Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.1 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i1.17219
BOOK REVIEWS
Marlies Taljard
Onafhanklike navorser, Pretoria taljard.marlies@gmail.com ORCID: https://orcid.org/0000-0003-2386-4760
E. Kotze.
Kaapstad: Kwela Boeke, 2023. 264 pp.
ISBN 9780795710506.
Hulle noem haar Carminda is E. Kotze se vierde roman en verskyn op die vooraand van die skrywer se negentigste verjaarsdag. Soos die meeste van Kotze se ander romans en haar kortverhale, speel ook hierdie roman hoofsaaklik op 'n vissersdorpie, Ei-Land, aan die Kaapse Weskus af en is die hoofkarakters eenvoudige mense. Dit is die verhaal van die skipper Mias Mulder, Emmeline Erasmus en Carminda Celliers, die vrou wat saam met Mias agter op 'n motorfiets in Ei-Land aankom en die gemeenskap se oë laat rek. Dit is die verhaal van Mias en Carminda se liefde en 'n huwelik wat tot die einde deur onsekerheid, agterdog en jaloesie gekwel word. Wanneer Mias se beroep as skipper van 'n vissersboot waar hy 'n groot salaris verdien deur kanker kortgeknip word, en hulle vier kinders moet grootkry, verander Mias en Carminda se lewens ingrypend en neem Carminda beheer oor. Binne die patriargale opset van die verhaal wat vermoedelik in die 1950's afspeel, word hieroor egter lustig geskinder en is dit vir Mias 'n bitter pil om te sluk wanneer sy vrou manswerk op hulle plasie moet doen en hy hulpeloos moet toekyk. Steeds bly Carminda wonder of Mias haar dalk oorhaastig getrou het om Emmeline Erasmus vir haar ontrou te straf.
Soos by alle groot storievertellers van die Noordweste ontvou Kotze se verhaal tydsaam en kry sy dit reg om haar gehoor met haar vertelstyl te boei ten spyte daarvan dat die spanning stadig opbou en selde 'n piek bereik. Die vertelling is hoofsaaklik onpretensieus, lineêr-chronologies met enkele eenvoudig gestruktureerde terugskouings, soos dit gebruiklik is in die orale tradisie. Orale vertelling word ook gesuggereer deur die gebruik van streektaal wat steeds een van Kotze se mees kenmerkende stilistiese eienskappe is. Ek het egter gevind dat sy dit in hierdie roman nie deurgaans kon volhou nie en van tyd tot tyd oorslaan na Standaardafrikaans, selfs binne 'n enkele gesprek of paragraaf.
Die ruimte van die vertelling is hoofsaaklik beperk tot die fiktiewe dorpie Ei-Land aan die Kaapse Weskus, maar dele van die verhaal speel ook naby Valsbaai en op 'n plaas (vermoedelik in die Piketberg-distrik) af. Die konkrete ruimte stem ooreen met die streek waarmee die leser reeds in Kotze se vorige werk kennis gemaak het, net soos die sosio-ekonomiese ruimte van onsekerheid, armoede en swaarkry wat in die jare voor republiekwording tipies van Weskusvissersgemeenskappe was. Die vertelde tyd kan afgelei word uit tydaanduidende verwysings, soos na die Unie (Suid-Afrika het in 1961 'n republiek geword), die tipes motorkarre wat mense gery het, die tipe onderklere wat vroue gedra het en enkele ander, maar soms glip 'n anachronisme deur, soos die verwysing na 'n winkelsentrum heel aan die begin van die vertelling. In die 1950's en vroeë 1960's was winkelsentrums aan die Weskus nog toekomsmusiek.
Kleinlikheid en klem op patriargale konvensies kenmerk die vissersgemeenskap van Ei-Land, net soos in die Valsbaai-distrik. Daarteen kom Carminda te staan en moet sy haarself laat geld. Eers slegs in die ruimte van hulle huis waar die vaderfiguur dikwels afwesig is, maar wanneer Mias te siek word om te werk en tuis sit, moet sy dikwels sy argwaan verduur én in die openbare domein die tradisionele manlike take soos finansies en boerdery behartig. Sy bly sodoende hoofsaaklik 'n outsider-figuur. Sy kom immers ook uit Angola en is dus, wat Ei-Land betref, 'n inkommer wat met suspisie bejeën word.
In die roman is 'n eksterne verteller aan die woord wat min of meer ooreenstem met Stanzel se "ouktoriële verteller"-'n verteller wat die vertelling van buite beheer en wat hoofsaaklik fokus op die karakters van Mias en Carminda en hulle geskiedenis, hulle gedagtegang, voor- en afkeure, psigiese motiveringe en gemoedstoestande. 'n Mens sou tot 'n beperkte mate selfs van 'n alomteenwoordige verteller kon praat soos dit dikwels in eenvoudige verhaalvorme teenwoordig is, want dié verteller ken ook die gedagtes en motiveringe van ander karakters in die roman. Dit is egter nie 'n heterodiëgetiese verteller (soos by Genette) wat onbetrokke staan teenoor die verteller en die karakters nie, want, hoewel dit nie uit die roman self blyk nie, is die konkrete outeur (E. Kotze) wat waarskynlik ook die verteller van die verhaal is, éintlik ook 'n karakter in die roman-soos ons later sal sien.
Die verhaal begin met die lotgevalle van Mias Mulder. Trouens, "Mias Mulder" is die beginwoorde van die roman. Hoofstuk 2 fokus op Carminda Celliers. Daarna word Mias die karakter op wie die verhaal vir 'n redelike tyd afgestem is en sy lotgevalle en werk as skipper van die "Diepsee" rig die verhaal. Wanneer ander karakters optree, word vermeld wat hulle verhouding tot Mias is, byvoorbeeld "sy suster". Subtiel, byna ongemerk verskuif die hooffokus egter na Carminda. Wanneer hulle verhuis en hulle naby Valsbaai vestig, word dikwels op Carminda se pogings om die huis leefbaar te maak, om Mias gelukkig te hou en op die kinders wat sy baar gefokus. Wanneer Mias siek word en die huis verkoop moet word, is dit Carminda se swaarkry en die desperate wyse waarop sy die familie probeer bymekaarhou en die finansies probeer aanvul die fokus van die vertelling. Dit is haar innerlike stryd en haar frustrasie en moedeloosheid wat belig word, hoe sy op Mias se siekte en dood reageer en uiteindelik leer om sonder die steunpilaar in haar lewe te leef.
Veral die laaste helfte van die roman lees al hoe meer soos 'n outobiografie en slaan 'n mens Internetinskrywings oor E. Kotze na, byvoorbeeld op Wikipedia, blyk dit dat die roman Hulle noem haar Carminda inderdaad op die outeur se lewe geskoei is. Dit word ook bevestig deur 'n onderhoud in die tydskrif "Sarie" op 2 Maart 2023 waarin Kotze erken dat sy die roman geskoei het op haar eie lewe en dié van haar man Willie. Volgens bestaande biografíese inligting van E. Kotze is die storie van Carminda se herkoms uit Angola en haar rit op Mias se motorfiets egter fiksie. 'n Mens sou ook kon aanneem dat sekere sekondêre karakters en bepaalde insidente fiksioneel is en die doel dien om die verhaal "vleis te gee" en die dramatiese spanning te verhoog. Hoewel Kotze in die Sarie-onderhoud met Phyllis Green insinueer dat die roman 'n tipe memoir is, is dit egter streng gesproke eerder outobiografiese fiksie, aangesien die memoir sekere genrevereistes het waaraan die betrokke roman nie voldoen nie. Outobiografiese fiksie vereis dat ten minste een van die hoofkarakters geskoei is op die outeur en dat die verhaallyn gebeure in haar lewe weerspieël. Dit is wel die geval in Hulle noem haar Carminda.
Ten slotte: As die werk van 'n hoogs bejaarde skrywer, moet 'n mens E. Kotzé 'n pluimpie gee vir die deursettingsvermoë om nog 'n roman te skryf. Self reken sy dat dit haar laaste roman is, en as sodanig vorm dit 'n mooi sluitstuk vir 'n bekende en welbeminde oeuvre, ook wat die verhaal en die tema van die werk betref.
Geraadpleegde bron
Green, Phyllis. "E. Kotze delf diep en skryf haar persoonlikste roman nog." Sarie. 2 Mrt. 2023. https://www.netwerk24.com/sarie/boeke/skrywer-e-kotze-derf-diep-en-skryf-haar-persoonlikste-roman-nog-20230302. [ Links ]












