SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue1Trajectories of radicalization and resilience in Nuruddin Farah's North of DawnChronology: Nuruddin Farah author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.61 n.1 Pretoria  2024

    https://doi.org/10.17159/tl.v61i1.17976 

    BOOK REVIEWS

     

    Gebeente

     

     

    Mariëtte van Graan

    Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid-Afrika, vgraam@unisa.ac.za ORCID: https://orcid.org/0000-0001-5964-8977

     

     

    Etienne van Heerden.
    Kaapstad: Tafelberg, 2023. 401 pp.
    ISBN 9780624094678.

    Onder die Oog, die tjankende teleskoop wat die verlede bekyk, woon Altydoopvygie met haar kriewelrige baba, Jisses. Hy kruip deur doringbosse, sy kop slaan gereeld aan die brand, en hy fluister sy eerste woord "Pappa" terwyl hy na die sterre staar. Op driejarige ouderdom word Jisses deur die Staat weggeraap van sy ma, die Karoomadonna. Na vele omswerwinge keer hy op 33 saam met sy weeshuis-kameraad Wolraad Woltemade terug na sy vervalle geboortedorp, Gebeente. Sy wederkoms word 'n persoonlike trauma en tragedie wanneer sy ma hom en Wolraad vir drosters aansien en hulle verjaag. Ten spyte én as gevolg van hierdie verwerping word hy Jisses van die Groot-Karoo wat predikeer vanuit die Kwarrie. Jisses en sy volgelinge bots met die dorpenaars, veral dié wat wil munt slaan uit Maan. Na 'n wrede plaasmoord word Jisses en Wolraad deur die gemeenskap as sondebokke aangekla van misdade soos Diefstal van die Melkweg, Aanwysing van die Verkeerde Here en Dubbelmoord. In hierdie warboel van 'n storie word die Magistraat, Imker Goedeman, en die cowboy-Aanklaer, Div de Villiers, ingestuur as verteenwoordigers van Justisie. Hulle is opgelê met die onmoontlike taak om, tussendeur hul eie wroegings en vooroordele, die inmenging van verskeie karakters en die hoorsê van verskeie waarhede, die korrekte strafregtelike klagte te verwoord en vervolg.

    In die bestek van 'n kort resensie is 'n volledige oorsig oor die verhaal onhaalbaar. Soos die ander romans in Van Heerden se Karoo-oeuvre, is Gebeente dig geweef uit 'n veelheid van stories, karakters, gebeure, geskiedenisse, waarhede en versinsels. Gebeente is 'n vermenging van die misdaadverhaal, die hofdrama, die speurverhaal, die Bybelverhaal, die dorpsverhaal en die volksverhaal; 'n postmoderne roman geskryf in die magies-realistiese modus.

    Van Heerden se vernuftigheid as prosaskrywer en storieverteller word hier in volle glorie uitgestal. Terwyl karakters en lesers opkyk na die misterie van die gesteelde melkweg en peins oor die Aanwysing van die Verkeerde Here, word die afkyk na grond, kwessies van grondbesit en die soeke na die Verbygaande vader onder hulle ingesmokkel. Terwyl die taal op elke bladsy klap en knetter, word die wol oor hul oë getrek met voortdurende naamveranderings wat storiewendings merk. Wat aanvanklik as die kernkwessies in die storie voorkom, word vernuftig omgedop en ontrafel in die tweede helfte van die boek; soos in die Bybel en in die speurverhaal kom openbaring tog aan die einde. Dit is 'n einde wat sommige lesers sal ontnugter en ander sal oorbluf, en daarom wil ek dit nie hier weggee nie.

    Myns insiens is Van Heerden op sy beste in die magiese realisme, en in Gebeente is dit veral die wortels van die Suid-Amerikaanse magiese realisme (politieke ideologie, postkolonialisme en dekolonisasie) wat werklik ten volle benut word. Van Heerden meng ook die wetenskap (kennis) en die religie (geloof én bygeloof) as bindweefsel tussen die magiese en die realistiese hierby. Die tokkelos en die spook is ewe werklik as die Oog, die melkweg en die (on)Reg.

    Daar is wel 'n resepmatigheid te bespeur: die afgeleë magiese dorpie as mikrokosmos van Suid-Afrika, die indringende buitestander wat daar 'n onmoontlike saak moet aanpak, deur die dorp se stories meegesleur word en ook hulself moet konfronteer ten einde die saak af te handel (Toorberg, Dieswye van Mario Salviati). Daar is veral heelwat parallelle te trek tussen Magistraat Abraham van der Ligt in Toorberg en Imker Goedeman in Gebeente: beide magistrate, mans met fisieke gebreke, aanhangers van die Romeins-Hollandse reg, wat per trein arriveer en vanuit hul gastehuiskamers peinsende briewe skryf aan verlore geliefdes wat dit nooit sal ontvang nie, terwyl hulle deur die dorp en hul meditasies oor die Reg meegesleur en deur die onmoontlikheid van die saak op hande oorweldig word. Die vergelyking van Abraham en Imker word in die openingsnota van Gebeente geaktiveer én ondermyn: "Die Magistraat in hierdie boek is nie Toorberg se Magistraat Abraham van der Ligt nie, alhoewel Gebeente se Magistraat Imker Goedeman 'n ruk saam met Toorberg se Magistraat [...] in die Belville-landroshof gewerk het. Maar dit was lank gelede". Imker (en Div) worstel met baie van dieselfde vraagstukke as Abraham, maar in 'n drasties veranderde land. By monde van hierdie manne van Justisie spreek Van Heerden weereens die onmoontlikheid en die onvermydelikheid van groot vraagstukke aan: Wat is skuld, wie moet dit dra, hoe moet dit gestraf word? Wat is Reg, en hoe kan geregtigheid geskied in hierdie postkoloniale, post-apartheid, dekolonialiserende Suid-Afrika? In die ontvouende verhaalgebeure en veral in die einde van Gebeente word die parallelle tussen Abraham en Imker 'n kruisverwysing én 'n teregwysing. Van Heerden het wel sy kenmerkende trope en patrone, maar slaag daarin om dit telkens op te dateer en verfrissend aan te bied. Hierom kan Gebeente nie 'n resepmatige herhaling genoem word nie, dit is 'n voortsetting van hierdie tak van Van Heerden se oeuvre.

    Kreatiewe, oorspronklike naamgewing is ook kenmerkend aan Van Heerden, en vorm deel van sy slag met taal waarna vroeër verwys is. Met die eerste lees kan dit lyk asof die naamgewing in Gebeente bietjie hand uitruk. Veral die beskuldigdes Jisses Losper en Wolraad Woltemade kry soveel name dat die oefening van naamgewing futiel begin voorkom. Maar daar is 'n doelbewustheid hieraan: soos wat hulle veronderstelde misdade nie beslissend benoem kan word nie, kan Jisses en Wolraad nie met naamgewing as verlossers of bedrieërs vasgepen word nie. Dit strook ook met die veelvuldige waarhede in magiese realisme-elke naam dra 'n ander weergawe van 'die waarheid' van hierdie karakters se stories. Soortgelyk word kerngebeure in die verhaal op soveel verskillende wyses vertel dat die vertelling onsamehangend kan voorkom. Daar is doelbewus te veel magiese én realistiese weergawes van kerngebeure wat die water vertroebel en die eintlike waarheid (in soverre so iets kan bestaan) buite bereik plaas.

    In die breër beskouing van Van Heerden se oeuvre staan Gebeente sterk, beide as afsonderlike boek én as 'n boek ingeweef in die magies-realistiese tafereel van Van Heerden se Karoo-oeuvre. Buiten die duidelike verbande wat met Toorberg getrek kan word, is daar ook verwysings na vroeëre romans, mees opmerklik Die swye van Maria Salviati en Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Vir navorsers bied hierdie roman 'n smorgasbord van moontlike ondersoekpunte: romankuns, vergelykende studies, magiese realisme, ekokritiek, postkolonialisme, dekolonisasie, postmodernisme en velerlei Suid-Afrikaanse aktualiteite soos identiteit en identiteitspolitiek, plaasmoorde, grondonteiening, korrupsie en misdaad.

    Gebeente is 'n turksvy van 'n boek. Die wortels strek terug na Suid-Amerika, waar die magiese realisme ontspruit het. Soos die turksvy is dit na Suid-Afrika verplant, waar dit geil groei en vele gebruike het- en niemand kan in Afrikaans daarmee boer soos Van Heerden nie. Met Gebeente het Van Heerden 'n soet vrug vol voedingswaarde tussen verraderlike dorings, swartskerpioene en die silwer rivier gekultiveer wat elke leser-smulpaap én fynproewer-kan versadig.