SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue2Tradition and subjectivities: Warri-related comedians and their artOf libraries, books, and reading: A journey of meaning making author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria  2024

    https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.20009 

    RESENSIES  REVIEWS

     

    Kinderlê (Lynthia Julius)

     

     

    Tenita Kidelo

    Universiteit van Wes-Kaapland Kaapstad, Suid-Afrika tenitakidelo@gmail.com ORCID: https://orcid.org/0000-0002-1818-6830

     

     

    Kinderlê.
    Lynthia Julius.
    Kaapstad: Queillerie, 2024. 107 pp. ISBN 9780795802706.

    Lynthia Julius debuteer in 2020 met haar bundel Uit die kroes. Hierdie bundel plaas Julius vinnig op die voorgrond as 'n jong digter om dop te hou. Die verskyning van haar tweede bundel, Kinderlê (2024) is 'n welkome verwikkeling. In Kinderlê neem die fragmente van onthou en heimwee die vorm van 'n narratiewe terapie aan. Dié narratief het ten doel om veral rou- nie net oor die digter se eie verlies nie, maar ook dié van die kinders van Namakwaland-te verwerk in die vorm van 'n digbundel.

    Kinderlê handhaaf reeds vanaf die omslag 'n sterk feministiese ondertoon. Die omslagontwerp sinspeel op die vroulike geslagsorgaan wat beide lewe voortbring en plesier verskaf. Die verskillende kleure waaruit hierdie geslagsorgaan bestaan, kan myns insiens simbolies dui op belangrike tematiek in die bundel-die donkerna ligrooi-pienk kan verteenwoordigend wees van bloed wat sinspeel op verlies en ook misgeboorte. Die skakerings van groen na seegroen-blou kan weer simbolies wees van hoop, nuwe lewe en selfs 'n wedergeboorte/doop voorstel. Hierdie simboliek is reeds 'n vooruitwysing na die bundelinhoud waarin die diepte van menslike emosies-spesifiek vroulike emosies-verken word, 'n bundel waarin pyn en plesier tegelykertyd kan bestaan.

    Die titel van die bundel is veral funksioneel vanweë die letterlike verwysing na kinders wat lê (verwysend na die monument by Steinkopf in die Noord-Kaap ter herinnering aan 'n kinderuitwissing in 1867), asook die figuurlike verwysing na die verlies van 'n kind en terselfdertyd 'n bepaalde onskuld.

    Met betrekking tot die tipografiese inhoud en struktuur van die bundel, maak Julius gebruik van 'n variasie van omgangstaal deur beide Gariep- en Nama-Afrikaans te gebruik. Julius maak ook gebruik van poëtiese eksperimentering met tipografie soos byvoorbeeld wisselende reëllengtes en die distorsie van

    sinne. Vergelyk in hierdie verband die afdeling "Goed val breek", en veral die gedig "Lady Lazarus" (48): val

    Die afdeling "Goed val breek" gaan hoofsaaklik oor die spreker se geestessiekte en haar opname in 'n inrigting. Die distorsie en onreëlmatige reëllengtes kan in hierdie afdeling 'n konkrete aanduiding wees van die spreker se geestestoestand.

    Die bundel is verdeel in agt opeenvolgende afdelings wat as 'n chronologiese narratief gelees kan word. Dit is asof elke afdeling se slotgedig die inleiding tot die volgende afdeling voorhou, soos byvoorbeeld in die afdeling "Klipkont". Die laaste gedig in dié afdeling, naamlik "Beautiful in Kimberley" (43), handel oor die spreker wat droom dat haar romantiese verhouding besig is om te eindig; terwyl daar in die daaropvolgende afdeling "Goed val breek" verskeie dinge nie na wense verloop nie-soos die afdelingtitel reeds illustreer.

    Daar bestaan heelwat ooreenkomste tussen Julius se Uit die kroes (2020) en Kinderlê (2024). Die digter maak in beide gebruik van Gariep- en Nama-Afrikaans en die Noord-Kaapse ruimte staan steeds in Kinderlê sentraal. Die toon van beide bundels is geset in pyn, woede en verlies, aspekte wat ook tematies op die voorgrond funksioneer in beide bundels. In Kinderlê word daar ook gebruik gemaak van 'n vorm van appropriasie deur bekende gebeure en verse uit die Bybel as inspirasie vir 'n herbewerking te gebruik, om sodoende 'n persoonlike perspektief en betekenis weer te gee. Vergelyk in hierdie verband byvoorbeeld die opstanding van Jesus in "Ménage à moi" (29):

    Lynthia is gebore
    Lynthia het uit die selfdoodbed opgestaan
    Lynthia kom weer

    Die postmodernistiese tendens van introspeksie en selfrefleksiwiteit kom soos in Julius se debuut steeds voor in hierdie bundel en kan reeds vanaf die openingsgedig "1 Gepubliseerdiërs 13" (9) gesien word:

    Al herskryf ek Tristia
    en studeer filosofie,
    is ek net bruin metaal,
    'n klinkende identiteitsimbaal.

    As resultaat van haar selfrefleksiwiteit besef die spreker in bogenoemde gedig ook dat sy nie onafhanklik van haar veltaal kan bestaan nie en die hibriditeit van haar identiteit moet omarm:

    maar ek skryf nie soos hulle nie,
    is ek 'n bruin teef wat blaf. (9)

    Julius se gebruik van interteks blyk uit die hulde wat sy bring aan bekende verse soos "Repos ailleurs" (33) en "'n Ma kom kry" (106) wat Totius se "Repos ailleurs" en "o Die pyn-gedagte" oproep, maar strek ook verder om die postmoderne aard van haar werk te illustreer wanneer sy bestaande poësie approprieer, ondermyn en herskryf. Julius se "Toemaar die witman" (66), 'n interteks van Ingrid Jonker se "Toemaar die donker man", werk met die stereotipes van ras, waar die donker man in Jonker se gedig die bedreiging is, word die wit man die bedreiging in Julius se gedig. 'n Ander voorbeeld is N. P. van Wyk Louw se "Karoo-dorp: someraand" wat herskryf word as "Namakwaland-dorp: someraand" (61). Julius se herskrywing behels dat die onskuld van die Karoo in Van Wyk Louw se gedig omgeskakel word na 'n meer onheilspellende perspektief op die Namakwalandse ruimte.

    Tematies bou Julius se Kinderlê voort op die temas van geestessiekte, die rol van die moederfiguur en dubbele marginalisering ten opsigte van ras en geslag- wat reeds in Uit die kroes teenwoordig is. Hiervan getuig gedigte soos "Daai tyd van die maand" (11), "Born frees" (34), "Die braai" (41) en "Bruinfuga" (68). In Kinderlê word die tema van verlies tot op die spits gedryf. Die intense belewenis van verskillende vorme van verlies- swangerskapverlies, die stryd teen geestessiekte en byna die verlies van 'n eie lewe, die verlies van kinders, asook van geloof-word met intense eerlikheid uitgebeeld. Die afwesige vaderfiguur kom egter nie so prominent in Kinderlê voor soos in Uit die kroes (2020) nie, die spreker fokus meer in hierdie bundel daarop om die verhouding met die ma uit verskeie invalshoeke te belig en die kompleksheid daarvan te ondersoek, soos gesien in verse soos "Deoksiribonukleïensuur" (90) en "Steak-en-kidney-pie" (92).

    Kinderlê is na my oorwoë mening geslaagd vir die tydsgewrig waarin dit geskryf is. Dit blyk net moeilik om die veelvlakkige verkenning van die verskeie temas in een resensie vas te pen, maar dit laat veel ruimte vir verdere literêre ondersoeke en veral vergelykende studies rakende feminisme, identiteit en postmodernisme.