SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue1Nuruddin Farah: Variations on the theme of returnTrajectories of radicalization and resilience in Nuruddin Farah's North of Dawn author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.61 n.1 Pretoria  2024

    https://doi.org/10.17159/tl.v61il.17792 

    BOOK REVIEWS

     

    Die laaste kanariegeel notaboek

     

     

    Elbie Adendorff

    Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika elbie@sun.ac.za ORCID: https://orcid.org/0000-0002-5956-9993

     

     

    Anchien Troskie.
    Kaapstad: Human & Rousseau, 2023. 288 pp.
    ISBN 9780798183703.

    Die laaste kanariegeel notaboek deur Anchien Troskie verskyn in 2023. Net soos in haar vorige boeke, is Troskie nie bang om oor uitdagende onderwerpe te skryf nie.

    Die motto van die roman is uit George Orwell se 1984: "Of pain you could wish only one thing: that it should stop". Dit simboliseer en wys reeds vooruit na die belangrike motief van pyn (fisies en emosioneel) wat dwarsdeur die roman voorkom. Hierdie pyn loop hand aan hand met die vernaamste tema van geweld in Die laaste kanariegeel notaboek, naamlik gesinsgeweld, geslagsgeweld en emosionele geweld; ook institusionele geweld. Saam met die tema van liefde loop die tema van pyn.

    Die verhaal open met Anabel Louw wat twee jaar na haar ma se dood na haar ma se huis op Jeffreysbaai gaan om, saam met haar tweelingsuster, Isabel, hulle ma se besittings op te pak sodat die huis verkoop kan word. Dit vind net na die opheffing van die grendeltyd plaas. Daar vind Anabel 'n notaboek van haar ma, wat sy aanvanklik gedink het, is haar ma se laaste manuskrip met die titel Leef of laat leef, wat opgedra is aan "Mia Steyn-voordat sy vergeet". Sy begin dit eerste lees en later lees sy en Isabel saam en so ontvou die verhaal van hulle ma, Mia Steyn.

    Die roman se struktuur bestaan uit twee dele: Mia se notaboek en die verhaal soos vanuit Anabel en Isabel se oogpunte-'n storie binne 'n storie. Mia se notaboekie word in 37 hoofstukke aangebied met hoofsaaklik Bloemfontein en Blesbokfontein, die familieplaas, as die ruimtelike agtergrond. Dié vertelgedeelte kan as historíese fiksie beskou word want die leser kry 'n blik op Suid-Afrika vanaf 1963: nie net politieke inligting oor die historiese werklikheid van apartheid Suid-Afrika nie, maar veral oor die rol van die vrou as onderdanige persoon. Daarteenoor is die verhaallyne van die hede soos deur Anabel en Isabel vertel word, meer oor hulle eie lewens. Daar is dus twee vertellyne: Mia s'n en Anabel en Isabel s'n.

    Mia kom deurentyd as stemloos voor, vasgevang in 'n patriargale bestel: "Sy was vasgevang in 'n wêreld wat deur mans beheer en oorheers word. Mans soos haar broer. Mans soos haar pa" (44). Eers het haar pa namens haar besluite geneem en met die dood van haar pa, het haar broer namens haar besluite geneem. Sy is nie toegelaat om universiteit toe te gaan nie en moet by 'n prokureursfirma in Bloemfontein gaan werk. Maar sy ontdek 'n stowwerige boekwinkel en binne 'n maand gaan werk sy daar. Dit is daar waar sy die geheimsinnige skrywer, Louis Feldtsman, ontmoet en later met hom trou. Hy neem ook namens haar besluite en wil byvoorbeeld nie hê sy moet werk nie. Maar Mia is welbelese en skryf graag stories en wil 'n skrywer word: sy publiseer onder 'n skuilnaam kortverhale in etlike tydskrifte en later ook 'n roman, steeds onder die skuilnaam Lena Jordaan. Sy pen ook haar lewensverhaal in die kanariegeel notaboek neer en dit word vir haar twee dogters 'n ontdekkingsreis van hul ma se lewe. Die stemlose Mia is nie so stemloos soos wat die mans in haar lewe gedink het sy is nie.

    Louis Feldtsman is 'n befaamde skrywer op wie Mia haar hart verloor. Hy is lank en aantreklik en 'n sjarmante man. Hy is 'n wewenaar met twee pragtige dogters. Die gedeelte van Mia en Louis se ontmoeting en toenemende verhouding lees soos 'n romantiese storie-ironies genoeg, soos die stories waaroor Mia skryf. Mia het geen weerstand teen hom nie: nie teen sy sjarme of sy vuiste nie. Louis het haar nie net fisies aangerand nie, maar ook emosioneel afgekraak. Hy het nie in haar vermoëns as skrywer geglo nie-nadat sy 'n kortverhaal geskryf het en vir Louis se insette gevra het, was sy woorde: "Dis soetsappig en vol clichés. Jou karakters is onafgerond. Daar is te veel taalfoute en jou woordkeuses te eenvoudig. Dit is hoekom vroue oor die algemeen nie goeie skrywers maak nie. Julle dink met julle gevoelens, nie met julle koppe nie" (140). Hy het haar belet om enigiets te publiseer, want hy wou nie met haar stories geassosieer word nie. Ook in hierdie verhouding bly sy stemloos-uitgelewer aan 'n patriargale stelsel waarin vroue geen plek gehad het nie: "Daar is niemand met wie sy daaroor kan praat nie, al wil sy. Niemand wat dit beter kan maak nie. Sy sal die sluier net digter om haar moet trek, want hierdie soort openbarings is taboe" (252). Mia se verhaal getuig van jarelange mishandeling, mishandeling wat sy in stilte verdra, totdat sy een aand besluit om tot optrede oor te gaan.

    Seker die sterkste uitbeelding van die geweld teen Mia en die pyn wat sy moet verduur (en haar stemloosheid), is die verkragting van haar deur haar broer se vriend-wat slegs deur Mia as "die jakkals" geïdentifiseer word. Hy bly naamloos en so simboliseer Mia hom as nietig, haar mindere. Die verkragting vind plaas op die Platrand wat Mia en haar ma elke Saterdagmiddag gestap het. Na haar ma se dood hou sy aan met die tradisie-om nader aan haar ma te voel tot die verkragting daar plaasvind. Dit is ook op Platrand waar sy genesing gaan vind.

    Ten spyte van die oënskynlike uitbeelding van onderdanigheid en die stilte wat Mia (en ander vroue) oor huishoudelike geweld handhaaf, is daar 'n sterk feministiese onderstroom in die roman: "Moet nooit toelaat dat 'n man vir jou voorskryf wat jy mag doen of nie mag doen nie, Mia" (45). Mia se ma het hierdie woorde vir haar gesê nadat haar pa eendag vir Mia lyfstraf toegedien het omdat sy perd gery het, want "'n meisiekind klim nie op 'n hingsperd nie" (45). Mia se ma kon haar nie teen haar pa verdedig en beskerm nie, maar sy het haar met woorde bemoedig. Mia spaar (nes haar ma) ook vir haarself geld sodat sy onafhanklik kan wees: "Sodat sy nie totaal afhanklik moet wees [...] maar Mia het geweet dat haar ma van haar pa en haar toekomstige man praat" (87). Net so verteenwoordig Puleng, die huishulp op Blesbokfontein, en Remy, Mia en Louis se huishulp, ook sterk vroue-as swart vroue word hulle dubbel gemarginaliseerd.

    Troskie slaag meesterlik daarin om Mia se storie in die kanariegeel notaboek meer as net Mia se storie te maak. Dit is ook Anabel en Isabel se verhale-hulle dra die gevolge van die pyn en die geweld: Anabel rand haar man aan en Isabel wou nie kinders gehad het nie omdat sy bang was "dat daardie monster wat in Pa kon opstaan, ook sluimerend binne-in my skuil" (221).

    Tipies Troskie, is die woord- en taalgebruik in die roman uitstekend: "Hoe begryp 'n mens so 'n vergryp?" (84); "Die kasregister klingel vrolik, die telefoon lui, boeke word uit die rak gehaal en aangegee en bespreek. Tikmasjiene kletter" (92); "Die waarheid, weet sy met sekerheid op hierdie Kersaand, is dat kleur net nog 'n etiket is wat om mense se nekke gehang word" (123). en "Maar dit is 'n lewe sonder vreugde. Sonder lag" (245).

    Die laaste kanariegeel notaboek handel oor die daaglikse storie van baie vroue in Suid-Afrika en die wêreld wat aan geweld onderwerp word. Dit is 'n roman wat tot vele lesers sal spreek, met die belangrikste motief waarskynlik dié van geheimhouding.