SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 número4Explorations in a post-normal landscape: South Africa this side of and beyond Covid-19(The) Utopia(n) and becoming (other) in Neill Blomkamp's science-fiction trilogy: District 9 (2009), Elysium (2013) and Chappie (2015) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Journal

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão On-line ISSN 2224-7912versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 no.4 Pretoria Dez. 2025

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n4a4 

    RESEARCH AND REVIEW ARTICLES: WARS AND RUMOURS OF WAR

     

    Private militêre maatskappye as proksiemagte in die internasionale politiek met besondere verwysing na operasies deur die Russiese Wagner-groep/Afrika-korps in Afrika

     

    Private military companies as proxy forces in international politics with special reference to the Russian Wagner Group/Africa Corps and its operations in Africa

     

     

    Theo Neethling

    Departement Politieke Studie en Regeerkunde, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: neethlingtg@ufs.ac.za. ORCID: https://orcid.org/0000-0003-0709-7207

     

     


    OPSOMMING

    Een van die kenmerke van die wêreld ná die Koue Oorlog is dat proksiemagte toenemend deur groot en/of invloedryke moondhede gebruik word as buitelandse beleidsinstrumente in konflikte of waar eksterne veiligheidsdilemmas van die een of ander aard manifesteer. Oor die afgelope drie dekades het veral die aanwending van private militêre maatskappye (PMM'e) as proksies in konfliksituasies 'n beduidende toename getoon. Dit het saamgeval met die uitkontraktering van militêre en/of veiligheidsfunksies deur verskeie regerings en hulle weermagte. So byvoorbeeld het die Russiese regering die Wagner-groep (hierna "Wagner") - wat vroeg in 2024 herdoop is na die Afrika-korps1 - sedert 2017 as 'n laekoste- paramilitêre instrument gebruik om sy betrokkenheid en buitelandse beleidsdoelwitte op die Afrika-kontinent na te jaag of uit te bou. Wagner se leier en bevelvoerder, Yevgeny Prigozhin, het twee maande ná 'n rebellie in Augustus 2023 in 'n vliegtuigongeluk omgekom. Hierdie voorval het verskeie waarnemers en ontleders gemotiveer om indringende vrae te stel oor die toekoms van Wagner en sy bedrywighede in Afrika. Gegewe hierdie vrae is die doel van hierdie artikel om die voortgesette funksionering van die Wagner/Afrika-korps as 'n unieke paramilitêre entiteit onder die loep te neem. Die fokus val spesifiek op die Wagner/Afrika-korps se betrokkenheid in vier Afrikastate waar die groep tans besonder invloedryk is in die politieke en veiligheidsdinamika van die betrokke state, naamlik Libië, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Soedan, en Mali.

    Trefwoorde: Rusland, proksiemagte, Wagner-groep, Afrika-korps, private militêre maatskappye, buitelandse beleidsinstrumente


    ABSTRACT

    Since the end of the Cold War, the use of private military companies, commonly known as PMCs, as third parties in proxy conflicts or wars has been on the rise, with a growing number of countries and non-state actors relying on these companies to carry out a range of military operations or tasks. Increasingly, these proxy actors have also become a feature of external involvement in contemporary conflicts around the world. While this is not a new development in itself, most notable PMCs since the end of the Cold War include Blackwater in Iraq, Executive Outcomes in Angola and Sierra Leone, and of course, the Russian Wagner Group.
    According to Max Weber's much-quoted definition, the modern state is a human community that (successfully) claims the monopoly of the legitimate use ofphysical force within a given territory. In this regard, the rise and proliferation of PMCs or mercenaries of the modern type effectively question this monopoly and, in some instances, potentially threaten the foundations of the modern state when governments outsource the capacity to provide security to their citizens, or to wage war - all key elements of their statehood and sovereignty.
    Following on the above, and in light of a complex series offactors that brought changes to the highly state-centred world of previous centuries, international trends of recent decades indicate how PMCs have become increasingly important as actors in conflict dynamics worldwide. This means a deviation from the deep-rooted notion that the state shouldfirst and foremost take responsibility for the security of its citizenry. In view of this, scholars have begun to suggest that national sovereignty, as it crystallised in the aftermath of the Peace of Westphalia in 1648, is in decline. This is having a substantial influence on the state-centric system and the traditional management of the monopoly offorce. Essentially, the weaker a state is in its institutions, the less capacity it has to manage or control violence within its territory. In this regard, it can rightly be argued that the existence and roles of PMCs - instead of, or in parallel, or in addition to regular forces - represent not only the cause, but also the symptom of fragile or changed statehood in several countries across the globe.
    The Wagner Group is globally known as a PMC with close ties to the Russian state and its military. Since its inception in 2014, the group has been involved in the politics of numerous African countries, where it has played a significant role. Since 2017, the Wagner Group has also actively advanced the interests of President Vladimir Putin andRussia, offering the factor of so-called 'plausible deniability'. This means that the Russian government does not have to suffer any public fallout in relation to troop losses or other political and military embarrassments relating to, for instance, serious human rights violations on foreign soil.
    The death of the owner and commander of the Wagner Group, Russian oligarch Yevgeny Prigozhin, on 23 August 2023, in a plane crash, following Prigozhin's rebellion against President Vladimir Putin, has raised some serious questions about the future of this infamous yet influential PMC. After all, as a Russian paramilitary institution, the Wagner Group has been one of Russia's most powerful foreign policy toolkits since its inception in 2014, as it played a significant role in the conflicts in Syria, Yemen, and Ukraine in the past decade. Since 2017, the Group also managed to expand its footprint - and that of Russia - in several African countries. On the African continent, the Wagner Group's strategy mostly coincided with direct military support and/or related security services to leaders in weak or fragile African states. Against this background, after spending almost a decade building the Group as a paramilitary group, the death of Yevgeny Prigozhin ignited speculation about the future of PMCs. With Prigozhin as the Group's charismatic leader no longer in command, many observers immediately posed pressing questions over the future of the activities of the Wagner Group and its future leadership. Some even wondered whether the Group would continue to operate as a single, coherent paramilitary group. The core question on which this article is based was therefore:
    What does the future hold for Wagner as a Russian PMC and foreign policy instrument, which is currently - in its revised capacity and rebranded form as the Africa Corps - still involved in various paramilitary operations in Africa?
    In view of the above, this article reviews the development of Wagner as a unique para-military entity. It focuses on four African countries where Wagner holds substantial influence: Libya, the Central African Republic, Sudan, andMali. The nature of the Wagner/Africa Corps' involvement in these four states differs, and the death of Prigozhin has had significant consequences and changes. An important finding of this study, however, is that the Russian political leadership will not allow any of the strategic advantages that Wagner/Africa Corps - particularly since 2017 - has offered Moscow to be undermined or lost.

    Keywords: Russia, proxy forces, Wagner Group, Africa Corps, private military companies, foreign policy instruments


     

     

    Inleiding

    Sedert die beëindiging van die Koue Oorlog teen die einde van die 1980's is regerings wêreldwyd aangespoor om hulle weermagte gedurende die daaropvolgende dekade gesamentlik met tot soveel as 6 miljoen personeel te verminder. Die algemene verwagting was dat die nuwe tydvak wêreldwye vrede sou bring. Gevolglik is 'n beduidende aantal soldate of veiligheids-funksionarisse met gespesialiseerde vaardighede vir alle praktiese doeleindes na die private sektor oorgedra. Voorts het die 1990's saamgeval met die opkoms van brose of mislukte state in streke soos Afrika suid van die Sahara en die Balkan - deels veroorsaak deur die ontstaan van magsvakuums na afloop van die Koue Oorlog. In sulke magsvakuums het daar dikwels 'n verhoogde vraag ontstaan na eksterne veiligheidsverskaffing, en dit is waar PMM'e en individue met gespesialiseerde vaardighede in die prentjie gekom het.

    Die laat negentigerjare het ook met veranderinge in die aard van oorlogvoering gepaard gegaan, soos veral meegebring deur hoëvlak- tegnologiese vooruitgang. Daarby was daar veral in die Westerse wêreld 'n groter sosio-ekonomiese aanvaarding van die aanwending van geprivatiseerde dienste in eksterne konflikte of situasies waar veiligheid verseker moes word. Dit alles het 'n gunstige omgewing geskep vir die betrokkenheid of toetrede van PMM'e wat dikwels na vore getree het as buitelandse beleidsinstrumente van 'n bepaalde aard vir regerings van groot en/of invloedryke state wat 'n belang gehad het by bepaalde eksterne konflikte of situasies waar veiligheidsuitdagings aan die orde van die dag was, maar waar die regerings nie gewillig was om met hulle weermagte regstreeks daarby betrokke te raak nie (Mumford 2013:42-43).

    'n PMM wat in die afgelope dekade internasionaal prominensie geniet het, is die Wagner-groep wat wêreldwyd bekend geraak het as 'n instrument van die Russiese staat met 'n betrokkenheid by konflikte in verskeie state waar konflik en/of magsvakuums ontstaan het. Wagner het wêreldwyd bekendheid verwerf as 'n PMM wat in 'n noue verband met die Russiese staat en sy weermag bestaan en funksioneer. Sedert die ontstaan daarvan in 2014 het Wagner betrokke geraak by die politieke dinamika van verskeie Afrikastate, en het dit die belange van president Vladimir Poetin en die Russiese staat in die betrokke Afrikastate bevorder (Lechner 2024). Dit het plaasgevind teen 'n agtergrond waar Moskou nie die politieke verantwoordelik-heid vir Russiese betrokkenheid wou dra nie, maar eerder verkies het om Wagner as 'n proksiemag te laat optree (Euronews 2022). Dit beteken dat die Russiese regering nie enige openbare aanspreeklikheid vir politieke gevolge in verband met die lewensverlies van soldate of ander mense, of militêre vernederings van enige aard, of ernstige menseregte-oortredings op buitelandse grondgebied hoef te aanvaar nie.

    Die dood van Wagner se voormalige eienaar en bevelvoerder, die Russiese oligarg Yevgeny Prigozhin, op 23 Augustus 2023 in 'n vliegtuigongeluk kort ná Prigozhin se opstand teen president Vladimir Poetin, het ernstige vrae oor die toekoms van hierdie prominente PMM tot gevolg gehad. Met ander woorde, nadat daar byna 'n dekade lank heelwat energie aan die ontwikkeling van Wagner as 'n paramilitêre groep bestee is, het die dood van Yevgeny Prigozhin spekulasie oor die toekoms van dié PMM aangewakker. Die rede vir die internasionale fokus op Wagner as 'n Russiese paramilitêre instelling was voor die hand liggend. Wagner het ontwikkel tot een van Rusland se invloedrykste buitelandse beleidsinstrumente sedert sy ontstaan in 2014, en het die afgelope dekade 'n beduidende rol gespeel het in die konflikte in Sirië, Jemen, en Oekraïne. Sedert 2017 het Wagner ook daarin geslaag om sy teenwoordigheid - en dié van Rusland - in verskeie Afrikastate uit te brei. Op die Afrika-kontinent stem Wagner se strategie meestal ooreen met regstreekse militêre ondersteuning en/of verwante veilig-heidsdienste aan leiers in swak of brose Afrikastate (Rampe, 2023).

    Met Prigozhin as Wagner se charismatiese leier nie langer aan die stuur nie, het baie waarnemers gewonder of Wagner steeds as 'n selfstandige paramilitêre groep sou bly voort-bestaan (Malobisky, 2023). Die kernvraag waarop hierdie artikel geskoei is, was gevolglik: wat hou die toekoms vir Wagner as 'n Russiese PMM en buitelandse beleidsinstrument in, aangesien dit tans in 'n hersiene rol optree en nou bekend is as "Afrika-korps", wat steeds met verskeie paramilitêre operasies in Afrika gemoeid is?

    In onlangse jare was Wagner se bestaan - onder die leiding van Prigozhin - altyd nou verweef met dié van die Russiese weermag en intelligensiegemeenskap, ofskoon daar 'n ruim mate van onafhanklike funksionering toegelaat is. Sommige waarnemers het selfs gemeen dat Wagner se onafhanklikheid tot opportunisme in sommige operasies gelei het (Firmian, 2025:787). In Mei 2023 is beraam dat sowat 5 000 lede van Wagner in Afrikastate oor die kontinent heen ontplooi was, waar hulle bedrywighede met veiligheidskwessies verband gehou het. Wagner het veral paramilitêre hulp aan swak en kwesbare regerings gebied - gewoonlik in ruil vir minerale hulpbronne, maar ook vir internasionale diplomatieke ondersteuning (Malobisky, 2023).

    Voordat daar in hierdie artikel dieper ingegaan word op die Wagner/Afrika-korps, is dit nodig om eers op die aard van die hedendaagse wêreldorde en die aanwending van proksiemagte as buitelandse beleidsinstrumente deur groot en/of invloedryke moondhede te fokus. Daarna word gefokus op magsvakuums en die operasies van die Wagner/Afrika-korps as 'n proksiemag. Vervolgens word die sentrale navorsingsvraag ondersoek: of die Wagner/Afrika-korps ná die dood van Prigozhin steeds 'n belangrike faktor in Afrika is.

    Wanneer navorsers proksiemagte soos Wagner bestudeer, steun hulle tipies op bronne soos amptelike verslae van internasionale organisasies, artikels van ondersoekende joernaliste oor aktuele verwikkelinge, en beleidontledings van akademiese en semi-akademiese instellings en in dinkskrums vir strategiese konteks. Akademiese werk in tydskrifte word veral gebruik om 'n teoretiese begronding aan die onderwerp van bestudering te gee, terwyl menseregte-verslae dikwels gebruik word om die impak van proksiemagte op die grond te beoordeel. Saam bied hierdie materiaal 'n multidimensionele begrip van proksiemagte se militêre, politieke en ekonomiese rolle in daardie state waar hulle groot of middelslag moondhede se buitelandse belange bevorder of mandate uitvoer. Dit is dan ook die materiaal wat in dié studie vir navorsingsdoeleindes aangewend is.

     

    Aanwending van proksiemagte as buitelandse beleidsinstrumente in die hedendaagse wêreldorde

    Proksie-konflikte of proksie-oorloë is 'n deurlopende aspek in die geskiedenis van oorlogvoering. Proksie-konflikte of -oorloë kan gedefinieer word as onregstreekse betrokkenheid by 'n konflik of oorlog deur derde partye wat die strategiese uitkoms daarvan kan of wil beïnvloed. Aan die hand van die geskiedenis kan aangevoer word dat die verskynsel van proksie-konflikte of -oorloë 'n belangrike element van moderne konflikte en oorlogvoering is en sal bly (Carragee, 2020).

    Dit is egter nie slegs groot en/of invloedryke moondhede wat die verskynsel van proksie-konflikte en -oorloë gevorm het of die kernelemente daarvan uitmaak nie. Dié moondhede is weliswaar die 'voordeeltrekkers', ofskoon nie noodwendig die entiteite wat regstreeks by die konflik of oorlog betrokke is nie, maar eerder die eksterne entiteite wat derde partye in die vorm van kleiner entiteite as proksies gebruik om bepaalde strategiese doelwitte na te jaag of te bereik. Nie-staatlike rolspelers, waaronder veral PMM'e en soms selfs terreurgroepe, maak dus ook belangrike elemente van proksie-konflikte en -oorloë uit. Hulle is diegene wat die operasies prakties uitvoer met eksterne befondsing, en dikwels ook met wapens, opleiding en opdragte wat deur 'n eksterne mag of moondheid - die eintlike "voordeeltrekker" - voorsien word. Die "teiken" is 'n nasie of regerende party wie se belange strydig is met dié van die voordeeltrekker en selfs die proksie (Carragee, 2020).

    Die gebruik van 'n ondergeskikte mag of derde party om politieke doelwitte in internasionale of streekverband te bereik, is, soos in die inleiding aangedui, lank reeds 'n verskynsel in konfliksituasies en oorloë. Vir die doel van hierdie artikel word proksiemagte gedefinieer as 'n georganiseerde groep of entiteit wat van buite ondersteun word en wat teen 'n regering of staat werk om 'n strategiese doelwit te bereik (Carragee, 2020).

    Daar was veral in die tydperk ná die Koue Oorlog 'n groter afhanklikheid van state van PMM'e of "koalisies van die faktureerders" soos dit treffend deur Christopher Coker (Mumford, 2013:42) beskryf is. Trouens, hierdie groter afhanklikheid word duidelik gekenmerk deur die hedendaagse veiligheidsbenadering van verskeie Westerse moondhede. PMM'e vervul nie net 'n kritieke funksie om risiko vir state wat hulle strategiese belange of ideologie wil beskerm of uitbou, te minimaliseer nie, maar bied ook die voordele van wat bestempel kan word as 'n vorm van goedkoop oorlogvoering. PMM'e het immers laer bedryfskoste as regstreekse militêre ontplooiings, en state hoef nie aftree- of pensioenvoordele aan private kontrakteurs te voorsien soos in die geval van weermagte nie (Mumford, 2013:42).

    Terwyl die verskynsel van PMM'e nie nuut is nie, sluit die noemenswaardigste gevalle sedert die einde van die Koue Oorlog 'n veelheid omstrede of bekende PMM'e in, waaronder Blackwater in Irak, Executive Outcomes in Angola en Sierra Leone, en natuurlik, die Wagner/ Afrika-korps. Duidelikheidshalwe moet genoem word dat die funksies van PMM'e uiteen-lopend is, en take wissel van die fisiese beskerming van infrastruktuur in buitelandse konflik-gebiede tot beskerming van politieke elites. Dan is daar natuurlik meer uitdagende militêre gevegstake en spesiale operasies. Dienste kan selfs spesialistake insluit, soos strategiese beplanning; die inwinning van intelligensie; verkenningstake op land, see en in die lug; bemande en onbemande vlugbedrywighede van verskeie tipes; verskillende soorte kennisoordrag in 'n militêre opleidingsverband; of materiële en tegniese ondersteuning aan tradisionele gewapende magte. Selfs satellietverkenningsdienste word soms aangebied (Council of the European Union, 2023). Dit maak PMM'e vir alle praktiese doeleindes korporatiewe entiteite wat vergoed word vir hulle gespesialiseerde dienste en die lewering van militêre en veiligheidsdienste. PMM'e werk dikwels ook met 'n verskeidenheid toerusting - van swaar gevegstoerusting tot ligte wapens. Dit kan wissel van aanvalshelikopters en tenks tot klein vuurwapens (Kinnes & Isaacs, 2023).

    Bostaande kom daarop neer dat, alhoewel daar duidelike ooreenkomste is, PMM'e hoegenaamd nie almal dieselfde is nie maar oor 'n breë spektrum werk en van wisselende aard is. In die geval van die Amerikaanse PMM, Blackwater, het die Amerikaanse Departement van Verdediging sedert die einde van die Koue Oorlog 'n groot aantal nie-gevegstake uitgekontrakteer. Dit kom prakties neer op 'n soort privatisering van militêre take. Blackwater het inderwaarheid 'n deurslaggewende werktuig geword in die gereedskapkis van die Amerikaanse weermag, veral in die globale oorlog teen terrorisme. Hierdie take het veral betrekking op logistieke ondersteuning wat ingevolge kontrakte met hulp aan die Amerikaanse weermag te make het sodat laasgenoemde op gevegsbedrywighede kan fokus (Kinnes & Isaacs, 2023).

    Wat voorts van belang is, is dat PMM'e die uitdagings wat met die moderne "Viëtnam-sindroom" vereenselwig word, omseil. Daar is geen repatriëringsverpligtinge ten opsigte van private militêre kontrakteurs wat in gevegte omkom nie, geen vlaggedrapeerde kiste in die openbaar ná sterftes nie, en min openbare kritiek op verliese. PMM'e neem al die politieke risiko oor wat state normaalweg loop wanneer hulle hulle eie weermagte met gevegstoerusting en soldate na buitelandse konflikte of oorloë ontplooi.

    Verder het PMM'e sélf inisiatief geneem om hulle professionalisering en veral verant-woordbaarheidsprotokolle te verhoog. So byvoorbeeld is Amerikaanse PMM'e nou onderhewig aan 'n kode vir militêre geregtigheid, die Uniform Code of Military Justice. Die grondslag daarvan is die militêre reg in die Verenigde State, terwyl Amerikaanse PMM'e ook moet voldoen aan die Departement van Buitelandse Sake (Department of State) se Worldwide Personnel Protective Services-kontrak. Dit verteenwoordig 'n duidelike poging deur PMM'e om hulle openbare profiele te verbeter nadat hulle tydens die oorloë in Afghanistan en Irak reputasies van roekeloosheid gekry het. Dit het veral betrekking op die bedenklike of berugte optredes van PMM'e soos die bekende Blackwater. Waar PMM'e nou gebonde is aan die nakoming van dieselfde regulasies wat die Amerikaanse weermag bind, het dit ook die weg gebaan vir die meer legitieme aanwending van PMM'e deur die Amerikaanse regering - veral in konflikte of oorloë waar die risiko's as te hoog geag word vir die Amerikaanse weermag om betrokke te wees (Mumford, 2013:42-43).

    Dit is egter nie slegs Westerse moondhede wat proksiemagte aanwend as derde partye in konflikte nie. Soos reeds genoem, het Wagner baie bekend geword - selfs berug - vir sy aktiwiteite as 'n rolspeler wat namens die Russiese regering in Afrikastate by militêre operasies betrokke is. Soos reeds aangedui, is dit ook nie slegs PMM'e wat belangrike niestaatlike akteurs in proksie-konflikte of -oorloë is nie. 'n Ander baie goeie voorbeeld in die huidige wêreldpolitiek van hoe proksies aangewend word, is die wyse waarop Iran proksies aanwend in die nastrewing van sy strategiese belange in die Midde-Ooste. Anders as in die geval van byvoorbeeld die Verenigde State is dié proksies nie PMM'e nie maar wel terreur- of terroriste-organisasies.

    Oor vele jare het Iran terreurgroepe strategies as proksies en buitelandse beleidsinstrumente aangewend om sy invloed oor die Midde-Ooste te laat geld en uit te bou. 'n Pertinente voorbeeld in dié verband is Iran se langdurige finansiële ondersteuning van Hezbollah in Libanon en sy steun aan militante groepe in Irak en Jemen. Hierdie groepe het oor vele jare gevestig geraak as entiteite wat diep ingewortel is in die streeksdinamika van konflikte in die Midde-Ooste as organisasies wat konflikte aanwakker en groot uitdagings vir die soeke na globale sekuriteit inhou.

    Meer spesifiek kan gewys word op die huidige konflikte in die Midde-Ooste waar groepe soos Hamas, Hezbollah en die Houthi's as proksies vir Iran optree. Daardeur is Iran by die konflikte in die Midde-Ooste betrokke - sonder om amptelik of regstreeks betrokke te wees (Hassenstab, 2024). Wat Jemen betref, is die onderstaande 'n treffende beskrywing van die mate waartoe proksies 'n belangrike element van hedendaagse internasionale woelings uitmaak:

    Today, a complex web of "proxy relationships" fuel Yemen's war - from the UAE's support of separatists in the south, to Saudi Arabia's support for Hadi's faltering ground forces, and Iran's covert assistance to the Houthis, who made recent gains in central Yemen as UN-brokered negotiations falter. These countries' loyalties and aims have shifted over time, depending on their evolving security and political interests (Krause & Parker, 2020).

    Teen die bostaande agtergrond is die vraag waarom Rusland van die Wagner /Afrika-korps as 'n proksie gebruik maak. Firmian (2015:786) argumenteer dat die Wagner/Afrika-korps veel meer of anders as 'n meer konvensionele PMM is. Die Wagner/Afrika-korps moet eerder beskou word as 'n kwasi-staatsagent met aansienlike invloed wat daarop ingestel is om die Kremlin se agenda in sy globale mededinging met die VSA en sy Westerse bondgenote te bevorder. In Afrika het die Wagner/Afrika-korps se opportunistiese operasies mettertyd ontwikkel tot wat neerkom op 'n breër staatskapingstrategie met politieke, militêre en ekonomiese dimensies. Wagner/Afrika-korps-gekoppelde netwerke het ontwikkel. Hulle funksioneer met die uitgangspunt dat die effektiefste manier om konflikgeteisterde state uit te buit, is om kwesbare leiers te betrek en te koopteer. Hierdie leiers staan gewoonlik simpatiek teenoor Poetin se wêreld-beskouing, wat gewortel is in sekulêre outoritarisme, baantjieskapitalisme en 'n buitelandse beleidsingesteldheid wat Amerikaanse belange en liberale demokrasie nie goedgesind is nie. Die Wagner/Afrika-korps bied aan hierdie leiers militêre en politieke steun in ruil vir invloed oor hul buitelandse en verdedigingsbeleid, asook oor saketransaksies wat Rusland tot voordeel strek, spesifiek met betrekking tot natuurlike hulpbronne en staatsbates.

    Teen die agtergrond van die bostaande bespreking sal dié artikel vervolgens in meer diepte fokus op die Russiese Wagner-groep/Afrika-korps; 'n groep wat op 'n deurlopende basis 'n belangrike rol namens die Russiese regering in Afrika speel en veral voorkom waar leemtes in veiligheid ontstaan of bestaan.

     

    Die moderne staatsbestel en die operasies van die Wagner-groep/Afrika-korps as 'n proksiemag in Afrika

    Soos bo aangevoer, het die gebruik van PMM'e in onlangse dekades toegeneem, met 'n groeiende aantal regerings en selfs nie-staatlike rolspelers wat op hierdie maatskappye staatmaak om 'n verskeidenheid militêre operasies of take uit te voer. In dié verband het PMM'e toenemend 'n belangrike kenmerk van eksterne betrokkenheid by hedendaagse konflikte en oorloë oor die wêreld heen geword. Die vraag is: hoe raak dit begrippe soos "die moderne staat" wat veronderstel is om 'n kernelement van die internasionale gemeenskap te wees?

    Akademiese literatuur in Internasionale Verhoudinge as vakgebied, soos dit verband hou met proksiemagte, steun baie sterk op die prinsipaal-agent-teorie (PAT) omdat dit gefokus is op die motiverings van state, normaalweg groot en middelslag moondhede wat as hoofakteurs in konflikte betrokke is. Die PAT in proksieoorloë of -konflikte het derhalwe betrekking op 'n verhouding waarin hoofakteurs take aan volmagakteurs (agente) delegeer om bepaalde take in die teikenarea of -land namens die hoofakteur uit te voer. Hierdie teoretiese benadering het daartoe gelei dat die literatuur grootliks op die rolle van hoofakteurs en hul manipulasiekrag fokus. Byvoorbeeld, tydens die Koue Oorlog is state in die internasionale stelsel, soos die VSA en die Sowjetunie, as die belangrikste hoofakteurs in volmagoorloë of -konflike beskou en bestudeer. Hierdie benadering behels eenvoudig dat mededingende moondhede die volmagverhoudings dryf waarin magtige en invloedryke akteurs meestal nie-staatlike akteurs gebruik om 'n konflik te beïnvloed en/of hul mededingers uit te daag (Farasoo, 2021:1837).

    In hierdie artikel word proksiemagte egter vanuit 'n ander hoek beskou en bestudeer. Volgens Max Weber se veelbesproke definisie is die moderne staat 'n menslike gemeenskap wat die monopolie van die wettige gebruik van fisieke mag binne 'n gegewe gebied (suksesvol) uitoefen (Faulkner, 2023). In hierdie verband bevraagteken die opkoms en verspreiding van PMM'e of huursoldate van die moderne tipe as't ware hierdie monopolie. Daar kan selfs aangevoer word PMM'e in sommige gevalle die grondslae van die moderne staat bedreig wanneer regerings die kapasiteit om veiligheid aan hulle burgers te verskaf of oorlog te voer, uitkontrakteer - alles sleutelelemente van staatskap en soewereiniteit. Wagner, byvoorbeeld, het bekend geraak as 'n PMM wat paramilitêre hulp aan swak regerings bied.

    Die feit dat PMM'e toenemend belangrike rolspelers in konflikdinamika wêreldwyd geword het, is inderdaad dus van groot betekenis vir sover dit veranderinge in die hedendaagse internasionale politiek teweeg gebring het in vergelyking met vorige eeue toe 'n hoogs staatgesentreerde wêreld aan die orde was. Dit beteken 'n afwyking van die diepgewortelde idee dat die staat eerstens en bo alles verantwoordelikheid (moet) aanvaar vir die veiligheid van sy burgers. Teen hierdie agtergrond het akademici en navorsers begin aanvoer dat die breë opvatting van nasionale soewereiniteit, soos dit in die nasleep van die Vrede van Wesfale in 1648 uitgekristalliseer het, wat belangrikheid betref, begin afneem het, en as sodanig het dit 'n beduidende invloed op die staatgesentreerde stelsel en die tradisionele bestuur van die monopolie van mag in die hedendaagse internasionale politiek gehad. Dit kom wesenlik daarop neer dat hoe swakker 'n staat en sy instellings is, hoe minder beskik dit oor die nodige vermoë om geweld binne sy grondgebied te bestuur of te beheer (Koren & Sarbahi, 2018). In hierdie verband kan daar aangevoer word dat die bestaan en rolle van PMM'e - as alternatief of parallel tot, of bykomend tot gereelde magte - nie net die oorsaak is van brose of veranderde staatskap regoor die wêreld nie, maar ook 'n simbool daarvan geword het.

    'n Baie pertinente onlangse voorbeeld van hoe die Wagner/Afrika-korps 'n magsvakuum vul waar gebrekkige regering tot 'n magsvakuum aanleiding gegee het, is die geval van Mali in Wes-Afrika. Spearin (2024:485) wys daarop dat die Wagner/Afrika-korps regstreeks verband hou met 'n langdurige minimale regeringsteenwoordigheid in die sentrale en noorde-like dele van die land wat gevolg het op die onttrekking van Franse magte en VN-vredesmagte - iets waarvoor sowel die regering in Bamako as die Wagner/Afrika-korps hulle beywer het. Na beraming was die regering in 2023 in beheer van ongeveer 22 persent van Mali se sentrale en noordelike dele, terwyl die regering landwyd slegs ongeveer 60 persent van die land onder sy beheer gehad het. Dit het die weg gebaan vir die djihadistiese groep, Islamitiese staat in die Sahel, kortweg IS Sahel, om tot soveel as 50 000 vierkante kilometer onder sy beheer te kry, waarna die Wagner/Afrika-korps die groen lig by die regering gekry het om teen IS Sahel op te tree.

    PMM'e funksioneer buite die militêre strukture van konvensionele militêre magte; daarom dra hierdie rolspelers voorts by tot 'n vervaging van grense ten aansien van tradisionele militêre operasies wat dikwels uitdagende implikasies inhou vir globale veiligheidsbestuur. Hierbenewens moet genoem word dat PMM'e dikwels gekoppel word aan menseregteskendings, oorlogsmisdade, dade van terreur asook ander onwettige aktiwiteite tydens hulle operasionele bedrywighede. In sommige gevalle is die aktiwiteite van PMM'e ook gekoppel aan die ontworteling van mense en die vernietiging van eiendom, veral dié wat in Afrikastate aktief is. So, byvoorbeeld, was daar ernstige aantygings van menseregteskendings teen Wagner deur organisasies soos Human Rights Watch. 'n Pertinente geval is dié van Mali, waar Wagner-operateurs betrokke was by die gevegte teen vyande van die staat en opgemerk is waar hulle 'n massagraf gegrawe het (Kinnes & Isaacs, 2023).

    Wagner het veral opnuut onder die aandag van die internasionale gemeenskap gekom met die lewensverlies van sy leier, Yevgeny Prigozhin, en dit het die rol van PMM'e wêreldwyd opnuut onder die soeklig geplaas. Wat Wagner van spesiale belang maak, is die feit dat huur-soldaatmagte tegnies onwettig is in Rusland. Dit is ook interessant dat, ondanks sy ontstaan in 2014, Wagner eers in 2022 as 'n PMM geregistreer is. Prigozhin, Wagner se voormalige eienaar en bevelvoerder, was 'n ryk sakeman en veroordeelde misdadiger wat ook in die media bekend gestaan het as 'Poetin se sjef', vanweë die restaurante wat hy besit het en die dienste wat hy vroeër as sjef aan die Kremlin gelewer het. 'n Ander belangrike punt is dat die meeste van Wagner se operateurs oorspronklik lede van Rusland se spesiale magte en ander elite-eenhede was. Prigozhin het egter later die net vir aansluiting by Wagner wyer gespan, en in 2022 het hy vegters vir Wagner uit Russiese tronke gewerf om in Oekraïne te gaan veg, met ander woorde, aanvaarding van diens as private militêre operateurs in ruil vir vrylating. In Junie 2023 het hy beweer dat Wagner 25 000 vegters tot sy beskikking gehad het, teenoor die 5 000 kort na sy ontstaan (Kinnes & Isaacs, 2023).

    'n Laaste punt wat hier van belang is, is dat die regstatus van PMM'e in die internasionale gemeenskap gekompliseerd is en dat baie PMM'e se aktiwiteite in 'n grys area val omdat hulle buitelandse paramilitêre operasies van verskeie soorte uitvoer. PMM'e word nie uitdruklik deur die internasionale reg verbied nie en word inderwaarheid deur Internasionale Humanitêre Reg gereguleer, ofskoon dit van geval tot geval mag verskil en berus op die aard van hulle spesifieke betrokkenheid by konflikte (Bodurtha, 2022). Wagner is in die verlede egter verbind met ernstige oortredings van Internasionale Humanitêre Reg, waaronder beskuldigings van die internasionale menseregteorganisasie Human Rights Watch dat die PMM landmyne en foplokvalle in Libië in hulle operasies gebruik het in 'n aanval op die Libiese hoofstad, Tripoli (Human Rights Watch, 2022). Hierdie en ander sake sal in die fokus op die Wagner/Afrika-korps se betrokkenheid in spesifieke Afrikastate hieronder verdere aandag geniet.

     

    Is die Wagner/Afrika-korps steeds 'n belangrike faktor in Afrika ná die dood van Prigozhin?

    Sedert die dood van die charismatiese Prigozhin het menige waarnemers vrae in die media gevra oor die toekoms van Wagner se operasionele aktiwiteite en sy toekomstige leierskap. Sommige het selfs gewonder of Wagner sou voortgaan om as 'n enkele, gekonsolideerde paramilitêre groep te bly funksioneer (Malobisky, 2023).

    In Westerse veiligheidskringe het Joana de Deus Pereira, 'n senior genoot by die Royal United Services Institute in Londen, ná Prigozhin se dood voorspel dat verwikkelinge waar-skynlik tot 'n reorganisasie van die groep sou lei. De Deus Pereira was egter ook van mening dat Wagner se operasies na alle waarskynlikheid op min of meer dieselfde wyse voortgesit sou word as onder Prigozhin se leierskap. Ruslan Trad, 'n veiligheidsontleder verbonde aan die Atlantic Council, het voorspel dat Prigozhin se dood sou lei tot die aanstelling van iemand met noue bande met die Russiese buitelandse militêre intelligensie-agentskap van die Algemene Personeel van die Gewapende Magte van die Russiese Federasie, wat steeds algemeen bekend staan onder sy vorige afkorting, die GRU. Teen die einde van 2023 was een van die groot uitdagings uit 'n Russiese oogpunt die noodsaak om iemand uit president Vladimir Poetin se kringe te kry wat Wagner se operasies kon lei, maar sonder om 'n veiligheidsrisiko vir die Russiese regering in te hou - in teenstelling met Prigozhin wat gevaarlike ambisies gekoester het. In daardie stadium was generaal Andrey Averyanov van die GRU klaarblyklik een van die voorste kandidate (Murphy, 2023). Vroeg in Februarie 2024 het dit uit mediaberigte geblyk dat 'n senior Wagner-lid, Anton Yelizarov, aangestel is as die nuwe veldkommandeur (Syngaivska, 2024) terwyl die algehele bevel oor Wagner se buitelandse operasies aan die GRU toevertrou is, met generaal Andrei Averyanov aan die hoof (Cordall, 2024).

    Wat Afrika betref, dui verslae steeds daarop dat Russiese betrokkenheid by Afrikastate hoofsaaklik teen die agtergrond van bilaterale veiligheidsooreenkomste voortbestaan, met inbegrip van opleiding en wapentoevoer. Vroeg in Junie 2024 het die Russiese Minister van Buitelandse Sake, Sergey Lavrov, verskeie Afrikastate besoek tydens sy sesde amptelike besoek aan Afrika sedert 2022, naamlik Guinee, die Republiek van die Kongo, en Burkina Faso. Dit is opgevolg met besoeke deur die Russiese Adjunkminister van Verdediging, Yunus-Bek Yevkurov, aan Libië en Niger. Daar is voorts berig dat Yevkurov oorhoofse politieke verantwoordelikheid sou aanvaar vir Wagner wat voortaan bekend sou staan as die Afrika-korps ná 'n oënskynlike reorganisasie en herbenaming van Wagner.2 Ten tyde van hierdie skrywe dui alle aanduidings daarop dat die nuwe politieke bestuur en 'n herorganiseerde Afrika-korps Moskou se strategiese doelwitte meer effektief probeer nastreef as tevore. Dit val ook saam met formele ekonomiese en veiligheidsamewerking tussen rolspelers uit Rusland en Afrika. Terselfdertyd is die doel om toekomstige operasies so uit te voer dat die politieke invloed van Westerse magte in Afrika beperk of teengewerk word deur die totstandkoming van alternatiewe veiligheidsgebaseerde samewerkingsooreenkomste, soos Wagner dit in die verlede gedoen het (Reva, 2024).

    Daar bestaan geen twyfel nie dat Wagner in onlangse jare 'n sleutelspeler geword het in die uitvoering van Moskou se buitelandse beleid op verskeie plekke regoor die wêreld waar Rusland op die een of ander wyse betrokke is. Ten tye van Prigozhin se omstrede rebellie in Junie 2023 - wat die grootste bedreiging vir president Poetin se mag in sy 23-jaar-termyn as die Russiese leier ingehou het - en die daaropvolgende dood van die Wagner-leier twee maande later, het Wagner 'n belangrike rol gespeel in die Russiese oorlogsaktiwiteite in Oekraïne. Die groep het ook gehelp om militêre ondersteuning aan Poetin se bondgenote in Sirië en verskeie Afrikastate te verleen. Trouens, die Wagner/Afrika-korps het so verweefd geraak met die veiligheidsinstellings van verskeie Afrikastate dat dit inderwaarheid in bepaalde state kwalik daarvan onderskei kan word. Moskou het ná Prigozhin se dood waarskynlik ook besef dat enige groot verandering aan die status quo onvermydelik tot 'n verswakking van Moskou se strategiese belange in Afrika sou lei.

    Sedert Prigozhin se dood het verskeie waarnemers aangevoer dat die leierskap van die Wagner/Afrika-korps nie sou toelaat dat dié invloedryke PMM as 'n soort Russiese privaat skaduleër skade aangedoen word nie. Dit kom ook daarop neer dat aspekte van Wagner se buitelandse optrede steeds buite die raamwerk van die internasionale regsorde sou val. Verder sou die reorganiseerde Wagner/Afrika-korps steeds vir Moskou 'n nuttige instrument in operasies bly tydens hibriede oorloë waar dit vir Rusland belangrik is om sy buitelandse invloed te behou of uit te bou (Murphy, 2023). Federica Saini Fasanotti, 'n nieresidensiële senior genoot in buitelandse beleid aan die Strobe Talbott-sentrum vir Veiligheid, Strategie, en Tegnologie in die Verenigde State, het hierbenewens aangevoer dat Rusland na alle waarskynlikheid sy pogings om met die Verenigde State om invloed in Afrika mee te ding, sou voortsit en selfs pogings sou verskerp om Amerikaanse beleidsdoelwitte teen te werk. Die algemene verwagting ná Prigozhin se dood was dus dat die Wagner/Afrika-korps sou voortgaan met sy rol om, as 'n proksie en buitelandse beleidsinstrument, 'n belangrike rol in Moskou se Afrika-strategie te speel (Fasanotti, 2022).

    Joseph Siegle (2021:81) som Russiese belange en buitelandse betrekkinge met Afrika korrek en treffend soos volg op:

    Africa, with its weak governments, abundant natural resources, colonial legacies, proximity to Europe, and fifty-four votes at the United Nations (UN) General Assembly, provides Russia an easy and attractive theatre where it can advance its interests with limited financial or political costs.

    As daar gekyk word na die Wagner/Afrika-korps se rol en operasies in Afrika in die afgelope jare, is veral vier Afrikastate, naamlik Libië, die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR), Soedan, en Mali, van groot belang. Met verwysing na hierdie lande kan belangrike afleidings gemaak word oor die rigting wat Moskou ingeslaan het wat betref die toekoms van die Wagner/Afrika-korps, in die besonder op die Afrika-kontinent. Dit word vervolgens onder die loep geneem.

    Libië

    Libië is van groot belang in Afrika danksy sy geostrategiese ligging aan die Middellandseseekus. Libië bied die Wagner/Afrika-korps - en by implikasie aan Rusland - toegang tot hawens in die Middellandse See, terwyl Rusland andersins slegs toegang tot een hawe in hierdie streek sou gehad het, naamlik die Siriese basis by Tartus (Fasanotti, 2022). Dit beteken dat die Russiese regering die Wagner/Afrika-korps in Libië as 'n buitelandse beleidsinstrument gebruik om sekere strategiese doelwitte rakende sy geostrategiese posisionering in Noord-Afrika na te streef. Vanselfsprekend is die feit dat Libië een van Afrika se grootste olieprodusente is ook 'n belangrike dryfveer vir Russiese betrokkenheid daar (Uniack, 2022). Volgens onlangse ramings het Wagner in 2019 sowat 800 kontrakteurs in Libië ontplooi. Die PMM beheer drie lugmagbasisse - een in die oliebekken van Sirte, een in Al-Jufra in die binneland, en een in Brak al-Shati - gebiede onder beheer van die Wagner/Afrika-korps se groot Libiese bondgenoot, generaal Khalifa Haftar, wat die Libiese Nasionale Weermag aanvoer. Laasgenoemde is in werklikheid 'n opponerende regeringsmag in Libië - 'n land wat steeds diep verdeeld is en deur twee mededingende regerings bestuur word: een in die westelike dele wat vanuit Tripoli gesag voer, en die ander in die oostelike dele wat vanuit Tobruk optree. Met die Wagner/ Afrika-korps se ondersteuning beheer Haftar die magsbasis in die oostelike dele van die land, en dit posisioneer die PMM om goedere tussen bondgenote in Soedan en ander liggings suid van die Sahara te vervoer (BBC, 2019). Volgens Tarek Megerisi, 'n senior genoot by die Europese Raad oor Buitelandse Betrekkinge, is dit die rede waarom Haftar die Wagner/Afrika-korps vir sy oorlewing benodig (Cordall, 2024). Libië is verder van strategiese belang omdat die Wagner/Afrika-korps se doelwitte in hierdie land verder strek as net toegang tot olie-inkomste. Deur die ondersteuning wat die PMM aan Haftar en sy gewapende magte bied, is die Wagner/Afrika-korps in 'n posisie om toegang tot die breër Afrika-kontinent te verkry. In die woorde van Tim Eaton, senior navorsingsgenoot by die Londense dinkskrum Chatham House: "In that sense, Libya has been functioning as a bridgehead" (soos aangehaal deur Holleis & Katamadze, 2024). Wat die Wagner/Afrika-korps se voetspoor in Libië betref, kan daar in die lig van bogenoemde aangevoer word dat Poetin sal voortgaan om die Wagner/ Afrika-korps se rol in Libië te handhaaf - en selfs uit te bou - en nie enige verswakking daarvan sal toelaat nie.

    Sentraal-Afrikaanse Republiek

    In die SAR het die Wagner-groep die swak regering van president Faustin-Archange Tousdéra sedert 2018 gesteun. Touadéra se mag en politieke invloed het nooit veel verder as die hoofstad, Bangui, gestrek nie. Verskeie rebellegroepe wat 'n bedreiging vir die regering ingehou het, is sedert 2018 in die land aktief (Fasanotti, 2022). Die Russiese teenwoordigheid in die vorm van die Wagner/Afrika-korps moet derhalwe verstaan word deur die lens van regerings-onsekerheid en potensiële politieke onstabiliteit. Dit is hoe die deur vir Wagner as 'n PMM oopgegaan het om by die SAR betrokke te raak, blykbaar gemotiveer deur die vooruitsig om goud- en diamantmynregte te verkry, maar ook deur die nastrewing van Russiese globale strategiese doelwitte (Faulkner, 2022:32). Daar kan verwag word dat die Wagner/Afrika-korps twee soorte operasies in die SAR sal voortsit: eerstens, om die SAR-regering teen bedreigings van rebellegroepe te ondersteun; en tweedens, om as 'n veiligheidrolspeler vir die kwesbare regime in die SAR op te tree, met inbegrip van die verlening van persoonlike beskerming aan President Touadéra (Rampe, 2023). Intussen het die Verenigde State besluit om twee ondernemings in die SAR - wat volgens die Amerikaanse Tesourie aan die Russiese Wagner/ Afrika-korps-groep verbind is en deur ontleders beskou word as 'n poging om Rusland se destabiliserende aktiwiteite in Afrika teë te werk - te sanksioneer (Aljazeera News/Politics, 2024). Oor die algemeen is dit onduidelik of Westerse state in 'n politieke posisie is om dieselfde mate van veiligheidsbeskerming as die Wagner/Afrika-korps aan die SAR-regering te kan bied, en of die Sentraal-Afrikaanse politici en regeringsamptenare bereid sal wees om die rebellegroepe sonder die Wagner/Afrika-korps se ondersteuning aan te durf. In Mei 2024 het die Wagner/Afrika-korps 'n sleutelrol gespeel in die ondersteuning van die SAR-weermag om gebiede wat deur rebelle beset is, in streke wat aan die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Suid-Soedan, en die suidoostelike dele van die SAR grens, terug te wen (Châtelot, 2024). Frankryk, wat sy veiligheidsaanwesigheid in sy voormalige kolonies afgeskaal het te midde van toenemende vyandigheid oor volgehoue Franse invloed, het dit ook duidelik gemaak dat sy teenwoordigheid in die SAR nie uitgebrei sal word nie (Peltier, 2023).

    Dit is laastens belangrik om te meld dat die oorskakeling van Wagner na die Afrika-korps in die SAR nie sonder knelpunte verloop nie. Daar is in Augustus 2025 berig dat die Russiese regering die regering van die SAR formeel versoek het om dit wat as Wagner in die SAR gefunksioneer het, te vervang met die nuut saamgestelde Afrika-korps. Met die skrywe hiervan was die regering van die SAR egter teensinnig omdat daar gemeen is dat Wagner, soos dit in die verlede in die SAR gefunksioneer het, baie effektief kon optree omdat die PMM altyd 'n ruim mate van onafhanklikheid geniet het en met minerale vergoed is. Die hergestruktureerde Wagner/Afrika-korps, wat onder regstreekse beheer van die Russiese ministerie van Verdediging gebring is, sal voortaan vir sy dienste om beskerming aan President Faustin Archange Touadéra en sy regering te verleen, in kontant betaal moet word en dit sal baie hoë finansiële uitgawes meebring (Karr en Tyson, 2025; Koena en Banchereau, 2025).

    Soedan

    Soedan is tans een van Afrika se onstabielste state sedert die uitbreek van konflik tussen twee magsentra in April 2023, naamlik die Soedannese Weermag en die paramilitêre Rapid Support Forces (RSF). Hierdie konflik het reeds honderde sterftes tot gevolg gehad asook die ontworteling van miljoene Soedannese, met 'n komplekse wisselwerking van binnelandse, streeks- en globale rolspelers (UNHCR, 2024). Die gewelddadige konflik het sy oorsprong in 'n bloedige magstryd wat ontstaan het tussen generaal Abdel-Fattah al-Burhan, die destydse weermaghoof en huidige de facto-leier van Soedan, en sy gewese adjunk, Mohamed Hamdan Dagalo, beter bekend as Hemedti. Laasgenoemde is tans die RSF-leier. Dié magstryd tussen hulle het posgevat sedert die afsetting van die voormalige Soedannese president Omar al-Bashir in 2019. Verskeie eksterne rolspelers is ook deel van die politieke dinamika, met inbegrip van Egipte, die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Saoedi-Arabië, en Israel, elkeen met hul eie agendas en belange. Die Wagner/Afrika-korps speel ook 'n rol deur die RSF in Soedan te ondersteun met veral die voorsiening van missiele en ander wapentuig in hulle stryd teen die Soedannese weermag (Elbagir, Mezzofiore, Qiblawi & Arvanitidis, 2023). Russiese wapen-verkope is derhalwe 'n rede vir Moskou se betrokkenheid in die konflik terwyl die Wagner/ Afrika-korps se ontplooiing nou verweef is met mynbouaktiwiteite - hoofsaaklik goud - in Afrika se derde grootste goudprodusent (Faulkner, 2023). Wagner se betrokkenheid in Soedan strek inderwaarheid terug tot in 2017 ná 'n uitnodiging van die destydse president, Omar al-Bashir, wat gelei het tot 'n ontmoeting tussen Bashir en president Poetin in Moskou. Na afloop van die besoek het Wagner die maatskappy Meroe Gold in Soedan gevestig, 'n Prigozhin-beheerde maatskappy, om sy mynboubedrywighede in die land te bestuur. Wagner het ook 'n sterk verhouding met Hemedti en sy RSF opgebou. Russiese goudverwerkingsaanlegte word na bewering deur RSF-paramilitêre magte wat saam met Wagner-lede vir veiligheidsaspekte verantwoordelikheid geneem het, bewaak (Obaji, 2023). Interessant genoeg, terwyl Wagner bande met die RSF gesmee het, het die Soedannese regering Rusland toegang tot sy Rooisee-kus gegee vir die oprigting van 'n Russiese vlootbasis in ruil vir wapens vir die Soedannese weermag (ADF Staff, 2024). Met die skrywe hiervan is die situasie in Soedan vloeibaar. Hoewel die Wagner/Afrika-korps 'n lang en sterk verhouding met Hemedti en sy RSF opgebou het en daar goud van die gesamentlike beheerde myne in westelike Soedan na die VAE uitgevoer is, het Moskou sedert 2024 toenemend steun verleen aan die Soedannese Oorgangsregering onder leiding van generaal Abdel Fattah al-Burhan, wat inderwaarheid die de facto-leier van Soedan geword het. Al-Burhan ontvang ook militêre steun van Egipte as 'n ou bondgenoot van Soedan, asook van Iran (Africa Defense Forum, 2024). Wat dit betref, kan verwag word dat Moskou toenemend sal toesien dat die Wagner/Afrika-korps se betrokkenheid in Soedan nie 'n belangebotsing vir Rusland in Soedan veroorsaak nie maar presies hoe is met die skrywe hiervan nog nie duidelik nie. Wat wel met stelligheid gesê kan word, is dat daar blyke is dat die Wagner/Afrika-korps se steun aan die RSF besig is om te taan, terwyl Russiese steun aan die Soedanese weermag, wat die kuslyn en Khartoem beheer, toeneem (Karr en Tyson, 2025).

    Mali

    Die Wagner/Afrika-korps se betrokkenheid in Mali moet gesien word teen die agtergrond van Moskou se belange en toenemende betrokkenheid in die Sahel-streek wat in onlangse jare plaasgevind het ten koste van Frankryk se jarelange betrokkenheid en invloed in die streek (Reva, 2024). Uit 'n Westerse oogpunt is die Wagner/Afrika-korps se betrokkenheid in Mali 'n kommerwekkende aangeleentheid. Sterk Islamitiese militante groepe wat met Al-Kaïda en die Islamitiese Staat verbind word, hou 'n voortdurende en beduidende veiligheidsbedreiging in waar 'n swak regering met weinig militêre spierkrag sedert 'n militêre staatsgreep in Augustus 2020 die bewind voer (Fasanotti, 2022). In Mali het regeringsonsekerheid en 'n magsvakuum dus die deur oopgemaak vir Moskou en Wagner se daaropvolgende betrokkenheid by die konflikdinamika, wat, soos in die geval van Libië, gedryf word deur Russiese geopolitieke wedywering met Westerse moondhede - wat in hierdie geval spesifiek daarop gemik is om die Franse invloed in Wes-Afrika uit te daag. Sedert Wagner se toetrede tot Mali het hulle saam met Malinese gewapende magte teeninsurgensie-operasies in die sentrale en noordelike dele van Mali uitgevoer (Human Rights Watch, 2024). Wagner het ook Malinese soldate opgelei en aan regeringsamptenare beskerming gebied. Daardeur het Wagner toegang verkry tot uraan-, diamant- en goudmyne as klaarblyklike beloning vir hulle pogings van hulpverlening. Teen laat Desember 2022, ná kritiek op die Russiese betrokkenheid van sowel Westerse as binnelandse rolspelers, het die Bamako-regering Wagner se teenwoordigheid ontken (Fasanotti, 2022). Tog is daar min twyfel dat die Wagner/Afrika-korps aktief geraak het en steeds aktief is om regeringsmagte in sentrale en noordelike Mali te ondersteun in operasies en hommel-tuigaanvalle op vermeende vyande van die staat (Donati, 2024). Hierdie aktiwiteite en operasies wat deur die Wagner/Afrika-korps in Mali uitgevoer word, het egter met groot internasionale kontroversie gepaard gegaan en bly steeds 'n saak van groot omstredenheid. Die rede is dat talle burgerlikes, met inbegrip van kinders, hulle lewens tydens operasies wat teen die insurgente gevoer is, verloor het (Donati, 2024). Daar word beweer dat operateurs van die Wagner/ Afrika-korps buitengewoon gewelddadig teenoor die burgerlike bevolking opgetree het, selfs meer as die Malinese weermag. Ná die dood van Prigozhin is die Wagner/Afrika-korps se teenwoordigheid in die land in Februarie 2024 verminder tot ongeveer 1 000 operateurs, hoofsaaklik as gevolg van die Wagner/Afrika-korps se probleme om personeel te behou en te vervang. Baie lede van die Wagner/Afrika-korps het die PMM verlaat ná Prigozhin se dood. Dit het ook saamgeval met Moskou se aanvanklike skynbare gebrek aan belangstelling om Wagner verder uit te bou en weer te laat groei. Sedert Wagner onder die bevel en beheer van die Russiese Ministerie van Verdediging geplaas is, het die Wagner/Afrika-korps in Mali egter weer kop opgetel en sy veiligheidsoperasies voortgesit (Giustozz, 2024), ofskoon die PMM in Julie 2024 aansienlike lewensverlies gelei het in gevegte met Tuareg-rebelle en djihadistiese groepe in die verre noordelike dele van Mali (Thurston, 2024).

    In Junie 2025 het die Wagner/Afrika-korps aangekondig dat die PMM uit Mali sou onttrek. Daar is aangevoer dat die Wagner/Afrika-korps sy missie voltooi het ná drie en 'n half jaar van operasies in die Wes-Afrikaanse land. Maar terwyl die Wagner/Afrika-korps nie verdere operasies in Mali sou uitvoer nie, is daar ook aangekondig dat veiligheidsadviseurs van die Wagner/Afrika-korps 'n blywende teenwoordigheid van Russiese magte in Mali sou verseker (Vorobyov, 2025). Dit beteken dus dat Moskou nie sy greep en invloed op die politieke situasie wil laat vaar nie, ofskoon geen verdere militêre operasies daar uitgevoer sal word nie.

    Daar moet in die finale instansie ook gemeld word dat, afgesien van die poging om in Mali 'n staatsgreep uit te voer, daar in onlangse tye ook in Niger en Burkina Faso militêre staatsgrepe plaasgevind het, en dat dié drie lande gesamentlik besluit het om hulle aan die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikaanse State (ECOWAS) te onttrek. Gevolglik is besluit op die alternatiewe totstandbrenging van hulle eie Alliansie van Sahel-state. In al hierdie gevalle het die Wagner/Afrika-korps die nuwe regimes gehelp deur middel van disinformasie-veldtogte in ruil vir hulpbronkonsessies en internasionale diplomatieke ondersteuning aan Moskou (Inwood & Tacchi, 2024).

     

    Gevolgtrekking en slotgedagtes

    Hierdie artikel het afgeskop met 'n verduideliking dat proksiemagte 'n deurlopende element in die geskiedenis van konflik en oorlogvoering bly. Dit gaan wesenlik oor "goedkoop oorlogvoering" wat deur die eeue heen 'n aantreklike strategiese opsie vir state was en steeds bly. Afgesien van laer koste is die laer politieke risiko wat dit in moderne tye vir groot en/of invloedryke moondhede bied ook 'n belangrike faktor. Wat hier van kernbelang is, is die betrokkenheid van groot en/of invloedryke moondhede wat deur derde partye werk om hulle strategiese belange te bevorder, by konflikte of oorloë. In Afrika vind dit veral plaas waar swak state bestaan wat veiligheidsgewys nie sonder buitelandse hulp kan oorleef nie. Teen hierdie agtergrond het daar veral sedert die einde van die Koue Oorlog talle omstrede of bekende PMM'e na vore getree in die internasionale politiek, waaronder byvoorbeeld die Amerikaanse Blackwater in Irak, die Suid-Afrikaans-gebaseerde Executive Outcomes in Angola en Sierra Leone en, natuurlik, die Russiese Wagner/Afrika-korps wat dan ook die fokus van hierdie artikel was.

    Faulkner (2023) beweer dat die Wagner/Afrika-korps se aktiwiteite en operasies in Afrika op baie maniere uniek is. Dit hou eerstens verband met die verwantskap tussen die PMM en die Russiese staat, en tweedens met die gebruik van die Wagner/Afrika-korps as 'n proksie- en buitelandse beleidsinstrument van Moskou in bepaalde state op die Afrika-kontinent waar Russiese strategiese belange ter sake is.

    Uit die bostaande is dit duidelik dat Prigozhin in die dekade voor sy dood bande gesmee het met die politieke leierskap van verskeie lande soos Mali, Soedan, Libië, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, en ander. Hy het huursoldate en operateurs van Wagner gestuur om te help met die onderdrukking van rebellies of om persoonlike sekuriteit aan leiers te bied - en sodoende politieke en verwante veiligheidsvakuums te vul. In ruil vir sekuriteitsdienste het Wagner toegang verkry tot winsgewende mynbou- en infrastruktuurprojekte, asook politieke invloed uitgeoefen, of bloot politieke vastrapplek vir Rusland verseker.

    Dit is verder duidelik dat, alhoewel Prigozhin se dood 'n diepgaande invloed op die Wagner/Afrika-korps se aktiwiteite in Afrika gehad het, dit nie enige noemenswaardige of beduidende verandering in die PMM se basiese sakemodel en verwante operasies tot gevolg gehad het nie. Die Wagner/Afrika-korps het unieke operasies en doelwitte in elke staat waar dit 'n teenwoordigheid het, hoewel die PMM nou in sy hersiene vorm onder groter beheer van Moskou staan as tevore. Tog word daar steeds van dié PMM verwag om 'n pragmatiese of eiesoortige benadering te volg in sy operasies in die onderskeie Afrikastate na gelang van omstandighede.

    Dit is ook duidelik dat Moskou 'n spesifieke belang het by die sukses van 'n herstruktureerde Wagner/Afrika-korps. As 'n PMM funksioneer die Wagner/Afrika-korps inderwaarheid nou nog meer as tevore as 'n verlengstuk van die Russiese staat in Afrika. Dit funksioneer as 'n soort tak van die Kremlin wat Moskou in staat stel om politieke en verwante militêre invloed op 'n weliswaar nie-amptelike of informele wyse in die buiteland uit te oefen en dit bly steeds 'n belangrike proksie en buitelandse beleidsinstrument. Op grond van die voorgaande kan daar verwag word dat die Wagner/Afrika-korps sal voortstu op sy ingeslane pad en nie wesenlik sal afwyk van die operasies wat in die afgelope jare gevoer is nie. Trouens, daar kan verwag word dat die Wagner/Afrika-korps die strategiese belange en verwante buitelandse beleids-doelwitte van Moskou in Afrika eerder sal uitbrei en nog meer nougeset sal volg. Moskou sal ook voortgaan om die herstruktureerde Wagner/Afrika-korps te ondersteun in sy verhoudings met Afrikaleiers en in aktiwiteite soos die lewering van veiligheidsdienste in ruil vir toegang tot grondstowwe, met inbegrip van goud en diamante.

    Daar is egter een belangrike verskil tussen Wagner soos dit onder Prigozhin se bevel die geval was en die huidige Afrika-korps sover dit Moskou se verhoudinge met Afrika betref. Anders as in die dae van Prigozhin wat die bevel oor Wagner met 'n groot mate van onafhank-likheid van die Kremlin gevoer het, is die Russiese Departement van Verdediging nou oorhoofs in beheer van die Afrika-korps. Dit beteken dat Moskou groter verantwoordelikheid sal moet aanvaar vir dit wat in Afrikastate gebeur en dat die Kremlin nie langer telkens kan skuil agter Wagner se onafhanklike operasies in Afrikastate soos dit vir jare die geval was nie. Dit het regstreeks betrekking op 'n nakoming van Internasionale Humanitêre Reg en die respektering van internasionale menseregtekonvensies tydens operasies.

    Ten slotte moet daar in gedagte gehou word dat Rusland sterk steun op sy verhoudings met Afrikaleiers om sy breër buitelandse beleidsdoelwitte te versterk en daarom, sover moontlik, alles sal doen om Afrikastate se ondersteuning in internasionale instellings te hê, waaronder veral die Verenigde Nasies. Teen hierdie agtergrond kan die argument gevoer word dat die Russiese politieke leierskap nie sal toelaat dat enige van die strategiese voordele wat die Wagner/Afrika-korps - veral sedert 2017 - vir Moskou gebied het, geskaad word of verlore gaan nie. Moskou sal eerder wil voortgaan om baat te vind by die PMM se operasies soos dit aansluiting vind by Moskou se politieke, ekonomiese en militêre belange regoor die Afrika-kontinent.

     

    Bibliografie

    Africa Defense Forum. 2024. UN denounces foreign actors for prolonging Sudan's conflict. defenceWeb, 16 Oktober. https://www.defenceweb.co.za/african-news/un-denounces-foreign-actors-for-prolonging-sudans-conflict/. [Afgelaai: 22 November 2024].         [ Links ]

    ADF Staff. 2024. Sudanese armed forces agrees to Russian Red Sea base in exchange for weapons. Africa Defense Forum, 25 Junie. https://adf-magazine.com/2024/06/sudanese-armed-forces-agrees-to-russian-red-sea-base-in-exchange-for-weapons/. [Afgelaai: 15 Julie 2024].         [ Links ]

    Aljazeera News/Politics. 2024. US sanctions two Wagner-linked firms in Central African Republic. 30 Mei. https://www.aljazeera.com/news/2024/5/30/us-sanctions-two-wagner-linked-firms-in-central-african-republic. [Afgelaai: 20 November 2024].         [ Links ]

    BBC. 2019. Khalifa Haftar: The Libyan general with big ambition. BBC News, 8 April. https://www.bbc.com/news/world-africa-27492354. [Afgelaai: 30 Mei 2024].         [ Links ]

    Bodurtha, 2022. M. "An obligation to regulate: How private military companies embolden conflict with impunity from the Middle East to Central Africa. Columbia Journal of Transnational Law, 1 April. https://www.jtl.columbia.edu/bulletin-blog/an-obligation-to-regulate-how-private-military-companies-embolden-conflict-with-impunity-from-the-middle-east-to-central-africa. [Afgelaai: 25 Augustus 2025].         [ Links ]

    Carragee, K.R. 2020. Historical failure in the use of proxy forces and implications for the future. A research study submitted to Johns Hopkins University with the requirements for the degree of Master of Arts in Global Security Studies, Baltimore, Maryland, Desember.         [ Links ]

    Châtelot, C. 2024. In Central African Republic, Wagner continues to prosper. Le Monde, 16 Junie. https://www.lemonde.fr/en/le-monde-africa/article/2024/06/16/in-central-african-republic-wagner-has-imposed-its-pax-russica-and-prospers_6674899_124.html. [Afgelaai: 28 Junie 2024].         [ Links ]

    Cordall, S.S. 2024. Under new general, Russia's Wagner makes deeper inroads into Libya. Aljazeera, 25 Februarie. https://www.aljazeera.com/news/2024/2/25/under-new-general-russias-wagner-makes-deeper-inroads-into-libya. [Afgelaai: 30 Mei 2024].         [ Links ]

    Council of the European Union, General Secretariat. 2023. The business of war - growing risks from Private Military Companies. ART - Research Paper, 31 Augustus 2023. https://www.consilium.europa.eu/media/66700/private-military-companies-final-31-august.pdf. [Afgelaai: 1 Junie 2024].         [ Links ]

    Donati, J. 2024. In Mali, Russian Wagner mercenaries are helping the army kill civilians, rights groups say. APNews, 28 Maart. https://apnews.com/article/mali-drone-strikes-insurgent-wagner-rights-796f5246c4d0d8e436eb1ea83f9212bf. [Afgelaai: 15 Mei 2024].         [ Links ]

    Elbagir, N., Mezzofiore, G., Qiblawi, T. & Arvanitidis, B. 2023. Exclusive: evidence emerges of Russia's Wagner arming militia leader battling Sudan's Army. CNN, 21 April. https://edition.cnn.com/2023/04/20/africa/wagner-sudan-russia-libya-intl/index.html#:~:text=The%20Russian%20mercenary%20group%20Wagner,diplomatic%20sources%20have%20told%20CNN. [Afgelaai: 27 Mei 2024].         [ Links ]

    Euronews. 2022. UN report: Libya faces serious security threat from foreign fighters. Russia's Wagner. 28 Mei. https://www.euronews.com/2022/05/28/un-report-libya-faces-serious-security-threat-from-foreign-fighters-russia-s-wagner. [Afgelaai: 24 Mei 2024].         [ Links ]

    Farasoo, A. 2021. Rethinking proxy war theory in IR: A critical analysis of principal-agent theory. International Studies Review, 23(4):1835-1858.         [ Links ]

    Faulkner, C. 2022. Undermining democracy and exploiting clients: The Wagner Group's nefarious activities in Africa. CTC Sentinel, 15(6), Junie: 28-37. https://ctc.westpoint.edu/undermining-democracy-and-exploiting-clients-the-wagner-groups-nefarious-activities-in-africa/. [Afgelaai: 29 Mei 2024].         [ Links ]

    Faulkner, C. 2023. Private security conversations. Africa Defense Forum, 29 November. https://blog.icoca.ch/why-private-military-security-companies-persist-in-africa/. [Afgelaai: 22 Mei 2024].         [ Links ]

    Fasanotti, F.S. 2022. Russia's Wagner Group in Africa: Influence, commercial concessions, rights violations, and counterinsurgency failure. Brookings, 8 Februarie. https://www.brookings.edu/articles/russias-wagner-group-in-africa-influence-commercial-concessions-rights-violations-and-counterinsurgency-failure/. [Afgelaai: 30 April 2024].         [ Links ]

    Firmian, F.N. 2025. Russia's state capture strategy in Africa, from Wagner to the Africa corps. Small Wars and Insurgencies, 36(4):783-812.         [ Links ]

    Giustozz, A. 2024. A mixed picture: How Mali views the Wagner Group. RUSI, 27 Maart. https://rusi.org/explore-our-research/publications/commentary/mixed-picture-how-mali-views-wagner-group#:~:text=Despite%20the%20death%20of%20its,there%20as%20of%20March%202024. [Afgelaai: 16 Junie 2024].         [ Links ]

    Hassenstab, N. 2024. Understanding Iran's use of terrorist groups as proxies. American University, Washington DC, 5 Februarie. https://www.american.edu/sis/news/20240205-understanding-irans-use-of-terrorist-groups-as-proxies.cfm. [Afgelaai: 27 Maart 2024].         [ Links ]

    Holleis, J. & Katamadze, M. 2024. Libya: Russia's Wagner Group makes further inroads. DW, 29 Februarie. https://www.dw.com/en/libya-russias-wagner-group-makes-further-inroads/a-68394810. [Afgelaai: 8 Junie 2024].         [ Links ]

    Human Rights Watch. 2022. Libya: Russia's Wagner Group set landmines near Tripoli. 31 Mei. https://www.hrw.org/news/2022/05/31/libya-russias-wagner-group-set-landmines-near-tripoli. [Afgelaai: 25 Augustus 2025].         [ Links ]

    Human Rights Watch. 2024. Mali: Army, Wagner Group atrocities against civilians. 28 Maart. https://www.hrw.org/news/2024/03/28/mali-army-wagner-group-atrocities-against-civilians#:~:text=In%20Dakka%20Sebbe%2C%20the%20operation,from%20the%20Russian%20armed%20forces. [Afgelaai: 19 Mei 2024].         [ Links ]

    Inwood, J. & Tacchi, J. 2024. Wagner in Africa: How the Russian mercenary group has rebranded. BBC, 20 Februarie 2024. https://www.bbc.com/news/world-africa-68322230. [Afgelaai: 11 Junie 2024].         [ Links ]

    Kinnes, S & Isaacs, K. 2023. Human rights abuses and disinformation: Hallmarks of Wagner, other mercenary groups in Africa. Daily Maverick, 9 Augustus. https://www.dailymaverick.co.za/article/2023-08-09-human-rights-abuses-and-anti-democratic-disinformation-are-hallmarks-of-wagner-other-mercenary-groups-in-africa/. [Afgelaai: 27 Maart 2024].         [ Links ]

    Karr, l. en Tyson, K. 2025. Wagner out, Africa Corps in. ISWPress: Africa File, 12 Junie. https://www.understandingwar.org/backgrounder/wagner-out-africa-corps-africa-file-june-12-2025. [Afgelaai: 25 Augustus 2025].         [ Links ]

    Koena, J.F en Banchereau, M. 2025. Russia asks Central African Republic to replace Wagner with Moscow's Africa Corps. PBS News, 6 Augustus. https://www.pbs.org/newshour/world/russia-asks-central-african-republic-to-replace-wagner-with-moscows-africa-corps [Afgelaai: 25 Augustus 2025.         [ Links ]]

    Koren, O. & Sarbahi, A.K. 2018. State capacity, insurgency, and civil war: A disaggregated analysis. International Studies Quarterly, 62(2), Junie:274-288.         [ Links ]

    Krause, P. & Parker, T.B. 2020. Yemen's proxy wars explained. MIT Center for International Studies. https://cis.mit.edu/publications/analysis-opinion/2020/yemens-proxy-wars-explained. [Afgelaai: 3 Junie 2024].         [ Links ]

    Lechner, J.A. 2024. Is Africa Corps a rebranded Wagner Group? Foreign Policy, 7 Februarie. https://foreignpolicy.com/2024/02/07/africa-corps-wagner-group-russia-africa-burkina-faso/. [Afgelaai: 8 Julie 2024].         [ Links ]

    Malobisky, J. 2023. Prigozhin is gone, but Wagner's power in Africa is only growing. New Lines Institute, 5 Oktober. https://newlinesinstitute.org/state-resilience-fragility/prigozhin-is-gone-but-wagners-power-in-africa-is-only-growing/. [Afgelaai: 2 Junie 2024].         [ Links ]

    Mumford, A. 2013. Proxy warfare and the future of conflict. The Rusi Journal, 158: 40-46. https://www.tandfonline.com/doi/full/10.1080/03071847.2013.787733#d1e130. [Afgelaai: 26 Maart 2024].         [ Links ]

    Murphy, B. 2023. What now for Wagner after Prigozhin's death? BBC News, 25 Augustus. https://www.bbc.com/news/world-europe-66604261. [Afgelaai: 3 Junie 2024].         [ Links ]

    Obaji, P. Jr. 2023. Sudan: Russia's Wagner Group and the grab for power and gold. DW, 26 April. https://www.dw.com/en/pmc-russias-wagner-group-in-sudan-gold-military-junta/a-65439746. [Afgelaai: 4 Junie 2024].         [ Links ]

    Peltier, E. 2023. A shrinking footprint in Africa for France, the former colonizer that stayed, The New York Times, 5 Augustus, https://www.nytimes.com/2023/08/05/world/africa/niger-coup-france-west-africa.html. [Afgelaai: 18 September 2023].         [ Links ]

    Rampe, W. 2023. What Is Russia's Wagner Group doing in Africa?, Council on Foreign Relations. In Brief, 23 Mei. https://www.cfr.org/in-brief/what-russias-wagner-group-doing-africa. [Afgelaai: 1 Junie 2024].         [ Links ]

    Reva, D. 2024. Russia's growing influence in Africa calls for more balanced partnerships. ISS Today, 26 Junie. https://issafrica.org/iss-today/russia-s-growing-influence-in-africa-calls-for-more-balanced-partnerships. [Afgelaai: 7 Julie 2024].         [ Links ]

    Siegle, J. 2021. Russia and Africa: Expanding influence and instability. In G.P. Herd (ed). Russia s global reach: A security and statecraft assessment. Washington DC: African Center for Strategic Studies, 80-91. https://www.marshallcenter.org/sites/default/files/files/2021-05/RGR%20Chapter%2010%20v2.pdf. [Afgelaai: 29 April 2024].         [ Links ]

    Spearin, C. 2024. Russia's Wagner Group/Africa Corps: Aan authoritarian conflict management examination. Conflict, Security & Development, 24(5):477-479.         [ Links ]

    Syngaivska, S. 2024. The UK Defense Intelligence reveals Wagner Group's new era. Defence Express, 7 Februarie. https://en.defence-ua.com/news/the_uk_defense_intelligence_reveals_wagner_groups_new_era-9436.html. [Afgelaai: 6 Junie 2024].         [ Links ]

    Thurston, A. 2024. Wagner's Africa momentum tested by deadly clash with Mali rebels. Responsible Statecraft, 4 Augustus. https://responsiblestatecraft.org/wagner-group-mali/. [Afgelaai: 30 Oktober 2024].         [ Links ]

    Uniack, R. 2022. Libya could be Putin's trump card. Indian Strategic Studies, 14 Julie. https://www.strategicstudyindia.com/2022/07/libya-could-be-putins-trump-card.html. [Afgelaai: 24 Mei 2024].         [ Links ]

    UNHCR. 2024. Sudan situation. https://reporting.unhcr.org/operational/situations/sudan-situation. [Afgelaai: 29 November 2024].         [ Links ]

    Vorobyov, N. 2025. Wagner vs Africa Corps: The future of Russian paramilitaries in Mali. Aljazeera, 16 Junie. https://www.aljazeera.com/news/2025/6/16/wagner-vs-africa-corps-the-future-of-russian-paramilitaries-in-mali. [Afgelaai: 24 Augstus 2024].         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2025-05-26
    Goedgekeur: 2025-10-09
    Gepubliseer: Desember 2025

     

     

     

    Theo Neethling het 'n MA-graad (1989) aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (tans die Noordwes-Universiteit) en 'n DLitt et Phil-graad (1992) aan die Universiteit van Suid-Afrika behaal, albei in Internasionale Politiek. Hy is sedert 2009 professor in die Departement Politieke Studies en Regering aan die Universiteit van die Vrystaat, waar hy ook tot 2020 as hoof van die departement gedien het. Hy dien op die redaksierade van verskeie akademiese tydskrifte en word sedert 2009 deur die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika as 'n gevestigde navorser gegradeer. Sy navorsing fokus op Afrika se internasionale betrekkinge, Suid-Afrika se buitelandse beleid, en veiligheid en politiek in Afrika.
    Theo Neethling holds an MA (1989) from the Potchefstroom University for CHE (now North-West University) and a DLitt et Phil (1992) from the University of South Africa, both in International Politics. He has been Professor in the Department of Political Studies and Governance at the University of the Free State since 2009, where he also served as Head of Department until 2020. He serves on the editorial boards of several academic journals and has been rated as an established researcher by the South African National Research Foundation since 2009. His research focuses on Africa's international relations, South Africa's foreign policy, and security and politics in Africa.
    1 In dié artikel word daar, wanneer gebeure teen 'n historíese agtergrond (2014-2024) bespreek word, na die Wagner-groep of kortweg "Wagner" verwys, terwyl daar na dié paramilitêre groep in sy meer onlangse bestaan (sedert Februarie 2024) as die "Wagner/Afrika-korps" verwys sal word. Die "Afrika-korps" - tot vroeg in 2024 as die "Wagner-groep" bekend - het onder die bevel van Yevgeny Prigozhin gefunksioneer, soos wat duidelik sal word in die bespreking verderaan.
    2 Verskeie onlangse artikels in Westerse lande het steeds verwys na die Wagner-groep - ondanks die naamsverandering.