Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.1 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i1.16067
RESEARCH ARTICLES
Interseksionele feminisme in Afrikaanse poësie: Lynthia Julius se Uit die kroes
Intersectional feminism in Afrikaans poetry: Lynthia Julius's Uit die kroes (From the kroes)
Hennely Nel
Meestersgraad behaal aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika. E-pos: hennelycnel@gmail.com https://orcid.org/0009-0008-6230-0080
ABSTRACT
In the current transnational discourse on fourth-wave feminism, "intersectional feminism" is a fundamental concept. The representation of marginalised voices of especially Black women from underrepresented contexts, such as the Global South, is emphasised in an attempt to decolonise the formal domains of literature, academia and the media. Historically, there is a gap in the representation of diverse Black female voices in South African literatures. However, there has recently been an increase in the publication of the literary texts by previously marginalised voices, especially in Afrikaans poetry. Diverse perspectives are shared regarding the complexities of the intersection of identity categories including race, gender, culture, identity, class, language and socioeconomic status in South African society, and how it affects the previously marginalised. A voice that represents intersectional feminist issues in the South African and Afrikaans contexts can be found in Lynthia Julius's debut poetry book, Uit die kroes (From the kroes, 2020). In this article, the significance of Julius's unique, intersectional feminist viewpoint, with stories and perspectives from the Northern Cape, is investigated. The focus is specifically on how Julius represents a 'triple marginalised' voice in the South African and Afrikaans contexts with regard to her gender, race and language. Furthermore, I will discuss how the uniqueness of her collection of poems and Northern Cape Afrikaans, that have rarely been provided with a platform in the Afrikaans literary canon, contribute to giving a voice to the historic 'voiceless'. The importance of Julius's voice and how it highlights the heterogeneity of previously marginalised groups in South Africa, are also explored. In conclusion it is argued that the publication of poets with diverse intersectional feminist perspectives, such as Julius, can be deemed a positive step in the direction of the decolonising process of the Afrikaans literature and feminism.
Keywords: intersectional feminism in Afrikaans literature, decolonisation, Afrikaans feminist poetry, Lynthia Julius, triple marginalisation.
Inleiding
In hierdie artikel word die unieke postkoloniale en interseksionele feministiese perspektief van Lynthia Julius in haar debuutbundel Uit die kroes (2020) ondersoek. Haar bydrae tot die Afrikaanse literatuur as 'n Coloured Afrikaanse vrouedigter word uitgewys, asook hoekom 'n voorheen gemarginaliseerde vrouestem soos Julius s'n met stories en perspektiewe uit die Noord-Kaap belangrik is in die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse literêre konteks.1 Die uiteenlopende wyses waarop interseksionele feminisme in haar werk neerslag vind, word hiermee saam bespreek.
Julius word ondersoek as 'drievoudig gemarginaliseerd' in die Suid-Afrikaanse konteks op grond van gender, taal en ras. Die argument word gemaak dat digters soos Julius, met haar unieke Noord-Kaapse Afrikaans, 'n bydrae lewer tot die verteenwoordiging van die uiteenlopende perspektiewe van voorheen gemarginaliseerde stemme en dat hulle deur middel van poësie 'n stem aan die historíese 'stemloses' gee. Daar word uitgewys dat die toenemende publikasie van voorheen gemarginaliseerde stemme soos Julius s'n moontlik toegeskryf kan word aan die huidige wêreldwye fokus op feminisme, wat veral aangevuur word deur feministiese bewegings soos #MeToo en #TimesUp in die sosiale media, bekend as "hashtag feminism" (hutsmerkfeminisme) (Bonthuys 241 en 244). In vierdegolffeminisme word die verteenwoordiging van voorheen gemarginaliseerde stemme van veral Swart vroue uit onderverteenwoordigde kontekste, soos die Globale Suide, op die voorgrond geplaas in die poging om die formele domeine van onder meer die media, literêre kanons en akademie te dekoloniseer.2
Julius deel in haar bundel 'n perspektief van vroue wie se stemme selde, indien ooit voorheen gehoor is, aangesien Swart vroue in Suid-Afrika gedurende apartheid-en selfs vandag nog-uitgesluit is deur dominante uitgewers en die amptelike akademiese wêreld (Baderoon 1). Swart vroue het geleidelik vanuit die randgebiede begin om 'n nuwe infrastruktuur vir poëtiese uitdrukking te skep, "creating more layered visions of Black life [...] and envisioning histories and futures that had never been put into words before" (Baderoon 1).3 Hierdie argument sluit ook by bell hooks se feministiese term "coming to voice" aan: die idee dat voorheen gemarginaliseerde vroue hul geïndividualiseerde protesterende stemme ontdek het en dat daar nou beter geleenthede en bronne bestaan wat hulle kan gebruik om hul opinies vrylik te lug (hooks 28). Vir stemme uit die marge is daar tans ruimte vir die verkenning van die self in 'n meer eietydse feministiese diskoers, terwyl daar krities met die dominante Westerse en wit perspektiewe omgegaan word (hooks 20).
Ek gee 'n kort oorsig oor hoe die hernude fokus op feminisme, interseksionaliteit en die verteenwoordiging van voorheen gemarginaliseerde vroue in die sosiale media moontlik as 'n motivering vir die toenemende publikasie van Afrikaanse vrouedigters uit die marge beskou kan word. Daarna word die herskepping van Afrikaans deur middel van diverse verteenwoordiging in die Afrikaanse poësie bespreek. Die verskeie maniere waarop interseksionele feminisme en die noodsaak daarvan in die samelewing in Uit die kroes uitgebeeld word, word uiteengesit. Daar word voorts geïllustreer hoe interseksionele feminisme in poësie en die toenemende publikasie van voorheen gemarginaliseerde, eietydse vrouestemme as 'n stap in die rigting van die dekolonisering van die Afrikaanse literatuur, asook feminisme, gesien kan word.4
Feminisme in die Afrikaanse literêre konteks en verder
Dit blyk dat dit in die Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse literatuur, langer as in die Anglo-Amerikaanse kontekste geneem het om 'n beduidende feministiese diskoers en kritiek te vestig. Combrink (in Du Plessis en Steenberg 81) noem in 1987 dat 'n Afrikaanse feministiese literatuurkritiek "veg om te bestaan" en in 1991 dui Du Plessis en Steenberg (81) op die "leemte" in die Afrikaanse kanon met verwysing na feministiese literatuur. Viljoen ("Antjie Krog en haar literêre moeders: die werking van 'n vroulike tradisie in die Afrikaanse poësie" 6) is van mening dat wanneer Antjie Krog in 1970 debuteer, daar steeds 'n sterk manlike tradisie in Afrikaanse poësie bestaan. Voor dan is slegs enkele vrouedigters as deel van die Afrikaanse literêre kanon beskou, naamlik Elisabeth Eybers, Olga Kirsh, Ingrid Jonker, Ina Rousseau en Sheila Cussons (Viljoen, "Antjie Krog en haar literêre moeders 6). Bonthuys (249) sluit verder hierby aan en noem dat hoewel daar verskeie gekanoniseerde Afrikaanse vroueskrywers is, daar nie soseer 'n duidelike feministiese tradisie in Afrikaanse letterkunde uitgewys kan word nie. Antjie Krog word as een van die min Afrikaanse skrywers aangedui wat in die laat 1990's en vroeë 2000's werk met 'n sterk feministiese aanslag gepubliseer het. Daar word ook melding gemaak van onder meer Wilma Stockenström, Joan Hambidge, Marlene van Niekerk, Jeanne Goosen en Marlise Joubert as feministiese Afrikaanse skrywers (De Jong en Murray), maar daar is geen aanduiding van Swart Afrikaanse feministiese skrywers nie, ten spyte van die feit dat die E. K. M. Dido, na wie Bonthuys verwys as "een van die sterkste feministiese stemme in Afrikaans", reeds in die 1990's verskeie romans oor die ervaringe en posisie van voorheen gemarginaliseerde vroue in Suid-Afrika gepubliseer het (Bonthuys 249; Cochrane 34).
Die hernude internasionale fokus op feminisme, vroueregte en die effek wat sistemiese onderdrukking op voorheen benadeelde groepe het, word deur die invloedryke mag van die sosiale media en hutsmerkfeminisme aangevuur. Bewegings soos #TimesUp en #MeToo wou onder meer verseker dat voorheen gemarginaliseerde vroue se stemme nou gehoor word en dat hulle stories vanuit hulle eie perspektief vertel word (Bonthuys 241; Parry, Johnson en Wagler 8). Sosiale media word dus as 'n platform gebruik waar die persoonlike narratief 'n politieke narratief word. Bonthuys (244) argumenteer dat hutsmerkfeminisme deel uitmaak van die groter sambreelbeweging wat as "derdegolffeminisme" bekend staan, terwyl ander navorsers meen dat dit 'n aanduiding van 'n vierde golf van feminisme is (Parry et al. 1; Shiva en Kharazmi 129; Munro 23). Daar bestaan nie 'n konsensus rakende die begin-en einddatum van die verskillende feministiese golwe nie-spesifiek ook nie van die einde van die derde golf en/ of die begin van 'n vierde golf in die transnasionale feministiese diskoers nie. Volgens Shiva en Kharazmi (129) is die vierde golf se mees beduidende kenmerk dat dit op die gebruik van sosiale media staatmaak, en die lae kostes en gebruikersvriendelikheid daarvan vroue aangemoedig het om hul protesterende stemme teen verskeie vorme van geslagsgebaseerde geweld en ander ongeregtighede te laat hoor. Daar word geargumenteer dat dié internetgebaseerde feministiese beweging daarna streef om die onderwerp van "interseksionaliteit", wat sentraal in derdegolffeminisme gestaan het, weer op 'n eietydse wyse in die diskoers te implementeer. Nog 'n doelwit is om te poog om die tekortkominge van die vorige golwe reg te stel deur dié wat deur verskeie onderdrukkende sisteme soos rassisme, seksisme en klassisme benadeel word, te verteenwoordig (Shiva en Kharazmi 129).
Soos in derdegolffeminisme, word vroulike diversiteit en die idee van 'vrouwees' sonder beperkende voorskrifte in vierdegolffeminisme beklemtoon. Gedurende derdegolffeminisme is daar wegbeweeg van die dominante Westerse denkwyse van die eerste en tweede feministiese golwe om sodoende die diversiteit van vroue reg oor die wêreld te erken en om inklusiwiteit in die feministiese diskoers te bevorder. Belangrike Swart feministe het veral in derdegolffeminisme na vore gekom, onder andere bell hooks, Audre Lorde en Gloria Anzaldua, en het die homogene uitbeelding van wie as 'vroue' in veral eerste- en tweedegolffeminisme geklassifiseer word, sterk gekritiseer (Munro 24). Feministe soos hooks het daarop aangedring dat die konsep van 'Swart feminisme' verbreed word en dat Eurosentriese, Westerse en wit feministiese diskoerse nie as die enigste 'regmatige' feminisme beskou moet word nie: "[O]nly a synthesis of class, race, gender and sexuality can lead us forward, as these form the matrix of Black women's lives" (Amos en Parmar 18). Die teoretiese konseptualisering en beskrywings van die sogenaamde 'Derde wêreld-vrou' en Swart vroue binne sekere hoofstroom wit feministiese literatuur is bevraagteken omdat dit dikwels rassistiese en stereotiperende ondertone het en nie die ware, dinamiese ervaringe van Swart vroue en hulle sosio-ekonomiese en -politieke marginalisering reflekteer nie (Mohanty, "Under Western Eyes: Feminist Scholarship and Colonial Discourses" 193). Daar is ook soms 'n wanvoorstelling van die 'Derde wêreld-vrou' deur dié in magsposisies, wat lei tot die vraag oor wie vir die "subaltern" praat en die beperkings wat daarmee gepaard gaan (Spivak 308). Die konsep 'interseksionaliteit' is gevolglik in 1989 deur 'n regskundige, Kimberlé Crenshaw, gemunt om na die wisselwerking tussen verskeie onderdrukkende sisteme wat veral Swart vroue se lewens daagliks beïnvloed, te verwys (140). Hierdie proses vereis dat vroue uit diverse rasse, etnisiteite, kulture en klasse, wat interseksioneel deur sosiopolitieke kwessies beïnvloed word-nie bloot vroue uit die sogenaamde 'Weste' nie-ingesluit moet word in die postkoloniale, transnasionale diskoers oor feminisme.
Die term 'interseksionaliteit' skakel ook met Deborah King se "multiple jeopardy-teorie" (1988), wat op die uniekheid van Swart vroue se posisie ten opsigte van veelvoudige prosesse van onderdrukking dui. Crenshaw (139) wou met hierdie term 'n 'Swart feministiese kritiek' skep wat uitwys dat Swart vroue nie net op grond van hulle gender gemarginaliseer word nie, maar terselfdertyd ook op grond van klas, ras en ander individuele onderdrukkende sisteme uitgesluit word. Crenshaw (140 en 152) beweer dat feministiese en anti-rassistiese teorie 'n "single-issue framework" gebruik wat nie die interaksie van ras en gender in Swart vrouens se lewe akkuraat reflekteer nie, omdat dit te werk gaan asof hierdie sisteme onafhanklik van mekaar is. Daar moet verder benadruk word dat die probleem van uitsluiting nie slegs beperk is tot die interseksionele interaksie van ras en gender op Swart vrouens se lewens nie. Daar is uiteenlopende faktore wat Swart vroue op 'n interseksionele en unieke wyse marginaliseer, onder andere sosio-ekonomiese status, geopolitieke ligging, taal, onderrig en seksuele oriëntasie. Swart vroue ervaar nie net dubbele diskriminasie, maar soms ook veelvoudige diskriminasie (Crenshaw 152; King).
Hoewel die konsep van interseksionaliteit ongetwyfeld 'n waardevolle bydrae tot feminisme is, wys Nash (13) daarop dat die huidige konstante en obsessiewe fokus op interseksionaliteit, veral in institusies, die gevaar inhou om alleenlik Swart vroue se werk as die oplossing vir die sistemiese probleme soos rassisme en seksisme voor te hou, wat daartoe lei dat Swart vroue en Swart feminisme as 'n "finite resource" beskou word. Daar word die misleidende idee geskep van Swart feministe as "a set of disciplinarians who quite literally whip the field into shape with their demands", wat dan bydra tot die negatiewe stereotipe van Swart vroue wat altyd op die verdediging is (Nash 13). Nash (13) meen dat Swart vroue se sogenaamde 'verdedigende' houdings as gevolg van institusionele kondisies geskep word in die proses om interseksionaliteit te bevorder, en hulle word gesien as beide "saviours" en "world-ending figures", met die gevolg dat interseksionaliteit nie net as 'n belofte beskou word nie, maar ook 'n gevaar. Hierdie idees lei dan tot 'n 'hulle' versus 'ons' mentaliteit, wat afbreek doen aan die hoofdoel van eietydse feminisme om saam teen onderdrukkende sisteme te veg.
Met die oog op hoe interseksionaliteit in Uit die kroes (2020) neerslag vind, kan geargumenteer word dat Julius gemarginaliseerd is op grond van haar ras, as die apartheid- en koloniale geskiedenis van Suid-Afrika in ag geneem word, asook haar gender, as die oorwegend patriargale strukture waarbinne vroue funksioneer in ag geneem word. Verder plaas die feit dat sy in Afrikaans skryf haar ook in 'n perifere posisie omdat Afrikaans as 'n perifere taal geklassifiseer kan word (Heilbron en Sapiro 95-6). Aangesien Julius boonop in 'n 'ongestandaardiseerde variëteit' van Afrikaans skryf, of ten minste in sekere gedigte, plaas dit haar nóg verder van 'n sentrale posisie in die samelewing, asook die sosiopolitieke en akademiese konteks af (Odendaal 658; Le Cordeur 762). Sy is dus drievoudig gemarginaliseerd.
Lay en Daley (59) kritiseer die gebrek aan praktiese studies en toetse vir feministiese teorie om die 'ondersoekte teorie' tot 'n 'bevestigde teorie' te bevorder. Hulle noem dat daar te veel studies is wat bloot feministiese teorie bespreek en konseptualiseer, maar dat daar baie min konkrete bewyse van die praktiese toepassing van feminisme bestaan. Daar is 'n groot behoefte aan empiriese bewyse wat demonstreer hoe die teorie en praktyk saamwerk, asook gevallestudies oor die konkrete teoretiese ontwikkeling van feminisme in die samelewing (Lay en Daley 59). Die toenemende vroueregte-aktivisme en protes gedurende die afgelope paar jaar kan as 'n praktiese verteenwoordiging van interseksionele feministiese teorie beskou word. Volgens Flores, Gómez, Roa en Whitson (751) kan die internet en sosiale media as 'n soort deur gebruik word sodat nuwe generasies van vroue 'n skakel tussen hulle eie ervarings van genderdiskriminasie en feministiese teorieë kan opmerk, soos in Julius se poësie gesien kan word.
In vierdegolffeminisme word moderne tegnologie soos sosialemediaplatforms dus deur feministe gebruik om die mikropolitieke kwessies wat op 'n persoonlike en interseksionele wyse ervaar word, onder andere seksuele teistering, gelyke betaling en reproduktiewe regte (wat in die vorige feministiese golwe reeds uitgewys is), in meer inklusiewe en internasionale diskoerse te situeer en versprei. Daar word op die motto van die tweede golf, "the personal is political" voortgebou, maar terselfdertyd sterk klem gelê op inklusiwiteit en die doel om die hegemoniese 'witheid', rassisme en klassisme van vorige hoofstroom feministiese golwe teen te gaan (Bonthuys 244; Munro 23). Parry et al. (5) meen dat daar in hierdie stadium vier hooftendense in vierdegolffeminisme is, naamlik die oorvleueling van die verskeie feministiese golwe, tegnologiese mobilisering, verbondenheid deur middel van globalisering en 'n vinnige, uiteenlopende reaksie op seksuele geweld. Die gebruik van die internet as platform om seksisme, vrouehaat en homogene en binêre verteenwoordiging in alledaagse retoriek, die media, literatuur en televisie te problematiseer en bevraagteken, wat Munro (23) na verwys as "call-out culture", staan dus sentraal in vierdegolffeminisme.
Net soos in die res van die wêreld, kan 'n toenemende aandrang op die belangrikheid van vroueregte, grootliks in reaksie op die stygende tendens in geslagsgebaseerde geweld, ook sedert 2015 in Suid-Afrika gesien word met aktivisme in veral die sosiale media (Bonthuys 244). Dié feministiese aktivisme sluit bewegings soos #AmINext in, wat in 2019 posgevat het nadat 'n negentienjarige vrou wat aan die Universiteit van Kaapstad studeer het, Uyinene Mrwetyana, brutaal in 'n poskantoor vermoor is (Lyster). Met hierdie bewegings het vroue hul veiligheid en gebrek aan mag in die land bevraagteken. Suid-Afrikaanse vroue het begin protesteer teen onder meer die normalisering van verkragting, moord, transfobie en homofobie en wou die owerhede oorreed om met strenger wette op te tree teenoor die misdadigers wat vroue en ander gemarginaliseerde persone mishandel en vermoor. Volgens Baderoon (8-9) staan die rol van feministiese navorsers, aktiviste en skrywers sentraal in hierdie sosiopolitieke wending: "Chilling rates of sexual violence have marked our country for centuries, so common that it has been rendered banal and unremarkable, until language draws attention to its unendurable cost for women".
Sterk vrouestemme kom nie net in die sosiale media en protesaksie in Suid-Afrika voor nie, maar onlangs progressief ook in die Afrikaanse letterkunde, vernaamlik in poësie. Baderoon (1 en 4) argumenteer dat Suid-Afrikaanse Swart vroue se poësie die openbare ruimte herskep het en dat hulle, deur middel van hul skryfwerk, op die waarde en uitbeelding van sogenaamde vrouekwessies in die letterkunde aangedring het. Hierdeur het Swart vroue dus nuwe teikenlesers vir poësie tot stand gebring. Dit is daarom noemenswaardig dat Coloured Afrikaanse vrouedigters ook sedert 2008 toenemend deur bekende uitgewers in Suid-Afrika gepubliseer word. Dié uitgewers sluit in Kwela, Protea Boekhuis, Human & Rousseau en Modjaji Books, en hierdie Coloured vrouedigters is onder andere Veronique Jephtas, Lynthia Julius, Ronelda Kamfer, Jolyn Phillips en Shirmoney Rhode.5 Hierdie tendens dui op die herskepping van die openbare ruimte en skepping van nuwe teikenlesers vir poësie waarna Baderoon verwys.
Die spreker in die digbundel Uit die kroes bied 'n geïndividualiseerde, feministiese perspektief op huidige kwessies in Suid-Afrika. Hierdie onderwerpe sluit in, onder andere, Coloured vroue se rol in die Suid-Afrikaanse samelewing, hul identiteit, alledaagse lewens, opvoeding, herkoms, armoede, feminisme, patriargie, geslagsgebaseerde geweld, geestesgesondheid, die spreker se komplekse verhouding met Afrikaans, en die politiek. Dit is noemenswaardig dat voorheen gemarginaliseerde Afrikaanssprekendes 'n groot rol speel in die (her)bewusmaking dat Afrikaans nie net die taal van die onderdrukker is nie, maar ook die taal van die onderdrukte (Bonthuys 249; Willemse, "More than an oppressor's language: reclaiming the hidden history of Afrikaans"). Die toename in die publikasie van Coloured Afrikaanse vrouedigters dui op 'n "nuwe feministiese geluid" (Bonthuys 244) en kan as 'n aanduiding van die skepping van 'n sterk, eietydse feministiese kritiek in die Afrikaanse letterkunde gesien word.
Problematiek rondom rassebenamings en keuse van die term 'Coloured'
Die gebruik van oorkoepelende rasverwante terme in akademiese en literêre navorsing, byvoorbeeld in die diskoers oor 'Swart', 'bruin' en/of 'Coloured' skrywers, is omstrede en problematies. Dit word as essensialisties en imperialisties beskryf wanneer die individualiteit en diversiteit van skrywers in ag geneem word (Vermeulen 68, Bonthuys 247 en Butler 15). Le Cordeur (759) argumenteer dat die term "Kleurling" (Coloured) na mense verwys wat onder die apartheidswetgewing as "Kleurling" geklassifiseer is en daarom dikwels 'n negatiewe konnotasie het. Daar word verder beklemtoon dat die terme "bruin", "wit" en "swart" meer aanvaarbaar is om diversiteit te illustreer, aangesien hierdie terme, anders as "Kleurling/Coloured", nie in die apartheidswetgewing gebruik is nie (Le Cordeur 759). Kannemeyer bou voort op hierdie argument en noem dat woorde soos "coloured" "debatte ontlok". Volgens Cochrane (32) is die benaming "swart Afrikaanse skrywer" sedert die Eerste Swart Afrikaanse Skrywersimposium in 1985 deur skrywers gebruik om in opstand te kom teen die hegemoniese stelsel in Suid-Afrika wat slegs die belange van wit skrywers geprioritiseer het. Dit is gebruik om solidariteit te skep onder gemarginaliseerde skrywers wat deur die apartheidsregering as 'nie-wit' geklassifiseer is. Volgens Willemse ("Die Swart Afrikaanse skrywersimposium-oorspronge en konteks" 206) was die besluit op die benaming "swart Afrikaanse skrywers" 'n ideologiese keuse met 'n bewuste politieke doel wat hul opposisionaliteit en ondermyning van die hegemoniese Afrikaanse sisteem van die tyd beklemtoon het. Die term dui dus nie op die skrywers se velkleur nie, maar eerder op 'n spesifieke tradisie wat die "homogenisering [...] en etniese chauvinisme", sistemiese onderdrukking en uitsluiting teengaan (Van Wyk 96). Dié stelling kan as teenstrydig beskou word, aangesien die term "swart" dan ook 'n hele groep mense saambondel wat met verskillende etnisiteite, kulture en identiteite in die Suid-Afrikaanse konteks identifiseer. Willemse ("Swart Afrikaanse skrywersimposium" 206) dui ook daarop dat die gebruik van "swart Afrikaanse skrywers" "ironies" was en dat die groep skrywers die problematiek daaromtrent erken het, maar dat die benaming vir die spesifieke doel van dié politieke beweging voldoende was. Dieselfde opmerking kan gemaak word oor terme soos "women of colour" of "people of colour" wat binne hierdie konteks gebruik word: Tong (207) is van mening dat dit die wit vrou of wit mense as die 'norm' voorhou en sogenaamde "women of colour" en "people of colour" outomaties as 'die Ander' klassifiseer, wat juis in die vierdegolffeminisme en postkolonialisme vermy wil word.
Om terug te keer na Van Wyk (96) se opmerking oor die term "swart skrywers" wat nie op "velkleur" dui nie, maar na 'n spesifieke tradisie verwys, kan daar gesê word dat die term 'bruin skrywers' ook tegnies na velkleur en spesifieke biologiese kenmerke verwys-wat nie die kompleksiteit en hibriditeit van dié rassegroep voldoende saamvat nie. In 'n land soos Suid-Afrika waar mense steeds volgens rassegroeperings geklassifiseer word, is dit tog belangrik, hoewel problematies, om voorheen gemarginaliseerde groepe in studies in te sluit om te beklemtoon dat Westerse perspektiewe nie die norm is nie. In Moses (iii) lê Adhikari klem op die "fluidity and ambiguities inherent in processes of coloured self-identification" en in Moses (iii) se doktorale studie, In the Mix: Expressions of Coloured Identity in Cape Town-based Hiphop, maak hy die volgende stelling oor die musikante wat hy in sy navorsing betrek het: "The musicians in my ethnography adamantly reject the term 'Coloured' as a fiction of separatist ideology yet acknowledge 'Colouredness' as signifying discrete socio-cultural practices inherent to Cape Town hiphop." Hierteenoor argumenteer Butler (15) dat: "any effort to give universal or specific content to the category of women, presuming that that guarantee of solidarity is required in advance, will necessarily produce factionalization, and that 'identity' as a point of departure can never hold as the solidifying ground of a feminist political movement." Maar hulle maak terselfdertyd die paradoksale argument: "[...] it may be that only through releasing the category of women from a fixed referent that something like 'agency' becomes possible" (Butler 16).
As die bostaande argumente, menings, kritiek en uitsprake oor persoonlike identiteit in ag geneem word, is dit uiteraard onmoontlik om op 'n 'korrekte' of 'wetenskaplike' term vir 'n bepaalde, inherent diverse rassegroep te besluit. Ras is in wese 'n sosiale konstruk en hoe individue wil identifiseer, of nié wil identifiseer nie, is hul reg en hang van hulle subjektiewe keuse en siening rakende hulle komplekse identiteit af. Dit is met betrekking tot die hibriditeit, meerduidigheid, sosiokulturele praktyke en agentskap waarna Moses, Adhikari en Butler verwys wat ek die keuse maak om die term 'Coloured' te gebruik om na Julius te verwys in terme van 'n identiteitskategorie, aangesien sy in haar poësie 'n unieke stem en stories aangaande die sogenaamde "Coloured experience" (sien Trantraal), veral as 'n vrou, na vore bring. 'n Hoofletter word ook vir die term "Coloured" gebruik om aan te dui dat dit in hierdie artikel as 'n heropeisingsterm gebruik word, soos wat "Swart/Black" met hoofletters gebruik word in die Swartbewussynsbeweging (verwys na Baderoon en Willemse, "Swart Afrikaanse skywersimposium"). Kannemeyer wys daarop dat die jonger geslag terme soos "coloured" moet herdefinieer en dat daar waarde is in jonger mense se gebruik van die woord omdat hulle "gaze beïnvloed [is] deur die mense wat die apartheidsregering eerstehands ervaar het". Soos 'swart Afrikaanse skrywers' aan die hand van 'n spesifieke politieke doel gebruik word, word 'Coloured Afrikaanse skrywers' dan gebruik om die diversiteit van voorheen gemarginaliseerde Afrikaanssprekendes op die voorgrond te plaas, wat skakel met vierdegolffeministe se doel om voorheen gemarginaliseerde vroue se diverse ervarings, identiteite en stories te erken en ondersoek.
Hierdie uiteenlopende standpunte en opmerkings in ag geneem, is dit na my mening belangrik om vir die doel van hierdie artikel na Julius se ras te verwys omdat sy deel uitmaak van 'n voorheen benadeelde groep wat in die verlede, en tot onlangs, nie 'n stem in apartheid Suid-Afrika asook die Afrikaanse literêre sisteem gehad het nie, en omdat die onderdukking van die verlede steeds 'n impak op voorheen benadeelde groepe se alledaagse lewens het (Bonthuys 249). Dié stelling kan ondersteun word deur die feit dat Ronelda Kamfer in 2008 die eerste voorheen gemarginaliseerde Afrikaanse vrouedigter is wat deur 'n bekende uitgewer, Kwela, gepubliseer is met haar bundel Noudat slapende honde (Vermeulen 73). Klem word ook geplaas op hoe wit "Standaardafrikaanssprekendes" geskiedkundig as die norm in die Afrikaanse gemeenskap en literatuur gesien is en hoe dié digters, soos Julius en Kamfer, Afrikaans heropeis; hulle bevestig nou hul stemme en mag in hul eie Afrikaans in die Afrikaanse literêre kanon (Odendaal 659; Bonthuys 250). Die gebruik van die term 'Coloured' is dus nie 'n poging om die identiteitskategorie op Julius af te dwing nie. Dit is eerder 'n poging om te demonstreer hoe kompleks en divers voorheen gemarginaliseerde Afrikaanse vroue/mense se stemme is, en hoe nodig dit is om diverse stemme in die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse konteks te ondersoek en verteenwoordig om sodoende te poog om die media, literatuur en akademie te dekoloniseer.
Die herskepping van Afrikaans deur middel van diverse verteenwoordiging
Voor 2008 het slegs een selfgepubliseerde Afrikaanse bundel van 'n Coloured vrouedigter verskyn, naamlik Ons komvandaan deur Diana Ferrus in 2004. Haar volgende bundel is in Engels, I've Come to Take You Home en verskyn in 2010, en haar derde bundel Die vrede kom later word in 2019 gepubliseer, ook deur Diana Ferrus Publishers (Xaba 32-3). Ferrus kan as 'n beduidende voorloper vir onlangs gepubliseerde Coloured vrouedigters gesien word, aangesien sy die enigste voorheen gemarginaliseerde Afrikaanse vrou is wat voor Kamfer in 2008 'n Afrikaanse digbundel gepubliseer het.
Du Plessis argumenteer dat die huidige toename in Coloured Afrikaanse digters nodig is omdat "Afrikaans kan doen met hierdie ryke versmelting en verbastering van tonge as hy tot al sy sprekers wil begin en bly spreek". Hy noem egter ook dat al dié digters, soos Ronelda Kamfer en Shirmoney Rhode, alhoewel daar sekere ooreenkomste is, "nie sommer oor dieselfde kam geskeer kan word nie" en dat daar "duidelik sprake van die persoonlike narratief is wat 'n politieke funksie aanneem deurdat dit 'n stem aan uiteenlopende gemarginaliseerde sprekers van Afrikaans gee".
Soos voorheen genoem, is daar tans, veral sedert 2015, 'n toename in voorheen gemarginaliseerde stemme wat veral in die publikasie van Afrikaanse poësie gesien kan word. Baderoon (2) beklemtoon egter hoe onregverdigbaar lank dit geneem het voordat Swart vroue in Suid-Afrika ("Black South African Women") se stemme akademiese erkenning, of basies enige erkenning, begin kry het. Om dit in perspektief te plaas, is Our Words, Our Worlds- Writing on Black South African Women Poets, 2000-2018 (2019), onder redaksie van die digter Makhosazana Xaba, die eerste boek wat die intellektuele prestasie, geskiedenis en impak van Swart vroue se poësie in die Suid-Afrikaanse konteks ondersoek (Baderoon 2). Alhoewel dié boek eers in 2019 gepubliseer is, is poësie al reeds vir meer as 'n eeu die plek vir Suid-Afrikaanse Swart vroue waar hulle die "narrow scripts prescribed by discourses of racism, respectability and cultural authenticity" teengaan (Baderoon 6). Volgens Baderoon (6) strek die geskiedenis van Swart vroue se politieke poësie terug na die werk van Nontsizi Mgqwetho wat tussen 1920 en 1929 103 gedigte in die Johannesburgse koerant Umteteli wa Bantu (Mouthpiece of the People) gepubliseer het. In haar gedigte praat Mgqwetho van die verwoestende effek van kolonialisme, ontheemding en die mislukking van leierskap in Afrika. Swart vroue se werk is nietemin tot onlangs deur die formele domeine van poësiepublikasie en die akademie afgeskeep.
Volgens Baderoon (6) is een van die kragtigste middele om teen ingekorte perspektiewe te rebelleer om die versteekte linies van Swart vroue se skryfwerk te ontdek en te publiseer. In Our Words, Our Worlds word die beduidende veranderinge in die nasionale kultuur deur die persoonlike perspektiewe van die digters gedokumenteer; dié digters wat self verantwoordelik is vir die nuwe politiek, ekonomie, teorie en etiek van poësie (Baderoon 3). In hierdie versameling opstelle word die werk van Ronelda Kamfer, Jolyn Phillips en Shirmoney Rhode bespreek, en 'n opstel deur Kamfer is ook ingesluit. Baderoon (5) is van mening dat hierdie digters nie net die kompleksiteit van "Black life" vasvang nie, maar ook die vreugde daarvan, ten spyte van die blywende effek van kolonialisme, apartheid, die dwang om te swyg oor vroulike ervarings deur valse beloftes van rassesolidariteit, die hardkoppige blywendheid van patriargie in die samelewing, en die feit dat Swart vroue en hul ervarings so te sê uit die geskiedenisboeke gelaat is. Dit is te danke aan dié voorgangers wat vir Swart vroueregte geveg het, insluitend skrywers, navorsers en studente-aktiviste, dat daar nou 'n platform vir die stemme en stories van die nuwe generasie Swart vrouedigters is (Baderoon 5). Basilio (177) beklemtoon ook die belangrikheid van vroue se bewustheid van hulle eie probleme in hul spesifieke kontekste voordat politieke aksies wat verandering teweeg bring, beplan kan word. Dít is wat in verskeie onlangse Afrikaanse digbundels van diverse vrouedigters, soos Uit die kroes, na vore kom. Hierdie digters spreek 'n verskeidenheid sosiopolitieke kwessies, ekonomiese kwessies, asook identiteitskwessies in die huidige Suid-Afrikaanse konteks aan, wat as 'n stap in die rigting van positiewe politieke verandering gesien kan word.
Sedert die vroeë 1900's is Afrikaans toenemend met die opkoms van sogenaamde 'Afrikaners' (wit Afrikaanssprekendes), wat tóé hoofsaaklik boere was, geassosieer omdat hulle die taal gebruik het om mag teen die Britse koloniste te bekom. Boere aan veral die Oosgrens was ontevrede met die Engelse regering se onvermoë "om hulle teen die swart stamme te beskerm" en het teen 1836 begin om na die binneland toe trek, wat as die "Groot Trek" bekend staan (Carstens 27). Talle boere het oor die Drakensberge Natal binnegetrek, party het in die Vrystaat gevestig en ander in die Transvaal. Sommige het so ver getrek as Mosambiek en Kenia, wat die verspreiding van Afrikaans na die binneland bevorder het (Carstens 27). Die proses van dekolonisasie teen die Britte en wit Afrikaners se argument dat hulle die reg het om apart as 'n nasie te funksioneer, het geleidelik tot die opkoms van hulle algehele politieke mag gelei wat die amptelike apartheidsregering van die Nasionale Party (NP) in 1948 tot stand gebring het (Viljoen, "Postcolonialism and recent women's writing in Afrikaans" 64). Die oorwinning van die NP het veroorsaak dat Afrikaans vinnig "die simbool van die Afrikaners se kollektiewe identiteit geword" het en dié proses het 'n skeiding tussen wit Afrikaanssprekendes en Swart en/of Coloured sprekers van die taal veroorsaak (Giliomee 308). Die belange van wit Afrikaanssprekendes het voorkeur gekry, wat uiteindelik tot die beleid van rassevoorkeur gelei het. Afsonderlike woonbuurte vir onderskeie rassegroepe is onder andere geskep, en die verskuiwing van veral Swart en Coloured mense om dié proses moontlik te maak, afsonderlike skoolstelsels en die ontneming van Swart en Coloured mense se stemregte, het tot die skending van basiese menseregte vir dié groepe gelei. Afrikaans is dus toenemend met die onderdrukking en negatiwiteit van die apartheidsregering geïdentifiseer, veral as gevolg van die Soweto-opstand in 1976 en die gevolge daarvan (Carstens 30-2).6
Die apartheidsregering se rassistiese klassifikasies op grond van Afrikanernasionalisme het uiteindelik almal wat as 'nie-wit' geklassifiseer is, uitgesluit. Willemse maak die volgende stelling in verband met die wanpersepsie wat vandag nog bestaan oor die idee dat Afrikaans slegs deur wit mense gepraat word:
One of the undoubted successes of Afrikaner nationalist hegemony was the creation of the myth that they, and only they, spoke for those identified as "Afrikaners". Also, that their worldview was the only significant expression of being Afrikaans speaking. These nationalist culture brokers suppressed oppositional and alternative thought within the Afrikaner community. They also minimised the role and place of black Afrikaans speakers in the broader speech community. ("More than an oppressor's language")
Dit is daarom nie 'n verrassing dat sosiopolitieke geskiedenis Afrikaans as die taal van die kolonialiste, rassiste, onderdrukkers en onaangepaste nasionaliste uitbeeld nie (Willemse, "More than an oppressor's language"). Willemse benadruk dat Afrikaans "more black than white" is omdat ses uit tien van die amper sewe miljoen Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, Swart is. Volgens die General Household Survey deur Statistics South Africa, beskou 77,4% van die Coloured bevolking Afrikaans as hul huistaal, in vergelyking met 61,2% van die wit bevolking wat Afrikaans as hul huistaal beskou. 0,9% van Swart mense praat Afrikaans as hulle huistaal, en 1,2% van Indiër/Asiatiese mense. Die algehele aanname dat Afrikaans slegs 'die taal van die onderdrukker' is, is dus ongegrond. Willemse (in Carstens 35) stel dit soos volg: "[W]anneer ons nie ons storie vertel nie, werk ons mee aan die vernietiging van ons geskiedenis". Die "ons" verwys hier na voorheen gemarginaliseerde Afrikaanssprekendes.
Die komplekse geskiedenis van Afrikaans en Suid-Afrika as geheel het bygedra tot die imperialistiese idees dat Standaardafrikaans sogenaamd 'beter' as enige ander variëteit van Afrikaans is en het die illusie geskep is dat Standaardafrikaans grootliks deur wit Afrikaners gepraat word (Odendaal; Le Cordeur). Volgens Parakrama (162) is die term 'standaardtaal' diskriminerend teenoor gemarginaliseerde groepe omdat dit gewoonlik met die variëteit geassosieer word wat deur die politieke, kulturele, sosiale en ekonomiese elite in daardie spesifieke taalkonteks gepraat word (soos Afrikaans gedurende apartheid). Gevolglik word dié wat nie die standaardtaal praat nie, dan uitgesluit en veroordeel. Die idees rondom hoe 'n 'standaardtaal' gedefinieer word en wie 'standaardtale' praat word nou toenemend deur eietydse taalnavorsers bevraagteken, aangesien studies begin toon het dat sprekers in tale menigmaal oor die vermoë beskik om verskillende variëteite van 'n spesifieke taal te praat, afhangende van die konteks waarbinne hulle hulself bevind (Walsh 774). Die definiëring en ontstaan van 'n standaardtaal vind binne 'n komplekse en diverse taalsituasie plaas, wat terselfdertyd ook binne verskeie sosiale, kulturele, ekonomiese en historíese kontekste gevorm word. Na aanleiding van hierdie relatiwiteit van die definiëring van 'n 'standaardtaal', word daar geargumenteer dat standaardtale eerder as 'n ideologie beskou moet word en nie as 'n konkrete, universele konsep nie.
Ná apartheid het Afrikaans die sentrale posisie in Suid-Afrika verloor en is dit nou bloot een van die elf amptelike tale van Suid-Afrika. Die taal kan nou as 'n 'perifere taal' geklassifiseer word omdat dit slegs die derde meeste eerstetaalsprekers in Suid-Afrika verteenwoordig, en die taal al hoe minder in formele domeine soos onderwys en opleiding gebruik word (Carstens 33). Afrikaans en die ander nege amptelike tale van Suid-Afrika word ook al hoe minder deur die huidige regering geprioritiseer as gevolg van die internasionale mag en hiper-sentrale status van Engels (Heilbron en Sapiro 95-6; Carstens 33).
Lynthia Julius: 'n unieke, drievoudig gemarginaliseerde feministiese stem uit die Noord-Kaap
Lynthia Julius is in Springbok in die Noord-Kaap gebore en het in Kimberley grootgeword. In 2018 wen sy die AVBOB-digkunskompetisie in die Afrikaanse kategorie vir haar gedig "Vir Aljarreau" (Julius 48). Uit die kroes (2020) is haar debuutbundel wat deur Kwela Uitgewers gepubliseer is.
Viljoen ("Prontheid van segging wat jou laat regop sit") is van mening dat Uit die kroes 'n nuwe woordeskat aan Afrikaans bekend stel omdat daar so 'n duidelike invloed van Nama, wat deel uitmaak van Oranjerivierafrikaans en Khoi-Afrikaans, raakgelees kan word (Le Cordeur 771). Kamfer (184) beklemtoon die unieke perspektief van die 'Coloured experience' wat Julius in haar poësie bied: "Vir dekades word bruin kultuur en herkoms in die geskiedenisboeke beperk tot stories oor Jan van Riebeeck, die Strandlopers, slawe uit Indonesië en Java of die onderdrukking van die inwoners in Distrik Ses." Trantraal argumenteer dat baie van Julius se gedigte aan die een kant bekend sal voel vir Coloured lesers, maar tog is haar gedigte uniek omdat dit stories uit die Noord-Kaap, spesifiek Springbok en Kimberley, vertel, wat belangrik is aangesien die Kaapse Vlakte "soortvan ytgesingle wôd asse general yardstick van ie coloured experience". Trantraal se opmerking is 'n aanduiding dat meer diverse stemme nodig is om die heterogeniteit van die Coloured gemeenskap uit te beeld. Julius skryf oor en vanuit 'n konteks wat selde in die Afrikaanse literêre diskoers verteenwoordig word.
Julius noem in 'n Facebook Live-gesprek met Kamfer dat sy nie op een spesifieke tema in haar skryfwerk wou fokus nie; sy wou onder andere skryf oor haar komvandaan, identiteit, verhoudings, vervreemding, selfmoord en geestesgesondheid. Sy wou ook meer oor die slawegeskiedenis leer omdat dit nie op skool aan haar bekendgestel is nie en het daarom die slawe-narratief in haar bundel in die kollig geplaas. Kamfer (184) verwys hierna as 'n proses waardeur Julius haar voorouers se stories heropeis uit die geskiedenisboeke van die oorheersend wit akademici en sy hulle dan "herplant [...] binne haar eie lewe". Deur hierdie gedigte gee Julius 'n naam, storie en identiteit aan slawe wat voorheen slegs deur tragiese verhale en vanuit (meestal) wit mans se perspektiewe voorgestel is. Kamfer (184) beskryf Uit die kroes as 'n digbundel met 'n wye verskeidenheid temas wat onder andere "colourism, texturism, agency, vrouheid, verlies en familie" insluit en al hierdie temas is 'n weerspieëling van haar as digter met 'n "unieke ideolek, [.] Nama-herkoms en haar identiteit as jong swart vrou in die wêreld". Julius verduidelik egter dat haar werk nie net as outobiografies gelees moet word nie; sy skryf ook oor ander mense in haar gemeenskap se stories wat sy beleef het (Julius & Odendaal).
Kwessies oor Westerse opvattings oor skoonheid word aangespreek en Julius demonstreer haar kritiek op hierdie koloniale ideale deur haar aanvaarding van haar "kroes hare" duidelik daar te stel, soos in die gedig "kroes" (82-3) gesien kan word. Sy verwerp die idee dat haar hare 'reguit' of 'glad' moet wees om as 'mooi' beskou te word (Julius en Kamfer). Kamfer (185) is van mening dat hierdie tipe self-aanvaarding, al kom dit op die oog af hoe 'klein' voor, en die verwerping van "mikro-onderdrukking binne die gemeenskap en teenstand teen hierdie norme en standaarde van die samelewing rewolusionêr is". Die kompleksiteit van skoonheidstandaarde in die Coloured gemeenskap word in hierdie bundel na vore gebring, wat met idees en kritiek rondom "colourism" (Juliano 3; Bagalini) geskakel kan word.
Julius se standpunt oor haarself as 'n bevryde, bemagtigde vrou wat haar eie besluite neem (al word sy deur ander as 'onderdruk' beskryf) maak sy duidelik in die Facebook Live-gesprek met Kamfer: "Ek behoort nie aan my pa of ma nie, ek behoort heeltemal aan myself." Dié konsep sluit by Mohanty ("Under Western Eyes" 193) en Spivak (308) se argumente aan dat navorsers uit veral die Weste versigtig moet wees om nie die sogenaamde 'Derde wêreld-vrou' as bloot 'n slagoffer van omstandighede uit te beeld nie. Die argument word gemaak dat daar in Westerse feminisme die tendens bestaan om die 'Derde wêreld-vrou' as arm, tradisioneel, oningelig, familiegeöriënteerd, onontwikkeld, huislik en 'n slagoffer uit te beeld, terwyl die 'Eerste wêreld-vrou' of 'Westerse feminis' as opgevoed, modern, vry en in beheer van hulle liggame en seksualiteit uitgebeeld word-wat as imperialistiese en neokolonialistiese meganismes beskou kan word (Mohanty, "Under Western Eyes" 198). Verder beklemtoon Mohanty (Feminism without Borders: Decolonizing Theory, Practicing Solidarity 77) ook dat die blote bestaan van die 'Derde Wêreld-vrou' se narratief in die gesprek oor interseksionele feminisme en dekolonisering nie genoeg is nie, die manier hoe hulle narratiewe gelees en verstaan word in die Weste is van kardinale belang en moet bevraagteken word. Julius beklemtoon ook dat sy baie meer as net 'n "bruin vrou of digter" is-haar doel is om haarself te wees en al haar eienskappe te "embrace" (Julius en Kamfer). Sy sien ras as "deel van [haar] alledaagse lewe" omdat dit interseksioneel met ander onderdrukkende sisteme in die samelewing haar lewe beïnvloed, en dít is waarop sy wou fokus; die alledaagse gebeure en temas rondom haar waarmee mense hulle kan vereenselwig en poësie wat vir almal toeganklik is. Sy wou verder ook 'n blik op lewe in die Noord-Kaap bied en die "vervreemding en ontheemding" as jy jou huis verlaat. Julius poog om weg te beweeg van die stereotipes wat aan haar gekoppel word bloot op grond van haar ras, velkleur en hare (Kamfer)-wat met eietydse feministiese doelwitte skakel.
Julius se opmerkings rondom haar vryheid as 'n vrou is veelseggend; sy is niemand se "besitting" nie en het nie 'n minderwaardigheidskompleks bloot omdat sy 'n vrou is nie. Haar stem is net so kragtig soos 'n man s'n (Julius en Kamfer). Verder noem sy dat haar ouma sê "sy moet ophou soos 'n man wees" omdat sy dit duidelik maak dat sy haar eie vrye wil het en dat sy patriargale denke bevraagteken en kritiseer. Julius voel as 'n vrou moet sy "eerlik dig", veral wanneer daar op vrouens se stories gefokus word (Julius & Odendaal). Sy sê byvoorbeeld dat sy oor haar ma skryf soos wat sy haar ken. Verder argumenteer Julius dat dit "'n skrywer se plig [is] om stem te gee aan die wat al vir so lank deur die lewe stilgemaak is. Ons is al so gewoond aan 'binnetoe huil' dat dit ons op die ou end vernietig" (Julius en Odendaal). Dié "ons" verwys na mense en veral vroue in Julius se leefwêreld en gemeenskap. Julius vertel uiteenlopende stories uit haar eie lewe, mense rondom haar, en spesifiek die Noord-Kaap.
Die uitbeelding van interseksionele feminisme in Uit die kroes
Die titel van die bundel verwys na die politiek van hare en hoe die spreker haar identiteit wat met haar "kroes" hare en ook ras gepaard gaan, omarm. In die laaste gedig in die bundel, "kroes" (Julius 82-3), skryf sy die kompleksiteit van haar identiteit, asook die pyn wat aan geskiedenis gekoppel is, oop. Die beeld en rol van hare in die bundel kan ook duidelik op die voorblad gesien word. Sy rebelleer teen die algehele verwagting (van haar ma en die samelewing, Julius 82-3) dat jy "gladde[r]" of "reguit" hare moet hê en jou "kop moet nasien" om aan Westerse/ wit skoonheidstandaarde te voldoen en maak dit duidelik dat sy die geskiedenis van haar "bi-racial hair" en voorkoms eien; vergelyk Islam (188-9) se argumente oor wit skoonheidstandaarde ). Die term "bi-racial hair" is uit die aanhaling van Zora Howard gehaal, wat ook die motto van die gedig "kroes" is en die slawegeskiedenis van mense met gemengde herkoms op die voorgrond plaas, waar gemengde bloed en "bi-racial hair" die resultaat is van jarelange geslagsgebaseerde geweld teenoor slawe asook onderdrukking, eerder as 'n aanduiding van romantiese verhoudings oor die kleurgrense heen (Troskie): "I have bi-racial hair because I have bi-racial blood. I'm not talking about that cute they met and fell in love blood. I'm talking about that slave raped six times by the master birthing six mixed babies later hung blood".
"Kroes" verwys nie slegs na haartekstuur in hierdie gedig of die bundeltitel nie. Die woord verwys ook na die "smeltkroes", of houer waarin verskillende metale saamgesmelt word om dit deur middel van hitte te reinig of suiwer te maak (Viljoen, "Prontheid van segging"). Verder is daar ook 'n gesegde in Afrikaans, 'deur die kroes gaan', wat beteken 'om swaar te kry'. Die titel van die bundel, "Uit die kroes", asook die gedig "kroes", kan dus as 'n metafoor beskou word vir die pyn wat Julius en die mense in haar gemeenskap ervaar as gevolg van hulle komplekse geskiedenis van slawerny, rassisme en uitsluiting, en die idees van die samelewing dat as jy wit, of 'suiwer' is, en 'gladde' hare het, jy superieur is en die 'norm' voorstel (Viljoen, "Prontheid van segging"). "[K]roes" kan dus as die belangrikste gedig in die bundel beskou word, aangesien Julius hiér die pyn wat met haar voorkoms, geskiedenis, hare en identiteit gepaardgaan, uitwys en erken. Sy maak dit egter terselfdertyd ook duidelik dat sy "sukkel-sukkel" (Julius 82) haar identiteit, komplekse herkoms en voorkoms aanvaar het en dat sy die samelewing se idees oor skoonheid en meerderwaardigheid van slegs sekere groepe sterk kritiseer en bevraagteken. Die impak wat die interseksionele kwessies soos ras, gender, taal en geloof op haar alledaagse lewe het, word in "kroes" uiteengesit (verwys na die skakeling met derde- en vierdegolffeminisme en kritiek teen dominante, hegemoniese sisteme vermeld deur Munro). Daar word ook implisiet verwys na die kulturele ambivalensie van ras (Petrus en Isaacs-Martin 96), hoe die apartheidswetgewing se rassegroeperings soms tot vervreemding lei en daar selfs binne dieselfde rassegroepe uitsluiting en vooroordeel bestaan: "ek was te kroes om 'n Kimberley Coloured te wees / te glad om opreg Khoi te wees / te gemeng om wit te wees" (Julius 82) (sien ook die gedig "1993" wat hier onder bespreek word). Die spreker beklemtoon hiermee die uitdagings van 'n gemengde herkoms in 'n samelewing waar binariteit en beperkende identiteitskategorieë telkens afgedwing word. Hieroor skryf Petrus en Isaacs-Martin (96): "Most Coloured people thus found themselves in a transitional stage, caught between belonging and not belonging". Die gedig dien as 'n samevatting van al die temas in die bundel, asook Julius se perspektiewe oor identiteitspolitiek en kritiek op die onderdrukkende sisteme van die samelewing wat regdeur die bundel klink. Sy skep hiermee 'n nuwe teenhegemoniese rassediskoers aan die hand van poësie:
ek het uit die as opgestaan met my kroes hare, Mamma
sukkel-sukkel die krulnukke in my hare uitgekam
en met die loskomsels op die kam besef:
fok glad wees
laat sy ring maar in my hare verstrik raak
ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie
kroes is kroes
kroes word nooit tot die wortel glad nie (Julius 82-3)
"Sneeubruintjie" (61) sluit ook by die bostaande temas aan. In dié gedig bevraagteken die spreker Westerse idees van skoonheid en sogenaamde 'suiwerheid' op grond van herkoms, geloof, etnisiteit en taal (Petrus en Isaacs-Martin 93; Bagalini). Daar is dus woordspeling tussen "Sneeuwitjie" versus "Sneeubruintjie", waar die kontras tussen "wit" en "bruin" beklemtoon word, en die idee dat Coloured en/of Swart vroue met donkerder velkleure selde as die verteenwoordiging van 'skoonheid' uitgebeeld word. Wit en ligte velkleure word meestal as die norm voorgeskryf deur die onderdrukkende sisteme van die samelewing:
Die een wat die media besluit mooi is
die een wat nie uitgevang is met die potlood in haar hare nie
met die gesig bleker as die bruinpapiersak op haar kop
en wie se taal standaard verklaar word.
Julius plaas klem op die rol wat velkleur en voorkoms in 'n land soos Suid-Afrika speel, aangesien die land 'n koloniale en apartheidsgeskiedenis het en die negatiewe gevolge daarvan steeds duidelik is. Dié wat as verteenwoordigend van "Sneeuwitjie" beskou word, "die mooiste in die land", "pryk op Huisgenoot en Vogue / en op die rooi-en-wit mayonnaisebottel ook", teenoor dié wat as "Sneeubruintjie" geklassifiseer word: "jy is goed genoeg vir jou pa en sy drankduiwels / gaan tel hom voor die smokkelhuis op"-dié opmerkings skakel met Spivak en Mohanty se kritiek oor die beperkte verteenwoordiging van die sogenaamde "subaltern" of 'Derde wêreld-vrou'. Die spreker plaas ook klem op hoe 'witheid', 'suiwerheid' en 'skoonheid' met 'Standaardafrikaans' geassosieer word en hoe dié variëteit van die taal as elite beskou word teenoor ander variëteite van Afrikaans, soos Kaaps en Namakwalandse Afrikaans (sien Odendaal 661).
Daar is verskeie gedigte in die bundel wat oor die komplekse geskiedenis van Suid-Afrika handel, veral slawerny en die Europese kolonisasie van die grondgebied, wat uiteindelik gelei het tot die situasie van die vermenging van verskillende rasse soos in die vers "kroes" uiteengesit word. Daar word byvoorbeeld stories vertel van slawe-wat volgens Ponelis (in Hendricks 7-8) en Le Cordeur (763-4) afkomstig is van onder meer Suid-Afrika se inheemse Khoe-mense, Angola, Madagaskar, Guinee, die Indiese kusgebiede en Oos-Indiese Eilande-as die historiese 'stemloses'. Die spreker tree ook in gesprek met belangrike geskiedkundige figure, aan wie nooit erkenning gegee is vir hul aktivisme teen kolonialisme en apartheid nie: sien "Sara" (7), "Frederik die Hottentot" (8), "Aurora" (11), "Amria van Bengale" (12), "Ouma Xhau" (20) en "Dulcie September" (22-3). Viljoen ("Prontheid van segging") argumenteer, soos reeds genoem, dat die "kroes" in die titel ook na die houer waarin verskillende metale gesmelt word, verwys. Dié versmelting van metale kan daarop dui dat die spreker haarself as 'n resultaat van die "pynlike smeltkroes van Suid-Afrika se rassegeskiedenis" (sien Viljoen, "Prontheid van segging"), soos in "Die hulp" (39), "My land se krank" (62), "Kleur kom tog alleen" (28), "Wat sal jou ma sê" (81) en "kroes" gesien kan word (Viljoen, "Prontheid van segging").
"Wat sal jou ma sê" (81) handel oor verhoudings oor die rassegrense heen en hoe gekompliseerd dit is in 'n land waar rasseoordeel nog daagliks plaasvind:
Gaan sê jou ma jy's verlief op
'n Nama(kwa)kind
een met kroes hare en 'n geel vel
een wat ken van gwarra-goed en suurdeegbrood
van skotteltjiewas en viervertrek [...] En kom vra my weer.
Die spreker beklemtoon dat sy die resultaat van 'n pynlike geskiedenis is, gevul met loutering en die apartheidsregering se pogings om deur middel van rasseklassifikasies en apartheidswette die land te 'reinig'. Sy meen egter terselfdertyd dat, hoewel sy die effek daarvan in haar alledaagse lewe ervaar, sy nie toelaat dat dié geskiedenis haar lewe dikteer nie en die gedig kan as 'n soort manifes van haar identiteit gesien word; sy skroom nie weg van haar ware identiteit en lewenswyse as die "Nama(kwa)kind" van "Xhoeroepoort" (81) nie; sy omarm dit. Die spreker verwerk dus die pyn van haar en haar gemeenskap se verlede deur op die toekoms te fokus en haar eie, kragtige teenhegemoniese stem te ontwikkel. Sy erken so haar pynlike geskiedenis, maar gebruik dit om haarself te herskep en verbeter, wat skakel met die figuurlike proses om 'deur die kroes' te gaan.
Die eerste gedig in die bundel, "Sara" (7), vertel 'n verhaal oor 'n Khoi-vrou, 'n slaaf gedurende die koloniale tydperk in Suid-Afrika, wat haar eie lewe beëindig deur haarself aan 'n galg op te hang nadat sy haar baba vermoor het:
haar gees die nag in gesoen
my liggaam galg toe gevat
sodat die stilte kon kom
sodat ek die stilte kon word
Die galgtou om haar nek is 'n kopknik na die bundelomslag waar die vrouefiguur 'n halssnoer om haar nek het. Julius noem dat dit sinspeel "op die kettings wat daar soms om slawe se nekke vasgemaak is" (Julius & Odendaal). Deur die bundel met hierdie gedig te begin, posisioneer Julius haarself en "maak sy dit duidelik aan presies watter kant van die geskiedenis sy staan" (Kamfer 184). In "Nege-en-dertig slae" (13) word die pyn, lyding en mishandeling wat "die meid" ('n neerhalende term), wat vir haar "wit meester" werk, moet verduur op die voorgrond geplaas. Daar word verwys na hoe vroueslawe soms verkrag is deur hul eienaars en hoe hulle steeds die straf daarvoor moes dra:
vir die meid wat haar wangedra het
wat nie gil nie
stadig oë knip
net voor haar uitstaar
[...]
die een met die meester se derde kind, 'n meidjiekind
ses of dalk vyf dun rottangs
genoeg vir die afranseling van die meid wie se nooi haar nie
verdra kry nie
Julius gee deur hierdie gedig nie net 'n stem aan die stemloses uit die geskiedenis van Suid-Afrika nie, sy stel ook die leser in haar eie woorde aan haar voorouers voor. Trantraal argumenteer dat Julius, met gedigte soos "Sara", die slavin-narratief "reclaim" deur dit vanuit 'n ander perspektief as 'n wit man s'n te vertel, wat gewoonlik die geval is in "whitewashed" geskiedenisboeke oor slawe en hul stories.
In "Dulcie September" (22) reflekteer die spreker op die moord van Dulcie September in Parys, Frankryk. September was 'n anti-apartheidsaktivis en ANC-verteenwoordiger van Athlone, Kaapstad. Die gedig belig hoe Swart vroue, soos hooks (161) betoog, baie keer onsigbaar is in die akademie, media en die geskiedenisse wat op skool geleer word. Selfs al het hierdie vroue, soos Dulcie, 'n beduidende rol in anti-apartheidsaktivisme gespeel:
nog nooit in die geskiedenisboeke
op skool van jou gehoor
nie jou opstaan teen die system
nie jou hart wat klop vir regverdigheid nie
Die spreker noem dat sy eers op vier-en-twintig van Dulcie September geleer het omdat sy haar self moes navors. Die gedig sluit af met 'n bevestigende stelling van die tekort aan erkenning van Swart vroue se bydrae tot belangrike geskiedkundige gebeurtenisse:
die wat jou moet ken, ken jou naam nie
Dulcie, ek het dit nog nooit oor hulle tonge hoor uitrol nie (23)
Volgens Troskie vind daar 'n "outobiografiese wending" in die gedig "1993" (24-5) plaas:
ek wou so ewe kies wie ek liefhet
met vrede in my hart
maar Juliana se pa het in preprimêr
vir ons gesê ons is kleurlinge
ek was vyf
nou vyf-en-twintig
ek maak nog uit wat bruin of kleurling eintlik is
ek is apartheid net laat ruik
gôtalleen weet teen wie se spyt
In die eerste strofe noem die spreker dat sy apartheid "net geruik" het en dat dit dalk beter sou wees om dit self te ervaar, aangesien sy sukkel om verwantskap te vind met ander voorheen gemarginaliseerde studente en digters se woede oor apartheid en die gevolge daarvan. Die spreker wonder
hoekom hulle als nie net gently into that good night wil laat gaan
en nie die dompasse van hulle ouers en voorouers
soos robbish by die agterdeur uit wil smyt nie
Die gedig ontvou egter geleidelik tot hoe die spreker besef dat ras 'n onvermydelike deel is van haar daaglikse ervaring as 'n Coloured vrou in Suid-Afrika. Sy reflekteer oor hoe sy steeds die gevolge van apartheid ervaar, alhoewel sy nie gedurende apartheid grootgeword het nie. Die spreker noem dat sy nog probeer "uitmaak" wat "bruin of kleurling eintlik is", wat skakel met Petrus en Isaacs-Martin (96) se argument dat Coloured mense soms worstel met vervreemding en identiteit in hul eie gemeenskappe, en hoe daar vooropgestelde verwagtinge vir spesifieke rasse en etnisiteite bestaan. Daar word ook verwys na die negatiewe konnotasies verbonde aan rassebenamings soos "kleurlinge" wat in die gedig as 'n neerhalende term gebruik word en hoe dit 'n blywende impak op die spreker en haar lewe het (verwys hier ook na Le Cordeur 759).
Daar is verskeie ander gedigte wat die impak wat ras, klas, taal, geloof en plek op haar identiteit het, na vore bring. "White privilege" (51) kan byvoorbeeld as 'n uitbeelding beskou word van hoe divers die 'Coloured experience' is en dat die stereotipe van bendegeweld, kindermoord en dwelmverslawing in Coloured-gemeenskappe nie die daaglikse ervaring vir almal is nie:
Daar's nie 28s en 26s gangs in my buurt nie
hier loop seuns nie rond met broeke
wat onner hulle se gatte hang
en guns in hulle se rugsakke nie
en "daar's devils fork om die jaart / warme water in die krane / kinders wat leer vir grade". Dié fokus op diversiteit in die Coloured gemeenskap hou ook verband met eietydse feministiese doelwitte waar daar gepoog word om die uiteenlopendheid van voorheen gemarginaliseerde groepe te beklemtoon (vergelyk Munro 24). Julius noem dat daar soms skeiding kom in gemeenskappe as gevolg van klasseverskille, en hoe diegene wat byvoorbeeld universiteit toe gaan dikwels as 'meerderwaardig' beskou en uitgesluit word deur ander in hulle gemeenskappe omdat daardie voorreg nie altyd bekombaar vir almal uit voorheen benadeelde gemeenskappe is nie (Julius en Kamfer). Die interseksionele wisselwerking van ras en klas op individue se lewens kom hier duidelik ter sprake.
In "Skuld" (26-7) rebelleer die spreker teen die idee dat sy die "skuld" van haar voorvaders en geskiedenis moet afbetaal; sy maak haar individualiteit en vrye keuse oor wie sy is en hoe sy haar lewe lei, duidelik:
Ek betaal nie skuld af vir my ouers nie
[...]
niemand gaan aan my voorstel
wat ek vas of reg moet werk nie
[...]
ek is niemand se marionet of naaister nie
ek kies my slagvelde
ek aanvaar nie hand-me-downs van
'n sisteem waarvan ek g'n onderdeel was nie
ek vul nie 'n [ ] in om die burokrasie te maak werk nie
[...]
ek kies my beloofde land privaat
In "Kleur kom tog alleen" (28) reageer die spreker op Antjie Krog se bundel Kleur kom nooit alleen nie (2000) en reflekteer sy in 'n kritiserende stem oor hoe velkleur en ras op verskeie maniere haar lewe op 'n negatiewe wyse beïnvloed, of sy dit nou wil aanvaar of nie. Die spreker beklemtoon hoe dit amper onmoontlik is om bloot as "digter" ondersoek word en nie as "bruin digter" nie (soos in die gedig aangehaal word), wat telkens die fokus wegneem van die inhoud van voorheen gemarginaliseerde digters se werk. Hierdie gedig situeer dus Uit die kroes in die diskoers oor skrywers wat op dieselfde wyse as wit skrywers behandel wil word, en wat hulself wil distansieer van rassebenamings met betrekking tot hul werk. Soos Van Wyk (in Cochrane 33) uitwys: "S. P. Benjamin het onder andere gesê: 'Ek is nie swart of bruin skrywer nie. Ek is gewoon skrywer.'" Die bestaan van rassisme teenoor Coloured mense in vandag se samelewing word ook beklemtoon, met die "boer" wat aan die spreker die nerhalende en taboe pejoratief "hotnos" toesnou, wat saam met beledigings soos "barbare" en "armgatte" gebruik word bloot omdat hulle nie sy hek toegemaak het nie (sien Mohanty se kritiek oor die 'Derde wêreld-vrou' wat as 'oningelig' en 'onontwikkeld' uitgebeeld word).
Kleuralleen kom met die dosent saam wat vir jou sê
jy moet jou werk na 'n sekere uitgewer stuur,
hulle soek bruin skrywers
[...]
Met die boer wat sê julle is hotnos, barbare en armgatte
oor julle nie 'n hek naby sy plaas voor Grootdrink
toegemaak het nie.
Moenie vir my vertel kleur kom nie alleen nie.
Kom-alleen die kom hy
[...]
So of jy moer met kleur of nie
kleur die etter kom alleen.
Die spreker lewer dus kommentaar op hoe ras 'n sentrale rol speel in wat met jou gebeur en hoe jy benader en beoordeel word, soos die spreker se werk wat deur sekere uitgewers gepubliseer word omdat sy 'n "bruin digter" is. Dié idee skakel met Nash (4) se kritiek op hoe interseksionaliteit en Swart feministiese teorie dikwels in amptelike sfere soos die akademie en media 'afgeforseer' word in 'n poging om 'n progressiewe narratief te skep: "black feminist theory has a long history of both tracking the violence the university has inflicted on black female academics (often by demanding black women's labor-intellectual, political, and embodied labor) and advocating for instituational visibility and legibility".
Daar word weer beklemtoon, soos in "Wat sal jou ma sê" (Julius 81), hoe ras telkens die moontlikheid van romantiese verhoudings oor die sogenaamde kleurgrens heen bepaal: "[Kleur] kom die dag wat Jaco jou los oor sy pa sê hy kry nie die plaas / as hy met die bruinmeid voort nie". Die term "bruinmeid" word as 'n raspejoratief gebruik om Jaco se pa se afkeuring van sy verhouding met iemand wat nie as 'wit' geklassifiseer word nie, te beklemtoon. King en Crenshaw se konsep van "multiple-jeopary" en onderdrukking op grond van interseksionele faktore soos gender en ras word hier uitgebeeld.
Julius se vers "Lisa" (72) bied 'n perspektief op die gevolge van geslagsgebaseerde geweld en hoe die slagoffers (vroue) daarvoor geblameer word in die patriargale samelewing, in plaas van die mans wat die misdadigers is. Daar word kommentaar gelewer op hoe vroue wat verkrag is as 'beskadig', 'onrein' en seksueel onverantwoordelik gestigmatiseer word, en dat vroue daarom telkens kies om te swyg om hierdie stigmatisering vry te spring. Dié kritiek stem ooreen met die "call-out culture" van vierdegolffeminisme en die fokus op seksuele geweld (vergelyk Munro):
stil tong
want praat beteken skande
en manne met aptyt soek nie oorskiet nie
nie robbish nie
nie doggy bags nie (72)
Dié idee gaan ook hand-aan-hand met hoe vroue in gemarginaliseerde gemeenskappe neig om in verhoudings bly waar hulle mishandel word omdat hulle nie oor die bronne en mag beskik om finansieel en emosioneel onafhanklik te wees nie. Dié interseksionele verhouding tussen gender en klas soos beskryf deur Crenshaw word in "Ontheemding" (41) (strofe 3) uitgebeeld:
ek het gesien wat armgatgeid aan mens kan doen
dit word 'n mak-hou-kou waarin mans jou afknou
Verwys ook na "Poppehuisie" (46-7) waar die spreker in gesprek tree met die man wat haar mishandel in hulle verhouding:
en ek het vir my ma gelieg oor jou
oor die blou kolle
jou ego gesien gestreel gesoen
Feminisme, Coloured vroue se rol en ervarings in die samelewing, en kritiek op die patriargie is sentrale temas in die bundel (vergelyk hier die kenmerke van vierdegolffeminisme, Parry et al. 5). Die gedig "Die vrouens in my familie" (34) bied 'n blik op vroue in die spreker se gemeenskap en wat hulle ervarings en rolle is. In die eerste strofe reflekteer die spreker oor hoe vrouens in haar familie mekaar ondersteun:
bid vir mekaar verdedig mekaar
ruil raad oor kinders tande Balsem Kopiva
shampoo coconut oil, koop vir mekaar klere
hulle is bedrywig lief vir mekaar
Hierteenoor, in die tweede en derde strofe, word daar kritiek gelewer op hoe vroue hul individualiteit en stemme verloor om by die onderdrukkende patriargale samelewing aan te pas en hoe hulle in die proses dan onder "trilregerings" dien:
Die vrouens in my familie het teleurstellings van manne
[...]
hulle stemme ingeboet vir hulle manne s'n
dien onder trilregerings
kyk om heel te bly die krake mis
draai na die Jirre vir die vuur
wat in die ander een se oë geblus geraak het
[...]
hulle verafgod hulle manne
die vrouens in my familie
en sien die kinders vir heidene aan
Die spreker wil haar distansieer van hierdie tipe gedrag en probeer om haar eie pad te vind om sodoende weg te breek van hierdie onderdrukkende patrone en leefwyses-dit skakel met hooks (20) se teorie oor die belangrikheid van Swart vroue se verkenning van die self. Die spreker simpatiseer egter terselfdertyd met hierdie vroue se omstandighede in verhoudings waaruit hulle sukkel om te ontsnap:
die vrouens in my familie het van hul gehoop
in kiste beland deur hulle huwelike
hulle net dieper en dieper die grond ingegrou (34)
In "Twee grade" (57) word die storie vertel van hoe jong vroue soms aborsies moet kry sodat hulle hul grade kan voltooi en die eensame pyn wat telkens met hierdie traumatiese gebeure saamgaan:
Twee baarmoedersakgoed en verslymende stiltes
uit hulle wat te ambisieus was vir ma wees, maar ma was.
Wat graad voor kind wou kry.
[...]
hoe sou rektore ooit weet van die leë grafte in die baar
In "Wat alles verdra" (66) lewer die spreker ook kritiek op vrouens wat hul onafhanklikheid, identiteit en waardigheid opoffer in die proses om 'n man lief te hê:
Ek het 'n vrou 'n man al sien liefhê
gesien hoe sy kakpapier vir hom word
ek het al 'n vrou sien liefhê
gesien hoe sy gesigdraai op sy lieg
Die titel van die gedig is 'n verwysing na die Bybelvers, 1 Korintërs 13:4-8: "[Die liefde] bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles", en die spreker bou dan voort op hierdie idee in die gedig dat vroue menigmaal letterlik "alles verdra", al beteken dit hulle verloor hulle eiewaarde, identiteit en stem in die proses. In die eerste strofe word daar reeds verskeie stereotipes van genderrolle in heteroseksuele verhoudings uitgewys: Die man wat die vrou se liefde, onderdanigheid en opofferings in hulle verhouding as vanselfsprekend aanvaar, en gevolglik mishandelend teenoor haar optree, of haar as "kakpapier" gebruik, soos die spreker daarna verwys. Dié gedig kan ook beskou word as kommentaar en kritiek op geslagsrolle in romantiese verhoudings in 'n oorwegend patriargale samelewing. Die versreël "Ek het al 'n vrou sien liefhê, / om nie meer te leef nie, maar te wees" kan dui op hoe vrouens hul mag in hierdie tipe verhoudings verloor, aangesien hulle oortuig word dat daar nie vir hulle 'n ander uitweg is as om in die verhouding te bly nie en dat hul waardigheid gemeet word aan die status van hul romantiese verhoudings. Die spreker neem 'n sterk standpunt in en beklemtoon dat sy kies hoe om te leef en dat sy doelbewus mag en keuse oor haar eie lewe en romantiese verhoudings sal uitoefen. Sy distansieer haar van die partriargale verwagtinge en uitbeeldings van liefde in die romantiese heteroseksuele verhoudings rondom haar: "Ek het my ma sien liefhê / en voor die Man wat die Jirre mag wees gesweer / ek sal nooit". Die laaste twee versreëls kan ook 'n verwysing wees na die patriargale Bybelse waardes en hoe God as man en die 'hoof van alles' uitgebeeld word in dieselfde wyse as wat mans in die samelewing as die "hoof van die huishouding" voorgesit word (vergelyk Du Pisani 697). Die spreker kritiseer dus die kwessie van "manlike hoofskap" van hierdie tipe verhoudings en hoe konserwatiewe Christelike waardes gereeld hierdeur gereflekteer word (vergelyk Du Pisani 697-8).
Hiermee saam kom daar ook sprake van vervreemding voor; die spreker vind dat sy nie inpas in haar omgewing of by die mense rondom haar nie, en dat sy baie vrae oor haar identiteit en herkoms het. In "Ma't gesê" (40) beskuldig die spreker se ma haar byvoorbeeld daarvan dat sy nooit 'n man sal vind tensy sy haar 'koue' gedrag verander nie. Daar is ook verwysing na die stereotipe patriargale idee van die man wat ''n ridder op 'n wit perd' is wat die enkellopende vrou red sodat sy haar verwagte rol as vrou en ma kan vervul:
Ma't gesê my hande is twee gunslingers
dat die man wat sy wit perd vir my op wou saal
'n ruiter van Skimmelperdpan sou word
Ma't gesê ek bou rooibaksteenkastele
my oë is Nagasaki en Hirosjima
ek moet mans ophou speelgoed maak
hulle ophou soos toiletpapier gebruik
[...]
mag watter god ook al jy glo jou genadig wees
In "Ontheemding" (41-2) kom die tema van vervreemding ook sterk na vore:
Ek is toe verkimberley, 'n whyster gemaak
ek kon nog nooit soos hulle praat
as ek in Springbok kom is ek te stad
in Kimberley te Nama
Sien ook in hierdie verband "kroes" (81-2). Die spreker besin byvoorbeeld ook oor hoe haar ma tot tien in Nama kan tel, maar sy nie, en wie die god van die Namas is (42).
Die spreker se soeke na haar 'self' en die skepping van haar eie identiteit is 'n deurlopende tema, soos in "Ontheemding" (41-2), "Aksynsbetalers" (44-5), "Whisky op 'n Saterdagaand" (50), "Om te drink soos Koos du Plessis teen die vuur in jou kop" (52-3) en "Wedergeboorte" (80) gesien kan word. In laasgenoemde vers stel die spreker: "jou wedergeboorte is soos jou naels / wat jy weekliks knip" (80). In "Sy wat mal is" (77) kom die tema van die vrou as skrywer en die afwyking van die konvensionele ook na vore:
Sy wat mal is wat in skottelgoedwater was
[...]
wat poppehuisie speel met seuns
sy vry met getroude sinne
en ligtekooi met reëls
Ander temas sluit in die struweling met geestesgesondheid in "Vir Aljarreau" (48-9), "Sara II" (78) en "Das nichts" (79) en geloof in "Vir 'n one laat vat" (58), "Die psalmboek" (15), "Geloof se mosterdsaadjie" (74) en "Daai Sabbat" (56). Die uitsluiting van Swart en Coloured mense uit oorwegend Westerse/wit instansies soos die Nederduits Gereformeerde-kerk (NGK) waar daar nog neo-imperialistiese tradisies bestaan, word sterk gekritiseer en daar word deurgaans na die 'witheid' van Christenskap en die Christen-God verwys:
U het gesê ek sou van U leer
maar die God daar was wit
en vêr
en NG
[...]
ek nié (58)
en
Jy weet nie of jy weer in die wit Jirre
met gladde hare
se kerk kan sit
en vorentoe gaan vir nagmaal nie (74)
'n Teenhegemoniese stem kom dus na vore waar die witheid van instansies in Suid-Afrika bevraagteken word, soos sentraal staan in eietydse feminisme en in ooreenstemming met Swart feministiese kritiek wat deur hooks, Spivak en Mohanty beskryf word.
Ten slotte
Met die gedigte in Uit die kroes en die diverse temas wat daarin voorkom, bied Julius 'n unieke perspektief op die lewe, stories en taal in die Noord-Kaap, die rol wat herkoms en geskiedenis in identiteitspolitiek speel, die rol en ervaringe van Coloured mense en veral vroue in die Suid-Afrikaanse samelewing, en 'n jong Coloured vrou se soeke na haar individualiteit wat nou oor die mag beskik om haar eie stem te laat hoor. Soos in die bostaande afdelings bespreek is, is Julius se bundel na my mening 'n prominente vergestalting van hoe interseksionele kwessies aangaande, onder andere, ras, gender, taal, klas, opvoeding en geloof Coloured vroue se alledaagse lewens beïnvloed. Sy neem dus haar plek as 'n drievoudige gemarginaliseerde stem in die Afrikaanse literêre kanon in. Hierdie persoonlike perspektiewe het ongetwyfeld 'n politieke verbintenis en speel 'n beduidende rol in die herskepping en dekolonisering van die eietydse feministiese diskoers waarin interseksionele feminisme sentraal staan. Sonder die perspektiewe van dié wat voorheen gemarginaliseer en uitgesluit is van die amptelike wêreld van die media, akademie en literatuur, kan die interseksionele kwessies wat vroue se lewens daagliks negatief beïnvloed nie uitgewys, geproblematiseer en reggestel word in die Suid-Afrikaanse, asook Afrikaanse, konteks nie.
Erkenning
Hierdie artikel spruit voort uit my M.A.-tesis, "Die vertaling van diverse Coloured vrouestemme in die Afrikaanse poësie: 'n feministiese benadering", voltooi onder leiding van mnr. Marius Swart, aan die Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika. Die graad is op 5 Desember 2022 toegeken.
Aantekeninge
1 My keuse van die term 'Coloured' sal later in die artikel bespreek word met verwysing na die gesprek oor identiteit met betrekking tot ras in die Afrikaanse skrywersgemeenskap. Ek argumenteer dat Julius perspektiewe vanuit 'n spesifieke Coloured Afrikaanse gemeenskap deel en dat haar poësie op die diversiteit van Afrikaans en voorheen gemarginaliseerde stemme dui-'n taal waar Afrikanernasionalisme, wit Afrikaanssprekendes en "Standaardafrikaans" voorheen (en selfs vandag nog) as die norm gesien is/word (Odendaal 659).
2 Die Globale Suide verwys grootliks na streke/lande buite die Westerse konteks (Anglo-Amerikaanse/Wes-Europese lande) of die sogenaamde 'ontwikkelende lande' of streke/lae inkomste-lande of -streke, soos Suid-Amerika, Asië, Afrika en Oseanië (alhoewel nie al die lande in dié streke of vastelande so geklassifiseer kan word nie). Dié streke word beskryf as polities en kultureel gemarginaliseerd. Die gebruik van die term 'Globale Suide' dui op 'n verskuiwing van die fokus op ontwikkeling of kulturele verskille na 'n klem op geopolitieke magsverhoudings (Dados en Connell 12). Die term is meer as 'n metafoor vir onderontwikkeling, dit verwys na 'n hele geskiedenis van kolonialisme, neo-imperialisme, asook beduidende ongelykhede in lewenstandaard, lewensverwagting en toegang tot hulpbronne (Dados en Connell 13).
3 Baderoon (1) gebruik "Black" met 'n hoofletter B in hierdie konteks om die "Black Consciousness"-definisie van "Black" aan te dui. Dit verwys na die politieke Swartbewussynsbeweging waar Suid-Afrikaners wat as Swart, Coloured en Indiër deur die apartheidsregering geklassifiseer is, in opstand teen rassediskriminasie en rasseklassifikasie gekom het (Willemse, "Swart Afrikaanse skrywersimposium" 206). Ek sal voortaan die term 'Swart' gebruik om na almal wat as Swart/Coloured/Indiër/ander vroue van kleur identifiseer, te verwys wanneer dit so in die aangehaalde werk gebruik word, of wanneer daar na die negatiewe gevolge van apartheid/kolonialisme op voorheen benadeelde groepe in die spesifieke konteks wat bespreek word, verwys word.
4 Die dekolonisering van literatuur in 'n spesifieke sosio-politieke konteks verwys kortliks na die sistemiese regstelling van ongelyke verteenwoordiging en magsverhoudings van voorheen gemarginaliseerde skrywers teenoor wit/Westerse skrywers. In die Suid-Afrikaanse konteks word daar klem gelê op die effek wat kolonialisme en die apartheidswetgewing op die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse literêre sfeer gehad het en hoe dit bygedra het tot die onderverteenwoordiging en wanvoorstelling van voorheen gemarginaliseerde groepe. Die publikasie van onder andere postkoloniale literatuur of literatuur deur voorheen gemarginaliseerde skrywers of skryfwerk wat 'Afrika-perspektiewe' hanteer, word sterk aangemoedig om sodoende te poog om die (Suid-)Afrikaanse literêre kanon meer inklusief te maak en om dié te verteenwoordig wat voorheen uitgesluit is (America en Le Grange 109). Maldonado-Torres (243) wys daarop dat kolonialiteit lewend bly in literatuur, die akademie, kulturele patrone, denkwyses, mense se selfbeeld en ander aspekte van die eietydse samelewing, daar moet dus aktief gepoog word om weg te beweeg van blywende koloniale sisteme.
5 Afrikaanse digbundels wat deur Coloured Afrikaanse vroue sedert 20θ8 gepubliseer is sluit in: Noudat Slapende Honde (2008), Grond/Santekraam (2011), Hammie (2016) en Chinatown (2019) deur Ronelda S. Kamfer, Nomme 20 Delphi Straat deur Shirmoney Rhode (2016), radbraak (2017) en Bientang (2020) deur Jolyn Phillips (2017), Die Vrede kom Later deur Diana Ferrus (2019), Uit die kroes deur Lynthia Julius (2020) en soe rond ommie bos deur Veronique Jephtas (2021) (Xaba 33-5).
6 Hier word verwys na die opstand van Swart hoërskoolleerders in Soweto teen die die regering se instelling van Afrikaans as onderrigtaal in Swart skole. Sowat 20000 leerders het aan die protes deelgeneem en die polisie het met geweld teenoor hulle opgetree, wat tot die dood van 176 leerders gelei het (Carstens 31).
Geraadpleegde bronne
Adhikari, Mohamed. "From Narratives of Miscegenation to Post-modernist Re-imagining: Towards a Historiography of Coloured Identity in South Africa." African Historical Review vol. 40, np. 1, 2008, pp. 77-100. DOI: https://doi.org/10.1080/17532520802249472. [ Links ]
America, Carina & Le Grange, Lesley. "Dekolonisering van die kurrikulum: 'n Kontekstualisering van Ekonomie-en Besigheidstudie-onderrig." Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 59, no. 1, 2019, pp. 106-23. DOI: http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n1a7. [ Links ]
Amos, Valerie & Pratibha Parmar. "Challenging Imperial Feminism." Many Voices, One Chant: Black Feminist Perspectives vol. 17, 1984, pp. 3-19. DOI: https://doi.org/10.2307/1395006. [ Links ]
Baderoon, Gabeba. "Introduction." Our Words, Our Worlds, geredigeer deur Makhosazana Xaba. U of KwaZulu-Natal P, 2019. pp. 1-10. [ Links ]
Bagalini, Adwoa. "Colourism: How skin-tone bias affects racial equality at work." World Economic Forum. 26 Aug. 2020. https://www.weforum.org/agenda/2020/08/racial-equality-skin-tone-bias-colourism/. [ Links ]
Bate, Marisa. The Periodic Table ofFeminism. Pop, 2018. [ Links ]
Basilio, Elena. "Donne è bello and the Role of Translation in the Migration of 'Consciousness-Raising' from the US to Italy." Feminist Translation Studies: Local and Transnational Perspectives, geredigeer deur Olga Castro & Emek Ergun. Routledge, 2017, pp. 167-80. [ Links ]
Bonthuys, Marni. "Postkoloniale feminisme in die Afrikaanse Poësie: Die debute van Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips." LitNet Akademies vol. 17 no. 1, 2020, pp. 241-61. https://www.litnet.co.za/postkoloniale-feminisme-in-die-afrikaanse-poesie-die-debute-van-ronelda-s-kamfer-shirmoney-rhode-en-jolyn-phillips/. [ Links ]
Butler, Judith. "Contingent Foundations: Feminism and the Question of 'Postmodernism.'" Feminists Theorize the Political, geredigeer deur Judith Butler & Joan W. Scott. Routledge, 1992, pp. 3-21. [ Links ]
Carstens, Wannie, A.M. "Die storie van Afrikaans: Perspektiewe op die verlede, hede en toekoms." Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans vol. 1, 2013, pp. 21-49. [ Links ]
Cochrane, Neil. "Die swart Afrikaanse vroueskrywer (1995-2007): nog steeds 'n literêre minderheid binne 'n demokratiese bestel?" Acta Academica vol. 40, no. 1, 2008, pp. 31-51. [ Links ]
Crenshaw, Kimberlé, W. "Demarginalizing the Intersection of Race and Sex: A Black Feminist Critique of Antidiscrimination Doctrine, Feminist Theory and Antiracist Politics." The University of Chicago Legal Forum vol. 140, 1989, pp. 139-67. [ Links ]
Dados, Nour & Raewyn Connell. "The Global South." Context vol. 11, no. 1, 2012, pp. 12-3. DOI: https://doi.org/10.1177/1536504212436479. [ Links ]
De Jong, Marianne & Murray, Jessica. "Feminisme." Literêre terme en teorieë. 2013. T. T. Cloete & Hein Viljoen. reds. Literêre terme en teorieë. https://www.literaryterminology.com/index.php/f/1564-feminisme-2. [ Links ]
Du Pisani, Kobus. "Verteerbare patriargie? Angus Buchan, die Mighty Men en Manlikheid." LitNet Akademies vol. 10, no. 2, 2013, pp. 685-722. https://www.litnet.co.za/verteerbare-patriargie-angus-buchan-die-mighty-men-en-manlikheid/. [ Links ]
Du Plessis, J.W. & Steenberg, David H. "Uit die oogpunt van 'n vrou? Perspektief op feministiese literêre kritiek in die kader van Afrikaanse prosa." Literator vol. 12, no. 3, 1991, pp. 71-87. DOI: https://doi.org/10.4102/lit.v12i3.781. [ Links ]
Du Plessis, Clinton, V. "Afrikaans se leef- en leeswêreld verruim." Netwerk24. 20 Feb. 2017. https://www.netwerk24.com/netwerk24/afrikaans-se-leef-en-leeswereld-verruim-20170220. [ Links ]
Flores, Pamela, Gómez, Nancy R., Roa, Alana F. & Whitson, Risa. "Reviving feminism through social media: from the classroom online and offline public spaces." Gender and Education vol. 32, no. 6, 2020, pp. 751-66. DOI: https://doi.org/10.1080/09540253.2018.1513454. [ Links ]
Freedman, Estelle. B. "From No Turning Back: The History of Feminism and the Future of Women (2002)." A Feminist Reader: Feminist Thought from Sappho to Satrapi. Volume IV. 1981-2003, geredigeer deur S .M. Harris & L. K. Hughes. Random House, 2012, pp. 406-18. [ Links ]
Giliomee, Hermann. "'n 'Gesuiwerde' nasionalisme, 1924-1948." Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag, geredigeer deur Fransjohan Pretorius. Tafelberg, 2012, pp. 293-310. [ Links ]
Heilbron, Johan & Sapiro, Gisèle. "Outline for a Sociology in Translation: Current Issues and Future Prospects." Constructing a Sociology of Translation, geredigeer deur Michaela Wolf & Alexandra Fukari. John Benjamins, 2007, pp. 93-107. [ Links ]
Hendricks, Frank S. "Ponelisgedenklesing." U Wes-Kaapland, 2014. [ Links ]
hooks, bell. Ain't I a Woman: Black Women and Feminism. South End, 1982. [ Links ]
_____. Yearning: Race, gender and cultural politics. South End, 1990. [ Links ]
Islam, Minhazul. "White Beauty Standards in Toni Morrison's The Bluest Eye." Language in India vol. 19, no. 9, 2019, pp. 188-205. [ Links ]
Juliano, Claudia C.A. "Spreading of Dangerous Skin-Lightening Products as a Result of Colourism: A Review." Applied Sciences vol. 12, 2022, pp. 1-15. DOI: https://doi.org/10.3390/app12063177. [ Links ]
Julius, Lynthia. Uit die kroes. Kwela, 2020. [ Links ]
Julius, Lynthia & Ronelda Kamfer. "Facebook Live-gesprek: Uit die kroes: Ronelda S. Kamfer gesels met Lynthia Julius." Facebook. 27 Aug. 2020. https://www.facebook.com/NBPublishers/videos/uit-die-kroes-ronelda-s-kamfer-gesels-met-lynthia-julius/795082364567399/. [ Links ]
Julius, Lynthia & Bernard t. "Onderhoud met Lynhia Julius (Uit die kroes)." Versindaba. 10 Jun. 2020. https://versindaba.co.za/2020/06/10/onderhoud-met-lynthia-julius-uit-die-kroes/. [ Links ]
Kamfer, Ronelda, S. "Uit die kroes. Lynthia Julius." Tydskrif vir Letterkunde vol. 58, no. 1, 2021, pp. 184-5. DOI: https://doi.org/10.17159/tl.v58i1.9164. [ Links ]
Kannemeyer, Mercy. "'n Gesprek met Ryan Pedro oor pienk ceramic-hondjies." Kyntji. 2 Nov. 2020. https://klyntji.com/joernaaV2020/11/2/ryan-pedro-pienk-ceramic-hondjies. [ Links ]
King, Deborah K. "Multiple Jeopardy, Multiple Consciousness: The Context of a Black Feminist Ideology." Journal of Women in Culture and Society vol. 14, no. 1, 1988, pp. 42-77. [ Links ]
Lay, Kathy & James G. Daley, "A Critique of Feminist Theory." Advances in Social Work vol. 8 no. 1, 2007, pp. 49-61. DOI: https://doi.org/10.18060/131. [ Links ]
Le Cordeur, Michael. "Die variëteite van Afrikaans as draers van identiteit: 'n Sosiokulturele perspektief." Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 51, no. 4, 2011, pp. 758-77. [ Links ]
Lyster, Rosa. "The death of Uyinene Mrwetyana and the rise of South Africa's 'Am I next?' movement". The New Yorker. 12 Sep. 2019. https://www.newyorker.com/news/news-desk/the-death-of-uyinene-mrwetyana-and-the-rise-of-south-africas-aminext-movement. [ Links ]
Mack-Canty, Colleen. "Third-wave feminism and the need to reweave nature/culture duality." NWSA Journal vol. 16, no. 3, 2004, pp. 154-79. [ Links ]
Mohanty, Chandra, T. Feminism without Borders: Decolonizing Theory, Practicing Solidarity. Duke U P, 2003. [ Links ]
_____. "'Under Western Eyes: Feminist Scholarship and Colonial Discourses' (1984)." A Feminist Reader: Feminist Thought from Sappho to Satrapi. Volume IV. 1981-2003, geredigeer deur S. M. Harris & L. K. Hughes, Random House, 2013, pp. 191-224. [ Links ]
Maldonado-Torres, Nelson. "On the coloniality of being: Contribution to the development of a concept." Cultural Studies vol. 21, no. 2-3, 2007, pp. 240-70. DOI: https://doi.org/10.1080/09502380601162548. [ Links ]
Moses, Warrick. "In the Mix: Expressions of Coloured Identity in Cape Town-Based Hiphop." Proefskrif. Harvard U, 2019. https://dash.harvard.edu/handle/y42029829. [ Links ]
Munro, Ealasaid. "Feminism: A Fourth Wave?" Political Insight vol. 4, no. 2, 2013, pp. 22-5. DOI: https://doi.org/10.1111/2041-9066.12021. [ Links ]
Nash, Jennifer. Black feminism reimagined: After intersectionality. Duke U P, 2019. [ Links ]
Odendaal, Gerda. "Moet Afrikaans geherstandaardiseer word?" Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 54, no. 4, 2014, pp. 656-74. [ Links ]
Parakrama, Arjuna. De-Hegemonizing Language Standards: Learning from (Post)Colonial Englishes about 'English'. Palgrave, 1995. [ Links ]
Parry, Diana C., Corey W. Johnson & Faith-Anne Wagler. "Fourth wave feminism: theoretical underpinnings and future directions for leisure research." Feminisms in Leisure Studies: Advancing a Fourth Wave, geredigeer deur Diana. C. Parry. Routledge, 2019, pp. 1-12. [ Links ]
Petrus, Theodore & Wendy Isaacs-Martin. "The Multiple Meanings of Coloured Identity in South Africa." Africa Insight vol. 42, no. 1, 2012, pp. 87-102. [ Links ]
Shiva, Negar & Zohreh Nosrat Kharazmi. "The Fourth Wave of Feminism and the Lack of Social Realism in Cyberspace." Journal of Cyberspace Studies vol. 3, no. 2, 2019, pp. 129-46. DOI: https://doi.org/10.22059/jcss.2019.72456. [ Links ]
Spivak, Gayatri. C. "Can the Subaltern Speak?" Marxism and the Interpretation of Culture, geredigeer deur Cary Nelson & Larry Grossberg, U of Illinois P, 1988, pp. 271-313. [ Links ]
Statistics South Africa. General Household Survey. 2018. [ Links ]
Tong, Rosemarie. Feminist Thought. Westview, 2009. [ Links ]
Trantraal, Nathan. "'Coloured' kom nooit alleen nie." Netwerk24. 25 Apr. 2020. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/coloured-kom-nooit-alleen-nie-20200425. [ Links ]
Troskie, Elodi. "Lynthia Julius: 'Ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie.'" Kyntji, 30 Jun. 2020. https://klyntji.com/joernaaV2020/6/30/lynthia-julius-uit-die-kroes. [ Links ]
Van Wyk, Steward. "'Ons is nie halfnaaitjies nie / ons is Kaaps': Die wroeging met identiteit by enkele swart Afrikaanse skrywers." Literator vol. 18, no. 2, 1997, pp. 85-97. DOI: https://doi.org/10.4102/lit.v18i2.543. [ Links ]
Vermeulen, Dalene. "'n Ondersoek na Ronelda Kamfer se poësie aan die hand van bell hooks se filosofie oor ras en taal." MA-tesis. Stellenbosch U, 2018. http://hdl.handle.net/10019.y103340. [ Links ]
Viljoen, Louise. "Postcolonialism and Recent Women's Writing in Afrikaans." World Literature Today vol. 70, no. 1, 1996, pp. 63-72. DOI: https://doi.org/10.2307/40151854. [ Links ]
_____. "Antjie Krog en haar literêre moeders: die werking van vroulike tradisie in die Afrikaanse poësie." Tydskrif vir Letterkunde vol. 44, no. 2, 2007, pp. 5-28. DOI: https://doi.org/10.4314/tvl.v44i2.29788. [ Links ]
_____. "Prontheid van segging wat jou laat regop sit." Netwerk24. 2 Aug. 2020. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/prontheid-van-segging-wat-jou-laat-regop-sit-20200802. [ Links ]
Walsh, Olivia. "Introduction: in the shadow of the standard. Standard language ideology and attitudes towards 'non-standard' varieties and usages." Journal of Multilingual and Multicultural Development vol. 42, no. 9, 2021, pp. 773-82. DOI: https://doi.org/10.1080/01434632.2020.1813146. [ Links ]
Willemse, Hein. "Die Swart Afrikaanse skrywersimposium-oorspronge en konteks." Tydskrif vir Letterkunde vol. 44, no. 2, 2007, pp. 204-14. DOI: https://doi.org/10.4314/tvl.v44i2.29800. [ Links ]
_____. "More than an oppressor's language: reclaiming the hidden story of Afrikaans." The Conversation. 27 Apr. 2017. https://theconversation.com/more-than-an-oppressors-language-reclaiming-the-hidden-history-of-afrikaans-71838. [ Links ]
Xaba, Makhosazana. "Black Women Poets and Their Books as Contributions to the Agenda of Feminism." Our Words, Our Worlds, geredigeer deur Makhosazanna Xaba, University of KwaZulu-Natal Press, 2019, pp. 15-61. [ Links ]
Submitted: 30 April 2023
Accepted: 15 January 2024
Published: 26 June 2024












