Serviços Personalizados
Journal
Artigo
Indicadores
Links relacionados
-
Citado por Google -
Similares em Google
Compartilhar
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
versão On-line ISSN 2224-7912versão impressa ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 no.4 Pretoria Dez. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n4a5
RESEARCH AND REVIEW ARTICLES: WARS AND RUMOURS OF WAR
Afskrikking in die konteks van hedendaagse strategiese mededinging: Lesse uit Oekraïne
Deterrence in the context of contemporary strategic competition: Lessons from Ukraine
Burgert Senekal
Eenheid vir Taalfasilitering en Bemagtiging, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. E-pos: burgertsenekal@yahoo.co.uk. ORCID: https://orcid.org/0000-0002-1385-9258
OPSOMMING
Hierdie artikel ondersoek die effektiwiteit van afskrikking as 'n veiligheidstrategie in die konteks van hedendaagse strategiese mededinging, en fokus op lesse uit die 2022-Russiese inval in Oekraïne. Die artikel bespreek die historíese konteks van NAVO se uitbreiding en Rusland se toenemend aggressiewe optrede wat tot die inval gelei het. Die konsep van afskrikking word ook bespreek, asook soorte afskrikking - afskrikking deur weiering, afskrikking deur straf, en verlengde afskrikking - en deurslaggewende aspekte van afskrikking soos vermoë, wil, geloofwaardigheid, kommunikasie en opvattings.
Die oorlog in Oekraïne beklemtoon die beperkings van afskrikking teen vasberade teëstanders en die belangrikheid van robuuste, aanpasbare verdedigingstrategieë vir kleiner state. Sleutellesse sluit in die noodsaaklikheid van formele verdedigingsooreenkomste vir verlengde afskrikking, die handhawing van geloofwaardige en uitgebreide militêre vermoëns en die duidelike kommunikasie van verdedigingsvermoëns. Die konflik beklemtoon ook die blywende relevansie van konvensionele magte, die behoefte aan tegnologiese vooruitgang en die belangrikheid daarvan om 'n teëstander se kostevoordeelberekening en risikotoleransie akkuraat te bepaal.
Trefwoorde: afskrikking, militêr, NAVO, Oekraïne, Rusland, strategie, veiligheid, die Weste
ABSTRACT
This article examines the effectiveness of deterrence as a security strategy in the context of contemporary strategic competition, focusing on the 2022 Russian invasion of Ukraine and its implications for smaller states.
Following the Cold War, NATO expanded eastward, incorporating former Soviet-controlled states. While Western European nations held diverse views of Russia, Eastern European states, especially those with a history of Russian or Soviet occupation, view it as a primary threat. Russia, on the other hand, maintain a view of ongoing conflict with the West and blamed NATO for global instability.
Russia's increasingly aggressive actions, including the 2008 invasion of Georgia, the 2014 annexation of Crimea, and subsequent conflicts in Donbas, marked a paradigm shift in European security. These events, along with increased military activity and hybrid tactics such as cyberattacks and disinformation campaigns, heighten concerns among NATO members and prompt a reassessment of the security environment.
Deterrence, a military strategy aimed at preventing aggression by increasing perceived risks, gained prominence in the context of contemporary strategic competition. It relies on the defender's capability, credibility, and communication of its willingness to respond to aggression. Deterrence can take three forms: deterrence by denial (convincing the aggressor that their actions will fail), deterrence by punishment (threatening severe consequences), and extended deterrence (relying on allies' support).
The 2022 Russian invasion of Ukraine exposed the limitations of deterrence against determined adversaries. Russia's willingness to incur significant losses challenged Western assumptions and highlighted the need for robust and adaptable defence strategies. The war furthermore underscores the importance of formal defence agreements for smaller states. Ukraine's lack of NATO membership limits its deterrence options, while Sweden and Finland's accession to NATO demonstrates the benefits of collective defence. The conflict also reaffirms the importance of credible military power, including air superiority and advanced weaponry, but in addition highlights the need for sufficient supplies and a robust defence industry to sustain a protracted conflict. Lastly, the war reaffirmed that clear and consistent communication of defence commitments and the potential consequences of aggression are vital for effective deterrence. Ambiguity can lead to misinterpretation and escalation.
The Ukraine war has reaffirmed but also reshaped the understanding of deterrence in the context of contemporary strategic competition. It has emphasized the need for smaller states to maintain credible military capabilities, engage in clear communication, and foster strong alliances for extended deterrence. Additionally, the conflict has highlighted the enduring relevance of conventional forces, technological advancements, and the importance of accurately assessing an adversary's cost-benefit calculus and risk tolerance. These lessons will be crucial in shaping effective deterrence strategies and maintaining stability in an increasingly uncertain world.
Keywords: deterrence, military, NATO, Ukraine, Russia, strategy, security, the West
Inleiding
In die hedendaagse veiligheidsomgewing het afskrikking weer na vore getree as 'n noodsaaklike strategie vir die handhawing van vrede en stabiliteit. Vir klein state is 'n geloofwaardige afskrikkingsposisie van kardinale belang om soewereiniteit en territoriale integriteit teen potensiële aggressors te beskerm. Die Russiese inval in Oekraïne het egter die beperkings van afskrikking teen vasberade teëstanders en die noodsaaklikheid van 'n robuuste en aanpasbare verdedigingstrategie onderstreep. Rusland se bereidwilligheid om geweldige verliese ten opsigte van personeel en materiaal te ly, tesame met skade aan die Russiese ekonomie, was 'n verrassing vir die Weste (Diesen et al. 2024:12). Diesen et al. (2024:12) voer aan dat, gegewe die duidelike verskil tussen hoe die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) en Rusland risiko en beloning sien, soos uitgelig deur die voortslepende konflik in Oekraïne, dit van kardinale belang is om die doeltreffendheid van Westerse afskrikkingstrategieë teen Russiese militêre aggressie te herevalueer.
Hierdie artikel bespreek die effektiwiteit van afskrikking as 'n veiligheidstrategie in die konteks van hedendaagse strategiese mededinging, met die fokus op die lesse wat geleer is uit die 2022- Russiese inval in Oekraïne. Die artikel ondersoek die beperkings van afskrikking teen vasberade teëstanders en hoe die konflik die verdedigingstrategieë van kleiner state hervorm. Die artikel delf ook in die veranderende veiligheidsomgewing in Europa, veral vir NAVO-lidlande se oostelike flank, en beklemtoon die behoefte aan robuuste, aanpasbare en samewerkende verdedigingsposisies.
Agtergrond
Die aanloop tot 2022
Ná die einde van die Koue Oorlog het NAVO uitgebrei, veral namate voormalige Sowjet-beheerde gebiede by NAVO aangesluit het. Tsjeggië, Hongarye en Pole het byvoorbeeld in 1999 by NAVO aangesluit, Bulgarye, Estland, Letland, Litaue, Roemenië, Slowakye en Slowenië in 2004, en Albanië en Kroasië in 2009. Aan die een kant was daar 'n debat dat NAVO-uitbreiding 'n fout was omdat dit Rusland onnodig uitgelok en 'n streeksveiligheidsdi-lemma laat herleef het, terwyl Oos-Europese state aan die ander kant vrese vir hernude Russiese aggressie gekoester het (Crowther, 2023:15; Moore, 2023:377, 397; Von Hlatky & Fortmann, 2023:536). Crowther (2023:15) maak die belangrike opmerking dat voor Rusland se 2022-inval in Oekraïne, Oos-Europese nasies nader aan Rusland, veral dié met 'n geskiedenis van Russiese of Sowjet-besetting, Rusland as die primêre bedreiging beskou het. Wes-Europese nasies het weer meer uiteenlopende sienings gehuldig en Rusland as 'n bedreiging, geleentheid of potensiële vennoot gesien. Vir lande soos Pole, die Baltiese state (Estland, Letland en Litaue) en Finland was die einde van die Koue Oorlog nie 'n teken van blywende vrede nie, maar eerder 'n tydelike verligting van spanning (Kaminski & Sliwa, 2023:131-133; Von Hlatky & Fortmann, 2023:538 e.v.). Aan die ander kant het Rusland 'n volgehoue siening van sigself gehandhaaf as in 'n toestand van voortdurende konflik met die Weste (Eggen, 2024:414). Ná 2014 blameer Rusland ook NAVO vir bykans alle onstabiliteit in die wêreld (Wilhelmsen & Hjermann, 2022:122). Moore (2023:397) argumenteer verder dat dit die Russiese opvatting dat NAVO swak en verdeeld was, sowel as Wladimir Poetin se ambisie, wat tot Russiese uitbreidings gelei het, eerder as Russiese vrese vir NAVO-uitbreiding.
Rusland het geleidelik 'n meer aggressiewe posisie ten opsigte van gebiede voorheen onder sy beheer ingeneem. In 2007 het Poetin die Weste se dubbele standaarde en die VSA se unipolêre wereldpolitiek, Midde-Oosterse intervensies en NAVO-uitbreiding gekritiseer, en Rusland se terugkeer as 'n groot wêreldmoondheid aangedui (Brœnd 2023:29). Russiese militêre aktiwiteite naby Noorweë het kort hierna teruggekeer na die vlakke van die Koue Oorlog-era (Brœnd, 2023:29). Rusland het ook in 2007 'n reeks kuberaanvalle uitgevoer wat Estland geteiken het (Crowther, 2023:8; Von Hlatky & Fortmann, 2023:549). Dit is egter Rusland se inval in Georgië in 2008 wat wyd beskou word as 'n paradigmaskuif in Europese veiligheidsaangeleenthede (Terrisplass, 2017:27; Von Hlatky & Fortmann, 2023:546). Von Hlatky en Fortmann (2023:546) som die reaksie op:
Unexpectedly, Russia, which had been considered a partner and peaceful neighbor by Sweden and Finland, progressively became an arrogant, unpredictable, and increasingly aggressive great power eager to reassert its influence on what it considered its neighborhood, namely the Baltic region, the Caucasus, and Ukraine.
Vir Pole was dit geen verrassing nie, maar ook 'n aanduiding van toekomstige konflik. In 2008 het die Poolse president, Lech Kaczynski, gesê: "We know very well that today it is Georgia, tomorrow it will be Ukraine, the day after tomorrow the Baltic States, and perhaps the next one in line will be my country, Poland" (aangehaal in Kaminski & Sliwa, 2023:142).
Die Russiese inval in die Krim in 2014 en die daaropvolgende hibriede oorlog in die Donbas word deur verskeie outeurs uitgelig as 'n waterskeidingsmoment in NAVO se siening van Rusland (vergelyk onder andere Terrisplass, 2017:27; Haugevik et al, 2022:7; Knutsen, 2022:412; Jakobsen, 2023:501; Saxi, 2023:117; Von Hlatky & Fortmann, 2023:542; Brommesson, Ekengren & Michalski, 2024; Migliorati, 2024:3257; Stormark, 2024:27; Ziegler 2024:117). Terrisplass (2017:27) skryf byvoorbeeld dat hierdie gebeurtenis die Westerse veiligheidsfokus weer op Europa gesentreer het, met Rusland wat sy posisie as 'n vermeende bedreiging hervat het.
Die inval in die Krim was net die begin. NAVO se onderskepping van Russiese vliegtuie in die Baltiese streek het in 2014 dramaties toegeneem en drie keer die getal bereik wat in 2013 gesien is (Saxi, 2023:118). In 2014 is 'n Russiese duikboot naby Stockholm opgemerk (Von Hlatky & Fortmann, 2023:547). 'n Russiese militêre oefening in Maart 2015 het 'n inval in die Sweedse eiland Gotland en die Deense eiland Bornholm gesimuleer (Von Hlatky & Fortmann, 2023:547). Ná 2016 het Noorweegse vegvliegtuie gebaseer in Bode geskarrel om Russiese vliegtuie in die Arktiese gebied te onderskep teen 'n tempo wat Noorweë nie sedert die Koue Oorlog gesien het nie, wat 'n beduidende toename in Russiese lugaktiwiteit in die streek aandui (Saxi, 2023:120). Vanaf ongeveer 2017 het Rusland sy lugmag begin gebruik om skynaanvalle op Noorweegse militêre basisse in die Arktiese streek uit te voer, en in 2018 is GPS-seine in Noord-Noorweë van tyd tot tyd deur Rusland ontwrig (Markussen, 2023:36; Saxi, 2023:120; Eggen, 2024:425). In Januarie 2022 het 'n Russiese vragvliegtuig wat van Moskou na Leipzig onderweg was oor Finse grondgebied gevlieg en naby twee belangrike Finse militêre terreine verbygesteek, te wete die lugmaghoofkwartier en intelligensiediens in Tikkakoski, en die Halli militêre lughawe in Jämsä (Ålander & Paul, 2022:2).
Die Russiese bedreiging is nie net konvensioneel nie, maar sluit ook hibriede taktieke in (byvoorbeeld kuberaanvalle, disinformasieveldtogte, ekonomiese dwang en die gebruik van gevolmagtigde magte), wat die sekuriteitslandskap verder kompliseer (Jakobsen, 2023:516; Diesen et al., 2024:17). Rusland se disinformasieveldtogte en pogings om Westerse politiek te beïnvloed, is byvoorbeeld deeglik gedokumenteer (Nitszke, 2022; Treyger, Cheravitch & Cohen, 2022; Eggen, 2024). Rusland het ook die Europese vlugtelingkrisis van 2015 uitgebuit deur duisende migrante toe te laat om Noorweë binne te gaan, wat sy bereidwilligheid demonstreer om migrasie te gebruik as 'n instrument om sy bure te destabiliseer en onder druk te plaas (Saxi, 2023:121; Eggen, 2024:424). Dieselfde taktiek is ook in 2023 waargeneem toe duisende vlugtelinge deur Rusland oor die Finse grens gestuur is (Eggen, 2024:424). Tussen 2015 en 2020 het kuberbedreigings vir Pole se interne veiligheid ook aansienlik toegeneem, met die regering se insidentreaksiespan wat nagenoeg 30 000 voorvalle gehanteer het, en 'n dramatiese toename in bevestigde voorvalle wat aan die Russiese regering toegeskryf kan word (Kaminski & Sliwa, 2023:135-136).
Hierdie verhoogde bedreiging het gelei tot 'n herbeoordeling van die sekuriteitsomgewing in NAVO-geledere (Jakobsen 2023:501; Von Hlatky & Fortmann, 2023:547; Stormark, 2024:27). Verhoogde NAVO-teenwoordigheid in die Hoë Noorde, lank voorgestaan deur Noorweë, het byvoorbeeld gerealiseer ná Rusland se 2014-optrede in die Krim en Donbas (Åtland, Nilsen & Pedersen, 2022:73). NAVO het ook eers 'n beduidende militêre teenwoordigheid in die Baltiese lande gevestig ná Rusland se 2014-optrede in die Krim en Oos-Oekraïne, 'n stap wat voorheen vermy is in 'n poging om Rusland nie uit te lok nie (Moore, 2023:382; Mälksoo, 2024:538).
Die ontwikkelende aard van die bedreiging wat Rusland inhou, het volgens Jakobsen (2023:503; 512) 'n ooreenstemmende verskuiwing in NAVO se verdedigingstrategieë en magsposisie genoodsaak, wat 'n skuif van gerusstelling na afskrikking en verdediging beklemtoon. Noorweë het byvoorbeeld in 2020 hul nuwe verdedigingsplan bekendgestel, wat afskrikking sterk beklemtoon (Norwegian Ministry of Defence, 2020), terwyl 'n aantal verslae van die Noorweegse Verdedigingsnavorsingsinstituut (Forsvarets forskningsinstitutt) hierdie onderwerp bespreek (Guttelvik & Hennum, 2019; Nyhamar, 2021). Die belangrikheid van afskrikking in Noorweegse verdedigingsdenke kan ook gesien word in onlangse nagraadse studies wat aan die Noorweegse Verdedigingskollege (Forsvarets hegskole) voltooi is (Askvik, 2015; Berg, 2016; Bragstad, 2016; Aanne, 2018; Mäki-Ullakko, 2023), sowel as aan ander Noorweegse universiteite (Terrisplass, 2017; Norberg, 2020; Solheim, 2020; Folgere, 2023; Markussen, 2023).
Op hul beurt het Swede en Finland nader aan NAVO beweeg en onder andere inligting begin uitruil (Brommesson, et al. 2024:32; Migliorati, 2024:3257). Die anneksasie van die Krim in 2014, tesame met verhoogde militêre aktiwiteit in die Oossee-streek, soos lugruim-skendings en gesimuleerde aanvalle, het kommer oor streekstabiliteit ook vir Swede en Finland verhoog (Ziegler, 2024:120). Die duikbootvoorval in Stockholm se argipel het hierdie kommer verder onderstreep (Ziegler, 2024:120). In 2014 het Finland en Swede NAVO se topvennoot-skapvlak, Enhanced Opportunity Partners (EOP), bereik (Nyhamar, 2021:8; Åtland et al., 2022:73). Brommeson et al. (2024:22) verwys na "a growing convergence of the Nordic countries' foreign and security policy sparked by the increasing Russian aggressiveness in the region" gedurende die vroeë 2020's. Nyhamar (2021:7) skryf ook dat die Nordiese lande (Denemarke, Finland, Noorweë en Swede) kommer deel oor hul verslegtende veiligheids-omgewing, veral sedert 2014, met Rusland as hul primêre bedreiging, vererger deur hul kleiner grootte relatief tot Rusland se militêre mag. Hierdie beweging nader aan NAVO van Finland en Swede is deur Rusland afgekeur, en in die aanloop tot die inval in Oekraïne in 2022 het Rusland geëis dat NAVO sy oopdeurlidmaatskapbeleid, spesifiek vir Oekraïne, Finland en Swede, moet herroep (Forsberg, 2023:90).
Rusland se volskaalse inval in Oekraïne op 24 Februarie 2022 het die bedreiging wat dié land vir Europese veiligheid inhou, veral langs NAVO se oostelike flank, aansienlik verhoog (Jakobsen, 2023:501; Meleshchenko, 2024:39; Ziegler, 2024:118). Hierna het NAVO Rusland as die grootste en mees onmiddellike bedreiging vir sy lede se veiligheid beskou, sowel as vir vrede en stabiliteit in Europa en die Atlantiese streek (Mälksoo, 2024:531). Terwyl voorheen beskou as oormatig bekommerd oor Rusland, het die Baltiese en Poolse verteenwoordigers se waarskuwings oor Russiese voornemens ná hierdie inval groter aanklank by NAVO leiers gevind (Mälksoo, 2024:543).
Die inval self was 'n verrassing vir baie Westerse waarnemers, wat 'n versuim om Russiese voornemens akkuraat te evalueer, uitlig1 (Knutsen, 2022:412; Diesen et al., 2024:11; Wicken & Beadle, 2024:17). Rusland se regime onder Poetin, gekenmerk deur 'n konsentrasie van mag en persoonlike beskermingsnetwerke, het volgens Knutsen (2022:427) 'n omgewing van misleidende inligting en kognitiewe sluiting bevorder, wat gelei het tot gebrekkige besluitneming en aggressie. Knutsen (2022:427) argumenteer dat hierdie regime se veront-agsaming van internasionale norme en sy gewilligheid om disinformasie en militêre mag in te span om sy doelwitte te bereik, 'n duidelike en huidige gevaar vir streek- en globale stabiliteit verteenwoordig.
Daar is sterk aanduidings dat Rusland geglo het dat die oorlog vinnig verby sou wees, soortgelyk aan die 2014-operasie (Diesen et al., 2024:12). Die grootste verrassing vir die Weste was die kostes wat Rusland bereid was om aan te gaan nadat dit duidelik geword het dat die oorlog nie 'n vinnige operasie soos in 2014 sou wees nie (Diesen et al., 2024:12). Hierdie oorlog is "en klassisk tostatskrig med tradisjonell styrkebruk" ('n klassieke twee-staat-oorlog met tradisionele gebruik van geweld) (Diesen et al., 2024:21), met gepaardgaande hoë verliese: teen Februarie 2025 het ten minste 91 000 Russiese soldate in Oekraïne gesterf (Mediazona, 2025) (Oekraïense ongevalle is ietwat laer), Rusland het meer as 3 700 tenks teen hierdie datum verloor (Janovsky et al., 2025a), en Oekraïne meer as 1 000 tenks (Janovsky et al., 2025b).
Die 2014-anneksasie van die Krim en die volskaalse 2022-inval in die Oekraïne is ook deur Swede as 'n beduidende en toenemende bedreiging beskou (Brommesson et al., 2024:28; Meleshchenko, 2024:40; Migliorati, 2024:3258; Ziegler, 2024:117; 120), wat gelei het tot 'n verskuiwing in sy veiligheidsbeleid wat uitgeloop het op Swede se suksesvolle aansoek om NAVO-lidmaatskap (Ziegler, 2024:117). Die ingrypende uitwerking van die 2022-Russiese inval in Oekraïne kan daarin gesien word dat die Sweedse regering tot so laat as middel Februarie 2022 aangevoer het dat hulle nie by NAVO sou aansluit nie (Von Hlatky & Fortmann, 2023:549; Brommesson et al., 2024:35). Rusland het deurgaans probeer om Swede te intimideer om nie by NAVO aan te sluit nie, byvoorbeeld deur kort ná Swede se besluit om militêre hulp aan Oekraïne te verleen, vier Russiese vegvliegtuie deur die Sweedse lugruim oor die Oossee te stuur (Eggen, 2024:425). Swede het op 7 Maart 2024 'n lid van NAVO geword, ná twee-honderd jaar van militêre onafhanklikheid (Meleshchenko, 2024:39; Ziegler, 2024:117; 120).
Finland se besluit om by NAVO aan te sluit, is onder andere gedryf deur 'n dramatiese verskuiwing in die openbare mening ná Rusland se inval in Oekraïne in 2022 (Von Hlatky & Fortmann, 2023:549; Meleshchenko, 2024:40; Migliorati, 2024:3258; Ziegler 2024:125).
Hierdie gebeurtenis het die onmiddellike veiligheidsbedreiging beklemtoon wat Rusland inhou, gegewe Finland se gedeelde grens met Rusland. Terwyl Finland histories 'n beleid van militêre nie-belyning gehandhaaf het, het dit ook 'n "NAVO-opsie" behou, wat 'n moontlike verskuiwing in belyning moontlik maak indien omstandighede dit regverdig (Von Hlatky & Fortmann, 2023:549; Brommesson et al., 2024:31; Ziegler, 2024:125). Die inval het gedien as 'n katalisator vir hierdie verskuiwing (Von Hlatky & Fortmann, 2023:549; Meleshchenko, 2024:40; Ziegler, 2024:125). Hierdie verandering in openbare sentiment, tesame met die waargenome behoefte aan konkrete veiligheidswaarborge in die lig van Russiese aggressie, het uiteindelik daartoe gelei dat Finland NAVO-lidmaatskap nagestreef en op 4 April 2023 bekom het. Daarbenewens het Finland se sterk verdedigingsvermoëns, asook 'n relatiewe hoë verdedigingsbegroting en 'n fokus op territoriale verdediging, sy integrasie in NAVO se militêre strukture vergemaklik (Meleshchenko, 2024:39; Ziegler, 2024:125). Deurgaans het Rusland egter Finland probeer intimideer, byvoorbeeld deur in Augustus 2022 twee Russiese Mig 31-vegvliegtuie in die Finse lugruim in te stuur (Eggen, 2024:425).
NAVO was sedert sy stigting in 1949 'n belangrike verdedigingsvennootskap teen Russiese uitbreiding. Teen 2024 het die vergroting van NAVO daartoe gelei dat Meleshchenko (2024:40) skryf dat NAVO gesien word: "not only as a military and political bloc that is a political rival of Russia and China, but also as the military foundation of Western society". Hierteenoor het Rusland sy eie bondgenote in China, Noord-Korea en Iran gevind. Rusland sien ook BRICS (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) as 'n vennootskap wat moontlik in die toekoms uitgebrei kan word as 'n teenpool vir die Weste, maar Poetin se idee van 'n anti-Amerikaanse vennootskap in Asië met China en Indië geniet nie dieselfde steun in hierdie lande as in Rusland nie (Beadle et al., 2019:95).
Ten einde sy rol as kollektiewe verdedigingsorganisasie te vervul, fokus NAVO oor die afgelope dekade weer op afskrikking, wat in die volgende afdeling bespreek word.
'n Omskrywing van die staatlike konsep van afskrikking
Afskrikking is 'n militêre strategie wat veral in die konteks van die Koue Oorlog bekend is (Bragstad, 2016:19 e.v.; Bowers, 2018:1; Guttelvik & Hennum, 2019:8; Solheim, 2020:12), waar die strategie van wedersydse vernietiging ("Mutually Assured Destruction" of MAD) 'n groot bydrae daartoe gelewer het dat 'n globale kernoorlog nie plaasgevind het nie (Berg, 2016:21). Afskrikking werk deur die waargenome risiko's van 'n aksie bo die potensiële winste daarvan te verhoog, en sodoende 'n teëstander se kostevoordeelontleding te verander en hom te ontmoedig om op te tree (Stremmen, 2017:13) (kyk ook Bragstad, 2016:7; Terrisplass, 2017:19, 2018:20; Mazarr et al., 2018:5; Solheim, 2020:6; Mäki-Ullakko 2023:12). Ven Bruusgaard (2018:1) omskryf afskrikking soos volg:
Deterrence is a security policy concept with an essentially psychological basis that describes the mechanism by which an actor seeks to influence the perceptions and actions of another. Deterrence is about convincing an adversary that aggression will be too costly to entertain, either by way of denying him the benefits of aggression, or by way of punishing him disproportionately. Deterrence is about convincing an actor not to undertake an action that he may otherwise have contemplated (oorspronklike klem, kyk ook Bowers, 2018:2; Mazarr et al., 2018:2; Solheim, 2020:6).
Die konsep van afskrikking het oor die afgelope dekade prominent geword in die hedendaagse veiligheidsmilieu, waar onder andere Noorweë van hierdie strategie gebruik maak om sy rol in NAVO uit te voer (Stremmen, 2017; Bowers, 2018; Torrisplass, 2018; Ven Bruusgaard, 2018; Guttelvik & Hennum, 2019; Black et al., 2020; Norberg, 2020; Markussen, 2023). Stremmen (2017:18) skryf dat afskrikking die kernkonsep in die Noorweegse weermag se rol as 'n oorlogsvoorkomingsakteur in hul gekose strategiese benadering is, terwyl Markussen (2023:38) aandui dat daar 'n oplewing in die gebruik van die woord "afskrikking" ("avskrekking" in Noorweegs) in die langtermyn- strategiese dokumente van die Noorweegse weermag was.
Afskrikking word gewoonlik onderverdeel in drie soorte afskrikking: afskrikking deur weiering, afskrikking deur straf en verlengde afskrikking (Bowers, 2018; Mazarr et al., 2018; Guttelvik & Hennum, 2019; Saxi, 2021). Hierdie drie vorms van afskrikking word in die volgende onderafdelings bespreek.
Afskrikking deur weiering
In die eerste geval, afskrikking deur weiering, word dit duidelik gemaak aan die aanvaller dat sy optrede nie sal slaag nie (Torrisplass, 2017:19, 2018:20; Aanno, 2018:16; Mazarr et al., 2018:7; Guttelvik & Hennum, 2019:9; Stremmen, 2019:16). Saxi (2021) skryf dat afskrikking deur weiering ten doel het om aggressie te ontmoedig deur dit vir 'n aanvaller feitlik onmoontlik te maak om sy militêre doelwitte te bereik, gewoonlik deur voldoende magte te ontplooi om 'n aanval te stop (sien ook Markussen, 2023:10). Bowers (2018:4) voer aan dat dit moeilik mag wees vir 'n klein land om 'n geloofwaardige afskrikking deur weiering te skep, maar Stremmen (2019:16) skryf dat afskrikking deur weiering 'n baie groter potensiaal as 'n oorlogsvoorkomingstrategie het (kyk ook Mazarr et al., 2018:8; Berli, 2019; Black et al., 2020:48). Afskrikking deur weiering is met ander woorde die ideaal.
Bowers (2018:2) let daarop dat afskrikking deur weiering tradisioneel verband hou met die ontplooiing van groot konvensionele magte, maar die ontwikkeling van presisiegerigte ammunisie in samewerking met verbeterde bevel-, beheer- en toesigkapasiteite kan bemanningsvereistes verminder. Bowers (2018:2) voer egter aan dat magte wat in gebiede kan mobiliseer en hierdie gebiede verdedig 'n voorvereiste bly, terwyl Black et al. (2020:50) verwys na "the enduring relevance of manned forces".
Solheim (2020:7) en Bowers (2018:2) herinner ons daaraan dat afskrikking deur weiering ook mag meebring dat alhoewel die aanvaller mag slaag, dit met 'n onaanvaarbare koste in die onmiddellike konflikarea sal kom. Aanno (2018:13) deel hierdie sentiment en herinner ons daaraan dat afskrikking selfs vir swakker state teen sterker state effektief kan wees, want die potensiële skade wat 'n swakker staat kan aanrig, kan swaarder weeg as die sterker staat se begeerte om voordeel te trek. Aanno (2018:13) vergelyk die situasie met 'n voetganger wat 'n bus beïnvloed om te stop deur 'n bedreiging van botsing. Afskrikking deur weiering hoef met ander woorde nie slegs te handel oor die potensiële vernietiging van die vyand se magte nie, maar kan ook handel oor die oplegging van onaanvaarbare hoë kostes.
Afskrikking deur straf
In die tweede vorm van afskrikking word dit duidelik gemaak dat alhoewel vyandelike optrede mag slaag, dit teen 'n hoë koste sal kom, byvoorbeeld die vernietiging van die vyand se infrastruktuur (Torrisplass, 2017:19, 2018:20; Aanno, 2018:15; Mazarr et al., 2018:7; Guttelvik & Hennum, 2019:9; Strommen, 2019:16; Mäki-üllakko, 2023:15). Hierdie vorm van afskrikking behels gewoonlik strategiese aanvalle op 'n vyand se steunbasis, en Saxi (2021) skryf dat afskrikking deur straf ten doel het om aggressie te ontmoedig deur 'n dreigement van ernstige gevolge, wat moontlik nie beperk is tot die stuiting van 'n aanval nie, soos 'n kernaanval as antwoord op 'n konvensionele inval. Die konsep kan aangepas word om militêre teikens soos lugafweerstellings in te sluit en kan in so 'n geval aangewend word om afskrikking deur weiering te komplementeer (Terrisplass, 2018:25). Afskrikking deur straf mag ook ander aksies soos sanksies insluit (Markussen, 2023:10). Die vraag is egter of die bedreiging geloofwaardig is en in hoe 'n mate die aanvaller die potensiële koste as te hoog sien.
Verlengde afskrikking
In die derde vorm van afskrikking word dit duidelik gemaak aan die aanvaller dat vyandelike optrede deur vergeldingsaksies van die staat se bondgenote beantwoord sal word. Artikel 5 van NAVO se stigtingsverdrag verskans die beginsel van kollektiewe verdediging:
The Parties agree that an armed attack against one or more of them in Europe or North America shall be considered an attack against them all and consequently they agree that, if such an armed attack occurs, each of them, in exercise of the right of individual or collective self-defence ... will assist the Party or Parties so attacked by taking forthwith, individually and in concert with the other Parties, such action as it deems necessary, including the use of armed force, to restore and maintain the security of the North Atlantic area (aangehaal in Meleshchenko, 2024:37-38).
Guttelvik en Hennum (2019:27) dui aan dat verlengde afskrikking soms die enigste uitweg is, byvoorbeeld in die geval waar Noorweë homself teen Rusland in 'n verlengde konflik moet verdedig en dit nie realisties is om slegs op hul eie vermoë te vertrou nie (kyk ook Terrisplass, 2018:23; Black et al., 2020:45; Solheim, 2020:22). Stremmen (2017:18) skryf ook dat dit voor die hand liggend is dat Noorweë op sy eie moeilik die vermoë sal kan hê om Rusland af te skrik, en dieselfde geld vir ander, kleiner NAVO-lidlande soos Litaue, Letland en Estland. Om hierdie rede voer Ven Bruusgaard (2018:3) aan dat NAVO-lidmaatskap Noorweë se belangrikste instrument is om 'n onaanvaarbare koste vir enige aggressor in 'n konflikscenario op te lê, terwyl die Noorweegse Ministerie van Verdediging (2020:6) NAVO "the cornerstone of Norwegian security and defence policy" noem (kyk ook Bowers, 2018:2; Mazarr et al., 2018:9; Terrisplass, 2018:22; Guttelvik & Hennum, 2019:9; Solheim, 2020:6; Brommesson et al., 2024:28).
Verskeie outeurs let egter op die uitdaging van 'n fait accompli, waar 'n vinnige en beslissende optrede deur die vyand 'n nuwe werklikheid skep, wat teëstanders dwing om op 'n veranderde situasie te reageer eerder as om dit te voorkom (Beadle et al., 2019:177; Guttelvik & Hennum, 2019:7; Stremmen, 2019:6; Jakobsen, 2023:505; Diesen et al., 2024:13; Mälksoo, 2024:540). Dit mag byvoorbeeld gebeur dat Rusland Svalbard annekseer voordat Noorweegse magte kan reageer (Beadle et al., 2019:177). Die risiko met so 'n situasie is dat dit te duur mag wees om terrein wat deur die vyand ingeneem is, te herwin (Stremmen, 2019:6), wat beteken dat bondgenote moontlik kan besluit om nie tot 'n land se hulp te kom nie. Daar moet ook genoem word dat die enigste keer wat artikel 5 in werking getree het, naamlik ná die 11 September-terreuraanvalle op die VSA in 2001, die aanvaller nie 'n groot konvensionele mag was nie en dat NAVO-lidlande nie reuseverliese in die gesig gestaar het om terrein te herwin nie.
Saxi (2021) voer aan dat verlengde afskrikking nie altyd effektief is nie, omdat die projektering van mag oor lang afstande militêr uitdagend is en twyfel laat ontstaan oor of 'n land werklik 'n derde party sal verdedig (kyk ook Mazarr et al., 2018:9). Soos ander outeurs bevraagteken Strammen (2017:18) dit ook of verlengde afskrikking altyd effektief sal wees en noem die situasie waar NAVO oor 'n verlengde front in 'n oorlog teen Rusland betrokke kan wees, in welke geval ander NAVO-lande nie tot Noorweë se hulp sal kan kom nie. Volgens Stremmen (2017:18) kan Noorweë nie op hul bondgenote staatmaak nie; die eintlike steunpilaar is Noorweë se eie nasionale verdediging (sien ook Stremmen, 2019:6). Bragstad (2016:8) eggo hierdie sentiment en voer aan dat, sedert die 1960's, verlengde afskrikking eerder 'n sekondêre oorweging was; die belangrikste voorvereiste vir hulpverlening was die vermoë en bereidwilligheid van Noorweë om verantwoordelikheid vir sy eie verdediging te neem (kyk ook Bowers, 2018:6; Black et al., 2020:45). Berli (2019) en Elden (2020) skryf ook dat NAVO van lidlande verwag om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem voordat daar op bondgenote gesteun word.
Verdere vereistes van afskrikking
Mälksoo (2024:535) verwys na die drie c's van afskrikking: capabilities (vermoëns), commitment (wil) en credibility (geloofwaardigheid), maar noem ook die belangrikheid van kommunikasie. Afskrikking werk volgens hom deur voldoende militêre krag te kombineer, 'n duidelik gekommunikeerde besluit om dit te gebruik, die algehele geloofwaardigheid van die bedreiging en die akteur wat die dreigement maak. Hierdie aspekte van afskrikking word in die volgende onderafdelings bespreek.
Vermoë
Die effektiwiteit van afskrikking is afhanklik van die verdedigingsmag se vermoë (Bragstad, 2016:8; Torrisplass, 2017:20; Aanno, 2018:13; Bowers, 2018:2; Stremmen, 2019:13; Solheim, 2020:6; Mälksoo, 2024:535). Mazarr et al. (2018:23) noem die verdediger se vermoë en wil om op te tree die hoeksteen van afskrikking, en die effektiwiteit daarvan word teoreties gesien as die kapasiteit om basiese hulpbronne (soos rykdom en tegnologie) in gevegsmag om te skakel (Brooks, 2007:9). Hierdie effektiwiteit word veral bepaal deur vier sleutelkenmerke: integrasie (interne konsekwentheid tussen militêre aktiwiteite), responsievermoë (vermoë om by interne en eksterne beperkinge aan te pas), vaardigheid (die bevoegdheid en motivering van personeel) en kwaliteit (die kaliber van wapens en toerusting) (Brooks, 2007:2). Die militêre aktiwiteit wat nodig is om hierdie vermoëns te vestig, vind op vier interafhanklike vlakke plaas: polities, strategies, operasioneel en takties (Millet, Murray & Watman, 1988:3).
Black et al. (2020:42) skryf dat vir afskrikking om geloofwaardig te wees, 'n verdedigingsmag 'n verskeidenheid van vermoëns moet handhaaf om geweld oor 'n afstand te projekteer, sowel as "close with and engage hostile forces and, crucially, to be seen by potential adversaries as equipped, ready and willing to do so" (kyk ook Berli, 2019). Kaminski en Sliwa (2023:134) sluit hierby aan: "Power is what Russia understands, so military capabilities will serve as a deterrence factor supplemented by enhanced resilience, especially when merged with NATO allied forces in the case of any conflict." Hierdie militêre gereedheid moet ook duidelik en oortuigend aan potensiële teëstanders gekommunikeer word om die afskrikkingseffek te verhoog.
'n Sterk verdedigingsvermoë is egter nie genoeg op sigself nie. Berli (2019) argumenteer dat die verdediger 'n aanpasbare vermoë moet hê om enige teëstander en enige aanval tegemoet te gaan. Hy skryf dat wanneer die enigste instrument wat 'n land het, 'n hamer is, kan daar met 'n hoë mate van sekerheid verwag word dat die probleem nie 'n spyker sal wees nie, bloot omdat 'n mens moet verwag om 'n denkende vyand te ontmoet. Daarom moet 'n effektiewe verdediging 'n verskeidenheid strategieë en taktieke insluit om onvoorspelbare en innoverende aanvalle die hoof te bied.
Wil
Afskrikking sal onsuksesvol wees indien die vyand nie oortuig is dat die verdedigingsmag oor die wil beskik om tot oorlog oor te gaan nie (Aanne, 2018:13; Mälksoo ,2024:535). Mazarr et al. (2018:29) skryf dat die beste afskrikking nie plaasvind wanneer die verdediger die terrein wil verdedig nie, maar wanneer die aanvaller verstaan dat die verdediger dit moet verdedig en geen ander keuse het nie. Hierdie insig ondersteun die siening dat afskrikking deur weiering meer geloofwaardig voorkom as verlengde afskrikking. Wanneer 'n verdediger sy eie gebied beskerm, is dit meer waarskynlik dat hy geen ander keuse sal hê nie, terwyl 'n bondgenoot wat tot 'n verdediger se hulp kom, moontlik ruimte sal soek om nie sy ooreenkoms na te kom nie.
Geloofwaardigheid en opvattings
Ven Bruusgaard (2018) herinner ons daaraan dat daar nie 'n 1:1-verhouding tussen afskrik-kingspotensiaal en verdedigingsvermoëns is nie: As veranderinge in verdedigingsvermoë nie die berekenings en opvattings van die teëstander ten opsigte van die koste verbonde aan aggressie verander nie, of as 'n teëstander oortuig is dat die voordele van aggressie sy koste oortref, sal afskrikking ondoeltreffend wees. Mazarr et al. (2018:11) sluit hierby en by Stremmen (2019:13) aan en beklemtoon dat kommunikasie oor opvattings handel: "the value of deterrent messages lies in the eye of the receiver". Hierdie insig word deur Diesen et al. (2024:12) beaam, wat skryf dat die Westerse afskrikking van Rusland nie hoofsaaklik afhang van die Westerse beoordeling van hul eie vermoë nie, maar van wat die Russe dink die Weste bereid is om polities op te offer. Gevolglik is dit noodsaaklik om nie net militêre vermoëns te ontwikkel nie, maar ook om 'n geloofwaardige beeld van die politieke wil om dit te gebruik, te kommunikeer.
In hierdie opsig maak Mazarr et al. (2018:12) 'n belangrike opmerking wanneer hulle daarop let dat effektiewe afskrikking afhang van die begrip en beïnvloeding van die risikotoleransie en bedreigingopvattings van spesifieke leiers, eerder as om 'n eenvormige staatsreaksie te aanvaar. Verskillende leiers het verskillende opvattings oor wat aanvaarbare risiko's is, en daardie leier - sowel as die mate van beheer wat hy oor sy land uitoefen - se denke moet ook in ag geneem word. Hierdie insig het besonderse waarde ten opsigte van Rusland, soos later bespreek word.
Kommunikasie
Afskrikking kan slegs van waarde wees indien die bedreiging duidelik aan die vyand gekommunikeer word (Aanne, 2018:13; Bowers, 2018:2; Mazarr et al., 2018:15; Stremmen, 2019:13; Elden, 2020; Mälksoo, 2024:535). Mazarr et al. (2018:15) noem kommunikasie byvoorbeeld die voorvereiste vir effektiewe afskrikking, terwyl Stremmen (2019:13) argumenteer dat afskrikking berus op die kommunikasie van beide die vermoë en die wil om geweld te gebruik, aangesien enige vermeende tekortkoming in een van die twee die doel-treffendheid daarvan ondermyn. Dubbelsinnige of swak kommunikasie van die verdediger se afskrikkingsmiddele kan dus lei tot misverstand en eskalasie, wat die risiko van die verydeling van die afskrikkingsdoelwit verhoog.
Sleutellesse vir klein state uit die oorlog in Oekraïne sedert 2022
Die huidige afdeling bespreek lesse geleer uit die oorlog in Oekraïne ten opsigte van afskrikking aan die hand van die voorafgaande, soos verdeel in vyf afdelings. Hierdie afdeling moet nie gesien word as synde die volle omvang van die onderwerp te dek nie.
Verlengde afskrikking
Vir klein state is dit nooit realisties om te glo dat hulle op hul eie 'n groot moondheid soos Rusland in 'n uitgerekte konflik sal kan verdryf nie, wat beteken dat hulle nie oor 'n geloofwaardige en voldoende afskrikkingspotensiaal beskik nie. Swede en Finland het oor die afgelope dekade toenemend tot hierdie besef gekom, wat uiteindelik gelei het tot hul aansluiting by NAVO. In Oekraïne se geval was dit nog nie moontlik om by NAVO aan te sluit nie, wat beteken het dat hulle nie die beskerming van artikel 5 kon geniet nie en dat Rusland daarom nie hierdie verhoogde risiko moes verreken nie. Oekraïne is sedert 1994 deel van NAVO se Partnership for Peace (PfP) en sedert 2020 'n Enhanced Opportunities Partner (EOP), maar die VSA het voor die 2022-inval dit reeds duidelik gemaak dat hierdie vennootskap nie soos NAVO-lidmaatskap artikel 5 betrek nie (Moore, 2023:374). Moore (2023:398) voer aan dat "repeated reminders that Ukraine is outside the Alliance have more likely succeeded in signaling to Putin that he can act with impunity as long as he stays within the borders of Ukraine". Sulke versekerings vir Rusland ondermyn duidelik Oekraïne se vermoë om 'n geloofwaardige afskrikkingstrategie deur middel van verlengde afskrikking te vestig.
Dit was ook nooit seker dat Oekraïne volgehoue Westerse steun in 'n uitputtingsoorlog sou ontvang nie, 'n feit wat Rusland gebruik het deur te probeer om Westerse betrokkenheid by die konflik te voorkom (Mäki-Ullakko, 2023:46). Rusland het egter die Weste onderskat, wat beteken dat die Weste in die eerste plek nooit duidelik genoeg steun vir Oekraïne gekommunikeer het nie.
Nietemin bestaan 'n samewerkingsooreenkoms tussen NAVO en Oekraïne in die vorm van die PfP en EOP, wat tot Oekraïne se voordeel strek ten opsigte van geldelike, militêre en ander bystand wat van NAVO-lidlande ontvang word (Moore, 2023:387). Dit is ook onwaarskynlik dat Oekraïne in die toekoms veilig sal wees sonder een of ander vorm van steun van NAVO (Moore, 2023:403). Die les hierin vir klein state is dat formele verdedigings-ooreenkomste soos NAVO-lidmaatskap noodsaaklik is om verlengde afskrikking te realiseer. Moore (2023:399) skryf: "As Sweden and Finland's applications to join NATO have demonstrated, NATO's response to the 2022 invasion has also served to clarify the perils of being a mere partner rather than actual member of the Alliance."
Vermoë
Volgens Mäki-Ullakko (2023:46) was die primêre swakpunt in Oekraïne se afskrikkingstrategie die gebrek aan geloofwaardigheid van die magte naby Kiëf om 'n vinnige aanval deur Russiese troepe en spesiale magte effektief te stuit voordat hulle hul teiken bereik het. Rusland het Oekraïne se vermoë onderskat, wat beteken dat dit nooit duidelik was dat Oekraïne hul hoofstad sou kon verdedig nie. Mäki-Ullakko (2023:50) skryf:
The background could be various cognitive biases and intelligence errors, but perhaps the most central reason was Russia's confidence in the number and ability of its armed forces in relation to the performance, readiness, deployment, and logistics of the Ukrainian armed forces in the Kyiv region.
In Oekraïne se geval was die vermoë om 'n vinnige aanval af te weer met ander woorde teenwoordig, maar Rusland het nie hierdie vermoë as geloofwaardig geag nie. Rusland het ook nie geglo dat Oekraïne se weermag doeltreffend kan verdedig teen 'n grootskaalse multi-rigting-aanval wat ontwerp is om deur blote getalle en uitputting 'n oorwinning te behaal nie (Mäki-Ullakko, 2023:48; Diesen et al., 2024:15). Hierin was Rusland nie alleen nie; die Weste het ook nie geglo dat Oekraïne oor die vermoë beskik om homself te verdedig nie (Diesen et al., 2024:12). In hierdie opsig verander die oorlog in Oekraïne nie opvattings oor afskrikking nie; soos reeds genoem, is dit 'n bestaande opvatting dat 'n land se vermoë om sigself te verdedig duidelik aan 'n teëstander moet wees (Bragstad, 2016:8; Terrisplass, 2017:20; Aanne, 2018:13; Bowers, 2018:2; Mazarr et al., 2018:23; Stremmen, 2019:13; Solheim, 2020:6).
'n Belangrike aspek van 'n land se verdedigingsvermoë wat deur die oorlog bevestig is, is beheer oor die lugruim. Die dooiepunt in Oekraïne beklemtoon die deurslaggewende rol van lugmagte deur te demonstreer dat sonder beheer van die lug beslissende grondoffensiewe byna onmoontlik word (Diesen et al., 2024:90). Dit onderstreep die doeltreffendheid van 'n grondgebaseerde lugverdediging in verskeie lae met betrekking tot afstand- en hoogtedekking wanneer 'n vyandelike lugmag teëgewerk word (Diesen et al., 2024:90). Omgekeerd het die vermoë om die ander party se lugverdedigingstelsels in te perk of te vernietig 'n kritieke voorvereiste geword vir 'n land se eie lugaanvalle (Diesen et al., 2024:90). Klein state behoort daarom in beide lugverdediging en effektiewe lugmagte te belê ten einde dooiepunte soos in Oekraïne teë te werk, en ook aan teëstanders te illustreer dat hulle die vermoë het om aan die een kant vyandige lugmagte in te perk en aan die ander kant om hul eie lugmag doeltreffend aan te wend.
Die heersende siening binne NAVO voor die 2022-inval was dat, net soos in die Baltiese lande, 'n voldoende robuuste verdediging 'n Russiese fait accompli heeltemal sou afskrik, aangesien Moskou nie met optrede sou begin wat dit gewaarborg was om te verloor nie (Diesen et al., 2024:13). Alhoewel die noodsaak om 'n geloofwaardige vermoë te hê om aanvalle af te weer steeds geldig is, het die oorlog ook aangetoon dat voldoende voorrade en wapenbedrywe met 'n hoë uitset ook nodig is. Dit is nie net die kwaliteit van wapentuig wat 'n afskrikkings-vermoë vestig nie, maar ook die kwantiteit, aangesien hierdie oorlog in 'n uitputtingsoorlog ontwikkel het. Terwyl Rusland hul verdedigingsbedryf tot só 'n mate kon aanpas dat hulle verliese kan vervang (alhoewel die meeste voertuie opgeknapte of gemoderniseerde voertuie uit die Russiese oorlogvoorraad verteenwoordig), is dieselfde nie die geval met Westerse lande nie (Diesen et al., 2024:69). Beperkings in voorraad en vervaardigingskapasiteit vir militêre toerusting en ammunisie beteken dat die Weste se teoretiese militêre oorwig nie geredelik omgeskakel kan word in 'n werklike gevegsmag wat in staat is om 'n uitgerekte konflik te wen nie (Diesen et al., 2024:13). Diesen et al. (2024:88) noem die Weste se beperkte voorrade en argumenteer dat Westerse demokrasieë meer nodig het as net vinnige reaksievermoëns om skielike aanvalle te stuit; verdediging vereis ook die veerkragtigheid om langdurige uitdagings te weerstaan. Elders beklemtoon Diesen et al. (2024:14) dat NAVO en individuele lidlande nou ook die nodige werklike uithouvermoë moet ontwikkel in terme van beide noodvoorrade en beskikbare vervaardigingsvermoë om 'n uitgerekte oorlog te ondersteun.
Verder bly tegnologie 'n belangrike faktor om Rusland se groot hoeveelhede wapentuig en soldate die hoof te bied, en in Oekraïne het anti-tenk-missiele (byvoorbeeld Javelin en NLAWS), onbemande lug- en seevaartuie en langafstandpresisiemunisies 'n deurslaggewende rol gespeel (Diesen et al., 2024). Bowers (2018:2) se reedsgenoemde stelling dat tegnologie bemanningsgetalle verminder, maar steeds militêre vermoë vestig, is met ander woorde steeds geldig. Die oorlog in Oekraïne leer egter dat groot voorrade hiervan opgegaar moet word, meer as wat voorheen voorsien is (Diesen et al., 2024:69).
Berli (2019) se reedsgenoemde oproep om aanpasbaarheid word ook deur die oorlog in Oekraïne bevestig. Rusland se vermoë om die seine van Oekraïne se presisiewapens te ontwrig, soos HIMARS, het die doeltreffendheid van die Oekraïense teenoffensief in die somer van 2023 aansienlik belemmer, en Russiese elektroniese oorlogvoering teen Excalibur GPS-geleide munisies het hul akkuraatheid dramaties verswak (Diesen et al., 2024:75-76). Dit beteken dat presisiemunisies se effektiwiteit in die toekoms beperk mag wees, tensy die probleem deur verdere tegnologiese vooruitgang opgelos kan word.
Wil
In 2014 was die deurslaggewende faktor wat tot Oekraïne se verlies van die Krim gelei het, die afwesigheid van wil, veral die Oekraïense magte se gebrek aan vasberadenheid om Rusland se anneksasie van die Krim te weerstaan (Mäki-Ullakko, 2023:50). Die konflik sedert 2022 het ook die belangrikheid van veerkragtigheid en die ontwikkeling van die vermoë om 'n langdurige konflik te weerstaan getoon (Diesen et al., 2024:13).
Russiese leiers is geneig om 'n negatiewe opvatting van Westerse demokrasieë te hê, wat hulle as swak, gebroke en moreel korrup beskou (Diesen et al., 2024:13). Rusland beskou NAVO self ook as 'n swak en gebroke alliansie, wat nie in staat is om effektief te reageer selfs op duidelike aggressie teen Oekraïne, 'n toegewyde en histories prominente NAVO-vennoot nie (Moore, 2023:396). Daar is met ander woorde twyfel of die Weste oor die wil beskik om daadwerklik militêr op te tree. Westerse huiwering om Oekraïne te ondersteun, het waarskynlik Rusland se opvatting van die Weste as swak en onwillig om risiko's te neem aangemoedig, verder versterk deur Rusland se oortuiging dat 'n beperkte aanval op NAVO-gebied nie deur die meeste lidlande as 'n groot bedreiging gesien sal word nie (Diesen et al., 2024:13). Daadwerklike militêre optrede sal nodig wees om Rusland te oortuig dat "demokrati og svakhet ikke er synonymer" (demokrasie en swakheid is nie sinonieme nie) (Diesen et al., 2024:14).
Alhoewel Rusland twyfel in die wil van Westerse lande, teiken hulle nietemin hierdie wil deur middel van hibriede taktieke. Afskrikking sluit nie net gevorderde militêre tegnologie in nie, maar 'n sterk maatskaplike veerkragtigheid, asook die vermoë om hibriede oorlog-voeringtaktieke teë te werk (Diesen et al., 2024:13-14;17-18). Rusland se disinformasieveld-togte is welbekend, maar hierdie is ook die eerste oorlog waarin Kunsmatige Intelligensie (KI) in die vorm van groottaalmodelle (byvoorbeeld ChatGPT) aangewend is om inligtingsoperasies uit te voer. Russiese intelligensieagentskappe gebruik KI om Westerse nuusartikels subtiel te verander en disinformasie te versprei, insluitend gefabriseerde negatiewe oorlogsontwikkelings, vals aanhalings van Westerse leiers en skadelike uitsprake oor Oekraïense leierskap (Diesen et al., 2024:87). Hierdie gemanipuleerde inhoud word outomaties oor verskeie webwerwe versprei in 'n poging om Westerse steun vir Oekraïne af te takel, hoewel sommige pogings lomp is, wat spore agterlaat van die Engelse instruksies wat gebruik is om die vals teks te skep (Diesen et al., 2024:87). Die gebruik van hierdie tegnologie in hibriede oorlogvoering onderstreep die belangrikheid van inligtinggeletterdheid en teendisinformasieveldtogte in die stryd teen die vyand se pogings om die wil van 'n bevolking te ondermyn.
Aansluitend by bogenoemde het Rusland ook burgerlikes geteiken, met beide strategiese aanvalle op burgerlikes en individuele oorlogsmisdade (Moore, 2023:399; Diesen et al., 2024:93). Dit stel ernstige uitdagings aan klein state wat hul verdediging beplan, wat vereis dat hulle die veilige ontruiming van beide gewonde soldate en potensieel groot getalle burgerlikes moet oorweeg (Diesen et al., 2024:93). Sulke massa-ontruimings sal aansienlike beplanning en vroeë waarskuwing verg, en kan 'n groot impak op militêre operasies hê (Diesen et al., 2024:93).
Geloofwaardigheid en opvattings
Die konflik het onderstreep dat die gewilligheid van 'n nasie om die koste van 'n uitgerekte oorlog te dra, selfs in die lig van aanvanklike terugslae, 'n kritieke faktor in afskrikking is (Diesen et al., 2024:12). Dit is veral waar in die geval van outokrasieë soos Rusland, waar die besluitnemingsproses gesentraliseer en minder vatbaar vir die openbare mening is (Diesen et al., 2024:12). Diesen et al. (2024:11) skryf dat dit altyd moeilik sal wees om te bepaal watter koste aanvaarbaar sal wees in die verhouding tussen risiko en beloning in 'n outokrasie, juis omdat soveel afhang van 'n klein magselite of uiteindelik 'n enkele persoon, en dus van individuele eienskappe. Diesen et al. (2024:12) voer aan dat hierdie faktor verreken moet word, aangesien Rusland in hierdie opsig onderskat is. Volgens hulle (2024:12) moet die hele kwessie van Westerse afskrikking van Russiese militêre aggressie in die lig van die verskil in die Westerse en Russiese skaal van wins en risiko wat die oorlog getoon het, heroorweeg word.
Die onvoorsiene duur en koste van die konflik vir Rusland beklemtoon die belangrikheid daarvan om 'n teëstander se kostevoordeelberekening en risikotoleransie akkuraat te assesseer wanneer afskrikkingstrategieë geformuleer word. Dit beklemtoon Westerse demokrasieë se behoefte om hul afskrikkingstrategieë te heroorweeg, met inagneming van die potensiaal vir outokratiese regimes om hoër koste te absorbeer en uitgerekte konflikte na te streef as wat aanvanklik verwag is.
Kommunikasie
Duidelike en konsekwente kommunikasie van die Weste se bereidwilligheid om sy militêre vermoëns te gebruik is noodsaaklik vir effektiewe afskrikking teen potensiële Russiese aggressie. Dit behels die oordra van 'n geloofwaardige dreigement van vergelding, wat Rusland se risikobeloningberekening beïnvloed en toekomstige konflikte voorkom (Diesen et al., 2024:13-14). Die oorlog in Oekraïne het die kritieke rol van duidelike en konsekwente kommunikasie in afskrikkingstrategieë beklemtoon. Alhoewel 'n sterk militêre vermoë noodsaaklik is, moet dit gepaardgaan met ondubbelsinnige kommunikasie van 'n nasie se gewilligheid om sy belange te verdedig en die potensiële gevolge van aggressie, wat geen ruimte laat vir waninterpretasie deur potensiële teëstanders nie. Soos reeds genoem, het dit in die geval van Oekraïne ontbreek, omdat NAVO dit deurgaans beklemtoon het dat Oekraïne nie 'n NAVO-lidland is nie en daarom nie op steun geregtig is nie, terwyl Oekraïne self nie daarin geslaag het om 'n geloofwaardige vermoë aan Rusland of die Weste te kommunikeer nie.
Slot
Die studie beklemtoon dat die Russiese inval in Oekraïne fundamentele aannames oor afskrikkingstrategieë uitgedaag het, veral wat kleiner state betref. Ten opsigte van verlengde afskrikking, is formele verdedigingsooreenkomste soos NAVO-lidmaatskap noodsaaklik, aangesien Oekraïne se gebrek daaraan Rusland se berekeninge beïnvloed het. Wat vermoë betref, is dit nie net die kwaliteit van wapentuig nie, maar ook die kwantiteit en 'n robuuste verdedigingsbedryf wat 'n geloofwaardige afskrikking vestig, tesame met lugoorheersing en aanpasbare tegnologieë. Die wil om op te tree is kritiek; Westerse huiwering het Rusland se opvatting van swakheid versterk, en hibriede taktieke soos disinformasie teiken hierdie wil om op te tree. Geloofwaardigheid en opvattings is afhanklik van die akkurate assessering van 'n teëstander se risikotoleransie en berekening van kostevoordeel, veral in outokrasieë waar besluitneming gesentraliseer is. Laastens moet die kommunikasie van verdedigingsvermoëns en die wil om dit te gebruik, duidelik en konsekwent wees om waninterpretasie te voorkom en afskrikking effektief te maak.
Die Russiese inval het die kritieke belangrikheid van robuuste, aanpasbare verdedigings-vermoëns op alle vlakke beklemtoon. Die lesse uit Oekraïne toon dat afskrikking oor die hele hiërargie van militêre aktiwiteite suksesvol moet wees, soos deur Millet et al. (1988:3) uitgelig: vanaf die politieke besluite oor alliansies (verlengde afskrikking) en die strategiese doelwitte van die oorlog, tot die operasionele beplanning (logistiek en lugbeheer) en die taktiese prestasie van eenhede.
Bibliografie
Aanno, S.T. 2018. Strategisk avskrekking i det digitale rom. Finnes det rasjonelle strategier for smã stater? Ongepubliseerde MA-verhandeling: Forsvarets hogskole. [ Links ]
Ålander, M. & Paul, M. 2022. Moscow threatens the balance in the High North, Stiftung Wissenschaft und Politik (SWP), German Institute for International and Security Affairs. doi: 10.18449/2022c24. [ Links ]
Askvik, Ø. 2015. Utvikling av langtrekkende konvensjonellepresisjonsvãpen - konsekvenser for Norges evnetil avskrekking og forsvar mot angrep. Ongepubliseerde MA-verhandeling: Forsvarets hogskole. [ Links ]
Åtland, K., Nilsen, T. & Pedersen, T. 2022. Military Muscle-Flexing as Interstate Communication: Russian NOTAM Warnings off the Coast of Norway, 2015-2021, Scandinavian Journal of Military Studies, 5(1):63-78. doi: 10.31374/sjms.133. [ Links ]
Beadle, A.W., Diesen, S., Nyhamar, T. & Bostad, E.K. 2019. Globale trender mot 2040 - et oppdatert fremtidsbilde. 19/00045. Oslo: Forsvarets forskningsinstitutt (FFI). [ Links ]
Berg, I.B. 2016. Sikkerhetsdilemma eller avskrekking? En empirisk undersokelse av forholdet mellom NATO/Vesten og Russland i 2014 og 2015. Ongepubliseerde MA-verhandeling: Norges teknisk-naturvitenskapelige universitet. [ Links ]
Berli, E. 2019. Norges risikoprosjekt: Forsvarspolitikkens dreining. https://www.prosjektutsyn.no/norges-risikoprosjekt-forsvarspolitikkens-dreining/ [15 September 2020]. [ Links ]
Black, J., Flanagan, S., Germanovich, G., Harris, R., Ochmanek, D., Favaro, M., Galai, K. & Gloinson, E. 2020. Enhancing deterrence and defence on NATO's northern flank: Allied perspectives on strategic options for Norway. RAND Corporation. doi: 10.7249/RR4381. [ Links ]
Bowers, I. 2018. Small State Deterrence in the Contemporary World, IFS Insights:1-8. [ Links ]
Brœnd, O.G.E. 2023. Smãsters sikkerhetspolitiske strategier ved okt stormaktsrivalisering. En case-studie av endringer i norsk sikkerhetspolitikk som en folge av Russlands invasjon av Ukriana i 2022. Ongepubliseerde MA-verhandeling: Norges teknisk-naturvitenskapelige universitet. [ Links ]
Bragstad, H.H. 2016. Avskrekking og beroligelse i norsk sikkerhetspolitikk overfor Russland. Ongepubliseerde MA-verhandeling: Forsvarets hogskole. [ Links ]
Brommesson, D., Ekengren, A.-M. & Michalski, A. 2024. From variation to convergence in turbulent times - foreign and security policy choices among the Nordics 2014-2023, European Security, 33(1):21-43. doi: 10.1080/09662839.2023.2221185. [ Links ]
Brooks, R.A. 2007. Introduction: The impact of culture, society, institutions, and international forces on military effectiveness, in Brooks, R.A. en Stanley, E.A. (reds.) Creating military power: The sources of military effectiveness, Stanford, CA: Standford University Press, 1-26. [ Links ]
Crowther, G.A. 2023. The Baltic Sea Region at an Inflection Point, PRISM, 10(2):6-17. [ Links ]
Diesen, S., Karlsen, G., Kosiander, A., Løvik, A. & Nyhamar, T. 2024. Erfaringer fra krigen i Ukraina - lœringspunkter etter tusen dager med krig. 24/01299. Oslo: Forsvarets forskningsinstitutt (FFI). [ Links ]
Eggen, K.-A. 2024. Designing around NATO's deterrence: Russia's Nordic information confrontation strategy, Journal of Strategic Studies, 47(3):410-434. doi: 10.1080/01402390.2024.2332328. [ Links ]
Elden, E. 2020. Hva er avskrekking, og hva skal til for ã lykkes med det? https://www.stratagem.no/hva-er-avskrekking-og-hva-skal-til-for-a-lykkes-med-det/ [15 September 2020]. [ Links ]
Folgere, H. 2023. A thematic analysis of Norway's strategy of deterrence and assurance towards Russia during the war in Ukraine. Ongepubliseerde MA-verhandeling: Arctic University of Norway. [ Links ]
Forsberg, T. 2023. Finland and Sweden's road to NATO, Current History, 122(842):89-94. doi: 10.1525/curh.2023.122.842.89. [ Links ]
Guttelvik, M.S. & Hennum, A.C. 2019. Prinsipper for norsk avskrekking - en operasjonsanalytisk tilnœrming. 19/00403. Kjeller: Forsvarets forskningsinstitutt. [ Links ]
Haugevik, K., Svendsen, O., Creutz, K., Olesen, M.R., Regnér, A.L. & Schmidt, J.L. 2022. Security debates and partnership choices in the Nordic states: From differentiation to alignment. 1/2022. Oslo: Norwegian Institute of International Affairs. [ Links ]
Jakobsen, E. 2023. Utviklingen av USAs militœre tilstedevœrelse pâ NATOs estre flanke - beroligelse av allierte, avskrekking av Russland og eskaleringskontroll, Internasjonal Politikk, 81(3). doi: 10.23865/intpol.v81.5698. [ Links ]
Janovsky, J., Naalsio, Aloha, Dan, Kemal & Black, A. 2025a. Attack on Europe: Documenting Russian equipment losses during the Russian invasion of Ukraine. https://www.oryxspioenkop.com/2022/02/attack-on-europe-documenting-equipment.htm [6 Februarie 2025]. (Hierdie bron gebruik slegs voorname by sommige outeurs. [ Links ])
Janovsky, J., Naalsio, Aloha, Dan, Kemal & Black, A. 2025b. Attack on Europe: Documenting Ukrainian equipment losses during the Russian invasion of Ukraine. https://www.oryxspioenkop.com/2022/02/attack-on-europe-documenting-ukrainian.html [6 Februarie 2025]. (Hierdie bron gebruik slegs voorname by sommige outeurs. [ Links ])
Kaminski, M.A. & Sliwa, Z. 2023. Poland's threat assessment. Deepened, not changed, PRISM, 10(2):130-147. [ Links ]
Knutsen, T. 2022. Overraskelser kommer sjelden alene. Om misforstâelser, myter og invasjonen av Ukraina, Internasjonal Politikk, 80(4). doi: 10.23865/intpol.v80.5129. [ Links ]
Mäki-Ullakko, I. 2023. Contribution of military logistics to conventional deterrence in the case of Ukraine. Ongepubliseerde MA-verhandeling: Forsvarets hegskole. [ Links ]
Mälksoo, M. 2024. NATO's new front: deterrence moves eastward, International affairs, 100(2):531-547. doi: 10.1093/ia/iiae008. [ Links ]
Markussen, H.-F. 2023. Cold Calculus. Norway's triad of deterrence, assurance, and reassurance in joint military exercises in the Arctic. Ongepubliseerde MA-verhandeling: Universitet i Oslo. [ Links ]
Mazarr, M., Chan, A., Demus, A., Frederick, B., Nader, A., Pezard, S., Thompson, J. & Treyger, E. 2018. What deters and why: exploring requirements for effective deterrence of interstate aggression. RAND Corporation. doi: 10.7249/RR2451. [ Links ]
Mediazona 2025. Russian losses in the war with Ukraine. https://en.zona.media/article/2022/05/20/casualties_eng-trl [6 Februarie 2025]. [ Links ]
Meleshchenko, T. 2024. Transformation of the European security system in the light of Sweden and Finland's accession to NATO, Foreign Affairs, 34(2):36-42. [ Links ]
Migliorati, M. 2024. New Nordic pathways? Explaining Nordic countries' defence policy choices in the wake of the Ukrainian war, Journal of European Public Policy, 31(10):3249-3274. doi: 10.1080/13501763.2024.2314247. [ Links ]
Millett, A.R., Murray, W., Watman, K.H. 1988. The effectiveness of military organisations, in Millett, A.R. en Murray, W. (reds), Military effectiveness: Volume 1 - The First World War, Boston: Unwin Hyman, 1-30. [ Links ]
Moore, R.R. 2023. Ukraine's Bid to Join NATO: Re-evaluating enlargement in a new strategic context. In Goldgeier, J. & Shifrinson, J.R.I. (eds.) Evaluating NATO enlargement. From Cold War victory to the Russia-Ukraine War. Cham, Switzerland: Palgrave Macmillan, pp. 373-414. [ Links ]
Nitszke, A. 2022. The European union versus Russian Disinformation, in Information security policy: conditions, threats and implementation in the international environment. Ksiegarnia Akademicka Publishing, pp. 35-51. doi: 10.12797/9788381388276.02. [ Links ]
Norberg, I.K. 2020. Klassisk avskrekkingsteori i mote medmoderne krigforing. Implikasjoner av utviklingen i russisk militœrmaktfor avskrekking og strategisk stabilitet. Ongepubliseerde MA- verhandeling: Universitet i Oslo. [ Links ]
Norwegian Ministry of Defence 2020. The defence of Norway. Capability and readiness. [ Links ]
Nyhamar, T. 2021. Military strategic aspects of Nordic security environment changes - identifying common Nordic strategic challenges. 21/01665. Oslo: Forsvarets forskningsinstitutt. [ Links ]
Saxi, H.L. 2021. Avskrekking er tilbake! Men hva er avskrekking? https://www.atlanterhavskomiteen.no/post/17925489/Avskrekking%20er%20tilbake [21 Januarie 2025]. [ Links ]
Saxi, H.L. 2023. Norway Between the 'High North' and the Baltic Sea, Prism, 10(2):113-129. [ Links ]
Solheim, C. 2020. Vektlegger Norge avskrekkelse eller beroligelse i nordomrãdene i mote medokt russisk makthevdelse? Ongepubliseerde MA-verhandeling: Norwegian University of Science and Technology. [ Links ]
Stormark, F. A. 2024. & den sivil-militœre helseberedskapen forberedt til en NATO-artikkel 5 operasjon? Ongepubliseerde MA-verhandeling: Forsvarets hogskole. [ Links ]
Strommen, T.I. 2017. Ein strategi pâ leirfoter, Necesse, 2(2):14033. [ Links ]
Strommen, T.I. 2019. Sjoforsvaret mot 2040. Eit forslag til framtidig styrkestruktur for Sjoforsvaret. 2/19. Bergen: Sjokrigsskulen. [ Links ]
Torrisplass, O.M. 2017. Deterrence or reassurance? Determining the appropriate Norwegian response to a more unpredictable Russia. Ongepubliseerde MA-verhandeling: Nord Universitet. [ Links ]
Torrisplass, O.M. 2018. Deterrence and Crisis Stability - The F-35 and Joint Strike Missile's Effect on the Norwegian Security Policy Toward Russia, Scandinavian Journal of Military Studies, 1(1):19-32. doi: 10.31374/sjms.10. [ Links ]
Treyger, E., Cheravitch, J. & Cohen, R.S. 2022. Russian disinformation efforts on social media. Santa Monica, Calif.: RAND Project Air Force. [ Links ]
Ven Bruusgaard, K. 2018. Deterrence in the High North, The Norwegian Atlantic Committee Security Brief, pp. 1-4. [ Links ]
Von Hlatky, S. & Fortmann, M. 2023. NATO enlargement and the failure of the cooperative security mindset. In Goldgeier, J. & Shifrinson, J.R.I. (eds.) Evaluating NATO enlargement: From Cold War victory to the Russia-Ukraine War. Cham, Switzerland: Palgrave Macmillan. pp. 531-562. [ Links ]
Wicken, N. & Beadle, A. W. 2024. Norske ekspertersprediksjonerom krigen i Ukraina - hvor godt har de truffet? 24/00157. Oslo: Forsvarets forskningsinstitutt (FFI). [ Links ]
Wilhelmsen, J. & Hjermann, A.R. 2022. Russian certainty of NATO hostility: repercussions in the arctic, Arctic Review on Law and Politics, 13:114-142. doi: 10.23865/arctic.v13.3378. [ Links ]
Ziegler, T.D. 2024. Mellom rasjonalitet og identitet: En analyse av Sveriges prosess mot NATO-medlemskap, InternasjonalPolitikk, 82(2). doi: 10.23865/intpol.v82.6001. [ Links ]
Ontvang: 2025-02-17
Goedgekeur: 2025-10-08
Gepubliseer: Desember 2025

Burgert Senekal is 'n navorsingsgenoot by die Eenheid vir Taalfasilitering en -bemagtiging en die Departement Rekenaarwetenskap en Informatika aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het twee meestersgrade en 'n PhD in Afrikaanse Letterkunde van die Universiteit van die Vrystaat. Sy navorsingsbelangstellings sluit in netwerkwetenskap, sosiale media-ontleding en kunsmatige intelligensie. Hy het 'n produktiewe publikasierekord in verskeie akademiese tyd-skrifte.
Burgert Senekal is a Research Fellow at the Unit for Language Facilitation and Empowerment and the Department of Computer Science and Informatics at the University of the Free State. He holds two master's degrees and a PhD in Afrikaans Literature from the University of the Free State. His research interests include network science, social media analysis, and artificial intelligence. He has a prolific publication record across various academic journals.
1 Die inval was egter nie 'n verrassing vir Westerse intelligensiedienste nie (Moore, 2003:374).












