SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue1From the Spice Islands to Cape Town: The Life and Times of Tuan Guru (Shafiq Morton)Death and Compassion: The Elephant in Southern African Literatures (Dan Wylie) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.61 n.1 Pretoria  2024

    https://doi.org/10.17159/tl.v61i1.17949 

    BOOK REVIEWS

     

    Help, help

     

     

    Hardus Ludick

    Noordwes-Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika hardus@netnet.org.za. ORCID: https://orcid.org/0000-0002-2309-0809

     

     

    Nataniël.
    Kaapstad: Human & Rousseau, 2023. 230 pp.
    ISBN 9780798184083

    Sedert 1990 se Excuse me verskyn daar 12 bundels uit Nataniël se pen wat hoofsaaklik bestaan uit tekste wat hy aanvanklik voordra in sy kabaret-shows. In die resepsie van hierdie bundels hou 'n waardeoordeel dikwels verband met die oorsprong van dié "verhoogstories". Verskeie resensente, veral van die bundels Oopmond (1993) en Rubber (1996), meen die tekste slaag nie juis as gepubliseerde tekste nie, aangesien dit afhanklik is van Nataniël se besieling daarvan op die verhoog. Ander meen weer hierdie stories slaag tog as gepubliseerde tekste omdat Nataniël se stem en verhoogpersona as 't ware ingebed is by die stories. Verder skryf enkele resensente dat hierdie stories juis aan trefkrag wen op papier omdat 'n mens effens afstand kan doen van die oorheersende Nataniël-persona en eerder kan konsentreer op die tekste self.

    In Nataniël se mees resente bundel, Help, help (2023), word die oorsprong-kwessie opnuut op die voorgrond gestel. Meer as in vorige bundels is daar grappighede wat waarskynlik treffend op die verhoog sou gewees het, maar gewoon nie op papier oortuig nie. Dit geld veral vir Nataniël se spel met karakters se name en die uitbeelding van eienaardige karaktergewoontes-iets wat in sy beste samelewingstories deel uitmaak van sy voortreflike vervreemding van die alledaagse. Nataniël vertel byvoorbeeld in "Pakstoor" van 'n vrou wat heet Jackie Engels-'n naam wat, wanneer die Nataniël- of enige ander karakter dit sê, hul "die kopdans" laat doen: "Terwyl jou nek langer word, draai jou kop vinnig drie keer na links en drie keer na regs, jou oë dop om en jy glimlag, jy het geen beheer daaroor nie" (93). Die naam Jackie Engels is naamlik sodanig "perky" dat die kopdans nie verhelp kan word nie. Hierdie eienaardigheid breek telkens die momentum van die storie selfs of veral wanneer daar naderhand net in skuinsdruk aangedui word: "Kopdans'" (97). Ander stories wat gebuk gaan onder hierdie soort hebbelikhede is "Inspiration", "Vassit", "Griewe", "Trane" en "Alice".

    Dat die kopdans in "Pakstoor" naderhand met skuinsdruk aangedui word, sou 'n aanpassing van Nataniël se uitvoer daarvan op die verhoog reflekteer. Daar is dus 'n bewustheid-by Nataniël en/of sy uitgewer-dat 'n verhoogteks aangepas moet word op papier. Juis hierom is dit frustrerend dat dié bewustheid nie strek tot waar die beste aanpassing gewoon die weglating van sommige gegewens-of selfs die weglating van 'n storie in sy geheel-sou wees nie.

    Daar is boonop blyke van 'n bewustheid by Nataniël dat sy storie-oeuvre-wat met hierdie bundel groei tot 336 tekste, afhangend hoe getel word-iets van 'n ensiklopediese versadigingspunt bereik. "Die stories "Griewe", "Op water" en "Die bal" vang aan met verwysings soos die volgende: "Sover my geheue strek, is hierdie my heel eerste storie wat die woord 'masker' bevat" (37); "Ek het al voorheen vertel [...] Wat ek [egter] nog nie vertel het nie" (152); "Hierdie is my heel eerste verhaal wat uit drie verskillende hoeke vertel word" (156). Die storie "Nog 'n verskriklike nag" toon ook 'n oeuvre-versadiging, synde 'n eksplisiete vervolg op die storie "Twee verskriklike nagte" in Nataniël se vorige bundel, Dik dun thick thin (2020).

    Dat daar dus 'n sterker bewustheid is van die gepubliseerdheid van die stories as in Nataniël se vorige bundels, maak dit des te meer jammer dat daar nie meer aandag geskenk is aan dít wat hierdie tekste sterker stories op papier sou kon gemaak het nie. Dit beteken nie dat die stories in Help, help nie oor 'n waardevolle tekstuele eiesoortigheid beskik nie. Die opmerkings wat soveel resensies van Nataniël se bundels vul, kan hier ook geld: Dit is vermaaklike stories waaruit kwinkslae aangehaal kan word; 'n mens kan jou verlustig in Nataniël se verbeelding en veral sy metaforiek; die uitbeelding van die dorpe van sy jeug en van die hede is boeiend wanneer satire en sentimentele nostalgie vermeng word. Daar is ook die verdere verkenning van tematiek soos dié van die grensoorlog, wat reeds in verskeie stories gefigureer het. Nataniël se satire setel dikwels in die oënskynlik terloopse opmerkings, soos in die volgende gesprek in "Lig" wat in Nataniël (as outobiografiese verteller) se jeug afspeel: "Wat is grens toe? vra ek. Dis goed wat die oueres uitgedink het, sê hy, As jy agtien is, moet jy in die bos gaan bly en mense skiet jou twee jaar lank mis of raak" (58). Die storie "Smitstraat" bied 'n interessante variasie op die didaktiese inslag wat in soveel van Nataniël se stories skering en inslag vorm. "Kavalier" en "Rus" is myns insiens die hoogtepunte van die bundel. Tog is die kwinkslae hierdie keer minder volop en die verhaallyne minder skerp. Dít wat vantevore kenmerkende deugde was van Nataniël se oeuvre word in Help, help te dikwels steurende hebbelikhede.

    Help, help is Nataniël se 16de prosaboek by Human & Rousseau, die verskeie (waarskynlik winsgewende) kookboeke uitgesluit. Dit is moeilik om nie te wonder of Nataniël nie in te groot mate carte blanche danksy sy gewildheid het nie. 'n Strenger redakteurshand sou wondere kon verrig het met die stories in hierdie bundel. Tog kom 'n mens dan te staan voor die feit dat Nataniël se gewildheid en die waarde van sy beste stories en bundels juis afhanklik is van sy koppigheid. As daar dan gekies moet word, kies 'n mens sekerlik Nataniël se eksentrisiteit en alles wat dit behels- ook al het dit in hierdie geval 'n bundel tot gevolg wat nie heelhartig aanbeveel kan word vir alle lesers nie. Oningewydes kan veel eerder 2011 se Nicky & Lou, 'n hoogtepunt in Nataniël se oeuvre, opspoor en geniet.