SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 número4(The) Utopia(n) and becoming (other) in Neill Blomkamp's science-fiction trilogy: District 9 (2009), Elysium (2013) and Chappie (2015)Citizenship Education for living successfully in 2050 and beyond índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Journal

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão On-line ISSN 2224-7912versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 no.4 Pretoria Dez. 2025

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n4a6 

    RESEARCH AND REVIEW ARTICLES: WARS AND RUMOURS OF WAR

     

    Die eliminering van kernwapens in die konteks van die verbod op oorlog

     

    The elimination of nuclear weapons in the context of outlawing war

     

     

    Joelien PretoriusI; Tom SauerII

    IUniversiteit van Wes-Kaapland, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Departement Politieke Studies, Kaapstad, Suid-Afrika. E-pos: jpretorius@uwc.ac.za. ORCID: https://orcid.org/0000-0002-1628-0073
    IIDepartement Politieke Studies, Universiteit Antwerpen, Antwerp, België. E-pos: tom.sauer@antwerpen.be. ORCID: https://orcid.org/0000-0003-1632-8281

     

     


    OPSOMMING

    'n Verbod op kernwapens (soos vervat in die Verdrag insake die Verbod op Kernwapens, 2021 - hierna die Kernwapenverbod genoem), en uiteindelik ook die algehele eliminering van sulke wapens, moet in die konteks van die verbod op oorlog (soos vervat in die Kellogg-Briand-verdrag, 1928) geplaas word. Tot op hede, is die verbod op kernwapens grootliks in die konteks van internasionale humanitêre reg geplaas. Maar dié kontekstualisering hanteer nie die idee dat kernwapens lande afskrik van oorlog, sogenaamde "kernvrede", bevredigend nie. Hierdie artikel het ten doel om die Kernwapenverbod te kontekstualiseer in 'n stel breër argumente wat die idee verwerp dat kernwapens vrede bewerkstellig.
    Die Kernwapenverbod het nie net ten doel om in 'n oorlog die gebruik van wapens wat massavernietiging sonder onderskeid veroorsaak, te voorkom nie. Dit is ook 'n belangrike stap in die verwerping van konvensionele aanvalsoorloë agter 'n kernskild as aanvaarbare nasionale beleid. Die literatuur wat die uitwerking van die Kellogg-Briand-verdrag hersien, bied 'n manier waarop 'n mens die verband tussen kernwapens en ius ad bellum kan bedink. Dié denkwyse neem die verbod op oorlog en die nuwe internasionale regsorde waartoe dit aanleiding gegee het, as die eksplisiete konteks waarin die Kernwapenverbod ontstaan het. Wat hierdie konteks vir die politieke werk beteken wat nodig is om 'n kernwapenvrye wêreld tot stand te bring, word dan ondersoek. Vyf maniere waarop so ' n kontekstualisering die Kernwapenverbod kan bevorder, word in die artikel voorgelê.
    Die stelsel wat deur die Verenigde Nasies (VN) ontwikkel is om vrede te bewerkstellig deur middele soos kollektiewe sekuriteit, bemiddeling, en vredesoperasies, word ondermyn omdat sekere state op 'n kernafskrikkingsbeleid steun. Wanneer kernwapens nie meer 'n beleidsopsie is nie, word die VN se middele meer relevant en verkry hulle 'n groter kans op sukses. Die Kernwapenverbod is 'n uitvloeisel van die verbod op oorlog en nog 'n verdrag waardeur "positiewe vrede" 'n orde kan konsolideer waarin aanvalsoorloë reeds verbied is. In teenstelling met kernafskrikking is die Kernwapenverbod gegrond op dieselfde normatiewe diskoers waarop die Kellogg-Briand-verdrag berus.

    Trefwoorde: Eliminering van kernwapens; oorlog; Kernwapenverbod; kernaf-skrikking; Kellogg-Briand-verdrag; Handves van die Verenigde Nasies; ius in bello; ius ad bellum, Kernsperverdrag


    ABSTRACT

    Outlawing nuclear weapons (as done by the Treaty on the Prohibition of Nuclear Weapons) and thereafter eliminating nuclear weapons should be placed in the context of outlawing war (as done by the Kellogg-Briand Pact of 1928). The International Humanitarian Law justification for banning nuclear weapons run up against the idea that nuclear weapons are essential to deter wars in general and keep nuclear peace in particular. In this article discursively the Treaty on the Prohibition of Nuclear Weapons (TPNW) will be contextualized in a broader set of arguments that reject the idea that nuclear weapons keep the peace.
    Banning nuclear weapons is not simply an issue of not using or threatening to use a massively destructive and indiscriminate weapon in war, but an important step in rejecting conventional wars of aggression behind a nuclear shield as national policy. The scholarship revising the Kellogg-Briand Pact's impact provides another way to think about nuclear weapons and ius ad bellum. It starts by taking the outlawry of war and the new legal order that it brought about as the explicit political context that the TPNW is born into and asks what such a contextualization might mean for the political work that needs to be done around the TPNW to reach its endgame, namely a world without nuclear weapons. Five ways in which such a contextualization can help the TPNW are discussed in the article.
    The system set up by the United Nations to achieve peace through instruments, such as collective security, mediation, and peacekeeping, is undermined by the reliance on nuclear deterrence. When nuclear weapons are off the table, these instruments are back in play and have a greater chance of success. The TPNWfits in history as an outflow of the outlawry of war, as another positive peace measure to consolidate an order where wars of aggression have been outlawed. Contrary to nuclear deterrence, the TPNW is rooted in the same normative discourse that underpinned the Kellogg-Briand Pact.

    Keywords: Elimination of nuclear weapons; war; Treaty on the Prohibition of Nuclear Weapons; nuclear deterrence; Kellogg-Briand Pact; United Nations Charter; ius in bello; ius ad bellum, Treaty on the Non-Proliferation of Nuclear Weapons


     

     

    1. Inleiding

    Die verbod op kernwapens moet in die konteks van die verbod2 op oorlog gesien word. Die Kernwapenverbod, wat in 2021 in werking getree het, het ten doel om kernwapens te verbied en moet nie met die Kernsperverdrag van 1970, wat primêr ten doel het om die verspreiding van kernwapens te beperk, verwar word nie.3 State wat partye van die Kernwapenverbod is, verklaar in die Aanhef dat hulle ooreenkomstig die Handves van die Verenigde Nasies (VN) in hul internasionale betrekkinge moet afsien van die dreigement of gebruik van geweld teen die territoriale integriteit of politieke onafhanklikheid van enige staat (Kernwapenverbod, 2017). Die diskoers waarin die Kernwapenverbod die wederregtelikheid van kernwapens plaas, is egter gegrond in ius in bello of die internasionale humanitêre reg (IHR). Die beweging vir kernontwapening, bestaande uit sowel aktivistiese state as burgerlike samelewingsgroepe, het 'n IHR-benadering waarskynlik gesien as die mees logiese en direkte manier om 'n kernwapenverbod van hierdie aard te bewerkstellig. Die IHR-regverdiging van 'n verbod op kernwapens is egter in stryd met die idee dat kernwapens nodig is om oorlog af te weer en sogenaamde kernvrede te bewaar. Die Latynse frase "Si vispacem, para bellum" ("As jy vrede begeer, berei jou voor op [kern]oorlog"), is ingeprent in die denkwyse van kernbeleidsmakers deur die "Towenaars van Armageddon." Kaplan (1983) het die bynaam aan Bernard Brodie en ander analiste gegee wat kernafskrikking as teorie en strategie in die Verenigde State van Amerika (VSA) ontwikkel het. Sekere state het dié regverdiging van die bestaan en besit van kernwapens gebruik om nie deel te neem aan die onderhandelinge wat tot die Kernwapenverbod gelei het nie, en sommige kommentators het die verdrag om dieselfde rede as 'n bedreiging vir internasionale vrede en veiligheid bestempel (Stephens, 2017). In die diskoers moet die Kernwapenverbod dus in 'n stel breër argumente gekontekstualiseer word wat die idee verwerp dat kernwapens die vrede bewaar.

    Een manier om dit te doen is om argumente aan te voer teen kernafskrikkingsteorie, naamlik dat kernafskrikking immoreel en onmenslik en nie sonder leemtes is nie, dat dit tot wapenwedlope lei en dat dit selfs deur kernstate se eie beleid ondermyn word, byvoorbeeld deur die ontwikkeling van missielverdedigingstelsels. IHR-argumente wat deur die voor-staanders van die Kernwapenverbod gebruik word korreleer met die benadering. Die ander manier is om aan te voer dat oorlog onwettig verklaar is. Die afname in interstaatlike aanvals-oorloë (met die Russiese inval in Oekraïne as 'n belangrike onlangse uitsondering) is die gevolg van hierdie normatiewe verskuiwing in hoe internasionale orde tot stand kom. Die verbod op kernwapens behels nie slegs dat die gebruik in 'n oorlog van wapens van grootskaalse vernietiging en die bedreiging wat dit inhou, vermy word nie. Dit gaan ook daaroor dat konvensionele aanvalsoorloë van agter 'n kernskild verwerp moet word. Die bedreigingsrol van kernwapens in die Russies-Oekraïense Oorlog sedert 2022, asook soortgelyke historiese voorbeelde, illustreer die relevansie van hierdie kontekstualisering.

     

    2. Die verbod op kernwapens

    Die humanitêre inisiatief wat tot die Kernwapenverbod gelei het, plaas die fokus op die onmenslikheid van kernwapens: op die ongedifferensieerde, disproporsionele en omgewings-impak daarvan. Dit beklemtoon ook dat die internasionale gemeenskap nie die vermoë het om genoegsaam te reageer op die humanitêre krisis wat uit kernwapengebruik sou voortspruit nie (Sauer & Pretorius, 2014:4). In wese spreek die Kernwapenverbod, soos die verdrae wat chemiese en biologiese wapens, teenpersoneelmyne en trosmunisie {cluster munitions) verbied, dus tot ius in bello - oftewel optrede wat in 'n oorlog as geoorloof beskou kan word. Ius in bello word gewoonlik onderskei van ius ad bellum, wat betrekking het op die omstandighede waarin dit geoorloof is om tot oorlog oor te gaan en wat dikwels binne die raamwerk van die "geregverdigde oorlog"4 geplaas word. Dit is 'n tradisie waarvolgens oorlog geregverdig is slegs indien daar 'n geregverdigde oorsaak daarvoor is (Moussa, 2008).

    Dit het sin gemaak om die veldtog om kernwapens te verbied vanuit 'n ius in bello-benadering te voer. Daar is reeds presedente in sowel regs- as diplomatieke prosesse waarop gesteun kon word. As trosmunisie verbied kon word op grond van die leed wat dit burgerlikes gedurende en lank ná die betrokke oorlog aandoen, is dit net logies dat dieselfde moet geld vir kernwapens, wat geweldig baie skade aanrig en generasies nadat dit gebruik is, steeds negatiewe humanitêre en omgewingsuitwerkings het. Die Ottawa- en die Oslo-prosesse, wat gelei het tot die verbod op onderskeidelik teenpersoneel-landmyne en trosmunisie, wys ook hoe 'n klas wapens van wapenbeheer na 'n humanitêre kwessie verskuif kan word (Cluster Munition Coalition, 2017). Hierdie prosesse het die idee dat 'n wapen "gestigmatiseer" word, innoverend gebruik om die humanitêre uitwerking van die gebruik daarvan tuis te bring deur byvoorbeeld die slagoffers van hierdie wapens te kry om hulle stories te vertel (Männistö, 2016).

    Om die onderskeid tussen ius in bello en ius ad bellum te behou en die Kernwapenverbod in eersgenoemde te anker, het ook beteken dat, ongeag watter rede state aanvoer om gewapende konflik te regverdig (selfs 'n geregverdigde saak), dit in oorlogvoering steeds onwettig sal wees om kernwapens te gebruik. As sodanig het die Kernwapenverbod 'n belangrike regsleemte gevul wat die Internasionale Geregshof (IGH) in 1996 gelaat het. Die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies het die IGH versoek om 'n meningsuitspraak te lewer oor die vraag of dreigemente met kernwapens of die gebruik daarvan in enige omstandighede ingevolge internasionale reg toelaatbaar is. Die Hof het bevind dat die dreigement of die gebruik van kernwapens in die algemeen strydig is met die reëls van die internasionale reg wat op gewapende konflik van toepassing is, en in die besonder met die beginsels en reëls van die humanitêre reg. Die Hof het egter op 'n verwarrende wyse ook verklaar dat die Hof, in die lig van die huidige stand van die internasionale reg en van die feite tot beskikking, nie tot die besliste gevolgtrekking kon kom dat die dreigement of gebruik van kernwapens onwettig sou wees in 'n uiterste geval van selfverdediging waarin die voortbestaan van 'n staat op die spel sou wees nie (IGH 1996, par. 2E). Die Hof se mening het ruimte gelaat vir die vertolking dat ius in bello ondergeskik aan ius ad bellum is. Indien oorlogvoering dus geregverdig word deur te steun op uiterste selfverdediging, kan die bedreiging of die gebruik van kernwapens in die oorlogvoering geregverdig wees (Moussa, 2008). State wat oor kernwapens beskik (en state wat daarna streef om kernwapens te bekom), sou so 'n vertolking van die IGH se mening kon gebruik ter verdediging van die behoud of verkryging van kernwapens.

    Die Kernwapenverbod laat egter geen ruimte vir vertolking nie - kernwapens is in alle opsigte onwettig, met inbegrip van die besit, gebruik, dreigement van gebruik en plasing daarvan, en ook om enigeen van voornoemde op enige wyse te ondersteun of aan te moedig (Kernwapenverbod, 2017, Art. 1). Geen casus belli kan kernwapengebruik of die dreigement van gebruik in oorlog regverdig nie, en geen casus belli noodsaak dus besit of bestaan van kernwapens nie.

    Vir die voorstanders van ontslaeraking van kernwapens is die Kernwapenverbod 'n groot stap in die rigting van die uiteindelike eliminering van kernwapens op die volgende wyses:

    Eerstens is die oorhoofse doel van die Kernwapenverbod dat die wyse waarop rolspelers oor kernwapens dink, verander word. Soos uitgebeeld deur die humanitêre inisiatief waarop dit gegrond is, het die Kernwapenverbod 'n nuwe narratief in verband met kernwapens gebou, een wat berus op die feite van kernontploffings (Williams, 2018:53). Die Kernwapenverbod formuleer kernontwapening in mensgesentreerde taal eerder as die staatsgesentreerde, tegniese en abstrakte taal van wapenbeheer en kernafskrikking. Ten einde 'n verandering teweeg te bring in die denke oor kernwapens, het die voorstanders van die verbod van die Oslo- en Ottowa-prosesse geleer en veral staatgemaak op die ervarings en verhale van die oorlewendes (die hibakusha) van die kernbomontploffings in Japan teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog, asook van die slagoffers van straling as gevolg van kernwapenstoetse en van gemeenskappe wat aangetas is as gevolg van uraanmynbou.

    Tweedens word die verbod gesien as die toepassing van globale demokratiese beginsels, sodat die meerderheid van die state wat die verbod op kernwapens ondersteun, hulleself kan laat geld. 'n Klein groep kernmoondhede en hul bondgenote gebruik ontwapeningsforums om hul belange met betrekking tot kernwapenverspreiding en kernveiligheid te bevorder, maar ook om die nakoming van hul kernontwapeningsverpligtinge te vertraag (Pretorius & Sauer, 2022). Om hierdie magsdinamiek te verander, is kernontwapening by resolusie na die Eerste Komitee vir Ontwapening en Internasionale Veiligheid van die Algemene Vergadering van die VN verwys. Laasgenoemde het 'n werkgroep ingestel om multilaterale onderhandelinge oor kernontwapening en die humanitêre gevolge van kernwapengebruik te bespreek. Die Meksikaanse afvaardiging het tereg gesê dat wat die humanitêre inisiatief gedoen het, was om aan dosyne niekernwapenstate wat vir baie jare geswyg het, weer 'n stem te gee en aan hulle 'n platform te bied (ICAN, 2016). Die state het reeds hul frustrasie dat daar nie na hulle geluister word in die Kernsperverdrag se vergaderings nie in verskeie wyses uitgedruk, soos blyk uit die Onverbonde Beweging en die Nuwe Agenda Koalisie se uitsprake in hierdie forum (Pretorius & Sauer, 2022). 'n Resolusie (Res. 71/258) is later deur die Algemene Vergadering aangeneem om in 2017 onderhandelinge te begin ten einde 'n regsbindende ooreenkoms te ontwikkel om kernwapens te verbied en uiteindelik heeltemal te elimineer. Globale demokrasie in hierdie "gesekuritiseerde"5 beleidsgebied is bevorder deur die insluiting van die burgerlike samelewing, gekoördineer deur die Internasionale Veldtog vir die Afskaffing van Kernwapens (ICAN), die ontvangers van die Nobelprys vir Vrede in 2017. Volgens Ray Acheson, direkteur van Reaching Critical Will en lid van die reëlingskomitee van ICAN, kon state se stemme nou buite die onderhandelingskamer gehoor word, wat deursigtigheid verbeter het, terwyl die stemme van die burgerlike samelewing binne die kamer gehoor kon word, wat openbare deelname bevorder het (ICAN, 2016; Acheson, 2021). Die desekuritiseringseffek, dit wil sê om kernwapens as 'n politieke kwessie eerder as 'n saak van nasionale veiligheid te hanteer, is noodsaaklik vir die groter doel van die Kernwapenverbod.

    Derdens word die Kernwapenverbod beskou as 'n manier om kernwapens te stigmatiseer. Alhoewel daar meningsverskille bestaan oor die vraag of die wapens self die regte teiken van stigmatisering moet wees of eerder die besitters van die wapens, is die bedoeling volgens Fihn om persepsies van onaanvaarbaarheid te skep. Die persepsies is onversoenbaar met die identiteit wat 'n staat in die wêreld wil hê. Sodoende word dit moeilik vir state wat kernwapens besit, om blywende besit van en volgehoue beplanning vir die gebruik van kernwapens te regverdig (Fihn, aangehaal in Sauer en Reveraert, 2018:47). In plaas daarvan om mag, aansien of veiligheid met kernwapens te assosieer, beklemtoon die Kernwapenverbod die morele aanstootlikheid daarvan (Egeland, 2016).

    Laastens het die Kernwapenverbod waarde vir die ontwikkeling van die internasionale gewoontereg betreffende kernwapens. Al het kernstate nog nie die verdrag onderteken nie, kan die verdrag met verloop van tyd vir alle state regsbindend word. Ten einde die status van gewoontereg te verkry, moet die verdrag aan sekere kriteria voldoen, byvoorbeeld dat dit beskou word as die algemene siening van die internasionale gemeenskap en dat dit die gewoonteregtelike praktyk van state weerspieël. Die kerntaboe, of die norm dat kernwapens nie gebruik mag word nie, weerspieël soortgelyke gewoonteregtelike praktyk (Tannenwald, 2007).6 Deur die Kernwapenverbod kan 'n eindfase bereik word waarin die norm teen die gebruik van kernwapens die status van ius cogens aanneem, 'n dwingende norm of onaf-wendbare regsbeginsel wat eenvoudig as vanselfsprekend aanvaar word, en waarvan niemand ooit mag afwyk nie (Pretorius, 2016; Pretorius, 2021). Hoewel die afdwinging van enige internasionale regsnorm moeilik is, gee ius cogens wel opsies vir akteurs om die wat dit oortree te vervolg of sankies en ander maatreëls in te stel.

    Vir teenstanders van die Kernwapenverbod is die verdrag sowel nutteloos as gevaarlik. Die bestempeling van die Verdrag as nutteloos spruit daaruit dat state wat oor kernwapens beskik, in die algemeen, maar veral die vyf kernwapenstate, soos genoem in die Kernsperverdrag van 1970, en hul bondgenote, nie by die onderhandelingsproses betrokke was nie.7 Die kernwapenstate het teen die onderhandeling van die Kernwapenverbod gestem.8 Toe die resolusie (Res. 71/258) om onderhandeling te begin aanvaar is in 2017, het hulle gekies om nie aan die onderhandelinge deel te neem nie en daarna het hulle die verdrag in die openbaar verwerp toe dit deur die partye wat aan die onderhandelingskonferensie deelgeneem het, aanvaar is. Hulle boikot het die verdrag ondermyn, aangesien sommige niekernwapenstate dit as 'n rede gesien het om nie die onderhandelinge of die verdrag te ondersteun nie. Vier-en-twintig state, die meeste van hulle niekernwapenstate en lede van die Noord Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), maar ook Australië en Suid-Korea, het hulle teenstem teen die onderhandelinge op dié gronde geregverdig. Om 'n proses te begin om 'n verdrag wat kernwapens verbied aan te neem sonder die ondersteuning van die kernwapenstate en 'n groot aantal ander lande met spesifieke veiligheidsbelange was vir hulle voortydig (ICAN, 2016b). Selfs Noorweë, 'n land wat die eerste konferensie oor die humanitêre uitwerking van kernwapens aangebied het, het verklaar dat hulle moes erken dat die kernwapenstate in die heersende omstandighede nie gereed was om aan onderhandelings oor 'n verbod op kernwapens deel te neem nie. Onderhandelings waaraan kernwapenstate nie deelgeneem het nie, sou geen werklike impak hê nie (ICAN, 2016b). Dit het 'n refrein by teenstanders geword om die onderhandelingsproses 'n hopelose saak ("non-starter") te noem, terwyl die kernwapenstate en vier ander state met kernwapens nie aan die proses deelneem nie (Stephens, 2017).

    Vir die state met kernwapens berus hulle niedeelname aan en verwerping van die Kernwapenverbod op die beskuldiging dat die verdrag gevaarlik is. Die beskuldiging lui soos volg (Joint Press statement..., 2017):

    This initiative clearly disregards the realities of the international security environment. Accession to the ban treaty is incompatible with the policy of nuclear deterrence, which has been essential to keeping the peace in Europe and North Asia for over 70 years. A purported ban on nuclear weapons that does not address the security concerns that continue to make nuclear deterrence necessary cannot result in the elimination of a single nuclear weapon and will not enhance any country's security, nor international peace and security. It will do the exact opposite by creating even more divisions at a time when the world needs to remain united in the face of growing threats, including those from the DPRK's ongoing proliferation efforts. This treaty offers no solution to the grave threat posed by North Korea's nuclear program, nor does it address other security challenges that make nuclear deterrence necessary. A ban treaty also risks undermining the existing international security architecture which contributes to the maintenance of international peace and security.

    Die Kernwapenverbod is in twee opsigte as gevaarlik bestempel:

    Eerstens word die kernwapenstate se verpligting om ingevolge Artikel 6 van die Kern-sperverdrag van daardie wapens ontslae te raak, as problematies vir internasionale vrede en veiligheid beskryf. 'n Wêreld sonder die kernwapens van hierdie state waarmee vrede gehandhaaf word, sou 'n onveilige en oorlogsgedrewe wêreld wees. Wat agter die bewering lê dat kernwapens vrede handhaaf, is die idee van 'n "absolute wapen", waarvan die moontlike gebruik die volgende gebeure kan voorkom:9

    staatsaggressie, byvoorbeeld die idee dat die VSA se kernwapens die Sowjetunie tydens die Koue Oorlog weerhou het van pogings om kommunistiese wêreldheer-skappy te vestig;

    die eskalering van interstaatlike vyandelikheid en skermutselinge tot volskaalse oorlog, byvoorbeeld tussen Indië en Pakistan oor Kasjmir;

    kernwapenoorlog tussen state met kernwapens, byvoorbeeld dat gewisse wedersydse vernietiging ("mutually assured destruction") verhoed dat vyande kernwapens teen mekaar gebruik; en

    die verskaffing van kernwapens aan en deur onverantwoordelike state, byvoorbeeld die opvatting dat die kernwapens van kernwapenstate 'n noodsaaklike instrument is om Noord-Korea en Iran se kernwapenprogramme te beperk.

    Tweedens word die huidige kernorde uitgebeeld as sorgvuldig opgestel aan die hand van die Kernsperverdrag as die hoeksteen-ooreenkoms tussen state. Die Kernsperverdrag word geïnterpreteer as 'n legitimering van die vredeshandhawingsfunksie van die vyf kernwapenstate se kernwapens totdat die internasionale omstandighede bereik kan word wat daardie funksie oorbodig maak.10 Die enigste realistiese manier om kernontwapening tot op daardie tydstip te benader, is deur 'n versigtige, stapsgewyse proses in bestaande kernontwapeningsforums te volg, waar die (kern)magsbalans grootliks gehandhaaf kan word deur die konsensusstruktuur van hierdie forums. Die wyse waarop die Kernwapenverbod kernontwapening benader, ondermyn die stabiliteit van hierdie kernorde deur ontwapeningsforums te fragmenteer en verdeeldheid te saai onder die state wat partye by die Kernsperverdrag is. As die Kernwapenverbod enigsins suksesvol is, en 'n nuwe kernorde inlei deur die Kernsperverdrag te vervang, vra teenstanders: "Wat gebeur as die ou reëls laat vaar word maar die nuwe reëls nie deur 'n paar dosyn lande aanvaar word nie? ... Sal dit nie dalk 'n werklik Hobbesiaanse nagmerrie wees waarin almal met alle moontlike wapens teen almal veg nie?" (Sinovets, 2016).

    Voorstanders van die Kernwapenverbod reageer op die aantyging dat die verbod gevaarlik is, deur die idee van kernafskrikking te bevraagteken. Argumente teen kernafskrikking sluit die volgende in:

    dit is nie volmaak nie, en oordeelsfoute en misverstande of misbruik deur 'n irrasio-nele leier kan voorkom;

    dit is immoreel, aangesien dit burgerlikes gyselaar hou;

    dit is irrasioneel, omdat die gebruik van kernwapens tot die uitwissing van die mensdom kan lei - 'n kernoorlog kan dus nie gewen word nie, iets wat die kernwapenstate self erken11; en

    dit lei tot wapenwedlope, omdat afskrikking mededinging aanwakker deur die vereiste van 'n geloofwaardige tweede-aanvalsvermoë om 'n eerste kernaanval af te weer.

    Voorstanders van die Kernwapenverbod het gereageer op die bewering dat die verbod tot die ondergang van die Kernsperverdrag sal lei en 'n Hobbesiaanse wêreld sal skep, deur aan te voer dat die Kernwapenverbod op die Kernsperverdrag voortbou en 'n tussentydse stap is totdat aan laasgenoemde se Artikel 6 voldoen is (Kmentt, 2021). Artikel 6 verbind state daartoe om in goeie trou deel te neem aan multilaterale onderhandelinge oor kernontwapening (wat beskou word as 'n manier om 'n wêreld sonder kernwapens te bereik). Die meeste van die niekernwapenstate begin egter ongeduldig raak - die Kernsperverdrag bestaan immers al 55 jaar. Toe die geldigheidsduur van die Kernsperverdrag in 1995 onbepaald verleng is, was die regverdiging vir hierdie verlenging die hernude verbintenis van die kernwapenstate om multilaterale kernontwapeningsonderhandelinge te voer. Toe die Koue Oorlog tot 'n einde kom, het dit geblyk dat die "omstandighede" uiteindelik reg was vir sulke onderhandelinge, en dit het 'n vlaag toetredings tot die Kernsperverdrag meegebring (Rauf & Johnson, 1995). In plaas daarvan om hierdie onderhandelinge te bevorder, het kernwapenstate egter voortgegaan om hul kernarsenale te moderniseer (Pretorius & Sauer, 2022).

    Gesien as 'n tussentydse stap tot die uitskakeling van kernwapens, is die Kernwapenverbod 'n instrument om rolspelers voor te berei vir 'n wêreld sonder kernwapens. As sodanig kan dit lei tot 'n ordelike verandering van die kernorde binne die raamwerk van Artikel 6 van die Kernsperverdrag. Om die Kernwapenverbod in hierdie lig te beskou - as 'n verandering in die kernorde gebaseer op 'n verandering in die diskoers oor kernwapens - gaan verder as argumente wat kernafskrikking teenstaan. Die Kernwapenverbod kan beskou word as 'n konstruktiewe instrument om 'n meer stabiele en veilige wêreld te bereik. Om die Kernwapenverbod diskursief in die konteks van die verbod op oorlog te plaas, bevorder so 'n breër fokus.

     

    3. Die verbod op oorlog

    Om 'n praktyk soos oorlog onwettig te verklaar, beteken dat dit deur 'n gemeenskap as onaanvaarbaar beskou word, wat dan wette maak om die praktyk af te skaf deur dit onwettig en onregmatig te maak. Dit beteken nie dat niemand ooit weer aan die praktyk sal deelneem nie, maar dat daar 'n "veronderstelling teen" die praktyk bestaan (Larkin, 2008:113). Diegene wat die praktyk beoefen, sal aan die verkeerde kant van die reg wees (of "buite" die reg staan - 'n banneling of "outlaw"). Wanneer 'n persoon tot banneling verklaar word, is hy/sy nie meer geregtig op die beskerming of voordele wat verleen word deur die reg wat in die betrokke gemeenskap geld nie (Kerr, 1928).

    In 1928, in 'n proses gelei deur die toenmalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, Frank Kellogg, en die destydse Franse minister van buitelandse sake, Aristide Briand, is 'n multilaterale verdrag onderteken wat ten doel gehad het om oorlog uiteindelik onwettig te maak. Die verdrag was gegrond op die "Outlawry of War"-beweging, wat destyds groot steun geniet het onder godsdienstige organisasies, vredesbewegings, vrouebewegings, universiteite en koerantredakteurs in die VSA en ander state (Alonso, 1997; Koplow, 2014). Die "Outlawry"-beweging se uitgangspunt was kortliks dat die sosiale orde ly wanneer geskilpunte tussen individue en groepe deur geweld opgelos word. Dit beklemtoon dus dat die gebruik van geweld verwerp en verhoed moet word, en dat 'n alternatiewe prosedure gehandhaaf en afgedwing moet word waardeur geskille van alle soorte en aard opgelos kan word deur 'n beroep op rede en geregtigheid soos deur die howe en wetgewers vertolk (Kerr, 1928:362).

    Voor 1928 is oorlog in die openbare mening en die internasionale reg beskou as 'n geoorloofde metode om internasionale geskille te besleg. Dit was nie net 'n regmatige manier waarop een land sy regte teen ander state kon afdwing nie, maar ook 'n regmatige manier om hul regte uit te wis. Die beginsel van "Mag Maak Reg" was 'n grondliggende beginsel van die internasionale orde (Hathaway & Shapiro, 2017). Vir die "Outlawry"-beweging was dit die kernoorsaak van oorlog. Om oorlog te beëindig moet dieselfde beginsel wat vrede binne state bewerkstellig, ook tussen state toegepas word. Geweld moet heeltemal verwerp word as 'n metode om internasionale geskille te besleg, en 'n vreedsame prosedure waarin die rede en geregtigheid oor geweld seëvier, moet dus ingestel word (Kerr, 1928:361). Dit was presies die bedoeling van die Kellogg-Briand-verdrag.

    Volgens Koplow (2014) is die sosiologiese geskiedenis van die Kellogg-Briand-verdrag gegrond op die volgende faktore (Koplow, 2014: 132-135):

    Eerstens het die gruwel van die Eerste Wêreldoorlog - 'n oorlog wat niemand oënskynlik wou hê of waarby niemand baat gevind het nie - die besef gebring dat oorlogvoering so vernietigend en alomvattend geword het dat dit 'n Pyrrhus-onderneming is. Boonop is die wydverspreide oortuiging dat oorlog 'n inherente deel van die maatskaplike totaliteit is (Potgieter & Liebenberg, 2002:1), vervang deur 'n besef dat oorlog 'n keuse is en dat dit dus vermybaar is. Omdat mense beheer kan uitoefen oor nasionale beleid, kan hulle saamwerk om wedersydse geweld in die vorm van oorlog te beperk. Hoe dit gedoen kon word, was om nie meer in oorlog te investeer nie, maar om "positief en daadwerklik" in die bou van vrede te investeer (Catt, 1928).

    Tweedens het daar ná die Eerste Wêreldoorlog 'n groeiende waardering ontstaan vir die rol van die internasionale reg as presies dit: 'n meganisme om oorlog te voorkom. Die Handves van die Volkebond het nie oorlog onwettig verklaar nie - dit is steeds beskou as 'n regmatige manier om geskilpunte te besleg. Die Volkebond se middele en prosedures om oorlog te voorkom, byvoorbeeld verpligte beslegting van geskille en afkoelperiodes, en om die voorkoming van oorlog 'n gemene saak van die Volkebondstate te maak, illustreer egter die belegging in die internasionale reg om positiewe vrede te bou. Die "Outlawry"-beweging het waarde daarin gesien om oorlog as onregmatig te beskou, en was oortuig dat 'n openbare verklaring in dié verband oorlog as 'n gewoonte of tradisie sou ontwortel.

    Derdens het die gees van "openbare vredesooreenkomste, openlik bereik" (een van Woodrow Wilson se Veertien Punte) die denke oor internasionale verhoudings beïnvloed. Geheime en spesiale ooreenkomste ter wille van eiebelang is verwerp ten gunste van openbare en multilaterale internasionale ondernemings deur state (Koplow, 2014:135). Daarom het minister Kellogg daarop aangedring dat die verdrag multilateraal moet wees, eerder as 'n bilaterale Amerikaans-Franse ooreenkoms.

    Die Kellogg-Briand-verdrag is opsetlik kort gehou ten einde die formulering en bekragtigingsproses te vergemaklik (Koplow, 2014). Dit het uit drie artikels bestaan: In Artikel I verklaar die partye dat hulle toevlug tot oorlog vir die oplossing van internasionale geskille veroordeel en dit verwerp as 'n instrument van nasionale beleid in hul betrekkinge met mekaar (Algemene Verdrag insake Afstanddoening van Oorlog as 'n Middel van Nasionale Beleid, 1928). In Artikel II kom die partye ooreen dat nooit gepoog sal word om enige geskille of konflikte, van watter aard of oorsprong ook al, op enige ander wyse te besleg of op te los as op vreedsame wyse nie. Artikel III bevat die aangeleenthede rakende die bekragtiging, deponering en so meer van die verdrag. Daar is geen onttrekkingsbepaling en geen voorsiening vir optrede as die verdrag verbreek word nie, en daar was geen instelling wat die toepassing van die verdrag kon monitor nie. Dit is belangrik om, soos Koplow (2014:146), op te merk dat die partye dit heeltemal eens was dat die doel van die Verdrag was om aggressiewe of aanvalsoorloë onregmatig te verklaar; elke staat het egter die inherente reg behou om homself en sy bondgenote te verdedig. Die teks het egter nie 'n onderskeid tussen defensiewe en offensiewe oorloë ingesluit nie, en daar was ook geen poging om "aggressie" te definieer of die reg tot selfverdediging in die teks te veranker nie. Kellogg het nougeset probeer verhoed dat 'n geskil oor definisies die normatiewe bedoeling van die verdrag ondermyn. Alhoewel teenstanders die verdrag gekritiseer het as utopies en abstrak, blyk dit dat die opstellers besonder realisties was oor waaroor hulle kon ooreenkom. Kellogg en Briand was ook besonder vaardig in die manier waarop hulle - soos Carr (1995: 31) dit gestel het - die wêreld van abstrakte redenering (in die vorm van absolute retoriek teen alle oorlog) en die wêreld van politieke realiteit (die onuitgesproke behoud van die reg om oorlog teen aggressie te voer [Koplow 2014]) kon inkorporeer.

    Wanneer die Kellogg-Briand-verdrag beoordeel word teen die agtergrond van die militarisering van die 1930's en die Tweede Wêreldoorlog - soos dikwels die geval is - is dit dalk verstaanbaar dat die Verdrag as 'n klaaglike mislukking van misplaaste idealisme beskou word (Carr 1995:13). Die Verdrag is al beskryf as nie die papier werd waarop dit geskryf is nie, 'n verdrag waartoe almal ingestem het maar wat niemand ernstig opgeneem het nie (Sinovets 2016), sinloos (Henry Kissinger), kinderagtig (George Kennan), 'n suiwer utopiese projek (EH Carr) en uitsonderlik oppervlakkig (Ian Kershaw), ook Hathaway & Shapiro, 2017; Koplow, 2014 en Carr, 1995. Verskeie akademici het egter die Kellogg-Briand-verdrag teen 'n ander agtergrond begin evalueer, naamlik die normatiewe doelwit om oorlog tot 'n onwettige en onregmatige instrument vir die oplos van internasionale geskille te verklaar. Hierdie doelwit was 'n direkte reaksie op die slagting van die Eerste Wêreldoorlog. Teen hierdie agtergrond verteenwoordig die nadraai van die oorlog (insluitende Woodrow Wilson se Veertien Punte), wat tot die Kellogg-Briand-verdrag gelei het, 'n sielkundige verskuiwing in hoe mense oor oorlog gedink het. As 'n afwyking eerder as 'n gegewe in menslike aangeleenthede verg oorlog regverdiging - ook in die internasionale reg. State het nie meer 'n onbetwiste reg om vir oorlog voor te berei, daarmee te dreig of dit te voer nie. In plaas daarvan het hulle 'n verpligting om oorlog te vermy en om alternatiewe te vind om geskille op te los of hul regte uit te oefen (Koplow, 2014:150).

    As die Kellogg-Briand-verdrag dan regtig soveel saak gemaak het, waarom het dit nie die Tweede Wêreldoorlog voorkom nie? Eerstens omdat dit 'n normatiewe verdrag was waarvoor 'n implementeringsmeganisme nog gebou moes word. Briand het immers by die ondertekening van die verdrag gesê: "Ons het vrede geproklameer ... nou moet ons dit organiseer" (Hathaway & Shapiro 2017:195). Die organisasiewerk het nog nie vorm aangeneem toe historíese faktore soos die Groot Depressie voorgekom en Hitler op die toneel verskyn het nie. Die Kellogg-Briand-verdrag het 'n omkering van die stelsel van internasionale reg meegebring wat verreikende gevolge vir die internasionale orde gehad het - dermate dat 'n mens kan praat van 'n ou wêreldorde, waarin oorlog geoorloof en legitiem was, en 'n nuwe wêreldorde, waarin dit nie meer so was nie. Voor 1928 was oorlog nie 'n ineenstorting van die regsorde nie - oorlog wás 'n instrument van die regsorde. As gevolg daarvan kon state wat oorlog gevoer het, behou wat hulle verower het. En niemand - selfs nie die verloorders nie - kon vervolg word bloot omdat hulle oorlog gevoer het nie. Moord op die slagveld was heeltemal immuun teen vervolging in 'n geregshof. Ekonomiese sanksies wat neutrale state teen oorlogvoerendes ingestel het, was onregmatig. Neutrales was verplig om oorlogvoerende nasies met die strengste onpartydigheid te behandel. En kanonneerboot-diplomasie was legitiem en algemeen (Hathaway & Shapiro 2017b). Dít is nie vandag se wêreld nie, soos gesien kan word in die internasionale reaksie op beide Russiese aggressie in Oekraïne en Israel se aggressie in Gaza en ander state in die streek.

    Die Tweede Wêreldoorlog verteenwoordig 'n botsing tussen die ou en die nuwe wêreld-orde. Sommige state - veral Duitsland, Japan en Italië - was vasgevang in die ou wêreldorde en het die reëls steeds verstaan ooreenkomstig die "Mag Maak Reg"-benadering. Twee aspekte dui daaroop dat die Kellogg-Briand-verdrag deur die ander groot moondhede van daardie tyd ernstig opgeneem is. Eerstens, die VSA het sy neutraliteitswette verander op die verdrag se grondslag om die Geallieerdes te ondersteun voordat hy tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree het. Tweedens, ná die oorlog is Duitse en Japannese leiers in die Neurenberg- en die Tokio-verhore op aanklag van die misdaad van "aggressiewe oorlog en misdade teen die vrede" aangekla. Hathaway en Shapiro (2017) toon ook aan hoe die sielkundige verskuiwing in die rol van oorlog plaasgevind het by die Jalta-konferensie, waar die Geallieerdes die instelling van die VN bespreek het. Die VN, 'n instelling wat die mandaat en lidmaatskap van die Volkebond oortref, is gesien as die instansie wat die meganisme vir vrede bied wat die Kellogg-Briand-verdrag nie gehad het nie. Die instelling van die Veiligheidsraad van die VN, wat die reg het om besluite te neem oor kollektiewe veiligheid (insluitende die gebruik van militêre mag in belang van vrede, indien nodig), word veral in dié lig gesien. Alhoewel die Kellogg-Briand-verdrag tegnies steeds van krag is, word daar wyd aanvaar dat dit deur die VN-Handves vervang is. Die geskiedenis wat Hathaway en Shapiro (2017) verskaf, wys hoe groot die normatiewe invloed daarvan op die strukture en prosedures van die VN was.

    Gesien teen die doelwit om 'n ander normatiewe orde te vestig, was die Kellogg-Briand-verdrag uiters suksesvol. Die sukses daarvan blyk uit die afname in interstaatlike oorlogvoering, die konsolidering van staatsgrense, die voortbestaan van swak state, en die ongekende groei in internasionale organisasies (Hathaway & Shapiro, 2017). Desnieteenstaande oorheers mag soms steeds die reg en orde, soos blyk uit die oorloë in Oekraïne en Gaza.

    Stephen Walt (2017), 'n uitgesproke voorstander van die realistiese denkskool in internasionale verhoudings, bevraagteken Hathaway en Shapiro se siening van die uitwerking van die Kellogg-Briand-verdrag. Hy stem saam dat oorloë afgeneem het, maar hy voer aan dat die norme wat in die Verdrag en in die VN-Handves vervat is, nie state se gedrag in oorloë beperk het nie, en ook nie verhoed het dat groot moondhede sonder goedkeuring van die VN se Veiligheidsraad oorlog gevoer het nie. Daarbenewens kan die afname in oorloë toegeskryf word aan baie ander faktore, soos kernwapens, ekonomiese interafhanklikheid, die verspreiding van demokrasie, veranderende kulturele houdings teenoor oorlog in groot moondhede, en die verspreiding van nasionalisme wêreldwyd, asook die feit dat ligte wapens die koste van besetting verhoog het. Indien Hathaway en Shapiro wil bewys dat die norme van "outlawry" state se geneigdheid tot oorlog verminder, redeneer Walt (2017) dat hulle in staat behoort te wees om talle gevalle te vermeld van nasionale leiers wat duidelike aansporings gehad het om hul grondgebied uit te brei en gemeen het dit sou maklik wees, maar tog besluit het om nie daarmee voort te gaan nie. Die leiers se rede moet wees óf omdat hulle geglo het dat so 'n daad inherent verkeerd is, óf omdat hulle oortuig was dat dit hoegenaamd nooit deur die res van die internasionale gemeenskap aanvaar sou word nie.

    Hathaway en Shapiro (2017b) reageer dat Walt se reaksie 'n misverstand blootlê oor hoe die internasionale reg werk. Wanneer dit die doeltreffendste is, dwing die reg state nie om teen hul motiewe op te tree nie; dit verander daardie motiewe. Omdat oorlog onregmatig is, sal enigiets wat deur oorlog verkry word - grondgebied, rykdom, mense - nie die oorwinnaar wettig toekom nie. Verder sal die aggressor deur die res van die internasionale gemeenskap veroordeel word. Dit is kragtige afskrikmiddels, selfs vir groot moondhede. Sommige state het dalk die mag om oorlog te voer, maar hulle het nog steeds nie die reg nie; hulle sal buite die reg staan en hul optrede sal nie deur die reg beskerm word nie. Hulle reputasie as wetsoortreders sal ook hul invloed verminder en hulle aan die kaak stel.

    'n Goeie voorbeeld is Rusland se inval in Oekraïne in 2022 en die anneksasie van die Krim in 2014, wat indruis teen die norme van ius ad bellum en wat internasionale sanksies teen en veroordeling van Rusland tot gevolg gehad het (Parker, 2022; Pompeo, 2018). Dieselfde geld die verontwaardigde reaksie deur verskeie wêreldleiers en die publiek ná pres. Trump se opmerkings oor die moontlike anneksasie van Groenland en Kanada. Dit verskil radikaal van 'n wêreld waarin oorlog regmatig en legitiem was, en waarin niemand skeef sou opgekyk het nie. State sou selfs ingevolge die internasionale reg voor die Kellogg-Briand-verdrag verplig wees om Rusland steeds as 'n goeie internasionale rolspeler te behandel. Dieselfde geld ook ten opsigte van die groeiende internasionale afkeuring van Israel se aggressie in Gaza.

    Hathaway en Shapiro (2017b) erken dat magtige rolspelers soms wette maak wat tot hul eie voordeel strek. Trouens, die Kellogg-Briand-verdrag self is al gekritiseer as 'n voorbeeld van sodanige optrede. Konstruktiviste op die gebied van internasionale verhoudings voer egter aan dat die reg 'n eie dinamika ontwikkel en dat dit gevolge vir staatsgedrag begin hê, wat eweneens die koste-voordeel-ontledings van groot moondhede kan verander. Selfs magtige lande verkies toenemend die voordele daarvan om binne die raamwerk van die internasionale reg te bly. Die uitsonderings op die reël bevestig dikwels die reël. Volgens Louis Henkin (1979) hou "bykans alle nasies by bykans alle beginsels van die internasionale reg, en hulle kom bykans al hierdie verpligtinge bykans altyd na". Rusland se volgehoue bewering dat sy optrede in Oekraïne 'n "militêre operasie" is en nie 'n oorlog nie, is deel van 'n algemene tendens waarin state nie meer oorlog verklaar nie. Die behoefte om militêre aggressie iets anders as oorlog te noem, word toegeskryf aan die beperkings wat ius ad bellum, ius in bello en die VN op aanvalsoorloë geplaas het (Irajpanah & Schultz, 2022; Fazal, 2012).

    Indien (aanvals)oorloë deur die lande in die internasionale gemeenskap onwettig verklaar is, is dit ook ongeoorloof en onregmatig gemaak as 'n instrument van hulle onderskeie nasionale beleide.12 Dit het dan gevolge vir hoe ons oor kernwapens en die Kernwapenverbod dink, en hoe ons kan poog om hierdie wapens ook onwettig te verklaar.

     

    4. Die eliminering van kernwapens in die konteks van 'n verbod op oorlog

    Daar is 'n risiko dat die grens tussen ius ad bellum en ius in bello vervaag wanneer die regstatus van kernwapens binne die konteks van oorlogsreg geplaas word. Soos hier bo genoem, is die IGH se adviserende mening oor die regmatigheid van kernwapens 'n goeie voorbeeld daarvan dat soms aangevoer word dat 'n geval van uiterste selfverdediging (ius ad bellum) humanitêre oorwegings (ius in bello) kan oorheers en die gebruik van kernwapens kan regverdig. Nog 'n voorbeeld is dat persone wat bekommerd is oor die massiewe vernietiging en humanitêre gevolge van kernwapengebruik in oorlogvoering, voorstel dat alle oorlog uitgeskakel moet word - selfs geregverdigde oorloë (Sharma, 2009:222). Die Russell-Einstein-manifes (1955), 'n inisiatief van Bertrand Russell, Albert Einstein en ander vooraanstaande wetenskaplikes wat teen kernwapens gekant was, kom naby daaraan om die grens op hierdie wyse te vervaag. Alhoewel die Manifes aangevoer het dat die afskaffing van kernwapens 'n belangrike stap is om spanning en vrees oor 'n skielike kernaanval te verminder, het die outeurs skepties gewonder of state nie maar weer kernwapenprogramme sou begin indien oorlog steeds 'n moontlike keuse was nie. Joseph Rotblat (2006) was 'n stigterslid van die Pugwash-konferensies oor Wetenskap en Wêreldaangeleenthede en is in 1995 saam met die organisasie met die Nobelvredesprys bekroon. Hy was van mening dat die enigste manier waarop 'n wêreld sonder kernwapens 'n werklikheid sou word, was dat state alle militêre vermoëns opgee aan 'n internasionale gesagstruktuur, een wat uit die VN moet ontwikkel en wat verantwoordelik sal wees vir internasionale sekuriteit (Craig, 2020).

    Die literatuur wat die uitwerking van die Kellogg-Briand-verdrag in oënskou neem, verskaf 'n ander manier om oor kernwapens en ius ad bellum te dink. Dit begin met die onregmatigheid van oorlog en die nuwe regsorde wat die Kellogg-Briand-verdrag meegebring het, as die eksplisiete politieke konteks waarbinne die Kernwapenverbod gebore is. Die literatuur oorweeg dan wat so 'n kontekstualisering kan beteken vir die politieke werk wat in verband met die verbod gedoen moet word om die einddoel van 'n wêreld sonder kernwapens te bereik. Hier onder gee ons 'n oorsig van vyf maniere waarop so 'n kontekstualisering die Kernwapenverbod diskursief kan bevorder.

    Eerstens stem die idee (of ideaal) van kernvrede wat op kernafskrikking berus, nie ooreen met die normatiewe grondslag van die huidige norms van wêreldorde dat geskille vreedsaam opgelos behoort te word nie. Trouens, kernafskrikking legitimeer aanvalsoorloë deur die veronderstelling dat vrede aggressief gehandhaaf kan word. Die konsep van kernafskrikking veronderstel dat kernwapens moontlik as laaste uitweg gebruik kan word. Die afwesigheid van oorlog (of negatiewe vrede) onder kernafskrikking is in werklikheid net 'n vorm van onopgeloste konflik wat min of meer dieselfde sielkundige, politieke en ekonomiese gevolge het as dié van 'n oorlog. Kernafskrikking kan selfs internasionale geskille verleng en vererger, soos wat heel moontlik die geval is met politieke brandpunte in die Midde-Ooste en die Koreaanse Skiereiland en tussen Indië en Pakistan. Dit is geen toeval nie dat oudpres. FW de Klerk se besluit om Suid-Afrika se kernwapens te laat demonteer een van die eerste stappe na politieke versoening in Suid-Afrika, 'n vreedsame einde aan apartheid en die heraansluiting by die internasionale gemeenskap was. Kernwapens kan ook aansporings wees om konvensionele oorloë te voer. Die Russiese inval in Oekraïne is een voorbeeld, maar nie die enigste nie, van hoe kernwapens téén vrede en sekuriteit werk (Sauer, 2024). Kernwapens moedig rolspelers aan beide kante van hierdie konflik aan deur die risikopersepsie van hul aggressie te verlaag (Bell, 2021). Rusland het waarskynlik gereken dat die bedreiging wat sy kernwapens inhou, Oekraïne sou weerhou van weerstand teen die inval en NAVO daarvan sou weerhou om hom aan die kant van Oekraïne te skaar (Horovitz & Wachs, 2022). Die VSA reken weer dat hy Rusland in Oekraïne kan verstrik deur toenemend dodelike wapens aan laasgenoemde te verskaf, met die einddoel om uiteindelik 'n Russiese regimeverandering teweeg te bring, omdat NAVO se kernafskrikking Rusland van vergelding sou weerhou (O'Connor, 2022). Tydens die Irakse oorlog van 2003, 'n sogenaamde "voorkomende oorlog" in die naam van die nie-proliferasie van kernwapens, het pres. George W. Bush gedreig om kernwapens teen Irak te gebruik, wat daarop bereken was om Saddam Hoessein se reaksie op die inval te temper. Die VSA and Israel se aanvalle op Iran om hulle beweerde kernwapenprogram te kortwiek is eweneens 'n voorbeeld van die verhouding tussen kernwapens and aggressie. Larkin (2008) doen aan die hand dat Israel se kernwapens die staat verder bereid gemaak het om in 2006 Libanon in te val. Rusland se kernwapens is eweneens beskou as 'n afskrikmiddel teen 'n Oekraïense en NAVO-reaksie op die Russiese anneksasie van die Krim in 2014. Intussen maak die VSA en China soortgelyke berekeninge ten opsigte van Taiwan, wat die aktiveringspunt vir die volgende groot oorlog kan wees.

    Die fokus is op meer as die sogenaamde stabiliteit-onstabiliteit-paradoks (Snyder, 1965) wat voorspel dat simmetriese kernwapenkapasiteit tussen state groter onstabiliteit op laer vlakke van geweld veroorsaak, insluitende handlanger ("proxy")- en beperkte oorloë. Dit gaan oor die sielkundige effek wat aan die werk is en wat die eskalasie van konvensionele oorlogvoering aanmoedig - selfs tot bo die sogenaamde "laer vlakke". Richard Betts (1987) kom tot die gevolgtrekking dat Amerikaanse presidente nie bewustelik gebluf het toe hulle kerndreigemente gemaak het nie - wat hy "kernafpersing" noem - maar ook nie bereid was om die gevolge te aanvaar as daardie dreigemente sou misluk nie. Kernwapens moedig dus in werklikheid aggressie aan. Dit verlaag leiers van state met kernwapens se persepsies van die risiko's verbonde aan die besluit om tot konvensionele oorlog oor te gaan, terwyl dit hulle sielkundig onthef van skuld betreffende daardie oorloë en eskalasie wanneer kernafpersing misluk. Kernwapens moedig nie state met kernwapens aan om die moeilike werk van vredebou deur diplomasie en wedersydse versekering aan te pak en sodoende oorlog te voorkom nie.

    Tweedens dra die twee verbodspogings gesamentlik daartoe by om die bewering te weerlê dat die Kernwapenverbod gevaarlik is omdat kernwapens die vrede sou bewaar. Dit bied 'n geloofwaardige alternatiewe verduideliking waarom aanvalsoorloë afgeneem het, naamlik dat oorlog onregmatig verklaar is en dat internasionale instellings geskep is om aggressie te stigmatiseer en vreedsame geskilbeslegting te ondersteun. Trouens, ambassadeur Elayne Gomez White, die president van die VN-konferensie wat die Kernwapenverbod beding het, het die oortuiging uitgespreek dat vrede sedert 1945 nie die gevolg van kernafskrikking was nie, maar van 'n internasionale orde wat op reëls berus en die internasionale instellings wat gestalte gee aan hierdie order (VN, 2017).

    Derdens, in teenstelling met kernafskrikking, bevorder die Kernwapenverbod positiewe vrede - dit wat Galtung (1964:2) beskryf as "die integrasie van die menslike samelewing". Die Kellogg-Briand-verdrag, wat die begin van 'n nuwe orde was waarin oorlog onregmatig is, en die VN-handves, wat hierdie orde konsolideer, is maatreëls vir positiewe vrede. Op die lang termyn bou positiewe vredesmaatreëls aan 'n internasionale samelewing wat balans tussen (nasionale) eiebelang en prososiale waardes van samewerking en wedersydse voordeel bewerkstellig.13 Die vrede word "georganiseer", nie deur die idee dat tegnologie (kernwapens) in die hande van "uitverkorenes" as 'n leviatan die internasionale verhoog betree en oorlog deur vreesaanjaging verhoed nie, maar deur prososiale en humanitêre waardes wat in die internasionale reg vervat word. Vrede is nie 'n neweproduk van die vrees dat 'n wapen van massavernietiging in oorloë gebruik sal word nie; vrede is die gevolg van 'n gemeenskap van state wat tot die gevolgtrekking gekom het dat oorlog vermy kan en behoort te word, deur dit te verwerp en hulle toe te wy aan die vreedsame beslegting van geskille.

    Vierdens, om oor die Kernwapenverbod in die konteks van die verbod op oorlog te dink bring die fokus terug na die oorspronklike bedoeling van die Kernsperverdrag, naamlik om die nieproliferasie van kernwapens te bewerkstellig, sodat onderhandelinge oor kernontwapening lewensvatbaar kan bly. Die kernwapenstate se oortuiging dat kernwapens vrede handhaaf, laat hulle nie tot die gevolgtrekking kom dat, soos die Neorealistiese denker Kenneth Waltz (1981) aangevoer het, meer state met kernwapens beter sal wees nie. In plaas daarvan is hulle oortuig dat kernwapens beperk moet bly tot 'n "verantwoordelike minderheid" -hulleself. 'n Algemene vertolking van die Kernsperverdrag is dat dit vyf lande se kernwapens legitimeer. Hierdie state word by verstek die bewaarders van kernvrede, asof ander lande hulle daartoe aangestel het deur die Kernsperverdrag te onderteken. Vir baie lande is dit 'n wanvoorstelling van die Kernsperverdrag en dit speel ook nie só in die praktyk uit nie. Inteendeel, kernafskrikking blyk eerder internasionale aggressie as nasionale beleid te motiveer, in teenstelling met ius ad bellum (Sinovets 2017).

    Laastens neem die verbod op oorlog nie state se reg op selfverdediging weg nie, maar beperk oorlog tot selfverdediging. Die idee dat kernwapens die vrede bewaar, verwar die reg op selfverdediging met 'n veronderstelde reg om aggressie te straf deur middel van 'n kernaanval. Waltz (1981) maak 'n onderskeid tussen die ontmoediging van aggressie deur verdediging en deur afskrikking. Verdediging behels die bou van versterkings wat so onoorkombaar is dat 'n vyand geen kans op 'n suksesvolle aanval kan sien nie. Afskrikking ontmoedig 'n vyand om aan te val deur te dreig dat 'n aanval so swaar gestraf sal word dat enige voordeel wat uit die aanval getrek sou kon word, tot niet sal wees. Konvensionele middele en niegewelddadige meganismes soos sanksies kan 'n afskrikkingseffek hê deur dié wat aggressie oorweeg, te verseker dat dit nie "goedkoop" sal wees nie (Brodie ,1945). Hierteenoor, dreig kernafskrikking met absolute straf. Die grondslag daarvan is dat ius in bello-beginsels, soos die onderskeid tussen burgerlikes en soldate, en proporsionaliteit nie gehandhaaf sal kan word nie en nie gehandhaaf behoort te word nie, sodat vrees by toekomstige aggressors ingeboesem word. Daarenteen moet 'n staat wat beweer dat hy wapengeweld uit selfverdediging gebruik, bewys dat hy óf reeds die slagoffer van 'n ernstige aanval is, óf binnekort gaan wees, en dat die gebruik van wapengeweld die laaste uitweg is, noodsaaklik en proporsioneel. Hierdie vereistes plaas beperkinge op oorloë uit selfverdediging wat in beginsel in ooreenstemming met die verbod op oorlog is.

     

    5. Gevolgtrekking

    John Mueller (1989, 2018) voer aan dat oorlog besig is om uit te sterf. Kultureel gesien, is oorlog 'n idee wat eenvoudig nie meer in die mode is nie en besig is om te verdwyn, net soos tweegevegte van ouds en slawerny verdwyn het. Mueller se ontleding wys egter nie hoe praktyke soos oorlog gestigmatiseer word nie. Hathaway en Shapiro (2017), Koplow (2014) en Alonso (1997) doen dit egter wel deur te wys hoe individue en groepe die betekenis van oorlog bevraagteken het om 'n algemene verskuiwing in denke oor oorlog teweeg te bring, en hoe hierdie verskuiwing geïnstitusionaliseer is. 'n Verbod in the vorm van die Kellogg-Briand-verdrag en die VN-handves, wat die mensdom se opvattings teen oorloë van aggressie kodifiseer, dien as 'n katalisator vir die uitskakeling van oorlog as 'n praktyk, omdat dit state afskrik van betrokkenheid by aggressie en vreedsame maniere ontwikkel om geskille op te los.

    In teenstelling met wat John Lewis Gaddis (1986) aanvoer, kan kernwapens nie die afname in oorloë tussen groot moondhede verduidelik nie. Die meeste van die mensdom het reeds teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog die rug op oorlog gekeer, en sedertdien was die proses een van konsolidasie. Kernwapens was egter ook nie, soos Mueller (2018) beweer, heeltemal irrelevant in hierdie proses nie. Die proses het eerder ten spyte van kernwapens plaasgevind. Die idee dat kernwapens vrede handhaaf, werk teen die sielkundige verskuiwing wat in die mensdom se denke oor oorlog plaasgevind het, omdat dit vrede pervers met uitwissing verbind. Terselfdertyd verlaag dit vir state met kernwapens die waargenome risiko's van aggressie teen hulle en hul bondgenote deur die valse gevoel van sekuriteit dat kernafskrikking oorlog in bedwang kan hou.

    Die stelsel wat deur die VN geskep is om vrede te bevorder (kollektiewe veiligheid, bemiddeling, vredesinstellings en ander middele), word ondermyn omdat daar op kernafskrikking staatgemaak word. Wanneer kernwapens nie meer ter sprake is nie, kom hierdie middele weer in gebruik en het hulle 'n groter kans op sukses. Histories gesien is die Kernwapenverbod 'n uitvloeisel van die verbod op oorlog - nog 'n positiewe vredesmaatreël om 'n orde te konsolideer waarin oorloë van aggressie onwettig is. Anders as kernafskrikking is die Kernwapenverbod gegrond in dieselfde normatiewe diskoers wat die Kellogg-Briand-verdrag onderlê het, naamlik dat "rede en geregtigheid bo geweld moet seëvier" (Kerr, 1928:362). Alhoewel die aanhef van die Kernwapenverbod die verdrag aan hierdie nuwe orde verbind, kan 'n dieper begrip van hoe die verbod op oorlog die konteks vir die verbod op kernwapens vorm, die werk van die voorstanders van die Kernwapenverbod diskursief ondersteun.

     

    Bibliografie

    Alonso, H.H. 1997. The Women's Peace Union and the outlawry ofwar. New York: Syracuse University Press.         [ Links ]

    Brodie, B. 1945. War in the Atomic Age. In The absolute weapon: Atomic power and world order. Brodie B. (ed.). New York: Harcourt, Brace and Co.         [ Links ]

    Bell, M. 2021. Nuclear Reactions. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Buzan, B, Wœver, O & de Wilde, J. 1998. Security: A new framework for analysis. Boulder: Lynne Rienner Publishers.         [ Links ]

    Craig, C. 2020. Can the danger of nuclear war be eliminated by disarmament? In Non-nuclear peace. Sauer, T, Kustermans, J & Segaert, B (eds.). London: Palgrave/Macmillan.         [ Links ]

    Carr, E.H. 1995 (orig. 1939). The twenty years' crisis 1919-1939: An introduction to the study of international relations. London: Palgrave MacMillan.         [ Links ]

    Catt, C.C. 1928. The outlawry of war. The Annals of the American Academy of Political and Social Science. 138:157-163.         [ Links ]

    Cluster Munition Coalition. 2017. The Oslo process: The historic start to the cluster bomb ban, February 23, http://www.stopclustermunitions.org/en-gb/media/news/2017/the-oslo-process-the-historic-start-to-the-cluster-bomb-ban.aspx [28 March 2019].         [ Links ]

    Cox, R. 2017. Expanding the History of the Just War: The Ethics of War in Ancient Egypt, International Studies Quarterly, 61, No. 371-384.         [ Links ]

    Egeland, K. 2016. Change the incentives: Stigmatize nuclear weapons. March 15, 2016, Bulletin of Atomic Scientists, https://thebulletin.org/2016/03/change-the-incentives-stigmatize-nuclear-weapons/ [28 March 2019].         [ Links ]

    Fazal, T.M. 2012. Why states no longer declare war. Security Studies 21, No. 4:557-93.         [ Links ]

    Gaddis, J.L. 1986. The long peace: Elements of stability in the postwar international system. International Security 10, No.4:99-142.         [ Links ]

    Galtung, J. 1964. An Editorial. Journal of Peace Research 1, no. 1 (Maart):1-4.         [ Links ]

    General Treaty for the Renunciation of War (Kellogg-Briand Pact). https://treaties.fcdo.gov.uk/data/Library2/pdf/1929-TS0029.pdf [30 Julie 2025].         [ Links ]

    Hathaway, O & Shapiro, S. 2017. The internationalists: How a radical plan to outlaw war remade the world. New York: Simon & Schuster.         [ Links ]

    Hathaway, O & Shapiro, S. 2017b. What realists don't understand about international law. Foreign Policy, October 9, https://foreignpolicy.com/2017/10/09/what-realists-dont-understand-about-law/ [13 July 2022].         [ Links ]

    Henkin, L. 1979. How nations behave. Washington DC: Council on Foreign Relations.         [ Links ]

    Hinde, R.A. 2002. Why good is good: The sources of morality. London: Routledge.         [ Links ]

    Horovitz, L & Wachs, L. 2022. Russia's nuclear threats in the war against Ukraine. German Institute for International and Security Affairs. April 20. https://www.swp-berlin.org/en/publication/russias-nuclear-threats-in-the-war-against-ukraine [11 July 2022).         [ Links ]

    ICAN. 2016. Podcast: First round on UN talks to ban nuclear weapons. March 16. https://soundcloud.com/ican-722336908/first-round-of-un-talks-to-ban-nuclear-weapons [11 July 2022).         [ Links ]

    ICAN. 2016b. Voting on UN resolution for nuclear ban treaty. December 23. http://www.icanw.org/campaign-news/voting-on-un-resolution-for-nuclear-ban-treaty/ [18 March 2019].         [ Links ]

    International Court of Justice. 1996. Legality of the threat or use of nuclear weapons. Reports of Judgments, Advisory Opinions and Orders. ICJ Reports 1996, p. 226. https://www.icj-cij.org/public/files/case-related/95/095-19960708-ADV-01-00-EN.pdf [18 March 2019].         [ Links ]

    Irajpanah, K & Schultz, K.A. 2021. Off the menu: Post-1945 norms and the end of war declarations. Security Studies 30, No. 4:485-516.         [ Links ]

    Joint Statement on preventing nuclear war and avoiding arms races" 3 January 2022, https://www.gov.uk/government/publications/joint-statement-on-preventing-nuclear-war-and-avoiding-arms-races [16 September 2025]        [ Links ]

    Permanent Representatives to the United Nations of the United States, United Kingdom and France following the adoption of a Treaty Banning Nuclear Weapons. Joint Press Statement, 7 July 2017. https://usun.state.gov/remarks/7892 [18 March 2019].         [ Links ]

    Kaplan, F. 1983. The wizards of Armageddon. Stanford, Ca: Stanford University Press.         [ Links ]

    Kerr, P. 1928. The outlawry of war. Journal of the Royal Institute of International Affairs 7. No. 6:361-388.         [ Links ]

    Koplow, D.A. 2014. Nuclear Kellogg-Briand Pact: Proposing a treaty for the renunciation of nuclear wars as an instrument of national policy. Syracuse Journal of International and Commons 42, No.1:123-191.         [ Links ]

    Krepon, M. 2010. The stability-instability paradox. Arms Control Wonk. 2 November. https://www.armscontrolwonk.com/archive/402911/the-stability-instability-paradox/ [13 July 2022].         [ Links ]

    Larkin, B. 2008. Designing denuclearization: An interpretive encyclopedia. New Brunswick: Transaction Publishers.         [ Links ]

    Männistö, I. 2016. The Ottawa process: Two decades later. Society, Culture, and Security. November 27. http://natoassociation.ca/the-ottawa-process-two-decades-later/ [2 July 2022].         [ Links ]

    Moussa, J. 2008. Can jus ad bellum override jus in bello? Reaffirming the separation of the two bodies of law. International Review of the Red Cross 90, No. 872:963-990.         [ Links ]

    Mueller, J. 1989. Retreat from Doomsday: The obsolescence of major war. New York: Basic Books.         [ Links ]

    Mueller, J. 2018. Why nuclear weapons don't matter. Foreign Affairs Nov/Dec, https://www.foreignaffairs.com/articles/2018-10-15/nuclear-weapons-dont-matter (Toegang verkry op [18 March 2019].         [ Links ]

    O'Connor, T. 2022. Joe Biden is calling for regime change in Russia and this time it isn't a gaffe. Newsweek. April 4. https://www.newsweek.com/joe-biden-calling-regime-change-russia-this-time-it-isnt-gaffe-1694867 [11 July 2022].         [ Links ]

    Parker, C. 2022. A growing movement against illegal war. Washington Post. 5 July. https://www.washingtonpost.com/world/2022/07/05/russia-ukraine-war-crimes-aggression-international-law/ [10 July 2022].         [ Links ]

    Pinker, S. 2011. The better angels of our nature: A history of violence and humanity. New York: Viking Books.         [ Links ]

    Pompeo, M. 2019. Crimea Declaration, Press Statement, 25 July. https://www.state.gov/secretary/remarks/2018/07/284508.htm [18 March 2019]        [ Links ]

    Potgieter, T & Liebenberg, I. 2002. Introduction. In Reflections on War: Preparedness and Consequences. Potgieter, T and Liebenberg, I (Eds). 2002. Stellenbosch: SUN Press.         [ Links ]

    Pretorius, J. 2016. The ban treaty: An interim step, but politically profound. Bulletin of Atomic Scientists, December 14. https://thebulletin.org/roundtable_entry/the-ban-treaty-an-interim-step-but-politically-profound/ [18 March 2019].         [ Links ]

    Pretorius, J. 2021. The power of a ban: Outlawing nuclear weapons practices. In chapter in, The Nuclear Ban Treaty: A Transformational Reframing of the Global Nuclear Order. Ramesh Thakur (ed.) 2021. London: Routledge.         [ Links ]

    Pretorius, J. & Sauer, T. 2022. When is abandoning the Treaty on the Non-Proliferation of Nuclear Weapons legitimate?, Contemporary Security Policy 43 no.1: 161-185.         [ Links ]

    Rotblat, J. 2004. Paper read at the 54th Pugwash Conference on Science and World Affairs, Seoul, South Korea. Bridging a divided world through international cooperation and disarmament. ISYP Journal on Science and World Affairs, 2, No.1 (2006):1-8. 8 October. gepubliseer        [ Links ]

    Russell-Einstein Peace Manifesto. 1955. 11 July https://www.theguardian.com/world/2016/jul/11/russell-einstein-peace-manifesto-archive-1955. [18 March 2019).         [ Links ]

    Sauer, T. & Pretorius, J. 2014. Nuclear weapons and the humanitarian approach. Global Change, Peace & Security 26, No.3:233-250.         [ Links ]

    Sauer, T. & Reveraert, M. 2018. The potential stigmatizing effect of the Treaty on the Prohibition of Nuclear Weapons. The Nonproliferation Review 25, No. 5-6:437-455.         [ Links ]

    Sauer, T. 2024. How useful are nuclear weapons in practice? Case-study: The war in Ukraine. Journal for Peace and Nuclear Disarmament 7, No. 1: 194-210.         [ Links ]

    Sharma, S.K. 2009. The legacy of jus contra bellum: Echoes of pacifism in contemporary just war thought. Journal of Military Ethics 8, No. 3: 217-230.         [ Links ]

    Sinovets, P. 2016. Assessing the ban treaty from Ukraine. Round table on the question: Can a treaty banning nuclear weapons speed their abolition? Bulletin of Atomic Scientists, 16 December. https://thebulletin.org/roundtable/can-a-treaty-banning-nuclear-weapons-speed-their-abolition/. [18 March 2019].         [ Links ]

    Snyder, G. 1965. The balance of power and the balance of terror. In Balance of power, Seabury, P. (ed). San Francisco: Chandler.         [ Links ]

    Stephens, B. 2017. Don't ban the bomb. New York Times. 7 October: A23, https://www.nytimes.com/2017/10/06/opinion/nobel-peace-prize-nuclear-weapons.html. [18 March 2019].         [ Links ]

    Tannenwald, N. 2007. The nuclear taboo: The United States and the non use of nuclear weapons since 1945. Rhode Island: Browne University.         [ Links ]

    Tannenwald, N. 2022. Is using nuclear weapons still taboo? Foreign Policy, 1 July. https://www.researchgate.net/publication/370790128_Is_Using_Nuclear_Weapons_Still_Taboo [7 May 2025].         [ Links ]

    Treaty on the prohibition of nuclear weapons. 2017. https://www.icanw.org/tpnw_full_text. [13 July 2022].         [ Links ]

    UN. 2017. Elayne Whyte Gómez on the Treaty on the Prohibition of Nuclear Weapons Press Conference (July 7). New York. https://www.youtube.com/watch?v=lwTEx1jixSE & t=353s. 29 November 2022].         [ Links ]

    Walt, S. 2017. There's still no reason to think that the Kellogg-Briand Pact accomplished anything. Foreign Policy. 29 September. https://foreignpolicy.com/2017/09/29/theres-still-no-reason-to-think-the-kellogg-briand-pact-accomplished-anything/. [18 March, 2018].         [ Links ]

    Waltz, K. 1981. The spread of nuclear weapons: More may better. Adelphi Papers, 171. London: International Institute for Strategic Studies.         [ Links ]

    Wertheim, S. 2018. The war against war: What can we learn from the 1928 Paris Peace Pact? The Nation. https://www.thenation.com/article/culture/liberal-internationalism-paris-peace-pact/. [10 July 2022].         [ Links ]

    Williams, H. 2018. A nuclear babel: Narratives around the Treaty on the Prohibition of Nuclear Weapons. The Nonproliferation Review 25, No. 1-2:51-63.         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2025-07-30
    Goedgekeur: 2025-10-10
    Gepubliseer: Desember 2025

     

     

     

    Joelien Pretoius is 'n alumna van die Universiteit van Pretoria, en het 'n doktorsgraad aan die Universiteit van Cambridge in die Verenigde Koninkryk verwerf. Die fokus van haar tesis is militêre denkwyses ná apartheid en die rewolusie in militêre aangeleenthede in Suid-Afrika. Haar huidige navorsing fokus op kernontwapening, maar sy het ook oor waterskaarsheid as 'n sekuriteitsaangeleentheid, COVID-19 en talle ander onderwerpe in Veiligheidstudies gepubliseer.
    Sy dien in die Raad van die Pugwash-kon-ferensies oor Wetenskap en Wêreldsake en in die reëlingskomitee van die Afrika-Navorsing-en-Innovasienaaf vir die Verifikasie van Kernontwapening (African Research and Innovation Hub for Nuclear Disarmament Verification). As professor in die Departement Politieke Studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland doseer sy Internasionale Verhoudings en Veiligheidstudies.
    Joelien Pretoius is an alumna of the University of Pretoria, and obtained a PhD from Cambridge University in the United Kingdom, focusing in her thesis on post-apartheid defence thinking and the revolution in military affairs in South Africa. Her current research interest is nuclear disarmament, but she has also published on the securitisation ofwater scarcity, COVID-19 and various other topics in Security Studies.
    She serves on the Council of the Pugwash Conferences on Science and World Affairs and on the steering committee of the African Research and Innovation Hub for Nuclear Disarmament Verification. She is a professor in the Department of Political Studies at the University of the Western Cape and teaches International Relations and Security Studies.

     

     

    Tom Sauer is professor in Internasionale Politiek in die Departement Politiek van die Universiteit Antwerpen (België).
    Sauer spesialiseer in internasionale veiligheid, veral kernwapenbeheer, die proliferasie van kern-wapens en kernontwapening. Hy is die skrywer van of 'n bydraer tot 11 boeke (monografieë en versamelwerke), talle akademiese artikels in vaktydskrifte, en meer as 300 meningsartikels. Sy jongste boek (saam met Yoichiro Sato en Elena Atanassova-Cornelis) is getitel Security order and strategie alignment in Europe and the Asia-Pacific (Routledge, 2025).
    Sauer het Politiek en Internasionale Politiek gestudeer aan die FUNDP-Namur (België), die Katolieke Universiteit Leuven (België), die Universiteit van Hull (VK), en die Bologna-sentrum van die Paul H. Nitze-Skool vir Gevorderde Internasionale Studies (SAIS) van die Johns Hopkins-Universiteit (VSA). Hy het 'n PhD in Sosiale Wetenskappe (Politiek) aan die Katolieke Universiteit Leuven (België) verwerf.
    Sauer is 'n ontvanger van 'n NAVO Individuele Beurs (1994-1995),'n Rotariër-ambas-sadeursbeurs (1997-1998) en 'n postdoktorale navorsingsbeurs van die Fonds Wetenschappelijk Onderzoek - Vlaanderen (FWO) (2002-2008).
    Hy is 'n voormalige BCSIA-genoot aan die John F. Kennedy-Skool vir Regeerkunde aan die Harvard-Universiteit (VSA) (1997-1999), en 'n aktiewe lid van die Pugwash-konferensies oor Wetenskap en Wêreldsake. In 2019 het hy die Rotariëralumni se Wêrelddienstoekenning ontvang.
    Tom Sauer is professor of International Politics in the Department of Politics at the University of Antwerp (Belgium).
    Sauer's field of specialisation is international security, particularly with regard to nuclear arms control, proliferation and disarmament. He is the author of or a contributor to 11 books (monographs and edited books), and in addition authored numerous academic articles in journals and more than 300 opinion articles. His latest co-edited book (with Yoichiro Sato and Elena Atanassova-Cornelis) is Security Order and Strategic Alignment in Europe and the Asia-Pacific (Routledge, 2025).
    Tom Sauer has studied Politics and International Politics at the FUNDP-Namur (Belgium), the Catholic University of Louvain (KU Leuven) (Belgium), the University of Hull (UK), and the Bologna Center of the Paul H. Nitze School of Advanced International Studies (SAIS) of the Johns Hopkins University (US). He obtained a PhD in Social Sciences (Politics) from the Catholic University of Louvain.
    Sauer is a recipient of a NATO Individual Scholarship (1994-1995), a Rotary Ambassadorial Scholarship (1997-1998), and a Postdoctoral Fellowship of the Research Foundation - Flanders (2002- 2008). He is a former BCSIA Fellow at the John F. Kennedy School of Government at Harvard University (USA) (1997-1999), and an active member of the Pugwash Conferences on Science and World Affairs. In 2019, he received the Rotary Alumni Global Service Award.
    1 The authors of this article will provide an English translation on request.
    2 Ons gebruik die woord "verbod" vir "outlaw". Laasgenoemde word in die literatuur oor die Kellogg-Briand-verdrag gebruik. Die twee woorde se betekenis is nie identies nie, maar beide beteken om iets onwettig te verklaar ('n prohibisie) en is na genoeg om ons argument aan te voer.
    3 In Engels heet die verdrag die Treaty on the Prohibition of Nuclear Weapons (TPNW) en informeel heet dit The Nuclear Ban. Die Kernsperverdrag heet die Treaty on the Non-Proliferation of Nuclear Weapons (NPT).
    4 Raadpleeg Cox (2024) vir 'n historíese oorsig van die intellektuele oorsprong van geregverdigde oorlog.
    5 Sekuritisering (securitisation) is die proses waardeur 'n vraagstuk van "normale" politiek tot 'n noodtoestand verhef word en staatsrolspelers dan buitengewone maatreëls regverdig om die vraagstuk te hanteer, byvoorbeeld om menseregte en demokratiese maatreëls in die naam van veiligheid enigermate op te hef (Barry Buzan, Ole W
    œver en Jaap de Wilde, 1998:25).
    6 Tannenwald (2022) voer wel aan dat hierdie taboe onder druk is.
    7 Die Kernsperverdrag maak 'n onderskeid tussen kernwapenstate ("nuclear weapon states") (die VSA, die Verenigde Konigkryk (VK), China, Rusland en Frankryk), wat sulke wapens voor 1 Januarie 1967 getoets het, en niekernwapenstate ("non-nuclear weapon states"). Kernbewapen-state ("nuclear armed states" sluit ook dié in wat sedert 1967 kernwapens ontwikkel het en nie lede van die Kernsperverdrag is nie.
    8 Noord-Korea het in die Eerste Komitee ten gunste van die onderhandelinge gestem, Indië en Pakistan het buite stemming gebly, en Israel het teen die resolusie gestem. Nie een van die kernwapenstate het aan die onderhandelinge deelgeneem nie.
    9 Kaplan (1983) gee 'n gedetailleerde oorsig van die verskillende weergawes van kernafskrikking in die VSA.
    10 Hierdie omstandighede word so ver op die horison geag dat 'n datum nie vir kernontwapening in die vooruitsig gestel kan word nie, of, in die woorde van pres. Obama (2009), "waarskynlik nie in my leeftyd nie," as dit hoegenaamd moontlik sal wees.
    11 "Joint Statement on preventing nuclear war and avoiding arms races", 2022.
    12 Die term 'nasionale beleid' bevestig dat die internasionale gemeenskap uit soewereine state bestaan, wat self besluit om oorlog prys te gee ten einde nasionale eiebelang en prososiale gedrag te balanseer.
    13 Robert Hinde (2002) skryf oor die bronne van moraliteit.