Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.1 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i1.18210
BOOK REVIEWS
Frederick Botha
Sol Plaatje Universiteit, Kimberley, Suid-Afrikafrederick.botha@spu.ac.za, ORCID: https://orcid.org/0000-0002-5815-8308
Jeanette Ferreira.
Kaapstad: Tafelberg, 2023. 288 pp.
ISBN 9780624094630.
Sedert die uitbreek van Covid-19 in Desember 2019 en die grendeltydperk wat in die daaropvolgende maande wêreldwyd ingestel is, het die pandemie op verskillende wyses in die letterkunde neerslag gevind- ook in Afrikaans. Maskers en mure (2021), 'n bloemlesing van 142 digters se verse oor die pandemietydperk, saamgestel deur Daniel Hugo en Francois de Jongh, is wat in die wereldletterkunde as "pandemic poetry" bekendstaan. Vroeg tydens die grendeltydperk verskyn Willem Anker se Skepsel (2020) wat talle verwysings na Covid-19 bevat, met die pandemie wat ook in sekere verhale in Carien Smith se kortverhaalbundel Bot (2022) figureer. Ook in Marita van der Vyver se Laaste kans (2023) skop die verhaalgebeure op die vooraand van die grendeltydperk af, en die Covid-19-pandemie vorm ook op verskeie wyses deel van die verhaallyne in Nicole Jaekel Strauss se Deelfontein (2023) en Etienne van Heerden se Gebeente (2023). Te oordeel aan Martina Vitackova (2021) se artikel, "Love in the time of Corona: the response of Afrikaans popular romance to the COVID-19 pandemic", blyk dit dat veral Afrikaanse romanses nie geskroom het om munt te slaan uit die pandemie nie, met verskeie "corona romance(s)" soos 'n Vreemde tyd vir liefde (2020) deur Marilé Cloete, Liefde in die tyd van corona (2020) deur Elsa Winckler, Agter grendels (2020) deur Erla-Mari Diedericks, Somerson (2021) deur Madelie Human en Liefde onbeperk (2021) deur Marilé Cloete wat verskyn.
Jeanette Ferreira se nuutste roman, Die melkweg en die miskruier, sluit op eiesoortige wyse by bogenoemde lys Afrikaanse werke oor die pandemie en grendeltydperk aan. Die eerste verhaallyn handel oor Sabine Weyers wat ná 'n dekade terugkeer na Donkerhoek, haar familieplaas in die Laeveld. Sabine wil vir oulaas besoek aflê aan die plaas wat reeds vir vier geslagte in haar familie is, voor dit 'n nuwe eienaar kry. Hierdie verhaallyn speel af oor die vier dae voor die grendeltydperk op 26 Maart 2020 in Suid-Afrika begin het. Die tweede verhaallyn fokus op Henrietta, Sabine se ouma, en speel tussen 1914 en 1919 af. Met hierdie verhaallyn betrek Ferreira 'n tweede pandemie, naamlik die Groot Griep, wat die rede is waarom Henrietta destyds ook na Donkerhoek moes terugkeer.
Hierdie twee pandemies funksioneer as motief en bied uiteindelik 'n spieël waarin die verlede gekonfronteer word ten einde die hede te verstaan. Terselfdertyd herinner dit die leser opnuut dat niks in vandag se tyd sodanig nuut is nie. Oor die eeue heen ervaar die mensdom dieselfde emosies soos hoop, vrees, onsekerheid en verlies-dit is hoe ons aan die hand van die kennis rondom die verlede daarmee omgaan wat uiteindelik die verskil maak. Deur rekening te hou met die troebel geskiedenis van Suid-Afrika en beide die wit en swart voormense van Donkerhoek se verlede, word Sabine aan die hand van 'n fisiese sowel as psigiese reis gedwing om anders te kyk na kwessies soos armoede, geweld en grondeise in die hedendaagse Suid-Afrika. Gevolglik dien die roman as variasie op die gewilde plaasromangenre, spesifiek deur middel van die optekening van die plaaswerkers, die tradisionele Ander, se geskiedenis.
Ferreira is veral bekend vir haar historiese romans soos die trilogie Babette (1995), Catharina (1996) en Charlotta (1999) wat handel oor die Anglo-Boereoorlog. Vroeëre werke soos die novelle Sitate om 'n rewolusie (1985) en die kortverhaalbundel Die mammies, die pappies, die hondjies, die katjies (1989) bevat weer 'n sterk politieke inslag. Die melkweg en die miskruier span as 't ware die kroon op Ferreira se oeuvre deurdat karakters en hulle afstammelinge uit die bogenoemde trilogie terugkeer, maar ook deurdat Ferreira die genres van historiese roman en betrokke literatuur hier op geloofwaardige wyse kombineer. In vele opsigte herinner die karakter van Sabine aan Fransina in Helena Gunter se kortverhaal, "Angelus Novus Africanus" (Tweespoor, 2018), deurdat albei (wit) vroue op soek is na vastrapplek in die hedendaagse Suid-Afrika, asook die groter sin in die menslike bestaan.
In haar historiese romans word die sinneloosheid van oorlog meermale beklemtoon. Hierdie ondersoek na geweld en die verskillende letsels wat dit laat, staan eweneens sentraal in Die melkweg en die miskruier. Benewens die twee verskillende pandemies jukstaponeer Ferreira ook historiese gebeure soos die Suid-Afrikaanse Grensoorlog en Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog, spesifiek die Slag van Delvillebos in Frankryk. Hierdie fisiese en geestelike letsels wat onderskeidelik deur Sabine se man Salmon en Henrietta se stiefpa Helgaardt opgedoen is, beïnvloed op die ou end ook die vroue en bepaal alle betrokkenes se lot. Daarom is dit betekenisvol wanneer Henrietta se ma, Charlotta, die volgende opmerk: "Eendag sal ons nog almal hiervoor betaal. Sondes van die vaders" (209). Die treffende slotgedeelte van die roman wat afspeel tydens 'n biduur in 'n kerk in Modjadjiskloof voor die grendeltydperk begin, tree as 't ware in gesprek met hierdie "sondes van die vaders" en beklemtoon die mens se nietigheid in die heelal en ons noodgedwonge oorgawe aan genade.
Die grootste wins van Die melkweg en die miskruier is egter die wyse waarop Ferreira ruimte en plek ontgin. Aan die hand van streeksvariëteite soos Afrikaans van die Laeveld wat vermeng word met Khelobedu (wat verwantskap met Shona, Noord-Sotho en Venda toon), bied Ferreira 'n tipe bewussynstroomperspektief van Sabine wat haar verhaallyn 'n fassinerende karakterstudie maak. Dat Sabine 'n vertaler van beroep is, is juis gepas, aangesien die taal van hierdie roman die leser dwing om fyn en noukeurig te lees. Lesers van Ferreira se liefdesverhale en meer populêre prosa mag dalk hierdie skryfwyse as steurend en uitdagend ervaar, maar dit dra uiteindelik by tot die belangrike plek wat Die melkweg en die miskruier in Ferreira se oeuvre inneem.
Ferreira wat in 1980 as digter debuteer met die bundel Waar een mens saam is, keer in 'n sekere sin met hierdie roman terug na die poësie. Beeldende taalgebruik dien as verdere bevestiging van Ferreira se wonderlike skryfwyse in die roman. Om 'n paar sinne as voorbeeld te gee: "[...] sy wenkbroue verkeerdom opgetrek: links die akuut, regs die gravis-'n déjà vu" (52); "[...] die moedertaal is 'n bors vol melk wanneer die skrik in jou nek kom sit" (118); en "[...] die droefheid van 'n ou nag onder eensame sterre lê in haar oë" (169).
Met Die melkweg en die miskruier bewys Ferreira haar veelsydigheid as skrywer van beide populêre én literêre fiksie. Dit is 'n digverweefde roman wat vra vir 'n herlees.
Geraadpleegde bronne
Vitackova, Martina. "Love in the time of Corona: the response of Afrikaans popular romance to the COVID-19 pandemic." Stilet vol. 33, no. 2, 2021, pp. 55-69. https://hdl.handle.net/10520/ejc-stilet-v33-n2-a9. [ Links ]












