SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 número4The Covid-19 pandemic: An opportunity for reflection on the place of humanity in relation to nature?Environmental identity in the Age of Man: New perspectives on Toorbos. Part 2 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Journal

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão On-line ISSN 2224-7912versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 no.4 Pretoria Dez. 2025

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n4a3 

    RESEARCH AND REVIEW ARTICLES: WARS AND RUMOURS OF WAR
    doi.10.17159/2224-7912/2025/v65n4a3

     

    Redes vir 'n moontlike Chinese inval in Taiwan teen 2030: 'n Strategiese raamwerk vanuit 'n Chinees-nasionalistiese perspektief

     

    Reasons for a possible Chinese invasion of Taiwan by 2030: A strategic framework from a Chinese nationalist perspective

     

     

    Fanie Herman

    Navorsingsgenoot, Departement Politieke Studie en Regeerkunde, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein Suid-Afrika. E-pos: tokkief@yahoo.com. ORCID: 0000-0003-0849-7413

     

     


    OPSOMMING

    China se President, Xi Jinping, se strategie om Taiwan teen so gou as 2030 te annekseer, is 'n besliste moontlikheid omdat toestande vir 'n vreedsame vereniging al hoe skraler is. Hierdie stelling word gemaak op grond van die feit dat China se ambisieuse en geostrategiese doelwitte deur middel van ekspansionistiese gedrag teen Taiwan aangedryf word. Die gedrag berus op drie fondamente. Die eerste is President Xi se totalitere leierskapstyl wat maguitoefening as 'n aanvaarbare middel beskou om Taiwan binne te val. Die tweede is die modernisering van die Chinese weermag wat as versterkende fondament dien om die eiland aan te val. Die derde is 'n verandering in die demografiese samestelling van die Chinese gemeenskap en president Xi se lewensverwagting. Die drie fondamente verskaf 'n strategiese voorbode: indien president Xi voortgaan om anneksasie na te streef, sal die weermag stappe doen om hierdie ambisie teen 2030 te verwesenlik. In hierdie artikel word die moontlike inval in Taiwan ook beskou teen die agtergrond van China se verouderende bevolking en Xi se nalatenskap. Die artikel bied eerstens 'n oorsig oor die verskynsel, beskryf vervolgens die fondamente wat bydra tot Xi se strategiese geleentheidsvenster en sluit af met die geopolitieke gevolge vir die streek en internasionale sekuriteit.

    Trefwoorde: China-Taiwan-konflik, unifikasie, Xi Jinping, demokrasie, totalitarisme, geostrategiese doelwitte


    ABSTRACT

    In recent decades, there has been intense interest in China's role in international politics. There is a particular focus on the drivers of foreign policy and the reasons for China's international behaviour. Regarding the Taiwan crisis, studies have been undertaken that attempt to find answers for strategy, policy, military dominance, hegemony, and economic diplomacy. The modernization of the People's Liberation Army (PLA) and the means that will be used to militarily take over Taiwan are prominent.
    The invasion of Taiwan poses a great risk for China, because such an action runs counter to the country's economic and international transformation goals. The main goal of the transformation is to place the military and the Chinese nation at the forefront of the international community. By 2049, China must be a main technological leader in the world and in control of a new world order. There is also the argument that Xi's statements are political rhetoric that will have no global consequences. However, China's culture and history are thousands of years old, which gives greater value and impact to Xi's statements.
    The Chinese Communist Party has successfully achieved sovereignty over Hong Kong and Macau. The people of China view this takeover as a strong indication that sovereignty over Taiwan can also be achieved. Reunification with Taiwan has been in the balance for decades and cannot be postponed indefinitely, but it is becoming increasingly difficult to determine exactly what China'splanned course of action is. A predictive and realistic approach is needed to exercise restraint and to prevent Taiwan from following the same path as Hong Kong. Taiwan's role as a guardian of democracy and human rights in Asia is important to bringing stability to the region and Taiwan's falling under the communist control of China must be prevented at all costs.
    From the perspective of the One-China Principle, China and Taiwan are historically one country and reunification is the only way to unite the Chinese nation. This argument is of course contested in various quarters, including the citizens and current government of Taiwan who claim that Taiwan has developed its own identity and does not want to be subjugated by the government of Beijing. An invasion of Taiwan will have dire geopolitical consequences for the region and the world. The first is that an invasion will have long-term economic consequences for Taiwan. Second, an invasion could lead to increased tensions in the region and countries banding together to form an alliance against China. Third, an invasion could lead to punishment of China by the permanent members of the United Nations Security Council. Fourth, an invasion could lead to the severing of trading ties with the European Union and lastly, a war in the Taiwan Strait would not only be a human tragedy, but would destroy trade worth 2.6 trillion United States dollars.
    A shortcoming in the literature is the establishment of a strategic time frame that China will follow to carry out the invasion. For the purposes of my investigation, this strategic framework is considered as the research problem. There are three questions that provide answers to the research problem: When will the invasion happen, how will the invasion take place and what will the international reaction to the invasion be? The premise of this article is that President Xi Jinping has a strategic framework to annex Taiwan by 2030. President Xi's cult of personality and China's demographic makeup play a major role in this ambition. In theory it can be argued that Xi Jinping's ambition to reunify Taiwan with the motherland rests on three foundations. These are the use of the army, the influence of Xi's personality style and life expectancy, and the role that the people of China play in realizing the dream. The three factors provide a strategic harbinger that if President Xi continues to pursue annexation, the army will be ready to invade the island by 2027. Xi is likely to take steps to realise this ambition by 2030. This is seen against the backdrop of China's ageing population and Xi's legacy.
    The article first examines the current situation, then explains the fundamental factors contributing to Xi's strategic window of opportunity, and concludes with geopolitical implications for the region and the world.

    Keywords: China-Taiwan conflict, unification, Xi Jinping, democracy, totalitarianism, geostrategic goals


     

     

    1. Inleiding

    Taiwan behoort aan China. Die Taiwan kwessie kan slegs deur Chinese van beide kante van die seestraat opgelos word. China sal voortgaan om vreedsame eenwording na te streef. Dit moet geskied in die gees van harmonie, welwillendheid en samewerking. China sal egter nooit van die gebruik van geweld afstand doen nie en sal alle middele tot die land se beskikking gebruik om Taiwan met die vaderland te verenig (Zhao, 2024:10).

    Op 22 Oktober 2022 het die Chinese Kommunistiese Party (CKP) verklaar dat Xi Jinping vir 'n derde termyn as leier van die party aangestel is. President Xi het tydens die 20ste Nasionale Kongres van die party dit duidelik gestel dat volkome eenwording sonder twyfel gaan plaasvind en dat alle middele tot die land se beskikking aangewend sal word om die doelwit te bereik (Zhao, 2023:5-10).

    Die internasionale gemeenskap moet nie slegs kennis neem van China se voornemens om Taiwan te annekseer nie, maar ook deeglik bewus wees van die Chinese weermag se vermoëns om die doelwit te bereik. Die weermag kan gebruik word om Taiwan binne te val indien vreedsame eenwording nie moontlik is nie (Zhao, 2024:11).

    In die laaste dekades is daar intense belangstelling in China se rol in internasionale politiek. Daar word veral gefokus op die aandrywers van buitelandse beleid en die redes vir China se internasionale gedrag. Ten opsigte van die Taiwan krisis is studies onderneem wat poog om antwoorde vir strategie, beleid, militêre oorheersing, hegemonie en ekonomiese diplomasie te vind. Die modernisering van die weermag en maniere wat gebruik sal word om Taiwan militêr oor te neem is prominent. Die literatuur verwys na blokkades van die eiland deur die vloot, die onderskepping van Taiwan se militêre vliegtuie, die ineenstorting van radar- en opsporingstelsels, amfibiese aanvalle op die strande van Taiwan (soortgelyk aan die D-dag invalle aan die kus van Frankryk in die Tweede Wereldoorlog), sabotasie en vernietiging van militêre instellings, elektroniese oorlogvoering en, hoogs onwaarskynlik, 'n kernaanval. China se vermoëns om Taiwan aan te val en Amerika se verdediging van Taiwan is verder kenmerkend van ondersoeke wat 'n militêre invalshoek het.

    'n Tekortkoming in die literatuur is die opstel van 'n strategiese tydsraamwerk wat China kan volg om die inval uit te voer. Vir doeleindes van hierdie ondersoek word díe strategiese raamwerk as 'n geleentheidsvenster geskets - dit is dan ook die navorsingsprobleem. Daar is drie vrae wat oplossings vir die navorsingsprobleem verskaf: hoe gou kan die inval gebeur, hoe gaan die inval plaasvind, en wat gaan die internasionale reaksie ten opsigte van die inval wees?

    Teoreties kan beweer word dat Xi Jinping se ambisie om Taiwan met die vaderland te herenig op drie fondamente rus. Dit is die gebruik van die weermag, die invloed van Xi se persoonlikheidstyl en lewensverwagting en die rol wat die bevolking van China speel om die droom te verwesenlik. Openbare mening kan 'n rol speel om die CKP te oorreed om Taiwan binne te val of om die plan te laat vaar. Dit sal gebeur indien daar voldoende druk op die regering is om óf anneksasie te bespoedig óf om die nadele van 'n inval uit te wys. Die moontlikheid bestaan dus dat openbare mening wel die strategiese besluitneming van die leierskap kan beïnvloed.

    Figuur 1 is 'n grafiese voorstelling wat die geleentheidsvenster van China se moontlike inval in Taiwan beskryf. Hier word die ampstermyne van Xi, vanaf die eerste tot die derde termyne, ingedeel onder die Nasionale Volkskongresse wat plaasvind vanaf 2022 tot 2032. Dit is 'n tienjaarperiode wat Xi 'n geleentheidsvenster bied om Taiwan te annekseer. Die geleentheidsvenster word geëvalueer ten opsigte van die drie fondamente wat in die strategiese raamwerk genoem word. Eerstens, die modernisering van die weermag; tweedens, Xi se leierskapstyl en derdens, die demografiese voorstelling van die Chinese nasie. Die doelwit wat die drie fondamente saambind is die herlewing van die Chinese nasie teen 2049.

     

     

    2. Konflik in die seestraat van Taiwan: 'n Historíese oorsig

    Sedert die totstandkoming van die Volksrepubliek van China in 1949 was daar drie konflikte in die seestraat van Taiwan. China het tydens elke konflik gepoog om Taiwan deur middel van militêre oorheersing onder kommunistiese beheer te bring. Die Amerikaanse regering het in al drie die konflikte 'n beleidsbenadering gevolg wat die koers van die China-Taiwan konflik bepaal het. Verder het die konflik tussen China en Taiwan gevolge vir internasionale sekuriteit wat tot vandag voortduur. Dit word kortliks hieronder beskryf en verskaf agtergrond vir die latere bespreking wat volg.

    Die eerste Taiwanese seestraatkrisis het plaasgevind in 1954-55 nadat die People's Liberation Army (PLA) drie eilande wat onder beheer van Taiwan was, gebombardeer het. Die eilande is Quemoy, Jinmen en Matsu. Die eilande is strategies belangrik vir die verdediging van Taiwan. Afgesien van die Chinese weermag se suksesvolle oorname van die Yijiangshan eiland, was die hoofgevolg van die eerste krisis die Amerikaanse regering se aanpak om 'n gebeurlikheidsbeleid vir Taiwan te ontwikkel. Die oogmerk van die beleid was die gebruik van nie-militêre middele om oplossings vir die konflik te vind (Kendall, 2024:3-7).

    Die tweede Taiwanese seestraatkrisis het plaasgevind drie jaar later, in 1958, nadat die PLA voortgegaan het om die eilande van Jinmen en Matsu te bombardeer. Die krisis is opgelos nadat die Amerikaanse regering die Taiwanese magte wat op die eilande gestasioneer was, van voorrade voorsien het. China en Taiwan het egter nie 'n vredesooreenkoms gesluit nie en het voortgegaan om mekaar se posisies op alternatiewe dae te bombardeer. Dié beurtelingse tweegeveg tussen die artillerie van beide lande is eers in 1979 beëindig, nadat die Amerikaanse regering formele diplomatieke verhoudinge met China gesluit het (Zhang, 1993). Die stap het daartoe gelei dat Amerika nie-amptelike verhoudinge met Taiwan gesluit het. Die Wet op Betrekkinge met Taiwan van 1979 sou voortaan as basis dien vir Amerika se verhoudinge met Taiwan. Die Wet bepaal dat die Amerikaanse regering en burgers informele verhoudinge met Taiwan kan sluit, maar nie die naam van Taiwan op amptelike dokumente mag noem nie. Die Wet erken nie die terminologie "Republic of China" (of ROC) ná 1 Januarie 1979 nie, maar gebruik die terminologie "regerende administratiewe eenhede van Taiwan". Op ander dokumente staan Taiwan bekend as Taiwan provinsie van China (Zhang, 1993).

    Tydens die Taiwanese seestraatkrisis van 1995-1996 het die Clinton regering 'n tweeledige benadering gevolg (Kendall, 2024: 10). Taiwan is harder en ook meer krities benader as gevolg van die Amerikaanse regering se frustrasie om Taiwan tot die onderhandelingstafel te bring. China is sagter en meer versoenend benader as gevolg van die Chinese regering se bereid-willigheid om 'n oplossing vir die konflik te vind. Van belang gedurende die hele konflikperiode en tot vandag toe is die Amerikaanse regering se benadering om 'n strategie te volg wat Taiwan slegs van nie-militêre hulp voorsien. Die Amerikaanse beleid het in werklikheid die tydsperiode van die seestraatkrisis oor 'n langer tydperk uitgerek - iets wat akademici en kundiges meer inligting gee om die krisis te ontleed (Alperstein, 2024:5-10).

     

    3. Moontlike aandrywers vir 'n inval in Taiwan

    Vanuit die oogpunt van die Een-China-Beginsel ("One China Principle") beskou, is China en Taiwan histories een land en is hereniging die enigste weg om die Chinese nasie te verenig. Hierdie standpunt word natuurlik betwis uit verskeie oorde, onder andere deur die burgers en die huidige regering van Taiwan wat beweer dat Taiwan sy eie identiteit ontwikkel het en nie onderwerp wil word aan die regering van Beijing nie (Lawrence & Martin, 2020).

    Die internasionale gemeenskap kan verwag dat president Xi Jinping die Een-China-Beginsel sterk onder bondgenote en strategiese vennote gaan bevorder. Soos wat China se militêre oefeninge rondom die eiland verskerp en ekonomiese verhoudinge met ander lande groei, gaan Taiwan die druk voel om nader aan China te beweeg. Dit is altans die verwagting wat China het. China beskou militêre intimidasie en ekonomiese dwang as primêre middels om Taiwan onder die land se beheer te bring (Yi, 2024).

    Taiwan het verder geen kollektiewe verdedigingsvennootskap met lande in die streek om Chinese aggressie die hoof te bied nie. Dit is byvoorbeeld anders as wat die geval is met Oekraïne wat 'n soewereine staat is en die hulp van lande in die streek kan verwag indien die land tot die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie toegelaat word. Die argument is dat díe organisasie kollektiewe verdediging aan lidlande bied indien een van sy lede aangeval word (Jash, 2024).

    Streek- en maritieme grense speel ook 'n rol. China se doelwit is hier baie kleiner en minder hulpbronne is nodig as wat byvoorbeeld die geval is met Rusland se inval in Oekraïne (Charbonneau, 2023). Ten spyte van die verskil in die aanwending van hulpbronne, beskik China oor die potensiaal om soortgelyke aanvalle op Taiwan te loods as wat Rusland in Oekraïne doen (Jash, 2024).

    Die afstand tussen Taiwan en sy internasionale vennote speel ook 'n rol in die beskik-baarstelling van hulpbronne. 'n Groot beperking is Taiwan se afwesigheid in 'n organisasie wat sekuriteitsamewerking in die streek bevorder. Daar is wel die Vereniging van Suidoos-Asiatiese nasies wat oor sekuriteitskwessies in die streek beraadslaag. Taiwan is egter nie deel van die organisasie nie. Die meeste lande in die organisasie eerbiedig die Een-China-Beginsel en erken Taiwan nie as 'n soewereine staat nie. China is ook nie 'n lidland van die organisasie nie, maar deel in die organisasie se platforms vir gemeenskaplike dialoog en het sterk ekonomiese en sekuriteitsverhoudinge met Japan, Suid-Korea en ander lidlande. Die lande deel egter nie China se ambisie om Taiwan deur middel van militêre ingryping tot oorgawe te bring nie (Wuthnow e.a., 2022).

    China is 'n lidland van die Shanghai Sekuriteitsorganisasie wat politieke, ekonomiese, sosiale en militêre verhoudinge tussen die lande bevorder. Daar is egter nie 'n formele ooreenkoms dat die lande China sal ondersteun in 'n moontlike inval in Taiwan nie. Rusland en Noord-Korea het sterk militêre betrekkinge met China en Noord-Korea het 'n militêre bondgenootskap met China gesluit. Dit is egter te betwyfel of enige van die twee lande China militer sal bystaan in 'n konflik met Taiwan (Zhao, 2024). Die verskaffing van hulpbronne en mannekrag sal die reeds gespanne situasie vererger en bydra tot groter onstabiliteit in die streek (Wuthnow e.a., 2022). China se posisie rakende hereniging word as volg in die witskrif van verdediging uiteengesit (us.china-embassy.gov.cn.2022).

    Die Chinese regering verklaar dat vreedsame hereniging die finale doelwit vir die ChinaTaiwan kwessie is. Die doelwit kan slegs bereik word indien die Een-China- Beginsel as basis vir onderhandelinge deur Taiwan aanvaar word. Voorstelle vir Taiwan se onafhanklikheid, twee Chinas, en twee state, wat in beginsel separasie in plaas van hereniging bevorder, is 'n verbreking van die Een-China-Beginsel en onaanvaarbaar vir die Chinese regering (Zhao, 2024).

     

    4. Strategiese faktore vir 'n inval in Taiwan

    Die volgende afdeling ondersoek die drie primêre fondamente wat as motivering dien vir China se moontlike anneksasie van Taiwan teen 2030.

    4.1 Kultus van persoonlikheid: President Xi se leierskap en nalatenskap

    Die betekenisvolste fondament wat China mag aanspoor tot 'n inval in Taiwan is die persoonlikheidskultus van president Xi Jinping. Teen die einde van 2024 was president Xi 71 jaar oud en hy dien tans as die sewende president van China. In Maart 2023 het Xi begin om sy derde termyn as president uit te oefen. Benewens Xi se amp as president, is hy ook die Sekretaris van die CKP en Voorsitter van die Sentrale Militêre Kommissie. Díe kommissie is die hoogste militêre leierskapsliggaam van China en is in beheer van die weermag, die polisiemagte en die Chinese burgermag. Geen president sedert die totstandkoming van China het oor soveel mag as Xi beskik nie en is hy ook die invloedrykste, outokratiesste leier van al China se presidente (Ranade, 2023).

    In 2018 het die Nasionale Volkskongres 'n wysiging aan die grondwet gemaak wat die president se ampstermyn met 'n onbeperkte tydperk verleng. Dit volg op die grondwetlike beperking wat in 1982 ingestel is, waarvolgens die president slegs 'n vyf jaarampstermyn kan uitdien. Die beperking is oorspronklik ingestel om die president te verhoed om absolute mag uit te oefen. Onmiddellik nadat die termynbeperking in 2018 ingestel is, het die CKP massasensuur toegepas om openbare protes teen die besluit te stuit. President Xi het ook van die geleentheid gebruik gemaak om sy politieke ideologie, naamlik, Xi Jinping se politieke denke, in die grondwet te inkorporeer (Chun, 2024).

    Die anneksasie van Taiwan sal van besondere betekenis vir Xi wees, omrede geen leier nog daarin kon slaag om die eiland onder die beheer van China te bring nie. Die stap sal Xi in die geskiedenisboeke vestig as die leier wat die Chinese nasie verenig het. Dit sal historíese waarde hê en vir 'n lang tydperk voortduur (Horesh, 2021).

    China se militêre optrede rondom die eiland van Taiwan word oor die algemeen deur die internasionale gemeenskap veroordeel, hoofsaaklik weens die feit dat dit neerkom op militêre intimidasie en skending van die eiland se integriteit en status. China het egter diplomatieke verhoudinge met 180 lande wat onbetrokke teenoor die kwessie staan. Dit bevestig Xi se aanspraak dat die Een-China-Beginsel 'n belangrike aandrywer van hereniging met Taiwan is. Kritiek op militêre optrede word verder met minagting deur Xi aanvaar en die moontlike toepassing van sanksies word in 'n ernstige lig bejeën. Xi is egter bekommerd oor die Weste se voorsiening van wapens aan Taiwan en Amerika se verkope van gevorderde lugafweerstelsels aan die eiland word sterk veroordeel (Zhao, 2023).

    Vanuit 'n diplomatieke oogpunt beskou, gaan die gevolge wat 'n inval in Taiwan op die kort termyn inhou, nie opweeg teen voordele op die lang termyn nie. Korttermyngevolge gaan moontlik neerkom op die instel van sanksies teen China en die verbreking van diplomatieke verhoudings met verskeie lande in die wêreld. Op die lang termyn gaan China daarin slaag om die Chinese droom te verwesenlik asook in die verkryging van respek en trots, en in die handhawing van integriteit en soewereiniteit (Bauer, e.a., 2024). China het in alle geval min agting vir die huidige internasionale orde en pogings word aangewend om 'n nuwe inter-nasionale orde daar te stel. Dit word gesien in die omlyning van internasionale organisasies met Chinees-gebaseerde waardes en norme. Strafmaatreëls gaan verder nie noemenswaardige gevolge vir die land inhou indien Taiwan militêr aangeval word nie. Die land is reeds 'n grootmoondheid wat militêre en ekonomiese mag gebruik om invloed in die wêreld uit te oefen. 'n Militêre inval in Taiwan gaan verhoudinge wat met die Globale Suide opgebou is, versterk (Zhao, 2024).

    In stede daarvan om gebalanseerde vennootskappe met lande in die wêreld te sluit, gebruik Beijing dwang en ekonomiese druk om verhoudings met kwesbare lande aan te gaan. Dit lei tot dié lande se afhanklikheid van China op verskeie terreine vir oorlewing. China se beleid om lande in die Globale Suide deur middel van ekonomiese en militêre diplomasie te help ontwikkel, is kenmerkend van die afhanklikheid (Zhao, 2024).

    Verskeie lande in die Globale Suide het in die laaste dekades diplomatieke verhoudinge van Taiwan na China verskuif. Teen die einde van 2024 het Taiwan diplomatieke verhoudinge met slegs 11 lande in die wêreld gehandhaaf. Dit sluit in Belize, Guatemala, Haiti, die Heilige Stoel, die Marshall Eilande, Palau, St Lucia, St Kitts en Nevis, St Vincent en die Grenadines, Eswatini en Tuvalu. Chinese diplomate word in die laaste dekade opgelei om 'n selfgeldende en aggressiewe houding in te neem indien kwessies met betrekking tot Taiwan bespreek word. Die motivering hiervoor is om Taiwan in die internasionale gemeenskap te isoleer en die buitelandse beleid van ander lande in die guns van China te draai (Rein, 2024).

    President Xi is tans in sy derde ampstermyn, maar hy kan voortgaan om die land vir 'n vierde termyn te regeer, vanaf 2027 tot 2032. Daar word verwag dat Xi in sy vierde termyn groter pogings gaan aanwend om mag uit te brei ten einde China as 'n sterker internasionale moondheid tot stand te bring. Die anneksasie van Taiwan sal Xi se nalatenskap in die geskiedenisboeke van die Chinese nasie verewig (Ranade, 2023).

    4.2 Militêre gereedheid - nie voor 2027 nie

    'n Betekenisvolle Chinese militêre parade is op 3 September 2025 in Beijing se Tiananmenplein gehou. Die parade is gehou om die 80ste herdenking van die oorwinning van die Chinese Weermag teen Japanese aggressie te vier en die einde van die Tweede Wêreldoorlog te herdenk. Die parade was 'n omvangryke vertoonkas van China se vinnige militêre modernisering en die PLA se groeiende vermoëns. Die parade het Xi Jinping se sterk verhoudings met Vladimir Poetin van Rusland en Kim Jong Un van Noord-Korea versterk. Dit is opmerklik dat die parade beskou word as 'n boodskap van verset teen die Verenigde State (VN) en sy bondgenote, veral rakende streekskwessies soos Taiwan (Arostegui, 2025).

    Teen 2027 sal die Chinese weermag oor die vermoë beskik om bedreigings en uitdagings in die Suid-Chinese See en Taiwan doeltreffend te hanteer (Wuthnow e.a., 2022). Die jaar 2027 het simboliese betekenis vir die CKP, omrede die Nanchang opstand van 1917 herdenk sal word. Die opstand het gelei tot die stigting van die weermag. President Xi het tydens die laaste Nasionale Kongres in 2022 verklaar dat die viering van die weermag se 100-jarige bestaansjaar een van die regering se topprioriteite is, in samehang met die regering se ander prioriteite vir die volgende vyf jaar en as deel van sy derde termyn. Die prioriteite word hieronder gelys.

    Algemene vooruitgang vir die Chinese nasie en herverdeling van inkomste

    Die vermindering van koolstofdioksied en die oorgang na skoner vorme van energievoorsiening

    Die inperking van Amerikaanse globale oorheersing

    Die bevegting en uitwissing van korrupsie - 'n reis sonder einde

    Die oplossing van die Taiwan kwessie - vreedsame hereniging met die vaderland (chathamhouse.org. 2022).

    Die doelwit van die weermag se 100-jarige herdenking in 2027 is om die weermag as 'n wêreldklas weermag uit te beeld. Xi Jinping het verklaar dat dit nodig is om 'n militêre strategie te ontwikkel wat kan saamval met die honderdjarige herdenking van die weermag. Die CKP se absolute beheer oor die weermag moet ten alle koste gehandhaaf word (Ranade, 2023).

    Die CKP se Inligtingsburo het in 2015 'n militêre witskrif gepubliseer wat China se militêre strategie van 1993 vervang. Die witskrif maak voorsiening vir 'n pragmatiese benadering om gapings in die weermag se militêre vermoëns, verouderde toerusting en operasionele prosedures uit te wys. Die elemente van spoed, misleiding en dwang gaan van kritieke belang wees om militêr suksesvol te wees. China gaan poog om Taiwan deur middel van vinnige militêre optrede oor te neem en buitelandse inmenging en konfrontasie met ander weermagte te vermy. Dit sal die weermag help om 'n militêre voordeel te geniet. 'n Vinnige inval sal dit ook vir ander lande moeilik maak om militêre hulp aan Taiwan te verleen. Indien China nie daarin slaag om Taiwan vinnig oor te neem nie, kan die weermag die risiko loop om in 'n uitgebreide militêre konflik met ander lande en veral met Amerika betrokke te raak (Wuthnow e.a., 2022).

    China se diplomatieke vennote kan besluit om verhoudinge met China te verbreek wat ernstige ekonomiese gevolge vir die land kan inhou. Slegs indien die weermag gemoderniseer en strategiese ekonomiese doelwitte bereik is, kan oorgegaan word om die eiland van Taiwan binne te val. Strategiese ekonomiese doelwitte sluit in 'n nasionale ekonomiese groeikoers van 5% teen 2030, prys- en wisselkoersstabiliteit, investering in onderwys en opleiding, digitale infrastruktuur, gevorderde vervaardiging, en opkomende tegnologieë. Verder is die fokus op die implementering van nywerheidsbeleid wat ekonomiese en tegnologiese ontwikkeling bevorder. Die herlewing en bevordering van die Chinese nasie se algemene welvaart word ook nagestreef. Dan is daar streeksontwikkeling en die bevordering van samewerking tussen vennote. Die Gordel-en-Pad-Inisiatief (GPI) (Belt and Road Initiative) staan uit as die hoof-ekonomiese beleidsinstrument om handel en ekonomiese groei tussen Asië, Europa en Afrika te bevorder (Rein 2024).

    President Xi het tydens die Nasionale Volkskongres in 2022 aangekondig dat die opleiding van militêre personeel in nagebootse gevegsituasies versterk moet word en die verskillende eenhede van die weermag moet saamwerk om gevegsgereed te raak. Die gebruik van die nuutste militêre toerusting en tegnologie moet vir hierdie doeleindes aangewend word (Rein 2024). Die gereedheid word reeds geïllustreer in verskeie oefeninge wat die weermag sedert 2020 rondom die eiland van Taiwan uitvoer. Honderde vegvliegtuie van die Chinese lugmag en verskeie vlootvaartuie het Taiwanese gebiedswaters in hierdie tydperk betree (Jash 2024).

    4.2.1 Tendense in die PLA se oefeninge rondom Taiwan

    Die regerende party van Taiwan, die Demokratiese Progressiewe Party (DPP), se tradisionele pro-onafhanklike houding bemoeilik kanse om te herenig. Sedert díe party beheer van die regering in 2016 oorgeneem het, was daar 'n merkbare toename in China se militêre oefeninge rondom Taiwan. Die tendense en patrone word hieronder genoem.

    a) Die omvang en grootte van militêre oefeninge

    Die eerste tendens is 'n toename in die omvang en grootte van militêre oefeninge. Die oefeninge het ten doel om die Chinese weermag se gevegsgereedheid in 'n potensiële Taiwan konflik te toets. Dit is 'n direkte gevolg van die DPP se bewindsoorname in 2016 en die jaar wat Taiwan se eerste vroue-president, Tsai Ying-wen, die leisels oorgeneem het. Tsai se beleid teenoor China sentreer rondom die volgende vier kenmerke wat as basis vir China-Taiwan verhoudinge dien;

    'n Vrye en regverdige demokratiese, grondwetlike sisteem;

    Die verbintenis dat Taiwan en China nie ondergeskik aan mekaar is nie;

    Die verbintenis om anneksasie teen te staan en die eis dat China Taiwan se soewe-reiniteit respekteer;

    Die verbintenis dat die toekoms van Taiwan deur die wil van die burgers bepaal word (taiwan.gov.tw.2024).

    b) Die gevorderde aard van militêre oefeninge

    Die diepte en gevorderheid van die weermag se militêre oefeninge neem toe. Die leër, lugmag en vloot neem tans aan gesamentlike oefeninge deel. Dit sluit in die afvuur van lewendige ammunisie, die gebruik van moderne en tegnologies gevorderde toerusting, doeltreffende koördinasie tussen die verskillende eenhede en die nabootsing van realistiese gevegsituasies (Choi, 2024). Van die oefeninge sluit in die potensiële blokkering van Taiwan se vlootvaartuie en ander skepe om hulle te verhoed om die eiland te verlaat. China beskik ook oor die vermoë om vegvliegtuie en kommersiële vliegtuie van Taiwan te onderskep en die elektroniese instrumente van hierdie vliegtuie onbruikbaar te maak (Choi, 2024).

    Nagebootste amfibiese aanvalle is ook met sukses op die Chinese eiland Hainan uitgevoer. Dit is 'n strategie wat gebruik kan word om die eiland van Taiwan aan te val (Erickson 2024). As voorbeeld word genoem dat die Chinese kuswag en eenhede van die weerrmag in 2024 vir die eerste keer aan gesamentlike oefeninge deelgeneem het. Dit was om Chinese weerstand teen die verkiesing van Lai-Ching-Te, die opvolger van Tsai Ying-Wen in die demokratiese verkiesing van 2024, te toon (Dotson & Harman, 2024). Lai Ting-Te se posisie teenoor China word gekenmerk deur sy onversetlike houding dat Taiwan 'n soewereine staat is en hereniging die einde van demokrasie in die streek sal wees. Lai is meer konserwatief in sy politieke denke as Tsai Ying-Wen en word deur China as 'n afstigter beskou. Hy het reeds by verskeie openbare geleenthede na Taiwan se strewe vir onafhanklikheid verwys (Chen 2024).

    In onlangse militêre oefeninge in die waters rondom Taiwan is die vliegdekskepe Liaoning en Shandong, amfibiese vaartuie, kruisers, en fregatte gebruik. In die 2024- oefeninge is 111 vegvliegtuie, 46 vlootvaartuie, en 82 militêre vliegtuie gebruik. Van die vliegtuie het die mediaanlyn (in Engels die Air Defense Identification Zone - ADIZ) verskeie kere oorgesteek en die 24-seemylsone van Taiwan binnegedring. Platforms soos byvoorbeeld die J20- en J16-vegvliegtuie, tipe 052D-aanvalsvaartuie en Dong Feng ballistiese missiele is ook prominent vertoon (Erickson 2024). Die ADIZ sluit die eiland van Taiwan en 'n groot deel van die Chinese vaderland in. Die beheersentrum van die ADIZ is in die Hsinchu-streek in Taiwan en alle vliegtuie wat die mediaanlyn oorsteek, word deur 'n radar gemonitor (Saxena, 2022).

    c) Die toenemende gebruik van tegnologie

    Die PLA se militêre oefeninge word toenemend gekenmerk deur die gebruik van gevorderde militêre tegnologie. Dit sluit in die gebruik van hommelvaartuie, kuber- oorlogvoering en sisteme wat missiele vinnig en doeltreffend kan lanseer. Dit alles dui op 'n verskuiwing na moderne oorlogvoering. In Julie 2024 het die Taiwanese weermag byvoorbeeld 31 Chinese militêre vliegtuie, wat hommelvaartuie en 12 oorlogskepe insluit, binne 'n bestek van 24 uur waargeneem in die Taiwan seestraat (Ching-yi & Hetherington, 2024).

    4.2.2 Die nastreef van die Chinese weermag se militêre doelwitte

    Die Chinese weermag se militêre oefeninge het ten doel om sielkundige oorheersing oor Taiwan te verkry en die internasionale gemeenskap te wys dat die weermag wel oor die vermoë beskik om Taiwan aan te val. Díe magsvertoon is veral gerig op Amerika en Japan, die twee lande wat oor die grootste militêre vermoëns in die streek beskik. Amerika is nou wel nie geleë in die Asië-Pasifiese streek nie, maar die land is in beheer van 400 militêre basisse en 300 000 troepe en 60% van Amerika se vlootaktiwiteite is in buitelandse waters in die Asië-Pasifiese streek en kan bereik word vanaf ander basisse binne 'n tydsperiode van 24 uur (Tupuola, 2024).

    China is verder ook gekant teen besoeke van internasionale hooggeplaaste amptenare aan Taiwan en wil met die oefeninge teenkanting teen die besoeke wys. In Augustus 2022 het Nancy Pelosi, die voormalige Voorsitter van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, Taiwan besoek. Dit het streng kritiek van China ontlok (Pollard & Lee, 2022). President Lai Ting-Te se oproep tydens sy inhuldiging in 2024 dat China alle militêre intimidasie teen Taiwan staak, het gelei tot verhoogde militêre optrede deur China. Teen die einde van 2024 het Chinese vlootvaartuie die eiland van Taiwan omsingel (Chang, e.a, 2024).

    Uit China se militêre oefeninge kan 'n aantal afleidings gemaak word. Dit is eerstens 'n poging om Taiwan te blokkeer in plaas daarvan om 'n volskaalse militêre aanval te loods. As gevolg van die hoë koste van so 'n aanval, word 'n volskaalse oorlog nie oorweeg nie. Tweedens dui die oefeninge op Beijing se groeiende frustrasie met die stadige vordering wat gemaak word om te herenig. Derdens dui die oefeninge op Beijing se benadering om die dinamika in die streek en geopolitieke stabiliteit te verander.

    So lank as wat China territoriale aanspraak maak op die eiland van Taiwan en Westerse inmenging beperk word, so lank sal die PLA voortgaan om oefeninge rondom die eiland te onderneem. China se militêre oefeninge volg 'n patroon wat dui op 'n groter strategie van intimidasie en militêre paraatheid. Dié oefeninge mag moontlik in intensiteit toeneem namate konflik verhoog met 'n groter fokus op die verbetering van tegnieke in kontemporêre oorlog-voering en koördinasie tussen die verskillende militêre eenhede. Dit is duidelik dat China se militêre oefeninge 'n bedreiging vir sekuriteit in die streek inhou. Dit het die potensiaal om spanning te verhoog en 'n moontlike oorlog in die streek te veroorsaak. (Chang e.a., 2024).

    China se pogings om verskeie kleiner eilande en rotsformasies in die Suid-Chinese See te annekseer, hou 'n verdere bedreiging vir stabiliteit in die streek in. Volgens Chinese historici en politici is dit grondgebied wat oorspronklik aan China behoort het. Die meeste van die grondgebied is in waters rondom die Filippyne en Viëtnam. Taiwan beheer onder andere Taiping-eiland in die Suid-Chinese See, maar die eiland word ook deur China en die Filippyne as hulle grondgebied beskou (Wuthnow e.a., 2022). Die aansprake op grondgebied in die Suid-Chinese See verhoog spanning in die streek en is 'n motivering vir China om militêre magsvertoon te wys. Die bou van aanloopbane en die fortifisering van eilande is 'n aanduiding dat die doelwit is om beheer van die grondgebied oor te neem. China wil met die aksies wys dat die land gereed is om sy grondgebied te beskerm en die aansprake van ander lande militêr teen te staan (Wuthnow e.a., 2022).

    4.3 Demografie - die naderende 2030-tydsraamwerk

    'n Verdere fondament wat die Taiwan kwessie beïnvloed, is die rol van demografie. Eerstens bereik president Xi die gemiddelde Chinese ouderdom van 78 jaar in die somer van 2031. Tweedens vind die 22ste Nasionale Volkskongres plaas in Oktober 2032. Xi hoop om die resultate van sy vorige termyne te vertoon om vir 'n vierde termyn aangestel te word. Derdens, en dit is heel moontlik die grootste bydraende fondament, bestaan daar 'n vakuum in die samestelling van die werkendeklasbevolking.

    In 1979 is die eenkindbeleid ingestel (die One-Child Policy), wat die gemiddelde ouderdom van die werkende klas in so 'n mate verhoog het dat 'n tekort aan werkende en militêr-opgeleide personeel ontstaan het. Die eenkindbeleid het 'n situasie geskep waar een kind moet omsien na beide ouers. As 'n resultaat is baie families versigtig om die enigste kind vir militêre diensplig te stuur (Horta, 2021).

    China het verder een van die vinnig-groeiendste bevolkings in die wêreld. Die Wêreldgesondheidorganisasie voorspel dat 28% van China se bevolking ouer as 60 gaan wees teen die jaar 2040. Díe syfer van 28% verteenwoordig meer as 402 miljoen mense. Dit plaas 'n demografiese las op die Chinese gemeenskap. Teen die einde van 2022 het ongeveer 75% van China se bevolking nie-oordraagbare siektes gehad wat mediese ondersteuning van die staat verlang. Soos wat die bevolking ouer word, so gaan die vereistes vir gesondheidsorg toeneem (Chen & Liu, 2023: 1-3).

    President Xi het in 2019 voorgestel dat China se geboortekoers aangehelp word deur belastingaftrekkings, behuisingsubsidies, mediese versekering en langer kraamverlof. 'n Toename in die geboortekoers gaan egter nie help om die werkende klas se afhanklikheid van staatsgesentreerde ondersteuning te verminder nie (Boullenois, 2020).

    Die aard en omvang van China se ekonomie en PLA is een van die land se grootste sterk punte. Die verouderende bevolking gaan egter interne dilemmas skep wat ekonomiese groei negatief beïnvloed. 'n Holistiese benadering is nodig om die druk op die nasionale gesondheid-stelsel te verlig en oplossings vir die verouderende bevolking te bring (Boullenois, 2020).

    In die laaste vyf jaar is die werkendeklasbevolking in China besig om af te neem. Die bevolking is op koers om te verklein met 100 miljoen mense tussen 2015 en 2040. Die land gaan 'n afname van 30% waarneem in die getal werkende mense onder die ouderdom van 30 jaar. Terwyl daar afgelei word van bestaande data dat 28% van China se bevolking ouer as 60 jaar gaan wees teen die jaar 2040, en gemeet aan die eerste en tweede fondamente wat in die afdeling bespreek is, is 2030 die heel waarskynlikste datum waarop Xi die risiko loop om leierskap van die CKP te verloor. China se fokus vir die volgende 10 jaar is om die plaaslike ekonomie op dreef te kry en sosiale welsynprogramme in te stel vir die miljoene mense wat in armoede lewe (Jing, 2022).

    President Xi is bewus daarvan dat openbare mening ten opsigte van 'n moontlike militêre inval in Taiwan mag verander. Indien Beijing nie in staat gaan wees om oplossings vir plaaslike kwessies, byvoorbeeld gesondheidsorg en welsyn, te vind nie, is dit moontlik dat die Chinese bevolking die anneksasie van Taiwan sal teenstaan. Dit sal die verwesenliking van die Chinese nasie-droom teen 2049 'n ernstige knou toedien. Die legitimiteit van die CKP sal onder ernstige verdenking kom indien die bevolking van 1.4 miljard teen die leierskap van die party draai (Chun, 2024).

    Die demografiese gevolge van 'n China-Taiwan oorlog gaan enorm en ondraaglik wees. 'n Groot getal mense sal vlug indien daar 'n oorlog teen Taiwan is. Die oorlog kan in 'n uitgerekte militêre konfrontasie ontaard wat maande en selfs jare kan duur. 'n Oorlog sal Taiwan se hulpbronne uitput, nywerheidskettings sal tot niet gaan en buitelandse beleggings sal onttrek word. Sedert China die sekuriteit van Hong Kong in 2019 oorgeneem het (Die Nasionale Sekuriteitswet van 2019), is die stad se finansïele status in 'n afwaartse spiraal. 'n Gebrek aan beleggings en lae besigheidsvertroue vernietig Hong Kong se status as internasio-nale finansiële sentrum en lei tot stygende emigrasie en ontvolking (Yi, 2024).

    Die vrugbaarheidskoers in China sal drasties afneem indien 'n oorlog uitbreek, omrede jong mans opgeroep gaan word om diensplig te verrig en miskien kan sterf. Ander faktore wat die demografie beïnvloed, is sanksies deur die Weste, die erodering van die geopolitieke omgewing, afname in uitvoere en 'n stygende werkloosheidskoers. China is tans die hoofhan-delsvennoot van meer as 140 lande ter wêreld. 'n Oorlog in Taiwan gaan lei tot 'n globale resessie asook dalende geboortekoerse in verskeie lande, veral in Amerika, Suid-Korea en Japan. Hierdie lande is almal belangrike handelsvennote van Taiwan. Die naderende tydsraamwerk van Xi se beplande inval in Taiwan voorspel niks goeds vir die drie lande se ekonomieë nie. Hulle sal wysheid en durf moet wys om nie oor die demografiese afgrond te tuimel nie (Yi, 2024).

     

    5. Diplomatieke opsies om 'n moontlike Chinese inval in Taiwan teen te staan

    In die geval van 'n moontlike Chinese inval in Taiwan, kan 'n reeks diplomatieke opsies nagestreef word om die intensiteit van die konflik te verminder en vreedsame oplossings te soek. Dit sluit in internasionale veroordeling van die inval, ekonomiese sanksies teen China en die versterking van verdedigingsamewerking met bondgenote in die streek. Ten spyte van die konflik, sou dit van kritieke belang wees om oop kommunikasiekanale met China te handhaaf om potensiële diplomatieke oplossings en maatreëls vir deëskalering te ondersoek. Dit kan die gebruik van spesiale gesante en gevestigde diplomatieke meganismes insluit (globalguardian.com. 2025).

    Verskeie lande sal die inval waarskynlik veroordeel as 'n skending van internasionale reg en beginsels van soewereiniteit. Dit kan lei tot die insluiting van openbare verklarings, resolusies deur internasionale liggame soos die VN, en gekoördineerde diplomatieke druk op China. Amerika en sy bondgenote kan ekonomiese sanksies teen China instel, wat spesifieke sektore of individue kan teiken om druk op die Chinese regering uit te oefen. Die omvang en impak van sulke sanksies sal egter deeglike oorweging van die betrokke rolspelers, soos die Wêreldhandelsorganisasie, Europese Unie en ekonomiese streeksorganisasies verg (taiwan. gov.tw.2024).

    Amerika kan met bondgenote in die streek, soos Japan, Suid-Korea, Australië en die Filippyne saamwerk om samewerking in die verdedigingsarea te verbeter, militêre teen-woordigheid in die streek te verhoog en verdere aggressie van China te ontmoedig. Dit kan gesamentlike militêre oefeninge, die deel van intelligensie en die ontwikkeling van gedeelde strategieë vir verdediging insluit. Diplomatieke pogings kan ook fokus op 'n versekering van Taiwan se departement van verdediging dat die land homself kan verdedig, wat die voorsiening van gevorderde wapens, opleiding en intelligensie-ondersteuning insluit. Dit kan 'n kombinasie van direkte wapenverkope en gesamentlike militêre oefeninge behels (us.china-embassy.gov.cn.2022).

    In die geval van 'n dooiepunt of eskalasie kan internasionale liggame soos die VN 'n rol speel in die bemiddeling van die konflik en die fasilitering van oplossings. Dit kan die aanstelling van 'n spesiale gesant, die stigting van 'n vredesmag of die byeenroep van 'n vredeskonferensie behels. Amerika en ander lande kan beide kante aanmoedig om direkte dialoog te voer om die oorsake van die konflik uiteen te sit en 'n potensiële skikkingsooreen-koms te bereik. Dit kan maatreëls vir die bou van vertroue, soos militêre deëskalasie-oefeninge of die vestiging van 'n hulplyn vir kommunikasie insluit (Ferenczy, 2024).

    Diplomatieke pogings kan ook fokus op die bevordering van stabiliteit deur beide kante aan te moedig om hulleself te weerhou van optredes wat spanning kan eskaleer, soos militêre oefeninge naby die Straat van Taiwan of uitlokkende retoriek. Hierdie diplomatieke opsies kan in verskeie kombinasies nagestreef word, afhangende van die spesifieke omstandighede van die konflik. Die sleutel tot sukses sal 'n gekoördineerde internasionale poging wees wat druk op China kombineer met 'n bereidwilligheid om deel te neem aan dialoog en vreedsame oplossings te ondersoek (taiwan.gov.tw.2024).

     

    6. Geopolitieke gevolge vir die streek en internasionale veiligheid

    'n Inval deur China in Taiwan hou die volgende gevolge vir die internasionale politiek en ekonomie in. Die betekenisvolste uitdaging is die langtermyn-ekonomiese gevolge vir Taiwan. Taiwan vervaardig 63% van die wêreld se rekenaarmikroskyfies (Reinsch & Whitney, 2025). Soos waargeneem tydens die globale pandemie, word onderbrekings in die voorsiening van mikroskyfies oor die hele wêreld gevoel. Dit is as gevolg van rekenaarindustrieë se komplekse afhanklikheid van mekaar en die direkte uitwerking wat dit op die vervaardiging van mikroskyfies in Taiwan het. 'n Chinese inval in Taiwan gaan lei tot 'n stilstand van die globale mikroskyfiebedryf. Inflasie kan buite beheer raak en die postpandemie-herstel van die globale ekonomie omkeer. Baie van die elektroniese toestelle waarvan die mensdom so afhanklik geraak het, mag moeiliker beskikbaar wees. Dit sal lei tot skade van ongekende globale omvang met die bevolking van Taiwan wat die ergste getref gaan word (Klinger-Vidra, 2023).

    Daar sal ook ernstige geopolitieke gevolge wees. Die PLA se inval in Taiwan kan lei tot verhoogde spanning in die streek en lande saamsnoer om 'n bondgenootskap teen China te vorm. Die doel van díé bondgenootskap sal wees om China se magsuitbreiding in die streek te beperk. Die PLA sal vinnig en doelgerig moet optree om militêre reaksie van die internasionale gemeenskap teen te staan. Internasionale reaksie sal kleiner wees as met Rusland se inval in Oekraïne, as gevolg van groot steun vir China in die VN se Algemene Vergadering. Dit is bykans 'n uitgemaakte saak dat Rusland enige resolusies wat China se inval in Taiwan veroordeel, sal veto. Rusland is 'n lid van die VN se Veilgheidsraad.

    Taiwan se sterk handelsvennote in Europa gaan die gevolge van China se inval voel. Die afstand tussen Europa en Taiwan gaan ook nie help om die situasie te beredder nie. Daar is egter lande in Europa soos Frankryk, wat handel met China ondersteun en hulle wil distansieer van Amerika se militêre hulpverskaffing aan Taiwan (Rankin, 2023; Zhou, 2025). 'n Oorlog in die Taiwan seestraat gaan nie net 'n menslike tragedie wees nie, maar handel ter waarde van 2.6 triljoen Amerikaanse dollars vernietig (Yi, 2024). Die meeste lande in die wêreld ondersteun positiewe handel en beleggings. Lande wil graag sake met China én Taiwan doen. 'n Oorlog in die seestraat kan veroorsaak dat lande te afhanklik van Amerikaanse en Europese voorsieningskettings raak wat diversiteit en mededinging in markte sal inperk (theguardian. com.2023).

    Indien na statistiek gekyk word, is die waarskynlikheid dat 'n oorlog in die Taiwan seestraat gaan uitbreek 35%. Die moontlikheid van 'n diplomatieke oplossing is slegs 5%. Die heel waarskynlikste scenario is 'n beperkte konflik (met ongeveer 60%-sekerheid): 'n blokkade van die eiland wat die lewe van burgers asook die ekonomie gaan ontwrig. Voorsieningskettings en buitelandse kommunikasie gaan ook in die slag bly. Die idee is om die eiland van die buitewêreld af te sny (Klinger-Vidra, 2023; Yi, 2024).

    'n De facto-blokkade word beskou as 'n logiese voortsetting van die huidige situasie. Dit het die potensiaal om in 'n volskaalse konflik tussen Amerika en China te ontaard. Die voordeel vir Beijing is dat die koste van 'n blokkade heelwat minder as dié van 'n volskaalse oorlog gaan wees. Dit gee aan besluitnemers die buigsaamheid om konflik aan te vuur of te verminder, afhangende van die aksies wat geneem word. Watter aksies ook al onderneem word, China het die voorsprong as gevolg van territoriale nabyheid, logistieke voordeel en politieke wilskrag. Dit is nie noodwendig die doelwit van China om Taiwan te isoleer nie, maar eerder om 'n boodskap uit te stuur dat China soewereiniteit oor die eiland het (Yi, 2024).

    In praktyk beteken 'n de facto-blokkade dat die PLA maritieme vaartuie en vliegtuie verbied om Taiwan binne te kom en te verlaat. Beijing mag die optrede as kwarantyn beskou, wat die beweging van "gesmokkelde" items (wapens en ammunisie) na die eiland wil blokkeer. So onwaarskynlik as wat dit mag wees, beteken 'n diplomatieke oplossing dat beide partye in gesprek tree om gemeenskaplike terrein te probeer vind. Dit kan neerkom op internasionale bemiddeling, wat 'n omgewing vir vreedsame onderhandelinge bevorder. In die konteks van internasionale konflikte en uitdagings, bestaan die moontlikheid van 'n diplomatieke oplossing wel (globalguardian.com.2025).

    Amerika se geloofwaardigheid as die oorheersende militêre mag in die Indo-Pasifiese streek gaan geweldig uitgedaag word met 'n Chinese inval in Taiwan. Die magsbalans in die streek sal aansienlik verander wat moontlik tot 'n meer selfgeldende China en verhoogde onstabiliteit kan lei. 'n Konflik tussen China en Taiwan kan maklik eskaleer tot 'n direkte konfrontasie tussen Amerika en China wat die potensiaal het om ander kernmoondhede, soos Rusland, Indië, Iran en Pakistan, te betrek. Amerika het 'n lang ooreenkoms om Taiwan van wapens en veiligheid te voorsien indien 'n konflik met China sou uitbreek. Verder kan 'n inval in Taiwan lei tot aanvalle op Amerikaanse militêre basisse in die streek, insluitende die basisse in Guam, Japan en die Filippyne. 'n Militêre konflik in die Taiwan seestraat sal ook onver-mydelik lei tot ongevalle onder die Taiwanese bevolking, wat 'n moontlike humanitêre krisis kan veroorsaak. 'n Chinese inval in Taiwan sal 'n katastrofiese gebeurtenis wees met verreikende gevolge vir Amerika, wat geopolitieke onstabiliteit, ekonomiese verwoesting en die risiko van 'n groot militêre konflik kan insluit (Easton, 2019; Wuthnow e.a., 2022).

     

    7. Gevolgtrekking

    Die hereniging van die Chinese nasie is die sentrale doelwit wat President Xi nastreef. Indien die doelwit bereik word, sal Xi vir ewig en altyd in die annale van die Chinese geskiedenis bekend staan. Sy nalatenskap sal wees dat hy die twee Chinas verenig het. President Xi het egter 'n beperkte tydsraamwerk om die aksies te onderneem. Tydens die 100-jarige herdenking van die PLA in 2027 sal Xi 73 jaar oud wees en sal die weermag gereed wees om 'n militêre inval in Taiwan uit te voer.

    Met die uitsondering van Amerika en Westerse bondgenote soos Japan, Suid-Korea, Australië en die Filippyne, sal die internasionale gemeenskap waarskynlik nie daarin slaag om teen China op te tree nie. Dit sal moeilik wees om China verantwoordelik te hou vir sy dade en die CKP is onverbiddellik in hulle strewe om Taiwan te annekseer. China se internasionale diplomatieke vennote, veral in Afrika en Suid-Amerika, ondersteun die Een-China-Beginsel en skaar hulle vierkantig agter China in die VN (Zhao, 2023). As voorbeeld word genoem dat die Globale Suide China se resolusie met betrekking tot die ontwikkeling van 'n gedeelde toekoms vir die mensdom aanvaar het. Die resolusie bevestig dat ontwikkeling nodig is om voorspoed en welvaart vir die mensdom te verseker. Die resolusie is op 22 Junie, 2017 aanvaar en staan in Engels bekend as The Contribution ofDevelopment to the Enjoyment of All Human Rights (unachina.org.2017).

    China en Taiwan het egter twee verskillende uitgangspunte oor menseregte. Dit mag 'n invloed hê op China se inval in Taiwan en gevolge wat dit vir die regte van die bevolking in Taiwan inhou. Menseregte word bevorder in die grondwet en regeringsbeleid en sluit in die beskerming van vryheid van spraak, vryheid om rond te beweeg, vryheid om godsdiens te beoefen en gelykheid van alle mense voor die reg. Dit is dieselfde regte as wat deur die meeste demokrasieë gevolg word en maak die land 'n baken van alle vorme van vryheid in Oos-Asië (Young, 2008).

    China, aan die ander kant, beperk vryheid van spraak en assosiasie, vreedsame samekoms en godsdiensvryheid. Wette word deur wetstoepassers misbruik, dikwels onder die voorwendsel dat nasionale sekuriteit beskerm moet word. Daar is byvoorbeeld misdrywe wat teen die Uighuir etniese groep in China se Xinjiang Provinsie gepleeg word, en dieselfde misdrywe kan teen die bevolking van Taiwan gepleeg word met 'n militêre inval. Die toenemende onderdrukking en outoritarisme van die CKP lei tot 'n gaping in die uitoefening van menseregte tussen die twee lande. Verskillende interpretasies van menseregte lei tot verdeling en verhoogde spanning. Die gebrek van die CKP om die menseregte en demokrasie van Taiwan te erken is 'n groot struikelblok in pogings om vreedsaam te herenig. Dit dryf Taiwan verder weg van die onderhandelingstafel. 'n Belangrike gevolg is dat die outoritêre leierskapstyl van die CKP, Amerika en Taiwan nader aan mekaar bring. Die gedeelde waardes van demokrasie en menseregte is 'n band wat nie gebreek kan word nie (Young, 2008).

    Die Taiwan kwessie staan sentraal in Amerika en China se wedywering om mag in die Asië-Pasifiese Streek. In beginsel bepaal die land wat die leierskapsrol in die streek vervul, ook die rigting van Taiwan se toekoms. Dit geld ook vir die vestiging van 'n stabiele en veilige omgewing. China beskou Amerikaanse sekuriteit-en verdedigingstrategieë as die hoofbe-dreiging vir 'n suksesvolle oorname van Taiwan. Wedywering tussen Amerika en China in die streek word dikwels voorgehou as sou dit 'n bedreiging vir die internasionale orde inhou.

    Taiwan is 'n voorstander van Westerse reëls en waardes, terwyl China poog om 'n nuwe internasionale orde tot stand te bring. China se suksesvolle oorname van Taiwan gaan tot gevolg hê dat die waardesisteem verander, wat die inwoners van Taiwan gaan ontneem van verskeie vryhede. Die handhawing van demokrasie en die strewe na onafhanklikheid gaan in die slag bly. China sal 'n outoritêre sisteem instel wat demokrasie in die streek 'n geweldige knou toedien.

    President Xi se visie is om 'n wêreld te skep wat gebasseer is op sosialistiese waardes. Sy uitgangspunt is dat 'n nuwe internasionale orde lande in die wêreld nader aan mekaar kan bring. Die anneksasie van Taiwan is 'n integrale deel van hierdie droom en dit is nodig dat die Chinese nasie aan beide kante van die seestraat saamwerk om die droom te realiseer. Die vraag is of Xi die strategiese risiko's gekoppel aan 'n militêre inval werklik verstaan. Gaan sterk leierskap of diplomasie nodig wees om Taiwan met die vaderland te herenig? Hoe dit ook al sy, die aksies van díe CKP lei tot onstabiliteit wat ernstige gevolge vir sekuriteit in die streek inhou. Dit moet teengestaan word met aktiewe verdediging en samewerking tussen Taiwan se internasionale vennote.

     

    Bibliografie

    Alperstein, B. 2024. The 1995-1996 Taiwan Strait Crisis: A Retrospective Study in American Ambivalence. The International History Review, 1-20.         [ Links ]

    Arostegui, J. 2025. China's September 2025 Military Parade: How PLA Ground Forces Are Adapting to Future Wars and Force Projection. https://ssi.armywarcollege.edu/SSI-Media/Recent-Publications/Article/4294886/chinas-september-2025-military-parade-how-pla-ground-forces-are-adapting-to-fut/ [15 Oktober 2025].         [ Links ]

    Bauer, G, Hirschfelder, N & Resende, F. 2024. Un-Mapping the Global South. Londen: Routledge.         [ Links ]

    Boullenois, C. 2020. Poverty Alleviation in China: The Rise of State-Sponsored Corporate Paternalism. China Perspectives, 3(122):47-56.         [ Links ]

    Chang, W, McCarthy, S & Nectar, G. 2024. China's maritime movements around Taiwan are largest in decades, Taipei says. 10 Desember. https://edition.cnn.com/2024/12/10/china/china-taiwan-maritime-movements-intl-hnk/index.html [10 Maart 2025].         [ Links ]

    Charbonneau, L. 2023. UN Member Countries Condemn China's Crimes Against Humanity. 23 Oktober. https://www.hrw.org/news/2023/10/23/un-member-countries-condemn-chinas-crimes-against-humanity [25 Januarie 2025].         [ Links ]

    Chathamhouse.org 2022. 20th CCP National Congress: Five issues to watch. https://www.chathamhouse.org/2022/10/20th-ccp-national-congress-five-issues-watch [2 Januarie 2025].         [ Links ]

    Chen, P-H. 2024. From Tsai to Lai: The Past, Present, and Future of Taiwan's Foreign Policy. Mei 17. https://thediplomat.com/2024/05/from-tsai-to-lai-the-past-present-and-future-of-taiwans-foreign-policy [11 Februarie 2025].         [ Links ]

    Chen, C & Lui, M. 2024. Achievements and Challenges of the Healthcare System in China. Cureus, 15(5):1-3.         [ Links ]

    Chun, H-W. 2024. Party of One: The Rise of Xi Jinping and China's Superpower Future. Kalifornië: Simon & Schuster.         [ Links ]

    Choi, SH. 2024. Lower risks, harder to respond: why Beijing may prefer a blockade to armed conflict on Taiwan. 23 Mei. https://www.scmp.com/news/china/military/article/3263763/lower-risks-harder-respond-why-beijing-may-prefer-blockade-conflict-taiwan [10 April 2025].         [ Links ]

    Tupuola, JG. 2024. The Pacific Islands: Background and Issues for Congress. 7 November. https://crsreports.congress.gov/product/pdf/IF/IF11208 [10 Februarie 2025].         [ Links ]

    Dotson, J & Harman, J. 2024. The PLA's Inauguration Gift to President Lai: The Joint Sword 2024A Exercise. 12 Junie. https://globaltaiwan.org/2024/06/the-plas-inauguration-gift-to-president-lai-the-joint-sword-2024a-exercise/ [25 Maart 2025].         [ Links ]

    Easton, I. 2019. The Chinese Invasion Threat: Taiwan's Defense and American Strategy. New York: Eastbridge Books.         [ Links ]

    Erickson, AS. 2024. Chinese Amphibious Warfare: Taiwan Targeted, Scenarios Swirling. 14 Desember. https://thediplomat.com/2024/12/chinese-amphibious-warfare-taiwan-targeted-scenarios-swirling/ [18 Februarie 2025].         [ Links ]

    Ferenczy, ZA. 2024. Partners in Peace: Why Europe and Taiwan Matter to Each Other. Singapore: Palgrave Macmillan        [ Links ]

    globalguardian.com. 2025. Will China Invade Taiwan? A Potential Timeline for Conflict. 3 Januarie. https://www.globalguardian.com/global-digest/will-china-invade-taiwan [5 Maart 2025].         [ Links ]

    Horta, L. 2021. China's Military Modernisation: Constrained by One-Child Policy. 1 September. https://www.rsis.edu.sg/rsis-publication/rsis/chinas-military-modernisation-constrained-by-one-child-policy/ [6 Maart 2025].         [ Links ]

    Ching-Yi, H & Hetherington, W. 2024. More Chinese drones circle Taiwan: ministry. 5 Augustus. https://www.taipeitimes.com/News/taiwan/archives/2024/08/05/2003821799 [19 Januarie 2025].         [ Links ]

    Horesh, N. 2021. China 's Grand Strategy Under Xi Jinping: How History Complicates Beijing's Global Outreach. Londen: Routledge.         [ Links ]

    Liu, Y. & Zhang, X. 2024. Active aging and health among older adults in China: a perspective based on downward intergenerational economic support. 17 Junie. https://www.frontiersin.org/journals/public-health/articles/10.3389/fpubh.2024.1337829/full [27 Oktober 2025].         [ Links ]

    Jash, A. 2024. China's Military Exercises Around Taiwan: Trends and Patterns. 2 Oktober. https://globaltaiwan.org/2024/10/chinas-military-exercises-around-taiwan-trends-and-patterns/ 7 Februarie 2025].         [ Links ]

    Jing, T. 2022. The Welfare System of Universal Integration in China: Understanding China. Washington: Springer.         [ Links ]

    Kendall, C, 2024. Revisiting the Second Taiwan Strait Crisis: Strategic Lessons for Today. Journal of Strategic Security, 17(3):1-14.         [ Links ]

    Klinger-Vidra, R. 2023. The microchip industry would implode if China invaded Taiwan, and it would affect everyone. https://theconversation.com/the-microchip-industry-would-implode-if-china-invaded-taiwan-and-it-would-affect-everyone-206335 [3 Januarie 2025].         [ Links ]

    Lawrence, SV & Martin, IMF.. 2020. China's National Security Law for Hong Kong: Issues for Congress. Washington: Independantly Published.         [ Links ]

    Pollard, MQ & Lee, Y. 2022. China military 'completes tasks' around Taiwan, plans regular patrols. 11 Augustus. https://www.reuters.com/world/asia-pacific/china-extends-military-drills-around-taiwan-after-pelosi-visit-2022-08-10/ [18 Januarie 2025].         [ Links ]

    Ranade, J. 2023. Xi Jinping: China's Third New Era. Londen: Routledge.         [ Links ]

    Rankin, J. 2023. Macron sparks anger by saying Europe should not be 'vassal' in US-China clash. 10 April. https://www.theguardian.com/world/2023/apr/10/emmanuel-macron-sparks-anger-europe-vassal-us-china-clash [15 Februarie 2025].         [ Links ]

    Rein, S. 2024. The Split: Finding the Opportunities in China's Economy in the New World Order. Londen: John Murray Business.         [ Links ]

    Reinsch, AW & Whitney, J. 2025. Silicon Island: Assessing Taiwan's Importance to U.S. Economic Growth and Security. 10 Januarie. https://www.csis.org/analysis/silicon-island-assessing-taiwans-importance-us-economic-growth-and-security [15 Oktober 2025].         [ Links ]

    Saxena, A. 2022. Taiwan and China: Fitful Embrace. Kalifornië: Universiteit van Kalifornië. taiwan.gov.tw.2024. Cross Strait Relations. https://www.taiwan.gov.tw/cont&t_6.php [10 Januarie 2025].         [ Links ]

    theguardian.com.2023. Taiwan Strait: top EU diplomat calls for European navy patrols. 23 April. https://www.theguardian.com/world/20230/apr/23/taiwan-strait-top-eu-diplomat-calls-for-european-navy-patrols [20 Februarie 2025].         [ Links ]

    unachina.org.2017. Human Rights Council Adopts China-Proposed Resolution. 22 Junie. https://unachina.org/en/article/435 [15 Januarie 2025].         [ Links ]

    us.china-embassy.gov.cn.2022. White Paper: The Taiwan Question and China's Reunification in the New Era. 10 Augustus. http://us.china-embassy.gov.cn/eng/zgyw/202208/t20220810_10740168.htm [15 Januarie 2025].         [ Links ]

    worldlifeexpectancy.com.2024. China: Life expectancy. https://www.worldlifeexpectancy.com/china-life-expectancy [2 Februarie 2025].         [ Links ]

    Wuthnow, J, Grossman, D, Saunders, PC, Scobell, A & Yang, AND. 2022. Crossing The Strait: China's Military Prepares for War with Taiwan. Washington: National Defense University.         [ Links ]

    Yi, F. 2024. The Demographic Costs of a War Over Taiwan. https://thediplomat.com/2024/04/the-demographic-costs-of-a-taiwan-war/ [10 Februarie 2025].         [ Links ]

    Young, A. 2008. Humanity At Stake: China's Aggression, Taiwan's Democracy, and 23 Million Citizens ' Human Right to Self-Determination. Washington: Create Space Independent Publishers.         [ Links ]

    Zhang, SG. 1993. Deterrence and Strategic Culture: Chinese-American Confrontations, 1949-1958. Ithaca, NY: Cornell University Press.         [ Links ]

    Zhao, S. 2023. Xi Jinping's Consolidation of Power at the 20th Party Congress: Implications for Chinese Foreign Policy. Issues & Studies, 59(2):1-27.         [ Links ]

    Zhao, S. 2024. The Taiwan Question in Xi Jinping's Era: Beijing's Evolving Taiwan Policy and Taiwan's Internal and External Dynamics. Londen: Routledge.         [ Links ]

    Zhou, B. 2025. Which countries will pick sides in a US-China conflict over Taiwan? 26 Julie. https://johnmenenadue.com/post/2025/07/which-countries-will-pick-sides-in-a-us-china-conflict-over-taiwan/ [16 Oktober 2025].         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2025-04-25
    Goedgekeur: 2025-10-19
    Gepubliseer: Desember 2025

     

     

     

    Fanie Herman is 'n navorsingsgenoot in die Universiteit van die Vrystaat se Departement vir Politieke Studies en Regeerkunde. Hy verwerf sy PhD in die vakgebied van internasionale politiek, waarin hy ondersoek instel na China se betrokkenheid by vredesendingsoperasies in Afrika. Sy MA-graad fokus op die strategiese wedywering tussen die VSA en China vir Afrika se oliehulpbronne. Herman is die skrywer van verskeie publikasies in internasionaal geakkrediteerde vaktydskrifte. Sy navorsingsbelange sluit in: Sino-Afrika-verhoudinge, strategiese studies, internasionale sekuriteit en regimeteorie. Sy boek China in Afrika: Die era van sekuriteit (Kindle-uitgawe) is onlangs gepubliseer. Die boek werp lig op verskeie dimensies van China se betrokkenheid in Afrika se sekuriteit, onder andere die rol van militêre diplomasie, vredesendings en wapenverkope.
    Fanie Herman is a research fellow in the Department of Political Studies and Governance at the University of the Free State. He holds a PhD in international politics, in which he investigates China's involvement in peacekeeping operations in Africa. His MA degree focuses on the strategic rivalry between the US and China for Africa's oil resources. Herman is the author of several publications in internationally accredited journals. His research interests include: Sino-African relations, strategic studies, international security and regime theory. His book China in Africa: The Age of Security (Kindle edition) was recently published. The book sheds light on various dimensions of China's involvement in Africa's security, including the role of military diplomacy, peacekeeping missions and arms sales.