Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.1 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i1.16615
RESEARCH ARTICLES
"'n Koningin volg hom": Volkome vrou (1976) as antifeministiese agent
"A queen follows him": Volkome vrou (1976) as an antifeminist agent
Amanda Marais
Lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika. E-pos: alourens@sun.ac.za https://orcid.org/0000-0003-4617-5458
ABSTRACT
Marabel Morgan's book Total Woman (1973) is an international bestseller that appeared in Afrikaans as Volkome vrou (1976). In the book, the author provides advice to women on achieving a more fulfilling marriage, but the underlying principles seem to be antifeminist. This article examines the text as a possible tool for a specific social agenda, namely the preservation of patriarchy. Critical discourse analysis is employed to analyse the text, while referencing theoretical frameworks on Christian self-help literature and propagandistic texts. A two-fold hypothesis is proposed and confirmed through the examination: (i) The text exhibits the typical structure of a self-help book, which, combined with Christian and propagandistic elements, helps convey a pro-patriarchal message; and (ii) certain discourse structures, including questionable argumentative structures, are put in place to construct specific antifeminist ideas and present them as attractive to readers. Ultimately, it is possible to highlight the harmful consequences of this type of text for society-both past and present-as it perpetuates patriarchy by influencing readers' social cognition.
Keywords: Marabel Morgan, Total Woman/Volkome vrou, propatriarchal agent, antifeminist agents, Christian self-help books, propaganda, discourse structures.
Inleiding en agtergrond
Marabel Morgan, 'n voormalige skoonheidskoningin, stig in 1970 die Total Woman-maatskappy, wat Christelik gefundeerde kursusse vir vroue in die Verenigde State van Amerika (VSA) bedryf om hulle te help om huweliksprobleme op te los en 'waarlike huweliksgeluk' te ervaar. Sy baseer die kursusinhoud op die beginsels waarmee sy glo haar eie sukkelende huwelik gered het, naamlik, (1) Aanvaar jou eggenoot. (2) Bewonder hom. (3) Pas by hom aan; en (4) waardeer hom. (Encyclopedia.com). Maynard, in 'n 1975-artikel in die New York Times, skryf dat Morgan met haar Total Woman-kursusse vroue wou oorreed om te aanvaar dat hulle slegs geluk kan vind deur hulle eggenote se geluk te verseker, en dat dít vermag kan word deur haar volkome aan sy outoriteit te onderwerp, oftewel, "to make the husband king and to make his home his castle". Die propatriargale inslag van die kursusse blyk dus duidelik.
Morgan se boek met die titel Total Woman verskyn in 1973 in die VSA, uitgegee deur Feming H. Revell Company, 'n afdeling van die evangelies georiënteerde Baker Publishing-uitgewersgroep. Dit is 'n samevatting in boekvorm van die uitgangspunte van haar kursusse, met getroude vroue as teikenlesers. Dit is onmiddellik 'n topverkoper, met verkope wat 500 000 haal in die eerste jaar na die verskyning van die boek (Encyclopedia.com; Hezakya Newz & Films).
Vertalings van die boek het spoedig die lig gesien, onder meer in Frans, Spaans, Persies, Duits, Chinees, Japannees, Nederlands, Katalaans en Koreaans (WorldCat). Sedert die eerste verskyning in 1973 is reeds 10 miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop en volgens onlangse lesersresponse op webwerwe soos Goodreads is die Engelse teks steeds in sirkulasie deur middel van tweedehandse boekwinkels (Goodreads; WorldCat).
'n Afrikaanse vertaling deur Kobie Gouws as Volkome vrou (1976) sien slegs drie jaar na die verskyning van die bronteks die lig by die Christelike Uitgewersmaatskappy, en beleef ses herdrukke tot in 1982.1 'n Tweede uitgawe in sagte band verskyn reeds in 1977, en word in 1978 herdruk. Daarna volg daar in 2001'n derde uitgawe, wat getuig van die teks se ruimtelike en temporele reikwydte in die Afrikaanse wêreld.
Die bronteks was hoofsaaklik gemik op voltydse tuisteskeppers met redelike gegoede eggenote (Encyclopaedia.com), en dieselfde geld vir die Afrikaanse vertaling, soos gesien kan word in beide tekste se toespelings op 'n konteks van middelklaswelvaart en toegang tot verbruikersgoedere. Alhoewel die groter konteks van die Afrikaanse doelteks sosiaal, polities, ekonomies en geografies van dié van die bronteks verskil, is dit interessant om daarop te let dat die doelteks feitlik geen aanpassings vir die Suid-Afrikaanse konteks ondergaan het nie.
Verdere publikasies uit Morgan se pen ná Total Woman is Total Joy (1976), Marabel Morgan's Total Woman Cookbook: A Handbook for Kitchen Survival (1980) en The Electric Woman: Hope for Tired Mothers, Lovers, and Others (1985), wat aandui dat die Total Woman-filosofie tot 'n bedryf uitgebou is.
Die vier beginsels hier bo genoem-waardeur die man in 'n verhewe posisie teenoor die vrou as dienende agent gestel word-is Morgan se resep vir vroue se sukses in 'n patriargale huwelik, aldus Maynard wat vervolgens die kern van Morgan se boodskap uit die Engelse bronteks aanhaal: "It is only when a woman surrenders her life to her husband, reveres and worships him, and is willing to serve him, that she becomes really beautiful to him. [Then] she becomes a priceless jewel, the glory of femininity, his queen" (Morgan aangehaal in Maynard).
'n Eerste lees van die doelteks skyn Maynard se siening van die teks as propatriargaal te bevestig, en die volgende passasie teken die getroude vrou se posisie as een van onderdanigheid, alhoewel sy ironies genoeg as die man (die koning) se "koningin" beskryf word:
Die huwelik word dikwels met 'n monargie vergelyk. Die man speel die rol van koning en die vrou is sy koningin. In 'n koninklike huwelik is die koning se woord wet-vir sy volk én sy vrou. Die koningin is geen Klaas nie, want sy weet goed waar haar krag lê, Sy ís die koningin. Sy sit ook op die troon. Sy het die volle reg, en ook die verantwoordelikheid, om haar menings te lug, maar dan doen sy dit te alle tye vorstelik. 'n Koning steun swaar op sy koningin se oordeel, maar wanneer daar twee sienings oor 'n saak is, is die laaste sê nog die koning s'n. (Volkome vrou 64)
Hieruit blyk dit dat Morgan aan vroue verkondig het dat hulle in werklikheid 'n gesogte posisie beklee-naamlik dié van "koningin". Op hierdie manier het sy die "angel" uit onderdanigheid gehaal, en dit as 'n gesogte posisie aan haar gehoor voorgehou (Johnson 31).
So 'n posisie van vroulike onderdanigheid blyk ook 'n sleutel tot oorlewing te wees wanneer die vrou herinner word aan die absolute en selfs dreigende aard van manlike mag in die huwelik: "Sê nou die koning maak 'n verkeerde beslissing? Nou ja, dit is moeilik, veral as jy voor jou siel weet hy is verkeerd. 'n Koningin volg hom, desnieteenstaande! Geen koningin sal om die koning se ore neul, of sy besluite bevraagteken nie. 'n Besluit is 'n besluit. Onthou bietjie al die vinnige onthoofdings, dames!" (Volkome vrou 64, kursivering in oorspronklike).
Hierdie soort uitsprake (wat in die bron- en doelteks ooreenstem) lei dan daartoe dat outeurs soos Howard en Tarrant (xiv) Total Woman as voorbeeld van die antifeministiese beweging in die VSA tussen 1963 en 1982 bestempel en dat Stankorb dit die "antitese van feminisme" noem. Van Niekerk (62) beskryf Volkome vrou verder as behorende tot 'n spesifieke variasie van seksisme wat sy die vroulikheidskultus noem.
Die antifeministiese boodskap van die boek wat vanuit die VSA na die Suid-Afrika van die 1970's oorgedra en hier versprei is, is die fokuspunt van hierdie studie. Dit is nie die resepsie van óf die bron- óf die doelteks in hulle onderskeie kontekste wat die kern van die studie is nie, maar wel die gebruik van bepaalde tekstuele elemente waardeur die antifeministiese boodskap tot stand gebring is. Die ondersoek betrek dan ook slegs die tweede Afrikaanse uitgawe van 1978, alhoewel die konteks van die bronteks kortliks ter agtergrond geskets word.2
Die tydperk waarbinne die Amerikaanse sowel as Suid-Afrikaanse uitgawes verskyn, is wel een waarin die boodskap van tweedegolffeminisme reeds wyd versprei was, en 'n antifeministiese boodskap in 'n teks deur 'n vrou in hierdie tyd mag dalk vir eietydse lesers vreemd aandoen. Om egter die geheelbeeld van vroue se dikwels teenstrydige sosiale posisies en uitbeeldings daarvan in hierdie tyd te begryp, is dit nodig om eers na die sirkulasie van mediabeelde van vroue in die naoorlogse jare in die VSA te verwys, sowel as die latere teenkanting wat dit uit feministiese geledere ontvang het.
Vandermeade verskaf 'n uiteensetting van die regeringspropoganda in die VSA, tesame met kommersiële advertensieveldtogte gedurende die 1940's en 1950's, wat dit ten doel gehad het om die redelike vryheid wat vroue gedurende die oorlogsjare geniet het, te beperk. Sy stel dat hierdie veldtogte beelde van hipervroulikheid ingespan het om, wat sy bestempel as 'n kultus van ultrahuislikheid asook heteronormatiewe genderrolle te bevorder, maar wat uiteindelik ook kapitalisme, verbruikerisme en tradisionalisme aangehelp het. Sy wys verder op die mate waartoe hierdie diskoers die sosiale bewussyn van die Amerikaanse wêreld beïnvloed het: "These images then became such a common part of everyday American life that their characteristics and hallmarks entered into the social consciousness. Americans began to accept advertising and propaganda images as indicative of a larger social construct of American femininity" (Vandermeade).
Hierdie groter konstruksie van hipervroulikheid is dan die grondslag waarop die sogenaamde vroulikheidskultus (Van Niekerk 62) berus. Vandermeade wys daarop dat die media ingespan is om hierdie kultus te help ontwikkel: Dit sou vroue adviseer hoe om goeie vroue vir hulle mans te wees, en hoe om die huishouding, maar ook hulle uiterlike, te versorg ten einde aan die vereistes vir 'n "goeie vrou" te voldoen. So word vroulikheid en vroulike skoonheid 'n florerende bedryf in die naoorlogse jare in die VSA-'n tyd waarin verbruikerisme geweldig groei (Vandermeade).
Marais se studie oor die uitbeelding van vroulikheid in 1963 in Huisgenoot dui op soortgelyke tendense in die Afrikaanse wêreld en vind nie spore van veranderende beelde onder die invloed van feminisme nie. Sy bevind dat die vrou by uitstek as huisvrou en moeder uitgebeeld word (Marais 200-4), en toon aan dat daar ook sterk aanduidings van die vrou as verbruiker van huishoudelike produkte is, wat "[in]speel [...] op die vroulike leser se ambisie om 'n beter vrou in die huwelik te wees" (201). Hierdie bevindinge verskaf dus 'n rasionaal vir die bestudering van Volkome vrou in die konteks van die 1970's, naamlik, om na te gaan watter boodskap in sake die vrou se rol en posisie dan ook via vertaalde werke na lesers gebring is.
Op die groter wêreldtoneel lei tweedegolffeminisme egter daartoe dat die vroue van die 1960's en 1970's die heersende vroulike konstruksies begin bevraagteken, en Betty Friedan se The Feminine Mystique (1963) handel onder meer oor die vroulike tuisteskepper se haas eksistensiële angs en stryd wanneer sy besef dat haar lewe nié so vervullend is as wat die samelewing haar wil laat glo nie. Friedan vertel hoe hierdie kwessie groter openbare sigbaarheid begin verkry het, maar telkens afgemaak is:
In 1960, the problem that has no name burst like a boil through the image of the happy American housewife. [...] But the actual unhappiness of the American housewife was suddenly being reported-from the New York Times and Newsweek to Good Housekeeping and CBS Television [...] although almost everybody who talked about it found some superficial reason to dismiss it. (22)
Dit is juis in hierdie tyd dat daar 'n aansienlike toename in die media is van artikels wat aan vroue raad gee om groter geluk-sowel as beter seks-in die huwelik te ervaar. Friedan noem ook hoe clichés (soms Bybels) as oplossings vir ongelukkige vroue voorgehou is. Om hierdie sogenaamde "toothache of the spirit" te heel, is die antwoord byvoorbeeld "the simple formula of handing one's self and one's will over to God" (24), wat by implikasie dan die oorgawe aan 'n goddelik bepaalde patriargie is.
Hierdie antifeministiese teendiskoers wat dus ontstaan tesame met groeiende pogings om die probleem van huisvroue se onvervuldheid te verwoord en te ondersoek, bied klaarblyklik 'n soort groeibodem vir Morgan se idees en produkte.
Maynard verwys na 'n sogenaamde teenrevolusie in die 1960's en 1970's wat gerig was teen die tweedegolffeminisme waarbinne Friedan se teks seminaal is. Hierdie teenrevolusie word deur Vandermeade herlei na die vroue wat die voortou geneem het om om ná die Tweede Wereldoorlog na die huishoudelike domein terug te keer. Sy haal aan uit 'n leser se brief aan Friedan in 1963 wat spesifiek verwys na 'n verbruikersverwante maar huweliksgebonde seksualiteit as 'n strategie om na die huishoudelike domein en huwelik terug te keer: "My feeling of betrayal is not directed against society so much as at the women who beat the drums for the 'passionate journey' into darkness [...] My undiluted wrath is expended on those of us [...] who put on our black organza nightgowns and went willingly, joyfully, without so much as a backward look" (Vandermeade, my kursivering).
Total Woman, wat ironies genoeg midde-in die konteks van die "revolusie" van tweedegolffeminisme verskyn, word deur Maynard gesitueer binne hierdie 'teenrevolusie' wat vroue júís binne die huwelik wou hou en hulle sekuriteit daarbinne wou bewerkstellig. Só 'n vorm van sekuriteit is volgens haar een wat beding word deur vroue se oorgawe aan die patriargale orde wanneer hulle kies om hulle lewens binne die beperkinge van die huwelik voort te sit: "Faced with a choice between certain safety and a decidedly uncertain chance for ecstasy, they will choose safety. The fact of their marriages will not change, and neither will their husbands change. So they do what women may do best-they adapt, they give in" (my kursivering).
Vir Maynard is 'n boodskap van oorgawe deur vroue binne 'n patriargale opset die skering en inslag van Morgan se boek. Naas die teenfeministiese boodskap van die vrou se oorgawe aan en aanvaarding van die man as die "koning" in die huwelik, vertrek die boek vanuit 'n Christelike perspektief en word Bybelse norme deurgaans aangekleef, waardeur dit ook aansluit by die soort antifeministiese strategieë waarna Friedan verwys. Bybeltekste word in beide die bron- en doelteks aangehaal, en daar is selfs 'n lys van aangehaalde verse aan die einde van die Afrikaanse vertaling van die boek. Johnson (11) wys op die evangeliese taalgebruik waartoe Morgan haar soms wend; op hoe sy haar beroep op die Bybel as bron van wysheid en op die waarskynlikheid dat lesers dit dan ook só sou aanvaar.
Johnson se boek This is Our Message: Women's Leadership in the New Christian Right (2019) situeer Total Woman as 'n sleutelteks binne 'n nasionale evangeliese vrouesubkultuur, en ontleed dit as deel van die Christian Right se opkoms in die VSA. Johnson (12) wys op die paradoks van Morgan en ander vroue se posisie in hierdie subkultuur: dat hulle vroue se ondergeskiktheid en onderdanigheid sou predik, terwyl hulle self aansienlike status as kulturele toonaangewers sou verwerf. Bjork-James (595), in haar bespreking van Johnson se boek, stel dat die patriargie te midde van 'n feministiese en seksuele revolusie júís op vroue moes staatmaak om 'n antifeministiese boodskap te versprei, ten einde te oorleef. Binne die evangeliese subkultuur is die behoud van die patriargie as't ware tot 'n heilige taak verklaar, met vroue (onder wie Morgan) as belangrike instrumente daartoe (Bjork-James 595).
Die Afrikaanse wêreld waarvoor die doelteks bedoel was, was dan ook een wat deur 'n Christelike wêreldbeeld en veral die konserwatiewe Calvinistiese vorm daarvan oorheers is, met spore van die Christelike geloof wat wyd in die samelewing sigbaar was (Oliver 316-7). Dit is dus waarskynlik dat die Christelike inslag van die teks ook by Afrikaanssprekende lesers inslag sou vind.
Hierdie artikel het ten doel om Volkome vrou (1976) as moontlike werktuig van 'n bepaalde sosiale agenda in die 1970's, naamlik die behoud van die patriargie, te ondersoek. Daar word van die standpunt uitgegaan dat beide die bron- en doelteks 'n wit patriargie veronderstel; ook verplaas die doelteks die Amerikaanse ideologiese dampkring sonder meer na die Suid-Afrikaanse, en spesifiek Afrikaanse konteks. Ten grondslag van die ondersoek word 'n tweeledige hipotese gestel, naamlik: (1) Die teks vertoon kenmerke van die selfhelpboek, en hierdie struktuur, tesame met die Christelike en propagandistiese elemente van die teks, help om 'n propatriargale boodskap oor te dra deurdat bepaalde antifeministiese konstruksies as gesogte modelle aan die lesers "verkoop" word. (2) Bepaalde diskoersstrukture word in plek gestel om hierdie konstruksies tot stand te bring en as aanloklik aan die lesers voor te hou. Hierdie hipotese word gegrond op die vier beginsels om huweliksprobleme op te los en waarlike huweliksgeluk te ervaar waarop Morgan se boek berus, sowel as ander uitsprake in die teks.
Feministiese teorie en kritiese diskoersanalise
Die teoretiese raamwerk en metode word in hierdie afdeling gesamentlik aangebied, omdat die insigte van die feminisme, saam met die basiese uitgangspunte en metodologiese raamwerk van kritiese diskoersanalise (KDA), die lens en analitiese raamwerk vorm waardeur daar na die teks gekyk word en wat die ontledings struktureer.
Bell beskryf die feministiese literêre kritiek as 'n metode vir die analise en interpretasie van literêre tekste en ander kulturele produkte deur die lens van feministiese teorieë. Sy wys daarop dat daar geen enkele vorm van feministiese literêre teorie is nie, gegee die verskillende uitgangspunte en strominge binne die groter veld.
Hierdie studie vertrek vanuit die soort literêr-feministiese perspektief wat Donovan (xii) beskryf as "a revolutionary activity, as a praxis that will effect genuine social improvement". Donovan baseer hierdie sienswyse op die insigte van die radikale feminisme, wat die voortgesette dominansie deur die patriargie raaksien: "beneath the apparent discontinuity of transitory historical forms lies the massive continuity of male domination" (Balbus aangehaal in Donovan x). Vir Allende (10) is feminisme dan ook 'n daadwerklike beweging wat reaksionêre kragte soos fundamentalisme en fascisme konfronteer.
Hierdie navorsing word dan ook onderlê deur die siening dat die voortsetting van die patriargie as 'n sosiale probleem beskou moet word omdat dit vroue se ongelykheid in die hand werk. Alhoewel Morgan se teks reeds 50 jaar gelede verskyn het, is dit belangrik om na te gaan of en hoe die patriargie histories bevorder is, en om die teks krities te lees as 'n moontlike antifeministiese dokument wat volgens die verkoopsyfers 'n baie groot aantal lesers bereik en waarskynlik beïnvloed het. Daar kan ook aangevoer word dat tekste wat oënskynlik baie met dié van Morgan ooreenstem, stééds in sirkulasie is en eietydse lesers beïnvloed.
Nortjé-Meyer analiseer die Christelik-populêre spreker en skrywer Greta Wiid se uitsprake oor gender, en stel dat haar seminare 'n heteropatriargale opset verkondig waarbinne die man nie net die hoof van die huishouding (en vrou) is nie, maar dat hy ook die priester en profeet van die huishouding is, en dienooreenkomstig geëer moet word.
Die Afrikaanse webwerf UiteindelikHoop.com ('n afdeling van Restore Ministries International) bevat byvoorbeeld 'n hoofstuk met die titel "Vrouens, wees onderdanig".
Op Instagram het The Tradwives Club (wat hulleself beskryf as "traditionally-minded modern homemakers") ongeveer 25 400 volgelinge, en plasings sluit uitsprake soos die volgende in, wat duidelik bedoel is as kritiek op vroue se toetrede tot die openbare domein: "Women are beginning to seek asylum from 'the hustle' that has left them burnt out and unfulfilled." Vroue se onderdanigheid word as 'n natuurlike toedrag van sake voorgestel:
Our world today encourages rebellion against nature and natural desires. For women, we are told to reject dependency and to become "independent" of systems, families, and our spouse. This has led to generations of women more miserable today than in previous years. We weren't designed to assume leadership and be a helpmate simultaneously. We long for leadership-even in our independence.
Hierdie soort sosiale probleem is dus heel moontlik steeds teenwoordig en hierdie ondersoek kan 'n metode bied vir 'n kritiese omgang met eietydse tekste in verdere studies.
Die siening van 'n antifeministiese diskoers as sosiale probleem skakel direk met die uitgangspunte van kritiese diskoersanalise (KDA), wat as raamwerk vir die ontleding gebruik sal word. Van Dijk ("Critical Discourse Analysis" 353-4) sien KDA as primêr gerig op sosiale probleme en politieke kwessies, en noem dat dit vrae stel oor die manier(e) waarop spesifieke diskoersstrukture ontplooi word in diens van sosiale dominansie deur sekere groepe. Diskoerse, volgens Van Dijk ("Principles of Critical Discourse Analysis" 11) is semiotiese maniere om aspekte van die wêreld-hetsy fisies, sosiaal of kognitief-te konstrueer wat verband hou met die posisies en/of perspektiewe van sekere groepe of sosiale akteurs.
Die ondersoek van mag, en veral sosiale mag, staan dikwels sentraal in ondersoeke na diskoers (Van Dijk, "Critical Discourse Analysis" 354). Die KDA-ondersoeker stel by uitstek belang in hoe diskoers verband hou met dominansie (oftewel magsmisbruik) sowel as met die produksie en reproduksie van sosiale ongelykheid (Van Dijk, "Critical Discourse Analysis" 358). KDA se uiteindelike mikpunt dan, is om die aard en oorsprong van sosiale verontregting te begryp, maar ook na maniere te soek om met verontregting weg te doen.3 Dat dit ooreenstem met Donovan se formulering van die mikpunte van die feministiese kritiek, blyk duidelik.
Binne KDA word die terme "sosiale kognisie" en "modelle" gebruik as deel van die begrippe-apparatuur om die verband tussen diskoers en menslike optrede (en dan veral dominansie en magsuitoefening) te begryp. Sosiale kognisie is 'n term wat dui op hoe mense sosiale inligting verstaan (oftewel kognitief verwerk) en hoe hulle optrede (ook teenoor ander) deur sulke mentale prosesse beïnvloed word. Diskoers en sosiale kognisie staan in 'n wederkerige verband met mekaar: Diskoers is 'n manifestasie van sosiale kognisie, met ander woorde, sosiale kennis, houdings en oortuigings, maar hierdie diskoers kan weer ander persone se sosiale kognisie beïnvloed (Van Dijk, "Principles" 257).
Sosiale kognisie spesifiek word met behulp van modelle gestruktureer en georden. Modelle is voorstellings of konseptuele raamwerke wat deur mense ingespan word om sosiale situasies of prosesse te begryp (Van Dijk, "Principles" 258). Daar kan dus gesien word dat diskoerse bepaalde modelle aan lesers of toehoorders kan voorhou, wat dan hulle sosiale kognisie sal help vorm. Daar sou byvoorbeeld aangedui kon word dat sekere tekste propatrargiale en antifeministiese modelle aan lesers voorhou, wat hulle sosiale kognisie beïnvloed om 'n wêreldbeeld te aanvaar wat patriargale mag voorstaan, en oplaas tot sosiale ongelykheid en sosiale verontregting kan lei.
KDA se werkswyse behels breedweg dat 'n brug geslaan word tussen die mikroaspekte van die sosiale sisteem (soos taal en kommunikasie,) en die makroaspekte soos mag, dominansie en ongelykheid (Van Dijk, "Critical Discourse Analysis" 354). Van Dijk ("Principles" 261) onderskei egter ook tussen die sogenaamde makrovorme van diskoers, waar dit veral gaan oor wat hy kontekstuele, interaksionele, organisatoriese en selfs globale vorme van diskoersbeheer noem, en die meer gedetailleerde mikrovorme van teks en spraak. In die geval van die mikrovorme van teks en spraak is die invloed van mag minder direk as in die geval van makrovorme. Van Dijk ("Principles" 261) wys wel uit dat die meer subtiele en onopsetlike manifestasies van dominasie op die mikrovlak waarneembaar is, juis omdat kommunikasie minder bewustelik op hierdie vlak beheer word. KDA moet derhalwe die gaping tussen 'n makro- en mikrobenadering oorbrug, en dit kan onder andere bewerkstelling word deur wat hy bestempel as die konteks-sosiale struktuur in ag te neem. As voorbeeld van so 'n struktuur noem hy 'n perskonferensie, waar die struktuur daarvan reeds die diskoers reguleer, maar waarbinne die talige uitinge eweneens belangrik is.
Myns insiens kan die betrokke tekssoort in die geval van geskrewe tekste hier betrek word, aangesien dit 'n struktuur bied wat bepaalde funksies aan die outeur en leser toeken en só kan bydra tot diskoersbeheer en magsuitoefening. In die geval van 'n instruktiewe teks, byvoorbeeld, is die outeur in 'n magsposisie, gegee die feit dat hulle oor ekspertkennis beskik. Hierbinne, op talige vlak, word die magsposisie van die spreker geëggo deur diskoersstrukture soos bevelsinne wat die betekenis van instruksies oordra.
Hierdie konteks-sosiale struktuur van genre bied dus 'n raamwerk vir die ondersoeker om byvoorbeeld te bepaal hoe die leser geposisioneer word, en hoe die aard en struktuur van die teks tot betekenisskepping lei. Vanaf hierdie ietwat meer makrogeoriënteerde ondersoekspunt kan daar naderbeweeg word aan hóé die talige uitinge op die mikrovlak ontplooi word.
Van Dijk ("Principles" 264) verskaf 'n uiteensetting van bepaalde diskoersstrukture wat tot modelvorming aanleiding gee, en lys die volgendes wat die makro- sowel as die mikrovlak betrek: (1) Die inhoud van die diskoers, oftewel die betekenisse wat tot stand gebring word. (2) Argumentasie, waar daar tot gevolgtrekkings oor sekere kwessies gekom word. (3) Retoriese middele, soos eufemismes, ontkenning en oordrywing. (4) Leksikale styl, wat byvoorbeeld behels die keuse van woorde wat 'n negatiewe of positiewe evaluering veronderstel. (5) Storievertelling: Detail oor die gebeurtenis word in diepte bespreek, of word as 'n persoonlike ervaring vertel. (6) Strukturele beklemtoning van sekere kwessies deur byvoorbeeld opskrifte of opsommings, of ook die sintaktiese organisering van 'n sin deur bepaalde agente in die onderwerpsposisie te plaas. (7) Die aanhaling van geloofwaardige getuies, bronne en kenners.
Ontleding van Volkome vrou
Die bespreking in hierdie afdeling word soos volg gestruktureer: Die konteks-sosiale struktuur word eerstens bepaal deur die teks op kritiese wyse binne genreverband te plaas, wat dit moontlik maak om aan te dui hoe die aard en struktuur van die teks tot betekenisskepping lei. Tydens die bespreking van die betekenisse wat tot stand kom, word relevante diskoersstrukture (soos hierbo onder punt 2-7 genoem) betrek en word daar aangedui hoe dit in diens van die reeds geïdentifiseerde betekenisse staan.
Sedeliteratuur as genre-tipering?
Die term "sedeliteratuur" word deur Smit en Stander (204) gebruik as sambreelterm om te verwys na "die vele Afrikaanse subgenres van niefiksiewerke gemoeid met die oordrag van opvoeding, goeie maniere en moraliteit, soos byvoorbeeld etiketliteratuur, voorligtingsliteratuur, afrondingsliteratuur en tekste oor gedragskodes en goeie maniere. Dit sluit ook godsdienstige pamflette en sekere tipes propaganda in."
Vir hierdie outeurs is die Engelse ekwivalent vir "sedeliteratuur" die geskrewe tekste binne die raamwerk van "die sogenaamde conduct books of conduct literature" (kursivering in oorspronklike). Die wyer doel van hierdie tipe literatuur, volgens hulle, is "morele, etiese, en gedragsopvoeding om 'n teikengroep of spesifieke samelewing te onderrig in aanvaarbare gedragskodes en mense aan te maan tot 'moral, civic, good, mannered, behaved, non-bullying, healthy, critical, successful, traditional, compliant or socially acceptable beings'" Die sambreelterm "sedeliteratuur" het vir hulle dus as kernbestanddeel "die verskaffing van handleidings vir aanvaarbare gedrag onderskryf deur morele kodes" (Smit en Stander 204, kursivering in oorspronklike).
Ek reken dit is nodig om hierdie sambreelterm, maar veral ook die gelykstelling van al die genoemde literatuursoorte onder "sedeliteratuur" aan "conduct literature" te problematiseer. Om byvoorbeeld tekste met 'n propagandistiese boodskap onder sedeliteratuur te plaas (en by implikasie as "conduct literature" te tipeer) is problematies, aangesien propagandaliteratuur nie noodwendig gelyk te stel is aan literatuur met die doel van morele, etiese en gedragsopvoeding nie. Teenoor hierdie doelwit van "conduct literature" wil propagandaliteratuur eerder die lesers se sosiale kognisies manipuleer en rig ten einde 'n bepaalde agenda (wat byvoorbeeld nie noodwendig gesond of moreel is nie) te dien.
In hulle analise van die vertaalde teks Sybille: Sjarmante vriendin-wat hulle as "etiketboek" binne die groter veld van sedeliteratuur klassifiseer-wys die outeurs dan juis ook op die sosiale konstruksies wat via die teks tot stand kom. Hulle skryf dat "die boek aktief deel vorm van die ontwikkeling en daarstelling van 'n bepaalde wit Afrikaanse vroulike identiteit in die sestiger- en sewentigerjare binne die diskoers van voorgeskrewe gedragsvorme" (Smit en Stander 205). Deur spesifiek te wys op die teks as werktuig in die konstruksie van 'n bepaalde vroulike identiteit en die bevordering daarvan as model, erken hulle die rol daarvan as ideologiese instrument, wat veel meer is as 'n blote "etiketboek". Ek sou dus wou argumenteer dat tekste wat sekere identiteitskonstruksies as gesog voorhou en so tot modelle maak, nie net as byvoorbeeld etiket- of sedeliteratuur beskou word nie, maar dat fyner onderskeidinge getref word. Ek bied hier onder 'n tipering van Volkome vrou aan, maar wil voorstel dat ander tekste binne Smit en Stander se groter kategorie van "sedeliteratuur" ook aan meer genuanseerde genreanalises onderwerp word ten einde die betekenisse daarin optimaal na vore te bring.
Die konteks-sosiale struktuur van Volkome vrou
In die geval van Volkome vrou argumenteer ek dat die teks kenmerke van die selfhelpboek vertoon, en dat hierdie struktuur, tesame met die Christelike en propagandistiese elemente van die teks, daartoe bydra dat 'n propatriargale boodskap oorgedra word deurdat bepaalde antifeministiese konstruksies as gesogte modelle aan die lesers 'verkoop' word.
Volkome vrou as selfhelpboek
Singleton (153) wys op die wye verspreiding en populariteit van die selfhelpboek binne die Westerse kultuur, en Starker (1) bestempel dit as 'n baie sigbare en kragtige invloed in die Amerikaanse kultuur. Singleton (153) stel dat sekere selfhelpboeke byna kanonieke status verwerf, en Webb et al. (700) dui aan dat dit 'n kragtige instrument is in die vorming van identiteit, gedagtes en emosies.
Selfhelpliteratuur gaan by uitstek oor persoonlike probleemoplossing deurdat bepaalde kwessies gediagnoseer en ontleed word, waarna oplossings dan verskaf word (Singleton 154). Die basiese struktuur van selfhelpboeke kan beskryf word as "lack and lack liquidated": Iets wat haper, hetsy in die self of in die kultuur waarbinne die subjek hulle bevind, word geïdentifiseer, gevolg deur die oplossing (Dolby 12). Sonder só 'n leemte kan daar geen selfhelpboek wees nie, en Dolby (12) merk dan op dat die lesers dikwels herinner word aan dít wat hulle eens op 'n tyd gehad het: "Much of the lament in self-help books is [...] a lament for what has been lost." Hierdie verlies kan verhaal word deur die selfhelpboek se raad te volg.
Dolby (9) beskryf die inhoud van selfhelpboeke as 'n genre aan die hand van drie dimensies: (1) Anekdote(s) versus inligting: Selfhelpboeke het dikwels 'n (outo)biografiese inslag, wat dien as belangrikste motivering vir die argumente wat gevoer word. Tekste oor persoonlike verhoudings sal na die anekdotiese neig. (2) Preskripsie versus deskripsie: Heelwat selfhelpboeke lê bepaalde reëls neer, met die gevolg dat die argumentasiestruktuur daarvan soos volg daar uitsien: Doen x en verkry y. Die onus is op lesers om die instruksies uit te voer ten einde die doelwit te bereik. (3) Geslote versus oop sisteem: 'n Geslote sisteem word gekenmerk deur 'n afgeslote denkwyse-Dolby (9) noem dit 'n "self-contained philosophy" wat interaksie met ander perspektiewe ontmoedig, teenoor 'n oop sisteem wat toegang tot andersoortige inligting aanmoedig. Selfhelpboeke berus normaalweg op 'n geslote sisteem.
Hierdie laaste punt hou verband met Starker (6) wat skryf dat selfhelpboeke se wye verspreiding en gewildheid onder meer toe te skryf is aan die feit dit deelvorming van 'n in-groep in die hand werk. Singleton (154) voeg by dat hierdie tekste neig om die teikenlesers as 'n ongedifferensieerde groep voor te stel. Deur die internalisasie van die teks se boodskap raak die lesers dus deel van 'n homogene in-groep wat terselfdertyd ook kontak met ander denkwyses ontmoedig, sodat 'n geslote sisteem sigself versterk.
In die geval van Volkome vrou wil ek argumenteer dat die narratief van die teks die basiese struktuur van "lack and lack liquidated" (soos deur Dolby beskryf) vertoon en dat die hoofbetekenisse van die teks hierop berus. Verder wil ek argumenteer dat die teks voldoen aan die kenmerke van die selfhelpboek wat Dolby in drie dimensies verdeel, en dat van die diskoersstrukture waarna Van Dijk ("Principles" 264) verwys, ingespan word om die hoofbetekenisse te dien.
Die teks word naamlik ingelei deur 'n hoofstuk waarin die outeur die verhaal van haar eie huwelik vertel. Sy het aanvanklik geglo dat "[haar] huwelik met Charlie Morgan dié huwelik van alle tye gaan wees"(Volkome vrou 15). Alhoewel die huwelik aanvanklik "rooskleurig" (15) gelyk het, het hulle mettertyd in 'n groef van swak kommunikasie verval, totdat "die kloof tussen [hulle] [.] byna onoorbrugbaar" was (18). Dan spel sy uit hoe sy intens bewus geraak het van die verlies van hulle aanvanklik belowende verhouding-sy het "met verbystering besef dat die teer, liefdevolle verhouding wat [hulle] gehad het, nie meer bestaan nie" (18). Sy vertel hoe onderonsies tussen hulle gevolg het, met haar eggenoot wat haar van "teëpratery" (21) beskuldig, totdat sy "besluit om die afdraande pad waarop [sy] was, te verlaat" (21).
Dit is dan wat sy haar "soeke na kennis" (22) onderneem en huweliksvoorligtingsboeke, die sielkunde en die Bybel bestudeer en kursusse bywoon. Sy het die "beginsels" wat hieruit na vore gekom het, begin toepas, "met verstommende gevolge" (22). Hierdie gevolge het ingesluit dat haar eggenoot veral vir haar geskenke begin koop het: "sonder dat ek vit, begin hy vir my alles koop wat ek al so lankal begeer het" (24). Wanneer hy uit eie beweging aanbied dat sy die sit- en eetkamer mag herversier, beloon sy hom klaarblyklik met 'n vurige liefkosing.
Sy vertel voorts hoe haar "beginsels"-wat sy eers veel later in die teks uiteensit en die leser dus daaroor laat wonder-so suksesvol toegepas is deur een van haar kursusgangers dat haar eggenoot vir haar "die afgelope week twee naghemde, twee bossies rose en 'n bliksnyer gekoop" het (25).
Vanuit hierdie narratief raak dit duidelik dat Volkome vrou 'n innerlike logiese struktuur het wat drie hoofbetekenisse bevat:4
Deur middel van storievertelling skets die outeur die leemte (betekenis 1) wat sy in haar eie huwelik ervaar het, naamlik 'n situasie van swak kommunikasie tussen die huweliksmaats. Die sprekende subjek word egter sélf in terme van gebrekkigheid geskets-sy was naamlik die party wat "teëpraat" (21), "vit" en "neul" (24). Die vroulike subjek was naamlik die "viswyf [...]" (24) wat na 'n oplossing vir hierdie problematiese situasie moes soek. Bepaalde leksikale items word hier ingespan om die negatiewe beeld van die gebrekkige subjek te teken, en dan wel items wat dikwels met 'n negatiewe stereotipering van vroue verbind word ("vit", "neul" en "viswyf").
Hierdie nie-ideale situasie word dan gekorrigeer deur die oplossing (betekenis 2) wat die outeur gevind en in haar eie lewe toegepas het (en wat sy veral deur storievertelling met die lesers deel). Die oplossing word só deur die outeur opgesom: "'n Volkome vrou bevredig haar man se prulle, of dit nou te make het met slaai, seks of sport. Sy maak sy huis 'n toevlug, 'n plek waar hy kan skuil. Sy gee hom die luukse van onvoorwaardelike aanvaarding" (50). Hierdie oplossing neem die vorm van aksies aan wat die vrou op verskillende vlakke-naamlik die huishoudelike en fisieke asook die emosionele-moet verrig, en wat deur die keuse van leksikale items wat as gemene deler met die letter "s" begin, vasgelê word. Preskripsie, deur middel van die aanwending van werkwoorde, word gebruik om spesifieke instruksies in hierdie verband aan die lesers te gee: "Sy maak [...]" en "Sy gee [...]".
Op die vlak van die huishoudelike en die fisieke word die vrou gemaan om haar huishouding te laat vlot, 'n goeie gasvrou te wees en haar uiterlike te laat aanpas by die man se verwagtinge. Deur storievertelling verneem die lesers van 'n vrou wat die volgende "wenplan" (gemerk deur werkwoorde) ingestel het: "nooi die baas vir ete, pak al die kaste reg, doen oefeninge, hou op met rook, haal agterstallige korrespondensie in en verloor massa". Wanneer sy dan wel sewe kilogram binne ses weke "afskud", is "[h]aar man [...] so ingenome met sy 'nuwe' slanke vrou, dat hy vir haar 'n hele nuwe uitrusting gekoop het. Jy't selde in jou lewe 'n gelukkiger vrou gesien!" (38)
Die preskripsie om haar liggaam op 'n bepaalde wyse te behandel, word spesifiek aan haar seksuele aantrekkingskrag geskakel. Persoonlike versorging en seks word dan veral sterk vooropgestel as gebiede waar aksie van die vrou nodig is. Die outeur maak weer eens van 'n leemte-struktuur gebruik om 'n bepaalde oplossing aan haar lesers voor te hou, maar sy waarsku hulle terselfdertyd dat hulle mans daagliks aan die versoeking van versorgde vroue blootgestel word:
Baie mans haas hulle soggens werk toe en laat 'n vrou in haar gekreukelde nagkabaai, al slurpende aan 'n koffie koppie, agter. Sy eens aantreklike bruid is nou versteek onder krulpenne en die geur van spek en eiers. Op kantoor wag betowerende sekretaressies omgewe van die duurste parfuum, hom in.
[...]
Neem jou voor om vanaand vir 'n aangename atmosfeer te sorg. Ontmoet hom by die deur met glansende hare, jou keurig gegrimeerde gesig stralend, en jou klere smaakvol en netjies-al gaan julle ook nêrens heen nie! Hy sal dan graag saans huis toe kom, na jou toe, maar dan moet jou hele voorkoms en houding sê: "Hou my vas, ek is joune!" (82-3)
Die klem op verbruikersgoedere ("die duurste parfuum", grimering en kleredrag) val op, en hierop brei Morgan verder uit wanneer sy voorstel dat huisvroue om vyfuur smiddags 'n skuimbad neem as "deel van [hulle] daaglikse roetine" (83). Hierna behoort sy "voordeur toe te stap, omring van die betowerende geure van poeier en reukwater". Die outeur gebruik weer eens storievertelling en deel haar plan om 'n man wat "moeg en verslae" mag tuiskom, "op te beur" (84). Die lesers verneem dat sy dié betrokke aand "'n pienk valletjiesnaghemp en wit leerstewels" aangetrek het om hom tuis te verwelkom, en dat hulle "die aand só geniet [het] dat Charlie skoon vergeet het om iets oor die dag se gebeure te sê (84).
Na aanleiding hiervan ontvang die lesers die voorskrif om met "die een of ander wulpse uitrusting" (84) te eksperimenteer: "Hy moet nooit weet wat om te verwag as hy die deur saans oopmaak nie; dit moet altyd vir hom 'n verrassing bly. Eenkeer is jy 'n spinnende sekskatjie; dan weer 'n onskuldige boerenooi. Wees op 'n keer 'n kabouter of 'n seerower-'n kelnerin of 'n kabaretster. Vang hom altyd onkant."
Morgan stel vervullende seks as 'n voorwaarde vir 'n goeie huwelik, en beskryf die afwesigheid daarvan ook in terme van 'n gebrek, wat sy interessant genoeg koppel aan die vrou se neiging om te neul (wat inderdaad 'n deurlopende tema word): "Seks word vir die vrou 'n frustrasie en selfs vernietigend. Hierdie frustrasie kom gewoonlik op ander terreine tot uiting. Sy word 'n neulpot, of sy verskree almal om haar, of sy sanik" (91). Die woordkeuse "neulpot" en "sanik" sluit dan aan by die leksikale items wat reeds gebruik is om die gebrekkige subjek te tipeer.
Op die vlak van die emosionele kom die aspek van aanvaarding eerstens ter sprake en word toegelig deur die vertelling van hoe sy op 'n dag van haar eggenoot se makelaar die opdrag ontvang het om haar "[.] neus uit [haar] man se sake" te hou en haar "by [haar] huishouding" te bepaal (51). Sy vertel verder dat sy daardeur tot die besef gekom het dat sy haar eggenoot nie "as die onderhouer of die man van die huis aanvaar [het] nie" (51).
Naas die instruksie om die man te aanvaar, is daar ook die drie ander voorskrifte (waarna reeds in die inleiding verwys is). Afdeling twee van die boek (met die subtitel "Volkome man!") word dienooreenkomstig verdeel in hoofstukke met die volgende titels: Aanvaar hom; Bewonder hom; Pas by hom aan; Waardeer hom. Hierdie vier "pilare" van Morgan se oplossing word op twee vlakke deur strukturele beklemtoning benadruk: Eerstens deur dit as hoofstuktitels te stel, maar tweedens ook deur die sintaktiese organisasie van elke titel wat met 'n werkwoord (as imperatief) begin.
Die ideale situasie (betekenis 3) ten opsigte van die outeur se verhouding met haar eggenoot word bereik. Wat aanvaarding betref, vertel sy dat sy die makelaar se opdrag gehoorsaam het: Sy neem die besluit om al sy planne te ondersteun, en "albei [is] soveel gelukkiger" (51).
In die slot van die tweede afdeling vertel die outeur die anekdote van 'n oudkursusganger wat 'n poskaart gestuur het nadat sy "aanvaarding, bewondering, aanpassing en waardering ruimskoots in haar huwelik toegepas" het (76). Sy skryf naamlik: "Hierdie Volkome Vrou is in die sewende hemel-'n weelderige suite in die hartjie van San Juan, met 'n pragtige uitsig oor die Atlantiese Oseaan-pragtige nuwe uitrustings in die kas met die dierbaarste ou in die wêreld as my metgesel" (76).
Die ideale situasie is hier dus bereik, maar dit is een wat klaarblyklik berus op 'n verbruikersgedrewe "beloningstelsel" wat in werking gestel word.
Deurdat die outeur hierdie struktuur van leemte-oplossing-ideale situasie deurgaans deur middel van storievertelling na haar eie lewe en huwelik (of dié van kursusgangers) herlei, realiseer die anekdotiese dimensie van selfhelpboeke (Starker 9) in die geval van Volkome vrou. Die gebruik van storievertelling het waarskynlik die effek dat die lesers Morgan se raad as outentiek ervaar, en dus geneig sal wees om dit te aanvaar. Die feit dat die basiese struktuur van die teks ook op 'n middel-doel-argumentasiepatroon (Steehouder et al. 134-5) berus, help ook mee dat die lesers Morgan se ideale situasie voortdurend in die oog hou.
Die konstruksie van vroulikheid wat op grond van die teks se konteks-sosiale struktuur tot stand kom, is een waarin die vrou in haar oorspronklike toestand gebrekkig is en etikette soos "viswyf" het wat vroulike lesers moet oorreed om dié toedrag van sake te verander. 'n Hipervroulike en aan die patriargie onderdanige-konstruksie word as ideaalbeeld aan hulle voorgehou, wat vir hulle bekombaar is deur 'n gestruktureerde handelswyse wat deur middel van veral werkwoorde uitgespel word. Die vrou wat na hierdie konstruksie streef en dit beliggaam, word beloon deur nie net haar eggenoot se geselskap en guns nie, maar ook materiële goedere wat hy aan haar gee.
Volkome vrou as Christelik-propagandistiese literatuur
Irby (599) skryf dat 'n belangrike tema binne die destydse religieuse regse groepering-en hulle groeiende adviesbedryf-was om die seksuele bevryding van die 1960's nie noodwendig te verwerp nie, maar eerder te omvorm om getroude, heteroseksuele pare seks as 'n goddelike "geskenk" te laat beskou. Johnson (33-5) eggo hierdie gedagte, maar voeg by dat dieselfdegeslagseksualiteite verwerp is, wat aandui dat evangeliesgesinde groeperinge nie net by groter kulturele veranderinge aangepas het nie, maar terselfdertyd aspekte daarvan verwerp het. Die domestikering van seks binne die huwelik (soos dit Johnson dit bestempel) was egter die meganisme om homoseksualiteit sowel as buitehuwelikse seks weg te weer, maar terselfdertyd die skyn van relevansie voor te hou (Johnson 35).
'n Ontleding maak dit duidelik dat 'n Christelik gerigte vorm van gedomestikeerde seks as model in Volkome vrou aan die lesers voorgehou word. In die afdeling oor seks in die boek betrek Morgan twee teksverse om haar lesers daarop te wys dat seks in die huwelik 'n Bybelse imperatief is, naamlik: "onttrek julle nie aan mekaar nie" (1 Korinthiërs 7:5) en "laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees" (Spreuke 5:19) (Volkome vrou 97).5
Verder noem sy in 'n outoriteitsgebaseerde argument (Steehouder et al. 139-40) die Bybel "die beste naslaanwerk" en haal dan Hebreërs 13:4 aan: "Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet [...] ". Haar verklaring van die vers hou 'n gedomestikeerde weergawe van seks voor ("seks is slegs vir die huwelik bedoel"), maar interessant genoeg tipeer sy dit dan verder as "seks [...] sonder beperkings" en maak die uitspraak: "Om seks te beoefen is net so mooi en onskuldig as om maaskaas te eet" (Volkome vrou 98). Morgan se interpretasie van hierdie vers is egter problematies wanneer die volledige vers beskou word: "Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel".6 Hierdie teksvers se betekenis is dus eerder dat buitehuwelikse seks veroordeel word, as wat dit op seks sonder beperkings binne die huwelik dui. Oyetade (147) verskaf in hierdie verband ook die volgende eksegese: "'And the bed undefiled': this means fidelity to the marriage vow. [...] The Christian is to value his relationship with his spouse so highly that he will avoid defiling the marriage bed by keeping himself from any kind of sexual relationship while married." In die lig hiervan lyk Morgan se interpretasie bedenklik, en ontstaan die vermoede dat sy inligting toegevoeg het wat nie eksegeties gegrond is nie.
Dit is wel interessant dat Morgan kies om 'n huishoudelike vergelyking (die eet van maaskaas) in te span om haar lesers van die smetteloosheid van onbeperkte binnehuwelikse seks te oortuig.
Dat vroue hulle mans dien deur 'n bevredigende seksuele verhouding met hom, blyk uit die outeur se siening dat mans deur seks die selfvertroue kan bekom wat hy ook in die openbare domein nodig het: "As jy met verwagting na seks uitsien en dit geniet sal jy jou man se selfvertroue 'n groot stoot vooruit gee. Hierdie selfvertroue sal hy in sy werk indra. Met nuwe energie en selfvertroue sal hy kans sien om die hele wêreld aan te durf!" (Volkome vrou 98). Vir die vrou sal dit materiële winste oplewer, asook die versekering dat haar man nie ontrou sal wees nie: "Jou man wil 'n warm, gemoedelike, gretige maat hê. As jy in die bed suinig is, sal hy ook teenoor jou suinig word. As jy jou tot sy beskikking stel, hoef jy jou nooit te bekommer dat hy ander weivelde sal gaan soek nie" (98). Dit is duidelik dat daar van 'n middel-doel-argumentasiestruktuur (Steehouder et al. 134) gebruik gemaak word om die lesers te oorreed.
Morgan gebruik byvoorbeeld die Bybelse verhaal van Sara (Sarai) en Abraham, wat sy voorhou as 'n voorbeeld van 'n huwelik waar die vrou haar ondergeskik aan die man gestel het, en daardeur 'n gelukkiger verhouding verwerf het. Die diskoersstruktuur van argumentasie op grond van analogie word dus hier ingespan (Steehouder et al. 137-8) om die lesers te oorreed om Sara se voorbeeld te volg.
Die Bybelse figuur van Sarai was volgens Morgan ten tye van haar huwelik met Abraham "'n regte ou neulpot" met "'n lelike innerlike" (in ooreenstemming met haar naam wat Morgan beweer die betekenis van "twissiek" en "boosaardig" het) (Volkome vrou 70), wat haar dus skakel aan die gebrekkige "viswyf"-beeld. Wanneer sy volgens Morgan die goddelike opdrag nakom om haar aan Abraham te onderwerp en hom "my heer" noem (70), verander God haar naam na "Sara", wat "prinses" beteken. Die oplossing soos hier bo genoem, word volgens Morgan dus Bybels gefundeer, en voorgehou as iets wat die lesers behoort na te volg. Elders stel Morgan dit eksplisiet dat sy die Bybel as bron hiervoor inspan en skryf: "Die Bybelse oplossing is eenvoudig. 'Vroue, wees aan julle eie manne onderdanig, soos aan die Here', lees dit. God wil dit so dat die vrou onder haar man se leiding sal staan" (62).
In die Bybelse geval word die ideale situasie volgens Morgan eers bereik wanneer "Sara by Abraham aangepas het". Hierdie aanpassing het haar verander in "'n rustige en sagmoedige vrou" oor wie se dood haar man "ontroosbaar" was sodat hy "dae lank oor haar getreur" het (71) Hierdie Sara-karakter word dan as sjabloon vir die ideale vrou opgestel: Só 'n vrou word vir haar man "waarlik mooi. Sy word 'n kosbare juweel, die wese van vroulikheid en sy koningin" (71).
'n Nadere ondersoek van die betekenis van die Bybelse naam Sarai, dui egter aan dat Morgan se verklaring daarvan as "twissiek" en "boosaardig" (70) foutief is. Sasson (307) noem dat beide die name Sarai en Sara "prinses" beteken, met die verskil dat Sarai die genitiefsvorm is ("my prinses") teenoor Sara wat "prinses" is. Hieruit kan moontlik afgelei word dat Morgan haar lesers probeer mislei deur Sarai voor te stel as 'n boosaardige, twistende vrou wat deur haar onderwerping aan Abraham in 'n "prinses" getransformeer is. Die Bybelse gegewe word dus gemanipuleer om die lesers te laat glo dat Morgan se filosofie ook Bybels begrond is, ten einde hulle gedrag op 'n propatriargale wyse te rig. Ek wil dus argumenteer dat Volkome vrou hier 'n propagandistiese kenmerk vertoon, in ooreenstemming met Jowett en O'Donnell (7) se beskrywing van propaganda as "the deliberate, systematic attempt to shape perceptions, manipulate cognitions, and direct behavior to achieve a response that furthers the desired intent of the propagandist". Omdat die argument dan op 'n vals voorstelling berus, eggo dit ook die siening van propaganda as "organized mass persuasion with covert intent and poor or nonexistent reasoning" (Jowett en O'Donnell 3-4).
Die Christelike geloof speel 'n prominente rol in die teks, met Bybelse inhoude wat met die selfhelpdimensie daarvan vervleg word. Morgan gebruik opnuut storievertelling en die lesers verneem dat haar geloofslewe-soos haar huwelik-'n laagtepunt bereik het: Sy " [...] het die bodem bereik [...] geskei en losgemaak van God" (152). Die oplossing hiervoor is om "Hom in jou lewe in te nooi" (154) en toe te laat dat die gebroke self na God se wil verander word, soos sy dit verwoord in 'n gebed wat sy vir die lesers voorstel: "Ek [...] ontvang U as my Redder. [...] Vorm my en maak my slegs soos U wil" (154). Wanneer die ideale posisie hierna bereik word, word die vrou aangebied as "omvormde" persoon wat "verbind [is] met die ware Kragbron-die Lig van die wêreld" (153). Die slotsinne van die boek impliseer dan ook dat die status van 'n "volkome vrou" slegs bereikbaar is wanneer die vrou se geestelike gebrekkigheid deur haar verhouding met God opgehef word: "God wag en wil graag jou lugleegte vul sodat jy volkome mens kan wees. Jy kan nou, op hierdie oomblik, Volkome Vrou word" (154).
Daar word dus duidelik twee parallelle lyne in die boek getrek van hoe die twee situasies van gebrekkigheid (aards en geestelik) oorkom kan word: enersyds deur onderwerping aan die man en andersyds deur oorgawe aan God. Beide hierdie aksies bring haar uit by die toestand van om "volkome vrou" te wees. Ek reken dit is moontlik om tot die interpretasie te kom dat 'n aardse sowel as goddelike patriargie hierdeur as ideale toestande voorgehou word.
Die Christelike dampkring van die teks sorg dus vir die oprigting van 'n geslote sisteem wat geen ruimte laat vir andersoortige denk- en handelswyses nie.
Die konstruksie van vroulikheid wat op grond van die teks se Christelik-propagandistiese eienskappe tot stand kom, is eweneens een van gebrekkigheid, maar hier word dit spesifiek op 'n geestelike vlak geplaas. Die Bybel figureer sterk as gesaghebbende bron, maar Bybelse gegewens word deur die outeur gemanipuleer om die lesers se sosiale kognisie te rig. Die lesers word weer eens deur 'n ideale konstruksie aangespoor-naamlik die vrou wat haar aan die goddelike gesag onderwerp en sodoende die "wese van vroulikheid" besit, oftewel, die "koningin". Binne hierdie religieuse sfeer geld 'n gedomestikeerde konstruksie van seks, maar wat dan op bedenklike wyse as "sonder beperkings" opgestel word. Vir haar onderwerping en oorgawe aan gedomestikeerde seks word die vrou dus op materiële wyse beloon, maar sy word óók beloon deur haar eggenoot se getrouheid aan haar.
Gevolgtrekking
Hierdie artikel wou Volkome vrou (1976) as moontlike werktuig van 'n bepaalde sosiale agenda, naamlik die behoud van die patriargie, ondersoek. Wat betref die gestelde hipotese kon daar bevestig word dat: (1) Die teks die struktuur van die selfhelpboek vertoon, en dat dit, tesame met die Christelike en propagandistiese elemente van die teks, help om 'n propatriargale boodskap oor te dra. (2) Bepaalde diskoersstrukture-veral argumentasiestrukture wat nie almal bo verdenking is nie-in plek gestel word om bepaalde antifeministiese konstruksies tot stand te bring en as aanloklik aan die lesers voor te hou.
Histories sou Volkome vrou die patriargie dus bevorder deur middel van die beïnvloeding van lesers se sosiale kognisie. Daar kan dus vermoed word dat eietydse weergawes (soos byvoorbeeld Wiid se boeke en seminare of The Tradwives Club se plasings) 'n soortgelyke invloed kan uitoefen. Verdere studies kan dus onderneem word om ook eietydse tekste met behulp van 'n soortgelyke metode te bestudeer.
Aantekeninge
1 Kobie Gouws was ook die outeur van Bomepraat met ons (Perskor, 1976), Niks verniet nie (Femina, 1982) en En sy lag oor die dag wat kom (J. P. van der Walt, 1983). Geen verdere inligting oor haar kon opgespoor word nie.
2 Hierdie uitgawe word gebruik op grond van die bekombaarheid daarvan vir die outeur.
3 Fairclough (13) beskryf sosiale verontregting soos volg: "'Social wrongs' can be understood in broad terms as aspects of social systems, forms or orders that are detrimental to human well-being and could in principle be ameliorated if not eliminated, though perhaps only through major changes in these systems, forms or orders. Examples might be poverty, forms of inequality, lack of freedom or racism. Of course, what constitutes a 'social wrong' is a controversial matter, and CDA is inevitably involved in debates and arguments about this that go on all the time."
4 Hierdie innerlike logiese struktuur staan naas die eksterne struktuur van die teks, wat spesifiek op die makrostrukturele indeling daarvan in afdelings en hoofstukke slaan.
5 Afdeling 3.
6 Volgens die 1953-uitgawe wat deur lesers in die 1970's gebruik sou word.
Geraadpleegde bronne
Allende, Isabel. The Soul of a Woman. Bloomsbury, 2021. [ Links ]
Bell, Erin. "Feminist Literary Criticism." The Wiley Blackwell Encyclopedia of Gender and Sexuality Studies, 2016. DOI: https://doi.org/10.1002/9781118663219.wbegss770. [ Links ]
Bjork-James, Sophie. "Book Review. This is Our Message: Women's Leadership in the New Christian Rigfrt by Emily S. Johnson and The Preacher's Wife: The Precarious Power of Evangelical Women Celebrities by Kate Bowler." Journal of the American Academy of Religion vol. 88, no. 2, 2020, pp. 594-9. DOI: https://doi.org/10.1093/jaarel/lfaa006. [ Links ]
Dolby, Sandra K. Self-Help Books: Why Americans Keep Reading Them. U of Illinois P, 2005. https://www.jstor.org/stable/10.5406/j.ctt2ttbv6. [ Links ]
Donovan, Josephine. "Introduction to the Second Edition: Radical Feminist Criticism." Feminist Literary Criticism: Explorations in Theory, geredigeer deur Josephine Donovan. 2de uitgawe. U P of Kentucky, 1989, pp. ix-xx. [ Links ]
Encyclopedia.com. "Morgan, Marabel". 2019. https://www.encyclopedia.com/arts/news-wires-white-papers-and-books/morgan-marabel. [ Links ]
Fairclough, Norman. "Critical Discourse Analysis." The Routledge Handbook of Discourse Analysis, geredigeer deur James Paul Gee & Michael Handford. Routledge, 2012. [ Links ]
Goodreads. "The Total Woman: How to make your marriage come alive". 2023. https://www.goodreads.com/en/book/show/868671. [ Links ]
Hezakya Newz & Films. "1976 Special Report: 'The Total Woman'". YouTube. 11 Apr. 2019. https://www.youtube.com/watch?v=WDCPnO-oaoo. [ Links ]
Howard, Angela & Sasha Ranaé Adams Tarrant. Antifeminism in America: A Historical Reader. Routledge, 2000. [ Links ]
Irby, Courtney A. "Book Review. Addicted to Lust: Pornography in the Lives of Conservative Protestants by Samuel L. Perry and Biblical Porn: Affect, Labor, and Pastor Mark Driscoll's Evangelical Empire by Jessica Johnson. Journal of the American Academy of Religion vol. 88, no. 2, 2020, pp. 599-603. DOI: https://doi.org/10.1093/jaarel/lfz090. [ Links ]
Johnson, Emily S. This is Our Message: Women's Leadership in the New Christian Rigfrt. Oxford U P, 2019. [ Links ]
Jowett, Garth S. en O'Donnell, Victoria. Propaganda & Persuasion. 5de uitgawe. Sage, 2012. [ Links ]
Marais, Susanna. "Die uitbeelding van die vrou in Huisgenoot in 1963 en 2013: 'n Multimodale diskoersanalise." MA-tesis, U Stellenbosch, 2016. http://hdl.handle.net/10019.1/98746. [ Links ]
Maynard, Joyce. "The liberation of Total Woman". The New York Times. 28 Sep. 1975. https://www.nytimes.com/1975/09/28/archives/the-liberation-of-total-woman-if-it-is-the-aim-of-the-steinems.html. [ Links ]
Morgan, Marabel. Volkome vrou. Christelike Uitgewersmaatskappy, 1978. [ Links ]
Oliver, E. 2008. "Die invloed van die Christelike geloof op die Suid-Afrikaanse samelewing." In die Skriflig/In Luce Verbi vol. 42, no. 2, 2008, pp. 305-26. [ Links ]
Oyetade, M. O. "Sanctity of Sexuality within Marriage: An Exegetical Study of Hebrews 13:4." KIU Journal of Humanities vol. 3, no. 2, 2018, pp. 143-51. [ Links ]
Sasson, G. E. "The Symbolic Meaning of Biblical Names as a Narrative Tool: Moses, Abraham, and David." Storytelling, Self, Society vol. 11, no. 2, 2015, pp. 298-313. DOI: https://doi.org/10.B110/storselfsoci.1L2.0298. [ Links ]
Singleton, Andrew. "Good Advice for Godly Men: Oppressed Men in Christian Men's Self-Help Literature." Journal of Gender Studies vol. 13, no. 2, 2004, pp. 153-64. DOI: https://doi.org/10.1080/0958923042000217846. [ Links ]
Stankorb, Sarah. "Remembering 'The Total Woman' Nearly Fifty Years Later". 29 Mar. 2022. Medium. https://sarahstankorb.medium.com/remembering-the-total-woman-fifty-years-later-e01845c5db58. [ Links ]
Starker, Steven. Oracle at the Supermarket: The American Preoccupation with Self-Help Books. Transaction, 2002. [ Links ]
Steehouder, Michaël et al. Leren communiceren. 7de hersiene druk. Noordhoff, 2016. [ Links ]
The Tradwives Club. "It's interesting to see the tides turning". Instagram. 31 Mei 2023. https://www.instagram.com/p/Cs4ivpvy0Z/?utm_source=ig_web_copy_link&igshid=MzRlODBiNWFlZA==. [ Links ]
_____."All women need and desire to be led." Instagram. 23 Aug. 2022. https://www.instagram.com/p/Chmi4FBOf9M/?utmsource=igweb_copy_link&igshid=MzRlODBiNWFlZA==. [ Links ]
Van Dijk, Teun A. "Critical Discourse Analysis." The Handbook of Discourse Analysis, geredigeer deur Deborah Schiffrin, Deborah Tannen & Heidi E. Hamilton. Blackwell, 2001, pp. 352-71. [ Links ]
_____. "Principles of Critical Discourse Analysis." Discourse & Society vol. 4, no. 2, 1993, pp. 249-83. http://www.jstor.com/stable/42888777. [ Links ]
Van Niekerk, M. "Strominge in die vrouebewegings: 'n Voorlopige raamwerk." Koers vol. 53, no. 1, 1988, pp. 59-72. [ Links ]
Vandermeade, Samantha L. "Fort Lipstick and the Making of June Cleaver: Gender Roles in American Propaganda and Advertising, 1941-1961." Madison Historical Review vol. 12, no. 1, 2015. [ Links ]
Webb, Marcia, Kathy Stetz & Kristin Hedden."Representation of mental illness in Christian self-help bestsellers." Mental Health, Religion & Culture vol. 11, no. 7, 2008, pp. 697-717. DOI: https://doi.org/10.1080/13674670801978634. [ Links ]
WorldCat. "The total woman". 2023. https://www.worldcat.org/title/637937907. [ Links ]
Submitted: 2 August 2023
Accepted: 17 January 2024
Published: 28 June 2024












