'n asem lank: Gedigte oor verlies en vertroosting (Frieda van den Heever, red.)
Mathilda Smit
Universiteit van die Vrystaat Bloemfontein, Suid-Afrika SmitMi@ufs.ac.za ORCID: https://orcid.org/0000-0002-5207-3784
Die lewe is 'n asem lank: Gedigte oor verlies en vertroosting.
Frieda van den Heever (red.). Kaapstad: Tafelberg, 2023. 160 pp. ISBN 9780624092209.
Die woord 'bloemlesing' is van Griekse oorsprong en beteken "'n versameling blomme". Dit is besonder gepas vir Die lewe is 'n asem lank: Gedigte oor verlies en vertroosting, 'n versamelbundel waarin 'n ruiker gedigte oor die dood en verlies as geskenk vir die leser aangebied word. Dikwels ontbreek woorde in tye van groot emosionele intensiteit-dan gryp mense na ander se woorde om te probeer sin maak van hul eie pyn en verlies. Juis daarom is 'n versamelbundel soos hierdie so geslaagd.
Op die agterplat van hierdie mooi hardeband-uitgawe staan daar dat gedigte oor die dood, afskeid, verganklikheid en die kwesbaarheid van menswees in die bundel opgeneem is, met Frieda van den Heever- wat bekend is vir die aanbied van Vers en klank op RSG- as die samesteller. In die voorwoord verduidelik Van den Heever dat sy 'n liefhebber en leser (nie 'n kenner nie) van die Afrikaanse letterkundelandskap is. Van den Heever skryf dat sy 'n "loergat oor 'n groot uitsig van 'n asemrowende, vreesaanjaende en beeldskone landskap" (9) het. Alhoewel sy as 'buitestaander' op die rand van die literêre sisteem eerstens as leser (en nie as letterkundige nie) poësie waardeer, is die seleksie van 100 gedigte deur 50 digters 'n getuigskrif van deeglike begrip en kennis van hierdie sisteem.
Die seleksie van die gedigte word geregverdig as 'n idiosinkratiese leserskeuse wat nie noodwendig die seleksie as 'n kundige benader nie, maar wat met 'n eie persoonlike vooroordeel gedigte geselekteer het. Die bloemlesing is daarom nie 'n probeerslag om die beste of bekendste gedigte tematies te verbind nie. Van den Heever verduidelik verder dat haar persoonlike reis met die verlies van haar man (en hond) tydens die samestelling ook 'n invloed op die keuses van gedigte gehad het. Die eie ervaring van die dood, afskeid en verlies maak dit daarom 'n eg persoonlike en roerende versameling.
Die titel van die bundel Die lewe is 'n asem lank is ontleen uit die bekende Breytenbach-gedig "26 November 1975". Dié gedig word ook volledig na die voorwoord aangebied. Breytenbach is die digter wat die meeste verteenwoordig word met nege gedigte wat opgeneem is, asook drie van die afdelingmotto's wat uit Breytenbach-gedigte ontleen word. Een ikoniese ouer gedig wat volgens my ontbreek, is Eugène Marais se "Skoppensboer". Die spektrum van gedigte wat in die bloemlesing opgeneem is, strek vanaf die Dertigers (N. P. van Wyk Louw, Elizabeth Eybers) tot kontemporêre Afrikaanse digters. Die gedigseleksie word goed afgewissel deur die verteenwoordiging van ouer en jonger digters. Dit is verblydend om bekroonde nuwe stemme soos Ashwin Arendse, Jolyn Phillips en Pieter Odendaal raak te lees, sowel as minder bekende stemme soos Susan Ongansie, Kobus Lombard en Pieter Hugo.
Die teikengehoor (die gewone poësieliefhebber) is telkens in gedagte gehou en Van den Heever verduidelik dat een van die bepalende kriteria vir die seleksie haar oorweging was van hoe sy "vermoed die gedig sal resoneer met die bedoelde leser" (10). Die gebruikersvriendelike en toeganklike kenmerke van die bundel word só vir die groter publiek beskikbaar gemaak. Sy argumenteer dat die dood "[...] hom nie tot orde [laat] roep nie" (10), maar dat sy nogtans probeer het om 'n bepaalde orde in die bloemlesing te handhaaf. Die bundel word gerubriseer in ses afdelings wat telkens met 'n gepaste motto ingelei word. Dié afdelings is "Sterflikheid", "Sterf", "Ter aarde bestem", "Laaste wens", "Verlies" en "Heengaan as terugkeer". Die weerloosheid van alle lewende dinge (dink maar aan Lucebert), begrafnisreëlings, gesprekke rondom praktiese implikasies en die siklisiteit van die proses tussen lewe en dood word ook in die afdelings subtiel en dalk (on)bewus aangevoer. Die afdeling wat by verre die meeste gedigte bevat, is "Verlies", wat dalk ook aanduidend kan wees van die dood se grootse impak op die wat agterbly.
Van die gedigte is ook bekende toonsettings, byvoorbeeld WL van der Merwe se "voortaan sal ek winterskemer vleilangs loop" wat as "Vir 'n pepermossie" deur Laurika Rauch getoonset is. Laurinda Hofmeyr het ook verskeie van die Breytenbach-gedigte getoonset, byvoorbeeld "ek sal sterf en na my vader gaan", asook Fanie Olivier se "Last grave at Dimbaza". Churchil Naudé se "Die ou vannie oomblik"-wat oorspronklik in sy bundel Drol innie drinkwater (2020) gepubliseer is-getuig verder van die moontlikhede vir die wisselwerking tussen die kultuurvorme van musiek en poësie aangesien Naudé eerstens as kletsrymer bekend is.
Die tematiese strekking van die bloemlesing sluit ook in dat 'n gedig betrek word wat nie alleen verlies aanspreek nie, maar ook as aktuele vers kan dien. So byvoorbeeld word Diana Ferrus se "Vir Sara Baartman" in die Ter aarde frestem-afdeling ingesluit. Dié gedig se impak op die werklikheid het veroorsaak dat Sara Baartman se oorskot kon terugkom na Suid-Afrika en sy jare na haar dood 'n heldebegrafnis op eie grond kon ontvang.
Die hele bloemlesing eggo die woorde van die gedig uit die voorwoord "Seën vir die gebrokenes van hart" deur Henry David Thoreau. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid van hoop, liefde en genesing in tye van duisternis en gebrokenheid. Die digters se woorde laat "'n spoor lig" (9) en die oogmerk van die bloemlesing is helder: die enigste "genesing vir liefde / is meer liefde" (11).
Ten slotte haal ek Van den Heever (10) aan: "Hoewel die dood in al sy gestaltes onteenseglik is, help die digter(s) deur vertwyfeling vlot te praat om die dood in die oë te kyk en voluit voort te leef- hopelik tot afgeronde menslikheid. Om stilhuilend voort te leef teen verlies, radelose verlange en groeiende onvoltooidheid, onwillekeurige onthou en dreigende vergetelheid in. Afwesigheid word 'n ander vorm van blywende teenwoordigheid." Hierdie bloemlesing is 'n versameling poësie-blomme wat vir enige persoon troos sal bied wanneer die donker van verlies aan die deur kom klop.












