SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 número4The vulnerability of children in the context of South African households and familiesThe Dutch Reformed Church and the Rebellion of 1914-1915: Was the Council of Churches ecclesiastically reconciliatory? índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Journal

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão On-line ISSN 2224-7912versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 no.4 Pretoria Dez. 2025

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n4a7 

    RESEARCH AND REVIEW ARTICLES: WARS AND RUMOURS OF WAR

     

    Die Irannese kern(wapen)dossier: Implikasies vir Israel se nasionale veiligheid ná 7 Oktober 2023 (Deel I)

     

    The Iranian nuclear file: Implications for Israel's national security after 7 October 2023 (Part I)

     

     

    Eben Coetzee

    Departement Politieke Studie en Regeerkunde, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. E-pos: Coetzeee2@ufs.ac.za. Orcid ID: https://orcid.org/0000-0002-0926-7815

     

     


    OPSOMMING

    Vrese oor 'n kerngewapende Iran bly 'n belangrike kwessie in die internasionale politiek. Argumente dat Israel, die VSA en die internasionale gemeenskap nie met 'n kerngewapende Iran kan saamleef nie, word dikwels aangevoer en die argument het uiteindelik as primêre beweeggrond vir die onlangse Israeliese en Amerikaanse aanval op Iran se kernaanlegte gedien. Ná die gebeure van 7 Oktober 2023 het dié vrese wyd uitgekring. Sulke argumente en vrese spruit gewoonlik voort uit 'n drieledige stel argumente waarin 'n kerngewapende Iran as 'n bestaansbedreiging vir die VSA, Israel en die internasionale gemeenskap voorgehou word: Eerstens sal 'n Irannese kernwapen dié land se ondersteuning van handlangeroorloë of terreur drasties vergroot; tweedens sal Iran 'n kernwapen aan eensgesinde terreurgroepe kan verskaf, wat die vrees vir kernterreur ingrypend verhoog; en laastens sal Iran nie huiwer om 'n kernaanval jeens Israel te loods nie. Hierdie ontleding fokus hoofsaaklik op die eerste punt en word deur twee navorsingsvrae gerig: (i) Hoe sal die nasionale veiligheidslandskap van Israel daar uitsien indien Iran kernwapens het, met spesifieke verwysing na 'n oënskynlike toename in handlangeroorloë en terreur? Anders gestel: Sal 'n Irannese kernwapenskild 'n toename in terreur en handlangeroorloë meebring? (ii): In welke mate, indien enigsins, het die gebeure van 7 Oktober 2023 die risiko van 'n toename in handlangeroorloë en terreur vergroot, beskou teen die agtergrond van 'n Irannese kernwapenskild?

    Trefwoorde: Iran; kernwapens; Israel; 7 Oktober, 2023; kernwapenskild; kernterreur; handlangeroorloë; terreur; Hamas; Hezbollah.


    ABSTRACT

    The spectre of a nuclear-armed Iran continues to loom large. For the last two decades or so, Western officials and leaders have repeatedly stressed that a nuclear-armed Iran constitutes a uniquely terrifying prospect. In particular, the United States of America (USA) and Israel have forthrightly declared that an Iranian nuclear weapon amounts to an existential threat and cannot and will not be tolerated. Western fears that Iran is fast approaching weaponization of its civilian nuclear program caused the US and Israel to strike several Iranian nuclear facilities during June 2025, with the jury still out on how effective these strikes were in destroying (or merely delaying) the development of an Iranian nuclear weapon. Although Iran insists that its nuclear program is geared towards generating nuclear energy (hence, for peaceful purposes), there is overwhelming evidence that Teheran has actively pursued weaponization of its nuclear program. Whether Iran has in recent years ceased or merely halted its nuclear weapons program remains controversial. What is clear, however, is that Tehran has over the last two decades invested quite heavily in infrastructure and (dual-use) technologies, along with uranium enrichment exceeding thresholds for civilian nuclear use, that leads observers to believe that imminent weaponisation is possible - or, at the very least, was possible prior to the American and Israeli attacks. Fears about the imminence of an Iranian nuclear weapon and the destruction (i.e., a presumed nuclear attack on American or Israeli targets) that is widely believed to follow are, of course, nothing new. However, in the wake of the Hamas terror attack in Israel on October 7, 2023, such fears proliferated, especially given Hamas's and other terrorist groups ' well-known ties to Iran. Now more than ever American and Israeli officials were convinced that a nuclear-armed Iran posed an existential threat, one that must be eliminated at all costs.
    Ever since the spectre of an Iranian nuclear weapon surfaced, the same set of concerns have predominated Western security thinking and assessments. In the main, fears about impending peril and doom in the wake of the development of an Iranian nuclear weapon turn on three key concerns. First, an Iranian nuclear weapon will afford Tehran with a nuclear shield under which its support of proxy wars and terrorism will be ramped up. Second, a nuclear-armed Iran will transfer nuclear weapons to like-minded terrorists. And three, a full-blown nuclear exchange between Israel and Iran will follow, with Iran cast in the role of aggressor. This article will probe the first of these concerns and will be guided by two research questions: first, what are the national security implications for Israel in light of a nuclear-armed Iran, with specific reference to a possible increase in Iranian support of proxy wars and terrorism? And two, in what ways, if any, has the Hamas attacks on 7 October 2023 altered or reinforced Israeli and American assessments that an Iranian nuclear shield will lead to increased support of proxy wars and terror? A literature and policy-centred analysis of the behaviour and objectives of Iranian foreign policy will guide this study. The first part of the study will probe the motivations and objectives of the Iranian nuclear weapons programme, noting that the Iranian search for the bomb predates the Islamic Revolution of1979. This will be followed by considering the spectre of increased proxy wars and terrorism under an Iranian nuclear shield, after which the discussion will be framed against the backdrop of the events of 7 October 2023. In the final section, I will emphasize key insights and conclusions in relation to Israel's national security landscape and briefly consider the implications of the Israeli and American attacks on Iranian nuclear infrastructure for the future of the Iranian nuclear (weapons) programme.

    Keywords: Iran; nuclear weapons; Israel, October 7, 2023; nuclear shield; nuclear terrorism; proxy wars; terrorism; Hamas; Hezbollah.


     

     

    1. Inleiding en agtergrond

    Etlike dekades reeds wek Iran se koorsagtige strewe na 'n kernprogram die argwaan van veral Westerse waarnemers en besluitnemers. Op die keper beskou, word daar vandag aangevoer - soos vantevore in die geskiedenis van Iran se kernprogram - dat die program hoofsaaklik militêre oogmerke ten doel het (kortom, die ontwikkeling van kernwapens), ondanks Iran se ontkenning daarvan. Vir die Irannese regering staan die kernprogram hoofsaaklik in diens van die vreedsame aanwending van kernenergie vir kragopwekking, mediese navorsing en dergelike doeleindes. Die Irannese kernprogram strek natuurlik dekades terug. Tydens die bewind van sjah Mohammed Reza Pahlavi het die sjah se regering in 1957 'n samewerkingsooreenkoms oor kernnavorsing as deel van die Eisenhower-administrasie se Atoms for Peace-inisiatief onderteken, wat van 1959 tot 1964 as 'n gesamentlike Amerikaans-Irannese navorsingsprojek geloop het (Esfandiary & Tabatabai, 2021:93, 205; World Nuclear Association, 2024; Arms Control Association, 2015). Die uiteinde daarvan was die verskaffing deur die Verenigde State van Amerika (VSA) van 'n 5 megawatt-kernreaktor (vir navorsingsdoeleindes), wat gedurende die vroeë 1970's as vertrek- en fokuspunt gedien het vir omvattende navorsing en onderrig by die Universiteit van Teheran (Wisconsin Project on Nuclear Arms Control, 2023).

    Teen die middel van die 1970's het Iran 'n omvattende kernprogram van stapel gestuur, in so 'n mate dat die sjah die grootse plan van die opwekking van byna 23 000 megawatt kernenergie binne die kort tydperk van 20 jaar in die vooruitsig gestel het. Hierdie plan het uitgeloop op die ondertekening van verskeie kontrakte met kernverskaffers in Europa - by name die Wes-Duitse Kraftwerk Union, 'n filiaal van Siemens, en Framatome, 'n Franse maatskappy - en in die VSA (Wisconsin Project on Nuclear Arms Control, 2023; Arms Control Association, 2015). Teen die agtergrond van die skrikbeeld van 'n Irannese kernwapen het die VSA van meet af gepoog om enige selfstandige Irannese uraanverrykingsvermoë te kortwiek. Ofskoon die sjah aangevoer het dat die dryfkrag agter die Irannese kernprogram die diversifikasie van die land se energiebronne was, het dié program vir hom ook duidelike veiligheidsoogmerke gehad. Vir die sjah was dit belangrik dat sodanige kernprogram die moontlikheid van 'n kernwapen kon inhou indien die land se veiligheidsituasie dit sou vereis (Esfandiary & Tabatabai, 2021:93, 104; Waltz in Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:192). Vrese vir 'n Irannese kernwapen het derhalwe reeds voor die Islamitiese Rewolusie van 1979 bestaan.

    Die Islamitiese Rewolusie self het tot 'n kortstondige onderbreking van die Irannese kernprogram gelei, waarna die program gedurende die 1980's weinig gevorder het vanweë die hulpbron-intensiewe Irans-Irakse oorlog van 1980-1988, die vernietiging van twee kernreaktors wat by Bushehr in aanbou was, en ajatolla Khomeini se verset teen kernontwikkeling om religieuse redes (Wisconsin Project on Nuclear Arms Control, 2023). Ná die dood van Khomeini in 1989 en die einde van die Irans-Irakse oorlog het die nuwe opperleier, ajatolla Ali Hosseini Khamanei, nuwe lewe in die Irannese kernprogram geblaas, 'n stap wat gekenmerk is deur n toename in onverklaarde kernaktiwiteite (Arms Control Association, 2015). In samewerking met Rusland, China en Pakistan (veral deur middel van die sogenaamde A.Q. Khan-kernsluikhandelnetwerk), het die Irannese kernprogram, met inbegrip van die strewe na die ontwikkeling van kernwapens, gedurende die 1990's voortgegaan. Laat in die 1990's het senior Irannese amptenare 'n plan - die sogenaamde Amad-plan - goedgekeur wat ten doel gehad het om 'n arsenaal van vyf kernwapens teen die jaar 2004 te ontwikkel (Wisconsin Project on Nuclear Arms Control, 2023). In die nadraai van die onthulling in 2002 deur 'n Irannese dissident, Alireza Jafarzadeh, dat twee kernfasiliteite (die Arak-swaar-waterreaktor en die Natanz-verrykingskompleks) nie bekendgemaak is nie, het vrese vir 'n Irannese kernwapenprogram wyd uitgekring (Esfandiary & Tabatabai, 2021:93; Futter, 2015:159). Dié vrese het nie net uit die onverklaarde status van hierdie instellings voortgespruit nie, maar ook uit die feit dat Iran op bedekte wyse sentrifugeertegnologie via die A.Q. Khan-sluikhandelnetwerk bekom het en daar duidelike bewyse van kernwapenverwante eksperimente was (Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:178-179).

    Die verloop van gebeure ná die onthulling van die onverklaarde kernfasiliteite is welbekend. Verskeie diplomatieke ondernemings, resolusies van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad, en tussentydse en finale ooreenkomste - spesifiek die Gesamentlike Omvattende Aksieplan (Joint Comprehensive Plan of Action, JCPOA) oftewel die Irannese kernooreenkoms, waaraan die eerste Trump-administrasie die VSA in 2017 onttrek het - het sedert 2002 gevolg. Die hoofdoel daarvan was om die Irannese uraanverrykingsvermoë te kortwiek en, uiteindelik, die ontwikkeling van 'n Irannese kernwapen te verhoed in ruil vir die beëindiging van 'n wydverspreide en omvattende sanksies-regime teen Iran (Robinson, 2023). Dié diplomatieke ondernemings val nie onder die soeklig van hierdie artikel nie.

    Vir die afgelope dekade of so is Iran as 'n kerndrempelstaat beskou. Ofskoon só 'n staat nie 'n kernwapenstaat heet nie, beskik dit oor voldoende infrastruktuur, kapasiteit, tegnologie en kritieke materiaal (voorraadstapel van verrykte uraan) om binne 'n kort tydperk die kernwapendrempel oor te steek. Sommige waarnemers voer aan dat Iran oor die vermoë beskik om binne een week voldoende uraan te verryk vir vyf kernwapens en genoeg vir agt kernwapens in sowat twee weke, waarna tyd begroot sal moet word vir die ontwerp en vervaardiging van ander kritieke komponente van 'n kernwapen, 'n proses wat van 'n paar maande tot slegs 'n paar weke ('n minder waarskynlike skatting) kan duur (Wisconsin Project on Nuclear Arms Control, 2025; Zhang, 2025; Davenport, 2025). In 'n streng vertroulike verslag deur die Internasionale Atoomenergieagentskap wys dié organisasie daarop dat Iran tans meer as 400 kg uraan (tot 60% verryk) beskik. Dié persentasie is veel hoër as wat vereis word vir die vreedsame aanwending van kernenergie en is naby aan die drempel van uraanverryking vir militêre doeleindes. Indien die hoeveelheid uraan wel verder verryk word, sal Iran voldoende uraan vir 10 kernwapens hê (BBC, 2025). Op 13 Junie 2025 en kort daarna, ná jarelange dreigemente dat Israel en die VSA nie 'n kerngewapende Iran sal duld nie, het dié lande etlike teikens verbonde aan die Irannese kern(wapen)program aangeval, wat spanning tussen dié drie lande tot op 'n mespunt gedryf het. Dit is tans nog te vroeg om vas te stel of dié aanvalle die moont-likheid van 'n Irannese kernwapen finaal beëindig het. In elk geval is dit uiters moeilik om 'n land van koers te bring as hy die ontwikkeling van kernwapens as kritiek vir sy nasionale oorlewing beskou, en dit is bowendien hoogs onwaarskynlik dat so 'n poging sal slaag.

    Vandag, soos vroeër in die huidige eeu, word die bedreiging wat 'n Irannese kernwapen inhou, hoofsaaklik gebou op 'n drieledige stel argumente wat ten doel het om te wys dat 'n kerngewapende Iran 'n bestaansbedreiging vir Israel en die internasionale gemeenskap (veral die Westerse wêreld, met Israel en die VSA as die primêre teikens) sal inhou: Eerstens sal 'n Irannese kernwapen dié land se ondersteuning van handlangeroorloë of terreur jeens Israel drasties vergroot; tweedens sal Iran 'n kernwapen aan eensgesinde terreurgroepe kan verskaf, wat die gevaar van kernterreur ingrypend vergroot; en derdens sal Iran nie huiwer om 'n kernaanval op Israel te doen nie (Waltz in Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:193). Die soeklig in hierdie artikel val uitsluitlik op die eerste punt hier bo, te wete die vraag van die moontlikheid en omvang van groter steun deur Iran vir handlangeroorloë en terreur, met Israel as vernaamste teiken. Dit is egter belangrik om daarop te let dat "terreur" hier nie "kernterreur" insluit nie, 'n kwessie wat reeds elders bespreek is (vgl. Coetzee, 2021). Ook impliseer die vraag van 'n toename in handlangeroorloë en terreur hoegenaamd nie dat kernwapens dié hardnekkige probleme geheel en al uit die weg ruim nie. Die navorsingsvraag het eerder ten doel om ondersoek in te stel na die waarskynlikheid van 'n toename in handlangeroorloë en terreur teen die agtergrond van 'n Irannese kernwapenskild.

    Hierdie ondersoek skenk ook oorweging aan hoe die gebeure van 7 Oktober 2023 - toe die Palestynse (én Irannees gesteunde) militante groep Hamas die grondgebied van Israel binnegeval het, ongeveer 1 200 mense (hoofsaaklik burgerlikes) gedood en 251 gyselaar geneem het - die beoordeling van Irannees gesteunde handlangeroorloë en terreur beïnvloed in die lig van 'n moontlikheid dat Iran kernwapens sal ontwikkel. Gegewe hierdie agtergrond het hierdie artikel ten doel om die volgende navorsingsvrae te beantwoord: (i) Hoe sal die nasionale veiligheidslandskap van Israel daar uitsien indien Iran kernwapens het, met spesifieke verwysing na 'n oënskynlike toename in handlangeroorloë en terreur? (ii) In welke mate, indien enigsins, het die gebeure van 7 Oktober 2023 die oënskynlike risiko's van 'n toename in handlangeroorloë en terreur vergroot, beskou teen die agtergrond van 'n Irannese kern-wapenskild? Die ondersoek is gedoen aan die hand van 'n literatuur- en beleidsgesentreerde analise van Iran se beleidsoogmerke en optrede in sy buitelandse omgewing.

    Die struktuur van die artikel is soos volg. Daar word eerstens oorweging geskenk aan die motiverings en oogmerke van die Irannese kernwapenprogram. Tweedens word daar ondersoek ingestel na die skrikbeeld wat 'n toename in handlangeroorloë en terreur oproep in die lig van 'n kerngewapende Iran. Daarna word die veiligheidslandskap in Israel ná 7 Oktober oorweeg met spesifieke verwysing na Irannees gesteunde handlangeroorloë en terreur teen die agtergrond van 'n moontlike Irannese kernwapenskild. Die laaste afdeling bevat die vernaamste bevindinge van die artikel met betrekking tot Israel se nasionale veiligheidslandskap en skenk kortliks oorweging aan die moontlike koste verbonde aan 'n Israeliese lugaanval op Irannese kernenergie-infrastruktuur ten einde die moontlike ontwikkeling van 'n Irannese kernwapen te fnuik.

     

    2. Op weg na 'n Irannese kernwapen: Primêre motiverings en oogmerke

    'n Diepgaande begrip van die motiverings, oogmerke en tydsberekening van die Irannese kernwapenprogram en, breër beskou, die vernaamste vertrekpunte van Iran se buitelandse beleid is noodsaaklik vir enige oorweging van hoe 'n kerngewapende Iran in sy eksterne omgewing sal optree (Futter, 2015:162). As vertrekpunt is dit nuttig om daarop te wys dat Westerse persepsies van postrewolusionêre Iran uiters en onverskillig simplisties is (vlg. Esfandiary & Tabatabai, 2021:1). Ofskoon postrewolusionêre Iran deur anti-Amerikaanse en anti-Westerse retoriek gekenmerk word, behels Westerse persepsies onder meer dat Iran hoofsaaklik 'n rewolusionêre beweging is wat ten doel het om chaos te skep en wat nié as 'n rasionele en gewetensgerigte staat beskou kan word nie, en so word Iran niks minder as 'n karikatuur wat deur Westerse beleidsbepalers geskep is nie. Die persepsies toon geen begrip van die kompleksiteit van die Irannese politieke orde nie (vgl. Bajoghli, 2019; Esfandiary & Tabatabai, 2021:1). Soos ander lande in die internasionale politiek is Iran se buitelandse beleid hoegenaamd nie minder veiligheidsgesentreerd, rasioneel of strategies as dié van ander (Westerse) lande nie.

    Dit is natuurlik waar dat 'n uiteensetting van die sentrale oortuigings van die postre-wolusionêre Islamitiese Republiek 'n narratief van 'n weerbarstige, rewolusionêre en oorlog-lustige land steun. Let op die woord "narratief hier. Op die keper beskou, het die politieke narratief in die onmiddellike postrewolusionêre Iran hoofsaaklik berus op vyf sentrale oortuigings: (i) die noodsaaklikheid daarvan om 'n Moslem-oplewing te bevorder en samehorigheid onder die verdrukte mense van die wêreld teweeg te bring as verset teen Westerse imperialisme; (ii) anti-imperialisme en 'n veroordeling van die internasionale reg en internasionale instellinge as synde Westerse imperialistiese instrumente; (iii), die strewe na selfvoorsiening, veral wat energie, verdediging en vervaardiging betref; (iv) die nood-saaklikheid daarvan om Iran se beeld as 'n gerespekteerde en deelnemende lid van die internasionale gemeenskap uit te bou; en (v) algehele agterdog en openlike vyandigheid jeens die VSA en Israel (Esfandiary & Tabatabai, 2021:18-19).

    In die onmiddellik postrewolusionêre tydvak het hierdie oortuigings inderdaad sentraal in die Irannese politiek gestaan, hoewel die uitvoering en verwesenliking daarvan beswaarlik die hoofdoel van die Irannese buitelandse beleid was. Kortom, die rewolusionêre geloofsbriewe van Iran het veel eerder in woord as in daad bestaan. Belangriker nog is dat persepsies van Iran as 'n vurige ideologies gedrewe beweging, persepsies wat hoofsaaklik deur Westerse waarnemers gevestig word en uit die onmiddellik postrewolusionêre konteks dateer, nie tred gehou met die evolusie en uitvoering van Irannese buitelandse beleid nie, en wel dermate dat die pragmatisme in dié land se buitelandse beleid byna heeltemal deur Westerse waarnemers misken word. Gedurende 2012, nadat die voormalige Amerikaanse president Barack Obama met die moontlikheid van 'n herrysende Rusland gekonfronteer is, het Obama skerpsinnig (dog uiteindelik foutief) opgemerk: "The 1980s are now calling to ask for their foreign policy back" (in Brands & Edel, 2019:111).

    Met verwysing na Westerse waarnemings oor Iran se buitelandse beleid is dit noemens-waardig hoe dié persepsies by uitstek berus op die vurige retoriek in die onmiddellik postrewolusionêre konteks. Ofskoon die oorsake van dié mistasting in verskeie faktore lê, is die hoofoorsake waarskynlik te vinde in, enersyds, die onvermoë (of onwilligheid) van waarnemers van die internasionale politiek om hulle toe te spits op die gedrag - eerder as die retoriek - van lande (vir die klassieke argument oor hierdie punt, vlg. Waltz, 1979, & Mearsheimer, 2001) en, andersyds, die besef dat in Iran (soos ander lande in die internasionale politiek) die geskiedenis, politiek en veiligheidsdenke nie in isolasie staan nie, maar by een of ander kruispunt byeenkom (Tabatabi, 2020:vii). Kortom, vurige retoriek (in Iran en elders) moet gefiltreer word teen die agtergrond van Irannese veiligheidsdenke en dié land se gedrag in die internasionale politiek. Vandag, soos Dina Esfandiary en Ariane Tabatabai (2021:42) aandui, het Iran nie meer ten doel om sy buurlande omver te werp of om 'n Islamitiese rewolusie in ander dele van die Moslemwêreld aan te blaas nie. In plaas daarvan het Iran wel ten doel - as primêre oogmerk - om streekshegemonie na te streef en neem hy as vertrekpunt dat Irannese oorheersing - en nie dié van enige ander land (Westers of andersins) nie - in sy onmiddellike omgewing ononderhandelbaar is. Die uitvoering van 'n Islamitiese rewolusie vind toenemend plaas as 'n retoriese middel eerder as in die praktyk (Esfandiary & Tabatabai, 2021:5). In der waarheid, ofskoon Westerse waarnemers aanvoer dat Iran se optrede in sy streekgebied ekspansionisties is, beskou Iran dié optrede deur 'n veiligheids- en verdedigings-lens (Esfandiary & Tabatabai, 2021:53). Dit is hier belangrik om te noem dat die Irannese drang na streekshegemonie die spreekwoordelike goue draad uitmaak wat die pre- en postrewolusionêre buitelandse beleidslandskap van Iran verbind, 'n gewaarwording wat kragtig dui op die kontinuïteit van veiligheidsverwante kwessies en veiligheidsdenke in die pre- en postrewolusionêre geskiedenis van Iran (Tabatabai, 2020:297).

    Voorts is dit ook belangrik om reeds hier te noem dat die Irannese drang na streekshegemonie as primêre oogmerk van dié land se buitelandse beleid nie die diepgaande Irannese vyandigheid jeens Israel geringskat nie. Irannese vyandigheid jeens Israel is werklik én strek diep, maar is beswaarlik dié rigsnoer van elke Irannese besluit en optrede. Belangriker, gesien die skrikbeeld van 'n kerngewapende Iran, is egter dat diepgaande vyandigheid tussen kernstate beswaarlik 'n nuwe verskynsel is (vgl. Indië en Pakistan, die VSA en Noord-Korea, en die VSA en die Sowjetunie), en nie op sigself 'n voldoende grondslag is vir die gebruik van die absolute instrument van massavernietiging - te wete, kernwapens - nie.

    In sowel pre- as postrewolusionêre Iran staan veiligheidsoorwegings, met inbegrip van die begeerte om Iran van enige afhanklikheid van die energiepolitiek van ander state te speen, sentraal in dié land se kernwapenprogram. Irannese veiligheidsoorwegings as dryfkrag vir die land se kernwapenprogram tree kragtig na vore indien die tydsberekening en ontwikkeling van die program in ag geneem word. Iran se kernwapenprogram kan nie losgemaak word van die onsekerheid kenmerkend van die internasionale politiek en van die spesifieke optrede en ideologiese vertrekpunte van dié land se vernaamste teenstanders nie, 'n uitgangspunt wat in breë trekke op die ontwikkeling van kernwapenprogramme van byna alle kernstate van toepassing is. Ofskoon die Irannese kernwapenprogram uit die sjah-era dateer, spruit die primêre dryfkrag agter die program hoofsaaklik uit Amerikaanse beleide en optrede in die Midde-Ooste ná die terreuraanvalle van 11 September 2001 (hierna 9/11) (Coetzee, 2021:220).

    Op die keper beskou het die regering (1997-2005) van die hervormingsgesinde Irannese president Mohammed Khatami ten doel gehad om betrekkinge met die Weste voorop te stel, met die idee van 'n "dialoog tussen samelewings" as uitgangspunt (Esfandiary & Tabatabai, 2021:53). Toe kom 9/11, 'n gebeurtenis wat 'n grondverskuiwing in die VSA se buitelandse beleid jeens die Midde-Ooste en Suid-Asië meegebring het (Tabatabai, 2020:253). In die nadraai van 9/11 het Iran 'n uiters versoeningsgesinde houding teenoor die VSA ingeneem. Luide krete van "die dood aan Amerika", 'n algemene verskynsel onder Irannese geestelikes, het opvallend gedemp geraak en verskeie ekstremistiese regeringsamptenare het hul medelye teenoor die VSA uitgespreek en Al-Qaeda en sy terreurdade teenoor Amerikaanse burgerlikes veroordeel (Maloney, 2011). Voorts het Iran aangebied om Amerikaanse antiterreuroperasies te steun, wat eindelik uitgeloop het op die verskaffing van logistieke ondersteuning vir die VSA-geleide veldtog in Afghanistan én samewerking met die VSA om 'n nuwe regering in Kaboel in te stel (Maloney, 2011).

    Die VSA het egter 'n onversetlike houding jeens Iran ingeneem. Irannese toenadering is deur Amerikaanse president George W. Bush verwerp. Dié onversetlike houding het 'n hoogtepunt bereik met die Amerikaanse etikettering van Iran as een van drie skurkstate in 'n sogenaamde spil van boosheid ("axis of evil", bestaande uit Iran, Irak en Noord-Korea); die hoofbeskuldiging was dat dié lande massavernietigingswapens vervaardig én aan terreurgroepe verskaf het (Bush, 2002; Esfandiary & Tabatabai, 2020:20). Hierdie standpunt van die VSA het oortuigings in Teheran versterk dat die VSA nie vertrou kan word nie, en dat die VSA eintlik ten doel het om die Islamitiese Republiek omver te werp eerder as om 'n nuwe en meer versoenlike rigting in te slaan (Esfandiary & Tabatabai, 2020:20). Teen die agtergrond van die gebeure van 9/11 het president Bush dit duidelik gestel dat die VSA alles moontlik in die stryd sou werp om sy nasionale veiligheid voorop te stel en te verseker - want 'n Iran wat massavernietigingswapens aan terreurgroepe verskaf, benadeel Amerikaanse nasionale veiligheid ten diepste (Bush, 2002). Omdat die VSA sy nasionale veiligheid vooropgestel het, het Iran noodgedwonge dieselfde gedoen. Gevolglik het Iran reeds teen einde 2002 indringend gepoog om kernwapenontwerpkwessies op te los (wat daartoe gelei het dat daar op 'n selfvervaardigde inploffingsontwerp besluit is) en befondsing beskikbaar gestel vir die aankoop van hoogverrykte uraan (Tertrais, 2020:2). Ofskoon die Irannese kernwapenprogram toegang tot kernwapenontwerpe deur die A.Q. Khan kernsluikhandelnetwerk verkry het, blyk argivale bewyse dat Teheran nie hiervan gebruik gemaak het nie en nie enige bystand deur 'n ander land (met uitsondering van Noord-Korea) ontvang het nie (Tertrais, 2020:2).

    Die Amerikaanse inval in Maart 2003 in een van die lidlande van die sogenaamde spil van boosheid, te wete Irak, het Irannese vrese vir 'n Amerikaanse agenda vir 'n regimeomverwerping in die Midde-Ooste ten diepste versterk én die onblusbare vyandigheid en argwaan van Iran, met inbegrip van 'n diepgaande gevoel van onveiligheid, veroorsaak (Waltz in Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:192). Ofskoon Iran en Irak beswaarlik as bevriende lande beskou kan word, het dié lande tog daarin geslaag om ná die verwoestende Irannees-Irakkese oorlog (1980-1988) 'n stabiele streeksmagsbalans te handhaaf (Waltz in Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:192). Die Amerikaanse inval in Irak, gesien deur die bril van Irannese beleidsbepalers, was bloot nog 'n treffende voorbeeld van 'n grootmoondheid wat hom na willekeur by die streekspolitiek van ander state inmeng (Coetzee, 2021:221). Die Amerikaanse omarming van regimeverandering (lees: demokratisering) in die Midde-Ooste as 'n belangrike bousteen in sy buitelandse beleid, met 'n demokratiese Irak wat bloot die eerste skaakstuk uitgemaak het in 'n breër skaakspel waarvan die einddoel die algehele demokratisering van die Midde-Ooste was, was vir Teheran die bron van 'n diepgaande sin van onveiligheid. Iran se vrees vir 'n Amerikaans geleide regimeverandering was beswaarlik 'n mistasting. Trouens, toe 'n amptenaar verbonde aan die Bush-administrasie gepols is oor die lesse vir Teheran in die nadraai van die Amerikaanse inval in Irak, het dié amptenaar prontuit vermeld: "Kies 'n nommer" - die bedoeling was klaarblyklik dat Teheran duidelik moes verstaan dat hy die volgende teiken in die VSA se regimeveranderingsvisier was (aangehaal in Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:179). Vir Teheran was die les glashelder: Beskerm jou eie belang en waarborg jou eie veiligheid.

    Ofskoon die Irannese kernwapenprogram ná die Amerikaanse inval in Irak tot stilstand geknars het, was dié onderbreking bloot tydelik; verskeie waarnemers het trouens genoem dat Teheran sy kernwapenprogram kort daarna met groot ywer voortgesit het (Tertrais, 2020:3; Waltz in Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:192). Trouens, luidens 'n vertroulike verslag deur die Internasionale Atoomenergieagentskap het Iran gedurende 2003 verskeie inploffingstoetse gedoen én weggesteek, met dié toetse wat sentraal tot die ontwikkeling van kernwapens is (The Times of Israel, 2025). Teen die agtergrond van die werklikheid van 'n grootmoondheid wat 'n omvattende regimeveranderingsagenda het en Irannese streekgebied binnedring, was Teheran tussen twee vure, 'n verknorsing wat kleiner lande goed ken wat in gevaar van 'n inval uit die buiteland is: Bewapen jouself met kernwapens of loop die gevaar van 'n inval (Coetzee, 2021:221). In 'n ontleding van die hoekstene van Iran se buitelandse beleid wys Kenneth Katzman (2021) sowel as Dina Esfendiary en Ariane Tabatabai (2021:59) daarop dat enige inmenging in Iran se interne politiek en sy grondgebied, hetsy om die Islamitiese Republiek te intimideer, in te val of 'n regimeverandering teweeg te bring, diep gefundeerde Irannese rooilyne oorsteek. In hierdie konteks van Irannese persepsies van onveiligheid en, uiters belangrik, die nabyheid aan 'n kerngewapende Israel is die tersaaklike vraag veel eerder een waarvan waarnemers merendeels wegskram, naamlik waarom Iran hom nie tot kernwapens sal wend nie. Kenneth Waltz (2012:3) merk tereg op dat dit eintlik verbasend is dat Iran so lank gewag het om die ewewig met Israel te bewerkstellig (d.w.s. om 'n kernwapen te ontwikkel). Trouens, die bestaan van 'n streek met slegs een kernwapenstaat - kortom, 'n streek sonder enige ander kernwapenstaat as teenwig - is, histories beskou, 'n opvallende onreëlmatigheid (Waltz, 2012:3).

    Die primêre beweeggrond vir die Irannese strewe om kernwapens te bekom, beskou teen die agtergrond van Amerikaanse inmenging in Iran se streekgebied én 'n kerngewapende Israel, maak in der waarheid deel uit van 'n patroon merkbaar by alle kernstate, te wete die verkryging van kernwapens vir doeleindes van afskrikking en, uiteindelik, oorlewing. Dit is van die uiterste belang om te noem dat Iran se gedrag, waarvan die uitgangspunt die imperatief is om sy eie veiligheid voorop te stel en te verseker, in hierdie opsig geheel en al ooreenkom met die wyse waarop lande in die internasionale politiek gewoonlik optree. In weerwil van die vurige retoriek wat Irannese geestelikes dikwels luidkeels kwytraak, het Iran se buitelandse beleid - en die strewe na kernwapens - hoofsaaklik veiligheidsoorwegings ten doel eerder as revisionistiese ideale. Op die keper beskou, en soos reeds hier bo genoem, het Irannese buitelandse beleid nie juis gestreef na die verandering en hersamestelling van die grense van die Midde-Ooste nie, wat in werklikheid bevestig dat Iran 'n status quo-land is wat die landsgrense van die streek betref (Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:193). Trouens, Esfandiary en Tabatabai (2021:42) wys daarop dat chaos en toestande van onregeerbaarheid in naburige lande vir Iran uiters kommerwekkend is. Ofskoon daar beslis waarheid steek in die bewering dat Iran na die gloriedae van die Persiese ryk hunker, moet dié hunkering nie gelykgestel word aan pogings om die streek na die beeld van Iran te verander nie (Katzman, 2021). Die primêre beweegrede vir die Irannese kernwapenprogram is, meer as enige ander faktor, die Amerikaanse buitelandse beleid in Iran se streekgebied, maar ook 'n kerngewapende Israel (Coetzee, 2021:222).

     

    3. Die skrikbeeld van 'n toename in handlangeroorloë en terreur

    Iran word allerweë beskou as die wêreld se voorste staatsondersteuner van terreur, beswaarlik 'n prysenswaardige etiket. Dié land se noue bande met onder meer die Libanese Hezbollah (ook gespel Hisbollah), Hamas en ander Palestynse militante, en die Houthi-rebelle in Jemen is welbekend. Hamas, in die besonder, ontvang reeds vanaf 1987 beduidende finansiële en ander ondersteuning (byvoorbeeld wapens en militêre opleiding) van Iran (Levitt, 2023). Irannese staatsondersteuning van terreur, met inbegrip van Teheran se diepgaande ondersteuning van verskeie surrogaatgroepe in die Midde-Ooste (wat strek van militante in Sjiitiese Moslem-lande soos Irak en Libanon tot in gebiede waar Soenniete die meerderheidsgroep uitmaak, byvoorbeeld in die Palestynse gebiede Sirië en Jemen), is weliswaar 'n hardnekkige probleem vir Israel en Westerse belange in die Midde-Ooste, hoewel "hardnekkig" beswaarlik aan "eksistensieel" of "bestaan" gelykgestel kan word. Voorts het Iran toenemend ten doel om die koördinasie tussen hierdie uiteenlopende groepe te verbeter ten einde 'n meer verenigde en doeltreffende weerstandspil ("axis of resistance") teen gemeenskaplike vyande tot stand te bring (Robinson & Merrow, 2024). Teen hierdie agtergrond word daar wyd gevrees dat die optrede en geweld van so 'n Irannees gesteunde terreurnetwerk en weerstandspil met rasse skrede sal toeneem indien 'n Irannese kernwapen ontwikkel word (vgl. Murray, 2025:184-185). Hierdeur sal Teheran waarskynlik sy kernwapenskild gebruik om sy ondersteuning van handlangeroorloë of terreur drasties te vergroot.

    Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat kernwapens - en 'n Irannese kernwapenskild - dié land se onverskrokke en weerbarstige ondersteuning van handlangeroorloë en terreur ingrypend sal verhoog. As vertrekpunt hiervoor is dit noemenswaardig dat die Irannese gebruik van 'n kernwapenskild ter ondersteuning van handlangeroorloë en terreur indruis teen die geskiedrol van kernstate sedert 1945 (Waltz in Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:192). Teenoor die skrikbeeld van verhoogde handlangeroorloë en terreur, is dit veel waarskynliker dat Irannese gedrag in sy eksterne omgewing dié van ander kernstate sal weerspieël. Wanneer akademici oor die beweeggronde vir lande se toetrede tot die kernwapenklub besin, word daar dikwels onderskei tussen die gebruik van 'n organisatoriese benadering, waarvolgens faktore in die binnelandse (plaaslike) politiek van lande die bril verskaf waardeur kernwapenontwikkeling beskou word, en sisteembenaderings (veral die strukturele realisme van Kenneth Waltz), wat wys op hoe die anargiese struktuur van die internasionale politieke sisteem die besluite (selfs dié oor kernwapens), gedrag en interaksies van lande beïnvloed. 'n Blik op die skrikbeeld van 'n kerngewapende Iran deur die lens van 'n sisteembenadering wys baie duidelik op die redes waarom Iran tot die kernwapenklub wou - en moontlik steeds wil - toetree. In die geval van Iran en, breër beskou, van elke ander kernstaat staan diepgaande veiligheidsverwante vrese én die daaropvolgende strewe na veiligheid sentraal in die toetrede tot die kernwapenklub - en, baie opvallend, wanneer dié veiligheidsoekende state wel tot die kernwapenklub toetree, word hul gedrag in hul eksterne omgewing opmerklik eenders (Coetzee, 2021:223).

    Derhalwe, ondanks vurige en opruiende retoriek deur lande voor hul toetrede tot die kernwapenklub, veral in kontekste waar diepgaande vyandigheidheid tussen ontluikende kernwapenstate heers (met by uitstek Indië en Pakistan as voorbeeld), bring toetrede tot die kernwapenklub 'n gevoel van kwesbaarheid en 'n diepe soberheid onder kernwapenstate mee. 'n Gevoel van kwesbaarheid moet hier verstaan word as die besef onder kernwapenstate dat kernwapenbesit meebring dat grootmoondhede en ander vername lande in die internasionale politiek kernwapenstate onophoudelik in die oog hou (Waltz, in Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:194). Dié state word dus aan voortdurende en noukeurige ondersoek en waarneming onderwerp, te meer in gevalle waar daar kommer bestaan oor 'n kernwapenstaat se bande met terreur- of sluikhandelnetwerke (soos in die geval van Iran). Nieteenstaande wydverspreide vrese dat kernwapens onbeteuelde, aggressiewe en gewelddadige optrede aanwakker, is die werklikheid veel eerder dat dié wapens omsigtigheid en gematigdheid bring in die state wat daaroor beskik. As dié waarneming uiters universalisties voorkom met betreklik min aandag aan konteks of nuanse, is dít hoofsaaklik vanweë die kragtige kondisioneringseffek wat kernwapens het op state wat daaroor beskik, ongeag die karakter van hulle regeringshoofde, hulle regeringstelsel of hulle ideologie (Beyer, 2015:80).

    Trouens, die geskiedrol van ander kernwapenstate wys baie duidelik daarop dat kernwapens selfs die weerbarstigste lande tot groter omsigtigheid en gematigdheid kan omvorm. Dit is noemenswaardig dat Maoïstiese China, na dié land se toetrede tot die kernwapenklub, opvallend minder strydlustig geraak het, terwyl Indië en Pakistan, twee lande "gebore in konflik" en dekadeslange aartsvyande, kennelik meer verdraagsaam en versigtig in hul gedrag jeens mekaar geword het (Waltz in Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:194; Sagan & Waltz, 2013:136). Omsigtigheid beteken natuurlik nie dat daar geen konflik sal wees nie. Waar daar egter wel konflik tussen kernstate is, veral in gevalle van 'n betwiste grondgebied, word die omvang van die geweld beduidend beperk. Etlike voorvalle tussen Indië en Pakistan oor die betwiste gebied Kasjmir is tekenend hiervan. In die Kargil-konflik van 1998, toe meer as 'n duisend oorlogsverwante sterftes aangemeld is, was die vrees oënskynlik dat Pakistan sy kernwapenskild kon gebruik om die vlak van konvensionele oorlog teen Indië dramaties te verhoog, omdat Pakistan se kernwapens 'n demper op Indië se reaksie sou plaas. Pakistan sou egter besef - hét in der waarheid besef - dat die omvang van sy aanval insgelyks deur Indië se kernwapens beperk word en dat 'n Indiese vergeldingsaanval nie buite rekening gelaat kon word nie. Die slotsom oor die konflik, soos verwoord deur hooggeplaaste regeringsamptenare van beide lande, was die besef dat 'n grootskaalse konvensionele oorlog oor Kasjmir haas onmoontlik geword het. Hiér het die teenwoordigheid van kernwapens verhoed dat 'n groot konflik tot 'n volskaalse konvensionele oorlog uitkring (Sagan & Waltz, 2013:163). Konflik oor Kasjmir het gedurende 2019 weer ontvlam. Wéér het kernwapens 'n beduidende invloed uitgeoefen om die omvang van die konflik te beperk. In die hitte van die stryd het die voormalige eerste minister van Pakistan, Imran Khan, 'n brander aan die Indiese eerste minister, Narendra Modi, gestuur, wat sterk wys op die stabiliseringseffek van kernwapens:

    If this situation worsens to a war situation, then one must remember that both the countries are nuclear states. And no one wins in a nuclear war. It is not like the repercussions will take place here, [but] the repercussions will be felt across the world (in Coetzee, 2021:223).

    Betrekkinge tussen Indië en Pakistan word ook soms deur terreurdade geruk. Dat Pakistan se kernwapenskild hierdie dade aanmoedig, is onjuis. Gedurende 2008 het die Pakistanse Salafi-Islamitiese terreurgroep Lashkar-e-Taiba 'n reeks terreuraanvalle in Indië uitgevoer, waartydens 150 sterftes aangemeld is (Coaffee, Moore & Barnard-Wills, 2009). Dit is veelseggend dat Indië nóg konvensioneel teen Pakistan opgetree het, nóg die terreuropleidingsgronde van Lashkar-e-Taiba geteiken het, maar veel eerder sy teenterreurvermoëns uitgebrei en verskerp het (Sagan & Waltz, 2013:163). Indië het met meer omsigtigheid gereageer, gegewe die besef dat 'n konvensionele oorlog met Pakistan maklik kon eskaleer en verwoestende gevolge kon hê. Op 7 Mei 2025 is 20 mense deur die terreurgroep Kasjmir-weerstand in Pahalgam (geleë in Indië se Jammu- en Kasjmir-gebied) gedood, waarna die Indiese lugmag verskeie terreurverwante teikens en na vore geleë lugmagbasisse in Pakistan getref het. Die operasie, genaamd Operasie Sindoor, het oor etlike dae gestrek, waartydens Pakistan ook verskeie vergeldingsaanvalle uitgevoer het. Aannames, soos dié van die Amerikaanse president Donald Trump dat hierdie konflik op die randjie van 'n kernoorlog gestaan het, het dit mis. Veel eerder, soos Walter Ladwig (2025) tereg daarop wys, moet Operasie Sindoor hoegenaamd nie as 'n treetjie na strategiese onstabiliteit beskou word nie, maar 'n noukeurig berekende gebruik van mag met die doel om Indië se voorneme duidelik te kommunikeer, terreurinfrastruktuur te vernietig en militêre vermoëns te wys - alles sonder om tot 'n breër oorlog oor te gaan. In dié en ander gevalle kan 'n mens verwag dat die teenwoordigheid van kernwapens 'n demper op die gebruik van mag sal plaas, ofskoon dit nie die voorkoms van laerintensiteitkonflikte verwyder nie.

    Ongeag die aard van die politieke bestel of die ideologiese vertrekpunte en persoonlikhede van leiers en regerings, word lande wat tot die kernklub toetree, gou met die harde werklikheid gekonfronteer dat kernwapens nóg oorlogvoerende (offensiewe) vermoëns ontwikkel, nóg as doeltreffende dwangmiddel dien. Kernwapens dien hoofsaaklik eerder een doel, te wete kernafskrikking, 'n les wat elke kernwapenstaat moeiteloos leer. Buiten nasionale oorlewing, het kernwapens derhalwe weinig ander strategiese nut. Argumente dat Iran nie hierdie les kan of sal leer nie, is ongegrond. Kernstate, veral dié wat oor groot kernarsenale en byna onbeperkte vermoëns op militêre en ander terreine beskik, sal na alle waarskynlikheid nie enige ander gebruik vir kernwapens buiten kernafskrikking oorweeg nie - en, soos Kenneth Waltz tereg aanvoer, is daar onvoldoende gronde om te glo dat Iran hierdie harde werklikheid sal verontagsaam (Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:194). Voorts is wydverspreide vrese dat 'n kerngewapende Iran in die sogenaamde stabiliteit-onstabiliteit-paradoks sal verval, erg oordrewe. Dié paradoks, wat aan die werk van Glenn Snyder toegeskryf word, behels die veronderstelling dat kernwapens strategiese stabiliteit maar taktiese onstabiliteit veroorsaak. Kortom, kernwapens besiel kernstate en verleen aan hulle betreklik baie vryheid om lae-intensiteit- militêre aksies teen ander kernstate uit te voer of hulle uit te tart, 'n argument wat bloot 'n verbloeming is van die veronderstelling dat 'n kernwapenskild lae-intensiteitkonflik sal aanwakker (Jervis, 1979-1980:619). Die blote teenwoordigheid van 'n kerngewapende Israel sal egter vrese vir avontuurlustige Irannese militêre optrede in sy eksterne omgewing besweer. Trouens, enige aggressiewe en avontuurlustige optrede in sy streekgebied sal die primêre beweeggronde van Irannese optrede in sy eksterne omgewing, te wete veiligheid en oorlewing, beslissend teenwerk (Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:194).

    Die pessimis sou waarskynlik hier sterk teenkap en vra of die uitkomstes van die stabiliseringseffek van kernwapens in Israelies-Irannese betrekkinge nie merendeels berus op, eerstens, Irannese aanvaarding van die doktrine van kernafskrikking en, tweedens, die rasionaliteit van die Irannese regime nie. Anders as wat soms aangevoer word, berus die doeltreffendheid van kernafskrikking en die stabiliseringseffek van kernwapens nie op iedereen se aanvaarding daarvan nie (Waltz, 2008a:283). Vrese oor die rasionaliteit van die Irannese leierskorps is algemeen en gedy veral onder Westerse waarnemers. Daarvolgens word aange-voer dat, ofskoon die gevare van 'n kerngewapende Israel kennelik vir almal geld en kernafskrikking met enige ander kernstaat moeiteloos sal plaasvind, die "waansinnige ajatollas" in Teheran - of die "versteurdes", soos Israel se premier, Benjamin Netanyahu, na die Irannese leierskorps verwys - nie vertrou kan word om rasioneel op te tree nie (aangehaal in Hobbs & Moran, 2014:18). Kernafskrikking berus egter nie op rasionaliteit nie, maar op vrees (Waltz, 2013:110). In elk geval, argumente oor die oënskynlike irrasionaliteit van Irannese leiers bied 'n geykte blik op die Irannese politiek. Wanneer daar na die rasionaliteit van lande en hul leierskorps in die internasionale politiek gekyk word, moet "rasionaliteit" nie gelykgestel word aan leiers se vermoë om goed beredeneerde besluite te neem wat berus op volkome en volmaakte kennis van die omgewing waarin hul optree nie (Waltz, 2008b:43). Rasionaliteit beteken in hierdie konteks eerder dat leiers oor sake kan besin en koste-sensitief is vir hul optrede in die eksterne omgewing. Hiervolgens is 'n rasionele besluitnemer, aldus John Mearsheimer en Sebastian Rosato (2023:3), bloot iemand wat geloofwaardige teorieë gebruik om sin te maak van die eksterne omgewing en die bes moontlike beleide inspan om sleuteloogmerke te bereik. Voorts kan sulke leiers oorweging skenk aan hoe hul optrede die gedrag van ander lande raak en hoe die optrede en interaksies van ander lande hul eie vooruitsigte op oorlewing beïnvloed (Mearsheimer, 2001:31).

    In teenstelling met wat wyd aangevoer word, word Irannese buitelandse beleid deur "verstandige" leiers gemaak wat ten doel het om Irannese oorlewing te verseker (Waltz, 2012:4). Terloops, dit is noemenswaardig dat die vorming en implementering van Irannese beleid - in sy interne en eksterne omgewing - die uitkoms van diepgaande gesprekvoering en meningsverskille tussen die verskillende rolspelers is, 'n waarneming wat sterk indruis teen Westerse persepsies wat Iran as 'n monolitiese entiteit uitbeeld. Ofskoon die Irannese opperleier die finale beslegter van dispute is, is die ajatolla nie die enigste besluitnemer in Iran nie (Esfandiary & Tabatabai, 2021:20, 50). Op die keper beskou, behels Westerse persepsies van Iran se gedrag in sy buitelandse omgewing, met inbegrip van sy ondersteuning van terreur- en surrogaatgroepe, dat dit irrasioneel, onvatbaar vir afskrikking en onderworpe aan ideologie eerder as pragmatisme is; sulke persepsies is volkome uitgedien (Eisenstadt, 2015:5). In 'n uiters noukeurige ondersoek na die primêre oogmerke van Iran se buitelandse beleid wys Vali Nasr (2025a) daarop dat Westerse persepsies van Iran as 'n teokratiese muishondstaat geheel en al misplaas is en dat twee oorwegings - naamlik die vrees vir 'n aanval van buite op Iran se grondgebied en 'n interne ineenstorting - dié land se optrede in sy eksterne omgewing rig. Michael Eisenstadt (2015:7) voer oortuigend aan dat beleidmaking in die Islamitiese Republiek van Iran, soos in ander lande in die internasionale politiek, op die sekulêre beginsel van raison d'être berus wanneer die belange en oorlewing van die regime in ag geneem word, eerder as op die voorskrifte van die regime se ideologie of die beginsels van Sjia-Islam.

    Soos reeds hier bo vermeld, vertolk Westerse waarnemers dikwels Irannese optrede in sy streekgebied as "ekspansionisties", terwyl Teheran dié optrede deur 'n veiligheids- en verdedigingslens beskou. Vir Teheran het sy optrede in die eksterne omgewing ten doel om streekshegemonie te verwesenlik (iets wat Iran hom toe-eien gegewe sy geskiedenis, grootte, hulpbronne en posisie in die streek - beswaarlik 'n buitengewone oogmerk in die internasionale politiek), om lande en niestaatlike rolspelers af te skrik wat Irannese grondgebied en sy belange bedreig, en om (hoofsaaklik) Westerse lande uit sy streekgebied te hou (Robinson & Merrow, 2024; Esfandiary & Tabatabai, 2021:124-125). Irannese vrese vir 'n (Westerse) inval in sy grondgebied moet nie geringskat word nie. Daar moet voorts genoem word dat wanneer Iran in sy eksterne omgewing optree, veral by wyse van ondersteuning van terreur- en surro-gaatgroepe, hy hoofsaaklik op die vermyding van direkte konfrontasie toegespits is, wat op sigself ten doel het om 'n posisie van geloofwaardige ontkenning ("plausible deniability") te handhaaf (Esfandiary & Tabatabai, 2021:20; Eisenstadt, 2015:4). Geloofwaardige ontkenning moet as 'n risiko-versagtende strategie beskou word. Dié strategie, wat, terloops, dui op die Irannese leierskorps se vermoë om strategies te dink én op te tree, het uiteindelik ten doel om oorlog te vermy (Eisenstadt, 2020:vii). Hobbs en Moran (2014:85) gaan daarmee akkoord en wys daarop dat Irannese ondersteuning van terreur- en surrogaatgroepe op "die neem van berekende risiko's" berus, wat eindelik voortspruit uit 'n breër "pragmatiese benadering" tot die eksterne omgewing waarin "strategiese koste-voordeel-ontleding" vooropgestel word (Hobbs & Moran, 2014:85).

    Ondanks die vurige retoriek wat Irannese geestelikes dikwels uiter, toon 'n ondersoek van Iran se buitelandse beleid aan dat belange en pragmatisme - eerder as ideologie - die rigsnoer daarvan uitmaak. In sowel Afghanistan as Irak het Iran byvoorbeeld met die VSA onderhandel en saamgewerk, terwyl Christelike Armenië een van Iran se sleutelbondgenote in die Suid-Kaukasiese konflik met Sjiitiese Azerbeidjan is (Esfandiary & Tabatabai, 2021:52, 183). Voorts is dit noemenswaardig dat wanneer Iran wel met meer waagmoed in sy eksterne omgewing optree, soos byvoorbeeld die aanval op twee Saoediese oliefasiliteite gedurende 2019, bly "risikobestuur" uiteraard 'n prioriteit (Eisenstadt, 2020:viii). En wanneer die land hom tot oorlog moet wend, het Teheran gewoonlik ten doel om "koste tot 'n minimum te beperk", gedrag wat beswaarlik die indruk wek dat Iran onvatbaar vir koste en risikobeoordeling is (Eisenstadt, 2020:13).

    Op die keper beskou, word die toepassing van Irannese buitelandse beleid gekenmerk deur pragmatisme en die vermoë van die leierskorps om rasioneel en strategies op te tree. Anders as wat dikwels aanvaar word, staan matigheid en omsigtigheid sentraal in die optrede van 'n Iran met konvensionele wapens in sy eksterne omgewing. Met 'n kerngewapende Israel in sy gebied, en gegewe die omsigtigheid wat kernwapens bring, is daar weinig rede om te twyfel dat 'n kerngewapende Iran nie met omsigtigheid sal optree nie. Vrese dat 'n Irannese kernwapenskild Teheran sal besiel om sy ondersteuning van terreur- en surrogaatgroepe te verhoog laat buite rekening die geskiedrol van kernstate, wat sonder twyfel daarop wys dat kernwapens omsigtigheid - eerder as waagmoedige en aggressiewe gedrag - meebring. Voorts het kernwapens geen ander strategiese nut as kernafskrikking nie en die gebruik daarvan vir offensiewe oogmerke beloof verwoestende vergelding, 'n uitkoms waardeur Iran se veiligheidsoekende gedrag beswaarlik gedien sal word. Ofskoon die Irannese leierskorps weliswaar rasioneel en strategies optree, is dit ten slotte tersaaklik om te noem dat die afskrikkingseffek van kernwapens nie op die morele inhibisies van (Iran se) leiers berus nie, maar op die vreesaanjaende vooruitsig dat kernwapengebruik verwoestende vergelding teweeg kan bring (Waltz, 2008c:295-296).

     

    4. Die veiligheidslandskap ná 7 Oktober: Oorwegings en implikasies

    Ná die gebeure van 7 Oktober 2023, toe die Palestyne militante groep Hamas Israel se grondgebied betree en 'n menigte mense gedood en verskeie gevange geneem het, het die Israeliese weermag 'n militêre veldtog in die Gazastrook van stapel gestuur. Kort hierna het die Libanese militante groep Hezbollah (ook 'n surrogaatgroep van Iran) tot die stryd toegetree, wat tot wedersydse missielaanvalle tussen dié groep en die Israeliese weermag gelei het. Gedurende 2024 en weer in 2025 het dié konflik uitgebrei, en direkte missielaanvalle tussen Israel en Iran het plaasgevind. Soos vroeër genoem, het Israel en die VSA in Junie 2025 etlike teikens verbonde aan die Irannese kern(wapen)program aangeval, waarna 'n vlaag missielaanvalle weer tussen Israel en Iran gevolg het. En op 23 Junie 2025 het die Irannese weermag 'n missielaanval op die Al Oedeid-lugmagbasis, 'n Amerikaanse basis in Katar, gedoen, wat volgens Iran 'n direkte gevolg is van Amerika se lugaanvalle op sy (Iran se) ondergrondse uraanverrykingsaanlegte.

    Hoe beïnvloed die gebeure van 7 Oktober en daarna die ontleding hier bo, te wete dat 'n Irannese kernwapenskild nie verhoogde Irannees gesteunde terreur en handlangeroorloë tot gevolg sal hê nie?

    In die nadraai van die 7 Oktober 2023-aanval het die vrees weer in Israel opgevlam dat 'n moontlike Irannese kernwapenskild 'n dramatiese verhoging in die frekwensie en intensiteit van Irannees gesteunde terreur en handlangeroorloë teen Israel teweeg sal bring (vgl. The Jerusalem Post, 2024; Murray, 2025:184-185). Dit sou beteken dat die gebeure van 7 Oktober 2023 bloot 'n voorloper was van 'n toename in Irannees gesteunde terreur en handlangeroorloë. Met die beskerming wat 'n Irannese kernwapenskild hom bied, sal Teheran derhalwe sy terreur- en surrogaatgroepe in die streek opdrag kon gee om 'n kerngewapende Israel te verwoes. Dié vrese het uiteindelik die beweeggronde vir Israel en die VSA verskaf om die Irannese kern(wapen)program te teiken.

    Ofskoon die aanvalle op 7 Oktober 2023 Israeliese en Amerikaanse drif versterk het om die Irannese kern(wapen)program te vernietig, gaan die idee van 'n voorkomingsaanval op Iran se kernaanlegte dié aanvalle vooraf. Reeds in 2010 het Israel se weermag oefeninge uitgevoer wat 'n lugaanval op Irannese kernaanlegte in die visier gehad het (Sagan, Waltz & Rapp-Hooper, 2013:198). Desnieteenstaande het die aanvalle deur Hamas op 7 Oktober 2023, vanuit die Israeliese perspektief beskou, dit duidelik gemaak dat Israel nie met 'n kerngewapende Iran kán saamleef nie. Wanneer daar egter oor die gebeure van 7 Oktober en daarna besin word, is daar weinig gronde vir die aanname dat 'n Irannese kernwapenskild 'n toename in terreur en handlangeroorloë teweeg sal bring.

    Wat is dus die gronde vir optimisme?

    Die gebeure van 7 Oktober 2023 is ongetwyfeld betreurenswaardig. Hoe daardie gebeur-tenis verband hou met die vrees vir 'n toename in terreur en handlangeroorloë teen die agtergrond van 'n Irannese kernwapenskild, is allermins duidelik. Ofskoon daar onduidelikheid bestaan oor die diepte van Irannese steun vir die Hamas-aanvalle van 7 Oktober (Iran het dit onomwonde gestel dat hy geen aandeel in die aanvalle gehad het nie), is dit nietemin bekend dat daar 'n lang geskiedenis van Irannese steun aan terreur en handlangeroorloë teen Israel en Westerse belange in die streek is (The Times of Israel, 2024). Met of sonder kernwapens en vir so lank as wat groepe soos Hamas en Hezbollah staande bly, sal dié aanvalle en Irannese steun daarvan voortduur. Om die redes breedvoerig in die vorige afdeling uiteengesit, is dit egter sterk te betwyfel of 'n Irannese kernwapen tot 'n toename in Irannees gesteunde terreur en handlangeroorloë sal lei. Wanneer kernwapens op die toneel verskyn, word die optrede van hul besitters uiters matig en omsigtig; die betrokke lande besef dat kernwapens geen ander strategiese nut as kernafskrikking het nie. En met 'n kerngewapende Israel as teëstander sal Iran terdeë daarvan bewus wees dat enige optrede wat Israel se nasionale oorlewing bedreig, verwoestende vergelding vir Teheran tot gevolg kan hê. Histories beskou is kernwapenstate uiters onwillig om meer waagmoedig en aggressief in 'n kernwapenwêreld op te tree as in 'n wêreld met konvensionele wapens. 'n Kerngewapende Iran sal nie 'n uitsondering wees nie. Die probleem van Irannees gesteunde terreur en handlangeroorloë staan ten slotte los van die skrikbeeld van 'n Irannese kernwapen.

    Oorweging van Iran se optrede ná die gebeure van 7 Oktober bied voorts 'n insiggewende blik op die geykte persepsies van Westerse lande en waarnemers dat die Irannese leierskorps ideologies vurig, strategies onbeholpe en irrasioneel is. Drie gebeure is hier ter sake; al drie dui sterk daarop dat Iran 'n strategiese, rasionele en koste-sensitiewe rolspeler is: die direkte missielaanvalle tussen Israel en Iran gedurende April 2024, die missielaanvalle van Oktober 2024 en die 12-dae-konflik in 2025. Die direkte missielaanvalle tussen dié twee lande is ongekend en tekenend van 'n kommerwekkende eskalasiepatroon. Deurgaans is Iran se optrede gekenmerk deur selfbeheersing en gematigdheid. Op 1 April 2024 het Israel die Irannese konsulaatgebou in Damaskus, Sirië, gebombardeer, 'n aanval - vanuit die Israeliese perspektief beskou - uit weerwraak vir die onbetwisbare rol van Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps (IRWK) (en die betrokke Wagkorps-generaals in die konsulaatgebou) in die Hamas-aanvalle van 7 Oktober 2023. Uit weerwraak vir Israel se aanval het Iran op 13 April 2024 'n ongekende direkte lugaanval (met ballistiese missiele en hommeltuie) op Israel gedoen, waarna 'n Israeliese vergeldingsaanval op 19 April 2024 op drie Irannese teikens (onder meer 'n militêre basis in die Isfahan-provinsie) gevolg het. Kenners en waarnemers van die streek is dit eens dat dié aanvalle, aan beide kante, gekenmerk is deur selfbeheersing en beperkte oogmerke en, belangrik, dat sowel Iran as Israel probeer het om so gou doenlik uit die eskalasiesiklus te kom (AFP, 2024).

    Gedurende Oktober 2024 het 'n tweede vlaag wedersydse missielaanvalle tussen Israel en Iran gevolg. Op 1 Oktober 2024 het Iran Israel met ongeveer 180 ballistiese missiele bestook, 'n vergeldingsaanval - vanuit die Irannese perspektief beskou - vir 'n Israeliese inligtings-operasie waartydens duisende roepradio's wat deur Hezbollah in Libanon gebruik word, ontplof het en verskeie militante, sowel as 'n senior IRWK-bevelvoerder, gedood en etlike ander beseer is. Ontleders en waarnemers het daarna aangevoer dat die Irannese vergeldingsaanval 'n klassieke voorbeeld van 'n irrasionele en eskalerende Irannese regime is wie se aanvalle net 'n reuse-magsvertoon was. In die nadraai van die Israeliese inligtingsoperasie het die Irannese opperleier, ajatolla Ali Khamenei, beveel dat 'n vergeldingsaanval op Israeliese teikens gedoen word. Die Irannese president, Masoed Pezesjkian, het aanvanklik besluit om Khamenei se besluit te verontagsaam. Eindelik het Khamenei se wil geseëvier, waarna verskeie Israeliese teikens - hoofsaaklik militêre en veiligheidsteikens - aangeval is. Dit is vanselfsprekend dat die Irannese leierskap sou besef het dat die meeste van die missiele wat gelanseer is, inderdaad nie die teikens sou tref nie, gegewe Israel se hoogs doeltreffende missielafweerstelsels. Ofskoon die strydende partye verskillende weergawes het van die skade wat berokken is deur die missiele wat die afweerstelsel ontduik het, is die tersaaklike punt dat Iran sekerlik moes geweet dat 'n baie groter missielbestoking nodig sou wees om die Israeliese missielafweerstelsels te omseil en grootskaalse verwoesting te veroorsaak. Die Irannese oogmerk was derhalwe afskaling, gekenmerk deur gematigdheid en terughoudendheid. Dié optrede is des te meer merkwaardig, gegewe dat Israel se optrede, soos Azizi (2024) tereg aandui, etlike Irannese rooilyne oorgesteek het. Die Irannese minister van buitelandse sake, Abbas Araghtsji, het in die nadraai van die aanvalle tereg gesê dat hulle optrede afgehandel was, tensy Israel se regime sou besluit om verdere wraak uit te lok, in welke geval hulle reaksie sterker en kragtiger sou wees (in Roth, Beaumont & Christou, 2024). Nadat Israel se weermag op 26 Oktober 2024 verskeie militêre teikens in Iran en Sirië aangeval het, het die kruitvat merendeels nat geword. Irannese optrede in hierdie aanvalle spreek nouliks van 'n begeerte om die konflik te laat eskaleer. Iran wou eerder onomwonde die boodskap aan Israel stuur dat hy Israel se gedrag nie sou duld nie, maar nie die konflik sou laat eskaleer nie.

    Ten laaste kan dit insiggewend wees om kortliks Israel en die VSA se aanval in Junie 2025 op etlike teikens verbonde aan die Irannese kern(wapen)program in oënskou te neem. 'n Vlaag missiele, ongeveer 550, en sowat 1 000 hommeltuie is uit weerwraak deur Iran gelanseer, waarvan 31 missiele die Israeliese missielafweerstelsels ontwyk het (sowat 5% van die missiele het dus enige teikens bereik); 28 mense in die aanval gedood en meer as 3 000 burgerlikes beseer het (Fabian, 2025). Voorts het die Irannese weermag op 23 Junie 2025 missiele op die Al Oedeid-basis, 'n Amerikaanse lugmagbasis in Katar, afgevuur uit weerwraak vir die VSA se aanval op die Fordow-aanleg. Op 24 Junie het Israel en Iran tot 'n skietstilstand ingestem, wat die twaalfdaekonflik (voorlopig) tot 'n einde gebring het. Hoewel dit voortydig is om enige konkrete afleidings uit dié konflik te maak, is enkele tersaaklike, dog tentatiewe, waarnemings in orde.

    Die Israeliese en Amerikaanse aanvalle op Iran se kernaanlegte het as primêre beweeggrond 'n diepgaande persepsie verteenwoordig dat nóg Israel nóg die VSA en die internasionale gemeenskap met 'n kerngewapende Iran kan saamleef. Israel en die VSA beroep hulle op "nasionale veiligheid" en "nasionale oorlewing" teen die agtergrond van 'n kerngewapende Iran. Iran, hierteenoor, beskou Israeliese en, veel erger, Amerikaanse aanvalle as hernieude bewyse dat die diepgesetelde Irannese vrese vir eksterne aggressie teen hom en 'n Westerse begeerte om 'n regimeverandering teweeg te bring, gegrond is. Trouens, kort ná die Israeliese en Amerikaanse aanvalle op Iran se kernaanlegte het president Donald Trump gesuggereer dat 'n regimeverandering in Iran weliswaar moontlik is (FitzGerald, 2025). Ofskoon die Amerikaanse president dié stelling later teruggetrek en as ligsinnig afgemaak het, is dit moeilik om te glo dat die Irannese leierskorps nie diep bekommerd was oor 'n eskalerende konflik met Israel en die VSA (albei kernwapenstate) waarin die vrees van eksterne aggressie en interne ineenstorting werklikheid sou word. Aangesien Iran se vrese met betrekking tot sy nasionale veiligheid en oorlewing billikerwys nie as ongeldig bestempel kan word nie, is bogenoemde stelling deur die Irannese minister van buitelandse sake, Abbas Araghtsji, eweneens tersaaklik: "In daardie scenario [dit wil sê, een van verskerpte Israeliese aggressie] sal ons reaksie sterker en kragtiger wees". In die nadraai van die 7 Oktober-aanvalle, en weens die Israeliese weermag se aanvalle in die Gazastrook, Libanon, Sirië en Irak is Midde-Oosterse lande dit toenemend eens dat Israel - en nie Iran nie - 'n onblusbare strewe na streekshegemonie het en derhalwe as die streek se grootste bedreiging beskou word (Nasr, 2025b). Omdat twee kernwapenstate Irannese kernaanlegte met missiele bestook het en daar gerugte van 'n regimeverandering is, is die Irannese bestoking van Israeliese teikens beswaarlik irrasioneel, strategies onbeholpe en eskalerend, veral aangesien aangeneem kan word dat die Irannese leierskap sou besef het dat die meeste van die missiele wat gelanseer is, soos in die missiel-bestoking van Israel gedurende 2024, nie die teikens sou tref nie weens Israel se hoogs doel-treffende missielafweerstelsels. Dit is voorts veelseggend dat die Irannese aanval op die Amerikaanse basis in Katar deur 'n vroeë Irannese waarskuwing voorafgegaan is en die aanval geen lewensverlies veroorsaak of noemenswaardige skade berokken het nie. Later het president Trump Iran trouens vir sy terughoudendheid geloof (Fassihi et al., 2025). Hiér, soos in die aanvalle van 2024, was Iran se optrede hoofsaaklik op afskaling gefokus.

    Ofskoon die afskrikkingseffek van kernwapens nóg op die morele inhibisies van leiers nóg op hul rasionaliteit berus (maar veel eerder op die kenmerke van die wapens self [Waltz, 2008a:282]), is dit nietemin veelseggend dat 'n oorsig van Irannese buitelandse beleid - in die landskap voor en ná-7 Oktober - op 'n Irannese leierskorps dui wat strategies en rasioneel jeens hul eksterne omgewing optree en, in situasies van eskalerende konflik, merkwaardige terughoudendheid toon. 'n Konvensioneel gewapende Iran sal ongetwyfeld voortgaan om terreur- en surrogaatgroepe in sy streekgebied te steun, terwyl daar grondige redes is om aan te neem dat kernwapens nie tot vergrote Irannese steun aan sulke groepe sal lei nie. Anders as in 'n konvensioneel gewapende wêreld gekenmerk deur 'n diepgaande en wedersydse vyandigheid tussen Israel en Iran, sal 'n kerngewapende Iran en 'n kerngewapende Israel minstens 'n spoorslag hê om hul probleme te bespreek (Waltz, in Sagan & Waltz, 2013:171).

     

    5. Gevolgtrekking

    Hierdie ontleding het ten doel gehad om die volgende twee navorsingsvrae te beantwoord: (i) Indien Iran oor kernwapens beskik, hoe sal die nasionale veiligheidslandskap van Israel daar uitsien, veral as daar skynbaar 'n toename in handlangeroorloë en terreur is? (ii) In welke mate, indien enigsins, het die gebeure van 7 Oktober 2023 die oënskynlike risiko van 'n toename in handlangeroorloë en terreur vergroot, beskou teen die agtergrond van 'n Irannese kernwapenskild? Ofskoon 'n Irannese kernwapenskild hoegenaamd nie die vrees vir Irannees gesteunde terreur en handlangeroorloë sal verwyder nie, is daar weinig gronde om te glo dat 'n toename daarin die uiteinde sal wees. Kernwapens het histories eerder 'n stabiliseringsuit-werking in die betrekkinge tussen selfs die strydlustigste lande, en het 'n beslissende uitwerking op die frekwensie en intensiteit van geweld. Waar lae-intensiteitkonflikte voorkom, kan 'n mens verwag dat kernwapens 'n beslissende demper op die intensiteit van geweld sal plaas. Voorts kan kernwapens 'n spoorslag tot dialoog tussen 'n kerngewapende Israel en 'n moontlike kerngewapende Iran dien (gegewe die wedersyds verwoestende vermoëns van kernwapens). Hierdie ontleding ook aangetoon dat Iran se buitelandse beleid - in teenstelling met wat wyd aangevoer word - rasioneel, strategies en terughoudend is en veel minder op ideologie en godsdienstige ywer ingestel is as wat so dikwels beweer word. In soverre die omsigtigheid en terughoudendheid wat met kernwapens gepaardgaan, veel eerder op vrees as rasionaliteit berus, is dit nietemin noemenswaardig dat Iran uiters strategies en rasioneel in sy eksterne omgewing optree. Hierdie ontleding het ook aangetoon dat die gebeure van 7 Oktober 2023 en etlike ander insidente daarna nie hernieude vrese vir 'n toename in handlangeroorloë en terreur, beskou teen die agtergrond van 'n Irannese kernwapenskild, steun nie. Trouens, Irannese buitelandse beleid het gedurende hierdie tydperk merendeels die uitgangspunt versterk dat die Irannese leierskorps rasioneel en strategies met sy eksterne omgewing omgaan. Vandag en in die afsienbare toekoms, en met spesifieke verwysing na terreur en handlangeroorloë, kan Israel, die VSA en die internasionale gemeenskap saamleef met 'n kerngewapende Iran. Gegewe die veiligheidsoekende oogmerke van die Irannese kernwapenprogram en die wydverspreide persepsie onder Midde-Oosterse lande dat Israel die grootste bedreiging in die streek uitmaak, is dit hoogs waarskynlik dat Israeliese en Amerikaanse aanvalle op Iran se kernaanlegte bloot Irannese strewe om tot die kernwapenklub toe te tree, sal versterk.

     

    Bibliografie

    AFP. 2024. Israel, Iran ready to de-escalate - for now: analysts. France24, 19 April. https://www.france24.com/en/live-news/20240419-israel-iran-ready-to-de-escalate-for-now-analysts. [12 April 2025].         [ Links ]

    Arms Control Association. 2015. Background and status of Iran's nuclear program. https://www.armscontrol.org/2015-08/section-1-background-status-irans-nuclear-program. [21 Februarie 2025 geraadpleeg].         [ Links ]

    Azizi, H. 2024. Iran's shifting discourse on nuclear weaponization: Bargaining tactic or doctrine change? Middle East Council on Global Affairs, 6 November. https://mecouncil.org/publication/irans-shifting-discourse-on-nuclear-weaponization-bargaining-tactic-or-doctrine-change/. [2 Junie 2025 geraadpleeg.         [ Links ]

    Bajoghli, N. 2019. Iran reframed: Anxieties of power in the Islamic Republic. Stanford: Stanford University Press.         [ Links ]

    BBC. 2025. Iran significantly growing uranium stockpile, warns UN nuclear agency, 1 June. https://www.bbc.com/news/articles/c1mg7kx2d45o. [1 Junie 2025].         [ Links ]

    Beyer, AC. 2015. Kenneth Waltz s life and thought: An interview. Lulu (aanlyn uitgewer).         [ Links ]

    Brands, H & Edel, C. 2019. The lessons of tragedy: Statecraft and world order. New Haven: Yale University Press.         [ Links ]

    Bush, GW. 2002. President delivers State of the Union address. The White House, 29 Januarie. 2002/01/20020129-11. html [22 Januarie 2021].         [ Links ]

    Coaffee, J, Moore, C & Barnard-Wills, D. 2009. Terrorism and Crowded Places: Lessons from Mumbai. RUSI, 14 Oktober. https://www.rusi.org/publication/terrorism-and-crowded-places-lessons-umbai#:~:text=The%20Mumbai%20attacks%20started%20on,a%20further%20200%2D300%20wounded. [22 Mei 2025].         [ Links ]

    Coetzee, E. 2021. Iran, the bomb and the spectre of (nuclear) terror. In: Solomon, H (red.). Directions in International Terrorism: Theories, Trends and Trajectories. Singapore: Palgrave MacMillan, pp. 219-241.         [ Links ]

    Davenport, K. 2025. The Coming Iranian Nuclear Challenge in 2025. United States Institute for Peace, 13 Januarie. http://iranprimer.com/blog/2025/jan/13/coming-iranian-nuclear-challenge-2025. [10 Februarie 2025 geraadpleeg].         [ Links ]

    Eisenstadt, M. 2015. The Strategic Culture of the Islam Republic of Iran: Religion, Expediency, and Soft Power in an Era of Disruptive Change. The Washington Institute for Near East Policy. https://www.washingtoninstitute.org/sites/default/files/pdf/MESM_7_Eisenstadt.pdf. [10 Mei 2025].         [ Links ]

    Eisenstadt, M. 2020. Operating in the gray zone: Countering Iran's asymmetric way of war. The Washington Institute for Near East Policy. https://www.washingtoninstitute.org/sites/default/files/pdf/PolicyFocus162-Eisenstadt-v4.pdf. [10 Mei 2025 geraadpleeg].         [ Links ]

    Esfandiary, D & Tabatabai, A. 2021. Triple Axis: Iran's Relations With Russia and China. New York: I.B. Tauris.         [ Links ]

    Fabian, E. 2025. The Israel-Iran war by the numbers, after 12 days of fighting. The Times of Israel, 24 June. https://www.timesofisrael.com/the-israel-iran-war-by-the-numbers-after-12-days-of-fighting/#:~:text=Missiles%20and%20drones,war%2C%20according%20to%20the%20IDF. [24 Junie 2025].         [ Links ]

    Fassihi, F, Rasgon, A, Schmitt, E & Levenson, M. 2025. Trump says 'time for peace' after iran gives warning before firing on U.S. Base. The New York Times, 23 June. https://www.nytimes.com/2025/06/23/world/middleeast/iran-missile-attack-us-base-qatar.html. [24 Junie 2025].         [ Links ]

    FitzGerald, J. 2025. Trump specuates about regime change in Iran after US strikes. BBC, 23 June. https://www.bbc.com/news/articles/cp8m3861637o. [23 Junie 2025].         [ Links ]

    Futter, A. 2015. The politics of nuclear weapons. 2nd ed. Cham: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

    Hobbs, C & Moran, M. 2014. Exploring regional responses to a nuclear Iran: Nuclear dominoes? New York: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

    Jervis, R. 1979-1980. Why nuclear superiority doesn't matter. Political Science Quarterly, 94 (4):617-633.         [ Links ]

    Katzman, K. 2021. Iran's foreign and defense policies. Congressional Research Service, 11 January. https://sgp.fas.org/crs/mideast/R44017.pdf. [22 April 2025].         [ Links ]

    Ladwig, W. 2025. Calibrated force: Operation Sindoor and the future of Indian deterrence. RUSI, 21 Mei. https://www.rusi.org/explore-our-research/publications/commentary/calibrated-force-operation-sindoor-and-future-indian-deterrence. [23 Mei 2025].         [ Links ]

    Levitt, M. 2023. The Hamas-Iran relationship. The Jerusalem Strategic Tribune, November. https://jstribune.com/levitt-the-hamas-iran-relationship/. [2 Maart 2025.         [ Links ]

    Maloney, S. 2011. Tehran and Washington: A motionless relationship? Brookings, 17 November. https://www.brookings.edu/articles/tehran-and-washington-a-motionless-relationship/. [23 November 2022].         [ Links ]

    Mearsheimer, JJ. 2001. The tragedy of great power politics. New York: W.W. Norton & Company.         [ Links ]

    Mearsheimer, JJ & Rosato, S. 2023. How states think: The rationality of foreign policy. New Haven: Yale University Press.         [ Links ]

    Murray, D. 2025. On democracies and death cults: Israel and the future of civilization. New York: Broadside Books.         [ Links ]

    Nasr, V. 2025a. Iran's grand strategy: A political history. New York: Princeton: Princeton University Press.         [ Links ]

    Nasr, V. 2025b. The new balance of power in the Middle East. Foreign Affairs, 10 Junie. https://www.foreignaffairs.com/israel/new-balance-power-middle-east-iran. [12 Junie 2025].         [ Links ]

    Robinson, K. 2023. What is the Iran nuclear deal? Council on Foreign Relations, 27 Oktober. https://www.cfr.org/backgrounder/what-iran-nuclear-deal. [23 April 2025].         [ Links ]

    Robinson, K & Merrow, W. 2024. Iran's regional armed network. Council on Foreign Relations, 15 April. https://www.cfr.org/article/irans-regional-armed-network. [1 Mei 2025].         [ Links ]

    Roth, A, Beaumont, P & Christou, W. 2024. Israel vows to retaliate after Iran launches unprecedented missile attack. The Guardian, 2 October. https://www.theguardian.com/world/2024/oct/01/israel-vows-to-retaliate-after-iran-launches-unprecedented-missile-attack. [15 May 2025].         [ Links ]

    Sagan, SD & Waltz, KN. 2013. Indian and Pakistani nuclear weapons: For better or worse? In: Sagan, SD & Waltz, KN (eds.). The spread of nuclear weapons: An enduring debate. 3rd ed. New York, London: W.W. Norton, pp. 157-174.         [ Links ]

    Sagan, SD, Waltz, KN & Rapp-Hooper, M. 2013. Iraq, North Korea, and Iran. In: Sagan, SD & Waltz, KN (eds.). The spread of nuclear weapons: An enduring debate. 3rd ed. New York, London: W. W. Norton, pp. 175-214.         [ Links ]

    Tabatabai, AM. 2020. No conquest, no defeat: Iran's national security strategy. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

    Tertrais, B. 2020. Beyond the 'atomic archive': Making sense of Iran's nuclear intentions. Friends of Israel Initiative, (57): 1-6.         [ Links ]

    The Jerusalem Post. 2024. Tehran helped plan Hamas's October 7 massacre, Iran expert claims, 8 May. https://www.jpost.com/israel-hamas-war/article-800371. [10 April 2025].         [ Links ]

    The Times of Israel. 2024. Reports: Hamas delayed Oct. 7 attack to enlist Iran, Hezbollah; plotted 9/11-style bombing. 13 October. https://www.timesofisrael.com/reports-hamas-delayed-oct-7-attack-to-enlist-iran-hezbollah-plotted-9-11-style-bombing/. [10 April 2024].         [ Links ]

    The Times of Israel. 2025. IAEA found Iran conducted, covered up implosion tests key to building nuclear weapon in 2003, 8 June. https://www.timesofisrael.com/liveblog_entry/iaea-found-iran-conducted-covered-up-implosion-tests-key-to-building-nuclear-weapon-in-2003/. [8 Junie 2025].         [ Links ]

    Waltz, KN. 1979. Theory of international politics. New York: McGraw-Hill.         [ Links ]

    Waltz, KN. 2008a. Nuclear myths and political realiteis. In: Waltz, KN (ed.). Realism and international politics. New York: Routledge, pp. 276-293.         [ Links ]

    Waltz, KN. 2008b. Reflections on Theory of International Politics: A response to my critics. In: Waltz, KN (ed.). Realism and international politics. New York: Routledge, pp. 37-55.         [ Links ]

    Waltz, KN. 2008c. A reply (to critics of Sagan and Waltz). In: Waltz, KN (ed.). Realism and international politics. New York: Routledge, pp. 294-296.         [ Links ]

    Waltz, KN. 2012. Why Iran should get the bomb: Nuclear balancing would mean stability. Foreign Affairs, 91(4): 2-5.         [ Links ]

    Waltz, KN. 2013. Waltz responds to Sagan. In: Sagan, SD & Waltz, KN. (eds.). The spread of nuclear weapons: An enduring debate. 3rd. ed. New York, London: W.W. Norton, pp. 82-111.         [ Links ]

    Wisconsin Project on Nuclear Arms Control. 2023. A history of Iran's nuclear program, 19 December. https://www.iranwatch.org/our-publications/weapon-program-background-report/history-irans-nuclear-program. [22 Desember 2024].         [ Links ]

    Wisconsin Project on Nuclear Arms Control. 2025. Iran's nuclear timetable: The weapon potential, 28 March. https://www.iranwatch.org/our-publications/articles-reports/irans-nuclear-timetable-weapon-potential. [13 Januarie 2025].         [ Links ]

    World Nuclear Association. 2024. Nuclear power in Iran, 3 Mei. https://world-nuclear.org/information-library/country-profiles/countries-g-n/iran. [18 April 2025].         [ Links ]

    Zhang, H. 2025. How quickly could Iran build its first nuclear weapon? Look at China. Bulletin of the Atomic Scientists, 22 January. https://thebulletin.org/2025/01/how-quickly-could-iran-build-its-first-nuclear-weapon-look-at-china/. [30 April 2025].         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2025-07-07
    Goedgekeur: 2025-10-06
    Gepubliseer: Desember 2025

     

     

     

    Eben Coetzee is verbonde aan die Departement Politieke Studie en Regeerkunde, Universiteit van die Vrystaat. Hy verwerf sy PhD in 2017 (op die gebied van die internasionale politiek). In sy proefskrif stel hy ondersoek in na die voortdurende tersaaklikheid van die strukturele realis Kenneth Waltz om die internasionale politiek te beskryf en te verklaar. As 'n gegradeerde wetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting, spesialiseer hy in internasionale veiligheid (oorlog en vrede), teorieë van realisme, kernwapens, kernenergie, en kern-terreur.
    Eben Coetzee lectures in the Department of Political Studies and Governance, University of the Free State. He obtained his PhD in 2017 (Political Science, with a focus on International Relations). In his thesis he probed the enduring relevance of structural realist Kenneth Waltz in explaining the past, present and future of international politics. He is a National Research Foundation rated scholar, specialising in international security (war and peace), realist theories, and all nuclear-related questions and issues.