SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue1Nuruddin Farah: Selected bibliographyFrom the Spice Islands to Cape Town: The Life and Times of Tuan Guru (Shafiq Morton) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.61 n.1 Pretoria  2024

    https://doi.org/10.17159/tl.v61i1.17955 

    BOOK REVIEWS

     

    Decima

     

     

    Stefan van Zyl

    Navorsingsgenoot: Nelson Mandela Universiteit, Pretoria, Suid-Afrika, drstefanvanzyl@gmail.com ORCID: https://orcid.org/0000-0002-3276-9354

     

     

    Eben Venter.
    Kaapstad: Penguin, 2023. 185 pp.
    ISBN 9781415210017.

    Ses jaar ná Groen soos die hemel daarbo (2017), verskyn Eben Venter se negende roman, Decima. Venter het dié roman eers in Engels geskryf en toe self die teks in Afrikaans vertaal. Beide weergawes is tegelykertyd deur dieselfde uitgewer gepubliseer. Hierdie werkswyse is soortgelyk aan die manier waarop Groen soos die hemel daarbo eers in Engels geskryf en toe deur Venter in Afrikaans vertaal is.

    Waar die komplekse verhoudings van die mens met sigself en andere die middelpunt van sy vorige romans is, wyk Venter in hierdie roman van dié patroon af deur die dier en die dier se verhoudings sentraal staan te maak in die vorm van die titelkarakter, die swartrenostermatriarg, Decima. "Decima" is die Latynse woord vir "'n tiende", en volgens Venter verwys dit na die swartrenoster as: "[...] 'n grootsheid, 'n gul gawe vir hierdie stuk suidelike Afrika-grond" (28). En dit is juis hierdie "grootsheid" wat die skrywer met ontsag vervul en die onderbou van die roman vorm. Die impetus vir die skryf van die roman spruit uit Venter se besoek aan 'n plaas vir renosterwesies, Care for Wild, in Mbombela: "Sedert daardie besoek in die vroeglente van 2018, en veral nadat ek in die oog van daardie klein reddeling gekyk hetdit was trouens die linkeroog, koperagtig en smekend om niks meer as net 'n plek in die bos nie-het ek besluit om my te wy aan die bestudering en verkryging van stof oor die renoster, in besonder Diceros bicornis of die swartrenoster, [...] en om uiteindelik daaroor te skryf in 'n poging om die respek wat die groot soogdier toekom, in ere te herstel" (22). In aansluiting hierby verduidelik hy die doel van die roman soos volg: "Dié slag skryf ek nie net ter wille van skrywe nie, maar ter wille van 'n spesifieke dier, 'n poging, niks meer nie, om Decima as sensoriese wese na vore te laat tree, om die gevoelvolheid van haar te verstaan [...]" (141).

    Die roman word voorafgegaan deur twee motto's wat die leser baie spesifiek op Venter se gestorwe moeder, Maureen Venter (aan wie die roman ook opgedra is), en die renoster rig. Die intertekstuele gesprek met 'n "Koranna-dwaalstorie" ("Die lied van die reën") deur Eugène Marais is, benewens die ooglopende verwysings na "harnosterhoring" en "harnosterspieël", van belang omdat daar in Marais se prosa ook tussen die fiksionele en die natuurwetenskaplike onderskei kan word. G. A. Jooste verwys ook in 'n 1990-artikel, "Fantasie en ideologie in Eugène Marais se Dwaalstories", na die vervlegting van fantasie en ideologie in Dwaalstories wat ooglopend met die verhaalgegewens in Decima resoneer.

    In aansluiting hierby bestaan die voorbladontwerp uit 'n afbeelding van die bekende houtsnee Rhinocerus (1515) deur die Duitse kunstenaar Albrecht Dürer. Hoewel Dürer nooit self 'n renoster gesien het nie, is die kunswerk gebaseer op 'n anonieme beskrywing van 'n Indiese renoster wat in 1515 (nie 1551 soos in die roman vermeld word nie) in Lissabon aangekom het. Die uitbeelding van die renoster is uiteraard nie heeltemal akkuraat nie, maar die kunstenaar se verbeelding van die gepantserde vel verleen 'n antropomorfiese element aan die renoster en sluit in die hedendaagse konteks aan by die aktuele kwessie van renosterbewaring. Venter verweef hierdie en ander historíese gegewens oor die eeue-oue bedreiging wat die mens vir die swartrenoster (en ander diere) ingehou het, en steeds inhou, regdeur die roman. Hy gee selfs voorbeelde van bekende historiese figure wat hul skuldig gemaak het aan hierdie (en in sommige gevalle heelwat ander) wanpraktyke, soos Koning Leopold II van België, die skrywer George Orwell en die Amerikaanse oudpresident en grootwildjagter Theodore Roosevelt. Die bibliografie aan die einde van die roman getuig van Venter se deeglike navorsing wat bydra tot die reeds gevestigde geloofwaardigheid van die historiese én verhaalgegewens. Feite word so behendig tussen die onderskeie verhaallyne ingebed, dat dit geensins steurend word nie.

    Die vertelling in Decima is verwikkeld, en getrou aan Venter se bekende bewussynstroomverteltegniek het die roman nie afsonderlike hoofstukke nie. Daar kan wel tussen twee hoofverhaallyne onderskei word, naamlik die bedreiging van Decima deur renosterstropers en die geleidelike verwording en eindelike afsterwe van Venter se moeder. Oor die verband tussen die twee skryf hy soos volg in die roman: "My moeder en die renoster het elk op hulle eie manier ontwikkel, hulle eensaamheid is eie-aardig en behoort onderskeidelik tot die menslik-dierlike wese" (28). Venter vertel in 'n onderhoud met Ilze Salzwedel van RSG se Skrywers en boeke hoe die skryf van die roman as 'n vorm van narratiewe terapie gedien het om die verlies van sy moeder te probeer verwerk. Dit is dan ook vroeg reeds duidelik dat Venter as beide skrywer van en outobiografiese ek-verteller en karakter in die roman funksioneer.

    Venter benadruk in vele onderhoude dat Decima nie as 'n roman oor wildstropery gelees moet word waarin die renoster bloot 'n hulpelose slagoffer is nie, maar veel eerder as 'n soort ode aan die swartrenoster as gevoelvolle (sentient) wese: "Die renoster as gevoelvolle wese memoriseer, dra kennis oor, druk emosies uit-op 'n renostermanier-en maak dwarsdeur hulle lewe so" (55). Renosterstropery dien wel as 'n belangrike dryfveer vir die gebeure in die roman, en dit is duidelik dat Venter moeite doen om die aard van die verskillende rolspelers in en beweegredes vir hierdie misdaad te belig. So is daar die arm stropers, Frank van der Merwe en Athule Bomvana, die akademiese navorsers oor tradisionele Chinese medisyne, Roslyn Lung en Leigh-Ann Biggs, die veldwagter Ziyanda Nelson wat Decima ten alle koste probeer beskerm, en die verskillende rolspelers in die hiërargie van die renosterstroopsindikaat. Ten einde al hierdie stemme in roman te laat hoor, span Venter op geslaagde wyse 'n multifokale verteltegniek in. Sodoende wissel hy naatloos tussen outofiksionele, historiese en antropomorfiese fokalisasiehoeke- hoewel hy ook deeglik bewus is van die tekortkominge van laasgenoemde benadering (55). Die naderende volmaan dien voorts as deurlopende en saambindende spanningselement omdat dit die leser al nader aan die uiteindelike stropingsmoment bring. In aansluiting by die veelvuldigheid van stemme, neem Venter die leser ook, soos in sy ander romans, op interkontinentale reise deur Afrika, Noord-Amerika, Asië, Australië en Europa, en juis hierdeur toon hy die universele aard van die spanning tussen mens en dier, maar ook tussen mens en mens.

    Venter se vermoë om homself op empatiese wyse in die psigiese en fisieke wêrelde van sy karakters te plaas, sowel as sy vermoë om sensitief met die verweefde komplekshede van Suid-Afrika om te gaan, vind sterk neerslag in die verhaal. Hy staan nie bloot op die rand en lewer kommentaar of vel oordele van buite af nie-hy plaas homself binne-in en neem deel aan die daaglikse lewens van gewone Suid-Afrikaners wat hul bes probeer om te oorleef in 'n land met die kaarte wat aan hulle toegedeel is. Aanliggende tematiese kwessies wat in 'n mindere of meerdere mate hanteer word, sluit in trofeejag en ander onetiese jagpraktyke, geloof en tradisies wat nie bevraagteken word nie en 'n direkte invloed op die uitwissing van spesies het, sosiopolitieke kwessies soos armoede en substansmisbruik, en die gaping tussen akademiese navorsing en die werklike verandering wat daardeur bewerkstellig kan word, al dan nie.

    Venter se besondere fyn waarnemingsvermoë en die vaardigheid om dinge wat ander dalk sou miskyk of as vanselfsprekend aanvaar tot in die fynste besonderhede te kan beskryf, kom ook in Decima aan bod-veral wanneer hy oor Decima en haar omgewing skryf: "Die twee ente van die noorsdoring hang alkant van haar mond uit. Flop-flop val hulle op die sandgrond. Die noors gly al met haar tong langs, dié en daardie kant, fyngepers deur die magtige herbivoor se kiestande, die riwwe juis gevorm om te maal en fyn te maak. O, daardie souterige noorsvlees met die verleidelike melkerigheid: Decima se wimpers sluit oor haar twee amandeloë" (125). Die kleurryke en ouwêreldse Afrikaans wat Venter destyds in 1986 saamgeneem het toe hy Suid-Afrika verlaat het, word veral vernuftig aangewend wanneer hy die plaaslike name van plantspesies lys (85). Hierdie katalogisering kan op sigself as 'n taalbewaringsdaad beskou word, en hy lewer selfs 'n terloopse betoog om die behoud van sy moedertaal: "Die Afrikaans van my moeder kan nooit uitgeban, vernietig of nimmereindigend sleggemaak word nie [...]" (85).

    Wat outofiksionele elemente betref, deel Venter (as beide skrywer-verteller én karakter) heelwat herinneringe aan sy grootwordjare, veral op die plaas, wat op een of ander manier tot sy identiteitsvorming bygedra het. Ten opsigte van identiteit is dit ook opvallend dat, anders as in sy vorige romans, seksualiteit in Decima 'n bysaak is met slegs enkele verbygaande verwysings daarna (17-8) wat nie werklik tot die hoofstorielyne bydra nie, maar tog insig in Venter, die skrywer-verteller, se gedagtegang gee. Soos Venter self in die roman skryf: "Die goed dra niks by tot my storie [...] nie. En tog, dis ook deel van my gedagtewêreld [...]" (91). Die nagsê-ritueel tussen ma en seun wat telkens herhaal word, gee die skrywer-verteller se belewing van sy moeder se geleidelike agteruitgang weens veroudering weer. Teen die einde van die roman word die oorweldigende eensaamheid wat sy ma moet ervaar op tedere wyse beskryf:

    In daardie drieslaapkamerhuis bly net sy oor, die spaarkamer waar ek gewoonlik slaap, en die tweede spaarkamer met enkelbed staan net so, leweloos; daardie kamers loop sy soms binne, dikwels, en staar na die netjies opgemaakte beddens, buk af 'n bleekpienk papierdop van 'n bougainvilleablom op te tel, seker ingewaai deur 'n skreef, maar verder is dit maar net sy in haar drieslaapkamerhuis met die TV, en net haar verouderde selfoon om mee te gesels, en nie 'n voet by die deur uit daardie dag of die dag vantevore nie. (165-6).

    Aan die einde van die roman vind 'n soort versmelting van die twee moeder-verhaallyne plaas wanneer beide Decima en Maureen hul onderskeie lotgevalle tegemoetgaan.

    Decima is onteenseglik 'n belangrike roman in die Venter-oeuvre-veral gelees in die huidige uitdagende tydvak waarin die mensdom sig bevind. Die roman kan beskou word as 'n boekstawing, 'n soort inventaris van die ongeregtighede wat die mensdom teen die diereryk gepleeg het (en steeds pleeg). Dit is egter ook "die versuim van die mensdom om na hulself om te sien, die versuim om na mekaar om te sien" (111) en die ervaring van oorweldigende verlies wat vooropgestel word. Eindelik laat Venter dit aan die leser oor om krities oor hierdie sake te besin en (hopelik) meer ingeligte besluite oor die toekoms te neem.